South Africa: Supreme Court of Appeal

You are here:
SAFLII >>
Databases >>
South Africa: Supreme Court of Appeal >>
2001 >>
[2001] ZASCA 116
| Noteup
| LawCite
Swartz v Delport (224/2000) [2001] ZASCA 116; [2002] 2 All SA 309 (A) (28 September 2001)
Download original files |
REPUBLIEK VAN SUID-AFRIKA
IN DIE HOOGSTE HOF VAN APPEL
VAN SUID-AFRIKA
Rapporteerbaar
Saaknommer: 224/2000
In die saak tussen:
WILLEM SWARTZ
Appellant
en
JANNIE DELPORT
Respondent
CORAM: HEFER Wn HR, MPATI, MTHIYANE ARR,
CONRADIE en NUGENT Wn ARR
AANGEHOOR: 10 SEPTEMBER
2001
GELEWER: 28 SEPTEMBER
2001
Opsomming: Nalatigheid – Botsing tussen
motorvoertuig en bees op openbare pad – eienaar van draadheining langs
openbare pad –
plig van – feit dat bees deur draadheining toegang
tot pad verkry het nie op sigself aanduiding van nalatigheid
nie.
___________________________________________________________________
UITSPRAAK
__________________________________________________________________
MPATI
AR:
[1] Op Saterdag 19 Februarie 1994 om ongeveer 20:15 het
‘n botsing plaasgevind tussen die appellant se Datsun motorvoetuig wat
hy
self bestuur het en ‘n bruin Herefordbul. Die botsing het plaasgevind op
die R43 nasionale pad (R43) tussen Hermanus en
Botrivier in die Weskaap. Die
bul was die eiendom van die respondent. As gevolg van die ongeluk het die
appellant ernstige liggaamlike
beserings opgedoen. Sy voertuig is erg beskadig
en die bul is op slag dood.
[2] Die appellant het ‘n eis ingestel in die Kaapse Provinsiale Afdeling teen die respondent vir skadevergoeding as gevolg van sy beserings, asook vir die billike markwaarde van sy motorvoertuig op grond daarvan dat die ongeluk uitsluitlik veroorsaak is deur die nalatigheid van die respondent en/of die een of ander van sy werknemers, handelende in die loop en binne die bestek van hulle dienspligte met die respondent. Die beweerde gronde van nalatigheid soos uiteengesit in die besonderhede van vordering is dat die respondent of sy werknemer(s) versuim het om (a) enigsins of voldoende beheer oor die bees uit te oefen; (b) enigsins of behoorlik te verseker dat die bees in ‘n kamp bly; (c) enige of behoorlike voorsorg te tref daarteen dat die bees toegang verkry tot die pad waarop die appellant gery het en (d) om ‘n hek op die respondent se plaas toe te hou, wat daartoe gelei het dat die bees toegang tot gemelde pad verkry het.
[3] By die aanvang van die verhoor
het die Verhoorregter (Mitchell WnR) op versoek van die partye ‘n bevel
uitgevaardig in terme
waarvan die meriete en die quantum geskei is
(Reël 33(4) van die Eenvormige Hofreëls). Vervolgens het net die
meriete voor hom gedien. Die enigste vraag
vir beregting deur die Verhoorhof
was of die respondent en/of sy werknemer(s) kousaal nalatig was met betrekking
tot die botsing;
indien wel, of die appellant bydraend nalatig was en, indien
wel, die graad daarvan. Die Verhoorhof het die appellant op albei
geskilpunte
gelyk gegee, maar op appèl het die Volbank daardie beslissing tersyde
gestel en ‘n bevel uitgevaardig dat
die appellant se eis met koste afgewys
word. Met die nodige verlof kom die appellant nou in hoër
beroep.
[4] Die respondent is ‘n boer op die plaas Rooistrand.
Sy grond lê aan weerskante van die R43 tussen Hermanus en
Botrivier.
