South Africa: Supreme Court of Appeal

You are here:
SAFLII >>
Databases >>
South Africa: Supreme Court of Appeal >>
2001 >>
[2001] ZASCA 64
| Noteup
| LawCite
S v Legote and Another (206/99) [2001] ZASCA 64 (22 May 2001)
Download original files |
SAAKNOMMER: 206/99
In die saak
tussen:
DIE
STAAT Appellant
en
RONNIE
LEGOTE 1e Respondent
MICHAEL SITHOLE 2e
Respondent
Hof: HEFER Wnde HR, HOWIE en HARMS ARR
Verhoor: 15 MEI 2001
Gelewer: 22 MEI
2001
Sleutelbegrip: S v Legote en 'n Ander 1999
(1) SASV 269 (O) word onder loep geneem: Waarde van vingerafdrukke as getuienis;
onreëlmatige strafverrigtinge
U I T S P R A A K
HARMS AR/
HARMS AR:
[1] Op 5 November
1996 het 'n transito-roof plaasgevind op die Bloemfontein-Dealesvillepad
waartydens meer as sesmiljoen Rand gesteel
is. Drie gesteelde voertuie is
gebruik om die gepanserde voertuig waarin die geld was, voor te keer. Na
aanleiding hiervan het
drie beskuldigdes tereg gestaan op 'n aanklag van roof
met verswarende omstandighede, vier aanklagtes van poging tot moord en drie
van
motordiefstal. (Die saak teen die vierde beskuldigde, no 2, is voorlopig
teruggetrek.) Die staatsaak het deels berus op uitwysings
wat deur een van die
beskuldigdes aan die polisie gemaak is. Daarbenewens was die saak gebaseer op
vinger- en palmafdrukgetuienis
wat die drie met die misdaad moes verbind. Die
verhoorhof (Edeling R) het, na afloop van 'n binne-verhoor, die getuienis t a v
die uitwysing uitgesluit en, hoewel ek bedenkings het oor die op- en
aanmerkings van die verhoorregter gemaak in die loop van die
getuienis en in sy
uitspraak, is hierdie bevinding finaal en moet dit daargelaat
word.
[2] Aangesien die dokument waarop no 3 se vingerafdruk voorgekom het
nie met die misdaadtoneel verbind is nie en aangesien sy uitwysings
nie
toegelaat is nie, was daar geen getuienis wat hom met die misdaad verbind het
nie en is hy tereg aan die einde van die staatsaak
ontslaan. Wat no 1 (tans die
eerste respondent) en no 4 (die tweede respondent) betref, is die posisie die
volgende. No 1 se vingerafdrukke
is aan die skoongeveegde agterkant van die
vervalste nommerplate van twee van die gesteelde voertuie gevind en no 4 se
palmafdruk
aan een van die gesteelde voertuie (dis gelig vanaf die
bestuurskajuit langs die linkervoordeur waar die deur en die kajuit bymekaar
kom). Daar was nie ander afdrukke op die voertuie nie en gomlastiek-handskoene
is op die toneel gevind. Hoewel die Staat se deskundige
nie die ouderdom van
die afdrukke kon bepaal nie, het hy getuig dat hulle vars moes gewees het omdat
die voertuie onlangs deeglik
gewas is, iets wat noodwendig volg uit die feit dat
die voertuie so min merke op gehad het. In ieder geval, waar daar aanklagtes
van motordiefstal was en no 1 se vingerafdrukke agterop vervalste nommerplate
gevind is, sou die ouderdom van die afdrukke in ieder
geval nie noodwendig
deurslaggewend gewees het nie.
[3] Die waarde van vingerafdrukke as
bewysmateriaal om 'n beskuldigde aan 'n misdaad te verbind, is goed bekend.
