South Africa: Supreme Court of Appeal

You are here:
SAFLII >>
Databases >>
South Africa: Supreme Court of Appeal >>
1993 >>
[1993] ZASCA 68
| Noteup
| LawCite
Volkskas Bank Bpk. v Bonitas Medical Aid Fund (716/1991) [1993] ZASCA 68; 1993 (3) SA 779 (AD); [1993] 2 All SA 421 (A) (24 May 1993)
Download original files |
LL Saak No 716/1991
IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA APPéLAFDELING
Insake die appèl van:
VOLKSKAS BANK BEPERK Appellant
teen
BONITAS MEDICAL AID
FUND Respondent
CORAM: BOTHA, VAN HEERDEN, GOLDSTONE ARR
en NICHOLAS, KRIEGLER Wnd ARR
VERHOORDATUM: 4 MEI 1993
LEWERINGSDATUM: 24 MEI 1993
UITSPRAAK VAN HEERDEN AR:
2
Op 25 Oktober 1988 het die respondent 'n tjek ten bedrae van R2 miljoen ten gunste van die appellant as nemer getrek. Nedbank Beperk ("Nedbank") was die betrokkene. Die tjek is namens die respondent geteken deur mevv Du Flessis en Hainsworth wat gemagtig was om dit te doen. Later dieselfde dag is die tjek deur 'n sekere mej Coetzee aan ene Adams oorhandig. Hy het dit op sy beurt aan mev Lamberton, 'n werknemer van Eurotrust (Ciskei) (Pty) Ltd ("Eurotrust") besorg. Nog steeds op die-selfde dag. is die tjek ten behoewe van Eurotrust by 'n tak van die appellant in Pretoria aangebied. Die aanbieding het geskied by wyse van die indiening van 'n depositostrokie waarop aangedui is dat die bedrag van die tjek gekrediteer moes word op die rekening van Eurotrust wat 'n kliënt van die appellant was. Die appellant het aan hierdie versoek voldoen. Dit het geskied nieteenstaande die feit dat die tjek nie-
3
oordraagbaar gekruis was en dat die gedrukte woorde "or bearer" wat naas die
naam van die appellant as nemer op die tjek verskyn het,
deurgehaal was. (Die
kruising op die voorkant van die tjek het bestaan uit twee parallelle strepe
waartussen die woorde "not transferable"
aangebring was.)
Na ontvangs van die
tjek het die appellant die rekening van Eurotrust voorlopig of voorwaardelik met
die bedrag daarvan gekrediteer,
die voorwaarde synde dat Nedbank die tjek sou
uitbetaal. Daarna het die appellant as invorderingsbank die tjek vir betaling by
Nedbank
aangebied. Ingevolge 'n soge-naamde "interbank arrangement" het Nedbank
toe effek-tiewelik die som van R2 miljoen aan die appellant
betaal, en die
rekening van die respondent met daardie bedrag gedebiteer. Redelik kort hierna
is Eurotrust gelikwideer. Dit het gelei
tot die aanhangigmaking van 'n proses
wat in die onderhawige
4
appèl kulmineer.
Die respondent het in die
Witwatersrandse Plaaslike Afdeling 'n aksie vir betaling van die som van R2
miljoen en rente daarop teen
die appellant en Nedbank ingestel. Aangesien dit
gemene saak is dat die verhoorhof tereg die aksie teen Nedbank afgewys het, hoef
niks gesê te word oor die skuldoorsaak wat die respondent teen Nedbank
geformuleer het nie. Wat die appellant betref, was die
aksiegrond deliktueel van
aard. Die kern daarvan was dat die respondent skade ten bedrae van R2 miljoen
gely het weens die nalatigheid
of opsetlike gedrag van die appellant, bestaande
uit 'n versuim om ooreenkomstig die opdrag. op die tjek die bedrag daarvan slegs
ten gunste van die appellant aan te wend; dat in stryd met die opdrag die
rekening van Eurotrust gekrediteer is, en dat weens die
insolvensie van
laasgenoemde die bedrag nie van daardie instansie verhaal kon word nie.
5
Die verhoorhof se uitspraak, gerapporteer in 1992 (2) SA 42, is gelewer voor dié van hierdie hof in Indac Electronics (Pty) Ltd v Volkskas Bank Ltd [1991] ZASCA 190; 1992 (1) SA 783 (A). Plewman R het derhalwe aanvaar dat hy gebonde was aan 'n aantal Transvaalse gewysdes waarin beslis is dat in 'n geval soos die onderhawige die trekker van 'n tjek nie op grond van nalatige optrede van die invorderingsbank skadever-goeding daarvan kan verhaal nie. Hy het egter bevind dat die posisie anders is indien die invorderingsbank - deur sy amptenare - "constructive knowledge" het dat die opbrengs van 'n tjek aangewend word ter krediet van 'n persoon wat nie daarop geregtig is nie, en dat in casu die appellant se amptenare wel , sodanige kennis gehad het. Gevolglik is vonnis ten bedrae van R2 miljoen met rente en koste teen die appellant verleen. Ingevolge 'n ooreenkoms tussen die partye is voorts gelas dat die respondent aan die
6
appellant 'n skriftelike sessie van sy eis teen die
gelikwideerde
Eurotrust moes gee. Ten slotte is aan
die appellant verlof verleen om na
hierdie hof te
appelleer.
