South Africa: Supreme Court of Appeal

You are here:
SAFLII >>
Databases >>
South Africa: Supreme Court of Appeal >>
1992 >>
[1992] ZASCA 88
| Noteup
| LawCite
S v Gtanso (512/91) [1992] ZASCA 88 (27 May 1992)
Download original files |
Saak no 512/91
IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA (APPèLAFDELING) In die saak tussen
N P GTANSO Appellant
en
DIE STAAT Respondent
CORAM: E M GROSSKOPF, KUMLEBEN, ARR et HARMS, Wnd
AR
VERHOOR: 19 Mei 1992
GELEWER: 27 Mei 1992
UITSPRAAK
2
E M GROSSKOPF, AR
Die appellant is saam met twee ander beskuldigdes in die Oranje-Vrystaatse Provinsiale Afdeling aangekla van moord en roof met verswarende omstandighede. Na 'n verhoor voor VAN COPPENHAGEN R en assessore is die appellant en die destydse tweede beskuldigde skuldig bevind aan albei aanklagte. Die derde beskuldigde is vrygespreek. Die tweede beskuldigde, wat ten tyde van vonnisoplegging sewentien jaar oud was, is gevonnis tot langtermyn gevangenisstraf. Wat die appellant betref het die hof bevind dat daar geen versagtende omstandighede was ten opsigte van die moord nie, en is hy ter dood veroordeel. Op die roofklag is twaalf jaar gevangenisstraf opgelê.
Die appél dien nou voor ons kragtens art. 19 van die Strafregwysigingswet, no. 107 van 1990. Ons moet dus oorweeg of, met inagneming van die strafversagtende en -verswarende faktore wat aanwesig is, die doodvonnis op die moordklag die gepaste vonnis is in die lig van die
3
wetswysigings teweeggebring deur die gemelde
Strafregwysigingswet. Die beginsels wat geld by appèlle van hierdie aard is oorbekend en ek hoef hulle nie hier te herhaal nie.
Die feite is kortliks soos volg. Die tagtigjarige mnr. G.P. Fritz en sy vrou het op die plaas Bossieslaagte, Oranjeville, gewoon. Op Saterdagmiddag 20 Augustus 1988 was die egpaar in die sitkamer van hul woning besig om televisie te kyk. As gevolg van die honde se geblaf het mnr. Fritz (na wie ek hierna as die oorledene sal verwys) na buite gegaan waar hy die appellant en die tweede beskuldigde aangetref het. Hulle het voorgegee dat hulle werk soek. Die oorledene het gesê dat hy nie werk vir hulle het nie, en hulle na 'n buurman, ene mnr. Davel, verwys. Hulle het vertrek, maar na 'n ruk teruggekeer, en vir die oorledene vertel dat hulle verdwaal het. Toe hy omdraai om hulle die pad te wys het hulle hom agter sy kop met 'n voorwerp geslaan. Hy het op die grond geval waarop die twee aanvallers hom met 'n lyfband
4
verwurg het en 'n plastieksak om sy kop vasgebind het. Hy het weens asemnood
gesterf.
Die appellant het die huis binnegegaan en mev. Fritz aangeval. Hy
het haar na die slaapkamer gesleep en 'n beursie met geld daarin
gesteel. Die
tweede beskuldigde was ook van tyd tot tyd aanwesig. Daarna het hulle mev. Fritz
na 'n studeerkamer geneem wat 'n deel
van 'n buitegebou was. Daar het hulle haar
gedwing om die brandkluis oop te sluit. Hulle het egter niks daaruit geneem nie.
Sy het
bewusteloos geword. Die twee rowers het die plaas verlaat met 'n Isuzu
bakkie wat aan die oorledene behoort het. Mev. Fritz is later
deur 'n werknemer
gevind. Haar beserings was nie ernstig nie.
Die belangrikste getuienis teen die appellant en sy mede-beskuldigde was bekentenisse wat deur hulle gemaak is. Albei van hulle het getuienis afgelê wat afgewyk het van hul bekentenisse en in 'n meerdere of mindere mate verontskuldigend was. Die verhoorhof het bevind dat hulle
5
nie betroubare getuies was nie, en hierdie bevinding is
tereg
nie voor ons aangeveg nie.
