South Africa: Supreme Court of Appeal

You are here:
SAFLII >>
Databases >>
South Africa: Supreme Court of Appeal >>
1999 >>
[1999] ZASCA 65
| Noteup
| LawCite
S v Buthelezi and Others (39/97) [1999] ZASCA 65 (21 September 1999)
Download original files |
DIE HOOGSTE HOF VAN APPèL
VAN SUID-AFRIKA
Saak Nr 39/97
In die
saak tussen :
QAMBELENI BUTHELEZI Eerste Appellant
(Beskuldigde 2 in Hof a quo)
BHEKINKOSI MBHEKISENI MKHIZE Tweede Appellant
(Beskuldigde 9 in Hof a quo)
TEBOGO MAGUBANE Derde Appellant
(Beskuldigde 14 in Hof a quo)
PETRUS MDINISO Vierde Appellant
(Beskuldigde 31 in Hof a quo)
SITHEMBISO KHUBEKA Vyfde Appellant
(Beskuldigde 36 in Hof a quo)
MXOLISENI SIBONGELENI MKHIZE Sesde Appellant
(Beskuldigde 55 in Hof a quo)
VINCENT KHANYILE Sewende Appellant
(Beskuldigde 58 in Hof a quo)
SIPHO BUTHELEZI Agste Appellant
(Beskuldigde 59 in Hof a quo)
TIMOTHY STALS MAZIBUKO Negende Appellant
(Beskuldigde 60 in Hof a quo)
PAULOS MCIKELENI MBATHA Tiende Appellant
(Beskuldigde 62 in Hof a quo)
JACK MBELE Elfde Appellant
(Beskuldigde 64 in Hof a quo)
SONNY MICHAEL MKWANAZI Twaalfde Appellant
(Beskuldigde 65 in Hof a quo)
VICTOR MTHEMBU Dertiende Appellant
(Beskuldigde 68 in Hof a quo)
THOMAS MAKHEHLENI LUKHOZI Veertiende Appellant
(Beskuldigde 70 in Hof a quo)
RICHARD DLAMINI Vyftiende Appellant
(Beskuldigde 71 in Hof a quo)
MOSES MTHEMBU Sestiende Appellant
(Beskuldigde 73 in Hof a quo)
MHLUPHEKI SAMUEL TSHABANGU Sewentiende Appellant
(Beskuldigde 74 in Hof a quo)
en
DIE STAAT
Respondent
CORAM : VIVIER, HARMS ARR et MELUNSKY Wnd AR
VERHOOR : 24 AUGUSTUS 1999
GELEWER : 21 SEPTEMBER 1999
U I T S P R A A
K
VIVIER AR:
Om ongeveer tienuur die aand van 17
Junie 1992 het ’n paar honderd mans, gewapen met vuurwapens, assegaaie en
kieries, die
woonbuurt Boipatong en die aangrensende plakkerskamp, Slovopark,
binnegeval, eiendom beskadig en geplunder en inwoners beseer en
gedood.
Voortspruitende uit hierdie gebeure het 74 beskuldigdes voor Smit
R in die Transvaalse Provinsiale Afdeling tereggestaan op 45 aanklagte van
moord, een aanklag van openbare geweld, 22 aanklagte
van poging tot moord en
85 aanklagte van opsetlike saakbeskadiging. By die aanvang van die verhoor
is die saak teen 42 beskuldigdes
teruggetrek. Aan die einde van die
Staatsaak is beskuldigdes 44 en 45 op alle aanklagte onskuldig bevind en
ontslaan. Beskuldigdes
39 en 67 is tydens die verhoor oorlede. Van die
oorblywende 28 beskuldigdes is beskuldigdes 2, 9, 14, 31, 36, 55, 58, 59, 60,
62,
64, 65, 68, 70, 71, 73 en 74, na wie ek hierna as “die
beskuldigdes” sal verwys, skuldig bevind aan al 45 aanklagte
van moord,
die aanklag van openbare geweld en aan 14 aanklagte van poging tot moord
(aanklagte 47, 48, 50, 55, 57, 58, 59, 60, 61,
64, 65, 66, 67 en 68). Hulle is
tot verskillende tydperke van gevangenisstraf gevonnis. Met die verlof van
hierdie Hof appelleer
die beskuldigdes slegs teen hul skuldigbevindings.
Die
pleging van die misdade waaraan die beskuldigdes skuldig bevind is, was nie voor
ons in geskil nie. Wat wel in geskil was,
was die identiteit van die
deelnemers aan die aanval. Die beskuldigdes se verweer was dat hulle nie
deelgeneem het aan die aanval
nie, dat hulle nie die betrokke aand in Boipatong
was nie en niks van die pleging van die misdade weet nie.
Die Staatsaak was
dat die beskuldigdes ten tyde van die aanval almal inwoners was van die
KwaMadala hostel (“KwaMadala”)
wat geleë is ongeveer een
kilometer ten weste van Boipatong binne die gronde van Iscor naby
Vanderbijlpark. Tussen KwaMadala
en Boipatong is ’n oop veld.
Ongeveer in die middel van die oop veld loop ’n teerpad van suid na noord
tussen Vanderbijlpark
en Vereeniging wat bekend staan as Frikkie Meyer
Boulevard. Aan die noordekant van Boipatong loop ’n ander teerpad van
wes na oos wat Frikkie Meyer Boulevard reghoekig kruis en wat bekend staan as
Nobel Boulevard. Aan die noordekant van Nobel Boulevard
is verskeie
nywerheidsgeboue, een waarvan dié van Cape Gate is.
Die
getuienis omtrent die ontstaan en ontwikkeling van KwaMadala was nie in geskil
nie. KwaMadala is aanvanklik opgerig vir
werknemers van Iscor. Na die
voltooiing van die KwaMazisa hostel in Sebokeng gedurende die sewentigerjare is
KwaMadala gesluit
en die inwoners na KwaMazisa oorgeplaas. Nadat onluste
gedurende 1990 tussen lede van die Inkatha Vryheidsparty
(“Inkatha”)
en die ANC in Sebokeng uitgebreek het, het sommige
inwoners van KwaMazisa weer in KwaMadala gaan woon. Hulle is gevolg deur
Inkatha-ondersteuners
uit ander hostelle en omringende woonbuurte wat vir hul
veiligheid gevrees het. Baie van hierdie mense was nie Iscor-werknemers
nie.
Ten tyde van die pleging van die huidige misdade was daar ongeveer 600 na 700
inwoners by KwaMadala, waarvan maar ongeveer
die helfte by Iscor gewerk het.
Voor die gebeure van 17 Junie 1992 was daar vir geruime tyd konflik tussen
ondersteuners van
die ANC en Inkatha in woonbuurte in die omgewing. Feitlik
sonder uitsondering was die getuienis van die beskuldigdes en ander
inwoners
van KwaMadala by die verhoor dat hulle Zoeloes en/of Inkatha ondersteuners was
en dat hulle by KwaMadala gaan woon het nadat
hulle moeilikheid met
ondersteuners van die ANC ondervind het. Terwyl KwaMadala gevolglik tot
’n toevlugsoord vir Zoeloes
en Inkatha ondersteuners ontwikkel het, was
die meerderheid van die inwoners van Boipatong en Slovopark ANC ondersteuners of
simpatiseerders.
Vir die uitkenning van die beskuldigdes as deelnemers aan
die aanval het die Staat hoofsaaklik op die getuienis van drie medepligtiges
gesteun. Isaac Moswabudi Bojosi (“Bojosi”) het getuig dat hy sedert
22 April 1992 in KwaMadala gewoon het. Hy ken
al die beskuldigdes. Hy het
beskuldigdes 2, 9, 14, 31, 55, 58, 62, 65, 68, 71, 73 en 74 by vergaderings
van die inwoners van
KwaMadala leer ken. Beskuldigde 36 het hy leer ken toe
laasgenoemde hom gehelp het om die kamer wat aan hom toegewys is, skoon
te
maak. Beskuldigde 59 het ’n kamer met hom gedeel. Beskuldigde 60 het
hy geken nog voordat hy na KwaMadala gekom het.
Hulle het aanvanklik ’n
kamer in KwaMadala gedeel maar hy het later ’n ander kamer gekry en
beskuldigde 60 het toe
by die vorige kamer agtergebly. Beskuldigde 64
het in ’n kamer langs dié van Bojosi se broer gewoon.
Beskuldigde
70 het hy reeds ongeveer vyf jaar vantevore ontmoet.
Bojosi het getuig dat ’n komitee van tien lede die inwoners se
gemeenskaplike sake behartig het. Beskuldigde 73 was die
president,
beskuldigdes 2 en 9 die gesamentlike voorsitters en beskuldigde 58 die
sekretaris van die komitee. Beskuldigde 9 was
verder die indoena van die
sogenaamde Mbotho-groep van ou manne en beskuldigde 2 was die leier van die
jeug.
Bojosi het getuig dat hy die eerste keer van die beplande aanval op
Boipatong gehoor het by ’n vergadering van inwoners wat
by die stadion op
die binneplein van KwaMadala gehou is ongeveer ’n week of twee voor 17
Junie 1992. By hierdie vergadering
het beskuldigdes 2 en 73 eerste die
inwoners toegespreek oor ’n byeenkoms wat by Jabulani gehou sou word.
