South Africa: Supreme Court of Appeal Support SAFLII

You are here:  SAFLII >> Databases >> South Africa: Supreme Court of Appeal >> 1992 >> [1992] ZASCA 83

| Noteup | LawCite

S v Toboko en 'n Ander (582/91) [1992] ZASCA 83 (22 May 1992)

Download original files

PDF format

RTF format


Saaknommer: 582/91 N v H

PETRUS TOBOKO & 'N ANDER
en
DIE STAAT

SMALBERGER, AR :-

Saaknommer : 582/91 N v H

IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA

(APPéLAFDELING)

In die saak tussen
PETRUS TOBOKO Eerste Appellant
BENEDICT MOKHOTHOTSO Tweede Appellant
en
DIE STAAT Respondent
CORAM: SMALBERGER, AR, et NICHOLAS,

HOWIE, WN ARR
VERHOORDATUM: 14 MEI 1992
LEWERINGSDATUM: 22 MEI 1992

UITSPRAAK SMALBERGER, AR:

Die appellante is in die Oranje-Vrystaatse Provinsiale Afdeling deur KLOPPER, Wn R en twee assessore skuldig bevind aan huisbraak met die opset om te roof en roof met verswarende omstandighede (aanklag 1) en moord (aanklag 2). Op aanklag 1 is hulle elk

2

tot agtien jaar gevangenisstraf gevonnis. Op aanklag 2, by ontstentenis van versagtende omstandighede, is hulle albei, kragtens die destydse geldende reg, die verpligte doodvonnis opgelê. Die verhoorregter het hulle aansoeke om verlof om teen hulle skuldigbevindings op aanklag 2 te appelleer, geweier. Hulle daaropvolgende petisie aan die Hoofregter vir sodanige verlof is eweneens van die hand gewys.
Na die inwerkingtreding van die Straf= regwysigingswet 107 van 1990 is die appellante se gevalle ooreenkomstig art 19(8) van daardie Wet oorweeg deur die paneel aangestel ingevolge art 19(1). Die paneel het bevind dat indien art 277 van die Strafproseswet 51 van 1977, soos gewysig deur eersgenoemde Wet, ten tye van die vonnisoplegging in werking was, die doodvonnisse waarskynlik nogtans opgelê sou gewees het. Dit het tot gevolg dat hierdie Hof die aangeleentheid nou moet oorweeg asof daar appélle van

3

die appellante teen hulle doodvonnisse voor hom dien. Die bewese feite in die onderhawige geval kom kortliks op die volgende neer. Mnre P J van Aswegen ("die oorledene") en J T van Aswegen ("die klaer") twee broers, albei bejaarde persone, was woonagtig op hulle plaas in 'n afgeleë deel van die distrik Dewetsdorp. Gedurende die nag van 29 September 1988, terwyl die oorledene en die klaer in afsonderlike kamers beide aan die slaap was, het die appellante by die plaashuis ingebreek. Toegang is deur 'n kombuisvenster verkry. Die eerste appellant was met 'n tuisgemaakte mes, en die tweede appellant met 'n skroewedraaier, wat hulle vroeër vanuit buitegeboue op die werf verwyder het, gewapen. Die klaer is gewek deur 'n geweldige vuishou op sy mond wat van sy tande uitgeslaan en gebreek het. Sy aanvaller was die tweede appellant. Dié het hom steekhoue toegedien met die skroewedraaier, en hom ook gewurg. Van die klaer is geld en 'n vuurwapen geëis, en

