South Africa: Western Cape High Court, Cape Town Support SAFLII

You are here:  SAFLII >> Databases >> South Africa: Western Cape High Court, Cape Town >> 1999 >> [1999] ZAWCHC 6

| Noteup | LawCite

S v Solomons (SS 27/99) [1999] ZAWCHC 6 (3 May 1999)

Download original files

PDF format

RTF format


IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA

(KAAP DIE GOEIE HOOP PROVINSIALE AFDELING)

SAAKNOMMER: SS.27/99

DATUM: 3.5.99



In die saak van:

DIE STAAT

teen

ERNEST WILLIAMS SOLOMONS

UITSPRAAK

TRAVERSO, R:

Die beskuldigde staan aangekla op 11 aanklagte. Die eerste vier is klagtes van menseroof. Ingevolge daardie klagtes word dit beweer dat die beskuldigde op 18 Julie 1991 en te of naby Belhar in die distrik van Bellville wederregtelik en opsetlik vir Saymour Anton Moos, Franton Fourtune Gillian, Tyron Hendricks en Dean Louw van hulle vryheid van beweging ontneem het deur hulle met geweld en/6f dreigemente van geweld aan te hou en te dwing om saam met hulle na Melcksingel 4, Belhar en van daar in die kattebak van 'n motor na die Mfuleni bos te Kuilsrivier te neem.

Die volgende drie klagtes is die van roof. Aldus hierdie klagtes het die beskuldigde op voormelde datum Dean Louw, Saymour Moos, Franton Gillian en Tyron Hendricks beroof van ringe en oorbelle en/of 'n stel valstande en 'n goue tandvulsel deur 'n vuurwapen op hulle te rig en hierdie voorwerpe met geweld uit hulle besit te neem.

Klagtes 8 en 9, is klagtes van poging tot moord deurdat dit beweer word dat die beskuldigde op die voormelde datum en te of naby Arundelweg 24, Belhar, vir Saymour Moos en

Franton Gillian aangerand het deur hulle hande vas te bind en hulle na die Mfuleni bos te vervoer in die kattebak van 'n motorvoertuig met die doel om hulle daar te vermoor en 'n poging om hulle met 'n mes te steek.

Aanklagtes 10 en 11 is klagtes van moord waarvolgens dit beweer word dat die beskuldigde op die voormelde datum vir Tyron Hendricks en Dean Louw in die Mfuleni bos vermoor het deur hulle_herhaaldelik met die mes te steek.

Die beskuldigde het onskuldig gepleit en 'n verklaring in terme van artikel 115 van die Strafproseswet, nr 51 van 1977, is ingehandig waarkragtens die beskuldigde ontken dat hy op enige stadium wat relevant is met betrekking tot die gebeure wat in die Akte van Beskuldiging gemeld word, teenwoordig was of dat hy enigiets daarmee te doen gehad het.

By die aanvang van die verhoor is daar sekere formele erkennings deur die beskuldigde gemaak, naamlik:

1. Dat die oorledene wat in die Akte van Beskuldiging as Tyron Hendricks beskryf word, te alle tersaaklike tye korrek uitgeken is;

2. Dat die oorledene wat in die Akte van Beskuldiging as Dean Louw beskryf word, te alle tersaaklike tye korrek uitgeken is;

3. Dat professor Fosseus, 'n spesialis patoloog op 19 Julie 1991 'n regsgeneeskundige lykskouing op die liggaam van die oorledene Tyron Hendricks uitgevoer het en 'n verslag daaromtrent opgestel het. Die inhoud van die verslag is korrek erken en dit was ook erken dat Tyron Hendricks gesterf het as gevolg van veelvuldige steekwonde.

4. Daar is insgelyks 'n erkenning dat dr Fosseus op Dean Louw uitgevoer het en ' n verslag daaromtrent opgestel is, welke verslag insgelyks as korrek erken is.

5. Daar is voorts erken dat Dean Louw ook gesterf het aan veelvuldige steekwonde.

Die getuienis wat namens die Staat aangevoer is, kan as volg opgesom word. Die eerste getuie was ene inspekteur Fourie. Gedurende Julie 1991 was hy 'n speurdersersant in die Suid-Afrikaanse Polisie en hy was gestasioneer te Kuilsrivier Speurtak. Op 18 Julie 1991 het hy die misdaadtoneel in die bosse by Mfuleni bygewoon. Toe hy daar aankom, was daar reeds polisie teenwoordig en hy het ook twee ooggetuies, naamlik ene Saymour Moos en Franton Gillian daar aangetref. Beide was na bewering baie geskok. Gillian het die liggaam van ene Dean Louw aan Fourie uitgewys. Louw se hande was vasgebind met rooi elektriese draad. Daarna het Gillian Tyron Hendricks se liggaam uitgewys wie se hande insgelyks vasgebind was met elektriese draad.