Daarna is die
dames gevra om die vergadering te verlaat en toe het beskuldigde 9
aan die woord gekom. Hy het gesê dat die inwoners hulle
gereed moes
maak om ’n aanval op Boipatong te loods in weerwraak vir die aanvalle wat
vantevore op die inwoners van KwaMadala
gemaak is. Hy het verder gesê
dat diegene wat vuurwapens wou hê, hul name by die hek moes gaan opgee.
Beskuldigdes
31, 62, 68, 70 en 73 was ook by die vergadering. Die Verhoorhof,
wat deurgaans die medepligtiges se getuienis met groot versigtigheid
benader
het, het bevind dat daar by gebrek aan stawing vir Bojosi se getuienis oor
hierdie vergadering dit buite rekening gelaat
moet word.
Bojosi het
verder getuig dat sommige van die inwoners hul eie vuurwapens gehad het en dat
daar twee AK-47 gewere in ’n stoorkamer
versteek was wat hy op ’n
dag gesien het toe beskuldigde 73 hom daarheen geneem het om ’n mat te
gaan haal. Geld is
gereeld van die inwoners ingesamel vir uitgawes soos
begrafniskoste en dies meer en sy indruk was dat vuurwapens aangekoop is van
die
geld wat oorbly. So het beskuldigde 70 op ’n dag sy voertuig geleen om
vuurwapens te gaan koop.
Bojosi het getuig dat hy die aand van 17
Junie 1992 in sy kamer was wat hy met onder andere beskuldigde 59 gedeel het,
toe die
sirene drie keer afgaan wat ’n teken was dat die inwoners moes
vergader. Een van die inwoners het hom terselfdertyd aangesê
om
’n wapen saam te vat. Hy het ’n stuk yster geneem en na die
stadion gegaan waar hy ongeveer 300 van die inwoners
aangetref het.
Beskuldigde 9 het almal beveel om hul wapens te gaan haal. Die inwoners is
aangesê om ’n muti wat Ntelezi
genoem word, te drink wat
beskuldigde 9 uit groot plastiese houers geskink het. Beskuldigde 31 het
van die muti op die inwoners
gesprinkel. Daar is gesê dat die gebruik
van die muti hulle dapper sou maak en dat dit sou verhinder dat hulle raak
geskiet
word. Almal is aangesê om wit bandjies om hulle koppe te bind.
Ene Damara het by die stadion in ’n voertuig aangekom
waaruit hy en
beskuldigde 9 ’n aantal AK-47 gewere gehaal het wat hulle aan
verskillende mense, onder andere beskuldigde
2, oorhandig het. Beskuldigde 9
het een van die wapens vir homself gehou. Beskuldigde 70 het ook ’n
AK-47 gedra en gesê
dat hy ’n sekere persoon in Boipatong wou skiet.
Bojosi het gevolglik vir beskuldigde 68 gevra om die geweer by beskuldigde
70 af
te neem. Hy weet nie of beskuldigde 68 dit gedoen het nie.
Bojosi het
voorts getuig dat om ongeveer halftien die betrokke aand ‘n groep van
ongeveer 350 tot 400 inwoners van KwaMadala
vertrek het na Boipatong. Hy was
saam met die groep. Toe hulle by die hoofhek van die kompleks uitgaan, het hy
vir beskuldigde
73 by die hek sien staan. Die groep het oor Frikkie Meyer
Boulevard beweeg en by ’n boom in die oop veld wes van Boipatong
in twee
kleiner groepe verdeel. Terwyl hulle Frikkie Meyer Boulevard kruis, het
‘n voertuig daar ‘n U-draai voor
hulle gemaak. In sy groep was
beskuldigde 2 een van dié wat heel voor geloop het. Hulle het
Boipatong langs Moshoeshoestraat
binnegegaan en op die hoek van Lekoa- en
Moshoeshoestrate het ’n groep van die Boipatong-inwoners op hulle geskiet.
Hulle het
teruggeskiet en die Boipatong-inwoners het gevlug. Beskuldigde 9 is
een van drie lede van hulle groep wat op die Boipatong-inwoners
geskiet het met
’n AK-47. Onder kruisverhoor het Bojosi sy getuienis verander en
gesê dat hy die eerste keer die
betrokke aand gesien het dat beskuldigde
9 ’n vuurwapen het toe hulle by Boipatong uitkom. Na die aanvanklike
skietery
het die invallers opbeweeg in Lekoastraat en na huise geskiet en
vensters stukkend geslaan. Beskuldigde 74 het met ’n haelgeweer
geskiet.
Vanuit Lekoastraat het hulle regs gedraai in Bapedistraat en daarna links in
Senqustraat waar ene Zondo se taverne geplunder
is. Beskuldigde 14 was een
van die wat by die taverne was. Uit Senqustraat het hulle regs gedraai in
Batsoanastraat. Bojosi
was nie presies seker van hul bewegings daarna nie,
maar volgens hom het sy groep op ’n stadium in Tugelastraat aan die
oostekant
van Boipatong beweeg van waar hulle weer terug beweeg het in
Lekoastraat tot by die kruising met Hlubistraat waar ’n hoekhuis
en
’n voertuig geplunder is. Bojosi het vir beide beskuldigdes 64 en 65 op
die perseel van hierdie huis gesien. Laasgenoemde
het ’n 7,65 pistool
gedra. Daarvandaan het hulle langs Hlubistraat tot in Bafokengstraat beweeg
en daarna tot in Thembastraat
aan die noordekant van Boipatong waar die ander
groep by hulle aangesluit het. Daarvandaan is hulle direk terug na KwaMadala en
teen halfelf die aand was Bojosi terug in sy kamer.
Bojosi het
getuig dat by een van die huise waarvan hulle die vensters stukkend geslaan het,
het beskuldigde 59 ’n persoon
wat probeer ontvlug het, met ’n
haelgeweer platgeskiet. Dié haelgeweer het ’n sekere merk op die
kolf gehad.
Volgens Bojosi was daar drie sulke gemerkte gewere in KwaMadala.
By Hlubistraat 773 is ’n Sierra-voertuig beskadig. Een
het die
bandspeler probeer verwyder, ’n ander het die brandstoftenk met ’n
spies stukkend gesteek en ’n derde het
die ruite gebreek. In Tugelastraat
het hulle ’n Peugeot-voertuig teengekom. Die insittendes het uitgespring
en gevlug.
Beskuldigde 62 het een van die voortvlugtendes met ’n spies in
die hand gejaag, teruggekom en die Peugeot se bande met die
spies stukkend
gesteek. Beskuldigde 14 het ’n groot sak gedra toe hulle Boipatong
verlaat het. Bojosi het nie vir beskuldigde
31 gedurende die aanval gesien
nie, maar toe hy Ntelezi op die ander gesprinkel het, het hy ’n spies en
’n kierie gehad.
Beskuldigde 58 het ook ’n spies en ’n
kierie by die stadion gehad maar Bojosi het hom nie ten tyde van die inval
gesien
nie. Later in sy getuienis het Bojosi gesê dat hy nie kan onthou
of beskuldigde 58 by die stadion gewapen was of nie.
Terwyl hulle vir die
ander gewag het buite Boipatong na die aanval het hy vir beskuldigde 60 met
’n Z 88-handwapen in sy
hand gesien. Vir beskuldigde 68 het hy
nie gedurende die aanval gesien nie. Bojosi het gesien dat beskuldigde 70
gewapen
was met ’n AK-47 op pad na Boipatong. Vir beskuldigde 73 het hy
nie weer gesien nadat hulle KwaMadala verlaat het nie.
Bojosi het getuig
dat die dag na die aanval daar weer ’n vergadering van inwoners gehou is
by die stadion wat deur ene Themba
Khosa, ene Humphrey Ndlovu en beskuldigde 58
toegespreek is. Beskuldigde 58 het gesê dat al die goed wat in
Boipatong geroof
is, bymekaar gebring en verbrand moes word. Dit is daarna
gedoen. Later in sy getuienis het Bojosi gesê dat dit nie
beskuldigde
58 is wat so gesê het nie maar ene Khumalo. Bojosi het getuig dat
beskuldigde 71 gehelp het met die insameling
en verbranding van die goed.
Tydens ’n gesprek daardie dag oor die aanval op Boipatong het beskuldigde
36 gespog dat hy ’n
persoon gesteek het tydens die aanval.
Bojosi is
op 3 Augustus 1992 gearresteer en later dieselfde dag het hy ’n verklaring
aan die polisie gemaak waarin hy onder
andere die volgende gesê het:
“By Boipatong is ons gesê dat die wat nie wapens het nie, moet
skei van die wat wapens het. Die sonder wapens is aan
die onderkant van die
lokasie langs die skool gestuur saam met plus-minus 4 gewapende mans. Hulle
moes kyk dat ons nie aangeval
word nie. ... Ons het begin vensters breek met
klippe wat ons langs die pad opgetel het. Ek het nie gesien of die ander met
wapens iemand gesteek het nie. Ons het net vensters gebreek.”
Die
volgende dag, 4 Augustus 1992, het Bojosi ’n verklaring voor ’n
landdros gemaak wat in breë trekke ooreenstem
met sy verklaring aan die
polisie. Die verklaring, wat opvallend geen name noem nie, verskil wesenlik
van Bojosi se getuienis
by die verhoor. Bojosi het toe gesê dat die
verklarings alles leuens was omdat hy net vrygelaat wou word.
Die tweede
medepligtige wat by die verhoor getuig het, was Kgobi Oupa Moloi
(“Moloi”). Volgens hom het hy sedert Januarie
1992 in KwaMadala
gewoon. Hy het vir beskuldigde 14 reeds voorheen geken en daar was toe
moeilikheid tussen hulle. Beskuldigde
14 het hom met ’n hamer op die
kop gekap en wou hy vir beskuldigde 14 met ’n skroewedraaier steek.