In Indac is beslis dat 'n invorderingsbank
aquiliese aanspreeklikheid teenoor die sogenaamde
"true owner" van 'n tjek oploop indien al die ver-
eistes vir sodanige
aanspreeklikheid aanwesig is.
Wat aangetoon moet word is, in die woorde van
Vivier
AR op p 797:
"(i) that the collecting banker received payment of the cheque on behalf of someone who was not entitled thereto; (ii) that in receiving such payment the collecting banker acted (a) negligently and (b) unlaw-fully; (iii) that the conduct of the collecting banker caused the true owner to sustain loss; and (iv) that the damages claimed represent proper compensation for such loss."
Hierdie hof het voorts bevind dat 'n invor-
deringsbank wat in 'n geval soos die onderhawige die
7
opdrag van die trekker verontagsaam prima facie onregmatig teenoor hom
optree. Omdat die geldigheid van 'n eksepsie tér sprake was, is egter
ruimte gelaat vir die moontlikheid
dat hierdie prima facie aanduiding
deur getuienis by die verhoor weerlê kon word.
In die lig van
Indac het die appellant 'n aantal alternatiewe betoë voorgedra.
Alvorens dié uiteengesit word, is dit dienstig om eers kortliks
te let op
die omstandighede waaronder die tjek in besit van mev Lamberton gekom het. Mevv
Hainsworth en Du Plessis asook mej Coetzee
was werknemers van Medskema
Administrateurs ("Medskema"). Die sake van 'n aantal instansies wat vir mediese
bystand van hul lede
voorsiening maak, insluitende die respondent, is deur
Medskema geadministreer. Hierdie instansies het aan Medskema volmag verleen
om
wanneer groot surplusse beskikbaar was dié bedrae namens die instansies
te
8
belê, maar slegs in banke of bouverenigings. Wat die sake van die
respondent betref, was mev Hainsworth die enigste persoon
wat gemagtig was om op
sodanige beleggings te besluit. En slegs sy en mev Du Plessis kon tjeks namens
die respondent teken.
Mej Coetzee was die bestuurderes van die
rekeningafdeling van Medskema. Betreffende beleg-gings was dit haar plig om vas
te stel welke
bank of bougenootskap op 'n tersaaklike datum die hoogste
rentekoers aangebied het vir die termyn van 'n voor-gestelde belegging.
Sy het
die informasie telefonies ingewin en dit aan mev Hainsworth oorgedra. Na
goedkeuring van 'n voorgestelde belegging het mevv
Hainsworth en Du Plessis dan
'n tjek vir die beleg-ging ten gunste van die betrokke bank of bouverenig-ing
namens die respondent
geteken. Daarna het mej Coetzee die belegging gemaak.
Hierdie prosedure is, behoudens die finale
9
stap, op 25 Oktober 1988 gevolg. Op daardie dag het mej Coetzee 'n sogenaamde
tjekaanvraging en 'n tjek-vorm vir R2 miljoen aan mev
Hainsworth oorhandig. Die
skriftelike aanvraging het aangedui dat die belegging by die appellant gemaak
sou word vir 'n tydperk van
nagenoeg twee maande teen 'n rentekoers van 17,5%.
Die tjekvorm was reeds nie-oordraagbaar gekruis en die naam van die appellant
was as nemer daarop ingevul. Mev Hainsworth het die voorgestelde belegging
goedgekeur en die tjekvorm namens die respondent as trekker
geteken. Kort daarna
het mev Du Plessis dit insgelyks geteken.
Vervolgens val die kollig op mej
Coetzee. Haar verduideliking vir die oorhandiging van die tjek , aan Adams kan
soos volg saamgevat
word. Adams het haar herhaaldelik geskakel om te verneem of
"sy" belang gestel het in 'n belegging by Eurotrust. Volgens hom was
die
Suid-Afrikaanse regering betrokke
10
omdat Eurotrust fondse ingesamel het vir die aankoop van vuurwapens en
ammunisie. Haar reaksie was dat "sy" nie belanggestel het nie.
Die oggend van 25
Oktober 1988 het Adams haar weer getelefoneer. Hy het namens Eurotrust 'n
rentekoers aangebied en gesê dat
"ons" - klaarblyklik die respondent - die
beleg-ging deur die appellant kon plaas. Omdat dit die beste beskikbare koers
was, het
sy die belegging by mev Hainsworth aanbeveel. Haar indruk was dat die
belegging by die appellant gemaak sou word, en sy sou nooit
aanbeveel het dat
Eurotrust die lener sou wees nie. Sy het dit ook nie gedoen nie, maar inteendeel
die appellant se naam as nemer
op die tjekvorm inge-vul voordat sy dit na mev
Hainsworth geneem het.
Toe Adams later op 25 Oktober die tjek afgehaal het,
het hy 'n komplimentêre strokie van Medskema saamgeneem. Daarop was die
volgende nota in mej Coetzee se handskrif waaronder sy haar handteken-
11
ing aangebring het:
"Tjek ten bedrae van R2 000 000 ... is vir rekening Eurotrust (Ciskei) (Pty) Ltd."
