South Africa: Supreme Court of Appeal

You are here:
SAFLII >>
Databases >>
South Africa: Supreme Court of Appeal >>
2001 >>
[2001] ZASCA 20
| Noteup
| LawCite
Nortje and Another v Minister of Correctional Services and Others (213/99) [2001] ZASCA 20; [2001] 2 All SA 623 (A) (16 March 2001)
Download original files |
Saak no: 213/99
IN DIE
HOOGSTE HOF VAN APPéL
IN
SUID-AFRIKA
RAPPORTEERBAAR
In die saak
van:
JANO NORTJé Eerste
Appellant
CASPER JACOBUS KRUGER Tweede
Appellant
en
DIE MINISTER VAN
KORREKTIEWE DIENSTE
Eerste Respondent
DIE
KOMMISSARIS VAN KORREKTIEWE DIENSTE
Tweede
Respondent
DIE HOOF VAN MAKSIMUM GEVANGENIS,
PRETORIA
Derde Respondent
DIE HOOF VAN C-MAX
GEVANGENIS PRETORIA
Vierde Respondent
CORAM: Vivier, Scott, Streicher, Mpati
ARR en Brand Wnd AR
Verhoor datum: 26 Februarie
2001
Datum gelewer: 16 Maart
2001
Administratiefreg - Besluit om gevangenes na
maksimum-sekuriteit gevangenis oor te plaas. Toepaslikheid en toepassing van
die audi alteram partem-leerstuk.
U I T S P R A A
K
BRAND WND AR
[1] Elkeen van die
appellante dien ’n lang termyn van gevangenistraf uit weens ernstige
misdade van geweld. Eerste appellant
is in Junie 1996 skuldig bevind aan
’n grusame moord en gevonnis tot lewenslange gevangenisstraf. Tweede
appellant is in Augustus
1992 drie maal ter dood veroordeel asook
gevangenisstraf opgelê van 65 jaar voorspruitend uit gewapende
motorkapings. Die
gevangenisstraf is op appèl verminder tot 22 jaar.
Ten tyde van die aansoek in die hof a quo was die doodstraf vonnisse nog
nie gewysig nie.
[2] Tot en met 27 November 1997 is appellante
aangehou in die algemene afdeling van die Maksimum Gevangenis in Pretoria. Op
daardie
datum is hulle oorgeplaas na ’n spesiale afdeling van die Pretoria
Maksium gevangenis wat bekend staan as C-Max afdeling (“C-Max”).
Die naam C-Max, het, soos die instelling wat dit beskryf, sy oorsprong in die
Verenigde State van Amerika. Dit staan vir “Closed
Maximum Security
Unit.”
[3] Kort na hulle oorplasing het die appellante die
Transvaalse Provinsiale Afdeling genader vir ’n bevel waarvolgens die
besluit
om hulle na C-Max oor te plaas tersyde gestel word. As respondente is
gesiteer die Minister van Korrektiewe Dienste, Die Kommissaris
van Korrektiewe
Dienste en die Hoof van die Pretoria Maksimum gevangenis. Die aansoek is van
die hand gewys met koste. Met verlof
van die hof a quo kom appellante
in hoër beroep na hierdie Hof..
[4] Die grondslag van die
appellante se saak moet gesien word teen die agtergrond van die feite wat
vervolgens blyk.
[5] Volgens die getuienis het die instelling van
C-Max nodig geword veral omdat daar na die afskaffing van die doodstraf
buitengewoon
lang termyne van gevangenisstraf opgelê word. Baie van
hierdie gevangenes het maar ’n skrale, indien enige, hoop om
ooit die
gevangenis lewend te verlaat. Gevolglik het die ontsnapping van gevaarlike
misdadigers ’n wesenlike risiko geword.
Die bewaarders in C-Max is
spesiaal opgelei en die afdeling is fisies ingerig op ’n wyse wat maksimum
sekuriteit bevorder.
Weens die wyse waarop C-Max ingerig is en bedryf word, is
daar beperkings op die vergunnings en voorregte van gevangenes in C-Max
wat nie
buite die afdeling geld nie.