Beskuldigde 74
was op daardie stadium ’n polisieman en hy het vrede gemaak
tussen Moloi en beskuldigde 14. Hy het ook vir beskuldigde
65 voorheen
geken. Die orige beskuldigdes het hy almal leer ken by KwaMadala.
Beskuldigde 2 was die leier van die jeug en beskuldigde
9 ’n indoena.
Moloi het getuig dat hy die aand van 17 Junie 1992 by ’n drinkplek in
KwaMadala was toe die sirene afgaan wat ’n teken
was dat die inwoners
moet vergader. Hy en die ander mense by die drinkplek het nie reageer nie en
beskuldigde 58 het hulle kom
roep om na die vergadering te gaan. Hy is na die
stadion waar reeds baie mense was. Die inwoners is aangesê om
Boipatong
te gaan aanval. Beskuldigde 9 het gesê dat almal hul wapens
moes gaan haal. Beskuldigde 58 het gesê dat hulle wit
lappies om hul
koppe moes bind. Moloi het ’n kierie gaan haal. Toe die mense
terugkom met wapens is hulle met Ntelezi
besprinkel deur beskuldigdes 9, 58 en
73. Beskuldigde 74 het aan Moloi gesê dat hy nie kan saamgaan nie omdat
die mense
in Boipatong hom ken. Beskuldigde 73 het gesê dat hy vyf
AK-47’s het. Beskuldigdes 2 en 58 het elkeen een daarvan
geneem.
Beskuldigde 59 en twee ander het elk ’n haelgeweer gehad. Beskuldigde
58 het aan Moloi gesê dat omdat
hy Afrikaans kan praat hy voor moes loop
sodat hy aan die polisie kon sê, indien hulle voorgekeer word, dat die
comrades
hulle aangeval het en dat hulle besig was om die comrades weg te
jaag. Voordat hulle KwaMadala verlaat het, het Moloi verder
gesien dat
beskuldigdes 60 en 65 elkeen met ’n kierie, beskuldigdes 55 en 62 elkeen
met ’n assegaai en beskuldigdes
64 en 68 elkeen met ’n pistool
gewapen was. Beskuldigde 70 het ’n AK-47 gehad. Moloi het getuig dat
hulle kort voor
tienuur die aand KwaMadala verlaat het op pad na Boipatong.
Beskuldigde 9 het voor geloop. Hulle was ongeveer 200 na 250 mense.
Hulle
het tot by ’n sekere plek in die veld gestap waar beskuldigdes 9 en 31
gesê het dat hulle vir die ander moes
wag. Nadat nog mense by hulle
aangesluit het, is hulle na Boipatong. Op die hoek van Moshoeshoe- en
Lekoastrate het ’n
groepie comrades op hulle geskiet en drie van hulle,
waaronder beskuldigde 9, het teruggeskiet, waarop die comrades weggehardloop
het. Die aanvallers het versprei en deur Boipatong beweeg terwyl hulle die
vensters van huise met klippe stukkend gooi, by sommige
huise ingaan en
plunder en mense doodmaak en beseer. In Tugelastraat het hy self die vensters
van ’n Peugeot stukkend geslaan.
Moloi het in fyn besonderhede beskryf
hoedat beskuldigde 71 in ’n huis in Hlubistraat ’n vrou en ’n
kind met
’n assegaai doodgesteek het terwyl beskuldigde 67 (wat tydens die
verhoor oorlede is) ’n ander kind met ’n 9 mm
pistool doodgeskiet
het. Hy het beskryf hoe hy die ma van die een kind in ’n hangkas in
’n ander vertrek gekry het en
hoe hy ’n fiets by daardie huis
gesteel het. Hy het gesien dat beskuldigde 2 ’n perseel, wat later
geïdentifiseer
is as Bafokengstraat 805, verlaat. Beskuldigde 36,
gewapen met ’n assegaai, het saam met Moloi by ’n sekere perseel
ingegaan. Beskuldigde 70 het by ’n ander huis ingegaan met ’n AK-47
in die hand. Die huis op die hoek van Hlubi- en
Bafonkengstrate is aan die
brand gesteek. Hy het gesien dat beskuldigde 64 Boipatong met gesteelde goed
verlaat. Die aanvallers
is met dieselfde roete terug na KwaMadala. By die
hoofhek het hulle vir beskuldigde 73 gekry.
Moloi het voorts getuig dat die
dag na die aanval hy die gebeure met beskuldigdes 36, 59 en 65 bespreek het
terwyl hulle bier gedrink
het. Beskuldigde 36 het toe gesê dat sy
“assegaai iemand opgeëet het”. Beskuldigde 59 het gesê
dat
hy ’n kind met sy haelgeweer geskiet het en beskuldigde 65 het
bygevoeg dat hy iemand verkrag het. Dieselfde dag het die
polisie die kamers
deursoek en beslag gelê op wapens. In beskuldigde 14 se kamer het hulle
’n TV-stel, ’n video-masjien,
’n M-Net dekodeerder en
’n hoëtroustel gekry wat beskuldigde 14 gedurende die aanval in
Boipatong gesteel het.
Moloi het so heftig beswaar gemaak dat die polisie dit
net daar gelaat het. By ’n vergadering van inwoners van KwaMadala
daardie dag het beskuldigdes 9 en 73 gesê dat al die goed wat by Boipatong
geroof is, verbrand moes word. Moloi en beskuldigdes
31 en 64 het gehelp om
die goed bymekaar te maak en te verbrand.
Moloi het getuig dat daar voor die
aanval vuurwapens onder die grond en in ’n kantoor by KwaMadala versteek
was. By ’n
vergadering van inwoners is gesê dat nog vuurwapens
aangekoop moes word met geld wat van die inwoners gekollekteer is.
Moloi het
getuig dat hy op 3 Augustus 1992 gearresteer is en dat hy dieselfde dag ’n
verklaring aan ’n landdros gemaak
het. Op 6 Augustus 1992 het hy
ingewillig om vir die Staat te getuig. Sedertdien was hy in beskermende
aanhouding. Sy verklaring
stem in wesenlike opsigte ooreen met sy getuienis
alhoewel geen name daarin genoem word nie.
Hy het in sy getuienis
verduidelik dat hy nie die name van die aanvallers in die verklaring genoem het
nie omdat hy nog “deurmekaar
in die kop” was van die gebeure van die
betrokke aand en omdat hy bang was.
Die laaste medepligtige wat getuig het,
was Eugenius Ntobeka Mnqithi (“Mnqithi”). Sy getuienis was dat
alhoewel hy
aan die aanval deelgeneem het, hy nooit gearresteer of in aanhouding
was vir sy deelname nie en dat hy self na vore gekom en sy getuienis
aan die
Staat aangebied het.
Mnqithi het getuig dat hy en ene Shimi, ene Todi en
’n paar meisies saam met Bojosi in ’n kamer in KwaMadala gewoon
het. Kort voor agtuur die aand van 17 Junie 1992 het die sirene wat ’n
vergadering afkondig, gelui en die mans is na die
stadion waar beskuldigde 9
besig was om die inwoners toe te spreek. Beskuldigde 9 het gesê dat
hulle Boipatong moes gaan
aanval en dat hulle wapens moes gaan haal vir daardie
doel. Beskuldigde 9 het bygevoeg dat hy vier AK-47’s by hom het.
Beskuldigde 9 het ook gesê dat hulle wit doeke om hul koppe moes bind.
Beskuldigde 2 het ’n AK-47 in sy hand gehad.
Almal het daarna
opgestaan, wapens gaan haal en teruggekeer na die stadion waar hulle met Ntelezi
besprinkel is deur beskuldigdes
9 en 73. Hulle is daarna by die hoofhek uit
waar sommige met ’n bekertjie Ntelezi uit twee emmers wat daar gestaan
het,
geskep en gedrink het. By die hek het beskuldigde 9 gesê dat hulle
in twee groepe moet verdeel wanneer hulle Boipatong nader.
Die een groep moes
na Boipatong en die ander groep na Slovopark gaan. Hy het hulle gewaarsku om
nie hul eie mense te beseer nie
en om in stilte te beweeg. Hierna is hulle oor
die veld na Boipatong waar sy groep in Moshoeshoestraat, links op in
Lekoastraat
en regs in Bapedistraat beweeg het. Beskuldigde 9 was die leier
van sy groep en het heel voor geloop. In Moshoeshoestraat
het Mnqithi
gehoor dat met ’n AK-47 vanuit sy groep geskiet word. Daarna het
hulle begin om die vensters van huise met
klippe stukkend te gooi. Ene Themba
van hulle groep het twee skote geskiet op ’n groep inwoners wat hulle
teengekom het.
Hulle het by huise ingegaan en goedere geroof. By een huis het
hy ’n bierhouer vol musiekplate geneem. By ’n ander
huis het
’n Sierra-voertuig gestaan en hy het met ’n hamer die vensters van
die voertuig stukkend geslaan nadat een die
brandstoftenk van die voertuig
probeer stukkend steek het. By ’n ander huis het een van die inwoners
uitgekom en Mnqithi het
die indruk gekry dat hy in sy maag gesteek was. By
’n sekere hoekhuis het hulle ’n brandende buiteband in die huis
gegooi. Hulle het daarna die woonbuurt verlaat en is terug na KwaMadala langs
dieselfde roete as wat hulle gekom het. Party mense
het goedere gedra wat
hulle gebuit het. Die volgende dag is hierdie goed aan die brand gesteek nadat
hulle gehoor het dat die polisie
die plek sou kom deursoek.
