South Africa: Supreme Court of Appeal

You are here:
SAFLII >>
Databases >>
South Africa: Supreme Court of Appeal >>
1999 >>
[1999] ZASCA 1
| Noteup
| LawCite
Mastertreads v Breed (134/97) [1999] ZASCA 1 (18 February 1999)
Download original files |
SAAKNOMMER:
134/97
In die saak
tussen:
MASTERTREADS
Appellant
en
CASPER JAN HENDRIK
BREED Respondent
Voor: Hefer, Grosskopf en Nienaber, ARR
Verhoor: 18 Februarie
1999
Gelewer: 18 Februarie 1999
U I T S P R A A K
F H GROSSKOPF AR:
Die
respondent het gedurende Julie 1992 drie wiele met pap bande na die appellant
geneem vir herstel. Volgens die respondent was
dit twee 20 duim sleepwa wiele
en een 16 duim trekker voorwiel. Die respondent het die drie wiele ’n
paar dae later gaan
haal op die veronderstelling dat dit behoorlik herstel was.
Toe die respondent later dieselfde dag een van die sleepwa wiele oor
die as van
die sleepwa wou stoot om dit vas te bout, het die staal sluitring (of borgring
soos dit genoem is) wat die band in posisie
op die wiel hou, los geskiet en die
respondent teen die kop getref. Die respondent het ernstige hoofbeserings
opgedoen en vergoeding
van die appellant geëis vir die skade wat hy as
gevolg van die beserings gely het.
Die saak het in die Transvaalse
Provinsiale Afdeling voor Roux R gedien. Die hof a quo het op
versoek van beide partye gelas dat slegs die vraag na die appellant se
aanspreeklikheid op daardie stadium beslis sou word.
Die hof a quo het
na afloop van die saak bevind dat die appellant se nalatigheid die uitsluitlike
oorsaak van die respondent se beserings was.
Die appellant appelleer teen
daardie bevinding met verlof van die hof a quo na hierdie hof.
Die
appellant se pleit op die respondent se bewerings dat die staal borgring los
geskiet het en hom teen die kop getref het, lui soos
volg:
“The
Defendant pleads:
6.1 that the servant of the Defendant who carried out the repairs to the tyres noticed that the lockring of the one wheel was defective and he therefore only slightly inflated the tyre of that particular wheel;
6.2 that the Plaintiff’s attention was specifically drawn to the aforesaid when he fetched the wheels.”
Tydens die
voorverhoor-konferensie het die respondent die volgende vrae na aanleiding van
die appellant se gemelde pleit gevra, en
het die appellant soos volg
geantwoord:
“1.2 Met verwysing na paragraaf 6 van Verweerder se Pleit, word die volgende vrae gestel:
1.2.1 Wie is die werknemer (servant) wie opgelet het dat die borgring van een van die wiele defektief was?
Verweerder weet nie wie die werknemer in par. 6.1 was nie.
1.2.2 Eiser vra Verweerder om in besonderhede uiteen te sit hoe die borgring defektief was.
Die borgring was sodaning defektief dat dit nie veilig was nie.
1.2.3 Eiser doen navraag of ander werknemers van Verweerder geweet het of meegedeel is van die feit dat die borgring van een van die wiele defektief was.
Ja.
1.2.4 Verweerder vra wie die ander werknemers was?
Inter alia, ene
Snydert.
1.2.5 Hoe is Eiser se aandag op die defektiewe borgring gevestig?
Die Eiser is
mondelings daarvan meegedeel.
1.2.6 Wie het die Eiser dit mondelings meegedeel?
Gemelde
Snydert.”
Op die appellant se eie weergawe staan dit dus
vas dat die borgring van die een sleepwa wiel tot die wete van die appellant
defektief
en onveilig was toe dit aan die respondent teruggegee is.
Die
respondent het ontken dat Snydert of enigiemand anders hom gewaarsku het dat die
borgring defektief en onveilig was. Die respondent
het verder ontken dat die
een sleepwa band net effens opgepomp was toe dit aan hom teruggegee was.
Hierdie getuienis van die respondent
is gestaaf deur sy werknemer bekend as
Antoon, en is deur die hof a quo as geloofwaardig aanvaar. Dit is myns
insiens trouens hoogs onwaarskynlik dat die respondent ondanks die beweerde
waarskuwing ’n
gevaarlike en defektiewe wiel, met ’n band wat
bowendien net half gepomp was, op sy sleepwa sou wou gebruik.
