South Africa: Supreme Court of Appeal

You are here:
SAFLII >>
Databases >>
South Africa: Supreme Court of Appeal >>
1999 >>
[1999] ZASCA 14
| Noteup
| LawCite
Padongelukfonds (voorheen Multilaterale Motorvoertuig-Ongelukkefonds) v Prinsloo (299/98) [1999] ZASCA 14; [1999] 2 All SA 431 (A) (23 March 1999)
Download original files |
RAPPORTEERBAAR
Saaknr: 299/98
IN DIE HOOGSTE HOF VAN APPèL VAN
SUID-AFRIKA
In die saak
tussen:
PADONGELUKFONDS (VOORHEEN
MULTILATERALE
MOTORVOERTUIG-
ONGELUKKEFONDS)
APPELLANT
en
B P
PRINSLOO RESPONDENT
CORAM: SMALBERGER, MARAIS, OLIVIER ARR, MELUNSKY en MADLANGA Wnd ARR
VERHOORDATUM: 25 FEBRUARIE 1999
LEWERINGSDATUM: 23 MAART 1999
[Regulasie 3(1)(a)(v)
uitgevaardig ingevolge die Multilaterale Motorvoertuigongelukkefondswet 93 van
1989 is ultra
vires.]
________________________________________________________
UITSPRAAK
________________________________________________________
. . . SMALBERGER AR
SMALBERGER
AR:
Die enigste vraag wat in hierdie appèl
ontstaan, is of regulasie 3(1)(a)(v) van die regulasies uitgevaardig ingevolge
artikel
6 van die Multilaterale Motorvoertuigongelukkefondswet 93 van 1989
(“die Wet”) ultra vires die magtigende bepalings van die Wet
is.
Regulasie 3(1)(a)(v) bepaal:
“Die aanspreeklikheid van die MMF ingevolge die Ooreenkoms ten opsigte van eise vir liggaamlike beserings of dood wat ontsaan uit die bestuur van ‘n motorvoertuig waarvan nóg die eienaar nóg die bestuurder se identiteit vasgestel kan word (hierna die ‘ongeïdentifiseerde motorvoertuig’ genoem) is onderworpe aan die volgende voorwaardes:
a) die MMF loop geen aanspreeklikheid op nie tensy -
. . . . .
v) die ongeïdentifiseerde motorvoertuig (met inbegrip van enigiets daarop, daarbinne of daaraan geheg) in fisiese kontak was met die beseerde of oorledene of met ‘n ander persoon, voertuig, vervoermiddel of ander voorwerp of voorwerpe wat regstreeks of onregstreeks die besering of dood veroorsaak het of daartoe bygedra het.”
Die
omstandighede wat aanleiding gee tot die appèl is die volgende. Die
respondent het in die Transvaalse Provinsiale Afdeling
aksie teen die appellant
(“die MMF”) ingestel vir skadevergoeding voortspruitend uit
liggaamlike beserings wat deur hom
opgedoen is op 30 Mei 1991 toe ‘n
voertuig deur hom bestuur op die N1 roete tussen Winburg en Ventersburg, die pad
verlaat
het en omgeval het (“die ongeluk”). Volgens die respondent
was die ongeluk te wyte aan die nalatige bestuur van ‘n
ongeïdentifiseerde voertuig wat skielik na regs gedraai het toe hy besig
was om dit verby te steek.
Die verhoor was, volgens ooreenkoms, beperk tot
die meriete van die respondent se eis. Die verhoorhof het bevind dat die
ongeluk
uitsluitlik veroorsaak is deur die nalatigheid van die bestuurder van
die ongeïdentifiseerde voertuig en dat daar fisiese kontak
was tussen
daardie voertuig en dié van die appellant. Gevolglik het die hof dit nie
nodig geag om te beslis of regulasie
3(1)(a)(v) geldig is al dan nie. Op
appèl na die Volle Hof van die Transvaalse Provinsiale Afdeling is daar
bevind (1) dat
die ongeluk veroorsaak is deur die gesamentlike nalatigheid van
die bestuurder van die ongeïdentifiseerde voertuig en die respondent
in die
verhouding 75% tot 25%; (2) dat daar nie fisiese kontak was tussen die twee
voertuie nie; en (3) dat regulasie 3(1)(a)(v)
ultra vires is, met die
gevolg dat die MMF wel aanspreeklik is vir 75% van die respondent se skade.
