South Africa: Supreme Court of Appeal

You are here:
SAFLII >>
Databases >>
South Africa: Supreme Court of Appeal >>
1999 >>
[1999] ZASCA 66
| Noteup
| LawCite
Liberty Life Association of Africa Ltd v De Waal NO and Another (422/97) [1999] ZASCA 66 (21 September 1999)
Download original files |
VAN SUID AFRIKA
SAAKNOMMER: 422/97
Insake
LIBERTY
LIFE ASSOCIATION OF AFRICA LIMITED
Appellant
en
P J de WAAL NO
J G ROUX NO Respondente
HOF: Van Heerden AHR, Vivier, Harms, Marais en Scott
ARR
GELEWER 21 September 1999
Art 63(3) van die
Versekeringswet 27 van 1943
UITSPRAAK
VAN HEERDEN AHR/
VAN HEERDEN AHR
[1] Op 2 Julie
1991 het die appellant 'n lewenspolis ten bedrae van R200 000 aan die tans
wyle C J Roux uitgereik. Dit het geskied
op grond van 'n aansoekvorm wat deur
die oorledene voltooi was. Na sy dood het die appellant geweier om die voordeel
wat ingevolge
die polis deur die oorledene se boedel geeis is, te betaal. Die
respondente, in hul hoedanighede as eksekuteurs van die boedel, het
toe in die
Vrystaatse Provinsiale Afdeling 'n aksie vir betaling van die voordeel teen die
respondent ingestel. Laasgenoemde het
twee verwere geopper waarvan slegs een
nog ter sake is. Hierdie verweer se kern was dat die oorledene in die
aansoekvorm materiële
onjuiste besonderhede verstrek het wat die appellant
oorreed het om die polis uit te reik.
[2] Die geding het gedien voor Beckley
R. Hy het beide verwere verwerp en vonnis ten bedrae van R200 000 plus rente
ten gunste van
die respondente verleen. Met verlof van hierdie hof kom die
appellante nou in hoër beroep.
[3] In die aansoekvorm het die
oorledene (of sy verteenwoordiger) positief geantwoord op vrae of hy na 1 April
1986 ‘n lewenspolis
verkry het nadat hy ‘n volledige mediese
verklaring gemaak het, en of dit ‘n versekeringsplan sonder ‘n
minimum
lewensdekking was. Hierdie antwoorde was onjuis aangesien die betrokke
polis deur Ou Mutual uitgereik was volgende op ‘n aansoekvorm
waarin die
oorledene sekere vrae van mediese aard beantwoord het, maar nie ‘n
volledige mediese verklaring gemaak het nie en
die polis bowendien wel vir
‘n minimum lewensdekking voorsiening gemaak het.
[4] In die
aansoekvorm betreffende die Ou Mutual polis is slegs drie vrae gestel (wat
ontkennend beantwoord is). Hulle lui soos volg:
“1 Het enige siekte, besering of ongesteldheid veroorsaak dat u
gedurende die afgelope twee jaar ‘n ononderbroke tydperk
van meer as 10
dae in die bed moes deurbring of nie u normale daaglikse bedrywighede kon
voortsit nie?
2 Ontvang u tans mediese behandeling, of het u gedurende die
afgelope 3 jaar mediese behandeling of medisyne ontvang wat deur ‘n
dokter
voorgeskryf is?
3 Is ‘n aansoek om lewens-, siekte-, ongeskiktheids-
of ongevalleversekering op u lewe al ooit afgewys, uitgestel, teruggetrek
of op
spesiale voorwaardes, of teen spesiale tariewe,
aanvaar?”
