South Africa: Supreme Court of Appeal

You are here:
SAFLII >>
Databases >>
South Africa: Supreme Court of Appeal >>
2001 >>
[2001] ZASCA 43
| Noteup
| LawCite
S v Khambule and Others (79/99) [2001] ZASCA 43; [2001] 3 All SA 274 (A) (26 March 2001)
Download original files |
RAPPORTEERBAAR
Saaknommer
: 79 / 99
IN DIE HOOGSTE HOF VAN APPÈL
VAN SUID-AFRIKA
In die appèl van
PHODI SIMON KHAMBULE Eerste
Appellant
SAMUEL LEHLOHONOLO KHOZA Tweede Appellant
SIPHO
STEVEN NGUBANE Derde Appellant
KENNETH VUSUMIZI MABIZELA Vierde
Appellant
THEMBILE MAHAMULE Vyfde Appellant
ERIC THOZAMILE
MHLANLI Sesde Appellant
en
DIE
STAAT Respondent
Regbank
: OLIVIER, ZULMAN ARR en MTHIYANE Wnd
AR
Verhoordatum : 19 FEBRUARIE
2001
Datum van uitspraak : 26 MAART
2001
OPSOMMING
Roof
en moord; leerstuk van gemeenskaplike oogmerk toegepas op onwettige besit van
wapens en ammunisie en poging tot moord weens
skote afgevuur op agtervolgende
polisie. Vonnisse bespreek.
U I T S P R A A K
OLIVIER AR
[1] Appellante het as beskuldigdes 1 tot 4 en 6 tot 7 in die Rondgaande
Hof (Vrystaatse Provinsiale Afdeling) te Virginia, voor Van Coppenhagen R, en twee assessore, op die volgende aanklagte tereggestaan:
1.1 Aanklag 1 : diefstal van ’n Volkswagen Mikrobus, gepleeg op 26 Mei 1996 te Bloemfontein.
1.2 Aanklag 2 : roof (met verswarende omstandighede) van ’n Toyota Hilux bakkie, wat op 9 Julie 1996 te Boksburg gepleeg is.
1.3 Aanklag 3 : poging tot roof (waarby verswarende omstandighede aanwesig is) van R300 000,00, wat op 12 Julie 1996 by die President Steyn 5 Skag Hostel te Welkom gepleeg is.
1.4 Aanklag 4 : roof (waarby verswarende omstandighede aanwesig is) van ‘n ·556 Mini Ruger geweer, en wat op 12 Julie 1996 by laasgenoemde plek gepleeg is.
1.5 Aanklag 5 : moord gepleeg by laasgenoemde plek op 12 Julie 1996 en waartydens ene K Mqike se lewe geneem is.
1.6 Aanklagte 6 tot 11
: 6 aanklagte van poging tot moord op S A Duiker, S Letaba, J Phalole, A
Moduphe, R J A Earle en J G R de
Beer, onderskeidelik, en gepleeg te
laasgenoemde plek op 12 Julie 1996.
1.7 Aanklagte 12 en 13 : onwettige
besit van ’n vuurwapen en ammunisie, te wete ’n 5,56 x 45 mm
semi-outomatiese Ruger
geweer en 10 x 5,56 x 45 mm patrone en wat te
laasgenoemde plek op 12 Julie 1996 gepleeg is.
1.8 Aaanklagte 14 en 15 :
onwettige besit van masjiengewere te wete twee AK masjiengewere en ammunisie te
wete 11 rondtes 7,62 mm
x 39 mm patrone, te laasgenoemde plek en tyd.
[2] Op 4 Maart 1998 is die eerste tot vierde en sesde appellant aan
aanklagte 3 tot 13 en die vyfde appellant aan aanklagte 2 tot 15 skuldig bevind.
[3] Op 6 Maart 1998 is die :
3.1 eerste tot vierde en sesde appellant tot 35 jaar effektiewe gevangenisstraf gevonnis, wat soos volg saamgestel en bereken is:
3.1.1 Aanklag
3 : 10 jaar gevangenisstraf.
3.1.2 Aanklag 4 : 15 jaar
gevangenisstraf.
3.1.3 Aanklag 5 : 20 jaar
gevangenisstraf.
3.1.4 Aanklagte 6 tot 11 : 8 jaar gevangenisstraf op elke
aanklag
3.1.5 Aanklagte 12 tot 13 : 2 jaar gevangenisstraf op elke
aanklag
Die vonnisse in aanklagte 3 en 4 moet samelopend uitgedien word, en die vonnisse op aanklagte 6 tot 13 samelopend met die vonnis op aanklag 5.