[5] Toe die botsing plaasvind was die appellant en sy
insittende, Mnr Lawrence Phillip Adams (Adams), op pad na Kleinmond vanaf
Hawston,
waarheen hulle vroeër die middag gereis het om perlemoen te gaan
haal. Adams het agter in die voertuig gesit. Hulle het getuig
dat met hulle
heenreis (na Hawston) hulle in die omgewing van die ongelukstoneel ‘n
bruin bees gesien het aan die oostekant
van die R43. Die bees was halflyf deur
die draadheining langs die R43 en was besig om aan die pad se kant van die
draadheining te
vreet. Daar was omtrent tien ander beeste in die kamp, so lui
die getuienis. Die appellant het ‘n opmerking gemaak dat die
bees wat
halflyf deur die draadheining was moeilikheid sou
veroorsaak.
[6] Hierdie getuienis is aangebied om aan te toon dat die
respondent se draadheining of stukke daarvan langs die R43 nie veewerend was
nie
en dat die respondent versuim het om dit in so ‘n toestand te onderhou dat
dit sou verhoed dat ‘n bees daardeur kon
gaan en op die pad beland, waar
dit ‘n gevaar sou skep vir padverbruikers. Die Verhoorhof het hierdie
getuienis verwerp.
In sy verklaring wat deur speurder-sersant Mathys Jacobus
van Tonder op 30 Maart 1994 afgeneem is, maak die appellant melding daarvan
dat
‘n ambulans hulle verbygesteek het “[r]egoor die plaas
Rooistrand” en dat die botsing net daarna plaasgevind
het. Hy gaan verder
in sy verklaring en sê dat hy nie geweet het wie die eienaar van die bees
was nie en dat hy verlang dat
die eienaar daarvan vervolg moes word. Dit is na
my oordeel onverklaarbaar waarom die appellant in sy verklaring geen melding
maak
van die feit dat hy en Adams vroeër die dag van die botsing in die
omgewing van die botsingstoneel ‘n bees gesien het
wat halflyf deur die
draadheining langs die R43 pad was nie, veral wanneer hy ook ‘n opmerking
gemaak het dat genoemde bees
moeilikheid sou veroorsaak. Dit is inderdaad so
dat dit nie die appellant se saak was dat die bees wat hy en Adams vroeër
gesien
het wel die bees was wat in die botsing betrokke was nie, maar die feit
dat hy ‘n bees gesien het in daardie omstandighede
sou, na my mening,
sekerlik nog helder in sy gedagte gewees het.
[7] Adams, wat ook
‘n verklaring voor Van Tonder afgelê het op 23 Mei 1994 het ook
nagelaat om daarin melding te maak van
die bees wat hulle sou gesien het wat
halflyf deur die draadheining staan en vreet. Mnr Olivier, namens die
appellant, het betoog dat die appellant en Adams met die aflê van hulle
verklarings moontlik net gevra sou gewees
het om die ongeluk te beskryf en nie
oor wat hulle vroeër die dag gesien het nie. Daarom kan hulle nie kwalik
geneem word vir
hulle nalate om melding te maak van die bees nie. Hierdie
betoog gaan myns insiens nie op nie. Dit sou nie nodig gewees het vir
Van
Tonder om die twee getuies te ondervra oor hulle heenreis om hulle te herinner
oor wat hulle vroeër die dag gesien het nie.
Soos ek reeds genoem het,
moes dit nog helder in die gedagte van ten minste die appellant gewees het.
Soos die Verhoorhof tereg
opgemerk het, sou dit as ‘n baie goeie beginpunt
gedien het vir enige ondersoek en die moontlike vervolging wat die appellant
verlang het. Na my mening was die Verhoorhof se verwerping van die getuienis
namens die appellant in hierdie verband heeltemal
geregverdig.