‘n Tipiese voorbeeld van ‘n volledige
mediese verklaring is te vind in ‘n ingevulde aansoekvorm waarin die
volgende
vrae gestel word:
“Ly u . . . of het u. . . al ooit aan enige van die volgende gely: JA NEE
1. Enige aandoening van die hart, bloedvate of bloedsomloop, bv. hoë
bloeddruk,
borspyn, hartgeruis, kroonslagaarsiekte,
kortasemigheid of hartkloppings? JA NEE
2. Enige asemhaling- of longaandoening, bv. asma, brongitis, aanhoudende hoes,tuberkulose? JA NEE
3. Enige siekte van die spysverteringstelsel, galblaas of lewer, bv. hepatitis B,
werklike of vermoedelike maag- of duodenumseer, aanhoudende slegte spysvertering of diarree, of hiatus-breuk? JA NEE
4. Enige siekte of aandoening van die niere, blaas of geslagsorgane, bv. eiwit in urine, nierstene, prostatitis, veneriese siekte of ginekologiese simptome of toestande (d.w.s. probleme met die vroulike organe)? JA NEE
5. Enige senuwee- of geestesmoeilikheid, bv. epilepsie, floute, verlamming, angsneurose of neerslagtigheid? JA NEE
6. Enige oogkwale of oor-, neus- of keelaandoenings, bv.oorsug, geswelde kliere, aanhoudende mondsere, gebrekkige visie, katarakte of enige oorerflike
oogsiekte? JA NEE
7. Enige aandoening of siekte van die spiere, skelet, gewrigte, ledemate
of werwelkolom, bv.rumatiek, gewrigsontsteking, jig, verskuifde werwelskyf of ander rugmoeilikheid? JA NEE
8. Suikersiekte, suiker in urine, skildklier- of ander klier- of bloedkwale? JA NEE
9. Kanker, groeisel of gewas van enige aard, of velkwale? JA NEE
10. Enige ander siekte, simptome, liggaamlike afwyking of gebrek, aangebore of nie, wat die raadpleging van ‘n mediese praktisyn genoodsaak het (met uitsluiting van verkoues, griep en algemene kindersiektes)? JA NEE
11. Is daar enige ander gesondheids- of ander faktore (in die verlede of
tans) wat die risiko op hierdie polis kan beïnvloed,
. .
.”
Die onderhawige aansoekvorm wat deur die oorledene geteken
is, se opskrif lui: “Die 1.2 miljoen Rand spesiale aanbod.”
Paragraaf 9.1 getitel “Spesiale aanbod verklaring” lui soos
volg:
“Ek verklaar dat ek nie sedert 1 Mei 1990 by Liberty Life of enige
ander versekeraar aansoek vir ‘n soortgelyke aanbod
gedoen het nie en dat
geen aansoek tans deur Liberty Life oorweeg word nie. Ek verklaar dat my mees
onlangse aansoek sedert 1 April
1986 om lewensversekering by ‘n
Suid-Afrikaanse versekeraar, waarvoor ek ‘n volledige mediese verklaring
afgelê
het, teen standaard tariewe aanvaar en uitgereik is . . .
Besonderhede van so ‘n uitgereikte polis word onder verstrek.
Naam van Maattskappy Polisnommer Uitreikingsdatum
OU MUTUAL 5897596 1/10/88
Ek verklaar voorts dat ek nie enige advies, voorligting, behandeling of
bloedtoetse (behalwe vir versekeringsdoeleindes) in verband
met VIGS of ‘n
VIGS-verwante siekte ontvang het of na verwagting sal ontvang nie . . . .”
(Die woorde “Ou Mutual”, die polisnommer en die
uitreikingsdatum is deur of namens die oorledene ingevul.)
[5] Alhoewel die
oorledene die juistheid van sy antwoorde in die onderhawige aansoekvorm
gewaarborg het, ontstaan die vraag of die
appellant hom gekwyt het van die
bewyslas waarvoor art 63(3) van die Versekeringswet 27 van 1943 voorsiening
maak. Daardie subartikel
lui soos volg :
“(3) Ondanks andersluidende bepalings vervat in enige binnelandse polis
of in enige dokument wat op daardie polis betrekking
het, word so ‘n polis
wat voor of na die inwerkingtreding van hierdie Wet uitgereik is, nie ongeldig
gemaak nie en word die
aanspreeklikheid van ‘n versekeraar daarkragtens
nie uitgesluit of beperk nie en word die verpligtings van die eienaar daarvan
nie verhoog nie, weens enige voorstelling wat aan ‘n versekeraar gemaak is
en nie waar is nie, hetsy daardie voorstelling as
waar gewaarborg is al dan nie,
tensy die onjuistheid van bedoelde voorstelling sodanig is dat dit waarskynlik
die berekening van
die risiko onder bedoelde polis wesentlik beïnvloed het
ten tyde van die uitreiking of enige herstelling of hernuwing
daarvan.”
