South Africa: Supreme Court of Appeal

You are here:
SAFLII >>
Databases >>
South Africa: Supreme Court of Appeal >>
1994 >>
[1994] ZASCA 57
| Noteup
| LawCite
S v Rakhalane (127/93) [1994] ZASCA 57 (30 March 1994)
Download original files |
SAAKNOMMER : 127/93 N v H
IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA (APPèLAFDELING)
In die saak tussen:
TELEKO JOSEPH RAKHALANE
teen
DIE
STAAT
SMALBERGER, AR:-
SAAKNOMMER: 127/93
N v H
IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA
(APPèLAFDELING)
In die saak tussen:
TELEKO JOSEPH RAKHALANE Appellant
en
DIE STAAT Respondent
CORAM: SMALBERGER, KUMLEBEN, ARR,
et NICHOLAS, Wn AR
VERHOORDATUM: 24 MAART 1994
LEWERINGSDATUM: 30 MAART 1994
UITSPRAAK SMALBERGER, AR :-
Die appellant is in die Transvaalse Provinsiale Afdeling (Westelike Rondgang Distrik) deur JJ STRYDOM, R, en assessore skuldig bevind aan moord (aanklag 1), roof met verswarende omstandighede (aanklag 2) en die onwettige besit van 'n vuurwapen en ammunisie
2
(aanklagte 3 en 4) . Op die moord-aanklag is hy ter dood veroordeel; op die
ander aanklagte is hy tydperke van gevangenisstraf opgelê
wat effektief
altesame 10 jaar beloop het. Die appellant kom nou kragtens art 316 A van die
Strafproseswet 51 van 1977 in hoër
beroep teen sy skuldigbevinding aan
moord sowel as die doodvonnis hom opgelê.
Die voorval wat tot die
appellant se skuldigbevinding aanleiding gegee het, het op 15 Mei 1992
plaasgevind. Die oorledene (mnr I N
Rootman) en sy vrou was woonagtig te
Jadestraat 16, Carletonville. Hulle was 74 en 71 jaar oud onderskeidelik. Die
agterplaas van
hulle woonerf was goed beveilig met 'n hoë heining en 'n
geslote ysterhek. Hulle was die oggend van die voorval alleen by die
huis.
Luidens mev Rootman se getuienis was die oorledene kort na ontbyt besig om in
die agterplaas blare bymekaar te hark. Nadat
sy 'n rukkie met hom buite gesels
het, het
3
sy die huis binnegegaan. Terwyl sy daar was, het sy die oorledene se stem gehoor asof hy roep. Sy is na buite maar het hom nie daar opgelet nie. Hy was ook nie voor in die tuin te vinde nie. Mev Rootman het toe haar vuurwapen gaan haal en na die buitegebou in die agterplaas gegaan. Sy merk toe op dat die deur van die buitetoilet op 'n skrefie oopstaan. Sy het die deur probeer oopdruk, maar iets het van binne daarteen gedruk. Skielik is die deur van binne oopgeruk. Die appellant het te voorskyn gekom, haar arm vasgegryp, die vuurwapen van haar weggeneem, haar op die grond neergegooi en met sy voet op haar bors getrap. Daarna het hy haar in die huis ingedwing, haar met die dood gedreig as sy sou skree en geld van haar geëis. Sy het al die geld wat sy gehad het aan hom gegee. Die appellant het haar in 'n hangkas in die stoepkamer toegesluit voordat hy die perseel verlaat het. Sy het later daarin geslaag om uit die hangkas te ontsnap en
4
hulp te ontbied.
Die eerste persone wat daarna opgedaag het was lede van
die brandweer te Carletonville. Toe hulle daar aankom was die ysterhek wat
toegang tot die agterplaas verleen het, nog gesluit. Die oorledene se lyk is
binne in die toilet gevind. Sy bril en kunstande is
buitekant op die grond
ongeveer twee meter van die toiletdeur gevind. Die latere nadoodse ondersoek het
onthul dat die oorledene
dood is as gevolg van verwurging. Sy liggaam het ook
sekere skaaf- en kneuswonde gehad. Volgens die distriksgeneesheer se getuienis
was daar aanduidings dat 'n groot mate van geweld op die oorledene se nek
toegepas is. Hy was van mening, na aanleiding van sy bevindings,
dat dit
waarskynlik is dat die oorledene plat op die vloer gelê het toe hy verwurg
is. Die dood sou tussen 'n minuut en 'n
half na twee minute ingetree het.