Mnqithi het
getuig dat hy na die aanval op ’n ander aanklag gearresteer is. Na sy
vrylating het hy nie weer teruggekeer na
KwaMadala nie. Hy is deur lede van
die ANC gered van sekere persone wat sy lewe bedreig het en hy het toe vir die
organisasie vertel
van sy betrokkenheid by die aanval. Deur bemiddeling van
die ANC het hy sy getuienis aan die Staat aangebied en hy is deur die
ANC na die
Verhoorhof gebring.
Daar is stawing vir gedeeltes van die medepligtiges se
getuienis te vind in die getuienis van Theresa Mofokeng. Sy het getuig dat
sy
vanaf Maart 1992 in KwaMadala gewoon het. Sy het aanvanklik ’n kamer
gedeel met Bojosi, beskuldigde 70 en ’n aantal
ander persone. Voor 17
Junie 1992 het sy ’n verhouding met beskuldigde 74 aangeknoop en sy het
toe in sy kamer ingetrek wat
hy met onder andere beskuldigdes 60, 65, 68 en 73
gedeel het. Die aand van 17 Junie 1992 het ’n sirene ’n vergadering
van inwoners in die stadion aangekondig. By die stadion het mense die
liedjie “n spies wat rooi is”, gesing.
Die vrouens is weggestuur
voor die vergadering begin het en op pad terug na haar kamer het sy Damara se
voertuig voor die stadion
sien staan wat nie sy gewone plek was nie. Later die
aand het die mans wat in die kamer woon ingekom om lappies vir hul koppe te
kry.
Hulle het ook hul kieries en assegaaie geneem en weer uitgegaan. Op ’n
stadium daarna het sy en haar kamermaat, ene
Manosi, by die stadion gaan inloer
om te sien wat aangaan maar daar was toe niemand nie. Die mans het later die
aand teruggekom
met hul wapens en die lappies om hul koppe. Daarna is sy na
die kamer van beskuldigde 64 om vir ene Busisiwe te sien. Beskuldigdes
64, 65
en ’n paar ander mans was in die afgeskorte kombuisgedeelte van die
kamer. Sy het gehoor dat hulle onder mekaar praat
dat hulle ’n
“onrus” gemaak het by Boipatong. Sy is later terug na haar kamer
en het gaan slaap. Die volgende
oggend het sy ’n bloedbevlekte duvet op
beskuldigde 60 se bed gesien wat Manosi later gewas het.
Theresa Mofokeng
het voorts getuig dat daar op 18 Junie 1992 weer ’n vergadering van
inwoners gehou is waarop beskuldigde 73
opdrag gegee het dat alle goed wat by
Boipatong gebuit is, verbrand moet word voordat die polisie die plek kom
deursoek. Daarna
het sy gesien dat beskuldigde 74 met ’n TV-stel uit sy
moeder se kamer kom. Sy het nie gesien dat hy dit in die vuur gooi
nie.
Sy het ook gesien dat beskuldigde 64 goed verband.
Daar is verdere sterk
stawing vir die medepligtiges se getuienis dat die aanvallers uit KwaMadala
gekom het, te vind in die getuienis
van Albertus de Jager, Salmon Roberts,
Hendrik Cloete en Jakob Botha. De Jager het getuig dat hy by Cape Gate in
Nobel Boulevard
werk en ongeveer vyf tot ses minute per motor daarvandaan woon.
Om ongeveer vyf-en-twintig voor tien die aand van 17 Junie 1992
was hy in sy
motor van suid na noord in Frikkie Meyer Boulevard op pad vanaf sy huis na Cape
Gate waar sy nagskof om tienuur sou
begin. Hy het ’n groep van ongeveer
150 mense vanuit die rigting van KwaMadala in die rigting van Boipatong die pad
voor
hom sien kruis. Hy het omgedraai en is terug huis toe van waar hy die
polisie en die onluste-eenheid in Vereniging gebel het.
Toe hy verneem dat die
polisie bewus is van die gebeure het hy weer na Cape Gate vertrek en kort voor
tienuur daar aangekom.
Toe hy by die ingang van Cape Gate kom, het hy
’n groep mense vanaf Boipatong na Cape Gate sien hardloop en hy het
’n
tweede keer teruggekeer na sy huis. Hy het weer die onluste-eenheid
gebel en is toe aangesê om oor ’n halfuur weer
werk toe te gaan.
Ongeveer halfelf die aand het hy weer vertrek en in die omgewing van KwaMadala
het hy ’n groep mense so
groot as die eerste keer vanaf Boipatong in die
rigting van KwaMadala Frikkie Meyer Boulevard sien kruis. Hy het weer
omgedraai
en is huis toe.
Cloete en Roberts was lede van ’n
weermag-eenheid van vyf persone wat die betrokke aand in ’n
onluste-voertuig op ’n
roetine patrollie in die omgewing was. Kort na
tienuur die aand het hulle in Nobel Boulevard voor Cape Gate gestop en
geweerskote
vanuit Boipatong gehoor. Hulle het te voet in Nobel Boulevard al
langs die grens van Boipatong beweeg en Cloete het getuig dat
hy mense in die
woonbuurt sien beweeg en gille gehoor het. ’n Man het by hulle gekom en
gesê dat hulle hom moet help
aangesien sy vrou en kind doodgemaak is.
Hulle het versterkings aangevra en Cloete het by een van die twee
Buffel-voertuie wat
opgedaag het, ingeklim. Die voertuig het suid in
Frikkie Meyer Boulevard gery en Cloete het ’n groot groep mense uit
Boipatong
sien kom wat in die veld in twee groepe verdeel en besig was om in
die rigting van Frikkie Meyer Boulevard te beweeg. Die
Buffel het gestop
en beide groepe is ongeveer vyftig meter voor die Buffel oor Frikkie Meyer
Boulevard in die rigting van KwaMadala.
Cloete het getuig dat die groep gewapen
was met spiese en stokke en dat een ’n wapen wat soos ’n AK-47 gelyk
het, gedra
het. Hulle het wit kopdoeke op gehad. Die Buffel het
omgedraai en tot by KwaMadala gery waar hulle die ander Buffel sowel
as die
eenheid se onluste-voertuig en die polisie se Casspir-voertuie by die
parkeerarea voor die ingang van KwaMadala aangetref
het.
Botha was lid
van ’n ander weermag-eenheid wat die betrokke aand busse met werkers vanaf
Iscor na KwaMazisa, wat ongeveer
vyftien kilometer vanaf KwaMadala geleë
is, in ’n Buffel begelei het. Om kwart-oor-tien het sy eenheid
’n
berig ontvang en die Buffel is na Frikkie Meyer Boulevard vanwaar
hulle ’n groep van ongeveer 500 mense in die veld tussen
die pad en
Boipatong gewaar het. Die groep het Frikkie Meyer Boulevard oorgesteek in
die rigting van KwaMadala. Die Buffel
het gestop en die seksie-leier het
uitgeklim en aankomende verkeer gestop terwyl die groep mense oor die pad beweeg
het. Die Buffel
is daarvandaan na KwaMadala waar hulle omstreeks
kwart-voor-elf aangekom het en waar hulle bevelvoerder, majoor Jordaan, by hulle
aangesluit het. Kort na hul aankoms by KwaMadala het twee polisie-voertuie
daar aangekom en ook twee weermag-voertuie.
Oor die gebeure in
Boipatong self is daar stawing vir die medepligtiges se getuienis in die
getuienis van polisie-sersant Schlebusch
en dié van inwoners van
Boipatong. Volgens Schlebusch is ’n berig om ongeveer kwart voor tien
die aand van 17 Junie
1992 ontvang dat Boipatong deur ’n groep mense
aangeval word. Schlebusch is in ’n Casspir-voertuig na Boipatong waar
hy in Hlubistraat gesien het dat huise se vensters gebreek is. Voor huis 961 op
die hoek van Lekoa- en Hlubistrate het Abednego
Mabuza die polisie gestop en
hulp gevra. Schlebusch is saam met hom sy huis binne. In die ingang het
’n vrou met verskeie
kap- en steekwonde gelê. Sy was reeds dood.
In die kamer het nog ’n beseerde vrou op die bed gelê en kreun.
Die deure en vensters was gebreek en binne was alles deurmekaar en omgekeer.
Schlebusch het dadelik sy beheerstasie per radio
in kennis gestel en versoek dat
’n ambulans sowel as ander eenhede van die polisie na die toneel gestuur
word. Volgens Schlebusch
was dit halfelf die aand toe hy by die huis aangekom
het. Vanaf huis 761 is Schlebusch na huis 765 in Hlubistraat waar hy nog twee
lyke en ’n beseerde vrou met kap-, steek- en skietwonde aangetref het.
In die straat voor hierdie huis het ’n groep
gewapende jeugdiges
saamgedrom en geskreeu dat hulle KwaMadala gaan aanval. Schlebusch en sersant
Kruger, wat intussen om tien
voor elf in sy Njala-voertuig by hom aangesluit
het, het per radio opdrag gekry om die veld tussen Boipatong en KwaMadala te
patrolleer
en te verhoed dat mense van die een gebied na die ander beweeg.
