South Africa: Supreme Court of Appeal

You are here:
SAFLII >>
Databases >>
South Africa: Supreme Court of Appeal >>
1999 >>
[1999] ZASCA 8
| Noteup
| LawCite
S v Abbott (26/97) [1999] ZASCA 8; [1999] 2 All SA 175 (A) (8 March 1999)
Download original files |
In die saak tussen:
JOHNNY M
ABBOTT Appellant
en
DIE
STAAT Respondent
Coram: Hefer, F H Grosskopf en Marais ARR
Verhoor: 16 Februarie
1999
Gelewer: 8 Maart 1999
U I T S P R A A K
Strafproses - toelaatbaarheid van aanwysings
F H
GROSSKOPF AR:
[1] Die appellant en ’n mede-beskuldigde het voor
Buys R in die Kalahari Rondgang Plaaslike Afdeling tereggestaan op
aanklagte van moord, roof en menseroof. Die appellant was beskuldigde
2 in die
hof a quo. Albei is op al drie aanklagte skuldig bevind en tot ’n
effektiewe termyn van 24 jaar gevangenisstraf gevonnis.
[2] Beskuldigde
1 se aansoek om verlof om teen sy skuldigbevinding en vonnis te appelleer is
deur die hof a quo van die hand gewys. In die geval van die appellant is
beperkte verlof om te appelleer toegestaan, soos blyk uit die bevel van die
hof
a quo wat soos volg lui:
“2. Die beskuldigde nommer 2 se aansoek om op die meriete teen sy skuldigbevinding en vonnis te appelleer word van die hand gewys.
3. Die beskuldigde nommer 2 se aansoek om teen hierdie Hof se uitspraak in die binneverhoor te appelleer word toegestaan op die volgende gronde naamlik dat daar ’n redelike moontlikheid is dat:
(a) die Grondwetlike Hof mag beslis dat:
(i) die beskuldigde nommer 2 se versuim om te getuig of getuienis aan te
bied nie teen hom in aanmerking geneem kon word nie weens
die bepalings van
artikel 25(1)(c) van die Grondwet;
(ii) die beskuldigde nommer 2 se regte
op regsverteenwoordiging nie behoorlik ingevolge artikel 25(1)(c) van die
Grondwet aan
hom verduidelik is nie.
(b) Die Appèlhof mag beslis dat die aanwysing en gepaardgaande
verklaring deur die beskuldigde nommer 2 nie vrywillig en
ongedwonge was nie
weens sy verklaring aan Superintendent Myburgh dat hy aangerand was.
4. Verlof word aan die beskuldigde nommer 2 verleen om eers die gronde waarna in paragraaf 3(b) hierbo verwys word op appèl te neem na die Appèlafdeling van die Hooggeregshof van Suid-Afrika.”
[3] Dit
is duidelik dat daar geen algemene verlof om te appelleer aan die appellant
toegestaan is nie. Soos ek die bevel van die
hof a quo begryp, is die
omvang van die appèl voor hierdie hof beperk, eerstens tot die uitspraak
van die hof a quo in die binneverhoor, en dan tweedens tot die enkel
vraag of die appellant se aanwysings en gepaardgaande verklarings vrywillig en
ongedwonge was, gesien sy verklaring aan superintendent Myburgh dat hy aangerand
was. Daar is geen verdere appèl op enige
ander aspek van die saak voor
ons nie.
[4] Die beperkte basis waarop verlof om te appelleer
toegestaan is, mag probleme geskep het indien hierdie hof die
toelaatbaarheidsaspek
gemeld in paragraaf 3(b) van die bevel in die guns van die
appellant sou beslis het. Dan sou die vraag ontstaan het of die
skuldigbevinding
kon bly staan en of die appellant op die oorblywende getuienis
aan enige van die misdrywe skuldig was.
[5] Ten einde die bevel in
paragraaf 3(b) in konteks te sien, is dit nodig om kortliks na sekere getuienis
in die binneverhoor
te verwys. Die appellant, beskuldigde 1 en nog twee ander
verdagtes is omstreeks 11:30 op Woensdag 28 Junie 1995, die oggend nadat
die
misdade gepleeg is, deur kaptein Jacobs en inspekteur Van der Westhuizen
gearresteer. Die vier verdagtes het in ’n motor
gery wat deur die
appellant bestuur is toe die polisie hulle voorgekeer het. Aangesien die
polisie vermoed het dat die verdagtes
in besit van vuurwapens kon wees, het
hulle die vier beveel om uit te klim en op die grond te gaan lê. Volgens
Van der Westhuizen
het die appellant op ’n stadium probeer opstaan waarop
hy die appellant op sy rug getrap het om hom weer plat op die grond
te
kry.
