South Africa: Supreme Court of Appeal

You are here:
SAFLII >>
Databases >>
South Africa: Supreme Court of Appeal >>
2001 >>
[2001] ZASCA 47
| Noteup
| LawCite
Barnard NO v Regspersoon Van Aminie Pro Admin Eiendomsbestuur en 'n Ander (417/99) [2001] ZASCA 47; [2001] 3 All SA 433 (A) (27 March 2001)
Download original files |
Saak no:
417/99
IN DIE HOOGSTE HOF VAN
APPéL
IN
SUID-AFRIKA
RAPPORTEERBAAR
In die saak
van:
C H J BARNARD
N.O. Appellant
en
DIE
REGSPERSOON VAN AMINIE Eerste Respondent
PRO ADMIN
EIENDOMSBESTUUR
(EDMS) BPK Tweede
Respondent
CORAM: Marais AR, Brand en Mthiyane Wnd
ARR
Datum gelewer: 27 Maart
2001
Wet op Deeltitels 95 van 1986 (“die Wet”). Sluit
“alle gelde” soos bedoel in art 15 B (3)(a)(i)(aa) van die
Wet
regskoste in? Is bydraes betaalbaar in terme van die Wet
“belasting” soos bedoel in art 89 (1) en (4) van die Insolvensiewet,
24 van 1936?
U I T S P R A A
K
BRAND WND AR
[1] Appellant is die kurator
in die insolvente boedel van die egpaar Smit (“die insolvent”).
Ten tyde van sekwestrasie
was die insolvent die geregistreerde eienaar van
’n eenheid wat deel vorm van ’n deeltitelskema bekend as Aminie in
Pretoria. Eerste respondent is die regspersoon van Aminie soos bedoel in art
36 van die Wet op Deeltitels 95 van 1986 (“die
Wet”). Tweede
respondent tree op as bestuursagent van eerste respondent.
Die feite wat tot
die geskilpunte tussen die partye aanleiding gegee het, kan heel kort saamgevat
word.
[2] Uit hoofde van sy amp as kurator het appellant die insolvent
se eenheid in Aminie op ’n openbare veiling verkoop. Daar was
’n
verband op die eiendom. Die verhandhouer was nie tevrede met die hoogste bod
op die veiling nie en het self die eenheid
ingekoop.
[3] Bygevolg wou
appellant die eenheid aan die koper laat oordra. Ingevolge 15 B (3) (a) (i)
(aa) van die Wet (“die wetsbepaling)
kan die oordrag van ’n
deeltiteleenheid slegs geskied indien die regspersoon van die deeltitelskema
sertifiseer dat “alle gelde wat aan die regspersoon deur die
transportgewer verskuldig is ten opsigte van die eenheid, betaal is of dat
voorsiening
vir die betaling daarvan tot bevrediging van die regspersoon gemaak
is”. Die aangehaalde deel van die wetsbepaling word onderstreep
omdat, soos aanstons sal blyk, dit belangrik is vir wat volg.
Ten einde
oordrag aan die koper te bewerkstellig het appellant dus ’n sertifikaat
soos bedoel in die wetsbepaling (’n
“uitklaringsertifikaat”),
by respondente aangevra. Respondente se antwoord was dat die
uitklaringsertifikaat verskaf
sou word teen betaling van ’n bedrag van
R19 183,17. Blykens respondente se aangehegte staat sluit hierdie bedrag
die
volgende in:
(a) bydraes - soos in art 37 van die Wet bedoel - wat deur die insolvent verskuldig is en waarvan sommige reeds meer as twee jaar agterstallig was op datum van die insolvent se sekwestrasie.
(b) regskoste wat deur eerste
respondent aangegaan is ter invordering van die agterstallige bydraes
(c) rente op al hierdie bedrae.