3.2 Die vyfde appellant is gevonnis tot effektiewelik 40 jaar gevangenisstraf, wat soos volg saamgestel en bereken is :
3.2.1 Aanklag 2 : 15
jaar gevangenisstraf.
3.2.2 Aanklag 3 : 20 jaar
gevangenisstraf.
3.2.3 Aanklag 4 : 20 jaar
gevangenisstraf.
3.2.4 Aanklag 5 : 20 jaar gevangenisstraf.
3.2.5 Aanklagte 6 tot 12 : 8 jaar gevangenisstraf op elke
aanklag.
3.2.6 Aanklagte 12 tot 13 : 2 jaar gevangenisstraf op elke
aanklag.
3.2.7 Aanklag 14 : 5 jaar gevangenisstraf.
3.2.8 Aanklag 15 : 2 jaar
gevangenisstraf.
Die vonnisse op aanklagte 2 en 3 opgelê, moet samelopend met dié in aanklag 4 opgelê uitgedien word, en die vonnisse op aanklagte 6 tot 15 samelopend met die vonnis op aanklag 5 opgelê.
[4] Reeds tydens die aansoek om verlof om na hierdie Hof te appelleer en
weer by die verhoor van hierdie appèl is namens die
appellante toegegee dat die feite en geloofwaardigheidsbevindinge waarop
die
uitspraak en vonnis van die hof a quo berus, korrek is. Die
appèl gaan dus om ’n paar beperkte regskwessies met betrekking tot
sommige van die skuldigbevindings
en’n aspek van die vonnisoplegging.
Die appèl is voor ons met verlof van die hof a quo.
Klag 4 :
roof van die Ruger geweer
[5] Die eerste geskilpunt handel rondom die skuldigbevinding aan klag 4,
d w s die roof (waarby verswarende omstandighede aanwesig was) van ’n mini ·556 Ruger geweer uit die besit van persone genaamd Mqike en Duiker, of uit die besit van Duiker. Die bewese feite is die volgende :
(a) Die appellante het vooraf beplan en saamgesweer om op 12 Julie 1996
’n rooftog uit te voer op die persele van die President Steyn goudmyn te Welkom. Die plan was om die voertuig wat die salarisse van die werknemers by die onderskeie skagte aflewer, by skag 5 aan te val en van die geld daarin te beroof. Die geld is op dié dag vervoer deur ’n Mazda kombi. Die kombi was vergesel van ’n veiligheidsvoertuig, ’n Toyota Hi-Lux bakkie, van die mynmaatskappy, met twee sekuriteitsbeamptes daarin -- op die betrokke dag mnr Mqike, die bestuurder, en mnr Duiker in die passasiersitplek. Mqike was bewapen met ’n handwapen en Duiker met die genoemde Ruger geweer.
(b) Aangekom by die betrokke skag, het die kombi by die betaalsaal
ingery en die ingangsdeur was toegemaak. Mqike en Duiker het buite die gebou in die bakkie gesit om wag te hou.
(c) Terwyl hulle gewag het, het een van die appellante, met ’n kombers
om sy lyf, skielik by die oop venster aan die bestuurder se kant van die bakkie verskyn. Hy het ’n AK 47 masjiengeweer teen Mqike vasgedruk. Op hierdie oomblik het die kombi weer uit die betaalsaal uitgery gekom. Die rower het ’n skoot of skote op die insittendes van die veiligheidsvoertuig afgevuur, en Mqike, noodlottig gewond, het agter die stuurwiel inmekaar gesak. Duiker is ook, waar hy gesit het, in die regterarm getref.
(d) Duiker het op hierdie stadium uit die bakkie geklim. Die rower het
om die bakkie na sy kant gekom. Duiker het gesien dat hy met ’n AK 47-geweer bewapen was. Die rower het die Ruger geweer, wat Duiker in die bakkie gelaat het, geneem.
(e) Een van die ander rowers, wat ook ’n kombers om sy lyf gehad het,
was ook op die toneel en het skuins agter die bakkie stelling ingeneem tydens die voormelde gebeure. Hy was ook met ’n geweer bewapen.
(f) Die persoon wat op Mqike en Duiker gevuur het, het hierna skote op
die kombi gevuur. Die veiligheidswagte in die kombi het gesien dat dié persoon met ’n AK 47-geweer op hulle skiet. Die kombi is tweemaal getref. Die insittendes het die vuur beantwoord, waarop die twee rowers by die veiligheidsvoertuig op die vlug geslaan het.