Die appellant het getuig dat hy die dag van
5
die voorval na die oorledene se huis gegaan het op soek na werk. Volgens hom het hy deur die ysterhek, wat hy beweer oop was, na die agterplaas gestap. Daar het hy die oorledene gesien. Die oorledene, blykbaar onbewus van sy (die appellant) se teenwoordigheid het na een van die buitekamers gegaan en die deur effens toegemaak. Na hy 'n ruk gewag het, is die appellant na die buitekamer (toilet). Toe hy die deur oopmaak om met hom te praat, het die oorledene geskrik en die appellant aan sy privaatdele vasgegryp. Daar het 'n stoeiery ontstaan en hy het die oorledene begin wurg in 'n poging om los te kom. Nadat die oorledene slap geword het, het sy vrou met 'n vuurwapen by die toilet opgedaag. Hy het haar gestamp, sy het geval en daarna het hy haar ontwapen. Hy ontken dat hy op haar getrap het. Hy erken dat hulle toe na die huis is waar geld aan hom oorhandig is. Daarna het hy mev Rootman in 'n hangkas toegesluit en die perseel
6
verlaat.
Die appellant se relaas van die gebeure is myns insiens tereg
deur die verhoorhof as vals verwerp. Die getuienis van mev Rootman en
die
brandweerlid, mnr Erasmus, (wat bevind is geloofwaardige getuies te wees), bewys
dat die ysterhek na die agterplaas die betrokke
oggend gesluit was. Die
appellant jok dus dat hy deur die oop hek gestap het. Dit synde so, moes hy
noodwendig oor die hek of die
heining geklim het om die perseel te kon betree -
nouliks die gedrag van 'n eerlike persoon op soek na werk, soos hy beweer die
geval
was. Sy versuim om aan die voordeur te klop, sowel as sy latere optrede,
insluitende sy gedrag teenoor mev Rootman, dui daarop dat
hy met 'n misdadige
opset daar was eerder as om werk te soek. Sonder om in onnodige detail daarop in
te gaan, is die appellant se
getuienis aangaande hoe die oorledene hom na
bewering in die toilet aan sy privaatdele gegryp het, en die
7
daaropvolgende gebeure, uiters onwaarskynlik, veral in die lig van die mediese getuienis. Bowendien, as die oorledene wel so opgetree het, sou verwag kon word dat die appellant, 'n frisgeboude jong man, eerder die oorledene met die vuis sou geslaan het as om hom te verwurg. Die appellant se getuienis strook ook nie met die vind van die oorledene se kunstande en bril twee meter vanaf die toiletdeur nie. Dit dui op 'n worsteling buitekant, en nie net 'n stoeiery binne die toilet soos die appellant voorgee nie. Sy bewering dat die oorledene nog asem gehaal het toe hy die toilet verlaat het, is ook onversoenbaar met die mediese getuienis dat die oorledene se dood binne 'n minuut en 'n half na twee minute sou ingetree het vanaf die tyd dat daar begin is om hom te verwurg.
Die enigste redelike afleiding van die bewese feite is dat die appellant die oorledene se perseel binnegegaan het met die opset om te roof. Die
8
appellant was daarvan bewus dat die betrokke eiendom net deur die oorledene en sy vrou, twee bejaarde persone, bewoon is. Dit volg nie noodwendig dat toe hy die perseel binnegegaan het hy besef het dat die oorledene en sy vrou tuis was nie. Daar kan ook nie bo redelike twyf el bevind word dat hy soontoe is met die vooropgesette bedoeling om die inwoners te vermoor nie. Die feit dat hy nie mev Rootman gedood het nie, terwyl dit goed binne sy vermoë was om dit te doen, is 'n teenaanduiding dat hy sodanige 'n opset kon gehad het. Hy was egter daarop ingesteld gewees om enige weerstand wat hy sou teëkom met geweld te oorkom. Dit blyk uit die feit dat toe hy die oorledene bespeur, en dus besef het dat daar persone op die perseel was, hy nie teruggedeins het nie maar voortgegaan het met sy beplande optrede. Na my mening kan bo redelike twyfel aanvaar word dat die appellant die oorledene, waar hy buitekant was, aangeval het. Mev Rootman het getuig
9
dat sy die oorledene se stem gehoor het asof hy roep. Hy was waarskynlik deur die appellant gewurg om te verhoed dat hy verder om hulp roep. Al word daar in die guns van die appellant aanvaar dat sy aanvanklike bedoeling kon gewees het om die oorledene net te oorrompel en buite aksie te stel, dui sy voortgesette verwurging van die oorledene daarop dat hy op een of ander tydstip die nodige direkte opset om te dood (dolus directus) gevorm het. Hy moes ten minste subjektief die dood van die oorledene voorsien het, maar hy het desondanks roekeloos voortgegaan met sy optrede ongeag die gevolge (dolus eventualis). In iedere geval sou hy hom aan moord skuldig gemaak het en is hy gevolglik tereg skuldig bevind.