[4] Die eerste geskilpunt tussen
die partye spruit voort uit appellant se standpunt dat die “gelde”
waarna in die wetsbepaling
verwys word slegs slaan op agterstallige bydraes -
tesame met rente daarop - en nie op enige ander verpligtings wat die
transportgewer
teenoor die regspersoon het nie. Ooreenkomstig hierdie standpunt
was respondente dus nie geregtig om die betaling van regskostes
as voorwaarde
vir uitreiking van die uitklaringsertifikaat te stel nie.
[5] Die
tweede geskilpunt tussen die partye het betrekking op bydraes wat op datum van
die insolvent se sekwestrasie reeds meer as twee
jaar uitstaande was. Volgens
appellant mag die betaling van sodanige bydraes ook nie as voorwaarde vir die
uitreiking van die uitklaringsertifikaat
gestel word nie. As basis vir hierdie
standpunt steun appellant op die bepalings van art 89 van die Insolvensiewet 24
van 1936
(“die Insolvensiewet”) waarna binnekort meer volledig
verwys sal word.
[6] Ten aansien van beide geskilpunte is respondente
se teenoorstaande standpunt dat by ’n behoorlike uitleg van die
wetsbepaling,
saamgelees met art 89 van die Insolvensiewet, hulle geregtig was
om die uitklaringsertifikaat te weerhou totdat betaling geskied
het van alle
bydraes wat deur die insolvent verskuldig is, insluitende dié wat by
sekwestrasie reeds meer as twee jaar uitstaande
was, sowel as van die regskoste
wat aangegaan is om agterstallige bydraes te verhaal.
[7] In ’n
aansoek na die Transvaalse Provinsiale Afdeling het appellant gevra vir ’n
verklarende bevel wat in wese sy uitleg
van die wetsbepaling en art 89 van die
Insolvensiewet onderskryf. Daarop het respondente ’n teenaansoek gebring
vir ’n
bevel wat verklaar dat hulle uitleg van die twee wetsartikels die
juiste is. Die hof a quo (De Villiers R) het respondent gelyk gegee,
met die gevolg dat die appellant se aansoek van die hand gewys is terwyl die
respondente
se teenaansoek geslaag het. Teen dié beslissing kom
appellant nou, met verlof van die van die hof a quo in hoër beroep
na hierdie Hof. Die uitspraak van die hof a quo, is intussen
gerapporteer onder die verwysing Barnard NO v Regspersoon van Aminie en
’n Ander 2000 (1) 213 (T).
[8] Ek handel vervolgens eers met
die geskilpunt rakende regskoste wat, soos aangedui, wentel om ’n
behoorlike uitleg van die wetsbepaling.
[9] In Nel NO v Body
Corporate of the Seaways Building and Another [1995] ZASCA 83; 1996 (1) SA 131 (A) (die
“Nel-saak”) het hierdie Hof geleentheid gehad om te beslis oor die
uitwerking van die wetsbepaling in die geval
waar die eienaar van ’n
deeltiteleenheid gesekwestreer (of gelikwideer) word. Volgens hierdie
beslissing kan die regspersoon,
ingevolge die wetsbepaling, in geval van die
eienaar se sekwestrasie daarop aandring dat bydraes wat deur die insolvent
verskuldig
is ten volle betaal word alvorens hy ’n uitklaringsertifikaat
uitreik. Hiervolgens verleen die wetsbepaling dan, wat agterstallige
bydraes
betref, in effek, aan die regspersoon ’n voorkeureis wat voorrang geniet
selfs teenoor ’n versekerde skuldeiser
wat ’n verband oor die
eenheid hou.
[10] In die Nel-saak het dit slegs gegaan oor uitstaande
bydraes. Die vraag in hierdie saak is of die regspersoon se effektiewe
voorkeur
beperk is tot agterstallige bydraes, soos wat appellant beweer.
Hierdie vraag draai om die uitleg wat aan die sinsnede “alle
gelde wat
aan die regspersoon deur die transportgewer verskuldig is ten opsigte van die
bedoelde eenheid” soos vervat in die
wetsbepaling, gegee
word.