(g) Al die rowers het gepoog om met die Toyota bakkie, wat ’n paar dae
vantevore gesteel is, te ontvlug. Potgieter, ’n werknemer van die myn het gesien hoe, onder andere, ’n persoon met ’n AK 47 geweer op die bakkie klim. Potgieter het die bakkie met sy motor agtervolg en die polisie se hulp is ingeroep. Die rowers op die bakkie het op hom gevuur. Kaptein Earle en sersant de Beer van die SAPD het opgedaag en aan die agtervolging deelgeneem.
(h) ’n Ent verder het die bakkie die pad verlaat en die rowers het die veld
ingevlug, agtervolg deur Earle en De Beer. Drie van die appellante, nommers 2, 5 en 6 is daar gearresteer. Appellant 1 is in ’n aangrensende woongebied gearresteer en appellante 3 en 4 op ’n pad daar naby. Appellant 6 is in die proses verwond. Terwyl die agtervolging aan die gang was, het een van die rowers op Earle en de Beer gevuur. Die vuur is beantwoord en die betrokke rower is ook verwond.
(i) Die Ruger geweer wat van Duiker geroof is, is onmiddelik na die
agtervolging van die rowers deur die polisie in die veld gevind waar drie van hulle ge-arresteer is. So ook ’n AK 47 geweer. ’n Hele aantal ander wapens en ammunisie wat in die rooftog gebruik is of sou word, is in die besit van die appellante gevind.
(j) Die verhoorhof het bevind dat die persoon wat Mqike gedood,
Duiker verwond en die Ruger geneem het, een van die voortvlugtende rowers op die bakkie en dus een van die appellante was.
(k) Uit die uitspraak is nie duidelik of die hof die rower wat die Ruger
geneem het, geïdentifiseer het nie. Vir die doeleindes hiervan sal aanvaar word dat die betrokke persoon nie geïdentifiseer is nie, maar dat hy, bo redelike twyfel, een van die rowers was; dat hy op die kombi gevuur het en in die bakkie saam met die ander gevlug het, vanwaar skote op Potgieter gevuur is.
[6] Namens die appellante is eerstens ten aansien van klag 4 (roof van die
Ruger geweer) aangevoer dat hoewel hulle ’n gemeenskaplike doel voor oë gehad het, nl om die geld te gaan roof, hulle nie om daardie rede op sigself aan die roof van die Ruger skuldig bevind kon word nie. So ’n skuldigbevinding kan slegs geregverdig word, so is namens die appellante aangevoer, indien hulle geweet het dat die vuurwapen in die loop van die rooftog geneem sou word, of die moontlikheid dat dit sou geneem word voorsien het en hulle daarmee versoen het (sien S v Madlala 1969 (2) SA 637 (A) op 640 F - H, veral par (c); S v Majosi and Others 1991 (2) SASV 532 (A) op 536 i - 538 a). Die appellante se standpunt is dat geeneen van hierdie vereistes bo redelike twyfel bewys is nie.
[7] Uit die getuienis is duidelik dat die appellante wapens saamgeneem het
om die rooftog uit te voer. Hulle het geweet van die kombi
wat die geld vervoer het en dat dit hul teiken was. Hulle het geweet
die
sekuriteitsvoertuig sou op die toneel wees. Twee van hulle het reguit na die
voertuig gegaan. Die rede waarom hul na die
voertuig gegaan het, was
klaarblyklik om die insittendes daarvan as ’n hindernis in die uitvoering
van die rooftog uit te skakel
en om hulle te ontwapen. Dit sou hulle alleen
kon doen as hulle die insittendes van die voertuig fisies kon oorweldig en die
wapens
neem. Dit is wat hulle gedoen het. Mqike is gedood en Duiker swaar
verwond. Die gevolglike moeitelose wegneem van die Ruger
uit Duiker se besit
was noodwendig deel van die rowers se beplanning. Onder sulke omstandighede is
dit myns insiens vergesog dat
die rowers nie die moontlikheid, dat ’n
wapen in besit van Mqike en/of Duiker hul geweldadig ontneem sou word, voorsien
het
en hul daarmee versoen het nie. Die skuldigbevinding op aanklag 4 is
derhalwe geregverdig.
Aanklagte 12 en13
[8] Voorspruitende uit die roof van die Ruger en die patrone daarvan, is
twee verdere aanklagte teen die appellante aanhangig gemaak, te wete aanklag 12, die onwettige besit van die Ruger geweer en aanklag 13, die onwettige besit van die Ruger se ammunisie. Die appellante is op die basis van die leerstuk van gemeenskaplike bedoeling aan albei hierdie aanklagte skuldig bevind. Daar is egter voor ons aangevoer dat dié skuldigbevinding regtens nie houdbaar is nie. Die argument wat namens die appellante aangevoer is dat nieteenstaande die bevinding van roof gebaseer op gemeenskaplike bedoeling, daar nog iets meer vir ’n skuldigbevinding aan onwettige besit van die geweer en ammunisie vereis word, te wete die psigiese element, die bedoeling om te besit. Hierdie element, so is aangevoer, ontbreek ten aansien van die aanklagte tans onder bespreking. Die psigiese element van besit, so is aangevoer, kan nie toegedig word nie.