Om die appellant se aandeel in die moord en rooftog
te bepaal, is ons dus in 'n groot mate afhanklik van sy eie
verklaring:
die tweede beskuldigde se bekentenis is
natuurlik nie toelaatbaar teen die
appellant nie (sien art.
219 van die Strafproseswet, no. 51 van 1977) en die tweede
beskuldigde se
getuienis is oor die algemeen nie aanvaar nie.
Die appellant se bekentenis, insoverre dit ter sake tot die
moordklag is, lui soos volg (Serame was die tweede
beskuldigde en Funani die derde beskuldigde wat vrygespreek
is):
"Hierdie ding het ek en ene Funani bespreek. Dit was in die week gewees. Op die twintigste van verlede maand, dit was 'n Saterdag gewees, het ek en die ander twee manne vertrek, ons het in die rigting van Oranjeville geloop na daardie blanke toe.
Toe ons daar aangekom het, het die man, Funani, by die pad gestaan om karre dop te hou. Hy sê toe vir ons 2, ons moet ingaan, ons 2 het toe ingegaan by daardie blanke se huis. Toe ons daar kom het ek vir hierdie blanke gevra of hy nie werkshande wil hê nie. Hy sê toe vir my nee hy wil nie hê maar 'n
6
ander blanke wat belangstel is Hans Davel. Ek het geskrik en in plaas daarvan om hom te slaan het ek en die ander man weggegaan van hom af.
Toe ons by Funani kom het ek vir hom gesê man, ek is bang, toe sê Funani, nee man daar is niks daaraan nie, slaan julle die blanke man dat ons daardie geld vat. Ons het weer eens Funani daar agter gelaat en teruggekeer na die blanke se huis toe. Funani het daardie ander man wat saam met my was, sy naam is Serame, 'n vuurwapen gegee. Toe ons by die huis kom het die brakkies vir ons geblaf. Die witman het uitgekom en gevra wat is dit nou weer! Ons sê toe vir hom die pad wat jy ons beduie het kan ons nie kry nie, beduie ons beter asseblief. Ons het toe aan die linkerkant van die huis omgeloop en hy het saam met ons geloop om ons te gaan wys. Hy het voor geloop, ek was agter hom gewees en Serame was agter my gewees. Serame het vir my die vuurwapen gegee. Ek het hom met die vuurwapen agter die kop geslaan en hy het neergeval. Ek en Serame het hom aangerand. Serame het aan een kant van hom gestaan en ek aan die ander kant. Serame het toe sy lyfband losgemaak en hom daarmee om sy nek vasgemaak en hom gewurg totdat hy gesterwe het.
Van daar af het ek binne die huis ingehardloop om te gaan kyk waar die geld is."
Die verklaring gaan dan voort om die aanranding op
mev. Fritz en die verdere verloop van sake te beskryf.
Dit is teen die agtergrond van die feite wat hierbo
7
uiteengesit is wat die aan- of afwesigheid van strafverswarende of -versagtende faktore bepaal moet word. Die eerste strafverswarende faktor lê voor die hand. Die appellant het die voortou geneem om saam met ander te beplan om hierdie twee ou mense aan te val en te beroof. Die appellant se skoonouers het op die plaas van die oorledene gewoon en gewerk, en die appellant het klaarblyklik geweet dat hy en sy trawante geen wesentlike weerstand kon verwag nie. Moord deur verwurging is 'n pynlike en betreklik uitgerekte daad. Hierdie soort misdade teen weerlose ou mense word altyd as ernstig beskou. Die graad van die appellant se blaamwaardigheid sal egter afhang ook van ander aspekte van die vergryp, en veral, in die onderhawige saak, van die opsetsvorm waarmee die appellant aan die moord deelgeneem het en van sy presiese aandeel daarin.