[11] Deur die woorde “alle gelde” gooi die wetgewer
duidelik die net so wyd as moontlik. Die beperking kom in die sinsnede
“ten opsigte van die bedoelde eenheid”. In die uitspraak van die
hof a quo (219 E-H) word daarop gewys dat, volgens vorige beslissings van
hierdie Hof, die uitdrukking “ten opsigte van” (“in
respect
of”) een van onpresiese betekenis is wat, afhangende van die samehand
waarin dit gebruik word, ’n enger of ’n
wyer strekking kan hê.
Volgens sy enger betekenis dui die uitdrukking op ’n onmiddellike of
direkte verhouding terwyl
dit, volgens sy wyer betekenis, min of meer sinoniem
is met “betreffende”. Die slotsom waartoe die hof a quo na
sorgvuldige oorweging gekom het, was dat daar in die samehang van die
wetsbepaling, eerder ’n wyer as ’n enger betekenis
aan die
uitdrukking “ten opsigte van” toegeken moet word (sien 220 H van die
verslag).
[12] In hierdie Hof is die korrektheid van die voorgenoemde
slotsom waartoe die hof a quo gekom het nie werklik deur appellant
bevraagteken nie. Ek is ook van oordeel dat dit in beginsel suiwer is. Die
betoog namens
appellant was egter dat, watter wye betekenis ookal aan die
uitdrukking “ten opsigte van” gegee word, die wetsbepaling
steeds
’n direkte verbintenis vereis tussen die transportgewer se eienaarskap van
die betrokke eenheid aan die eenkant, en
aan die aanderkant, dit wat hy aan die
regspersoon verskuldig is. Anders gestel, dat die wetsbepaling slegs betrekking
het op dit
wat die transportgewer in sy hoedanigheid as eienaar van die eenheid
wat oorgedra staan te word, verskuldig is.
[13] Na my mening moet
appellant se advokaat gelyk gegee word in hierdie vertrekpunt. Hy het dit ook
gelyk in sy betoog dat uit sommige
van die voorbeelde wat in die uitspraak van
die hof a quo gegee word dit, met respek, blyk dat hierdie verbintenis
tussen die betrokke skuld en die betrokke eenheid soms uit die oog verloor
is.
So word as voorbeeld verwys na die geval waar die eienaar van ’n eenheid
’n gedeelte van die gemeenskaplike eiendom
by die regspersoon huur.
Desbetreffende laat De Villiers R hom soos volg uit (te 221 H-I):
“Sou gelde wat aldus deur sodanige eienaar aan die regspersoon verskuldig word, ook gelde wees wat ten opsigte van die eenheid verskuldig is, soos bedoel in die bepaling wat in geskil is? Myns insiens, sou dit die geval wees.”
[14] Ek is dit met appellant se advokaat
eens dat die hof a quo in die gegewe voorbeeld die toepassingsveld van
die wetsbepaling te wyd stel. Die term “eenheid” word in art 1
van
die Wet omskryf as “’n deel tesame met sy onverdeelde aandeel in
gemeenskaplike eiendom wat ooreenkomstig die kwota van
daardie deel aan die deel
toegeken is”. Hiervolgens is dit verkeerd om te sê dat die
huurgeld vir ’n aparte gedeelte,
wat nie deel vorm van die eenheid nie,
“ten opsigte van die bedoelde eenheid” verskuldig is.
[15] Dit bring my dan terug by die vraag wat pertinent in geskil
is, naamlik of regskoste wat deur die regspersoon aangegaan is ter verhaling
van
verskuldigde bydraes, binne die kader van die wetsbepaling val. As
uitgangspunt by beantwoording van hierdie vraag is dit ’n
geregverdigde
afleiding dat die wetgewer deur die wetsbepaling aan die regspersoon ’n
effektiewe regsmiddel wou verleen om
dit te verhaal wat die eienaar van ’n
eenheid aan hom verskuldig is. Veral in geval van insolvensie waar die
regspersoon
sodanige regsmiddel die nodigste het. Hierdie benadering tot die
uitleg van die wetsbepaling is reeds in die Nel-saak deur hierdie
Hof aanvaar
(te 139 I - 140 G van die verslag). Die rede vir hierdie behoefte aan
effektiewe beskerming is te verstane. Die regspersoon
is eintlik maar ’n
versameling van eienaars van eenhede wat in sommige van mekaar se uitgawes deel.