[6] Dieselfde Woensdag om ongeveer 15:25 is die appellant na
superintendent Myburgh by die Hartswater speurderskantoor geneem.
Myburgh sou
die beoogde aanwysings waarneem. Voordat die aanwysings ’n aanvang geneem
het, het Myburgh ’n onderhoud
met die appellant gevoer. Hy het aan die
hand van ’n standaard vorm die appellant se regte aan hom verduidelik en
hom onder
andere gewaarsku dat hy nie verplig was om enige toneel of punt op die
toneel aan te wys of om enigiets daaromtrent te sê nie.
Die appellant het
aangedui dat hy die waarskuwing verstaan. Op die daaropvolgende vraag van
Myburgh het hy geantwoord dat hy nog
begerig is om die toneel en punte aan te
wys.
[7] Al die vrae wat Myburgh die appellant gevra het, verskyn op
die standaard vorm. Een van daardie vrae was of die appellant
deur enige
persoon aangerand, gedreig of beïnvloed was om die aanwysings te doen,
waarop die appellant soos volg geantwoord
het:
“Ja die speurder het
my getrap toe val ek teen die tafel.”
Myburgh het die appellant
vervolgens gevra of hy enige beserings of kneusings van welke aard ook al het,
waarop die appellant geantwoord
het dat hy nie weet of daar enige merke is nie.
Daarna het Myburgh die appellant versoek om sy oorpak baadjie en hemp uit te
trek,
en het Myburgh sy waarneming soos volg genotuleer:
“Effense
rooierige merk agter op rug tussen blaaie.”
Die appellant is gevra hoe
hy die besering opgedoen het, waarop hy soos volg geantwoord
het:
“Toe die speurder my trap, het ek teen die tafel
geval.”
Myburgh het getuig dat hy hom streng by die bewoording van die
vorm gehou het en dat hy nie enige verdere vrae ter opheldering van
die beweerde
aanranding gevra het nie. Myburgh is gekritiseer omdat hy versuim het om
verdere vrae in dié verband te vra.
Dit is ’n aspek waarop ek
later sal terugkom.
[8] Direk na die voorlopige ondervraging van die
appellant het Myburgh voortgegaan met die aanwysings. Volgens die appellant se
aanwysings en verduidelikings plaas hy homself op die toneel in die geselskap
van die oorledene en beskuldigde 1 op die betrokke
Dinsdagaand toe die misdade
gepleeg is.
[9] Die verdediging het betwis dat die appellant se
aanwysings en gepaardgaande verklarings vrywillig en ongedwonge was. Die
bewyslas
rus natuurlik op die Staat om aan te toon dat aanwysings en
gepaardgaande verklarings vrywilliglik en ongedwonge deur ’n beskuldigde
gemaak is. (S v Sheehama [1991] ZASCA 45; 1991 (2) SA 860(A) op 878H-880C; S v
January; Prokureur-Generaal, Natal v Khumalo 1994(2) SASV 801 (A) op
806h-807g.) ’n Binneverhoor het gevolg waartydens verskeie lede van die
polisiediens, insluitende
superintendent Myburgh en inspekteur Van der
Westhuizen getuig het. Die appellant het nie self in die binneverhoor getuig
nie, en
terloops ook nie in die hoof verhoor nie, soos hy natuurlik geregtig was
om te doen. Daar is ook geen ander getuienis namens die
appellant tydens die
binneverhoor aangebied nie.
[10] Die enigste getuienis onder eed dat
daar geweld op die appellant toegepas is, is Van der Westhuizen se getuienis dat
hy tydens
die arrestasie op die appellant se rug getrap het. Die appellant
steun egter nie op daardie geweld vir sover dit die toelaatbaarheid
van sy
aanwysings betref nie. Volgens die appellant se advokaat verwys die aanranding
wat die appellant aan Myburgh genoem het,
(nl dat ’n speurder hom getrap
het en dat hy teen ’n tafel geval het) ook glad nie na Van der Westhuizen
se trap nie,
en bestaan daar dus geen verband tussen Van der Westhuizen se trap
en die beweerde aanranding nie.