‘n Gepaste bevel is gemaak na aanleiding
van hierdie bevindings. Die
uitspraak van die Volle Hof is gerapporteer - sien Multilaterale
Motorvoertuigongelukkefonds v Prinsloo [1998] 3 ALL SA 310 (T). Spesiale
verlof is deur hierdie Hof aan die appellant verleen om in hoër beroep te
kom teen die bevinding dat regulasie
3(1)(a)(v) ultra vires is.
Die
Wet is op 1 Junie 1989 goedgekeur en word (luidens artikel 8), geag op 1 Mei
1989 in werking te getree het. Die betrokke regulasies
is op 27 Oktober 1989
uitgevaardig met ingang van 1 Mei 1989. Die Wet sluit die regulasies in
(artikel 1(i)). Sekere wat hierdie
appèl betref nie-tersaaklike
wysigings is later aan beide die Wet en die regulasies aangebring. Wat ookal
die regsposisie
was tussen 1 Mei 1989 en 27 Oktober 1989 toe daar geen
regulasies bestaan het nie (wat nie in die onderhawige appèl beslis
hoef
te word nie), was die Wet en regulasies van krag toe die ongeluk plaasgevind
het.
Die Wet gee statutêre regskrag aan die Ooreenkoms ter stigting
van die MMF (“die Ooreenkoms”) wat op 14 Februarie
1989 aangegaan
is tussen verteenwoordigers van die Republiek van Suid-Afrika en die destydse
Republieke van Transkei, Bophuthatswana,
Venda en Ciskei (artikel 2(1)). Die
inleidende artikel tot die Ooreenkoms bepaal dat
“Die betaling van skadevergoeding vir sekere verlies of skade wat onregmatig veroorsaak word deur die bestuur van sekere motorvoertuie in die regsgebied van die Kontrakterende Partye word na die datum van instelling van die MMF gereël en behartig deur die MMF op ‘n multilaterale grondslag volgens die bepalings en voorwaardes van hierdie Ooreenkoms.”
Luidens artikel 2 van die Ooreenkoms is
“[d]ie MMF se taak . . die betaling van skadevergoeding vir sekere verlies of skade veroorsaak deur die onregmatige bestuur van sekere motorvoertuie in die regsgebied van sy Lede.”
Artikel 13 van die Ooreenkoms
gelees met artikel 3(c) maak voorsiening vir die aanstelling van benoemde
agente. Die onderskeie bevoegdhede
en funksies van die MMF en ‘n benoemde
agent met betrekking tot eise word bepaal deur artikels 3(b) en 13(b)(i).
Kragtens
artikel 3(b) is die MMF belas met
“die ondersoek en skikking van eise, soos voorgeskryf, wat ontstaan uit verlies of skade veroorsaak deur die bestuur van ‘n motorvoertuig waar die identiteit van nóg die eienaar nóg die bestuurder daarvan vasgestel kan word”,
terwyl artikel 13(b)(i) ‘n
benoemde agent met ‘n ooreenstemmende bevoegdheid ten opsigte van enige
eis bedoel in artikel
40 beklee in gevalle waar die identiteit van óf die
eienaar óf die bestuurder daarvan vasgestel is. Kortom, is die
MMF en
‘n benoemde agent onderskeidelik verantwoordelik vir die hantering van
eise voortspruitend uit gevalle waarby wat gerieflikheidshalwe
na verwys sal
word as ongeïdentifiseerde en geïdentifiseerde voertuie betrokke
is.
