South Africa: Supreme Court of Appeal

You are here:
SAFLII >>
Databases >>
South Africa: Supreme Court of Appeal >>
1999 >>
[1999] ZASCA 85
| Noteup
| LawCite
S v Kearns (539/98) [1999] ZASCA 85 (26 November 1999)
Download original files |
IN DIE HOOGSTE HOF VAN APPèL
VAN SUID-AFRIKA
Saaknommer: 539/98
In die saak
tussen:
YOLANDA KEARNS APPELLANT
en
DIE
STAAT RESPONDENT
CORAM: HEFER, MARAIS ARR en MPATI Wnd AR
VERHOOR: 19 NOVEMBER 1999
GELEWER: 26 NOVEMBER 1999
UITSPRAAK
Diefstal - geld van werkgewer - gepastheid van korrektiewe
toesig.
MPATI Wnd AR
Die appellant het in
die streekhof in Paarl tereggestaan op 20 aanklagte van bedrog. Nadat sy
skuldig gepleit het, is sy tereg skuldig
bevind op al die aanklagte wat toe
saamgeneem is vir doeleindes van vonnis. Die vonnis haar opgelê is een
van 3 jaar gevangenisstraf,
onderhewig aan die bepalings van art 276(1)(i) van
Wet 51 van 1977 (die Strafproseswet). Daarbenewens is ‘n bevel gemaak in
terme van art 300 van die Strafproseswet vir die terugbetaling, deur die
appellant, van die bedrag van R67 740,61 aan die klaer.
‘n Appèl
na die Kaapse Provinsiale Afdeling van die Hooggeregshof teen die vonnis het
misluk en met verlof van daardie
hof kom die appellant nou in hoër
beroep.
Na die appellant se skuldigbevinding is die saak uitgestel vir
doeleindes van ‘n korrektiewe beampte se verslag, wat die landdros
mero
motu aangevra het. Die tersaaklike feite en omstandighede waaronder die
misdade gepleeg is blyk uit die appellant se skriftelike verklaring
wat
ingevolge art 112(2) van die Strafproseswet by die verhoor ingehandig is, asook
uit drie verslae wat deur ‘n sielkundige,
maatskaplike werker en die
korrektiewe beampte respektiewelik opgestel is. Die verslae van die sielkundige
en maatskaplike werker
is by ooreenkoms tussen die staat en die verdediging
ingehandig, terwyl die korrektiewe beampte, Me Linda van Wyk, ook getuienis
afgelê het. Die appellant het self nie getuig nie.
Tydens die pleging
van die misdrywe was die appellant al 7 jaar werksaam by KWV, waar sy R2 803 per
maand verdien het. Die misdrywe
is gepleeg gedurende die periode 31 Julie 1996
tot 5 November 1996. Die appellant was werksaam by die verkope afdeling van
KWV
in Paarl en was verantwoordelik vir die ontvangs van alle
kredietkaartbetalings op klante se rekeninge asook vir betalings deur
personeellede.
Sy het ook alle kontant ontvang van verkope wat by die verkope
afdeling plaasgevind het. Haar modus operandi was om wel kwitansies uit
te maak vir betalings wat sy ontvang het en daardeur voor te gee dat ‘n
sekere klant se rekening
nie in debiet was nie, terwyl sy die betaalde bedrag
vir haarself toegeëien het. Aan haar werkgewer se kant het sy voorgegee
dat die rekeninge nie vereffen was nie. Die totale bedrag wat die appellant op
hierdie wyse verduister het, is R67 740,61.
Die redes wat tot die pleging
van die misdrywe gelei het, is soos volg saamgevat in die appellant se art
112(2) verklaring:
“Ek het hierdie geld gebruik vir my eie persoonlike voordeel, aangesien my moeder sieklik was en my vader reeds lank oorlede was en ek verantwoordelik was vir die huishouding en die onderhoud daarvan.”
