South Africa: Supreme Court of Appeal

You are here:
SAFLII >>
Databases >>
South Africa: Supreme Court of Appeal >>
2001 >>
[2001] ZASCA 61
| Noteup
| LawCite
S v Van Aswegen (327/2000) [2001] ZASCA 61 (17 May 2001)
Download original files |
IN DIE HOOGSTE HOF VAN APPÈL
VAN SUID-AFRIKA
RAPPORTEERBAAR
SAAKNR: 327/2000
In die appèl tussen:
IZAK GERHARDUS JACOBUS
VAN ASWEGEN Appellant
en
DIE
STAAT Respondent
VOOR: HARMS, ZULMAN, CAMERON, NAVSA ARR en BRAND, Wnde AR
AANGEHOOR: 10 Mei 2001
UITSPRAAK: 17 Mei 2001
Strafverhoor — Juiste
benadering teenoor bewyslas op Staat — Vonnis — Magte op
appèl — Hof van appèl
kan nie hoër vonnis oplê as
wat verhoorhof kon oplê nie
UITSPRAAK
CAMERON AR:
[1] In die landdroshof te Orkney het
die appellant tereggestaan op ‘n aanklag van roof. Hy het onskuldig
gepleit, maar is skuldig
bevind en tot 12 maande gevangenisstraf, waarvan vier
maande voorwaardelik opgeskort is, gevonnis. Hy het teen beide die
skuldigbevinding
en vonnis ge-appelleer na die Transvaalse Provinsiale Afdeling.
Hierop het die Staat kennis gegee van sy voorneme om die vonnis te
laat verhoog
deur die hof van appèl te versoek om die opgelegde vonnis ter syde te
stel en die aangeleentheid na die streekhof
vir vonnisoplegging te verwys. By
die aanvanklike aanhoor van die appèl het ‘n meningsverskil tussen
die twee regters
daartoe gelei dat die aangeleentheid na ‘n volle bank van
drie regters verwys is. Die Volbank (Le Roux R, met wie Van Dyk
R en Botha Wnde
R saamgestem het) het die appèl teen die skuldigbevinding afgewys. Wat
straf betref, het die Volbank die
Staat gelyk gegee dat die vonnis te lig was,
maar toe self ingegryp en ‘n vonnis van vier jaar gevangenisstraf
ingevolge art
276(1)(i) van die Strafproseswet, 51 van 1977 (“die
Strafproseswet”)
opgelê.[1] Met verlof van die
Volbank ten aansien van vonnis en van hierdie Hof ten aansien ook van sy
skuldigbevinding, kom die appellant
nou in hoër beroep.
[2] In die
vroeë oggendure van Saterdag 6 September 1997 is die klaer, mnr Nunu
Dlamini, ‘n mynwerker op pad na sy skof,
deur drie mans aangeval en van R1
500 kontant beroof. In die loop van die aanranding het die klaer ’n swart
beursie vir die
eerste keer op die grond waargeneem. Hy het kort na die aanval
na die toneel teruggekeer en die beursie opgetel. Terwyl hy daar
was, het sy
aanvallers teruggekeer. Hy het gevlug en hulle van ’n veilige afstand
ongesiens dopgehou terwyl hulle op die grond
rondgesoek het. Hulle is later
ongedane sake vort.
[3] Die beursie het die identiteitsdokument,
bankkaart, salarisstrokie en ander eiendom van die appellant bevat. Hy is
opgespoor
en gearresteer. Tydens die verhoor was dit gemeensaak dat die beursie
aan die appellant behoort. In sy getuienis het die klaer
die appellant
geïdentifiseer as een van sy aanvallers. Die appellant se alibi-verweer,
eers ná die Staatsaak geopenbaar,
was dat hy die beursie moes verloor het
toe hy laat die Vrydagaand met sy verloofde vanaf ‘n dansklub huis toe
gestap het.
Beide sy verloofde en sy vader, wat na bewering nog wakker was by
hulle tuiskoms, is geroep om die alibi te staaf. Die verhoorlanddros,
mev du
Toit, het die getuienis van die klaer aanvaar en dié van die appellant en
sy vriendin verwerp. Die appellant se vader
se getuienis, op sigself genome, is
nie uitdruklik verwerp nie.
[4] Hoewel die Staat die getuienis van
verskeie persone aan wie die appellant na die aanval mededelings gemaak het
(insluitend sy
werkskollega, die polisie-beampte by wie die klag aanhangig
gemaak is en die ondersoekbeampte), geroep het, was die klaer ten aansien
van
die roof ‘n enkel getuie. Wat die toepaslike versigtigheidsreëls
betref, het die verhoorlanddros haarself gepas
voorgelig. Om gegronde redes het
sy die klaer as ‘n goeie getuie beskou en kritiek ingebring teen die
getuienis van veral
die appellant en sy verloofde.