Dit is eerstens duidelik, meen ek, dat die appellant waarskynlik nie vooraf beplan het om die oorledene te dood nie. Hierdie is nie 'n geval waar die aanranders
8
maklik deur hul slagoffers uitgeken sou word nie. Die appellant se onbetwiste getuienis was dat hy nie die twee ou mense vantevore gesien het nie. Die aanvallers was blykbaar ook ongewapen. Daar is wel verwysings in die getuienis na 'n vuurwapen wat in die boosdoeners se besit was, maar daar is ook aanduidings dat dit net 'n speelding was. Hoe dit ook al sy, geen skoot is ooit afgeskiet nie, en daar is dus minstens 'n redelike twyfel of die vuurwapen werksaam was. Geen ander wapen is gebruik nie. Die oorledene is verwurg met sy eie gordel en met 'n plastieksak. Dit is nie duidelik waar die plastieksak vandaan gekom het nie. Daar was getuienis dat die appellant vroeër 'n plastieksak by hom gehad het waarin daar klere was. Moontlik was dit dieselfde plastieksak wat by die verwurging van die oorledene gebruik is, maar dit sou vergesog wees om te vermoed dat die appellant die sak vir hierdie doel saamgeneem het. Elke aanduiding is dat die boosdoeners artikels gebruik het wat toevallig op die toneel beskikbaar was. By die vasbind van mev. Fritz het hulle dan
9
ook 'n stuk telefoondraad, wat hulle afgeruk het, en die oorledene se trui
gebruik.
Die volgende vraag is dan watter afleidings gemaak kan word van die
aard van die aanranding op die oorledene. Die staatsgetuienis
hieromtrent is
soos volg. Die eerste persoon wat die oorledene gesien het ná die
moordenaars se vertrek, was die oorledene
se werknemer Paulus Dlamini. Hy het
die oorledene op die grond sien lê. Daar was 'n Checkers plastieksak oor
sy kop en 'n lyfband
om sy nek. Dlamini het die plastieksak van die oorledene se
gesig weggeskeur. Die oorledene was reeds dood.
By die nadoodse ondersoek het
dit geblyk dat die plastieksak om die nek vasgebind was met 'n baie stewige
skuifknoop. Prof. Olivier,
wat die lykskouing waargeneem het, het bevestig dat
die res van die sak, wat toe reeds geskeur was en relatief dun was, oor die
gesigdeel
van die liggaam kon gewees het. Bo-oor die plastieksak om die nek was
die oorledene se gordel. Albei hierdie ligature het
10
onderliggende beserings aan die nekstruktuur veroorsaak. Prof. Olivier se
opinie was dat die dood te wyte was aan 'n hart/long versaking
as gevolg van
primêre asemnood veroorsaak deur ligature om die nek en moontlike
versmoring met 'n plastieksak oor die kop.
Daar was geen getuienis oor wie
die plastieksak om die oorledene se nek gebind het nie, en die verhoorhof het
geen bevinding hieromtrent
gemaak nie. Wat die lyfband betref het die verhoorhof
bevind dat dit die tweede beskuldigde was wat die oorledene se lyfband afgehaal
het en dit om die oorledene se nek gesit het. Die hof het geen bevinding gemaak
oor wie dit was wat die oorledene daarmee gewurg
het nie. Waar ons nou aangewese
is op die appellant se bekentenis moet ons aanvaar dat dit die tweede
beskuldigde was, soos die appellant
in sy bekentenis sê. Daar bestaan dus
'n redelike moontlikheid dat dit die tweede beskuldigde was wat albei die
ligature om
die oorledene se nek geplaas het en hom verwurg het. Dat sodanige
optrede die appellant
11
se goedkeuring geniet het, spreek vanself, maar as hy nie self die ligature
styfgetrek het nie, sou hy nie noodwendig besef het hoeveel
geweld gebruik is
nie.