Ingevolge die woordomskrywingsbepaling van die Ooreenkoms (artikel 1)
beteken “voorskryf”, tensy uit die samehang anders
blyk,
“voorskryf deur die Raad by wyse van ‘n riglyn”. Dit is die
betekenis wat verleen moet word aan die woorde
“soos voorgeskryf” in
artikel 3(b) aangesien die samehang nie op ‘n ander betekenis dui nie. Na
my mening beteken
dit nie soos voorgeskryf deur regulasie nie.
Artikel 40
van die Ooreenkoms bepaal die aanspreeklikheid van die MMF en benoemde agente.
Dit lui soos volg:
“Die MMF of sy benoemde agent, na gelang van die geval, is behoudens die bepalings van hierdie Ooreenkoms verplig om enigeen wie ook al (in hierdie Ooreenkoms die derde partye genoem) te vergoed vir verlies of skade wat die derde party gely het as gevolg van-
(a) enige liggaamlike besering van homself;
(b) die dood of liggaamlike besering van iemand anders,
wat in die een sowel as die ander geval veroorsaak is deur of voortvloei uit die bestuur van ‘n motorvoertuig deur wie ook al op enige plek in die regsgebied van die Lede van die MMF, indien die besering of dood te wyte is aan die nalatigheid of ‘n ander onregmatige daad van die persoon wat die motorvoertuig bestuur het (in hierdie Ooreenkoms die bestuurder genoem) of van die eienaar van die motorvoertuig of sy werknemer in die uitvoering van sy plig.”
Artikel 40 is baie wyd in omvang. Dit dek alle
gevalle van verlies of skade soos beoog wat gely is as gevolg van die nalatige
bestuur
van ‘n voertuig op enige plek in die regsgebied van die lede van
die MMF, ongeag of die bestuurder of eienaar van die betrokke
voertuig
geïdentifiseer kan word al dan nie (SA Eagle Insurance Co Ltd v
Pretorius 1998(2) SA 656 (SCA) op 660 H - 661 B). Dit skep dus
aanspreeklikheid selfs in gevalle waar daar andersins weens die onvermoë
van ‘n eiser om ‘n verweerder te identifiseer geen praktiese remedie
sou wees nie. Die artikel is dus volkome in ooreenstemming
met wat nog altyd
beskou is as die algemene oogmerk van die Wetgewer in wetgewing van hierdie
aard, naamlik, om die wydste moontlike
beskerming aan persone te verleen wat
verlies of skade gely het soos in die artikel beoog (Aetna Insurance Co v
Minister of Justice 1960(3) SA 273 (A) op 286 E - F). Die artikel stel geen
vereiste van fisiese kontak as ‘n voorwaarde vir aanspreeklikheid
nie.
Dit is trouens gemene saak dat nêrens in die Wet of die Ooreenkoms so
‘n vereiste voorkom nie, ondanks die feit
dat artikel 48 van die
Ooreenkoms uitdruklik voorsiening maak vir die uitsluiting van aanspreeklikheid
in sekere gevalle. Artikel
40 sluit dus nie aanspreeklikheid uit in die geval
waar ‘n ongeïdentifiseerde voertuig nie in fisiese kontak was met
‘n
beseerde of ‘n oorledene, of die voertuig waarin hy of sy gereis
het nie.
Artikel 6 van die Wet magtig die Minister om regulasies uit te
vaardig “ten einde gevolg te gee aan ‘n bepaling van die
Ooreenkoms soos in die Republiek van toepassing” (my beklemtoning).
Dit magtig nie die Minister om regulasies uit te vaardig buite die
omvang en
bestek van die Ooreenkoms wat nie redelikerwys nodig is om die doel van artikel
6(1) te bereik nie. Regulasies is ondergeskikte
wetgewing voortvloeiend uit
‘n gedelegeerde voorskrif. ‘n Regulasie moet in die lig van die
magtigende Wet uitgelê
word, nie andersom nie (Sekretaris van
Binnelandse Sake v Jawoodien 1969(3) SA 413 (A) op 423 E). ‘n
Regulasie wat dus nie gevolg gee aan ‘n bepaling van die Ooreenkoms nie,
is ultra vires (Mbatha v Multilateral Motor Vehicle Accidents Fund
1997(3) SA 713 (SCA) op 718 C).