[8] Volgens die respondent was daar op die dag van die
botsing geen beeste in die kamp aangrensend aan en oos van die R43 nie. Sy
beeste,
waarvan die bul een was, het in ‘n ander kamp, by name die
Middelkamp geloop, wat ook oos van die R43 was. Die afstand tussen
laasgenoemde
kamp en die R43 is ongeveer 800 meter. Die respondent se getuienis dat daar op
die betrokke dag geen beeste in die
kamp wat aan die R43 grens was nie is tot
‘n mate gestaaf deur die getuienis van Jacobus Emanuel Boltney, ‘n
voormalige
lid van die Suid-Afrikaanse Polisie wat in 1994 gestasioneer was te
Hermanus. Hy het getuig dat hy die dag na die botsing die ongelukstoneel
bygewoon het. Hy het die drade in daardie omgewing nagegaan en geen beeste
waargeneem nie. Dit is nie in geskil dat die botsing
eers die Maandag daarna
tot die respondent se kennis gekom het nie. Daar moet dus aanvaar word dat die
beeste wel op die betrokke
dag in die Middelkamp was.
[9] Die
Middelkamp se draadheining bestaan uit vyf drade. Daar is drie draadhekke in
die heining en een daarvan is aan die kant naaste
aan die R43. Al drie hekke is
toegehou, maar nie gesluit nie. Die respondent het getuig dat nadat die botsing
onder sy aandag gebring
is, hy en een van sy werknemers, mnr Jan Ebersohn, wat
sedertdien oorlede is, die Middelkamp se draadheining asook dié van
die
kamp langs die R43 ondersoek en geen plek gevind het waar die bul kon deurgegaan
het nie. Al drie hekke van die Middelkamp was
toe en al die hekke in die
draadheining langs die R43 was gesluit. Die vraag is dan: hoe het die bul op
die pad beland? Na my
mening kan die moontlikheid dat die een of ander persoon
op die plaas, nie noodwendig een van die respondent se werknemers nie, maar
een
van hulle besoekers of ook ‘n familielid, per abuis een van die hekke van
die Middelkamp oopgelaat het en eers toegemaak
het nadat die bul uitgegaan het,
nie uitgesluit word nie. Dit volg dus nie dat omdat al drie hekke toe was twee
dae na die botsing,
die bul noodwendig deur die draad van die Middelkamp gegaan
het nie. Daar is deur die respondent gesuggereer dat die bul moontlik
op die
pad beland het as gevolg van ‘n poging tot diefstal, want toe hy en sy
werknemer na die ongeluk die draadheining langs
die R43 ondersoek het, het hulle
voertuigspore langs die heining gesien. Hierdie suggestie is na my mening
vergesog. Volgens die
aanvaarde getuienis was daar geen plek in die draadheining
waar drade geknip was nie. Dit sou baie maklik en gerieflik gewees het
vir die
beweerde diewe om eerder die draad langs die R43 af te knip om die bul daardeur
te jaag as om dit deur ‘n heel draadheining
van nege drade te probeer kry.
Wat dan na my oordeel meer waarskynlik is, is dat die bul op sy eie deur die
draad langs die R43 gegaan
het.
[10] Dit is namens die appellant in
hierdie Hof betoog dat die feit dat die bul deur die draadheining langs die R43
gegaan het ‘n
aanduiding is dat genoemde draadheining nie veewerend was
nie. Dit is verder aangevoer, en dit is deur die respondent toegegee,
dat omdat
sy plaas naby die kus geleë is die respondent genoodsaak was om sy
draadheinings gereeld in stand te hou vanweë
die feit dat die draadjies wat
die horisontale drade aan die stutpale en staanders vasbind aan roes onderworpe
is. Die respondent
het getuig dat hy sy drade gereeld onderhou het en dat hy op
18 Februarie 1994, die dag voor die botsing, die grensdraad langs en
oos van die
R43 saam met Ebersohn herstel het. Hy sou skape in daardie kamp ingejaag het en
dus moes hy die grensdraad herstel,
so het hy getuig. Die Verhoorhof was nie
deur hierdie getuienis beïndruk nie, en wel omdat die respondent in sy
hoofgetuienis
getuig het dat hy en sy genoemde werknemer die grensdraad die dag
voor die botsing ondersoek het en geen fout daarmee gevind het
nie. Maar in
kruisondervraging het hy getuig dat hulle herstelwerk gedoen het. Die
Verhoorhof het bevind dat die respondent sy
getuienis op hierdie aspek aangedik
het.