Mej Coetzee verduidelik dat Adams haar gevra
het om so 'n dokument vir hom te gee en dat hy die bewoording van die nota aan
haar gedikteer
het. Sy sê dat vanweë inligting wat Adams aan haar
ver-strek het, sy gedink het dat daar 'n verbintenis tussen die appellant
en
Eurotrust was en dat die appellant op sy beurt die opbrengs van die tjek by
Eurotrust sou belê. Sy getuig egter ook dat
sy nie geweet het of die
dokument bestem was om vir die appellant se amptenare aan te dui welke rekening
met die bedrag van die tjek
gekrediteer moes word nie.
Adams het ten behoewe
van die appellant getuig. Hy sê dat hy mej Coetzee 'n paar keer ont-moet
het en ook getelefoneer het met
die oog op die plasing van 'n belegging by
Eurotrust waarvan hy 'n
12
kommissie-agent was. Hy het aan haar verduidelik dat Eurotrust 'n front-organisasie vir die Suid-Afri-kaanse regering was en geld van beleggers gebruik het vir geheime aankope. Hy het ook gemeld welke rente Eurotrust sou betaal, wat aansienlik meer was as gangbare rentekoerse. Mej Coetzee se reaksie was dat sy geld slegs by 'n geregistreerde finansiële instel-ling kon belê. Op 'n stadium het sy gesê dat sy 'n tjek net ten gunste van die appellant kon laat trek. Daarop het hy navraag by mev Lamberton gedoen en sy het gesê dat Eurotrust so 'n tjek kon aanvaar indien daar "iets" was wat aangedui het dat die tjek ter krediet van Eurotrust se rekening by die appellant bestem was. Hierdie inligting het hy in mej Coetzee se kantoor aan haar oorgedra. Sy was tevrede en het uit eie beweging die nota op die strokie geskryf en dit geteken. Hy is toe weg met die tjek en die strokie. Die tjek is deur hom aan mev Lamberton
13
besorg en later, maar nog op dieselfde dag, het hy 'n
afskrif van die strokie per faks aan haar versend.
Adams het nie die verhoorhof gunstig be-
ïndruk nie. Inteendeel, die hof was van mening dat
geen peil op sy weergawe getrek kon word nie tensy
dit in ander getuienis of feite stawing gevind het.
Daarteenoor was die hof se indruk van mej Coetzee dat
sy 'n naïewe eerder as 'n oneerlike persoon en getuie
was.
Ek kom nou by die appellant se betoë
wat agtereenvolgens behandel word.
(1) Die appellant het nie die tjek ingevorder ten behoewe van 'n persoon wat nie daarop geregtig was nie.
Die vernaamste stut van hierdie betoog is
, die premisse dat 'n beleggingskontrak ten opsigte van
die bedrag van R2 miljoen aangegaan was tussen die
respondent en Eurotrust. Dit synde so, is voorts
aangevoer, was Eurotrust op die tjek en die opbrengs
14
daarvan geregtig en was die respondent nie die ware eienaar van die tjek
nie.
Hierdie betoog is gefundeer op bewerings in die appellant se
verweerskrif ten effekte dat dit die respondent se oogmerk was om 'n
bedrag van
R2 miljoen by Eurotrust te belê, en dat die respondent vir Eurotrust
gemagtig het om aan die appellant opdrag te
gee om die bedrag van die tjek ten
behoewe van Euro-trust in te vorder. Dié bewerings is gemaak in antwoord
op 'n bewering
in die besonderhede van die vordering, nl dat die respondent
beoog het dat die bedrag van die tjek as 'n belegging van die respon-dent
by die
appellant aangewend moes word.
Grondliggend tot die betoog is dat mej Coetzee bedoel het dat die geld by Eurotrust belê moes word. Haar getuienis is dan ook aan heelwat kritiek onderwerp. Om redes wat volg vind ek dit nie nodig om die kritiek te behandel nie. Ek veronder-
15
stel dus, ten gunste van die appellant, dat bostaande wel haar oogmerk
was.
Die eerste vraag is of mej Coetzee bevoeg was om 'n beleggingskontrak
met Eurotrust aan te gaan. Die getuienis laat weinig twyfel
oor die aard van die
antwoord. Eerstens kon geen amptenaar van Medskema namens die respondent geld by
'n instansie anders as 'n bank
of 'n bouvereniging belê nie. Tweedens moes
minstens mev Hainsworth - en moontlik ook mev Du Plessis - 'n belegging
voorgestel
deur mej Coetzee magtig. En in casu het nie een van
eersge-noemde twee dames 'n belegging by Eurotrust goedge-keur nie. Inteendeel,
magtiging is slegs verleen dat die
bedrag van R2 miljoen, by wyse van 'n tjek
getrek ten gunste van die appellant as nemer, by die appellant belê kon
word.