Die bepaling in regulasie 3(1)(a)(v) dat, as
voorvereiste vir aanspreeklikheid aan die kant van die MMF, daar in die geval
van ‘n
ongeïdentifiseerde voertuig fisiese kontak moet wees, vind,
soos reeds aangedui, nie weerklank in óf die Wet óf
die Ooreenkoms
nie. Dit stel ‘n beperking op aanspreeklikheid wat onbestaanbaar is met
die wye betekenis van artikel 40 van
die Ooreenkoms en wat die trefwydte daarvan
verminder. Dit gee nie gevolg aan artikel 40 of enige ander bepaling van die
Ooreenkoms
nie; die teenoorgestelde is eerder waar (vgl S v Grindrod
Transport (Pty) Ltd and Others 1980(3) SA 978 (N) op 983 F - G). Die
Minister se bevoegdheid kragtens artikel 6(1) van die Wet is ‘n suiwer
regulerende bevoegdheid.
‘n Verbod wat volgens so ‘n bevoegdheid
opgelê word, is ongeldig (R v Williams 1914 AD 460 op 465 en 467;
S v Perumal 1977(1) SA 526 (N)). Hierdie beginsel behoort eweneens te
geld waar ‘n reg ontneem word as gevolg van ‘n ongemagtigde
beperking van aanspreeklikheid, soos in die onderhawige geval. Ek stem ook saam
met die Hof a quo dat “[a]rtikel 6 van die Wet dui nie die
bedoeling aan tot die verleen van die bevoegdheid om
aanspreeklikheidsuitsluiting
by wyse van regulasie neer te lê nie
“(sien die gerapporteerde uitspraak op 314 e - f). Die plaas van ‘n
andersins
ongemagtigde beperking op die MMF se aanspreeklikheid is ook nie
redelikerwyse diensbaar (reasonably incidental) aan die Minister
se verleende
bevoegdhede nie. Gevolglik het die Hof a quo myns insiens tereg bevind
dat regulasie 3(1)(a)(v) ultra vires is.
Die Wet se voorgangers was
Wet 29 van 1942, Wet 56 van 1972 en Wet 84 van 1986. Sedert 1966, kragtens
regulasies onder die onderskeie
Wette uitgevaardig, was aanspreeklikheid in die
geval van ‘n ongeïdentifiseerde voertuig uitgesluit waar daar nie
fisiese
kontak was nie. Dieselfde situasie geld wat betref die Wet se opvolger,
Wet 56 van 1996. Fisiese kontak is aanvaar as ‘n
voorvereiste vir
aanspreeklikheid in Terblanche v Minister van Vervoer en ‘n Ander
1977(3) SA 462 (T) op 470 C (waar Wet 56 van 1972 gegeld het) en Khumalo v
Multilateral Motor Vehicle Accidents Fund [1997] 2 ALL SA 341 (N) (wat
beslis is aan die hand van die Wet en regulasies wat hier ter sprake is, maar
waar die regsgeldigheid van regulasie 3(1)(a)(v)
klaarblyklik nie bevraagteken
is nie). Daar bestaan wel grondige redes vir die vereiste van “fisiese
kontak” - sien
Mbatha se saak (supra) op 718 H - J en
Khumalo se saak op 346 f - i.
Ek sal veronderstel, sonder om die punt
te beslis, dat vanweë die samestelling en bewoording van die vorige en
huidige wetgewing,
fisiese kontak ‘n geldige voorvereiste was en is vir
die MMF en sy voorgangers en opvolger se aanspreeklikheid in die geval
van
‘n ongeluk waarin ‘n ongeïdentifiseerde voertuig betrokke was.