Voordat hulle die gebied by huis 765 verlaat het, het die ambulans
en ander
polisie-eenhede ook daar aangekom. Schlebusch en Kruger het hierna in die veld
wes van Boipatong gaan wag en is later saam
met weermagversterkings terug na
Boipatong waar hulle die res van die nag behulpsaam was met die
polisieondersoek.
Meer as ’n honderd inwoners van Boipatong het by die
verhoor oor die aanval getuig. In sowel breë trekke as in fyner
detail
steun hulle die weergawes van die medepligtiges oor die aanval. Baie inwoners
het getuig dat die aanvallers wit lappies
om hul koppe gehad het en dat hulle
Zoeloe-sprekend was. Bojosi en Moloi se getuienis oor die beskadiging van
’n Peugeot
in Tugelastraat word gestaaf deur die getuienis van Aaron Pesa
voor wie se huis die voertuig gestaan het en wat die beskadiging gesien
het.
Bojosi se getuienis dat ’n Sierra-voertuig by Hlubistraat 773 geplunder is
en Mnqithi se getuienis dat hy die ruite
van ’n Sierra-voertuig met
’n hamer stukkend geslaan het nadat een probeer het om die brandstoftenk
stukkend te steek,
welke getuienis klaarblyklik na dieselfde voertuig verwys,
is bevestig deur Rachel Mbhele wat by daardie adres woon en oor die skade
aan
die voertuig getuig het.
Moloi se getuienis oor die drie moorde by een huis
word in belangrike opsigte gestaaf deur Alice Nonjoli, die moeder van een van
die kinders. Volgens Nonjoli was sy in die hangkas en die twee oorlede kinders
onder die bed in ’n kamer by hul huis te
Hlubistraat 765 toe drie
aanvallers die kamer binnegekom het. Die een kind is doodgesteek met ’n
spies en die ander is doodgeskiet
met ’n handwapen. Nonjoli het later
haar skoonmoeder in ’n ander kamer dood aangetref. Nonjoli het bevestig
dat
’n kinderfiets uit die huis gesteel is. Moloi se getuienis dat
beskuldigde 67 die een oorledene met ’n 9 mm pistool
doodgeskiet het, is
verder gestaaf deur die getuienis van Patrick Nonjoli en luitenant Dirk
Cornelius van der Merwe ten effekte dat
vyf 9 mm patroondoppies in die betrokke
huis gevind is.
Moloi se getuienis oor die plundering by Lekoastraat 761
word wesenlik gestaaf deur Samuel Mashope en sy getuienis oor die brand
by die
huis op die hoek van Hlubi- en Bafokengstrate word gestaaf deur die getuienis
van Dinah Manyika en Ernest Mtimkulu.
Mnqithi se getuienis dat hy by
’n huis ingegaan het en ’n bierhouer met musiekplate daarin gesteel
het, word bevestig
deur Mary Baloyi van wie die plate gesteel is. Sy getuienis
dat hulle ’n brandende buiteband by ’n sekere hoekhuis
ingegooi het,
word gestaaf deur Ernest Mthimkulu en Dinah Manyika. Laasgenoemde het getuig
dat sy by haar ouers op die hoek van
Hlubi- en Bafokengstrate woon en dat sy
gesien het dat ’n brandende buiteband deur die venster by die huis
ingegooi word.
Soos die Verhoorhof in sy uitspraak op die meriete daarop
wys, is daar vele punte van ooreenkoms tussen die getuienis van die drie
medepligtiges, nie net in die breë trekke daarvan nie maar ook wat die
fyner detail betref. So meld al drie die vergadering
vooraf, dieselfde roete
wat gevolg is, die skietery by die kruising van Moshoeshoe- en Lekoastrate, die
teen- woordigheid van weermagvoertuie,
dat beskuldigde 67 per ongeluk deur een
van sy makkers beseer is en dat die gesteelde goed die volgende dag verbrand
is. Beide
Bojosi en Mnqithi noem verder die musiekplate wat laasgenoemde
gesteel het en die beskadiging van die Sierra-voertuig. Bojosi en
Moloi noem
beide die plundering van die Peugeot-voertuig.
Soos ek reeds gemeld het, is
daar verder sterk stawing vir die medepligtiges se getuienis in dié van
Theresa Mofokeng.
Sy bevestig dat ’n vergadering van inwoners die aand
van 17 Junie 1992 gehou is, dat gewapende inwoners met wit lappies om
hul koppe
op ’n ekspedisie vertrek het en dat goedere wat hulle daar aangebring het,
die volgende dag verbrand is. Haar getuienis
is deur die Verhoorhof as
betroubaar aanvaar en geen voldoende rede is aangevoer om met hierdie bevinding
in te meng nie.
Die Verhoorhof het bevind dat Bojosi en Moloi, ten spyte van
gebreke en foute in hul getuienis, eerlike en betroubare getuies was.
Van
Mnqithi het die Verhoorhof gesê dat, alhoewel daar in verskeie opsigte
objektiewe stawing vir sy getuienis is, hy nie
altyd ’n betroubare getuie
was nie. Die Verhoorhof was egter nie bereid om sy getuienis in die geheel te
verwerp nie.
Wat die algemene strekking van die medepligtiges se getuienis
betref, is daar afdoende stawing deur onbetwisbare getuienis dat die
aanvallers
uit KwaMadala gekom het. Daar is verder afdoende stawing vir hul getuienis dat
die aanval vooraf beplan en georganiseerd
was en dat die aanvallers in ’n
groep en tot die tande gewapen saam uit KwaMadala na Boipatong opgeruk het.
Die moontlikheid,
soos betoog, dat die aanvallers spontaan en verspreid uit
alle rigtings Boipatong binnegeval het nadat hulle een vir een deur die
omheining agter die geboue in KwaMadala geglip het, is totaal strydig met die
getuienis van De Jager en die weermaglede waarna ek
reeds verwys het. Soos ek
ook reeds gemeld het, is daar in talle opsigte stawing uit die mond van inwoners
van Boipatong vir die
medepligtiges se weergawe van die gebeure in Boipatong.
By die verhoor is namens die beskuldigdes aangevoer dat die polisie
betrokke was by die aanval op Boipatong. Die Verhoorhof het
bevind dat daar
geen polisiebetrokkenheid by die aanval was nie en hierdie bevinding is nie voor
ons aangeveg nie.
Namens die beskuldigdes is egter betoog dat daar ’n
sameswering tussen Bojosi en Moloi was, met of sonder beïnvloeding
deur die
polisie, om vals te getuig. Ter ondersteuning van hierdie betoog is genoem dat
hulle op dieselfde dag gearresteer is en
daarna gelyktydig besluit het om vir
die Staat te getuig. Die betoog berus op blote spekulasie. Daar is geen
aanduiding dat hulle
met mekaar in verbinding was tydens hul aanhouding nie.
Indien daar ’n sameswering was, sou ek ook ’n groter mate
van
ooreenstemming tussen hul getuienis verwag het.
Namens die beskuldigdes is
veel gewag gemaak van verskille en weersprekings tussen die getuienis van die
medepligtiges. Ek vind
dit nie nodig om enige daarvan in besonderhede te
behandel nie. Dit is almal van nie-wesenlike aard en is te verwagte en doen nie
afbreuk aan die geloofwaardigheidsbevindings van die Verhoorhof nie.
Wat die
inhoud van die voorafgaande afspraak betref, is namens die beskuldigdes betoog
dat dit slegs was om die sogenaamde comrades
aan te val en nie Boipatong as
geheel nie. Daar is geen feitebasis vir hierdie betoog nie. Dit is natuurlik
so dat die aanvallers
wraak wou neem vir optrede deur die comrades. Alle
aanduidings is egter dat die afspraak was om Boipatong en nie slegs die comrades
nie, aan te val. Al drie die medepligtiges het getuig ten effekte dat besluit
is om Boipatong aan te val. Die wyse waarop die
aanval uitgevoer is, staaf
hierdie getuienis. Na my mening is daar voldoende bewys van ’n
voorafbestaande ooreenkoms om die
misdade te pleeg. In die omstandighede van
hierdie saak is die afleiding onafwendbaar dat elkeen wat deel gehad het aan die
afspraak,
gehandel het met óf die direkte opset om die misdade te pleeg
óf die risiko van die pleging daarvan voorsien en onverskillig
daarteenoor gestaan het.
Die kernvraag bly natuurlik of daar stawing is vir
die medepligtiges se getuienis ten opsigte van elke individuele beskuldigde.
Sodanige stawing kan in die getuienis van ’n ander medepligtige gevind
word mits hy ’n betroubare getuie is (S v Hlapezula and Others
1965(4) SA 439 (A) op 441 A-C.)
In hierdie verband moet die vraag oorweeg
word of die medepligtiges moontlike motiewe gehad het om onskuldige persone, en
in besonder
hierdie beskuldigdes valslik te impliseer (cf R v Ncanana
1948(4) SA 399 (A) op 405). In die omstandighede van hierdie saak is ek
tevrede dat daar geen algemene sodanige motief was nie.
Die medepligtiges het
hul eie deelname erken en daar was geen rede om wat hulle self gedoen het op
ander af te skuif nie.
Dit is vervolgens nodig om die getuienis teen elke
beskuldigde afsonderlik te oorweeg. Die beskuldigdes het almal getuig en
sommige
het ander getuies geroep om namens hulle te getuig.
Beskuldigde
2
Volgens Bojosi was beskuldigde 2 een van die gesamentlike voorsitters
van die beheerkomitee by KwaMadala asook die leier van die
jeug. Dit is
ondenkbaar dat hy nie deel gehad het aan die voorafgaande afspraak om Boipatong
aan te val nie. Volgens Bojosi
was hy die betrokke aand met ’n AK-47
gewapen en was hy een van dié wat voor geloop het op pad na Boipatong.