[6] Buite C-Max word gevangenes se
vergunnings en voorregte gereël deur sogenaamde Departementele Orders wat
deur die Kommissaris
van Korrektiewe Dienste (“die Kommissaris”)
uitgevaardig is. Hierdie Departementele Orders gaan uit van die vertrekpunt
dat gevangenes in vier verskillende kategorieë te wete, A, B, C en D
verdeel is. ’n Pakket van vergunnings en voorregte
word dan vir elkeen
van die kategorieë voorsien. Gevangenes in die A kategorie geniet die
meeste voordele en gevangenes in
die D kategorie die minste. Die klassifikasie
van gevangenes in die verskillende kategorieë is ingevolge art 62 van die
Wet
op Korrektiewe Dienste 8 van 1959 opgedra aan die inrigtingskomitee van die
betrokke gevangenis en nie aan die Kommissaris nie.
Wat betref die toepaslike
wetgewing word daarop gewys dat hoewel die nuwe Wet op Korrektiewe Dienste 111
van 1998, wat beoog is
om Wet 8 van 1959 te vervang, reeds op die wetboek
geplaas is, die tersaaklike artikels van die nuwe wet nog nie in werking gestel
is nie. Gevolglik is die geldende wetsbepalings steeds die wat vervat is in
Wet 8 van 1959 (“die Wet”).
[7] Appellante beweer dat
hulle op 13 November 1997 voor die inrigtingskomitee van Pretoria Maksimum
gevangenis verskyn het en dat beide
van hulle daarna opgradeer is tot
A-kategorie gevangenes. Respondente se antwoord hierop is dat appellante nie
tuishoort in kategorie
A nie en dat hulle opgradering ’n fout was. Die
verantwoordelike amptenare gee dan ook ’n ietwat onverstaanbare
verduideliking
oor hoe die fout ontstaan het. Dit is egter nie werklik van
belang nie. Wat van belang is, is dat beide appelante as ’n
feit op 13
November 1997 as kategorie A gevangenes geklassifiseer is en dat hulle tot en
met hulle oorplasing na die C-Max afdeling
op 27 November 1997 die voorregte en
vergunnings van kategorie A gevangenes geniet het.
[8] Die
oorplasing na C-Max het nie appellante se klassifikasie as kategorie A
gevangenes verander nie. Tog staan dit vas dat hulle
as gevolg van die
oorplasing baie van die vergunnings en voorregte wat hulle tot op daardie
stadium geniet het, verloor het. Dit
is onnodig om appellante se posisie voor
en na oorplasing in fyn besonderhede te ontleed. Selfs ’n basiese
vergelyking toon
aan dat appellante, wat voorregte en vergunnings betref, na die
oorplasing aansienlik swakker daaraan toe was. Ek verwys slegs
na enkele
voorbeelde. Voor oorplasing was appellante, as kategorie A gevangenes,
geregtig op 48 kontakbesoeke van 40 minute elk
per jaar; hulle kon ’n
radio, ’n kassetspeler en selfs ’n draagbare televisiestel besit en
gebruik; hulle kon persoonlike
items by die snoepwinkel van die gevangenis
aankoop en daar was geen verbod op rook nie. Daarteenoor word gevangenes in
C-Max slegs
een besoek van 10 minute toegelaat gedurende die eerste ses weke van
hulle aanhouding aldaar. Daarna word drie besoeke van 20 minute
elk per maand
toegelaat. Hierdie besoeke is nie kontakbesoeke nie en kommunikasie met die
besoeker geskied deur ’n glasvenster.
’n Gevangene in C-Max kan
geen televisiestel, kassetspeler of radio in sy besit hê nie. Een radio
wat elke halfuur
van stasie verander om erkening te verleen aan verskillende
tale, speel vir die hele C-Max afdeling. Die C-Max gevangene mag geen
aankope
by die snoepwinkel maak nie en rook in dié afdeling is geheel en al
verbode. Daar is ook nog verdere inperkings
wat slegs in C-Max geld soos
byvoorbeeld dat ‘n gevangene slegs in voetboeie sy sel mag verlaat en dat
hy oor die algemeen
nie met ander gevangenes mag praat nie.
