South Africa: Supreme Court of Appeal Support SAFLII

You are here:  SAFLII >> Databases >> South Africa: Supreme Court of Appeal >> 2009 >> [2009] ZASCA 138

| Noteup | LawCite

Schoombee v Marais (635/08) [2009] ZASCA 138; [2010] 2 All SA 184 (SCA) (9 November 2009)

Download original files

PDF format

RTF format




DIE HOOGSTE HOF VAN APPÈL

REPUBLIEK VAN SUID-AFRIKA


UITSPRAAK



Saak no: 635/08


ANDRIES GOTTLIEB SCHOOMBEE Appellant


en


ANNA-MARIE MARAIS Respondent


Neutrale sitasie: Schoombee v Marais (635/08) [2009] ZASCA 138 (9 November 2009)


Coram: STREICHER, LEWIS, BOSIELO ARR, HURT en GRIESEL Wn ARR


Verhoordatum: 9 NOVEMBER 2009


Gelewer: 9 NOVEMBER 2009


Opsomming: Professionele nalatigheidseis van die hand gewys.


BEVEL


Op appèl vanaf: die Transvaalse Provinsiale Afdeling (Van Rooyen Wn R as hof van eerste instansie).


Die appèl word gehandhaaf met koste en die bevel gemaak deur die hof benede word vervang met die volgende bevel:

Die eiseres se aksie word van die hand gewys met koste.’



UITSPRAAK


STREICHER JA (LEWIS, BOSIELO ARR, HURT en GRIESEL AAR stem saam)


[1] Die appellant is `n prokureur wat vir die respondent opgetree het in `n egskeidingsgeding teen haar destydse eggenoot, Mnr Marais. Die egskeidingsgeding is mettertyd geskik op die basis dat Marais `n bedrag van R600 000 aan haar betaal, dat sy afstand doen van haar reg op onderhoud en dat Marais `n bydrae van R15 000 tot haar koste maak. Nadat `n egskeidingsbevel op hierdie basis toegestaan is, het die respondent die appellant in die Transvaalse Provinsiale Afdeling van die Hooggeregshof gedagvaar vir skadevergoeding op grond daarvan dat hy kontrakbreuk gepleeg het deur nalatiglik aan haar sekere verkeerde advies te gee. Die hof benede, by monde van Van Rooyen Wn R, het bevind dat die appellant wel nalatiglik verkeerde advies aan die respondent gegee het en het hom beveel om skadevergoeding ten bedrae van R1.1m tesame met rente aan haar te betaal. Dit is teen hierdie bevel wat die appellant, met die verlof van die hof benede, appelleer.


[2] In haar besonderhede van vordering het die respondent beweer dat die appellant met haar ooreengekom het om haar te verteenwoordig in haar egskeidingsgeding teen Marais en dat dit `n term van die ooreenkoms was dat die appellant sy dienste sonder enige nalatigheid sou uitvoer. Die respondent het verder beweer dat die appellant sy kontraktuele verpligtinge teenoor haar verbreek het deur haar nalatiglik en verkeerdelik te adviseer –

(i) om die egskeidingsgeding af te handel op die basis dat die huweliksbedeling tussen haar en Marais buite gemeenskap van goed was; en

(ii) om die saak te skik op die basis dat Marais aan haar R600 000 betaal in volle en finale vereffening van enige vermoënsregtelike eis insluitende enige eis vir onderhoud wat sy teen Marais mag gehad het.


[3] Nadat die geding reeds etlike dae in die hof benede gedien het en die respondent reeds vir etlike dae gekruisvra is, het sy haar besonderhede van vordering gewysig deur `n alternatiewe basis vir haar skadevergoedingeis in te voeg. Ingevolge die wysiging het sy in die alternatief beweer dat die appellant nalatiglik en verkeerdelik nagelaat het om haar te adviseer om nie die saak op die voormelde basis te skik nie.


[4] Die hof benede het bevind dat die appellant `n oordeelsfout begaan het met betrekking tot die advies wat hy gegee het aangaande die huweliksbedeling tussen die respondent en Marais maar dat ‘die oordeelsfout nie `n nalatige een was waarvoor hy regsaanspreeklikheid sou kon opdoen nie’. In hierdie verband het die hof benede verwys na Mouton v Mynwerkersunie 1977 (1) SA 119 (A) op 142H – 143B.