[6] Om redes wat nie duidelik is nie, het die
verhoorhof beslis dat die appellant hom nie van die bewyslas gekwyt het nie.
Blykbaar
het Beckley R egter ‘n argument van die respondent se advokaat
aanvaar. Dit was dat die appellant moes bewys het dat die
onjuiste
inligting die risiko waaraan die appellant blootgestel is deur die
uitreiking van die onderhawige polis, wesenlik beïnvloed het, en dit nie
gedoen
het nie. Hierdie was natuurlik ‘n verkeerde benadering. Die
kernvraag is immers of die juiste inligting die beraming van die risiko
na die oordeel van ‘n redelike persoon sou beïnvloed het,
byvoorbeeld deurdat die appellant eers verdere
inligting sou ingewin het voordat
hy sou besluit het om die risiko al of nie te aanvaar (vgl President
Versekeringsmaatskappy Bpk v Trust Bank van Afrika Bpk 1989 (1) SA 208(A)
216 D-F.) Met ander woorde, die vraag is nie net of die juiste
inligting die risiko sou beïnvloed het nie,
maar ook of dit
‘n uitwerking sou gehad
het op die appellant se beoordeling van
die risiko. (Vgl Qilingele v South African Mutual Life Assurance Society
1993 (1) SA 69 (A) 75 D-F).
[7] Aan hierdie kriterium is wel voldoen. Dit
is duidelik, beide uit die getuienis en deur aanwending van gesonde verstand,
dat
die vraag aangaande ‘n volledige mediese verklaring gestel is sodat
die appellant kon weet of ‘n ander versekeraar sedert
1986 in die lig van
sodanige verklaring ‘n lewenspolis aan die oorledene uitgereik het.
Indien wel, was daar in die lig van
die bevestiging dat die oorledene se
gesondheid daarna nie verswak het nie, weinig rede waarom die appellant nie ook
‘n soortgelyke
risiko sou aanvaar nie. Indien nie, sou die appellant
ongetwyfeld òf nie die risiko aanvaar het nie, òf ‘n
volledige
verklaring aangevra het sodat dit self die risiko kon evalueer. Dit
is gevolglik onnodig om in te gaan op die vraag of die tweede
onjuiste antwoord
wesenlik in bogenoemde sin was. Dit kom ook nie daarop aan of ‘n mens die
benadering van Kriegler Wnd AR
in Qilingele dan wel dié van Schutz
AR in Clifford v Commercial Union Insurance Co of SA Ltd [1998] ZASCA 37; 1998 (4) SA 150
(A) volg nie.
[8] Die appellant het versoek dat indien die appèl sou
slaag die koste van twee advokate toegelaat moet word. Na my mening
het die
appèl egter nie die oploop van sodanige koste geregverdig nie.
[9] Die
appellant het kort voor die verhoor van die appèl afstand gedoen van
‘n spesiale verweer wat in die verhoorhof
geopper is en met koste van die
hand gewys is. Gevolglik het die appellant se advokaat uit eie beweging
toegegee dat die koste verbonde
aan die insluiting van pp 38-67, 79-102, 135,
143-184, en pp 1-4 van Volume 4, van die oorkonde nie deel van die
appèlkoste
moet wees nie. Ook is tereg toegegee dat ‘n spesiale
kostebevel gemaak deur Beckley R moet bly staan.
[10] Gevolglik slaag die
appèl met koste uitgeslote die koste meegebring deur die insluiting van
pp 38-67, 79-102, 135, 143-184,
en pp 1-4 van Volume 4, van die oorkonde. Die
bevel van die verhoorhof van 6 Maart 1996 word met die volgende
vervang:
“Die eisers se aksie word met koste afgewys, maar die
verweerder word gelas om die koste meegebring deur die tweede stel vrae
ter
voorbereiding vir verhoor, gedateer 21 Januarie 1997, en die tweede stel vrae
ingevolge Hofreël 37(4), gedateer 22 Januarie
1997, te betaal op die skaal
van toepassing tussen prokureur en eie kliënt”.
HJO VAN HEERDEN
Adjunk Hoofregter
Stem saam:
VIVIER AR
HARMS
AR
MARAIS AR
SCOTT AR