[11] Soos reeds vermeld het die respondent getuig dat hy
ná die ongeluk ook sy drade ondersoek het en geen fout daarmee gevind
het
nie. Daar is namens die appellant kritiek teen hierdie getuienis uitgespreek,
veral teen die respondent se getuienis dat hy
die drade ondersoek het deur hulle
uit die venster van sy bakkie te besigtig terwyl hy langs die draadheining gery
het. Dit is betoog
dat die respondent se sogenaamde ondersoek nie voldoende was
nie, want op die manier wat hy dit gedoen het, sou hy nie kon uitmaak
tot watter
mate die binddraadjies deurgeroes het nie. Die kritiek is na my mening nie
totaal ongegrond nie. Dit staan vas dat die
bul deur die grensdraad langs die
R43 moes gegaan het om op die pad te beland. Hierdie afleiding wat ook deur die
Verhoorhof gemaak
is, is nie deur die respondent in hierdie Hof bevraagteken
nie. Die getuienis was dat die bul een van die respondent se makste beeste
was
wat nie vanself oor die draadheining sou gespring het nie. Dat daar dus
‘n moontlikheid bestaan dat iewers ‘n plek
in die draadheining kon
gewees het wat nie voldoende was om te verhoed dat die bul deurgaan nie is nie
vergesog nie.
[12] Maar dit op sigself is geen bewys dat die
respondent enigsins nalatig was nie. Dit is nie in geskil nie dat die appellant
die bewyslas
dra om, soos die Verhoorhof tereg uiteengesit het, op ‘n
oorwig van waarskynlikhede te bewys dat die respondent by wyse van
‘n
handeling (of versuim), wat onregmatig is, hom nalatiglik skade berokken het.
Daar is namens die appellant aangevoer dat
omdat, onder andere, die R43,
‘n besige pad, deur die respondent se plaas loop, daar ‘n regsplig
op die respondent was
om redelike stappe te neem ten einde te verseker dat sy
draadheinings en hekke in ‘n goeie toestand bly sodat sy diere nie
op die
R43 beland nie. Hierdie regsplig het dan ingesluit die verpligting om sy
draadheinings gereeld te ondersoek of te laat ondersoek,
meer bepaald weens die
ligging van sy plaas en die voorkoms van roes wat veroorsaak dat die binddrade
deurroes en slap drade kon
veroorsaak. Die aard van enige ondersoek van die
draadheinings, so is betoog, en, wanneer so ‘n ondersoek, indien enige,
gedoen
is, is aspekte wat binne die respondent se uitsluitlike kennis val. Mnr
Olivier se uitgangspunt was dat omdat die bul deur die draadheining langs
die R43 gegaan het om op die pad te beland, ‘n afleiding
gemaak moet word
dat die drade slap was. Dit dan, het Mnr Olivier aangevoer, verg
‘n verduideliking van die respondent se kant oor hoe gereeld hy die drade
op sy plaas ondersoek het. Anders
gestel, alhoewel die bewyslas deurgaans op
die appellant rus, is daar ‘n weerleggingslas wat op die respondent rus.
In hierdie
verband het Mnr Olivier gesteun op, onder andere, Arthur v
Bezuidenhout and Mieny 1962 (2) SA 566 (A) op 573A-576E en Jamneck v
Wagener 1993 (2) SA 54 (K) op 65B-66E.
[13] In laasgenoemde saak
het die Volbank, by monde van Brand R, bevind dat daar wel ‘n
weerleggingslas op die verweerder gerus
het om getuienis te lei aangaande die
stappe wat hy sou geneem het ten einde sy onderhoudsplig ten opsigte van sy
drade na te kom.