As een van hulle versuim
om sy verpligtinge na te kom, val die las op die ander.
Daarbenewens kan die individuele eienaars ingevolge art 47 van die Wet ook
nog
direk aanspreeklik gehou word vir ’n pro rata van die regspersoon
se verpligtinge. Vandaar die behoefte aan ’n effektiewe regsmiddel vir
die regspersoon, oftewel vir die
ander eienaars, teen die eienaar wat sy
finansiële plig versuim. In ooreenstemming hiermee verwys die
wetsbepaling dan ook
nie net na “bydraes” nie maar na alle gelde wat
ten opsigte van die eenheid verskuldig is. Die term bydraes word op
ander
plekke in die Wet gebruik. As die wetgewer derhalwe die toepassingsgebied van
die wetsartikel tot “bydraes” wou
beperk, was hierdie term reeds
beskikbaar.
[16] Die inslag van die betoog namens appellant was dat
regskoste buite die trefwydte van die wetsbepaling val omdat die eienaar se
aanspreeklikheid
vir regskoste nie voortspruit uit eienaarskap van sy eenheid
nie maar uit sy halstarrigheid en onredelike optrede. Luidens hierdie
betoog
kon daar nouliks enige noemenswaardige regskoste wees indien die eienaar
reëlings getref het vir betaling van sy agterstallige
bydraes of desnoods
vrywilliglik aansoek gedoen het vir die oorgawe van sy
boedel
[17] Hierdie betoog getuig egter van ’n fundamentele
wanopvatting in sy vertrekpunt, naamlik dat aanspreeklikheid vir regskoste
’n skuld is wat op sy eie bene staan. Volgens ’n suiwer benadering
is die posisie juis dat regskoste nie losgemaak
kan word van die skuld ter
verhaling waarvan dit aangegaan is nie. In hierdie opsig is regskoste analoog
met rente. Soos in geval
van rente ontstaan aanspreekliheid vir regskoste
slegs omdat ’n bedrag wat verskuldig is nie betaal is nie. Ook van rente
op agterstallige bydraes kan dus gesê word dat dit nie voortspruit uit die
eienaar se eienaarskap van sy eenheid nie, maar
uit sy halstarrigheid en sy
onredelike versuim om sy bydraes te betaal. Tog gee appellant se advokaat -
tereg - toe dat rente op
agterstallige bydraes deur die wetbepaling gedek word.
’n Onderskeid tussen rente en regskoste in die verband is eenvoudig
nie op
logiese gronde regverdigbaar nie. Hiervolgens moet die vraag, of ’n
regspersoon kan weier om ’n uitklaringsertifikaat
uit te reik weens
regskoste wat nie betaal is nie, dus benader word deur te vra of die eis ter
verhaling waarvan die regskoste aangegaan
is, deur die wetsbepaling gedek word.
Indien wel, is die regskoste ook gedek. Hierdie benadering gee uiting aan die
oogmerk van
die wetsbepaling om aan die regspersoon effektiewe beskerming te
verleen. Ingevolge art 37 (1) (d) van die Wet is die regspersoon
verplig om
bydraes in te vorder en in terme van art 37 (2) word hy spesifiek gemagtig om
betaling van sodanige bydraes in ’n
bevoegde hof af te dwing. In die
omstandighede sal die wetsbepaling nouliks effektiewe beskerming verleen indien
dit nie ook vir
afdwinging van regskoste aangewend kan word nie en die regskoste
op die end deur die ander eenheideienaars wat reeds hulle eie verpligtinge
nagekom het, gedra moet word.