Daarna het Gillian aan Fourie 'n voertuig met registrasienommer CY.3 03-050 uitgewys. Die voertuig se passasiersdeure was oop en die sleutels het nog in die skakelaar gehang. Op die voorste sitplek het daar klerasie gele naamlik ' n wit serp waarop daar bloed was, 'n weermagkep en ' n Balaklawa. In die paneelkissie het ' n bebloede mes met 'n houthef en 'n lem van ongeveer 12cm gele.

Inspekteur Fourie het op die afsonderlike bewysstukke beslag gele. Die ondersoek is direk hierna aan majoor Ellis oorhandig. Op 'n latere stadium het Fourie, Ellis, Moos en

Gillian na Belhar gegaan waar daar twee huise uitgewys is, naamlik Arundelstraat 24, Belhar en Melcksingel 4, Belhar. By laasgenoemde adres is daar volgens inspekteur Fourie 'n aantal houthokkies in die agterplaas.

By die woning in Melckstraat is hulle geneem na die verste houthokkie agter die woning. In die houthokkie was daar motorparte. Die helfte van die vloer was uitgegrawe en die gat was, aldus Fourie, ongeveer 1 X 1,5 meter groot en 1,7 meter diep. Volgens Fourie is daar daardie aand

verklarings van beide Moos en Gillian geneem welke verklaring geliasseer is as A.2 en A.3.

Hy kon geen verduideliking gee waarom die verklarings wat voor die Hof is nie dienooreenkomstig genommer was nie. Hy kon ook nie verklaar waarom die J.88 vorms ten opsigte van Moos en Gillian as A. 4 en A. 5 gemerk is nie, terwyl Abrahams Abrahams se verklaring ook A.4 gemerk is en die van Nickie Elbrinck A. 5 gemerk is. Die dossier was, aldus Fourie, die heeltyd in Ellis se besit. Die relevansie van hierdie opmerking sal later blyk.

Die volgende getuie was Franton Gillian. Gillian is tans 24 jaar oud en was op die datum van die voorval 16 jaar oud. Hy het op daardie stadium by sy ouers in Hawston gewoon. Op 15 Julie 1991 was hy saam met die oorledenes en Moos in Hawston. Hulle het langs die straat gestap en daar het hulle 'n sekere Pietertjie {Pietertjie is mnr Beukes na wie se getuienis ek laer sal verwys) ontmoet. Hy het op daardie stadium 'n blou Mazda voertuig bestuur. Hy was nie op daardie stadium bekend aan Gillian nie. Hy het na bewering gestop en gevra waar hy kan Mandrax koop. Dean Louw het hom gese dat hy hom sal gaan wys en Gillian, Tyron, Saymour en Dean het hom gaan wys waar mnr Manus Louw se woning is. Daar het hulle dagga gekoop en gerook en blykbaar vir 'n paar dae gebly in die motorhuis van tnnr Manus Louw.

Op 18 Julie 1991 is die vier manne Kaap toe saam met Pietertjie omdat Saymour, na bewering, vis gehad wat hy in die Kaap wou verkoop. Na bewering sou Saymour gese het dat hy met sy eie dwelmbesigheid wou begin en dat hy die vis wou verruil vir Mandrax en Pietertjie het onderneem om dit te reel.

Volgens Gillian het hulle tussen lOhOO en llhOO uit Hawston vertrek. Vandaar is hulle na 'n huis in Belhar maar Gillian het nie geweet aan wie hierdie huis behoort nie. Toe hulle daar aankom, was daar slegs twee onbekende persone in die huis, die eienaar van die huis was nie daar nie; Hulle het gewag en op 'n latere stadium het die eienaar en sy vrou by die huis opgedaag.

Pietertjie het na bewering vir die eienaar, wat later geblyk het Abrahams te wees, gese hier is die mense van die vis. Abrahams het daarop gese dat sy motor langs die pad gaan staan het en dat hulle eers sy motor moet gaan haal. Hy en Pietertjie is toe daar weg. Saymour het aangedui dat hy wil saamgaan, maar hulle het gese dat hy kon nie, en gevolglik het die vier manne van Hawston, die eienaar se vrou en die twee onbekende persone by die huis agtergebly.