[9] Namens appellant is ’n beroep gedoen op die uitsprake in S v Fibi and
Others 1990 (2) PH, H 379 (OK) en S v
Nkosi 1998 (1) SASV 284 (W).
In daardie aangeleenthede het dit gegaan
oor die vraag of besit toegedig kan word aan daardie lede van ’n groep wat
nie bewapen
is nie, terwyl, volgens hul wete en kennis, ander lede wel bewapen
is en die groep ’n gemeenskaplike oogmerk gehad om ’n
roof uit te
voer en dit inderdaad gedoen het. In die bogemelde uitsprake is dié
vraag ontkennend beantwoord. In S v Nkosi, supra, op 289 c - d is
met goedkeuring verwys na ’n passasie uit ’n ongerapporteerde
Transvaalse beslissing, Jan Bosch and Others v S, waarin gesê is
:
‘Dit is so dat die beskuldigdes ’n gesamentlike oogmerk gehad het om te roof, en ek sal aanvaar ook om die roof met vuurwapens uit te voer. Dit volg egter nie daaruit dat hulle ’n gesamentlike oogmerk gehad het om die vuurwapens wat gebruik is te besit nie. Uit die feit dat een rower ’n vuurwapen hanteer, met die wete en goedkeuring van die ander rowers, volg dit nie dat die ander rowers enige beheer oor die vuurwapen kan uitoefen of enige bedoeling het om beheer oor die vuurwapen uit te oefen nie.’
[10] Ek kan in beginsel nie sien waarom, in gepaste situasies en indien
die leerstuk van gemeenskaplike oogmerk toegepas word, die
gemeenskaplike animus om die vuurwapens gesamentlik te besit, nie afgelei
kan word nie. Indien dit die bedoeling van die lede van die groep is om die
vuurwapens ter uitvoering van ’n roof of moord te gebruik tot hul almal se
voordeel, vereenselwig hulle hul immers met die
besit van die vuurwapens.
[11] Die feite in die geval tans ter sprake verskil van dié in
bogemelde sake.
Hier was dit die oogmerk van die groep dat die insittendes
van die bakkie ontwapen sou word ter beskerming van hulle bende. Besit
van die
vuurwapens moes dus deur een of meer lede van die bende geneem word en ten
behoewe en tot voordeel van die groep gehou word.
Die Ruger en die ammunisie
daarvoor is met hierdie gemeenskaplike doel geroof en na die bakkie, waarop al
die rowers was, geneem.
Daar het dit onder hul almal se beheer gebly todat dit
later in die veld weggegooi is. Die afleiding van ’n bedoeling om
die
geweer en ammunisie gesamentlik te beheer en te besit, skyn my onvermydelik te
wees.
[12] In S v Nkosi, supra, op 286 en 287 is verwys na ’n ongerapporteerde
beslissing van Swart R (waarmee Roos R
saamgestem het) in Molemane and Others v S (TPD saak A 965/95 uitspraak
gelewer 6 Mei 1996). Ek het ’n afskrif daarvan bekom. Die feite was
die volgende :
Vyf mans het ’n rooftog op ’n hardeware winkel in
Benoni uitgevoer. In die proses het hulle die eienaar van geld, ’n
aktetas en ’n bakkie beroof. ’n Kliënt in die winkel is ook
van haar beursie en dokumente beroof. Die rowers
was met handwapens en
’n mes bewapen en dit is ten uitvoering van die roof gebruik. Daarna
slaan hulle op vlug, maar word
deur polisiebeamptes gevang. ’n Pistool
en 12 rondtes ammunisie is by een van die voortvlugtende rowers, beskuldigde 2,
gevind;
’n speelgoedpistool wat na alle waarskynlikheid in die roof
gebruik is, is naby die bakkie gevind.