Normaalweg verskaf
dit nie alleen prima facie-getuienis nie maar dikwels is dit
beslissend (sien S v Arendse 1970 (2) SA 367 (C); S v van Wyk 1982
(2) SA 148 (NC)). Dis egter nie altyd so nie. R v du Plessis 1944 AD
314 is 'n geval waar die beskuldigde wat lank na die tyd gekonfronteer is met
die feit dat sy vingerafdruk aan 'n gesteelde motor gevind
is, die
inkriminerende waarde van die getuienis ongedaan kon maak deur deels
bespiegelende getuienis. Maar, soos die uitspraak by
implikasie aandui, hang
die bewyswaarde van vingerafdrukke van die getuienis as geheel af. Ook
insiggewend is R v Nksatlala 1960 (3) SA 543 (A) (‘n geval waar
‘n motoris van sy motor beroof is). Een vingerafdruk is aan die binneruit
gevind. Die ooggetuies
het egter getuig dat dit nie die beskuldigde was wat die
roof gepleeg het nie. Hy self het toe nie getuig nie. Sy appèl teen
sy
skuldigbevinding het geslaag. Opsommend het Schreiner AR op 551E-G die volgende
gesê:
“This is in my view a very difficult case. There is no
doubt that the presence of the appellant's finger-print on the inside
of the
window so soon after the robbery operates powerfully against him. And his
failure to give evidence must add something to the
weight on that side of the
balance. Counsel for the Crown very properly stressed the importance of these
factors. On the other side,
however, there is the very important evidence of the
persons present at the robbery, the fact that the trial Court did not, as it
seems to me, deal with that evidence satisfactorily, and the fact that the Court
accepted too easily the conclusion that the finger-print
could not have got onto
the window before the robbery. The countervailing considerations had of course
to be weighed against each
other.”
[4] Om terug te keer na die
onderhawige saak: aan die einde van die staatsaak het no 1 se advokaat aangedui
dat hy van voorneme
is om sy klient se getuienis te lei. Wat verder gebeur het,
blyk uit Edeling R se uitspraak op die aansoek van die staat om regsvrae
voor te
behou, nl S v Legote en 'n Ander 1999 (1) SACR 269 (O) 271d-e, maar vir
gerief haal ek dit weer aan:
“Mnr Dempers [no 1 se advokaat]: Ek sal
met u verlof inderdaad beskuldigde 1 as 'n getuie roep, maar omdat ek verstaan
dat beide
my geleerde kollegas namens beskuldigdes 3 en 4 die Hof wil toespreek
met aansoeke, vra ek net 'n aanduiding by die Hof welke aspekte
u eerste wil
hanteer.
Hof: Wat het u, wil u beskuldigde 1 roep om wat te kom sê,
wat het die Staat teen beskuldigde 1 sover gesê?
Mnr Dempers: Hulle het
niks teen die beskuldigde nie.
Hof: Wil u hom roep sê u?
Mnr
Dempers: Nee, ek sou hom geroep het, maar . . .
Hof: Die Staat het sy saak
gesluit sonder om 'n woord getuienis teen u kliënt te gee.”
Soos
te wagte het al drie die beskuldigdes toe aansoek om ontslag gedoen. Die staat
het toegegee dat no 3 se aansoek moes slaag maar
het no's 1 en 4 s'n
teengestaan.
[5] In sy uitspraak op die aansoek om ontslag het Edeling R
bevind dat hy “steeds” van mening is dat daar geen prima
facie-saak
teen no's 1 en 4 uitgemaak is nie en dat daar niks is waarop hulle hoef te
antwoord nie. Nogtans het hy die aansoek
afgewys. Of dit 'n behoorlike
uitoefening van sy diskresie was in die lig van sy feitebevinding, hoef tans nie
besleg te word nie.
Vgl bv S v Jama and Another 1998 (2) SACR 237 (N).
Die advokate het vanselfsprekend die onverbloemde uitnodiging om hulle sake te
sluit in dankbaarheid en met ope arms aangegryp.
Noodwendigerwys het 'n
onskuldigbevinding gevolg.