Namens die appellant is egter aangevoer dat mej Coetzee wel magtiging gehad het om beleggings-
16
kontrakte aan te gaan omdat sy bevoeg was om oor beleggings te onderhandel en
sy normaalweg, soos ook in die onderhawige geval, sodanige
kontrakte aange-gaan
het. Mej Coetzee kon egter slegs inligting oor rentekoerse inwin, en hoewel sy
'n beleggingskontrak kon aangaan,
kon sy dit doen slegs ooreenkomstig 'n
goedkeuring daartoe verleen deur mev Hainsworth. En selfs laasgenoemde kon haar
nie magtig
om geld by 'n instansie soos Eurotrust te belê nie.
'n
Aanverwante argument was dat die respon-dent die beleggingskontrak wat mej
Coetzee met Euro-trust sou aangegaan het, bekragtig
het. In hierdie verband is
gesteun op getuienis wat ek nog nie ver-meld het nie. Op 26 Oktober 1988 het
Adams 'n skrywe , en drie
tjeks van Eurotrust aan mej Coetzee besorg. In die
skrywe, gerig aan die respondent, is bevestig dat Eurotrust 'n bedrag van R2
miljoen
as 'n belegging teen 'n rentekoers van 17,5% per jaar van
17
die respondent ontvang het; dat rente maandeliks vooruitbetaalbaar was, en dat die kapitaal op 26 Desember 1988 terugbetaal sou word. Die bedrag en datum van een van die tjeks was R2 miljoen en 26 Desember 1988. Die bedrag van elk van die ander twee tjeks was R29 166,67 en hul datums was onderskeidelik 26 Oktober en 26 November 1988. Laasgenoemde bedrag het rente teen bogenoemde koers op R2 miljoen vir 'n tydperk van 'n maand verteenwoordig.
Mej Coetzee sê dat sy nie aandag aan die
brief of die
tjeks gegee het nie. Sy het hulle in
'n kluis geplaas en die tjek gedateer 26
Oktober is
toe deur 'n klerk van Medskema op daardie datum op
die
respondent se rekening by Nedbank inbetaal.
Mej Coetzee se getuienis aangaande die ontvangs van die brief en die tjeks is ongetwyfeld onbevredigend. Die appellant steun egter op die inbetaling van díe een tjek as 'n ratifikasie van die
18
"kontrak" wat mej Coetzee met Eurotrust sou aangegaan het. Maar geen
amptenaar van Medskema was bevoeg om so 'n kontrak te ratifiseer
nie. Bowendien
was mev Hainsworth totaal onbewus van die brief, die tjeks, en die inbetaling
van een van die tjeks tot nadat Eurotrust
in November 1988 gelikwideer is. Daar
kan dus geen sprake wees van 'n ratif ikasie wat die respondent bind nie.
Met
'n beroep op veral die beslissing van hierdie hof in Leqq and Co v Premier
Tobacco Co 1926 AD 132, 145-6, is egter aangevoer dat mej Coetzee se optrede
- deur die beweerde beleggingskontrak aan te gaan - deur stilswye geratifiseer
is. In hierdie verband is gesteun op die feit dat die respondent nie gereageer
het op die skrywe van Eurotrust wat op 26 Oktober
1988 deur Adams aan mej
Coetzee oorhandig is nie, en spesifiek op die versuim om haar optrede te
repudieer.
19
Ek is glad nie seker of die appellant, in teenstelling tot Eurotrust, hom op sodanige ratifi-kasie sou kon beroep nie. Hoe dit ook al sy, die beslissings in Legq en aanverwante sake baat nie die appellant nie. Eerstens het die skrywe nooit tot kennis van 'n amptenaar van Medskema wat beleggings kon magtig, of van 'n werknemer wat in die algemeen namens die respondent kon optree, of wie se plig dit was om kommunikasies na so 'n amptenaar te verwys, gekom nie. Tweedens is die skrywe deur Adams oor-handig juis aan 'n persoon wat tot sy wete nie namens die respondent 'n beleggingskontrakmet Eurotrust kon aangaan nie. Die posisie kan dus vergelyk word met dit wat die geval sou gewees het indien in Legq die skrywe gerig was nie aan die sekretaris van die maatskappy nie, maar juis aan die direkteur wat die ongemagtigde huurkontrak aangegaan het. En in die gepostuleerde geval sou daar klaarblyklik nie van 'n
20
bekragtiging sprake kon gewees het indien die direk-teur nie op die skrywe
gereageer het nie.
As 'n verdere alternatief is namens die appellant gesteun
op skynbare magtiging van mej Coetzee. Soos egter hieronder blyk, het geen
verant-woordelike amptenaar van Medskema, en selfs ook nie mej Coetzee nie, die
skyn verwek dat sy wel gemagtig was om namens die
respondent 'n
beleggingskontrak met Eurotrust aan te gaan nie.
Ten slotte het die appellant
se advokaat hom op die leerstuk van estoppel beroep. Die argu-mente, en die
"feite" waarop dit berus,
kan soos volg opgesom word:
(a) Mej Coetzee het deur haar gedrag, en veral die nota wat sy onderteken het, ondubbelsinnig teenoor Eurotrust te kenne gegee dat die tjek vir daardie instansie bestem was. (b) Sy het dit gedoen wetende dat Euro-
21
trust op sy beurt daardie inligting aan die appellant sou oordra.