By vonnisoplegging op 22
Augustus 1997 was die appellant 28 jaar oud. Sy was ongetroud en het by haar
verloofde gewoon. As gevolg
van die misdrywe het sy haar betrekking by KWV
verloor. Die appellant se vader is reeds op 30 April 1988 oorlede. Haar moeder
was
‘n chroniese alkoholis en as gevolg van hierdie omstandighede was die
appellant op ‘n 20-jarige ouderdom genoodsaak om
verantwoordelikheid te
neem vir die hele gesin se funksionering en versorging. Sy moes reëlings
tref vir haar moeder se opname
by verskeie inrigtings vir detoksifikasie. Sy
moes oor lang periodes vir haar moeder sorg en moes ook haar jonger broer help
met
behuising, klerasie en ander noodsaaklikhede. Dit blyk dat sy
finansiëel nie in al hierdie behoeftes, tesame met haar eie,
kon voorsien
nie. Haar moeder is op 25 Maart 1997 oorlede.
As strafversagtend het die
verhoorlanddros die volgende feite in appellant se guns in ag geneem: dat sy
‘n eerste oortreder
is; dat sy skuldig gepleit het en haar
bereidwilligheid verklaar het om KWV terug te betaal vir die verliese wat hulle
gely het en
dat sy werklike berou getoon het. Sy het ook daartoe ingestem dat
haar pensioengelde waartoe sy bygedra het en wat ‘n bedrag
van R17 882,69
beloop het, aan KWV oorbetaal word ter gedeeltelike vereffening van die skuld.
Die balans sou sy deur middel van
maandelikse paaiemente van R100
vereffen.
Aan die ander kant het die verhoorlanddros hom soos volg
uitgelaat:
“As die Hof egter stilstaan by die misdrywe waaraan u skuldig bevind is en die erns daarvan, moet u besef en ek dink u besef inderdaad dat u skuldig bevind is aan 20 baie ernstige oortredings.
Eerstens is dit so dat u by KWV in ‘n vertrouensposisie was. U het vir meer as sewe jaar by hulle gewerk en u het ‘n sekere verhouding met die bestuur en die werknemers van KWV opgebou.”
En verder:
“Ek moet ook in gedagte hou dat daar ‘n plaag van witboordjiemisdaad plaasvind in hierdie land. Daagliks verskyn mense in ons Howe op klagtes van bedrog en diefstal van soms enorme bedrae geld.”
Mnr Klem, namens die appellant, het
voor ons betoog dat op die feitestel van hierdie saak die landdros fouteer het
deur nie ‘n
vonnis ingevolge art 276(1)(h) van die Strafproseswet op te
lê nie en dat hierdie Hof kan ingryp met die opgelegde vonnis omrede
‘n vonnis opgelê kragtens art 276(1)(h) wesenlik verskil van
‘n vonnis opgelê kragtens art 276(1)(i). (Daar
sal onthou word dat
die vonnis wat die landdros in hierdie saak opgelê het onderhewig is aan
die bepalings van art 276(1)(i)
van die Strafproseswet.) Mnr Klem het ook
aangevoer dat die verhoorhof te min klem gelê het op die appellant se
persoonlike
omstandighede en te veel op die erns van die misdryf en die
vergeldingselement by oplegging van ‘n gepaste vonnis. Mnr Klem
het
verder aangevoer dat indien die verhoorhof se uitspraak oor vonnis ontleed word
sal gesien word dat die landdros bevind het dat
die ellendige omstandighede
waarin die appellant haarself bevind het nie genoegsaam was om ‘n vonnis
ingevolge art 276(1)(h)
van die Strafproseswet nie te veroorloof nie.
Die
feit dat ‘n hof by die oorweging van ‘n gepaste vonnis tot die
slotsom kom dat die belange van die gemeenskap, as
gevolg van die erns en
veelvuldige voorkoms van die misdryf, swaarder moet weeg as ‘n beskuldigde
se persoonlike omstandighede
beteken nie noodwendig dat die hof fouteer het nie.