By 'n beoordeling van getuienis het die verhoorhof bevind "dat die
beskuldigdes minstens besef het dat deur die aanwending van die
lyfband om die
oorledene se nek sy dood veroorsaak kan word, maar dat hulle ongeag hierdie
besef voortgegaan het om hom te verwurg
totdat die dood ingetree het." Hierdie
was 'n bevinding dat daar minstens opset by moontlikheidsbewussyn (dolus
eventualis) aanwesig was, en in ander dele van sy uitspraak (en veral die
uitspraak oor versagtende omstandighede) het die hof bevestig dat
die
skuldigbevindinge berus op hierdie skuldvorm. Die verhoorhof het egter ook
verwys na getuienis deur die tweede beskuldigde dat
die appellant voor die
noodlottige aanranding op die oorledene gesê het dat hy die oorledene gaan
doodmaak omdat die oorledene
nie wou sê waar die geld is nie. Indien
hierdie getuienis aanvaar word, sou dit aantoon dat die
12
appellant die direkte opset gehad het om te dood, en dit sou moeilik te rym wees met die hof se bevinding dat daar moontlik slegs dolus eventualis hier aanwesig was. Daarbenewens het die verhoorhof geen redes verstrek waaroor hierdie stukkie getuienis deur die tweede beskuldigde aanvaar is hoewel sy getuienis oor die algemeen as onbetroubaar beskou is nie. In hierdie verband is dit belangrik dat die tweede beskuldigde deurgaans valslik probeer het om homself so ver moontlik te verontskuldig en die blaam op die appellant te plaas. Waar hy dus hier sake teen die appellant aandik, lyk sy getuienis baie verdag. Alles in ag genome meen ek nie dat die tweede beskuldigde se getuienis oor wat die appellant voor die moord sou gesê het, bo redelike twyfel aanvaar kan word nie.
Die verhoorhof het nie pertinent oorweeg of die plasing van die plastieksak om die oorledene se kop aanduidend was van 'n direkte opset om te dood nie. Die rede hiervoor was miskien dat daar nie bewys was dat die sak so
13
dig was dat dit in die posisie waarin dit was die lugtoevoer sou afgesny het nie, en dat dit in elk geval so dun was dat dit betreklik maklik weggeskeur kon word, soos Dlamini inderdaad gedoen het. Indien dit nie die boosdoeners se opset was om die oorledene te vermoor nie, wonder 'n mens tog waarom hulle juis die sak oor die oorledene se kop gesit het. Waar ons hier te doen het met 'n struweling waarin, soos reeds gemeld, die aanvallers gebruik gemaak het van artikels wat toevallig byderhand was, moet 'n mens miskien egter nie te veel analitiese denke aan hulle toeskryf nie. In elk geval, waar hierdie aspek nie behandel is by die verhoor nie meen ek dat dit gevaarlik sou wees om nou op appél afleidings te maak wat teenstrydig is met die verhoorhof se bevindinge.
Weens die voorgaande meen ek dat ons nie behoort af te wyk van die hof a quo se bevinding dat daar 'n redelike moontlikheid is dat slegs dolus eventualis hier aanwesig was nie. Die posisie is dus na my mening dat die verswarende faktore wat ontstaan uit die aard van die aanval op die
14
oorledene nie verder vererger word deur die bestaan van direkte opset aan die
kant van die appellant om hom te dood nie.
Dit bring my dan by
strafversagtende faktore. Soos ek reeds aangedui het, meen ek dat daar 'n
redelike moontlikheid is dat die moord
nie vooraf beplan was nie, maar dat dit
feitlik spontaan gepleeg is met dolus eventualis toe die oorledene
oorrompel en buite aksie geplaas is. Hierdie faktore is strafversagtend in die
sin dat die misdaad ernstiger sou
gewees het as die feite anders was. Dan is
daar die appellant se persoonlike omstandighede - hy was ten tyde van die
misdaad 26 jaar
oud, het gewerk en het geen vorige veroordelings hoegenaamd
gehad nie. 'n Skoon rekord dra gewoonlik heelwat gewig as 'n versagtende
faktor.
Dit is 'n aanduiding dat die betrokke persoon nie 'n misdadige geaardheid het
nie, en waarskynlik rehabiliteerbaar is.
Ten slotte moet ek die strafverswarende en -versagtende faktore teen mekaar
opweeg en besluit of die
15
doodvonnis die gepaste vonnis is. Soos reeds gemeld, is hierdie 'n ernstige saak, maar na my mening is die misdaad nie van sulke uitsonderlike erns dat dit die hoogste tol regverdig nie. Ek meen dat 'n lang termyn gevangenisstraf genoeg sou wees om die samelewing se verstaanbare behoefte aan vergelding en afskrikking te bevredig, terwyl dit terselfdertyd die moontlikheid van rehabilitasie vir die appellant sal oophou.
Die appêl slaag. Die doodvonnis word tersyde gestel en vervang met twintig (20) jaar gevangenisstraf wat sal saamloop met die gevangenisstraf opgelê op die roofklag.
E M GROSSKOPF
KUMLEBEN, AR
HARMS, Wnd AR Stem saam