(c) Hoewel die nota nie tot kennis van die appellant se amptenare gekom het nie, het mev Lamber-ton inderdaad die inligting aan die appellant oorge-dra deur die tjek ter krediet van Eurotrust se rekening aan te bied. (d) Sodoende het Eurotrust teenoor die appellant die skyn verwek dat dit op die opbrengs van die tjek geregtig was. (e) Op sterkte van hierdie indruk het die appellant tot sy nadeel die bedrag van die tjek ingevorder en dit op Eurotrust se rekening gekredi-teer. (f) Die appellant was dus geregtig om 'n verweer van estoppel teen die respondent se vordering op te werp.
Al wat ek oor hierdie argumente
hoef te sê.
22
is dit. Eerstens het mej Coetzee nie magtiging gehad om teenoor Eurotrust - of die appellant - te kenne te gee dat die tjek vir Eurotrust bestem was nie, en die appellant kan vanselfsprekend nie steun op mej Coetzee se gedrag ter bewys van 'n skynbare volmag nie: Dicks v South African Mutual Fire and General Insurance Co Ltd 1963 (4) SA 501 (N) 506-7; Rosebank Teievision and Appliance Co (Pty) Ltd v Orbit Sales Corporation (Pty) Ltd 1969 (1) SA 300 (T) 303 en 305, en New Zealand Construction (Pty) Ltd v Carpet Craft 1976 (1) SA 345 (N) 348. Tweedens het nóg mej Coetzee nóg enige ander amptenaar van Medskema teen-oor Eurotrust die skyn verwek dat eersgenoemde wel 'n beleggingskontrak met daardie instansie kon aangaan. Sy het weliswaar die nota aan Adams gegee maar hy was deeglik bewus van die feit dat sy nie bevoeg was om namens die respondent 'n beleggingskontrak met Euro-trust aan te gaan nie, en het op sy beurt vir mev
23
Lamberton verwittig dat 'n beleggingstjek van die
respondent slegs ten gunste van die appellant getrek
kon word. Mev
Lamberton moes dus geweet het dat mej
Coetzee nie die respondent se fondse by
Eurotrust kon
belê nie. En aangesien die nota nooit tot kennis
van
die appellant se amptenare gekom het nie, kon die
appellant klaarblyklik nie vir die doeleindes van
estoppel op die inhoud daarvan steun nie.
Ek bevind derhalwe dat die respondent nie
'n beleggingskontrak met Eurotrust aangegaan of
sodanige kontrak bekragtig het nie, en ook nie mee-
gewerk het om teenoor die appellant die skyn te
verwek dat die tjek vir Eurotrust bestem was nie.
(2) Die appellant het nie 'n sorgvuldigheids-plig teenoor die respondent gehad nie.
By die verhoor is geen getuienis gegee ter
weerlegging van die prima facie sorgvuldigheidsplig
("plig") wat 'n invorderingsbank teenoor die ware
24
eienaar van 'n tjek het nie. Die appellant se advokaat het egter betoog dat die onderhawige 'n buitengewone geval is omdat die appellant beide die invorderingsbank en ook die nemer van die tjek was, en derhalwe nie 'n plig teenoor die respondent ver-skuldig was nie. Sommige van die argumente wat ter onderskraging van hierdie betoog geopper is, het egter betrekking op die vraag of die appellant nala-tig was en word dus onder die volgende hoof behandel. 'n Verdere argument dat dit die appellant vrygestaan het om die tjek vir eie rekening in te vorder en dan die opbrengs aan Eurotrust oor te betaal, is herhaal by beredenering van die kousaliteitsvraag en word in (4) hieronder deur my aangespreek.
Die finale argument was dat 'n plig ont-breek het omdat die respondent maklik seker kon maak dat betaling van die tjek slegs ten behoewe van die appellant ingevorder word. In die veronderstelling
25
dat die gemak waarmee die ware eienaar hom teen verlies kan beskerm 'n inslag op die onregmatigheids-kwessie kan hê, kom dit egter nie in die onderhawige geval ter sprake nie. Mev Hainsworth, wat die uit-reiking van die tjek gemagtig het, kon niks meer doen om te verseker dat die tjek ten behoewe van die appellant, en niemand anders, ingevorder word nie. Die tjek wat sy en mev Du Plessis geteken het, was immers nie-oordraagbaar gekruis. Die betalingsopdrag vervat in die tjek was dus ondubbelsinnig - betaling moes slegs aan die appellant geskied. Wat daarna gebeur het, verskil in wese nie van wat die geval sou gewees het nie indien mej Coetzee met dieftige voorneme, en synde ook 'n kliënt van die appellant, die tjek ter krediet van haar eie rekening aangebied en die appellant toe die bedrag van die tjek vir haar ingevorder het. Ek kan dus nie ins ien hoe enige gedrag wat aan die respondent toegereken kan word
26
afding aan die plig wat die appellant as
invorderingsbank in die gewone
loop van sake teenoor
die respondent as trekker van die tjek moes
nakom
nie.
(3) Die amptenare van die appellant het nóg opsetlik nóg nalatig opgetree
Ek is bereid om te aanvaar dat die
ampte-nare nie opsetlik opgetree het nie, en beperk my dus tot die
nalatigheidskwessie.