Volgens Gillian se getuienis in hoof het hulle op 'n stadium, 'n voertuig buite gehoor, as gevolg waarvan Tyron by die venster uitgekyk het maar weer gaan sit het en niks gese het nie. Kort daarna het die deur oopgegaan en 'n persoon het ingekom met 'n vuurwapen. Gillian het die persoon wat die vuurwapen gehad het herken as Tokkie. Die beskuldigde het ook ingekom. Die beskuldigde het met verwysing na die vier persone gese: "dit is die mense waarvoor hy soek". Hy het toe die vier manne beveel om na 'n slaapkamer in die huis te gaan.

Volgens Gillian het hulle die beskuldigde na die kamer vergesel omdat hulle bang was. Benewens die beskuldigde, het Tokkie, die vier persone en die twee ander onbekende persone wat in die huis was, na die kamer gegaan. Die vier stuks is toe beveel om op die bed te sit en die beskuldigde het hulle daarna beveel om hulle klere uit te trek, hulle ringe en oorbelle uit te haal en dit vir hom te gee.

Gillian en Saymour het hulle ringe en oorringe afgehaal en oorhandig aan die beskuldigde. Die beskuldigde het daarop vir Saymour gevra waarom hulle in Hawston baklei met hom. Die beskuldigde het daarna die vier persone beveel om plat te le op die grond wat hulle gedoen het. Tokkie het toe terwyl hulle op die grond le op hulle rue en koppe geloop en hulle ore gedraai met sy geskoende voete. Daarna het die beskuldigde hulle opdrag gegee om weer op te staan en op die bed te sit. Die beskuldigde het daarop vir Saymour, Dean en Tyron beveel om hulle hande in die lug te hou. Tokkie en die een met die tattoos in sy gesig, waarna daar meestal verwys is as "Vuilgesig", het hulle hande gekap met 'n mes. Ek sal ook voortaan na hom verwys as

Vuilgesig.

Tokkie het eerste die mes gehad en daarna het hy die mes aan Vuilgesig gegee. Hierop het Abrahams die

beskuldigde opdrag gegee dat hy moes ophou met sy aktiwiteite aangesien hy nie bloed in sy huis wou gehad het nie. Die beskuldigde het toe vir Saymour gese om sy tande uit te haal, wat hy gedoen het. Die beskuldigde het dit stukkend getrap en die goud wat daarin was uitgehaal. Daarna het hy hulle opdrag gegee dat hulle weer hulle klere moes aantrek. Beskuldigde het daarop gese dat hy hulle nou weer gaan huis toe neem.

Toe hulle uit die huis uitgekom het, het daar 'n kombi gestaan en die vier stuks het in die kombi ingeklim. In die kombi was die vier persone van Hawston en drie onbekende persone.

Die beskuldigde en die ander persone wat saam in die huis was, het in ander voertuie gery. Hulle het gegaan na 'n ander huis in Belhar. Daar het hulle uitgeklim en dit blyk die huis van die beskuldigde te wees by Melckstraat, Belhar.

By die beskuldigde se huis aangekom, is hulle geneem na 'n hok agter die woonhuis. Tokkie en Vuilgesig en 'n ander onbekende man was op daardie stadium by. In die hok het ene Dokter en Christopher vir Tyron, Saymoure en Dean aangerand. Gillian het getuig dat Dean en Tyron eers aangerand is deurdat hulle met 'n hamer oor hulle hande en voete geslaan is .

Die vier stuks was blykbaar vir 'n tydperk van ongeveer twee tot drie ure in hierdie hokkie aangehou. Die beskuldigde was nie daar nie - dit is hoe Gillian aanvanklik getuig het. Op ' n latere stadium het hy egter gese dat die beskuldigde ingekom het en vir hom, Gillian, gese het dat hy nie weet wat hy onder hierdie persone soek nie, hy wil hom nie laat doodmaak nie, maar aangesien hy nou daar is, sal hy hom maar net so goed laat doodmaak saam met die ander persone. Die beskuldigde het daarop instruksies gegee dat hierdie vier persone almal vasgebind moes word.