Daar is wel gevalle, soos die huidige, waar ‘n hof nie sy oë kan
toemaak
vir die geweldige toename in die voorkoms van ‘n sekere oortreding
nie. Soos deur beide die verhoorhof en die hof a quo opgemerk het die
appellant in ‘n vertrouensposisie verkeer toe sy die misdrywe, waaraan sy
skuldig bevind is, gepleeg het.
Die verhoorhof het ook in ag geneem dat hierdie
soort misdryf, die sogenaamde witboordjiemisdryf, ‘n plaag in ons land is.
Verder is die misdrywe waaraan die appellant skuldig bevind is oor ‘n
periode van vyf maande gepleeg en dus het sy nie op die
ingewing van die oomblik
opgetree nie. Groot bedrae geld was betrokke. Gedurende Augustus 1996 het die
appellant byvoorbeeld ‘n
totale bedrag van R27 599,09 geneem. In Oktober
1996 het die totale bedrag R10 207,96 beloop en in November 1996 was die totale
bedrag R19 884,12. Ek het reeds genoem dat die appellant nie self getuig het
nie en daar is dus geen getuienis oor die presiese
aanwending van hierdie groot
bedrae geld nie. Onder die omstandighede is dit myns insiens nie onredelik om
die afleiding te maak
dat sy nie die geld net op die huishouding, haar siek
moeder en jonger broer aangewend het nie. Hebsug, glo ek, moes ook in die
prentjie gekom het. Nog ‘n faktor wat die verhoorhof in ag geneem het as
strafverswarend is die feit dat daar by die appellant
se wergewer reeds ‘n
skema beskikbaar was waardeur personeellede geld kon leen as hulle in nood sou
wees. Daar is geen getuienis
dat die appellant nie daarvan bewus was nie. Sy
moes daarvan bewus gewees het maar sy het verkies om geld op ‘n
bedrieglike
wyse van haar werkgewer te neem eerder as om gebruik te maak van die
beskikbare skema.
Die omstandighede waaronder die appellant haarself bevind
het - om vir ‘n gesin op ‘n 20-jarige ouderdom te voorsien terwyl
haar moeder ‘n alkoholis was - het sy vir 6 jaar verduur. Waarom sy eers
in die sewende jaar begin het met die pleging van
die misdrywe is onverstaanbaar
en glad nie verduidelik nie. Wanneer na al hierdie feite gekyk word, is ek nie
daarvan oortuig dat
die verhoorhof te min klem gelê het op die appellant
se persoonlike omstandighede en te veel op die erns en veelvuldige voorkoms
van
die misdrywe nie.
Mnr Klem het ook aangevoer dat die landdros nie die effek
wat gevangesetting op die appellant sal hê, oorweeg het nie. Hy het
verder betoog dat ons hier te doen het met ‘n eerste oortreder wat begrip
het vir wat sy gedoen het en wat nooit weer vir ‘n
soortgelyke misdryf
voor ‘n hof sal verskyn nie. Die appellant is wel as ‘n geskikte
kandidaat vir korrektiewe toesig
beskou, maar soos die hof a quo tereg
opgemerk het, moet geskiktheid vir korrektiewe toesig nie met ‘n geskikte
vonnis verwar word nie. In ‘n goed bedagte
uitspraak het die landdros,
nadat hy na hierdie Hof se uitspraak in S v Sinden 1995 (2) SASV 704 (A)
verwys het, tot die slotsom gekom dat korrektiewe toesig in die omstandighede
van hierdie geval nie ‘n
gepaste vonnis is nie. Ek kan geen fout vind met
die landdros se benadering nie. Die gevolg is dat daar nie met die uitoefening
van die verhoorhof se diskresie ingemeng kan word nie.
Die appèl word
derhalwe van die hand gewys.
MPATI Wnd AR
STEM SAAM:
HEFER
AR
MARAIS AR