Die betoog van die appellant dat die be-trokke amptenare
nie nalatig was nie, kan soos volg saamgevat word.
(a) Deur die tjek ter
krediet van sy rekening aan te bied, het Eurotrust te kenne gegee dat dit op die
tjek en die opbrengs daarvan
geregtig was. Die appellant se amptenare het geen
rede gehad om die juistheid van hierdie voorstelling te betwyfel nie aangesien
Eurotrust 'n groot kliënt van die
27
appellant was; daar vantevore nooit enige probleme betreffende sy rekening
ondervind is nie, en dit nie ongewoon is dat 'n tjek wat
vir 'n kliënt
bestem is ten gunste van sy bank getrek word nie.
(b) Toe die tjek ter
invordering aangebied
is, het die appellant se amptenare geweet dat
daar
geen ooreenkoms tussen die partye was waarvolgens die
appellant op
betaling van die bedrag van R2 miljoen
geregtig was nie. Die gemis aan so 'n
ooreenkoms het
dus gestrook met Eurotrust se voorstelling.
(c) Indien die
tjek nie vir Eurotrust
bedoel was nie, was die enigste ander
moontlikheid
dat dit vir die appellant bestem was. Indien die
appellant se
amptenare met hierdie moontlikheid
rekening gehou het, sou hulle egter ook
geweet het
dat ná invordering van die tjek vir eie rekening dit
die
appellant vrygestaan het om die opbrengs aan
Eurotrust oor te betaal.
Gevolglik sou 'n redelike
28
amptenaar nie benadeling van die respondent voorsien het indien invordering
regstreeks vir Eurotrust geskied het nie.
Nie al die feitlike substrate van
bostaande is korrek nie. Eerstens het die appellant se ampte-nare nie
ondubbelsinnig getuig dat
die trek van 'n gekruiste tjek ten gunste van die
appellant, maar wat vir 'n kliënt van die appellant bestem is, nie 'n rare
verskynsel is indien dit nie vergesel gaan van 'n ander aanduiding deur die
trekker van die werklike begunstigde nie. En hoewel hulle
nie uitdruklik so
gesê het nie, kan met veiligheid aanvaar word dat toe hulle oor die
voorkoms van sodanige tjeks getuig het,
die amptenare verwys het na tjeks getrek
deur 'n kliënt van die appellant (wat die respondent nie was nie). Tweedens
is daar
geen getuienis dat enige amptenaar van die appellant wat met die
onderhawige tjek gemoeid was, geweet het dat dit nie op 'n beleg-
29
gingsooreenkoms tussen die partye berus het nie. Geen so 'n amptenaar het
blykbaar enige navrae aan-gaande 'n moontlike causa van die tjek aan die
appel-lant se beleggingsafdeling gerig nie.
Maar al was die genoemde
substrate korrek, is die appellant se regskonklusies steeds onhoudbaar. Die
sorgvuldigheidsplig van die appellant
het vereis dat invordering van die tjek
streng volgens die betalingsopdrag moes geskied. Dit het nie gebeur nie omdat
die betrokke
amptenare van die appellant - 'n toonbankbeampte en 'n
nasienamptenaar - eenvoudig nie opgemerk het dat die tjek slegs aan die
appellant
betaalbaar was nie of, indien hulle dit wel raakge-sien het, eenvoudig
die beperkende kruising geïgno-reer het.
Ek het dan ook weinig twyfel
dat die be-trokke amptenare wel nalatig was. Die kruising, en die naam van die
nemer, was opsigtelik
op die tjek
30
aangebring. Enige redelike amptenaar moes dit opge-merk het. Voorts was daar geen verskoning vir 'n ignorering van die betalingsopdrag nie. 'n Redelike amptenaar wat nie kon vasstel waarom die tjek ten gunste van die appellant getrek was nie, sou navraag gedoen het waarom die appellant as nemer aangedui was. En so 'n navraag is nalatiglik nooit gerig nie.
Ek kom dan by die argument dat die appel-lant se amptenare nie nalatig vis-à-vis die respon-dent opgetree het nie, en wel omdat 'n redelike amptenaar nie benadeling van die respondent sou voorsien het nie. In die onderhawige verband -anders as in die verband van kousaliteit - hoef nie veel hieroor gesê te word nie. 'n Redelike amptenaar sou naamlik voorsien het dat indien die tjek ter krediet van die appellant ingevorder sou word die respondent nie deliktuele skade sou kon ly nie
31
(ongeag of daar al of nie 'n causa vir die begunstig-
ing van die
appellant was) , maar dat die respondent
benadeel kon word indien in die
invorderingsproses
nie aan die betalingsopdrag gehoor gegee sou
word
nie.
4) Die nalatigheid van die appellant se ampte-nare was nie 'n oorsaak van die respondent se skade nie
Hierdie betoog berus op drie
afsonderlike argumente. Doelmatigheidshalwe behandel ek hulle in 'n ander
volgorde as dié waarin
hul aangebied is.