Moloi
het ook getuig dat beskuldigde 2 die jeugleier was en die aand ’n
AK-47 gehad het en aan die aanval deelgeneem het. Mnqithi
het ook vir
beskuldigde 2 in besit van ’n AK-47 gesien by die vergadering die betrokke
aand.
Beskuldigde 2 het getuig dat hy ’n lid van Inkatha was, dat hy
voorheen in ’n hostel in Sebokeng gewoon het maar dat
hy in 1990 as
gevolg van ’n twis tussen die ANC en Inkatha uit die hostel gedryf is en
in KwaMadala gaan woon het. Hy het
die betrokke aand kort na agtuur gaan slaap
en weet niks van enige vergadering wat daardie aand gehou is of van enige aanval
op Boipatong
nie. Hy was die aand alleen in sy kamer en het niks gehoor nie.
Beskuldigde 2 het erken dat hy die jeugleier in KwaMadala was
en het aanvanklik
erken dat hy as sodanig sitting op die beheerkomitee gehad het maar het dit
later ontken. Beskuldigde 2 het
getuig dat die sirene vir die hou van
’n vergadering nie die betrokke aand gelui het nie want as dit gelui het
sou hy dit gehoor
het. Die volgende dag was hy om vieruur die middag terug by
KwaMadala nadat hy gaan inkopies doen het in die dorp en daar is geen
vergaderings die res van die dag gehou nie. Hy weet niks van goed wat verbrand
is nie. Mense word met Ntelezi besprinkel om hulle
te kalmeer wanneer hulle
kwaad is. Hy weet van geen vuurwapens wat in KwaMadala was nie. Die enigste
rede waarom mense bandjies
om hulle kop vasbind, is om hulle mooi te laat
lyk.
Die Verhoorhof het beskuldigde 2 se getuienis as vals verwerp. Soos
die Verhoorhof tereg daarop wys, kom sy getuienis neer op ’n
ontkenning
dat Boipatong hoegenaamd die betrokke aand deur inwoners van KwaMadala aangeval
was, terwyl die onbetwiste getuienis
oorweldigend daarop dui dat dit wel die
geval was. As een van die leiersfigure in KwaMadala, maar selfs as ’n
gewone inwoner,
is dit ondenkbaar dat die aanval uit KwaMadala geloods was
sonder dat hy daarvan bewus was. Sy getuienis is dus tereg as vals
verwerp.
Sy verduideliking van die gebruik van Ntelezi is deur die Verhoorhof as
onwaarskynlik beskryf in die lig van die onbetwiste
getuienis van kolonel
Davidson dat Ntelezi volgens Zoeloe-gewoontes aangewend word om mense te beskerm
teen gevaar of beserings in
’n geveg-situasie. Na my mening is die
afleiding uit die omstandigheidsgetuienis onafwendbaar dat beskuldigde 2
deelgeneem
het aan ’n voorafgaande afspraak om Boipatong aan te val en is
hy korrek skuldig bevind.
Beskuldigde 9
Volgens al drie die
medepligtiges het beskuldigde 9 ’n leiersrol gespeel in die aanval.
Volgens hulle was hy ’n indoena
of leier, was dit hy wat by die
vergadering die betrokke aand gesê het dat Boipatong aangeval moet word en
dat die mense hulle
moet bewapen. Volgens al drie medepligtiges het
beskuldigde 9 gehelp om Ntelezi uit te deel en het hy self ’n vuurwapen
gedra.
Volgens Moloi en Mnqithi was beskuldigde 9 een van dié wat voor
geloop het op pad na Boipatong en was dit hy wat teruggeskiet
het toe daar deur
mense van Boipatong op hulle gevuur is.
Beskuldigde 9 het in sy getuienis
gesê dat hy ’n lid van Inkatha is en dat hy op ’n soortgelyke
wyse as beskuldigde
2 in KwaMadala beland het. Hy het erken dat hy ’n
indoena en tradisionele leier van die Zoeloes is. Hy het die betrokke
aand
tussen nege-uur en tienuur gaan slaap en weet niks van die aanval nie. Hy weet
van geen vergadering of die uitbrand van goedere
die volgende dag nie.
Alhoewel hy in ’n borgaansoek beweer het dat hy ’n lid van die
beheerkomitee was en Bojosi ook
so getuig het, het beskuldigde 9 ontken dat hy
’n lid van die komitee was of dat hy ooit so aan sy regsverteenwoordigers
gesê
het vir doeleindes van die borgaansoek. Soos in die geval van
beskuldigde 2 kom sy getuienis ook daarop neer dat hy ontken dat
die aanval
vanuit KwaMadala geloods is. Dit is strydig met die onbetwisbare getuienis
en die waarskynlikhede en sy getuienis
is korrek deur die Verhoorhof verwerp as
nie redelik moontlik waar nie. Hy is korrek skuldig bevind op dieselfde basis
as beskuldigde
2.
Beskuldigde 14
Beide Bojosi en Moloi het getuig
dat beskuldigde 14 aan die aanval deelgeneem het. Volgens Bojosi was
beskuldigde 14 een van dié
wat by Zondo se taverne in Boipatong
ingegaan het en het hy ’n groot sak gedra toe hulle Boipatong verlaat.
Moloi het
getuig dat beskuldigde 14 ’n TV-stel in Boipatong gesteel het.
Moloi het die volgende dag die polisie gekeer toe hulle op
die gesteelde
goedere in beskuldigde 14 se kamer wou beslag lê. Beskuldigde 14
het getuig dat hy na KwaMadala gevlug
het, dat hy die betrokke aand vroeg gaan
slaap het in sy kamer in KwaMadala en dat hy van niks weet nie. Soos in die
geval van
beskuldigdes 2 en 9 kom sy getuienis daarop neer dat daar nie ’n
aanval vanuit KwaMadala was nie en vir dieselfde redes as
in hulle geval is sy
getuienis tereg deur die Verhoorhof verwerp. Selfs al het hy nie deel gehad aan
die voorafgaande ooreenkoms
om Boipatong aan te val nie, het hy aan die aanval
deelgeneem met die klaarblyklike opset om gemeensaak te maak met die ander wat
die misdade gepleeg het, terwyl hy die moontlikheid voorsien het dat die ander
die misdade kon pleeg in die bereiking van hulle gemeenskaplike
doel en hy
onverskillig was daaromtrent. Sy optrede voldoen aan die vyf voorvereistes vir
aanspreeklikheid op die basis van gemeenskaplike
doel wat hierdie Hof in S v
Mgedezi 1989(1) SA 687(A) op 705 I - 706 C gestel het. Hy is korrek skuldig
bevind.
Beskuldigde 31
Bojosi het getuig dat beskuldigde 31 by die
vergadering gehelp het om Ntelezi te sprinkel en dat hy toe met ’n kierie
en ’n
spies gewapen was. Volgens Moloi het beskuldigde 31 in die veld op
pad na Boipatong vir die groep gesê dat hulle vir die
ander moes wag. Hy
het getuig dat beskuldigde 31 met ’n assegaai deelgeneem het aan die
aanval. Beskuldigde 31 het verder
die dag daarna gehelp om die goed wat
verbrand moes word, bymekaar te maak.
Beskuldigde 31 het getuig dat hy
’n Zoeloe en ’n Inkatha-ondersteuner is en dat hy vanaf KwaMazisa
verdryf is na KwaMadala.
Hy het erken dat hy in ’n gesagsposisie in die
hostel was. Die betrokke aand het hy om agtuur gaan slaap en weet van niks.
Indien die alarm afgegaan het, sou hy dit gehoor het. Verder weet hy niks
daarvan dat goed die volgende dag uitgebrand is nie.
Die Hof a quo
wys in sy uitspraak op sekere onbevredigende aspekte in beskuldigde 31 se
getuienis. So byvoorbeeld is hy gevra om ’n koerantberig
te bevestig
waarvolgens hy as die segsman van KwaMadala se inwoners aan ’n joernalis
sou gesê het dat hulle (die Zoeloes)
sou veg indien hulle aangeval word.
Hy het die vraag ontwyk en was nie bereid om te sê wat hy aan die koerant
gesê
het nie. Hy het verder getuig dat hy Boipatong goed ken omdat sy
broers daar verhoudings aangeknoop het. Later het dit geblyk
dat hy self
voorheen daar gewoon het. Beskuldigde 31 het erken dat toe die sirene die dag
na die gebeure afgaan, hy dadelik sy
wapen gegryp het en saam met die ander tot
by die kruising van Frikkie Meyer Boulevard en Nobel Boulevard gegaan het omdat
’n
weerwraak-aanval deur inwoners van Boipatong verwag was. Hy het ook
gesê dat Ntelezi gebruik word indien mense kwaad word.
Sy algehele
ontkenning van enige kennis van of deelname aan die aanval is deur die Hof a
quo as vals verwerp. Na my mening is bo redelike twyfel bewys dat hy
deel gehad het aan die voorafgaande afspraak om Boipatong aan
te val en dat hy
deelgeneem het aan die aanval. Hy is korrek skuldig
bevind.
Beskuldigde 36
Bojosi het getuig dat beskuldigde 36 die
dag na die aanval en tydens ’n gesprek oor die gebeure, gespog het dat hy
’n
persoon gesteek het. Volgens Moloi het beskuldigde 36, gewapen met
’n assegaai, saam met hom by ’n sekere perseel in
Boipatong
ingegaan. Die dag na die moorde het beskuldigde 36 gespog dat “sy
assegaai het iemand opgeëet”.