Swart R het die landdros se
skuldigbevinding van die beskuldigdes aan die onwettige besit van wapens en
ammunisie gehandhaaf. In
die loop van die uitspraak verklaar hy soos volg:
‘Die landdros het bevind dat daar ten aansien van die besit van die 9 mm-pistool, ammunisie en speelgoedpistool ’n gemeenskaplike oogmerk was. Ek dink die bevinding is korrek. By wyse van noodwendige afleiding was almal bewus dat die beplanning van die roof en die ontvlugting die bekom van wapens of ander afskrikmiddele sou insluit. Dit blyk onder andere uit die gebruik van die wapens op die toneel en op die bakkie waar almal teenwoordig was, sonder oënskynlike distansiëring. Die afleiding is verder onvermydelik dat hulle ’n gemeenskaplike oogmerk gehad het om die wapens of ander afskrikmiddels vir die beplande doeleindes te besit en te gebruik. Dit is ook nie waarskylik dat die beplanners nie bewus sou gewees het dat die 9mm-pistool gelaai was nie. Die wapens mag fisies besit gewees het deur nr 2 of wie ook al, maar die afleiding is onvermydelik dat dit die gevolg van gesamentlike beplanning en vir doeleindes van die uitvoering van die gesamentlike oogmerk was. Die pistool, ammunisie en speelgoedpistool was dus in almal se beheer gewees.’
[13] Ek meen dat hierdie benadering op die feite in Molemane korrek was
en dat dieselfde afleiding met betrekking to
aanklagte 12 en 13 in die onderhawige geval gemaak moet word. Die appèl
teen
die skuldigbevindinge op hierdie aanklagte kan derhalwe nie slaag
nie.
Aanklagte 10 en 11
[14] Die laaste appèl teen ’n skuldigbevinding raak aanklagte 10 en 11.
Dit lê al die appellante ten laste dat hulle gepoog het om kaptein Earle en sersant de Beer, beide van die SAPD, te vermoor. Die feite is die volgende:
(a) Soos genoem, het die appellante op en in die gesteelde bakkie geklim
en weggejaag nadat daar oor en weer op en vanaf die kombi gevuur is. Hulle is deur Pogieter agtervolg; alarm is gemaak en die polisie is na die toneel uitgeroep.
(b) Earle en De Beer het in hul voertuig na die toneel gehaas en na die
Klippanpad gery om die voortvlugtigdes voor te keer. Die appellante het die polisievoertuig gewaar, hul bakkie van die pad afgetrek en te voet die veld ingevlug.
(c) Earle en De Beer het die voorvlugtendes te voet agtervolg. Appellant
6 het in die veld probeer wegkruip, waar Earle hom gewaar het en hom gewaarsku het om stil te staan. Hy het egter probeer wegkom, waarna hy verwond en gearresteer is.
(d) Die ander appellante het verder weggehardloop en in die proses het een
van hulle, appellant 4, op Earle en De Beer gevuur. Dié vuur is beantwoord en appellant 4 is getref. Hy het geval, weer opgespring en het verder gehardloop. Al dié appellante is later gearresteer. Verskeie vuurwapens wat in hul besit was, is gevind. Appellant 4 het erken dat hy die dag bewapen was met ’n Z 88 pistool - sy dienspistool. Appellante 1,2,3 en 4 was tydens dié gebeure lede van die SA Polisiediens en gestasioneer te Thokoza. Vuurwapens was aan hulle in die loop van hul diens uitgereik en is in die rooftog gebruik.
[15] Die hof a quo het al die appellante aan aanklagte 10 en 11 skuldig
bevind en die volgende bevind :
‘Klagtes 10 en 11 het as onderwerp die afvuur van skote deur een of meer van die voorvlugtendes, dus een of meer van beskuldigdes 1, 2, 3, 4, 6 of 7 op Earle en De Beer. Daardie skote is afgevuur deur die voorvlugtendes of een van hulle om die agtervolgers op ’n afstand te hou en arrestasie te voorkom. Dit is ’n onvermydelike afleiding dat die rowers voorsien het as feit dat tydens enige agtervolging die vuurwapens aangewend sou kon word om arrestasie te voorkom en dat by die aanwending van die vuurwapens desnoods daar noodlottige gevolge gaan wees. Hulle het hulle egter met daardie optrede en die gevolge wat daaruit mag voortspruit versoen. Dit volg dus dat beskuldigdes 1, 2, 3, 4, 6 en 7 ook skuldig is aan die misdade in klagtes 10 en 11 hulle ten laste gelê.’
[16] Namens die appellante (met uitsluiting van nr 4) is dié bevinding
aangeveg. Die argument is dat daar geen getuienis is
dat die ander appellante voorsien het dat appellant 4 op hierdie stadium, tydens
die vlugtog, op die agtervolgers sou vuur nie; dit was ook nie voorsienbaar
nie. Daar is ook geen getuienis dat hulle hul met
dié optrede van
appellant 4 versoen het nie.
[17] Namens die appellante is op S v
Talane 1986 (3) SA 196 (A) gesteun. Drie manspersone het ’n
rooftog op ’n winkel uitgevoer. In die winkel was die eienaar en
’n vriend.
Hulle is vasgebind nadat hulle met vuurwapens bedreig is.