Eerstens is aangevoer dat
indien die appel-lant se amptenare nie nalatig was nie, hulle by Eurotrust
navraag sou gedoen het oor die
ware bestem-ming van die tjek. Indien dit gebeur
het, sou Euro-trust geantwoord het dat dit wel 'n beleggingskontrak met die
respondent
aangegaan het, en ter stawing mej Coetzee se nota en Eurotrust se
brief aan die respon-dent voorgelê het. Dit sou 'n redelike
amptenaar
32
oortuig het dat die tjek wel vir Eurotrust bestem was.
Ek kan nie akkoord
gaan nie. In die ver-onderstêlde geval sou 'n redelike bankier gemerk het
dat die nota onderteken was deur
iemand wat nie een van die twee persone was wat
die tjek namens die trekker geteken het nie. Hy sou dus navraag by een van
laasgenoemdes
gedoen het en terstond verneem het dat die tjek vir 'n belegging
by die appellant bestem was en onder geen omstandighede aan Eurotrust
uitbe-taal
moes word nie. En selfs indien die appellant mej Coetzee genader het, is dit
waarskynlik dat sy sou gesê het dat
fondse van die appellant slegs by 'n
bank of bougenootskap belê kon word.
Tweedens is aangevoer dat dit die appellant vrygestaan het om die bedrag van die tjek vir eie rekening in te vorder en daarna die opbrengs aan Eurotrust oor te betaal. Indien dit gebeur het, so
33
is voorts geargumenteer, sou die respondent in presies dieselfde posisie verkeer het as waarin dit was vanweë die invordering van die tjek namens Euro-trust. Die nalatige pligsversuim van die appellant se amptenare was gevolglik nie die oorsaak van die skade wat die respondent gely het nie.
Daar is egter 'n groot verskil tussen die regsgevolge van dit wat gebeur het en dié wat in die gepostuleerde geval sou ontstaan. Indien die appel-lant die tjek vir eie rekening ingevorder het, kon dit vanselfsprekend die opbrengs na willekeur aan-gewend het. Dit sou egter geen afbreuk gedoen het aan enige aanspreeklikheid wat die appellant teenoor die respondent opgeloop het nie. Indien daar wel 'n voorafgaande beleggingskontrak bestaan het, sou die appellant daaraan gebonde gewees het ongeag die aard van sy besteding van die opbrengs van die tjek. En in die afwesigheid van so 'n kontrak sou die respon-
34
dent 'n onverskuldigde betaling aan die appellant gemaak het, en heel
moontlik die betrokke bedrag met die condictio indebiti kon teruggevorder
het.
Ek vind dit egter nie nodig om 'n oorwoë mening oor die regsgevolge
van die veronderstelde f eite uit te spreek nie. Daar is
naamlik ' n meer
fundamentele rede waarom die argument onder bespreking nie steek hou nie. Die
veronderstelling dat indien die appellant
se amptenare nie nalatig was nie die
tjek vir die rekening van die appellant ingevorder sou gewees het, is naamlik
vals. Ek sê
dit omdat die redelike amptenaar wat nie kon vasstel waarom
die appellant as nemer van die tjek vermeld was nie bostaande navraag
by
Medskema sou gedoen het. Hy sou dan vasgestel het dat die tjek vir 'n belegging
by die appellant bestem was, en sou dus die tjek
teruggehou het totdat so 'n
ooreenkoms aangegaan was. En indien dit nie gebeur het nie, sou die tjek
35
nie ter invordering by Nedbank aangebied gewees het
nie. In die
afwesigheid van nalatigheid sou die
appellant dus nie betaling van die tjek ingevorder
het nie sonder
medewerking van Medskema as
verteenwoordiger van die respondent.
Derdens is gesteun op art 79 van die Wis-
selwet 34 van 1964 wat soos volg lui:
" Indien die bankier op wie ' n gekruiste tjek getrek is, dit te goeder trou en sonder nalatigheid betaal aan 'n bankier, indien dit 'n algemene kruising bevat, en aan die bankier aan wie dit gekruis is, of laasgenoemde se invorderingsagent wat 'n bankier is, indien dit 'n besondere kruis-ing bevat, het die bankier wat die tjek betaal en, indien die tjek in die hande van die nemer gekom het, die trekker onderskei-delik aanspraak op dieselfde regte, en word hulle in dieselfde posisie gestel, asof betaling van die tjek aan die ware eienaar daarvan geskied het."
Die kern van die betoog is dat die nalatige
versuim van die appellant se amptenare nie die res-
pondent benadeel het nie omdat dit nog steeds in die
36
posisie is waarin dit sou gewees het indien die appellant die bedrag van die tjek vir eie rekening ingevorder het. Die stutte van die betoog is die volgende:
(a) Die verhoorhof het tereg bevind dat Nedbank die tjek te goeder trou en sonder nalatig-heid ooreenkomstig die kruising aan die appellant as invorderingsbank betaal het. (b) Ingevolge art 79 het Nedbank dus nie aanspreeklikheid teenoor die respondent opgeloop nie. (c) Die tjek het in die hande van die nemer— die appellant - gekom. (d) Weer eens ingevolge art 79 het die respondent as trekker van die tjek aanspraak op dieselfde regte, en word dit in dieselfde posisie gestel, asof betaling van die tjek aan die ware eienaar daarvan geskied het.