[18] Die regskoste wat in die
onderhawige saak ter sprake is, is aangegaan ter verhaling van bydraes. Dit is
duidelik dat bydraes deur
die wetsbepaling gedek word. Ooreenkomstig die
benadering wat blyk uit die voorgaande, val die regskostes wat ter sprake is dus
ook binne die kader van die wetsbepaling. Gevolglik was respondente geregtig
om daarop aan te dring dat die regskoste betaal word
alvorens hulle die
uitklaringsertifikaat uitreik.
[19] Soos uit die uitspraak van die hof
a quo blyk, is daar ongerapporteerde uitsprake in die Transvaalse
Provinsiale Afdeling waarin beslis is dat regskoste wat aangegaan is
ter
verhaling van bydraes, nie deur die wetsbepaling gedek word nie (sien 224 D - G
van die verslag). Aangesien die beslissings
waarna verwys word direk in stryd
is met die onderhawige beslissing van hierdie Hof, kan hulle uiteraard nie meer
as goeie gesag
beskou word nie.
[20] Die verdere vraag wat deur die
appèl te berde gebring word, is of respondente die uitklaringsertifikaat
kon weerhou totdat
betaling gemaak is van bydraes wat op datum van die insolvent
se sekwestrasie reeds meer as twee jaar uitstaande was. Appellant
se betoog,
dat respondente nie geregtig was om dit te doen nie, is gebasseer op die
bepalings van art 89 (1), (4) en (5) van die
Insolvensiewet. Ten einde die
strekking van appellant se betoog te verstaan, is dit ongelukkig nodig om die
spesifike bewoording
van hierdie subartikels redelik volledig aan te haal. Vir
sover ter sake, lui dit as volg:
“89. Koste wat ten laste van sekuriteit kom. - (1) Die koste van instandhouding, bewaring en tegeldemaking van goed word uit die opbrengs van daardie goed betaal ... Die kurator se vergoeding met betrekking tot sodanige goed ..., ’n eweredige deel van die Meester se fooie en as die goed onroerend is, enige belasting soos omskryf in subartikel (5), wat daarop verskuldig is of sal word ten opsigte van enige termyn van hoogstens twee jaar onmiddellik voorafgaande aan die datum van die sekwestrasie van die betrokke boedel en ten opsigte van die termyn vanaf daardie datum tot die datum van die transport van daardie goed deur die kurator van daardie boedel, met enige rente of boete wat verskuldig is op bedoelde belasting ten opsigte van enige sodanige termyn, maak deel uit van die koste van die tegeldemaking.
(4) Nieteenstaande die bepalings van een of ander wet wat die transport van onroerende goed verbied tensy enige daarop verskuldigde belasting soos omskryf in subartikel (5) betaal is, belet daardie wet die kurator van ’n insolvente boedel nie om enige onroerende goed in daardie boedel te transporteer ten einde die boedel te likwideer nie, indien hy die belasting betaal het wat verskuldig mog gewees het op daardie goed ten opsigte van die in subartikel (1) bedoelde termyne en geen voorrang word verleen nie aan ’n vordering weens so ’n belasting ten opsigte van enige ander termyn.
(5)
By die toepassing van subartikels (1) en (4) beteken “belasting” met
betrekking tot onroerende goed ’n bedrag
wat periodiek op daardie goed
verskuldig is aan die Staat of ten bate van ’n provinsiale administrasie
of aan ’n liggaam,
deur of kragtens een of ander wet ingestel, tot
voldoening aan ’n verpligting om sodanige periodieke betalings te maak,
indien
daardie verpligting voortspruit uit die eiendomsreg op daardie
goed.”
[21] Die betoog namens appellant is dat
“belasting” (Engels - “tax”) in art 89 (1) en (4)
’n uitgebreide
betekenis dra, welke uitgebreide betekenis uit subart (5)
blyk. Ooreenkomstig hierdie betoog, kwalifiseer ’n regspersoon,
soos
eerste respondent, as “’n liggaam deur of kragtens een of ander wet
ingestel”. Derhalwe is bydraes wat per
definisie voortspruit uit die
eiendomsreg van ’n eenheid en wat periodiek betaalbaar is
“belasting” soos in subart
(5) omskryf. Gevolglik, so voer
appellant aan, is hy ingevolge subart (1) en (4) geregtig om die betrokke
eenheid oor te dra teen
betaling van bydraes, oftewel belasting, wat nie by
sekwestrasie vir ’n tydperk van meer as twee jaar agterstallig was
nie.