[11] Dit is egter die appellant se
saak, soos blyk uit stellings wat sy advokaat tydens kruisondervraging aan die
staatsgetuies
gemaak het, dat hy veel erger aangerand was as wat Myburgh op die
vorm aangeteken het. Volgens daardie stellings tydens kruisverhoor
sou die
appellant verder aan Myburgh genoem het dat hy deur sekere polisiebeamptes met
die vuis en plat hand geslaan is en dat hy,
soos dit gestel is,
ge-”choke” is, wat volgens die appellant se advokaat beteken dat hy
geskok is met ’n elektriese
porstok wat gebruik word om beeste mee aan te
por. Dit is verder aan Myburgh gestel dat die appellant aan hom sou gesê
het
dat hy voorgesê is wat om aan Myburgh te sê. Myburgh het al
hierdie bewerings ontken en geantwoord dat dit wat op die
vorm staan presies is
soos wat die appellant dit aan hom meegedeel het.
[12] Dit is tydens
die verdediging se kruisondervraging in die binneverhoor aan Van der Westhuizen
gestel dat hy die appellant ten
tyde van die arrestasie eers beledig het en toe
plat geskop het. Dit is verder aan hom gestel dat hy en ander polisiebeamptes
die
appellant daarna by die speurderskantoor in Hartswater geklap en met die
vuis geslaan het, en dat hulle aan die appellant gesê
het dat hy
“sekere punte” moet gaan uitwys. Hierdie aantygings is almal deur
Van der Westhuizen ontken. Soortgelyke
stellings van aanrandings is ook aan
die ander polisie getuies gemaak maar deur hulle ontken.
[13] Die
bewering van ’n enkel aanranding wat die appellant voor die aanwysings aan
Myburgh genoem het, was nie tydens kruisondervraging
verder toegelig nie. Daar
was trouens geen bewering tydens die kruisondervraging namens die appellant dat
’n speurder hom
getrap het en dat hy toe teen ’n tafel geval het
nie.
[14] Die hof a quo het in sy uitspraak in die binneverhoor
bevind dat die appellant nie aangerand was nie en dat die aanwysings vrywillig
en ongedwonge
was. Daar was direkte en prima facie aanvaarbare getuienis
van die staatsgetuies dat die appellant nie aangerand was nie (soos tydens
kruisondervraging deur hom beweer)
en dat die aanwysings vrywillig en ongedwonge
was. Daar was geen getuienis tot die teendeel waarvolgens die korrektheid en
geloofwaardigheid
van daardie getuienis beoordeel kon word nie. Die hof a
quo het egter nie die staat se getuienis sonder meer aanvaar nie, maar eers
tot ’n beslissing gekom nadat die korrektheid en betroubaarheid
van
daardie getuienis oorweeg is in die lig van die bewerings van aanranding deur
die appellant gemaak. Met daardie benadering
kan geen fout gevind word
nie.
[15] Die vraag is of die hof a quo se beslissing in hierdie
verband korrek was of nie. Na my mening kan dit nie gesê word dat die hof
a quo in enige opsig in sy beoordeling van die getuienis misgetas het
nie, en is daar geen rede om die korrektheid van die hof se feitebevindings
in
twyfel te trek nie. Gesien Van der Westhuizen se getuienis dat hy tydens
arrestasie op die appellant se rug getrap het, kan die
“effens rooierige
merk” op die appellant se rug ook min, indien enige, stawing vir die
beweerde aanranding bied.
[16] Die betoog is egter dat die appellant se
aanwysings om ander oorwegings nie toegelaat moes gewees het nie. Daar is
aangevoer
dat Myburgh hoegenaamd nie sonder verdere navrae met die aanwysings
moes voortgegaan het nadat die appellant eenmaal verklaar het
dat hy aangerand
was nie. Dit is gemene saak dat Myburgh nie verdere vrae gevra het nie maar dat
hy hom streng by die vrae in die
standaard vorm gehou het. Die appellant se
betoog is dat Myburgh sy plig in hierdie opsig versuim het. Hy is verder verwyt
omdat
hy nagelaat het om die appellant te vra of hy ondanks die beweerde
aanranding nog steeds begerig was om met die beoogde aanwysings
voort te gaan.