37
(e) Gevolglik is die respondent steeds in die posisie waarin dit sou gewees het indien betaling aan die appellant geskied het. (f) Daar is dus nie 'n oorsaaklike verband tussen die appellant se nalatige pligsversuim en die skade wat die respondent gely het nie.
Indien hierdie
betoog gegrond is, beteken dit nie dat die nalatigheid van die appellant nie 'n
oorsaak van die ly van skade deur die
respondent was nie. Inteendeel, die
respondent sou nie skade gely het nie omdat dit dieselfde verhaalsreg teenoor
die appellant sou
gehad het as dit wat tot sy beskikking sou gewees het indien
die appellant die tjek vir eie rekening ingevorder het.
Dit is duidelik dat
die betoog op al sy stutte gefundeer is. Val een weg, tuimel die kaarte-huis
ineen.
Ek beperk my tot (c) en (e) hierbo. Wat
38
(c) betref, is dit so dat die appellant fisies in besit van die tjek gestel
was. Dit is egter duide-lik, meen ek, dat die frase "indien
die tjek in die
hande van die nemer gekom het" in art 79 slaan op besitsverkryging deur die
nemer qua nemer. Sien Malan, Wisselreq en Tjekreq, p 329. Wat
egter in ons geval gebeur het, is dat die tjek aan die appellant besorg is deur
Eurotrust wat voorgegee het dat dit op
die opbrengs daarvan geregtig was.
Eurotrust het dus nooit beoog om die appellant as nemer van die tjek in besit
daarvan te stel
nie. Ewemin het die appellant beoog om as nemer besit van die
tjek te neem en daarmee te handel.
Betreffende (e) kom dit my voor dat, wat
die trekker betref, die fiksie geskep deur art 79 beoog was om slegs op 'n
bevryding van
die trekker se verpligtinge ingevolge die tjek, sowel as die
onder-liggende skuld, van toepassing te wees. Anders
39
gestel, al wat die wetgewer in gedagte gehad het, was dat indien die betrokkene bank 'n tjek soos omskryf in die artikel te goeder trou en sonder nalatigheid ooreenkomstig die kruising betaal, die trekker se aanspreeklikheid uitgewis is. Dit is waar dat die artikel dit ook het oor "dieselfde regte", maar die fiksie het betrekking op beide die betrokkene bank en die trekker, en bedoelde woorde is klaarblyklik gebruik om aan te dui dat die bank geregtig is om die trekker se rekening te debiteer al sou betaling geskied het aan 'n persoon wat nie op die opbrengs geregtig was nie. Sien Malan, t a p, en Chalmers and Guest, Bills of Exchanqe 14de uitgawe, p 650. In casu kon die respondent, as trekker, dus nie inge-volge art 79 enige regte teen die appellant, as nemer van die tjek, verkry het nie. 5) Die respondent was bydraend nalatig
Die vernaamste argument was dat mej Coetzee
40
nalatig was omdat sy die tjek aan Adams oorhandig het terwyl sy behoort te
geweet het dat Eurotrust dit ter krediet van sy rekening
sou deponeer, en dat
haar nalatigheid aan die respondent toegereken moet word.
In die verweerskrif
is beweer dat die respondent bydraend nalatig was. Die getuienis toon egter nie
aan dat ' n direkteur of werknemer
van die respondent enigsins met die
uitreiking van die tjek gemoeid was nie. Maar selfs al word aanvaar dat die
bewering in die verweerskrif
vertolk moet word as verwysende na 'n ander
gemagtigde van die respondent, kan dit slegs betrekking hê op die
gemagtigde[s]
wat die tjek namens die respondent getrek het. Mevv Hainsworth en
Du Plessis kan egter nie verwyt word nie. Hulle het gesorg dat
die tjek die
appellant as nemer vermeld en nie oordraagbaar sou wees nie. Meer kon nie van
hulle geverg word nie. Hulle het die tjek
geteken in die stellige en
geregverdigde aanname
41
dat die tjek slegs ter krediet van die appellant aangewend sou
word.
Insoverre mej Coetzee nalatig was, meen ek in elk geval nie dat haar
nalatigheid aan die respon-dent toegereken kan word nie. Haar
besorging van die
tjek aan Adams het naamlik tot so 'n ingrypende mate van haar magtiging afgewyk
dat dit nie as 'n uitvoer-ing van
haar diensbevoegdhede beskou kan word
nie.
Die appellant se advokaat het ook aangevoer dat die respondent nalatig
was deur dit aan 'n on-sorgsame mens soos mej Coetzee oor te
laat om
beleg-gingskontrakte aan te gaan. Hierdie argument het niks om die lyf nie. Daar
is naamlik geen getuienis dat mej Coetzee
ooit vantevore onreëlmatig of
onsorg-vuldig opgetree het.
My slotsom is dus dat die verhoorhof tereg die volle omvang van die skade aan die respondent toegeken het.
42
Die appèl word afgewys met koste insluit-ende dié van twee advokate.
H J O VAN HEERDEN AR
BOTHA AR
GOLDSTONE AR
STEM SAAM NICHOLAS Wnd AR
KRIEGLER Wnd AR