Die rooftog is voltooi. Die drie rowers het die winkel verlaat.
Die
winkeleienaar en sy vriend het hulself bevry en vanuit die winkel gesien hoe die
drie rowers met eersgenoemde se paneelwa probeer
wegkom. Die winkeleienaar het
op die rowers geskiet en die rowers het te voet op die vlug geslaan - een in
’n suidelike
rigting en die ander twee, insluitende die appellant, in
’n noordelike rigting. Daarna het die een wat in ’n suidelike
rigting gevlug het, omgedraai en sy makkers agternagesit. Die winkeleienaar
het uit die winkel gegaan en skote op hom gevuur.
Sy vriend het hom
teruggeroep, waarna hy, die winkeleienaar, omgedraai het. Die rower wat hy
agtervolg het, het hom toe noodlottig
in die rug verwond. Dit het geblyk dat
die oorledene se vuurwapen leeggeskiet was.
Die appellant was een van die
twee rowers wat voortvlugtig en ver van die toneel was toe hul makker die
winkeleienaar gedood het.
Hy is op die basis van gemeenskaplike opset aan die
moord op die winkeleienaar skuldig bevind is, maar het aangevoer dat die
skuldigbevinding
nie houdbaar is nie. Hierdie Hof, by monde van Boshoff AR,
het hom gelyk gegee (op 207 I
e v ) :
‘ Die oorledene was nie van plan om enige van die rowers te arresteer nie maar hy het klaarblyklik probeer om van hulle te skiet en
sodoende te verhinder dat hulle wegkom. Die feite van die
saak toon egter dat die oorledene sy pistool reeds leeggeskiet gehad het
en dat
hy nie meer van plan was om enige van die rowers te verhinder om weg te kom nie.
Maia het hom ook teruggeroep en hy het gehoor
daaraan gegee. Dit sou
onregverdig wees om op die getuienis bo redelike twyfel te bevind dat die rowers
voorsien het en beoog het
dat die oorledene ook nog in so ’n geval geskiet
en buite aksie gestel moet word. Die skote wat beskuldigde 1 toe op die
oorledene afgevuur het toe sy mededaders in alle waarskylikheid alreeds ver en
buite gevaar was en hyself ook buite gevaar was van
agtervolging deur die
oorledene, kan nie bo redelike twyfel bevind word te geval het binne die grense
van wat die appellant voorsien
het en hom mee versoen het nie. Die Verhoorhof
het gevolglik gefouteer om appellant aan die moord op die oorledene skuldig te
bevind.’
[18] Die feite in die geval voor ons verskil egter weenlik van dié in S v
Talane. In die huidige geval was die
rowers op vlug en het die polisiebeamptes hul aktief agtervolg. In die proses
en klaarblyklik met
die doel om die agtervolging stop te sit, hetsy deur
afskrikking, hetsy deur die verwonding of dood van een of meer van die
agtervolgers,
is daar op die polisiebeamptes gevuur. Ek meen dat die
omstandighede dat die vyfde appellant op daardie stadium onder die water
in die
veld lê en wegkruip het, dat die sesde appellant reeds deur Earle
gearresteer was en dat eerste, tweede en derde appellante
besig was om in die
veld weg te vlug, geeneen van hulle verskoon nie. Hulle het die rooftog fyn
beplan en was tot die tande toe
gewapen. Hulle het òf self deelgeneem
aan die moord op Mqike en die verwonding van Duiker, òf het die
gemeenskaplike
opset gehad om aldus deel te neem en het hulle daarmee versoen.
Op dieselfde basis is daar op die kombi en op Potgieter toe hy
hulle agtervolg
het, gevuur. Al die beskuldigdes was teenwoordig toe een of meer van hulle op
Potgieter gevuur het en het hulle
daarmee versoen. Daar is geen bewys of
tekens van distansieëring deur enigeen van hulle nie. Die vuur van die
skote op Earle
en De Beer val myns insiens in dieselfde kader as die skietery op
Potgieter en was deur al die appellante voorsien as ’n
uitvoeringshandeling
as deel van die rooftog en noodwendige ontsnapping. As
Earle en De Beer verwond of gedood sou word, sou sesde appellant uit aanhouding
kon ontsnap en die ander appellante wegkom.