Die hof a quo het bevind dat daar sonder enige twyfel ’n plig op
superintendent Myburgh gerus het om die hele aangeleentheid verder te ondersoek
en dat hy sy plig in hierdie verband skromelik versuim het. Die appellant se
argument was dat Myburgh se pligsversuim so ernstig
van aard was dat dit
opsigselfstaande die aanwysings uitgesluit het.
[17] Soos reeds gemeld het
die hof a quo bevind dat die staat bewys het dat die appellant nie
aangerand of gedwing was om die aanwysings te doen nie. Die hof a quo
het verder daarop gewys dat die verdediging nie tydens die binneverhoor na die
beweerde trap op die appellant se rug verwys het nie,
en dat dit dus suiwer
teoretiese bespiegelinge sou wees as daar oorweging geskenk moes word aan
moontlike vrae ter opheldering van
’n beweerde aanranding waarop appellant
self nie langer wou steun nie. Die hof a quo het gevolglik bevind dat
die aanwysings nie as gevolg van hierdie versuim van Myburgh ontoelaatbaar is
nie.
[18] In die appellant se hoofde van betoog in hierdie hof word die
submissie gemaak dat Myburgh se nalate om die aangeleentheid
volledig en deeglik
te ondersoek “fataal vir die staat se saak is”. Die appellant steun
in hierdie verband op ’n
reeks beslissings wat handel met die plig wat
daar op landdroste rus wat ’n bekentenis afneem om seker te maak dat die
verklaarder
die verklaring vrywillig en ongedwonge wil maak, en indien daar
redelike twyfel bestaan, om verdere vrae te vra wat nie in die standaard
vorm
voorkom nie. Vergelyk S v Dhlamini en Andere 1981(3) SA 1105 (W) op
1117B-1118A; S v Kekane and Others 1986(4) SA 466 (W) op 474 D-E en 477
A-C; S v Malume en Andere 1990(1) SASV 65 (T) op 72 h-i; S v Jika
and Others 1991(2) SASV 489 (E) op 500 e-i; S v Colt and Others
1992(2) SASV 120 (E) op 124 c-g; S v Sabisa 1993(2) SASV 525 (Tk A) op
532 f-h.
[19] In geeneen van hierdie sake is dit egter beslis dat
’n landdros se pligsversuim in hierdie verband fataal vir die staat
se
saak was nie. Hierdie sake het hoofsaaklik gehandel met die vraag of die
betrokke beskuldigde ingevolge die bepalings van die
destyds geldende art
217(1)(b)(ii) van die Strafproseswet 51 van 1977 met die bewyslas opgesaal moes
word om aan te toon dat hy sy
bekentenis nie vrywillig en ongedwonge
afgelê het nie. Daar is beslis dat ’n landdros behoorlik ondersoek
moet instel
om te bepaal of die bekentenis vrywillig en ongedwonge gemaak gaan
word. Indien hy versuim om dit te doen, kan dit lei tot ’n
bevinding dat
daar nie aan die vereistes van art 217(1)(b)(ii) voldoen is nie. Dan het die
bewyslas op die staat bly rus. Sedert
die Konstitusionele Hof in S v Zuma
and Others 1995(2) SA 642 (CC) op 662 C-D [39] beslis het dat art
217(1)(b)(ii) onkonstitusioneel en gevolglik ongeldig is, bestaan hierdie
besondere probleem egter nie meer nie.
[20] Daar is deur die jare
verskeie aanbevelings van die kant van die regbank gemaak met betrekking tot
vrae wat veral landdroste
behoort te vra voordat ’n beskuldigde se
bekentenis geneem word. Hierdie voorgestelde vrae is opgeneem in standaard
vorms
wat deur landdroste en polisie offisiere gebruik word vir bekentenisse en
aanwysings. So byvoorbeeld het Feetham AR in Rex v Gumede and Another
1942 AD 398 op 433 gewaarsku teen
“the dropping of a veil between the previous interrogations by the police and the subsequent appearance of the interrogated person before the magistrate”,
en het die geleerde regter
voorgestel dat
“some rule of procedure should be laid down as to questions to be asked by a magistrate, so that the person making a statement before a magistrate may be encouraged to disclose what has led up to his appearance before the magistrate for the purpose of making his statement.”