[9] Die
besluit dat appellante na C-Max oorgeplaas moes word is geneem deur ’n
adjunk-direkteur in die Department van Korrektiewe
Dienste, mnr FJ Venter
(“Venter”), aan wie die Kommissaris sy bevoegdhede in onderhawige
verband gedelegeer het. Volgens
Venter is die rede waarom hy besluit het dat
appellante na C-Max oorgeplaas moes word omdat albei van hulle ’n hoë
ontsnappingsrisiko
inhou. Ter motivering van hierdie besluit wys hy daarop dat
beide appellante reeds by twee geleenthede gepoog het om uit Pretoria
Maksimum
gevangenis te ontsnap. Die eerste geleentheid was op 26 Mei 1997 toe die twee
appellante uit die gevangenishospitaal ontsnap
het maar kort daarna weer
gearresteer is. Die tweede ontsnappingspoging was op 3 September 1997 toe
appellante in die Pretoria
Landdroshof verskyn het juis op ’n aanklag van
ontsnapping voortspruitende uit die gebeure van 26 Mei 1997.
[10] Vir doeleindes van die onderhawige erken appellante in wese die
bewerings wat hulle ten laste gelê word aangaande die voorval
van 26 Mei
1997. Die bewerings teen hulle oor wat op 3 September 1997 gebeur het, ontken
hulle egter ten sterkste.
[11] Appellante het geen vooraf kennis gekry
van die voorneme om hulle na C-Max oor te plaas nie en hulle is ook geen
geleentheid tot
aanhoring gebied voor die besluit om tot dié stap oor te
gaan nie. Hulle is eenvoudig gedurende die oggend van 27 November
1997
aangesê om hulle goed te pak waarna hulle na C-Max oorgeplaas is.
Volgens Venter is dit beleid om nie vooraf gevangenes
in te lig dat oorweeg word
om hulle na C-Max te verskuif nie. Die beweegrede vir hierdie beleid, sê
Venter, is dat kandidate
vir C-Max tot enige uiterste sal oorgaan om so ’n
oorplasing te verhoed of te vertraag, hetsy deur homself te beseer, hetsy
deur
desperate pogings aan te wend om te ontsnap hetsy deur ander gevangenes of
bewaarders te beseer om sodoende ’n verskyning
in die hof te
bewerkstellig.
[12] Vier dae na appellante se oorplasing het Venter
hulle in C-Max besoek. Volgens hom was die rede vir die besoek sy
belangstelling
in die nuutgestigte afdeling waarvoor hy direk verantwoordelik is
sowel as in die gevangenes wat daar aangehou word. Tydens die
besoek het
appellante hom gevra na die rede vir hulle oorplasing waarop hy hulle meegedeel
het dat hulle as ’n ontsnappingsrisiko
beskou word.
[13] Dit
bring my dan by die grondslag waarop appellante hulle saak baseer.
Terselfdertyd is dit ook doenlik om aan te dui wat nie die
grondslag van
appellante se saak is nie. Appellante aanvaar dat die Kommissaris ingevolge
art 23 (2) van die Wet die bevoegheid
gehad het om C-Max tot stand te bring.
Hulle aanvaar ook dat die Kommissaris kragtens art 22 (2) (b) van die Wet by
magte was om
die voorregte en vergunnings wat hulle as A-kategorie gevangenes
geniet het, in te kort of selfs in te trek. Hulle bevraagteken
dit ook nie dat
die Kommissaris by magte was en as ’n feit die bevoegdheid om hierdie
besluite te neem aan Venter gedelegeer
het nie. Die grondslag van hulle saak
is dat Venter se besluit prosedureel onbillik was. Meer besonder voer hulle
aan dat Venter
versuim het om die vereistes van die audi alteram
partem-leerstuk (die “audi-reël”) na te kom.