4

hy is met die dood gedreig. Die eerste appellant het by hulle aangesluit. Die twee appellante het die klaer met die gang afgedwing na die oorledene se slaapkamer. Die oorledene was bebloed en het op sy bed gesit - lê. Die eerste appellant het die oorledene genader waarop die oorledene hom geskop het dat hy teen die muur beland het. Die eerste appellant het die oorledene toe verwoed met 'n mes aangeval en hom verskeie steekwonde toegedien. (Volgens die klaer is die oorledene "ten minste 'n halfdosyn kere" gesteek.) Die tweede appellant het op daardie tydstip niks aan die oorledene gedoen nie. Geld is uit die oorledene se hangkas geneem. Daarna is die klaer deur die tweede appellant na die motorhuis gedwing waar hy uit die motor se paneelkissie geld gehaal het wat hy aan die appellante oorhandig het. Hulle het almal weer na die huis teruggekeer. Kort na hulle aankoms daar het die klaer sy bewussyn verloor. Toe hy later bykom, was

5

die appellante reeds weg. Hy het daarin geslaag om by sy motor te kom en het hulp gaan ontbied. Dit het later geblyk dat verskeie items uit die huis geroof was. Die oorledene is dood as gevolg van die beserings wat hy tydens die aanrandings op hom opgedoen het. Die oorsaak van sy dood was "indringende wonde van die kop, nek, romp en boonste ledemate met indringing van die superior vena cava, linker interne jugulêre vena, regterlong vate en bloedverlies". Die oorledene se liggaam het altesame 27 wonde gehad. Uit die voorkoms van die wonde was dit tydens die regsgeneeskundige lykskouing duidelik dat twee verskillende wapens - 'n mes en 'n voorwerp soos 'n skroewedraaier - vir die indringende wonde ver= antwoordelik was. Gelyke aantal wonde, waarvan verskeie potensieel noodlottig was, is met elk van die wapens toegedien. Die klaer het tydens die voorval veelvuldige oppervlakkige steekwonde met 'n enkel

6

penetrerende wond opgedoen. Hy het ook frakture van die ribkraakbeen en kneuswonde aan die nek en buik

gehad.
Die verhoorhof het bevind dat die steekwonde waaraan die oorledene beswyk het, deur beide appellante toegedien is. Die tweede appellant word met die aanval verbind deur (1) die skroewedraaierwonde; (2) bloed op sy klere van dieselfde bloedgroep as dié van die oorledene; (3) 'n hoofhaar van die oorledene wat op sy klere gevind is; en (4) sy skoenspore in die oorledene se kamer. Aangesien die klaer nooit gesien het dat die tweede appellant die oorledene aanrand nie, moes die tweede appellant noodwendig deelgehad het aan die aanranding op die oorledene voordat hy (die klaer) aangeval is. Die verhoorhof het ook bevind dat albei appellante met dolus directus opgetree het - 'n onvermydelike afleiding gesien die aard, omvang en ligging van die wonde wat die oorledene toegedien is.

7

Die beginsels wat tans in ' n appèl teen die doodvonnis van toepassing is, is welbekend en behoef geen toeligting nie. Hierdie Hof is geroepe om met inagneming van verswarende en versagtende faktore te beslis of die doodvonnisse ten opsigte van die moord die enigste gepaste vonnisse is.
Daar is verskeie verswarende faktore aanwesig. Die rooftog was goed beplan. Die beplanning het ingesluit 'n lang reis deur die appellante na hulle eindbestemming en sekere voorsorgmaatreëls, insluitende die verkryging van geskikte wapens, voordat hulle die huis binnegegaan het. Hierdie is dus nie 'n geval waar die appellante op die ingewing van die oomblik opgetree het nie. Hulle motief vir die rooftog was suiwer materiële gewin. Die oorledene en die klaer was bejaarde persone wat in die privaatheid van hulle eie huis aangeval is toe hulle totaal weerloos was. Die oorledene is op 'n wrede en

8

meedoënlose wyse aangerand. Ofskoon dit nie bewys is dat die appellante na die plaas toe gegaan het met die vooropgesette bedoeling om die oorledene dood te maak nie, is die nodige opset later tydens die rooftog gevorm en het albei appellante met die direkte opset om te dood opgetree. Daar was ook tydens die verhoor geen tekens van opregte berou vir hulle verfoeilike daad by hulle te bespeur nie.
Daar is weinig strafversagtende faktore aanwesig. Die appellante is nie eerste oortreders nie. Hulle het albei vorige veroordelings vir geweld. Die oortredings was egter betreklik gering en is gepleeg toe die appellante nog jeugdiges was. Die Staat het die houding ingeneem dat die afwesigheid van enige noemenswaardige vorige veroordelings as 'n strafversag= tende faktor beskou kon word. Ek aanvaar dit so vir die doeleindes van die onderhawige appél. Die advokate wat namens die appellante verskyn het, het wedersyds