Wat vonnis betref, is hierdie Hof geroepe om opnuut te besin of die doodvonnis, gesien die strafverswarende en -versagtende faktore, en alle ander relevante oorwegings (insluitende die doelwitte van
10
straf), die enigste gepaste vonnis in die onderhawige saak is. Die strafverswarende faktore is voor die hand liggend. Ons het hier te make met 'n beplande optrede wat gelei het tot 'n aanval op 'n bejaarde persoon op 'n beveiligde perseel wat uiteindelik uitgeloop het op sy dood. Die appellant se doel was om vir eie gewin roof te pleeg. Of die appeliant se opsetvorm dolus directus of dolus eventualis was, maak in wese nie saak nie, want in laasgenoemde geval sou die graad van voorsienbaarheid noodwendig hoog gewees het en sou dit aan dolus directus gegrens het. Die appellant se optrede teenoor die oorledene (en later teenoor mev Rootman) was minagtend en gevoelloos. Hy het nóg destyds nóg later enige ware berou vir sy optrede getoon. Sy pleit van skuldig aan strafbare manslag dui nie op berou nie want dit was gepaard met leuenagtige getuienis en 'n poging om die ware feite te verdoesel. Gedrag van die soort waaraan die appellant hom skuldig
11
gemaak het, word ten sterkste veroordeel en afgekeur deur die breë
gemeenskap. Dit is ook 'n feit dat dit onrusbarend toeneem.
Geen wonder dus dat
daar al op talle geleenthede deur hierdie Hof daarop gewys is dat in sulke
gevalle oorwegings van afskrikking
en vergelding sterk na vore moet
tree.
Daar is egter ook strafversagtende en ander faktore aanwesig wat
betrekking het op die vraag of die doodvonnis die enigste gepaste
vonnis is. Die
appellant is nog betreklik jonk (hy was ongeveer 21 jaar oud toe die misdade
gepleeg is). Hy is 'n eerste oortreder.
Hy het tot standerd 4 op skool gevorder.
Hy is getroud en het een kind. Tot redelik kort voor die voorwal het hy 'n vaste
verdienste
gehad. Hy het geldelik bygedra tot die versorging van sy bejaarde
ouers. Sy optrede teenoor mev Rootman, ofskoon hardhandig by tye,
dui nie op
iemand wat inherent boos of moordlustig is nie. Op die keper beskou, blyk hy
12
iemand te wees wat vatbaar is vir rehabilitasie en moontlik baat sal vind by
'n lang termyn van gevangenisstraf.
Hierdie is klaarblyklik 'n ernstige saak.
As alle relevante oorwegings met betrekking tot vonnis in ag geneem word, is ek
egter van
mening dat dit nie 'n geval van sulke erns is dat hierdie Hof genoop
is om die appellant permanent uit die samelewing te verwyder
nie. 'n Lang termyn
van gevangenisstraf sal aan al die doeleindes van straf voldoen. Gevolglik is
die doodvonnis nie die enigste
gepaste vonnis nie.
Die appêl slaag
gedeeltelik. Die appellant se skuldigbevinding aan moord (aanklag 1) word
bekragtig. Die doodvonnis word ter
syde gestel en word vervang met 'n vonnis van
20 jaar gevangenisstraf. Dit word gelas dat 10 jaar gevangenisstraf saamloop
met
13
die vonnisse wat die appellant tans uitdien.
J W SMALBERGER APPèLREGTER
KUMLEBEN, AR )
NICHOLAS, Wn AR ) stem saam