Die betrokke regulasies wat sodanige vereiste
gestel het, was en is in
ooreenstemming eerder as in stryd met die magtigende bepalings en dus intra
vires. Die vraag ontstaan dan of, gesien die Wet in sy historiese
perspektief, dit nie deurgaans die Wetgewer se bedoeling was om aanspreeklikheid
in so ‘n geval uit te sluit nie? As dit die geval is, kom daar nie
‘n onbedoelde leemte voor nie wat moontlike regstelling
verg?
Dit is
twyfelagtig of daar tot so ‘n gevolgtrekking gekom kan word. Die Wet
verskil wesenlik in samestelling en bewoording
van sy voorgangers en opvolger.
Soos Daniels: MMF - The Practitioner’s Guide, in sy
inleiding met betrekking tot die Wet (op A - 7) dit stel:
“The most significant feature of the Act is the fact that, unlike previous legislation, it is not directly concerned with so-called third party compensation, in the sense that it does not contain terms and conditions relating to such claims, nor does it prescribe procedures in regard thereto.”
In teenstelling met vorige wetgewing gee die
Wet regskrag aan die Ooreenkoms waarvolgens die MMF gestig is. Dit is die
Ooreenkoms,
eerder as die Wet, wat die aanspreeklikheid en administasie van die
MMF reguleer en voorskrifte vir die hantering van eise neerlê.
Daarbenewens is die Ooreenkoms een, soos reeds aangedui, waarby ander destydse
lande betrokke was, wat nie die geval was wat betref
die ander wetgewing nie.
Die redelike moontlikheid kan nie uitgesluit word nie dat die partye tot die
Ooreenkoms voorstanders was
van wyer aanspreeklikheid as voorheen en dat die
Wetgewer dit destyds so aanvaar het. Dit help egter nie om te spekuleer waarom
die Wet en die Ooreenkoms bewoord is soos wel die geval is nie. Die feit bly
staan dat volgens geykte beginsels die Wetgewer se bedoeling
in die eerste
instansie afgelei moet word van die bewoording van die Wet en die Ooreenkoms.
Daarvolgens is die Wetgewer se bedoeling
duidelik en ondubbelsinnig en regulasie
3(1)(a)(v), wat in botsing daarmee is, ultra vires. Dit synde so, is dit
in iedere geval nie geoorloof om op die voorafgaande (of latere) wetgewing te
let nie (vgl R v von Zell (2) 1953(4) SA 552 (A) op 558 F; Ebrahim v
Minister of the Interior 1977(1) SA 665 (A) op 680 A - D).
Daar steek
myns insiens niks in die appellant se betoog nie dat indien regulasie 3(1)(a)(v)
ultra vires is dieselfde noodwendig geld vir regulasie 3(1)(a)(i) tot
(iv). Regulasie 3(1)(a)(i) is eintlik oorbodig aangesien dit neerkom op
‘n herhaling van wat in artikel 40 van die Ooreenkoms voorkom. Regulasie
3(1)(a)(ii) tot (iv) is prosesregtelik van aard en
het betrekking op die
voorlegging en voortsetting van eise (vgl Mbatha se saak (supra)
op 718 F), nie op die beperking van aanspreeklikheid nie. As sodanig blyk dit
gevolg te gee aan die Ooreenkoms. Dit is egter ook
nie nodig om hieroor
uitsluitsel te gee nie. Na my mening is daar niks in die beslissing in
Mbatha se saak wat afbreuk doen aan die gevolgtrekkings waartoe ek geraak
het nie.
Die partye was dit eens dat die koste van twee advokate op
appèl toegelaat behoort te word. Na oorweging blyk hierdie ‘n
gepaste geval vir so ‘n bevel te wees.
Die appèl word van die
hand gewys met koste, insluitende die koste van twee advokate.
___________________
J W SMALBERGER
APPèLREGTER
MARAIS AR )Stem saam
OLIVIER AR )
MELUNSKY Wnd AR )
MADLANGA Wnd
AR )