Volgens
Snydert se getuienis het hy geweet van die defek en het hy voorsien dat die
borgring gaan los kom. Hy het daarom ook opdrag
gegee dat die band net effens
opgepomp word. Hy het getuig dat hy persoonlik en nog ’n werknemer van
die appellant die respondent
gewaarsku het dat die borgring nie reg was nie en
dat die wiel vir hom probleme gaan gee.
Die hof a quo het Snydert
se getuienis dat hy die respondent teen die borgring gewaarsku het, en dat die
band derhalwe nie behoorlik opgepomp was
nie, na my mening met reg verwerp.
Snydert het homself weerspreek en sy getuienis het afgewyk van dit wat
vroeër aan die respondent
in kruisondervraging gestel is. Snydert se
volharding dat die sleepwa wiele 16 duim wiele en nie 20 duim wiele was nie, en
dat
die verkeerde wiel dus as bewysstuk voor die hof was, dui daarop dat sy
herinnering van die gebeure vaag en gebrekkig was en dat
hy nie ’n
betroubare getuie was nie. Sy verdere getuienis dat die respondent ondanks die
beweerde waarskuwing gesê
het dat hy “maar ’n kans sal
vat”, is nie net onwaarskynlik nie maar is ook nooit aan die respondent
tydens kruisondervraging
gestel nie. Daardie getuienis bots ook met Snydert se
latere getuienis dat hy nie kan onthou dat die respondent iets gesê
het
nie.
Die slotsom is dus dat die appellant geweet het dat die borgring op
die een sleepwa wiel defektief en onveilig was, maar dat die appellant
versuim
het om die respondent teen die gevaar te waarsku. Verder het die appellant se
werknemers Snydert se opdrag om die lugdruk
in die band tot onder een bar te
beperk, klaarblyklik verontagsaam - dit wil sê as Snydert ooit so ’n
opdrag gegee het.
Snydert het in ieder geval versuim om te kontroleer of sy
beweerde opdrag uitgevoer was.
Die appellant se gemelde nalate het tot
gevolg gehad dat ’n potensieel gevaarlike wiel aan die respondent
teruggelewer is terwyl
die respondent onbewus van die defek en die gevaar was.
Die appellant se versuim om die respondent te waarsku, het meegebring dat
die
respondent deur die defekte borgring beseer is toe hy die sleepwa wiel hanteer
het.
Die appellant het in die alternatief betoog dat die respondent op sy
eie weergawe nie kan slaag nie, en wel op die basis dat die respondent
se
deskundige, Janse van Rensburg, geen verklaring van die ongeluk kon gee indien
die wiel en borgring wat as bewysstukke voor die
hof gedien het, die wiel en
borgring was wat die appellant aan die respondent teruggelewer het en wat die
ongeluk na bewering veroorsaak
het nie. Hierdie betoog gaan om twee redes nie
op nie. In die eerste plek het sowel die respondent as Antoon getuig dat die
defekte
wiel na die ongeluk weer na die appellant teruggeneem is vir behoorlike
herstel en dat dit daarna gebruik is om die sleepwa te skuif.
Die aanvanklike
defek is klaarblyklik toe reggestel en was nie meer sigbaar toe Van Rensburg die
wiel en borgring ondersoek het
nie. Tweedens is dit nie korrek dat Van Rensburg
geen verklaring vir die ongeluk gehad het nie. Hy het getuig dat dit voorgekom
het asof die wiel skoongemaak was van roes. Volgens hom kon roes op die wiel
veroorsaak het dat die borgring nie meer behoorlik
gepas het nie, en kon selfs
’n ”ligte stampie” veroorsaak het dat die borgring afspring.
Die respondent se werknemers
het op die dag van die ongeluk gesukkel om die wiel
aan te sit, en die wiel kon daardie laaste fatale stampie gekry het toe die
respondent
self oorgeneem het en die wiel probeer opsit het. Na my mening gee
Van Rensburg dus wel ’n moontlike verklaring van hoe die
ongeluk kon
plaasgevind het. Dit staan immers vas dat die borgring wel losgeskiet het en die
respondent beseer het.
Na my mening behoort die appèl dus met
koste van die hand gewys te word, en dit word so
beveel.
-------------------------
F H GROSSKOPF
AR
Hefer AR)
Nienaber AR) stem saam