[14] Daarteenoor is uitdruklik namens respondente toegegee dat
nakoming van die audi-reël ’n voorvereiste was vir die
geldigheid van Venter se gewraakte besluit. Hierdie toegewing is na my oordeel
tereg
en billik gemaak. Dit beteken uiteraard nie dat elke gevangene wat
oorgeplaas word van een afdeling van ’n gevangenis na
’n ander of
van een gevangenis na ’n ander gevangenis geregtig sal wees op ’n
aanhoring nie. Elke geval moet
op sy eie feite beoordeel word. Volgens art
33 van die Grondwet, 108 van 1996, het elke persoon die reg op administratiewe
optrede
wat prosedureel billik is. Ten spyte van die veranderde konstitusionele
bedeling wat deur die aanvaarding van die Grondwet teweeggebring
is, is die
beginsels van die gemenereg steeds rigtinggewend oor wat in ’n bepaalde
geval prosedureel billik sal wees (sien
bv Pharmaceutical Manufactures
Association of SA : In re ex parte President of the Republic of South Africa and
Others [2000] ZACC 1; 2000 (2) SA 674 (CC) par 45 te 696 F-G). Die formulering van die
gemeenregtelike beginsels in die verband is te vinde byvoorbeeld in
Administrator Transvaal and Others v Traub and Others [1989] ZASCA 90; 1989 (4) SA 731 (A)
758 D-E en South African Road Board v Johannesburg City Council 1991 (4)
SA 1 (A) 10 G-I. Hiervolgens vind die audi-reël toepassing waar
die administratiewe besluit ’n persoon tot so ’n mate kan benadeel
dat die besluit, ooreenkomstig
die persoon se gebillikte verwagting (legitimate
expectation) nie geneem sal word sonder om hom aan te hoor nie. Dit staan vas
dat Venter se besluit ’n ingrypende inkorting teweeggebring het van die
voorregte en vergunnings wat appellante tot op daardie
stadium geniet het. In
die omstandighede het appellante die gebillikte verwagting gehad dat so ’n
besluit nie geneem sou
word tensy hulle die geleentheid tot aanhoring gebied
is.
[15] Respondente se saak is dat dit, weens die redes wat reeds
geboekstaaf is, nie prakties doenlik is om gevangenes aan te hoor voordat
hulle
na C-Max oorgeplaas word nie en dat die nakoming van die audi-reël
gevolglik slegs moontlik is nadat die besluit geneem is. Voorts is
respondente se kontensie dat appellante inderdaad
die geleentheid tot aanhoring
gebied is nadat Venter sy besluit geneem het om hulle oor te plaas en dat daar
gevolglik behoorlike
nakoming van die vereistes van die audi-reël
was. Ter ondersteuning van hierdie kontensie beroep respondente hulle op
Venter se besoek aan appellante vier dae nadat
hulle na C-Max oorgeplaas
is.
[16] Op die ou end is die enigste geskilpunt tussen die partye dus
of daar behoorlike nakoming van die audi-reël
was.
[17] Dit is duidelik uit die gesag dat daar nie ’n
universeel geldende stel vereistes vir die nakoming van die
audi-reël bestaan nie. Inteendeel is die audi-reël
weens die tallose situasies waarin dit aanwending vind juis so buigsaam en
aanpasbaar dat die vereistes vir die nakoming
daarvan nie losgemaak kan word van
die konteks waarin dit toepassing vind nie. Die toetssteen wat aangewend word
by beantwoording
van die vraag of die audi-reël in ’n bepaalde
geval nagekom is, hang ten nouste saam met die grondbeginsel van die reël.
Hierdie grondbeginsel
word soos volg beskryf deur Corbett HR in Du Preez and
Another v Truth and Reconciliation Commission [1997] ZASCA 2; 1997 (3) SA 204 (A) 231
G-H:
“The audi principle is but one facet, albeit an important one, of the general requirement of natural justice that in the circumstances postulated the public official or body concerned must act fairly. ... The duty to act fairly, however, is concerned only with the manner in which the decisions are taken: it does not relate to whether the decision itself is fair or not.”
(sien ook M & J Morgan Investments (Pty) Ltd
and Another v Pinetown Municipality and Others [1997] ZASCA 60; 1997 (4) SA 427 (SCA) 439
E-J).
