South Africa: Western Cape High Court, Cape Town Support SAFLII

You are here:  SAFLII >> Databases >> South Africa: Western Cape High Court, Cape Town >> 1998 >> [1998] ZAWCHC 4

| Noteup | LawCite

S v Goliath (SS64/98) [1998] ZAWCHC 4 (3 November 1998)

Download original files

PDF format

RTF format


IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA
(WES-KAAP HOE HOF. KAAPSTAD)

SAAKNOMMER: SS64/98

DATUM: 3 November 1998

In die saak tussen:

DIE STAAT

en

VINCENT JAMES GOLIATH




VONNIS




CLEAVER. R



Mnr Goliathu is gister deur hierdie hof skuldig bevind op drie aanklagtes, 'n klagte van aanranding met die opset om ernstig te beseer, 'n klagte van gewone aanranding en 'n klagte van moord. Dit word van my verwag om by die bepaling van 'n gepaste straf drie besondere elemente in ag te neem, eerstens die aard van die misdaad; tweedens die belang van die gemeenskap en derdens u persoonlike omstandighede.



Ek hoef nie veel te se oor die aard van die twee ernstige misdade nie, die getuienis van mevrou Stone, wat deur hierdie hof aanvaar is, was dat daar 'n wrede aanval op haar plaasgevind het. Wat moord betref is dit nie nodig om te beklemtoon hoe ernstig 'n misdaad moord is nie. Die neem van 'n ander persoon se lewe is 'n finale stap wat nie reggestel kan word nie, en die effek op die mense wat agterbly is geweldig. Ek hoef net te verwys na Delia Jacobs se moeder wat tot vandag nog nie vrede gemaak het met die moord op haar dogter nie.



In vroeere tye kon 'n hof die doodstraf ople waar daar nie versagtende omstandighede bewys is nie, so ernstig word die misdaad gesien en beskou.



As ek kom by die belang van die gemeenskap meen ek dat ek nie die posisie sal oordryf as ek se dat die gemeenskap in die tye waarin ons vandag leef verlang dat daar streng opgetree moet word teen persone wat hulle skuldig maak aan geweld, en veral moord. Ongelukkig is geweld 'n daaglikse verskynsel in die Suid-Afrikaanse samelewing, en veral hier in die Wes-Kaap. soveel so dat gemeenskapsleiers gekla het oor die posisie en die Parlement dit goed gesien het om nuwe minimum strawwe te bepaal vir sekere geweldsmisdade. Daar kan na my mening geen twyfel wees dat die gemeenskap verlang dat hulle beskerm moet word teen persone wat moord pleeg.


As ons by u persoonlike omstandighede kom is daar baie min wat voor my gele is. Ek weet dat u 31 jaar oud is, dat u die derde van vier kinders is, dat u saam met u moeder leef, dat u vir haar sorg tot 'n mate, of bydra tot die familie onkostes Ek is meegedeel dat u vader oorlede is toe u agt jaar oud was, dat u nie getroud is nie en dat u nie kinders het nie. U het tot standard 8 gevorder op skool en van toe af het u af en toe gewerk of by Continental China, of by geleentheid in die boubedryf saam met u oom. U moeder het getuig en gese dat u 'n stil persoon is, wat vir haar help, en dit is al eintlik wat ek van u weet, wat u persoonlike omstandighede betref.



Wei dit is nie eintlik al nie, want ek weet ook dat u voorheen met die gereg gebots het. In 1987 is u aangekla van 'n geweldsmisdaad, aanranding met die opset om ernstig te beseer, maar u is skuldig bevind slegs aan gewone aanranding. In 1988 is u skuldig bevind onder die Wet op Gevaarlike Wapens en 'n boetestraf opgele en in 1991 is u skuldig bevind aan poging tot verkragting en roof, waarvoor u gevangenisstraf van vier jaar opgele is. U was gelukkig deurdat u op die 28ste Junie 1994 vrygelaat is op parool.



U het nie self getuienis gelewer nie en ek het dus geen informasie voor my oor wat in u kop aangegaan het en wat u oorweeg het om hierdie misdaad te pleeg. Dit is u goeie reg om nie getuienis te gee nie maar dit maak nie my taak enigsins makliker nie. Daar word gese dat die elemente van straf drievoudig is, die vergeldingsaspek wat die gemeenskap verlang; die afskrikkings aspek wat vir ander mense sal afskrik en dan word daar ook na die moontlike rehabilitasie van die oortreder gekyk. Wat die laaste betref is ek in die duister, soos ek gese het, meer presies wat u beweeg het en of daar 'n moontlikheid is om u te rehabiliteer. Ongelukkig is dit altyd wat gebeur wanneer 'n alibi verweer gebruik word wat nie slaag nie.



Me Lochner het aangevoer dat u kriminele rekord 'n aanduiding is dat u nie rehabiliteerbaar is nie. Ek weet nie of dit so is of nie, maar wat ek wel weet is dat die strawwe wat - of die vonnisse wat u voorheen opgele is nie die effek gehad het om u te weerhou van hierdie geweldsmisdaad nie. Ek weet net -soos ek se - wat u moeder vir ons vertel het van uself. Wat die vorige skuldigbevindings betref moet ek weereens verwys na die skuldigbevinding in 1991. Ek meen mens kan en moet die afleiding maak dat die landdros die geval as 'n ernstige een beskou het, want hy het u gevonnis tot vier jaar gevangenisstraf.



Ek het die drie elemente oorweeg soos ek vantevore gese het, van die misdaad self, die gemeenskapsbelang en u persoonlike omstandighede. Me Lochner se namens die Staat dat as gevolg van die feit dat u vorige veroordelings het en weer voor die hof verskyn is die enigste gepaste straf een van 'n lang termyn van gevangenisstraf.



In die afwesigheid van enige getuienis van u kant moet ek dan ook aandag skenk aan die afskrikkings element van die misdaad en die vergeldingselement van die misdaad, en ek kom tot die gevolgtrekking dat die enigste gepaste straf wel een van 'n lang termyn van gevangenisstraf moet wees.




In die omstandighede word u soos volg gevonnis:



Op AANKLAG 3. dit wil se die aanklag van AANRANDING MET DIE OPSET OM ERNSTIG TE BESEER op Barbara Stone WORD U GEVONNIS TOT 12 (TWAALF) MAANDE GEVANGENISSTRAF.



Op AANKLAG 4. dit wil se die SKULDIGBEVINDING VAN GEWONE AANRANDING op Delia Jacobs WORD U GEVONNIS TOT 6 (SES) MAANDE GEVANGENISSTRAF.



Op AANKLAG 4. dit wil se die MOORD van Delia Jacobs WORD U GEVONNIS TOT 18 (AGTIEN) JAAR GEVANGENISSTRAF

Dit word gelas dat die vonnis ten opsigte van klagte nommer 4 saam sal loop met die vonnis ten opsigte van klagte nommer 5.


CLEAVER, R