Maar die geleerde regter het by daardie bevinding gekom eers
nadat die eiser bewys het dat die perd, wat ‘n ongeluk veroorsaak
het op
‘n openbare pad, daar beland het deurdat hy deur ‘n gat in die draad
gegaan het, en dat die gat van so ‘n
aard was dat enigiemand wat die
betrokke draad behoorlik ondersoek het, dit moes waargeneem het. Dit is bevind
dat die verweerder
in daardie saak nie kon sê wanneer hyself laas voor die
ongeluk die draad ondersoek het nie. Sy getuienis was dat hy dit aan
een van sy
werknemers opgedra het om die draad in stand te hou, maar daardie werknemer is
nie as ‘n getuie geroep nie. Die
bevinding van die hof was dat die
verweerder hom nie van sy weerleggingslas gekwyt het nie. In Coreejes v
Carnarvon Munisipaliteit en ‘n Ander 1964 (2) SA 454 (K) het ‘n
bees ook deur ‘n gat in die draadheining gegaan en ‘n botsing op
‘n openbare pad veroorsaak.
Daar is in daardie saak bevind dat die gat
vir ‘n lang tydperk (omtrent ‘n jaar) daar was, dat die toesig oor
die draadheining
dus ondoeltreffend was en dat daar nalatigheid aan die kant van
die eerste verweerder se amptenare was.
[14] In die onderhawige geval
is daar geen direkte getuienis dat daar voor die botsing fout met die
draadheining langs die R43 was nie
en ook nie dat die drade, byvoorbeeld, slap
was weens die feit dat die binddraadjies deurgeroes het en dat hierdie feit
redelikerwys
waarneembaar was nie. Soos reeds vermeld, is die getuienis namens
die appellant, dat hy en Adams ‘n bees gesien het wat halflyf
deur die
draadheining was, tereg deur die Verhoorhof verwerp. Daar kan dus nie
gesê word dat daar bevredigende getuienis voor
die Verhoorhof was namens
die appellant, of feite waarvan ‘n redelike afleiding gemaak kan word
sodat daar ‘n weerleggingslas
op die respondent gerus het nie.
[15] Ofskoon Mnr Olivier in hierdie Hof nie gesteun het op die
spreuk res ipsa loquitur (die feite spreek vanself) nie, gaan die
passasie in Arthur v Bezuidenhout, supra, waarna hy verwys (op bl
573A-576E) inderdaad hoofsaaklik oor res ipsa loquitur. Die volgende
blyk uit genoemde saak (op 574E):
“The maxim res ipsa loquitur, where applicable, gives rise to an inference rather than a presumption.”
En (op 574H-575A):
“As appears from the above general statement from Wigmore, and as is reflected in any specific statement of the res ipsa loquitur maxim, once the plaintiff proves the occurrence giving rise to the inference of negligence on the part of the defendant, the latter must adduce evidence to the contrary. He must tell the remainder of the story, or take the risk of judgment being given against him.”
[16] Na my mening is die onderhawige nie
‘n saak waar res ipsa loquitur toegepas kan word nie. Daar kan nie
van die feit dat die bul deur die draad gekom het en op die pad beland het
‘n afleiding
van nalatigheid aan die kant van die respondent gemaak word
nie. Die appellant sou verder moes gegaan het en, byvoorbeeld, bewys
het dat
die swak toestand van die heining redelikerwys waarneembaar was of dat die
respondent se voorkomende instandhouding ontoereikend
was. Sulke getuienis
ontbreek.
[17] Maar die respondent het in elk geval getuienis
afgelê ten opsigte van hoe gereeld hy sy plaas se grensdrade ondersoek en
herstel
het. Dit is inderdaad so dat die Verhoorregter die opmerking gemaak het
dat die respondent sy getuienis aangedik het, maar die geleerde
regter het nie
bevind dat die respondent se getuienis vals was nie. Gevolglik is ek die mening
toegedaan dat die appellant hom nie
van die bewyslas wat op hom rus gekwyt het
nie. As gevolg van hierdie bevinding is dit onnodig om te handel met die
korrektheid
al dan nie van die hof a quo se siening dat omdat die
respondent nie sy beeste in die kamp langs die R43 gehou het nie, daar nie
‘n regsplig op hom was
om toe te sien dat die grensdraad doeltreffend was
om die beeste uit die pad te hou nie.
[18] Die appèl word
derhalwe van die hand gewys, met koste.
L MPATI
REGTER VAN APPèL
STEM SAAM:
HEFER Wn HR)
MTHIYANE AR)
CONRADIE Wn AR)
NUGENT Wn AR)