[22] Sowel in die hof a quo as in hierdie Hof gaan
respondente se antwoord op hierdie betoog uit van die premis hierdie Hof reeds
in die Nel-saak beslis het
dat bydraes aan ’n regspersoon nie
“belasting” is soos in art 89 (1) en (4) bedoel nie. Ter
ondersteuning van
hierdie betoog beroep respondente hulle veral op die volgende
opmerkings deur EM Grosskopf AR op 139 J - 140 B van die verslag:
“It was argued on behalf of the appellant that serious anomalies would arise from the interpretation I have suggested. Thus the protection granted to a body corporate would be considerably more extensive than that accorded, for instance, to municipalities for rates. Section 89 (1) of the Insolvency Act provides for a preference in respect of pre-sequestration taxes on immovable property only for a maximum period of two years prior to sequestration. On the above interpretation of the contested provision the body corporate will have a de facto preference for an unlimited period, subject only to the law of prescription. And the type of debt due by a transferor which is protected by the contested provision would be wider than that owing to a municipality for rates.”
[23] Appellant se repliek hierop was dat
die aangehaalde opmerkings obiter was aangesien die bydraes in die
Nel-saak inderdaad vir minder as twee jaar voor sekwestrasie agterstallig was.
In die hof a quo wou De Villiers R egter nie aanvaar dat die aangehaalde
opmerkings obiter was nie (sien 223 in fine - 244B van die
verslag). Volgens sy siening was dit wel vir hierdie Hof nodig om te beslis of
bydraes as “belasting”
beskryf moet word ten einde die aangevoerde
anomalie waarna in die aangehaalde dictum verwys word, te
beoordeel.
[24] Ek is, met respek, geneig om De Villiers R se siening
te deel. Onderliggend aan die aangevoerde anomalie is die veronderstelling
dat
bydraes nie “belasting” is vir doeleindes van artikel 89 nie.
Indien bydraes ook “belasting” is kan
daar immers geen sprake wees
van die beweerde anomalie nie. Ten einde die argument van ’n anomalie op
sy meriete te beslis
moes hierdie Hof dus noodwendig aanvaar dat bydraes nie
“belasting” is nie. Nietemin is ek bereid om ten gunste van
appellant te aanvaar dat die vraag, of bydraes aan ’n regspersoon vir
doeleindes van art 89 as “belasting” beskou
moet word, nog nie deur
hierdie Hof beslis is nie.
[25] Dit behoef nouliks enige betoog dat
volgens sy algemeen aanvaarde betekenis, die begrip “belasting” nie
bydraes aan ’n
regspersoon insluit nie. In die eerste plek is dit omdat
“belasting” (Engels - “tax”) gewoonlik verstaan
word as
synde ’n verpligte betaling aan ’n owerheidsliggaam. Dit word
bevestig deur die mees elementêre leksikografiese
ondersoek. (Sien bv die
Verklarende Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal (HAT) en The Concise Oxford
Dictionary of Current English,
7de Uitgawe.) Daarbenewens het die begrip
“belasting” volgens sy gewone betekenis ook nog ’n ander faset
waaraan
bydraes aan ’n regspersoon nie voldoen nie. Hierdie faset blyk
uit die volgende verduideliking deur Ramsbottom R in Permanent Estate and
Finance Co Ltd v Johannesburg City Council 1952 (4) SA 249 (W) 259 A.
“To require any person who carries on a business or who owns a dog or a motor car to pay a prescribed fee is, I think, to impose a tax. The money paid is taken into general revenue and is used for general purposes; the person who pays receives no specific services in return for his payment.”