[5] Die hof benede het verder bevind dat die appellant nie in een van die opsigte genoem in die besonderhede van vordering nalatig was nie maar dat hy wel in `n ander opsig nalatig was. Ek gaan dus voort om met laasgenoemde bevinding te handel.


[6] In sy nadere besonderhede vir doeleindes van verhoor het Marais sy bates gewaardeer teen R6 022 290 waarvan R2 842 500 die waarde was wat hy op sy plaaseiendomme geplaas het. Die respondent was egter van mening dat sy bates minstens R14m werd was. Die appellant het gevolglik voorgestel dat `n waardeerder aangestel word om die plaaseiendomme te waardeer. `n Waardeerder het R8 500 gekwoteer om so`n waardasie te doen maar die respondent het gevoel dat dit te duur was en het opdrag aan die appellant gegee om nie voort te gaan met die waardasie nie. Alhoewel die appellant op `n vroeëre stadium in `n brief aan die respondent melding gemaak het van die moontlikheid om aansoek te doen vir `n bydrae tot koste het die appellant nie voorgestel dat dit gedoen word ten opsigte van die koste van die waardeerder nie. Ter verduideliking hiervan het die appellant getuig dat hy nooit die indruk gekry het dat die respondent sukkel met die betaling van regskoste nie. Die respondent het ook toegegee dat wanneer ookal sy deur die appellant gevra is om regskoste te betaal sy dit betaal het, soms selfs meer as wat gevra is. Sy het nietemin getuig dat sy nie die R8 500 kon bekostig nie.


[7] Op grond van die voormelde getuienis het die hof benede beslis dat die appellant wel nalatig was deur nie te gepoog het om die respondent te oortuig dat die reël 43 prosedure onder die omstandighede noodsaaklik was ten einde fondse te bekom om die respondent in staat te stel om `n waardasie van Marais se plaaseiendomme te laat doen nie. Nadat die hof benede so beslis het, het dit toestemming verleen dat die saak heropen word sodat die respondent getuienis kon aanbied ten aansien van die waarde van die plaaseiendomme soos ten tyde van die skikking. Ten einde aan die respondent die geleentheid te gee om die plaaseiendomme te laat waardeer soos ten tyde van die skikking het die hof benede ook die saak uitgestel. By die hervatting van die verhoor het dit geblyk dat `n waardeerder deur die respondent aangestel die oorgrote meerderheid van Marais se eiendomme waardeer het teen minder as die waarde wat deur Marais op die betrokke eiendomme geplaas is in die egskeidingsgeding.


[9] Die hof benede het `n argument dat dit, in die lig van die waardasies, geen verskil aan die verloop van die egskeidingsgeding sou gemaak het indien `n reël 43 aansoek gebring is en indien `n waardasie van Marais se eiendomme voor die skikking van die saak verkry is nie, verwerp. Dit het bevind dat daardie argument ‘die punt mis’. Volgens die hof benede het die appellant se versuim om haar te adviseer soos voormeld ‘veroorsaak dat (die respondent) nie `n keuse kon uitoefen om te litigeer of nie te litigeer nie’. In hierdie verband het die hof benede verwys na sake waarin gehandel is met die aanspraak op skadevergoeding as gevolg van die verlies van `n geleentheid.1 Die hof benede het ook spesifiek verwys na die volgende passasie in Burger v Union National South British Insurance Company 1975 (4) SA 72 (W) te 74H waar Colman R sê:2

Causation is one thing and quantification is another . . .. It has never, within the range of my knowledge and experience, been the approach of our Courts, when charged with the assessment of damages, to resolve by an application of the burden of proof such uncertainties as I have referred to.’


[10] Die respondent is egter nie `n geleentheid ontneem om te litigeer of nie te litigeer nie of om `n keuse uit te oefen om te litigeer of nie te litigeer nie. Ten beste vir haar het die appellant versuim om te verseker dat sekere inligting tot haar beskikking gestel word. Slegs indien daar `n moontlikheid bestaan dat sy in die lig van daardie inligting moontlik nie die saak sou skik kan dit gesê word dat sy moontlik skade gely het as gevolg van die feit dat die inligting nie tot haar beskikking gestel is nie. Dit is egter op `n oorwig van waarskynlikhede bewys dat die inligting geen verskil sou gemaak het nie. Die respondent het gemeen dat die eiendomme veel meer werd was as wat Marais beweer het die geval was maar het nietemin geskik op die voormelde basis. Dit is dus duidelik dat die mening van `n waardeerder dat die eiendomme selfs minder werd was as wat Marais beweer het die geval was haar eerder sou aanmoedig as ontmoedig om op daardie basis te skik. Die respondent het gevolglik geen skade gely as gevolg van die feit dat geen waardasie van die plaaseiendomme ten tyde van die egskeidingsgeding bekom is nie. Die kwantifikasie van skade kom dus glad nie ter sprake nie.