9

betoog dat die een appellant onder die invloed van die ander opgetree het. Die betrokke plaas was aan die eerste appellant bekend aangesien hy vroeër vir 'n tydlank daar gewerk het en dit is dus waarskynlik dat die inisiatief vir die rooftog van hom gekom het. Dit maak egter nie saak nie, want dit is duidelik dat welke appellant ookal die inisiatief geneem het, die ander appellant gewillig en selfs geesdriftig meegedoen het aan die gebeure. Daar kan dus geen sprake van beïvloeding wees wat as strafversagtend beskou kan word nie.
Ten tye van die pleging van die misdaad was die appellante 24 en 23 jaar oud onderskeidelik. Hulle was dus nie meer jeugdiges nie. Albei het vaste betrekkings gehad en was getroud. Die een het een kind gehad, die ander twee. Albei het 'n betreklike lae opvoedingspeil en kom van 'n minderbevoorregte sosio-ekonomiese agtergrond. Hierdie

10

faktore is nie noodwendig op sigself strafversagtend nie - hulle dui egter daarop dat die moontlikheid nie uitgesluit kan word dat die appellante rehabiliteerbaar is nie.
Daar is betoog dat die oorledene die eerste appellant beledig het toe hy hom geskop het en dat dit tot die verdere aanranding aanleiding gegee het. Dit is as strafversagtend voorgehou. Daar steek niks in die betoog nie. Die oorledene was reeds noodlottig gewond voordat hy die eerste appellant geskop het. Buitendien was die oorledene se optrede daarop gemik om hom teen die eerste appellant te verweer. Die eerste appellant kan dus nie regtens op die beweerde belediging staatmaak as synde strafversagtend nie.
By oorweging van die vraag of die doodvonnis die enigste gepaste vonnis is, is daar nie tussen die twee appellante te onderskei nie. Die strafverswarende

11

en -versagtende faktore geld in gelyke mate ten opsigte van albei. Ofskoon die verswarende faktore die versagtende faktore verreweg oortref, is dit nie noodwendig deurslaggewend nie. Die oogmerke van

straftoemeting moet ook in aanmerking geneem word by die
beoordeling van die gepaste vonnis. Dat die appellante
moontlik vir rehabilitasie vatbaar is, is een van die
oogmerke wat oorweeg moet word. In gevalle soos die
onderhawige moet afskrikking en vergelding egter
voorrang geniet. Soos gestel in S v Mnune ('n
ongerapporteerde uitspraak van hierdie Hof gelewer op

26 Maart 1992):

"Aanvalle op weerlose bejaardes wat in hulle eie wonings, dikwels op afgeleë plase, beroof en vermoor word, is in die afgelope tyd in uitsprake van hierdie hof beskryf as iets wat uiteraard vir die gemeenskap verderflik is. In sulke gevalle tree die gemeenskapsbelang, asook die afskrikkings- en vergeldings= elemente sterk op die voorgrond by die oorweging van die gepaste straf."

12

(Sien ook in diê verband S v Shabalala and Qthers 1991(2) SASV 478(A) op 483 C - E.) Hierdie is
uiteraard 'n geval waar "the perceptions, sensibilities and interests of the community demand nothing less than the extreme penalty" (S v Majosi and Others 1991(2) SASV 532(A) op 541 E - F).
In die geval van elk van die appellante word die appél afgewys en die doodvonnis bekragtig.

J W SMALBERGER APPèLREGTER

NICHOLAS, Wn AR ) stem saam HOWIE, Wn AR )