[5] In sy betoog voor
ons het mnr van Wyk namens die appellant gesteun op faktore wat volgens sy
betoog die klaer se identifikasiegetuienis
onder verdenking sou bring. Die
appellant se skuldigbevinding het egter nie in hoofsaak op identifikasie berus
nie. Die kernkwessie
is of die feit dat sy beursie tydens die aanval op die
toneel beland het hom genoegsaam met die pleeg van die roof verbind. Mnr
van
Wyk het aan die hand gedoen dat dit redelik moontlik is dat die werklike rower
die beursie vroeër kon opgetel het en sy
buit later op die rooftoneel
verloor het. In isolasie gesien, is dit seker moontlik. Die deurslaggewende
feit is egter dat die
klaer se aanvallers na die rooftoneel teruggekeer het.
Dit kan nie betwyfel word dat hulle doel was om na die beursie te soek nie.
Slegs iemand met ‘n dwingende belang by die terughaal daarvan sou die
risiko’s hieraan verbonde trotseer. Die klaer
het getuig dat die beursie
geen geld bevat het nie. Die appellant se getuienis was dat dit R35,00 bevat
het — ‘n redelik
onbenullige bedrag. Na my mening berus die verloop
wat die appellant se advokaat voorgehou het suiwer op spekulasie en moet dit
as
ontdaan van ‘n redelike moontlikheid verwerp word.
[6] Die enigste
redelike afleiding is dat dit die appellant was wat kort na die roof in die
geselskap van sy mede-aanvallers na die
toneel terug is en dat hy dit gedoen het
omdat hy ontdek het dat hy sy beursie kwyt is en, in die besef dat hy andersins
met die
misdaad verbind sou kon word, dit wou probeer
terugkry.
[7] Namens die appellant is betoog dat die feit dat die
landdros nie die getuienis van die appellant se vader uitdruklik verwerp het
nie
en dat daardie getuienis die appellant se alibi staaf, beteken dat die appellant
nie skuldig bevind kon word nie. Die wanopvatting
wat hierdie argument
onderlê het sy oorsprong in beslissings soos S v
Kubeka[2]en S v
Munyai.[3] In eersgenoemde is die
Hof se benadering tot die beskuldigde se getuienis soos volg uiteengesit:
“Whether I subjectively disbelieve him is, however, not the test. I need not even reject the State case in order to acquit him. It is not enough that he contradicts other acceptable evidence. I am bound to acquit him if there exists a reasonable possibility that his evidence may be true. Such is the nature of the onus upon the State.”[4]
In
S v Munyai onderskryf die Hof die benadering in Kubeka en brei
soos volg daarop uit:
“In other words, even if the State case stood as a completely acceptable and unshaken edifice, a court must investigate the defence case with a view to discerning whether it is demonstrably false or inherently so improbable as to be rejected as false.”[5]
[8] Die
benadering teenoor hierdie foutiewe opvattings in S v
Tellingen[6] in S v van
der Meyden[7] en die kritiek
daarteen uitgespreek is na my oordeel korrek en van toepassing in hierdie saak.
Soos Nugent R in S v van der Meyden gesê het:
“It is difficult to see how a defence can possibly be true if at the same time the State's case with which it is irreconcilable is 'completely acceptable and unshaken'. The passage seems to suggest that the evidence is to be separated into compartments, and the 'defence case' examined in isolation, to determine whether it is so internally contradictory or improbable as to be beyond the realm of reasonable possibility, failing which the accused is entitled to be acquitted. If that is what was meant, it is not correct. A court does not base its conclusion, whether it be to convict or to acquit, on only part of the evidence. The conclusion which it arrives at must account for all the evidence. ...
I am not sure that elaboration upon a well-established test is necessarily helpful. On the contrary, it might at times contribute to confusion by diverting the focus of the test. The proper test is that an accused is bound to be convicted if the evidence establishes his guilt beyond reasonable doubt, and the logical corollary is that he must be acquitted if it is reasonably possible that he might be innocent. The process of reasoning which is appropriate to the application of that test in any particular case will depend on the nature of the evidence which the court has before it. What must be borne in mind, however, is that the conclusion which is reached (whether it be to convict or to acquit) must account for all the evidence. Some of the evidence might be found to be false; some of it might be found to be unreliable; and some of it might be found to be only possibly false or unreliable; but none of it may simply be ignored.”[8]“
In
die huidige geval is die skuldigbevinding dus ten volle
geregverdig.