[18] Gevolglik is die vraag in elke geval waar die
audi-reël toepassing vind of die persoon wat nadelig geraak is deur
die betrokke besluit ’n regverdige en billike geleentheid
gehad het om sy
saak te stel. Nadere omskrywing van die vereistes is nòg doenlik
nòg wenslik, juis omdat dit die
buigsame toepassing van die
audi-reël aan bande sal lê. As vertrekpunt vir die bepaling
van wat ’n billike geleentheid tot aanhoring daarstel kan
egter verwys
word na die riglyne wat neegelê is in die volgende dictum van Lord
Mustill in Doody v Secretary of State for the Home Department and Other
Appeals [1993] 3 ALL ER 92 (HL) 106 d-h, wat met instemming aangehaal word
in Du Preez and Another v Truth and Reconciliation Commission supra te
232 B-C:
“[5] Fairness will very often require that a person who may be adversely affected by the decision will have an opportunity to make representations on his own behalf either before the decision is taken with a view to producing a favourable result, or after it is taken, with a view to procuring its modification, or both.
[6] Since the person affected usually
cannot make worthwhile representations without knowing what factors may weigh
against his interests
fairness will very often require that he is informed of
the gist of the case which he has to answer.”
[19] Met
verwysing na punt [5] in die aangehaalde dictum het hierdie Hof ook al
beslis dat, afhangende van die onstandighede, die audi-reël nagekom
kan word deur aan die benadeelde persoon ’n geleentheid tot aanhoring te
bied eers nadat die besluit reeds
geneem is (sien Visagie v State President
and Others 1989 (3) SA 859 (A) 865 B-C). Myns insiens behoort dit egter
eerder die uitsondering te wees as die reël. Weens redes wat voor die
hand
lê, is die persoon wat eers aangehoor word nadat die besluit reeds
geneem is aansienlik swakker daaraan toe as wat hy by ’n
aanhoring voor
die neem van die besluit sou wees. As ’n reël sal aanhoring na die
besluit dus slegs voldoende wees as
aanhoring voor die tyd nie kon geskied nie
(sien bv Wade & Forsyth, Administrative Law, 7e uitgawe,
549 - 550).
[20] By die toepassing van hierdie beginsels op die
onderhawige feite is ek bereid om argumentshalwe te aanvaar dat ’n
behoorlike
aanhoring van die appellante na die neem van die besluit om hulle na
C-Max oor te plaas, in beginsel voldoende sou wees. Selfs
op hierdie
aanvaarding is dit egter na my oordeel duidelik dat die audi-reël
nie nagekom is nie. Op Venter se eie weergawe het sy besoek aan appellante,
waarop respondente hulle nou beroep ,
nie plaasgevind met die doel om
appellante aan te hoor nie, maar uit belangstelling in hulle welstand as
aangehoudenes in ’n
afdeling waarvoor hy verantwoordelik is. Hy het dus
nooit bedoel om hulle aan te hoor nie. In ooreenstemming hiermee het Venter
appellante dan ook nooit uitgenooi om hulle saak te stel nie. Nog minder het
hy vir appellante gesê wat die saak teen hulle
is, naamlik dat hulle as
’n ontsnappingsrisiko beskou word weens die twee beweerde
ontsnappingspogings van 26 Mei 1997 en 3
September 1997. As hulle die
geleentheid gebied is kon appellante moontlik vir Venter oorreed dat die
bewering teen hulle rakende
die gebeure van 3 Septermber 1997 ongegrond is.
Anders gestel, appellante was geregtig op ‘n billike en regverdige
geleentheid
om die bewerings wat Venter tot sy besluit teen hulle genoop het,
te weerlê. Afgesien van ’n billike geleentheid het
appellante
inderdaad geen geleentheid gekry om hulle saak te stel nie. Gevolglik is die
audi-reël nooit nagekom nie.
[21] Weens die nie-nakoming
van die audi-reël moes die besluit waarvolgens appellante na C-Max
oorgeplaas is, na my oordeel, ter syde gestel word. Die weiering van
die hof
a quo om dit te doen kan gevolglik nie staan nie.
[22] Vir
hierdie redes slaag die appel met koste en word die bevel van die hof a
quo vervang met die volgende:
“1. Die besluit om appellante na die C-Max afdeling van Pretoria Maksimum Gevangenis oor te plaas, word tersyde gestel.
2.
Respondente word gelas om appellante se koste te
betaal.
_____________________
FDJ BRAND
WND
APPèLREGTER
STEM SAAM:
VIVIER AJ
SCOTT
AJ
STREICHER AR
MPATI
AR