[6] Die oppervlakkige en onjuiste benadering tot
die vingerafdruk-getuienis deur Edeling R het die gevolg gehad dat persone teen
wie die staat 'n saak gehad het wat 'n antwoord geverg het, denkbaar
verkeerdelik vrygespreek is. Hierna het die staat 'n aansoek
geloods
ingevolge art 319(1) van die Strafproseswet 51 van 1977 om die voorbehoud van
regsvrae vir oorweging deur hierdie hof. Die
voorgestelde vrae was die
volgende:
“1 Het die Regter regtens korrek bevind dat die vonds van die
vingerafdrukke
(a) nie 'n prima facie-saak uitgemaak het nie en
(b) nie 'n
antwoord van die respondente geverg het nie?
2 Het die opmerking waarna in
[par 5 hierbo] verwys is nie 'n onreëlmatigheid daargestel wat 'n
regskending tot gevolg gehad
het nie?”
Omdat die aansoek laat was, was
kondonasie nodig maar dis geweier (op 276g-h). Hoewel Edeling R se
regsuiteensetting in hierdie verband
korrek was, was sy benadering tot die feite
ietwat bekrompe en onnodig streng (274f-276f). Die afwys van die aansoek om
kondonasie
het die staat die geleentheid gegee om sonder verlof daarteen te
appelleer (S v Gopal 1993 (2) SACR 584 (A)). Die staat het ook met
sukses 'n aansoek om verlof om te appelleer na hierdie Hof gerig teen die
weiering om die vrae voor
te behou. Omdat die appèl teen die afwys van
die kondonasie-aansoek alleen kan slaag indien daar andersins meriete in die
voorgenome appèl is, handel ek vervolgens daarmee.
[7] Die eerste
gestelde vraag is m. i. onteenseglik 'n feitevraag. Die staat het egter met
verwysing na R v du Plessis (op 316) betoog dat dit 'n regsvraag is of
“there was any legal evidence to support the finding of the Court that the
accused
was guilty”. Toevallig het die stelling in die konteks van die
vraag of vingerafdrukke voldoende getuienis daargestel het,
voorgekom. In
Magmoed v Janse van Rensburg and Others [1992] ZASCA 208; 1993 (1) SA 777 (A) 815E-G (in
die samehang van die sesde vraag (811H) in daardie saak gestel wat byna
gelykluidend met die huidige vraag is), is
bevind dat so ‘n vraag nie
‘n regsvraag kan wees nie uit die oogpunt van die staat
nie:
“There is thus, in my view, no historical or juristic basis for
equating the position of an accused who complains that there
was no evidence
upon which the jury could reasonably or properly have convicted him with that of
a prosecutor who complains that
the evidence submitted to the jury was so strong
that the jury could not reasonably have acquitted the accused.”
Hierdie
is 'n noodwendige resultaat van die beleid wat in die Strafproseswet vervat is,
nl. dat die staat nie 'n reg op appèl
teen 'n onskuldigbevinding op grond
van die meriete het nie. Edeling R was dus reg toe hy geweier het om hierdie
vraag voor te behou
(op 276j-277e).
[8] Die tweede vraag kan tereg as 'n
regsvraag aangemerk word en dit verg dat weereens gelet moet word op die rol van
die regterlike
beampte in 'n strafverhoor. Reeds in R v Hepworth 1928
AD 265 277, het Curlewis AR verklaar:
“A criminal trial is not a game
where the one side is entitled to claim the benefit of any omission or mistake
made by the other
side, and a Judge's position in a criminal trial is not merely
that of an umpire to see that the rules of the game are observed by
both sides.
A Judge is an administrator of justice, he is not merely a figurehead, he has
not only to direct and control the proceedings
according to the recognised rules
of procedure but to see that justice is done.”