In die lig van Feetham
AR se opmerking in die Gumede saak het De Wet HR die volgende
aanbeveling op 400 van dieselfde saak gemaak:
“I would suggest very earnestly for the consideration of the Minister of Justice the desirability of issuing instructions to all magistrates and justices of the peace that, when an accused is brought before them for the purpose of making any statement in the nature of a confession, they should in the first place inquire from him whether he has already made a statement and if so the nature of such statement and especially the reasons actuating him in wishing to repeat the statement.”
[21] In
opvolging van die aanbevelings in die Gumede saak het Ogilvie
Thompson, destyds Wnd AR, in R v Mtabela 1958(1) SA 264 (A) op 269
B-D weereens benadruk dat landdroste die voorgeskrewe vrae moet vra en die
antwoorde neerskryf:
“While I agree with the view expressed by HERBSTEIN, J., in R v Hector, 1954 (2) S.A. 138 (C) at p.142, that it is not for the magistrate recording a confession, but for the trial Court, to determine any questions of duress or undue influence which may be raised, it is, I think, nevertheless desirable to emphasise that magistrates should, before proceeding to record a confession or statement, be meticulous in making the various preliminary enquiries prescribed by the departmental instructions and in recording the replies thereto. The safeguards prescribed by the statute are rendered illusory if the magistrate permits himself to become merely an amanuensis.”
[22] Soos egter uit die
laasgenoemde passasie blyk het die geleerde regter dit duidelik gestel dat dit
die verhoorhof is, en nie
die landdros voor wie die bekentenis gemaak is nie,
wat moet beslis of die bekentenis vrywillig en ongedwonge is. Met verwysing
na
die bogenoemde “rule of procedure” wat Feetham AR in
Gumede se saak voorgestel het, wys Ogilvie Thompson Wnd AR
op 268 D-F in die Mtabela saak verder daarop dat nie-nakoming van die
departementele voorskrifte nie noodwendig meebring dat die verklaring
ontoelaatbaar is
nie:
“Salutary though this rule is, it remains an administrative rule only, the mere non-observance of which will not necessarily render the statement inadmissible. The question remains one of fact: has it been established in the particular instance that the statement was voluntary? (R. v. Kuzwayo, 1949 (3) S.A. 761 (A.D.) at p. 768; R.v. Jacobs, 1954 (2) S.A. 320 (A.D.) at p. 327). In my view, for the reasons indicated earlier in this judgment, it was duly shown that appellant’s confession was made voluntarily and without undue influence; and in the circumstances of this case the magistrate’s failure to make any enquiry regarding any possible prior statement does not render appellant’s confession inadmissible.”
En dan vervolg die geleerde
regter verder soos volg op 268 F-G:
“The contention that the magistrate also failed in other respects to make appropriate enquiries of appellant before recording what the latter had to say would, on the facts of this particular case, likewise not suffice to exclude the confession.”
(Kyk verder S v Khoza en
Andere 1984(1) SA 57(A) op 59E-60A; S v Magwaza 1985(3) SA 29(A) op
36G-37E; S v Mbatha en Andere 1987(2) SA 272(A) op
279G-280B.)
[23] In die lig van die feite in die onderhawige saak was
Myburgh se versuim om verdere vrae ter opheldering van die beweerde aanranding
te vra myns insiens nie voldoende rede opsigselfstaande om die aanwysings uit te
sluit nie. Myburgh het die beweerde aanranding
aangeteken, maar dit was nie sy
plig om te beslis of dit die waarheid was of nie. Dit was die taak van die
verhoorhof om uiteindelik
in die lig van al die relevante getuienis te beslis of
die aanwysings vrywillig en ongedwonge geskied het. Soos reeds aangedui het
die
hof a quo tereg bevind dat dit wel die geval was.
[24] Na my
oordeel het die hof a quo die appellant se aanwysings en gepaardgaande
verklarings ondanks Myburgh se gemelde versuim tereg toegelaat. Die
appèl van
die appellant wat voor hierdie hof dien word dus
afgewys.
-------------------------
F H
GROSSKOPF
Appèlregter
Hefer AR)
stem saam
Marais
AR)