Die Verhoorhof het by die
beoordeling van Moloi se getuienis teen beskuldigde 36 in ag geneem dat hy
moontlik ’n motief kon
hê om beskuldigde 36 valslik te impliseer
omdat, volgens Moloi, beskuldigde 36 vantevore sy dogtertjie verkrag
het.
Beskuldigde 36 het getuig dat hy ’n Zoeloe is en dat hy gedurende
1991 vanuit Evaton waar sy ouerhuis afgebrand is deur die
ANC, na KwaMadala
gevlug het. Op 17 Junie 1992 was hy so siek dat hy slegs opgestaan het om
toilet toe te gaan. Hy het die aand
vroeg gaan slaap en weet van niks. Indien
die sirene gelui het, sou hy dit gehoor het. Die volgende oggend het hy egter
saam
met die groep uitgegaan om die verwagte aanval vanaf Boipatong te ontmoet.
Beskuldigde 36 se getuienis is onoortuigend en is tereg
deur die Verhoorhof
verwerp. Hy is op die basis van gemeenskaplike doel tereg skuldig
bevind.
Beskuldigde 55
Van die medepligtiges het slegs Moloi
gesê dat beskuldigde 55 aan die aanval deelgeneem het en wel met ’n
assegaai.
Een van die inwoners van Boipatong, Richard Msibi, het egter vir
beskuldigde 55 uitgeken as een van die aanvallers wat in sy huis
ingekom en hom
met ’n spies gesteek het. Hy het beskuldigde 55 aan ’n merk tussen
sy oë uitgeken in ’n
foto-album van die polisie waarin daar honderde
foto’s was.
Beskuldigde 55 het getuig dat hy gedurende 1991 vanuit
Sebokeng na KwaMadala gevlug het. Hy het die betrokke aand gaan slaap en
dra
geen kennis van die aanval nie.
Die Verhoorhof het beskuldigde 55 se alibi
verwerp en sy uitkenning deur Msibi as betroubaar aanvaar. Daar bestaan geen
rede om
met hierdie bevinding in te meng nie en beskuldigde 55 is op die basis
van gemeenskaplike doel tereg skuldig bevind.
Beskuldigde
58
Bojosi het getuig dat beskuldigde 58 die sekretaris van die
beheerkomitee was. Sy getuienis oor beskuldigde 58 se deelname aan
die aanval
was egter nie oortuigend nie. Hy getuig eers dat beskuldigde 58 by die stadion
gewapen was met ’n assegaai en
’n kierie maar later sê hy dat
hy nie kan onthou hoe beskuldigde 58 gewapen was nie. Sy getuienis is verder
dat hy
nie vir beskuldigde 58 in Boipatong gesien het nie. Verder getuig
Bojosi eers dat beskuldigde 58 die opdrag gegee het om die geroofde
goed te
verbrand maar later sê hy dat die opdrag van ene Khumalo gekom het.
Moloi se getuienis was dat beskuldigde 58 hulle
kom roep het om na die
vergadering te gaan, dat hy by die stadion die inwoners aangesê het om wit
lappies om hulle koppe te
bind en dat hy gehelp het om die inwoners met Ntelezi
te besprinkel. Hy getuig ook dat beskuldigde 58 by die stadion een van die
AK-47’s geneem en vir hom gesê het dat omdat hy Afrikaans kan praat
hy aan die polisie moes sê, indien hulle voorgekeer
word, dat die
comrades hulle aangeval het en dat hulle besig was om die comrades te
verdryf.
Beskuldigde 58 se getuienis was dat hy uit Sebokeng verdryf is na
KwaMadala. Die betrokke aand het hy om halfagt gaan slaap en
hy weet van niks.
Volgens sy eie getuienis is dit duidelik dat hy een van die leiers in KwaMadala
was. Dit was sy taak om van elke
inwoner R10 in te samel wanneer iemand
gesterf het, om die geld te bestee en daarna by ’n vergadering van
inwoners verslag
te doen. Dit was verder sy funksie om vir beskuldigde 2 te
help om vergaderings van die jeug byeen te roep.
Beskuldigde 58 het getuig
dat die polisie na sy arrestasie aan hom gesê het dat, indien hy hulle
sou help, hulle vir hom
’n huis in Kaapstad sou bou en hom R250,000
betaal. By sy huis sou die polisie hom oppas soos hulle met die
Staatspresident
doen. Beskuldigde 58 was ’n opsigtelike leuenaar en sy
getuienis is tereg deur die Verhoorhof verwerp. Moloi se getuienis
oor sy
rol by die voorafgaande vergadering was indrukwekkend en oortuigend en word deur
beskuldigde 58 se leuenagtigheid en tot ’n
mate deur Bojosi gestaaf.
Daarvolgens was hy een van dié wat vooraf afgespreek het om Boipatong aan
te val en gehelp het
om die aanval te organiseer. Hy was self gewapen met
’n AK-47 en die afleiding is onvermydelik dat hy saam na Boipatong toe
is
en aan die aanval deelgeneem het. Hy is korrek skuldig bevind.
Beskuldigde 59
Bojosi het getuig dat beskuldigde 59 in Boipatong
met ’n haelgeweer met die merk “4 x 4” op die kolf op
’n
persoon gevuur het. Moloi het bevestig dat beskuldigde 59 die
betrokke aand met ’n haelgeweer gewapen was. Volgens
Moloi het
beskuldigde 59 die volgende dag aan hulle gesê dat hy ’n kind met
die geweer geskiet het. ’n Haelgeweer,
soortgelyk aan die een wat
Bojosi beskryf het, is by die Verhoorhof as bewysstuk ingehandig. Volgens
beskuldigde 59 was hy
teenwoordig toe die polisie hierdie haelgeweer in
KwaMadala gekry het. Hy het egter ontken dat hy enigsins bewus was van hierdie
of ander versteekte wapens. Gedurende die kruisverhoor van Bojosi was dit egter
namens beskuldigde 59 gestel dat hy gesien het toe
die geweer begrawe is.
Beskuldigde 59 kon hierdie aspek nie in sy getuienis verduidelik nie.
In
die lig van die getuienis van Bojosi en Moloi en beskuldigde 59 se onvermoë
om sy verbintenis met die haelgeweer te verduidelik,
het die Verhoorhof tereg
sy ontkenning van sy deelname aan die aanval verwerp. Hy is korrek skuldig
bevind op die grondslag van
gemeenskaplike doel.
Beskuldigde
60
Hierdie beskuldigde word deur die getuienis van Bojosi, Moloi en
Theresa Mofokeng met die pleging van die misdade verbind. Volgens
Bojosi het
hy vir beskuldigde 60 met ’n Z 88-handwapen in Boipatong gesien deelneem
aan die aanval. Volgens Moloi het hy
vir beskuldigde 60 by die stadion in
besit van ’n kierie gesien. Theresa Mofokeng se getuienis was dat
beskuldigde 60
op die betrokke aand na die stadion gegaan het nadat die sirene
gelui het en dat hy later na die kamer teruggekeer het om ’n
wapen en
’n lappie vir sy kop te kry. Hy het later met ’n bebloede duvet
teruggekeer wat die volgende dag gewas is.
Beskuldigde 60 het getuig
dat hy pas vantevore in Sebokeng in ’n geveg met die comrades betrokke was
en dat hy in die rug,
kop, been en voorarm geskiet is. Hy het daarna na
KwaMadala gevlug waar hy in dieselfde kamer as beskuldigde 74 was. Hy weet
niks van die aanval nie en sou weens sy beserings in elk geval nie daaraan kon
deelneem nie. Theresa Mofokeng se getuienis dat
sy op 17 Junie 1992 in
dieselfde kamer as beskuldigdes 60 en 74 gewoon het, is nooit betwis nie. In sy
getuienis het beskuldigde
60 egter ontken dat Theresa saam met hom in ’n
kamer gebly het op daardie stadium. Sy getuie, Augustina Tsotetsi, weerspreek
sy getuienis in hierdie verband waar sy beweer dat Theresa op daardie stadium
wel daar geslaap maar nooit daar ingetrek het nie.
Die Verhoorhof het
Augustina Tsotetsi se getuienis verwerp as bevooroordeeld en onwaarskynlik en
Theresa se getuienis aanvaar.
Beskuldigde 60 se weergawe is na my mening deur
die Verhoorhof verwerp. Hy is tereg skuldig bevind op die grondslag van
gesamentlike
doel.
Beskuldigde 62
Volgens beide Bojosi en Moloi
het beskuldigde 62, gewapen met ’n spies, aan die aanval deelgeneem.
Volgens eersgenoemde
het hy in Tugelastraat die bande van ’n Peugeot met
die spies stukkend gesteek.
Beskuldigde 62 het getuig dat hy gedurende
Januarie 1992 uit Sebokeng na KwaMadala gevlug het en dat hy niks van die
gebeure weet
nie. As daar wel ’n aanval uit KwaMadala was, sou hy
daarvan geweet het. Sy getuienis is tereg as vals verwerp.
Sy deelname
aan die aanval het met gemeenskaplike doel geskied en hy is tereg skuldig
bevind.