[9] Wat vonnis betref, het die Volbank na my mening tereg
tot die slotsom gekom dat die vonnis wat die verhoorlanddros opgelê
het
“totaal ontoereikend” was. Die aanval op die klaer, waarin hy van
die appellant en sy trawante vuishoue sowel as
skoppe moes verduur, het
gesigsbloeding en -swelling veroorsaak en mediese behandeling genoodsaak. Die
R1 500 wat geroof is, is
’n aansienlike bedrag en hoewel die Staat nie
verswarende omstandighede beweer of bewys het nie, behoort die verhoorlanddros
by ‘n suiwere diskresie-uitoefening die aangeleentheid kragtens art 116(1)
van die Strafproseswet vir vonnistoemeting na die
streekhof te verwys
het.
[10] Die vraag is wat die Volbank te doen gestaan het ná die
slotsom dat die verhoorhof se vonnis ter syde gestel moet word.
Art 309(3) van
die Strafproseswet verleen aan ‘n provinsiale of plaaslike afdeling, by
‘n appèl wat nie uitsluitlik
om ‘n regsvraag gaan nie,
“die bevoegdheid om ‘n aan die appellant opgelegde vonnis te
verswaar of met ‘n
ander vorm van vonnis in die plek van of benewens
daardie vonnis op te lê”. Daardie magte sluit egter nie die
bevoegdheid
in in om ‘n hoër vonnis op te lê as wat die
verhoorhof kon opgelê het nie. Dit het Galgut AR (met wie Van
Winsen en
Diemont ARR saamgestem het) met verwysing na wesenlik dieselfde statutêre
bepalings na my mening oortuigend aangetoon
in S v
Peter.[9]
[11] By die
dwingende redes in S v Peter uiteengesit, sou ek slegs die volgende
voeg. ‘n Beskuldigde wat vir vonnisoplegging na die streekhof verwys
word, het
klaarblyklik die reg om verdere getuienis ter versagting van vonnis
voor daardie hof te plaas.[10]
‘n Verwysing na die streekhof mag só ‘n beskuldigde trouens
noop om getuienis aan te voer selfs waar hy, met
die oog op die distrikslanddros
se jurisdiksie-beperkings, dit nie beoog het nie. Sou ‘n appèlbank
die bevoegdheid
hê om ‘n hoër vonnis op te lê as die
verhoorhof, word die beskuldigde in stryd met fundamentele geregtigheid
en
grondwetlike beginsels[11] van
daardie geleentheid ontneem.
[12] Die misdaad is op 6 September 1997
gepleeg en die appellant op 3 Maart 1998 gevonnis. Kragtens die destyds
luidende bepalings
van art 92(1)(a) van die Wet op Landroshowe, 32 van 1944, was
‘n distrikslanddros se strafjurisdiksie tot 12 maande
beperk.[12] Die Volbank het dus
gefouteer deur ‘n vonnis van vier jaar gevangenisstraf self op te
lê, en moet die aangeleentheid
vir gepaste vonnisoplegging na die
Streekhof verwys word.
[13Daar word soos volg beveel:
1. Die appèl teen skuldigbevinding word van die hand gewys.
2. Die appèl teen die vonnis deur die Volbank opgelê slaag en word vervang met die volgende:
“Die saak word in terme van art 116 van die Strafproseswet na die streekhof verwys vir vonnisoplegging.”
E CAMERON
APPÈLREGTER
HARMS AR )
ZULMAN AR )
NAVSA AR ) STEM SAAM
BRAND WNDE AR )
[1] Art 276(1)(i) verleen aan die
Kommissaris van Korrektiewe Dienste die bevoegdheid om na goeddunke ‘n
gevangene onder korrektiewe
toesig te
plaas.
[2]1982 (1) SA 534
(W)
[3] 1986 (4) SA 712 (V)
[4] 1982 (1) SA 534 (W) 537F-G
[5]1986 (4) SA 712 (V)
715G
[6]1992 (2) SASV 104 (C)
106a-h
[7] 1999 (2) SA
79 (W) 82C-E
[8]1999 (2) SA op
81I-82E
[9] 1989 (3) SA 649
(CkAD)
[10] Vergelyk S v
Dzukuda and others 2000 (4) SA 1078 (CC) par
25
[11] Vergelyk art 35 van die
Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika en veral art
35(3)(i)
[12] Art 6 van die
Wysigingswet op Landdroste, 66 van 1998 het met ingang van 7 Oktober 1998 die
strafjurisdiksie van distrikslandroshowe
na drie jaar verhoog.