[26] Die betoog namens appellant
was dan ook nie dat bydraes aan ’n regspersoon “belasting” is
volgens die gewone betekenis
van die woord nie, maar dat dit val binne die
uitgebreide betekenis wat in art 89 (5) aan die term “belasting”
gegee
word. Die veronderstelling waarop die betoog fundeer is, is derhalwe
dat daar by die uitleg van art 89 (5) ’n bedoeling
aan die kant van die
wetgewer ingelees moet word om die begrip “belasting” kunsmatig uit
te brei. Hierdie veronderstelling
is egter ongeldig en daarom gaan die betoog
mank aan ’n fundamentele gebrek. By behoorlike uitleg van die art 89 (5)
is
dit duidelik dat die wetgewer eerder ’n beperkende as ’n
uitgebreide betekenis aan die term “belasting”
wou gee. Die
bedoeling van die wetgewer is duidelik dat sommige betalings wat oor die
algemeen as “belasting” sal kwalifiseer,
nie vir die doeleindes van
subarts (1) en (4) “belasting” sal wees nie. Subart (5) gee
derhalwe nie voor om ’n
selfstandige definisie van belasting te wees nie.
Die vertrekpunt waarvandaan die wetgewer in die subartikel uitgaan is juis dat
’n verskuldigde betaling reeds volgens algemeen geldende maatstawwe as
“belasting” geïdentifiseer is voordat
die verdere beperkende
elemente van die definisie toepassing vind. As die verpligte betaling nie in
algemene terme ’n “belasting”
is nie, cadit quaestio.
Indien dit wel ’n “belasting” is, moet bepaal word of dit aan
die beperkende elemente van die definisie voldoen
ten einde vas te stel of dit
ook in die beperkte sin ’n “belasting” is alvorens dit by die
toepassing van subarts
(1) en (4) as sodanig beskou moet word.
[27] Om
subart (5) as ’n uitbreidende definisie van belasting te beskou sal
onsinnige gevolge meebring. ’n Liggaam wat “deur
of kragtens een
of ander wet ingestel is” sal klaarblyklik ook ’n gewone
handelsmaatskappy insluit. Periodieke betalings
aan so ’n maatskappy wat
voortspruit uit eiendomsreg op onroerende goed, soos byvoorbeeld, maandelikse
paaiemente op die koopprys
van daardie goed wat nog, na oordrag, aan die
verkoper-maatskappy verskuldig is, sal as “belasting” kwalifiseer en
gevolglik
die beskerming van artikel 89 (1) geniet in geval van insolvensie.
Dít kon nie die bedoeling van die wetgewer gewees het
nie.
[28] Daar is ook ander aanduidings in art 89 dat dit
“belasting” in sy algemeen aanvaarde sin is wat die wetgewer as
vertrekpunt
voor oë gehad het. So word byvoorbeeld, in art 89 (1) verwys
na “’n boete wat verskuldig is op bedoelde belasting”.
Dit
is duidelik dat so ’n boete slegs op “belasting” in sy gewone
sin kan slaan. Voorts is die twee kategorië
waarvan pertinent in subart
(5) melding gemaak word, te wete die Staat en provinsiale owerhede, inderdaad
owerheidsliggame aan wie
“belasting” volgens sy gewone betekenis
betaalbaar is. Dit dui daarop dat volgens ’n sinvolle uitleg die derde
kategorie waarna in die subartikel verwys word ook verstaan moet word om op
owerheidsliggame, soos plaaslike owerhede betrekking
te hê. Die vraag
kan immers gevra word, waar anders plaaslike owerhede in die skema van art 89
sou resorteer.
[29] Hieruit volg dit dat agterstallige bydraes nie
“belasting” is vir die doeleindes van art 89 (1) en (4) nie en dat
die
twee jaar beperking in hierdie subartikels vervat is, derhalwe nie op
agterstallige bydraes van toepassing is nie. Ook wat betref
die tweede
geskilpunt moet respondent dus gelyk gegee word.
[28] Vir hierdie
redes word die appèl van die hand gewys met
koste.
_______________________
FDJ BRAND
Wnd
Appèlregter
STEM SAAM:
MARAIS AR
MTHIYANE Wnd AR