Beskuldigde 64
Bojosi het getuig dat beskuldigde 64
deelgeneem het aan die aanval en in besonder dat hy by die huis op die hoek van
Hlubi- en Lekoastrate
ingegaan het. Moloi het getuig dat beskuldigde 64 met
’n pistool gewapen was voordat hulle KwaMadala verlaat het en dat
hy
Boipatong met gesteelde goed verlaat het. Hy het ook die volgende dag die
gesteelde goed help verbrand. Theresa Mofokeng impliseer
ook beskuldigde 64 in
die sin dat hy na die tyd erken het dat hy deelgeneem het aan die aanval.
Beskuldigde 64 het getuig dat hy sedert 1991 in KwaMadala woon. Vroeg in
Junie 1992 is hy in die been deur die comrades geskiet
en hy is eers twee weke
voor die betrokke dag uit die hospitaal ontslaan. Hy kon toe slegs met die
hulp van krukke beweeg.
In kruisondervraging het hy toegegee dat hy eers
gedurende Augustus 1992 geskiet is en dat hy op 17 Junie 1992 niks makeer het
nie.
Onbewus van hierdie toegewing het Busisiwe Mguli, wat direk na beskuldigde
64 namens hom getuig het, ook gesê dat sy beskuldigde
64 op 17 Junie 1992
met krukke sien loop het. Dit is duidelik dat dié getuie en beskuldigde
64 vooraf saamgespan het om
’n valse weergawe aan die hof voor te
lê, soos die Verhoorhof ook bevind het. Die Verhoorhof het tereg
bevind dat
beskuldigde 64 met ’n gemeenskaplike doel deelgeneem het aan
die aanval en hy is korrek skuldig bevind.
Beskuldigde 65
Bojosi
het getuig dat beskuldigde 65 deelgeneem het aan die aanval terwyl hy met
’n 7,65 mm pistool gewapen was, in besonder
dat hy een van dié was
wat die huis op die hoek van Lekoa- en Hlubistrate binnegegaan het. Moloi het
getuig dat beskuldigde
65 met ’n kierie gewapen was, dat hy in ’n
groep was wat vensters gebreek het, dat hy saam met ander goedere by ’n
huis uitgedra het en dat hy die volgende dag gesê het dat hy iemand
verkrag het in Boipatong. Theresa Mofokeng het getuig
dat beskuldigde 65 deel
was van die groepie wat gepraat het oor die “onrus” wat hulle in
Boipatong gemaak het.
Beskuldigde 65 het getuig dat hy eers op 27 Junie
1992 by KwaMadala ingetrek het en dat hy niks van die gebeure af weet nie.
Volgens
’n video wat die polisie op 18 Junie 1992 by KwaMadala geneem het
en wat aan beskuldigde 65 in die hof getoon is, blyk dit
dat hy reeds op daardie
datum by KwaMadala was. Sy ontkenning dat hy op die video verskyn is deur
die Verhoorhof as leuenagtig
bevind. Daar bestaan geen rede om met die
Verhoorhof se verwerping van sy getuienis in te meng nie. Hy is tereg op die
basis
van gemeenskaplike doel skuldig bevind.
Beskuldigde
68
Beide Bojosi en Moloi impliseer beskuldigde 68 by die aanval op
Boipatong. Bojosi het getuig dat hy by die vergadering die betrokke
aand vir
beskuldigde 68 gevra het om beskuldigde 70 se AK-47 af te neem omdat
laasgenoemde gedreig het om ’n inwoner te skiet.
Moloi het getuig dat hy
vir beskuldigde 68 gesien deelneem het aan die aanval met ’n 9 mm
pistool in die hand.
Beskuldigde 68 het erken dat hy twee pistole besit
wat gelisensieer is. Hy het getuig dat hy een van die persone is wat vanaf
KwaMazisa verdryf is na KwaMadala. Die betrokke aand het hy omstreeks
negeuur gaan slaap en dra geen kennis van die gebeure
nie. Sy ontkenning
dat hy aan die aanval deelgeneem het, is tereg deur die Verhoorhof verwerp. Hy
is op die grondslag van
gemeenskaplike doel skuldig bevind.
Beskuldigde
70
Beide Bojosi en Moloi het getuig dat beskuldigde 70, gewapen met
’n AK-47, aan die aanval deelgeneem het.
Beskuldigde 70 het
getuig dat hy gedurende 1991 deur die comrades uit Sebokeng verdryf is en dat hy
daarna by KwaMadala gaan woon
het. Vanaf 6 Junie tot 19 Junie 1992 was hy in
Vereeniging in ’n hofsaak betrokke. Hy het gedurende hierdie tyd by ene
Ethel Mamato tuisgegaan en was op geen stadium by KwaMadala nie. Ethel
Mamato is nie as ’n getuie geroep nie. Beskuldigde
70 verskyn op die
video wat die polisie op 18 Junie 1992 by KwaMadala geneem het. Beskuldigde 70
se getuienis is tereg deur die Verhoorhof
verwerp. Hy is korrek skuldig bevind
op die basis van gemeenskaplike doel.
Beskuldigde 71
Bojosi
het getuig dat beskuldigde 71 die dag na die aanval gehelp het met die
insameling en verbranding van die gesteelde goedere.
Moloi het getuig dat
beskuldigde 71 twee persone met ’n assegaai doodgesteek het by die huis in
Hlubistraat. Moloi
se getuienis oor die moorde by hierdie huis is, soos
reeds daarop gewys, in belangrike opsigte deur die moeder van die een slagoffer,
Alice Nonjoli, bevestig. Gedurende die kruisverhoor van Bojosi en Moloi is dit
namens beskuldigde 71 aan hulle gestel dat beskuldigde
71 in die tydperk vanaf
Mei tot September 1992 in Natal was. Hy verskyn egter op die video wat op 18
Junie 1992 by KwaMadala geneem
is. In sy getuienis het hy erken dat hy
reeds by sy arrestasie besluit het om ’n leuen te vertel oor waar hy op 17
Junie
1992 was. In die lig van sy valse alibi het die Verhoorhof tereg bevind
dat die Staat sy saak teen beskuldigde 71 op die grondslag
van gesamentlike doel
bo redelike twyfel bewys het.
Beskuldigde 73
Dit is uit al die
getuienis duidelik dat beskuldigde 73 ’n leiersrol in KwaMadala gespeel
het. Hy was die president van
die beheerkomitee en hoof-behuisingsbeampte.
Volgens sy eie getuienis is geen vergadering van inwoners sonder sy goedkeuring
gehou
nie. Volgens Moloi en Mnqithi het beskuldigde 73 by die vergadering
die betrokke aand die aanvallers met Ntelezi besprinkel.
Hy was by die hek
toe die groep uitgaan en het daar vir hulle gewag toe hulle terugkom. Moloi
en Theresa Mofokeng het getuig
dat beskuldigde 73 die volgende dag opdrag gegee
het dat die gesteelde goedere verbrand moet word.
Beskuldigde 73 het
getuig dat hy een van diegene is wat uit KwaMazisa gevlug het na KwaMadala.
Hy was werksaam by Iscor en is
aan die begin van Maart 1992 deur die inwoners
gekies as die verantwoordelike behuisingsbeampte om beheer uit te oefen oor nuwe
intrekkers
by KwaMadala. Hy het bevestig dat KwaMadala ’n toevlugsoord
geword het vir Inkatha-lede wat uit ander woonbuurtes verdryf
is. Die besluit
oor wie toegelaat word by KwaMadala het vanaf Maart 1992 by hom berus. Hy was
in beheer van die stoorkamer waar
vuurwapens gestoor is. Beskuldigde 73 het
ontken dat daar enige vergadering van inwoners die betrokke aand in KwaMadala
gehou
is of dat enige aanval op Boipatong vanuit KwaMadala geloods is. Sy
getuienis is tereg as vals deur die Verhoorhof verwerp. In
al die omstandighede
kan daar nie die geringste twyfel bestaan nie dat hy een van die beplanners van
die aanval was wat ’n
voorafgaande ooreenkoms gesluit het om ’n
gewapende aanval op Boipatong te loods. Hy is gevolglik korrek skuldig
bevind.
Beskuldigde 74
Bojosi het getuig dat beskuldigde 74
deelgeneem het aan die aanval met ’n haelgeweer. Moloi het getuig dat
beskuldigde 74
by die vergadering gesê het dat hy nie kan saamgaan na
Boipatong toe nie omdat die mense daar hom ken. Hy het ook nie vir
beskuldigde
74 daar gesien nie. Theresa Mofokeng het getuig dat sy saam met beskuldigde 74
en ander in dieselfde kamer gewoon het.
Die betrokke aand het beskuldigde 74
’n vergadering in die stadion bygewoon en na ’n rukkie het hy
’n lap en
wapens in die kamer kom haal. Die dag na die aanval het sy
gesien dat beskuldigde 74 ’n televisiestel na die vuur dra.
Beskuldigde 74 het getuig dat hy voorheen ’n polisiebeampte was en
dat hy na aanvalle op homself en sy familie gedurende 1991
in KwaMadala gaan
woon het. Theresa Mofokeng het soms by hom in sy kamer geslaap. Op die
betrokke aand was sy by hom in sy kamer.
Hy weet niks van enige vergadering
wat op die betrokke aand gehou is nie en dra ook geen kennis van enige aanval op
Boipatong
nie. Sy getuienis is tereg as vals deur die Verhoorhof verwerp en hy
is korrek skuldig bevind op die basis van gemeenskaplike doel.
Bygevolg
word die appèlle van al die beskuldigdes afgewys.
W VIVIER AR.
HARMS AR)
MELUNSKY Wnd AR) Stem saam.