Dis 'n stelling wat met
reëlmaat aangehaal en toegepas word. Vgl S v Gerbers 1997 (2) SACR
601 (SCA) 606. Die hof moet, sonder om sy onpartydigheid in te boet, die geding
voor hom binne die perke van die strafprosesreg beheer
en bestuur. So, bv., rus
daar 'n plig op die hof om toe te sien dat 'n beskuldigde behoorlik verdedig
word en nie om ongegronde
redes van sy grondwetlike regte, soos die reg om
homself nie te inkrimineer nie of sy swygreg, ontdoen word nie. Hy is geregtig
om die staat daarop te wys dat wesenlike getuienis ontbreek. (Die
teenoorgestelde standpunt gestel in S v Matthys 1999 (1) SACR 117 (C) kan
nie onderskryf word nie.) As die verhoor besig is om te ontaard of tot niks
te lei nie, is die hof geregtig om 'n aanduiding
daarvan te gee. Die
bevoegdheid om 'n saak aan die jurie te onttrek omdat daar nie voldoende
getuienis teen die beskuldigde is nie,
is heelwat ouer as art 221(3) van die
Wet op de Kriminele Procedure en Bewijslevering 31 van 1917 (behandel in
Magmoed op 813F-I).
[9] Dat dit 'n algemene gebruik van howe is om
aan die einde van die staatsaak mero motu die vraag te opper of die
beskuldigde op die verdediging geplaas moet word in die afwesigheid van 'n
aansoek om ontslag, blyk uit
S v Ndlangamandla and Another 1999 (1) SACR
391 (W) waar die standpunt gehuldig word dat die hof verplig is om dit te doen
veral gesien die bepalings van die Grondwet. Dit was
'n geval waar die
beskuldigde regsverteenwoordiging gehad het. Dat die hof die plig het om te
sorg dat 'n onverdedigde beskuldigde
teen wie die staat nie 'n prima facie-saak
het, ontslaan word alvorens hy gaan getuig, is bevestig in 'n reeks gewysdes, o.
a. S v Mashele 1990 (1) SACR 678 (T) en S v Amerika 1990 (2) SACR
480 (C). As dit so is en die beginsel van gelykberegtiging vereis dat 'n
verdedigde beskuldigde nie slegter daaraan toe kan wees as
'n onverdedigde een
nie, behoort die benadering ook by verdedigde sake te geld.
[10] Namens
die staat is tereg toegegee dat dit nie onreëlmatig vir 'n hof is om waar,
volgens sy mening, die staat nie 'n
prima facie-saak uitgemaak het nie, die feit
onder die aandag van die partye te bring nie. Waarop die betoog egter neerkom,
is dat
wanneer die hof se mening verkeerd is, word dit onreëlmatig. Die
argument hou nie steek nie omdat die reëlmatigheid aldan
nie van die hof se
optrede in hierdie verband nie afhanklik gestel kan word aan die korrektheid van
die hof se beoordeling van die
feite van die saak nie.
[11] Dit volg dan
dat die appèl teen die weiering om die twee regsvrae voor te behou, deels
onontvanklik is en andersins nie
kan slaag nie. Die appèl teen die afwys
van die kondonasie-aansoek is dan akademies en verg nie verdere oorweging nie.
Dit
was egter nodig om met die feite van die saak en die waarde van
vingerafdruk-getuienis te handel omdat, so is ons meegedeel, Edeling
R se
uitspraak in hierdie verband as bindende gesag aangehaal en gebruik word. Dis
'n uitvloeisel van die ketterse geloof dat uitsprake
op feite as gesag geld, 'n
geloof wat versterk word deur die gebruik om sulke uitsprake te rapporteer. Die
presedente-stelsel geld
ten aansien van regsbeginsels en regsbeginsels alleen.
Feite-uitsprake het slegs bindende krag inter partes. Edeling R het nie
voorgegee om enige regsbeginsel neer te lê nie maar om 'n waarde-oordeel
te vel oor getuienis.
Beide appèlle word gevolglik van die hand
gewys.
L T C HARMS
APPèLREGTER
Stem saam:
HEFER WNDE HR
HOWIE AR