[19] ’n Vergelykbare feitestel is die in S v Malinga and Others 1963 (1) SA
692 (A). Na ’n rooftog vlug ses rowers in ’n motorvoertuig. Een van hulle was, tot die kennis van die ander, bewapen met ’n gelaaide rewolwer. Hulle is agternagesit deur ’n polisievoertuig, wat besig was om langs hulle in te trek; die bewapende rower vuur op die polisievoertuig en verwond ’n polisiebeampte daarin noodlottig. Hul skuldigbevinding aan moord is deur hierdie Hof bekragtig. Op 695 A - C verklaar Holmes AR :
‘In the present case all the accused knew that they were going on a housebreaking expedition in the car, and that one of them was armed with a revolver which had been obtained and loaded for the occasion. It is clear that their common purpose embraced not only housebreaking with intent to steal and theft, but also what may be termed the getaway. And they must have foreseen, and therefore by inference did foresee, the possibility that the loaded fire-arm would be used against the contingency of resistance, pursuit or attempted capture. Hence, as far as individual mens rea is concerned, the shot fired by accused No 4 was, in effect, also the shot of each of the appellants. On the question of intention to kill, they must have foreseen, and therefore by inference did foresee, the possibility that the use of the loaded fire-arm would have fatal consequences. Violence, fire-arms, and death are ever an easy and sombre trinity, as I observed in S v Masheane and Others (AD, 16 November, 1959). And the appellants were clearly reckless whether death would in fact ensue or not. Hence the intention to kill must be imputed to each one of them. In the result all were rightly found guilty of the crime of murder.’
[20] Die skuldigbevinding van al die appellante aan aanklagte 10 en 11
(poging tot moord op Earle en De Beer) moet myns insiens gehandhaaf word.
[21] Die reslutaat van die voorgaande is dat al die skuldigbevindings van
al die appellante deur die hof a quo gehandhaaf word en
hul appèl daarteen van die hand gewys word.
Die vonnisse
[22] Oorblywend is dan die appèlle teen die vonnisse opgelê deur die hof
a quo. Daar is tereg nie deur die advokaat vir die appellante, wat sy bes vir hulle gedoen het, op enige wanvoorligting deur die verhoorhof staatgemaak nie. Behoudens dit wat hieronder gesê word met betrekking tot die vyfde appellant, is die opgelegde vonnisse ook nie onvanpas nie. Die erns van die appellante se optrede spreek vanself.
[23] Wat die vyfde appellant betref, is die posisie dat slegs hy aan aanklag
2, die gewapende roof van die Toyota-bakkie waarmee die appellante na die toneel gery het en vandaar probeer ontvlug het, skuldig bevind is.
[24] Hy het nie die appèl teen hierdie skuldigbevinding deurgevoer nie;
tereg so. Die feite is dat hy, drie dae voor die
rooftog, en naby Mapleton, by Boksburg, die bakkie van Lifo Mtswenyane, terwyl
dit in besit was van sy seun, Gwyneth, geroof het. Laasgenoemde het saam met
sy broer, Patrick, in die bakkie sit en wag vir ’n
bus. Twee persone het
hom genader; een het deur die oop venter ’n vuurwapen op hom gerig en hom
gelas om uit te klim.
Patrick is aan die passasierskant uitgetrek, waar
Gwyneth ook uitgeklim het. Die rowers, een waarvan appellant 5 was, het met
die bakkie weggery. Dit is hierdie bakkie wat deur die appellante drie dae
later in die rooftog gebruik is. Appellant 5 alleen
is aan hierdie aanklag
(roof met verswarende omstandighede) skuldig bevind.
By die oplegging van die
straf van 15 jaar gevangenisstraf het die hof a quo in ag geneem dat
appellant 5 ’n eerste oortreder was, nog nie 24 jaar oud toe die misdaad
begaan is nie, standerd 9 op skool
geslaag het en die vader van ’n
3-jarige seun was. Hy het as smous gewerk.
[24] In gevalle van
’n gewapende roof van ’n motorvoertuig, met die voor die hand
liggende gevaar van ontvoering, ernstige
aanranding en moord op die bestuurder
en insittendes, kan die howe nie anders as om swaar strawwe op te lê nie.
Die pleeg
van hierdie misdaad het so alledaags geword, veral in en om ons groot
stede, dat onskuldige mans en vrouens met beklemming op die
pad gaan en die
ergste vrees. Die brutale optrede van rowers doen ons land enorme skade aan
en gooi ’n donker skaduwee oor
die vertroue van ons gemeenskap in
polisiëring, vervolging en regspleging. ’n Aanduiding van die erns
waarmee die wetgewer
hierdie soort misdaad bejeën, blyk daaruit dat
’n minimum vonnis van 15 jaar gevangenistraf vir roof met verswarende
omstandighede
en roof van ’n motorvoertuig voorgeskryf is in artikel 51
(1), saamgelees met Deel II van Bylaag 2 van Wet 105 van 1997, die
Strafregwysigingswet, selfs vir ’n eerster oortreder. Hierdie
wetsbepaling is nie op die onderhawige geval van toepassing
nie, maar gee
nogtans ’n aanduiding van die erns van die situasie.