[11] Voor ons was daar geen verskyning vir die respondent nie. Dit is gevolglik nie voor ons betoog dat die respondent se vordering op enige van die ander basisse geopper in haar besonderhede van vordering moes slaag nie. So ’n betoog sou ook nie suksesvol kon wees nie. Die respondent bekla haar in die eerste plek daaroor dat die appellant aanbeveel het dat die egskeidingsgeding afgehandel word op die basis dat die huweliksbedeling tussen haar en Marais buite gemeenskap van goed was. Dit is egter duidelik dat dit futiel en `n mors van geld sou wees om te betwis dat die huwelik buite gemeenskap van goed was. Die respondent en Marais is getroud in 1972. Vanaf 1986 het hulle apart gewoon en die saak is geskik in 1998. Haar handtekening verskyn op `n huweliksvoorwaardekontrak ingevolge waarvan die huwelik buite gemeenskap van goed sou wees. Volgens haar identiteitsdokument was sy buite gemeenskap van goed getroud. Die huis waarin sy vanaf 1986 tot in 1998 apart van Marais gewoon het was in haar naam geregistreer en die registrasie dokumente sou aangedui het dat sy buite gemeenskap van goed getroud was. Volgens die notaris wat die huweliksvoorwaardekontrak verly het was dit sy gebruik om aan persone wat `n huweliksvoorwaardekontrak aangaan die effek van so ’n kontrak te verduidelik. Hy kon nie aan enige rede dink waarom hy dit nie ook aan die respondent sou verduidelik nie. Onder daardie omstandighede sou geen hof haar getuienis aanvaar dat sy slegs `n enkelblad en nie die huweliksvoorwaardekontrak bestaande uit vier bladsye voor die notaris geteken het nie, dat sy vir 27 jaar gemeen het dat sy binne gemeenskap van goed getrou het en dat sy deur die notaris mislei is. `n Hof sou dit veral nie aanvaar het nie in die lig van haar getuienis dat die notaris in antwoord op haar vraag ‘wat teken ek’ geantwoord het ‘dit is `n formaliteit, u notuleer dat u van plan is om buite gemeenskap van goed te trou’ en dat sy toe haar naam geteken het, ‘min wetende, dit was die agterblad van my huweliksvoorwaardekontrak, wat ek eers uitgevind het 27 jaar daarna’.


[12] Die appellant het getuig dat hy nie die respondent aanbeveel het om op die voormelde basis te skik nie, dat hy deurentyd, vir `n periode van ongeveer `n jaar en `n half, dit aan haar duidelik gemaak het dat daar geen rede was om die saak te skik nie en dat dit `n goeie saak was om hof toe te neem. Hy het ook getuig dat hy aan haar die nadele uitgewys het om afstand te doen van onderhoud en om `n enkelbedrag te aanvaar. Desnieteenstaande het die respondent, met volle kennis van haar regte, hom uitdruklik opdrag gegee om die saak op die voorgestelde basis te skik. Die hof benede het die appellant ‘`n besonder eerlike getuie gevind’ en daar blyk geen rede te wees om van hierdie bevinding te verskil nie. Onder die omstandighede kon die respondent ook nie op enige van die ander basisse vermeld in haar besonderhede van vordering slaag nie.


[13] Die appèl word gevolglik gehandhaaf met koste en die bevel gemaak deur die hof benede word vervang met die volgende bevel:

Die eiseres se aksie word van die hand gewys met koste.’




___________________

P E STREICHER

APPÈLREGTER



VERSKYNINGS:


Namens appellant: J P Vorster SC


Instruksies deur:

Routledge Modise, Johannesburg

Webbers, Bloemfontein



Namens respondent:


Instruksies deur:

Rooth Wessels Motla Conradie, Pretoria

McIntyre & Van der Post, Bloemfontein

1 De Klerk v Absa Bank Ltd and others 2003 (4) SA 315 (SCA) paras 30 to 32.

2 Aangehaal deur Schutz JA in De Klerk v Absa Bank Ltd and others 2003 (4) SA 315 (SCA) te para 33.