Met inagneming van
al die relevante feite, kom ’n vonnis van 15 jaar gevangenisstraf in
hierdie geval my nie as onredelik voor
nie.
[25] Daar is egter ’n ander probleem met die vonnisoplegging in appellant
5 se geval. Soos reeds genoem, is slegs hy aan
aanklag 2 (roof van die bakkie) skuldig bevind en daarvoor 15 jaar
gevangeinsstraf
opgelê. Net soos al die ander appellante, is hy aan
aanklagte 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12 en 13 skuldig bevind, maar
ook nog aan
klagtes 14 en 15, d w s die onwettige besit van ’n AK 47 masjiengeweer en
die ammunisie daarvoor, wat in die rooftog
gebruik is en in sy besit gevind is.
Op klag 14 is hy tot 5 jaar en op klag 15 tot 2 jaar gevangenisstraf
gevonnis.
[26] Die probleem is dat appellant 5 op aanklag 3 tot 20
jaar gevangenisstraf gevonnis is, die ander tot 10 jaar; en op klag 4 is hy
tot 20 jaar, die ander tot 15 jaar gevonnis. Daar is geen rede vir hierdie
verskille nie en dit moet reggestel word. Die vonnis
in sy geval op klag 3
word verminder na 10 jaar en op klag 4 tot 15 jaar
gevangenisstraf.
[27] As gevolg van die samelopingsbevel wat die hof
a quo gemaak het, moet die ander appellante ’n effektiewe straf van
35 jaar gevangenisstraf uitdien. Appellant 5 is aan drie meer
misdrywe skuldig
bevind, nl die gewapende roof van ’n motorvoertuig, die onwettige besit
van ’n AK 47 masjiengeweer en
die onwettige besit van die ammunisie
daarvoor. Na my mening moet hy langer straf as die ander appellante uitdien.
Indien die
patroon van samelopendheid, deur die hof a quo opgelê,
gevolg word, moet in geval van appellant 5 as volg gelas word : Die vonnisse
op klagte 2, 3 en 4 moet eers samelopend
uitgedien word ( d w s 15 jaar).
Daarna moet die vonnisse op klagte 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13 en 14 samelopend
uitgedien word
(d w s 20 jaar). Daarna moet die vonnisse op klage 14 en 15
samelopend uitgedien word ( d w s 5 jaar). Die effektiewe vonnis
is dus 40
jaar gevangenisstraf.
[28] Appellante 1, 2, 3, 4, en 6 is, net soos appellant 5, aan aanklag 8
(poging tot moord op Joseph Phalole, ’n insittende in die kombi) skuldig bevind en op daardie klag tot agt jaar gevangenisstraf gevonnis. Dié vonnisoplegging word nie in die appèlrekord gereflekteer nie, maar is in die samelopingsbevel tog aldus in ag geneem. Ten einde enige verwarring of onsekerheid uit te skakel sal bevestig word dat gemelde appellante aldus gevonnis is.
[26] Die volgende bevele word gemaak :
Die
appèl van al die appellante teen hul onderskeie skuldigbevindings
word van die hand gewys.
Die appèl teen al die vonnisse
opgelê aan appellante 1, 2, 3, 4 en 6
word van die hand gewys.
Die
appèl van appellant 5 teen die vonnisse hom opgelê op
aanklagte
2, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12 en 13 word van die hand gewys.
Die
vonnis aan appellant 5 op klagte 3 opgelê word van 20 jaar na 10
jaar
verminder, en die vonnis op klagte 4 van 20 jaar na 15 jaar.
Dit word gelas
dat in geval van appellant 5 die vonnisse soos volg
uitgedien word :
Die vonnisse op klagte 2, 3 en 4 moet eers samelopend uitgedien word ( d w s 15
jaar). Daarna moet die vonnisse
op klagte 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13 en 14
samelopend uitgedien word (d w s 20 jaar). Daarna moet die vonnisse op klage
14 en 15
samelopend uitgedien word ( d w s 5 jaar). Die effektiewe vonnis is
dus 40 jaar gevangenisstraf.
In geval van appellante 1, 2, 3, 4 en 6 word
bevestig dat hulle elkeen
aan aanklag 8 skuldig bevind is, elkeen daarvoor
gevonnis is tot agt jaar gevangenisstraf, welke straf samelopend met die
vonnisse
opgelê op klagte 6, 7, 9, 10, 11, 12 en 13 uitgedien word. Die
effektiewe vonnis in geval van hierdie appellante is 35 jaar.
P J J
OLIVIER AR
SAMESTEMMEND
ZULMAN
AR
MTHIYANE Wnd AR