Tyron, Dean en Saymour se hande is toe met kragdrade agter hulle rue vasgebind terwyl Gillian s'n met 'n stuk tou of ' n band vasgebind is. Weer ' n keer is hierdie vier persone ingelig dat hulle huis toe geneem sal word. Op daardie stadium was Vuilgesig, Tokkie, die beskuldigde en 'n onbekende persoon by. Dit was Vuilgesig en Tokkie wat

hulle vasgebind het terwyl die beskuldigde gekyk het of hulle hande behoorlik vasgemaak is.

Die beskuldigde het toe instruksies gegee dat hy in die kattebak van die voertuig moes inklim. Gillian het eerste ingeklim, daarna Saymour, toe Dean en toe Tyron. Dit was 'n roomkleurige Chevrolet met ander kleure op die deure van die voertuig. Die kattebak is toegeklap. remand het op die kattebak gekap en gese dat die vier manne nou huis toe gaan.

Toe die voertuig stop en die kattebak oopgemaak is, het Gillian opgemerk dat hulle in ' n bos is. Eerste is Dean en Tyron uit die kattebak gehaal. Buite die kattebak het Gillian vir Tokkie, Vuilgesig en 'n onbekende persoon opgemerk. Nadat hulle vir Dean en Tyron uitgehaal het uit die kattebak/ het hulle weer die kattebak toegemaak. Gillian en Saymour het toe probeer om mekaar se hande los te maak. Saymour se hande’ het losgekom, maar Gillian was nog besig om te probeer om sy hande los te maak, toe hy stemme buite die motorvoertuig gehoor het. Saymour het toe sy hande agter sy rug gehou en gemaak of dit nog steeds vas is. Hulle twee het uit die kattebak geklim en Saymour het toe vir Tokkie en Vuilgesig gestoot en begin hardloop. Op daardie stadium het Gillian geen wapens gesien by enige van die twee persone nie. Vuilgesig het vir Saymour agtervolg. Tokkie het vir Gillian vasgegryp. Lank daarna het Vuilgesig teruggekom en gese hy kan Saymour nie kry nie.

Hulle het toe vir Gillian gevat na Tyron en Dean toe.

Tokkie het na bewering op Dean gesit en begin sny aan sy nek. Dean het gese hy moet hom nie doodmaak nie, maar Tokkie het eenvoudig aangehou. Gillian het toe omgedraai en begin hardloop. Hy het by 'n huis ingehardloop en vir die mense vertel wat gebeur het en dat ander persone hom probeer doodmaak het. Hulle het die polisie geskakel, Terwyl hy gehardloop het na die huis, het hy reggekry om sy hande los te maak. Toe is die getuie terug na die toneel waar Saymour ook teenwoordig was. Gillian weet nie wanneer Saymour weer op die toneel teruggekom het nie. Op 'n stadium het Vuilgesig blykbaar aan Gillian gese dat hy hom nie wil doodmaak nie, maar dat hy opdrag gekry het om dit te doen.

Onder kruisverhoor het Gillian wesenlik afgewyk van sy getuienis in hoof. Hy het getuig dat hy die afgelope twee jaar die beskuldigde leer ken het as die voorsitter van die Vredesforum in Hawston. Mnr Manus Louw, broer van die oorledene Dean Louw, is die ondervoorsitter van hierdie forum. Hy het vergaderings van die forum bygewoon en by geleentheid het hy in 'n voertuig gery saam met die beskuldigde. Gillian het ontken dat hy ooit enige uitwysings aan die polisie gedoen het by enige van die twee huise wat ek hierbo genoem het. Hy het beweer dat hy slegs op die toneel van die misdaad uitwysings gedoen het. Hy het gese dat hy nie die huisbaas van die eerste huis, dit is Abrahams, ken nie, en dat hy daardie persoon nooit weer daarna gesien het nie, ook nie op die stadium toe hulle in die hokkie aangehou is by die beskuldigde se huis nie. Behalwe hulle vier en Pietertjie, het Gillian slegs vir Tokkie geken.

Pietertjie het na bewering vir Saymour gese dat hy 'n man ken in Belhar wat vis kan koop. As dit nie was vir die vis nie, het Gillian getuig, sou hulle nooit deurgekom het Kaap toe nie. Pietertjie het hulle glad nie omgepraat om saam met hulle terug te kom Kaap toe nie, dit was as gevolg van Saymour se begeerte om die vis te verkoop. Gillian het beweer dat toe hulle by Abrahams se huis aangekom het in Belhar, is hulle meegedeel dat Abrahams gaan inkopies doen het.

Toe, het hy getuig, na ongeveer 'n halfuur het die beskuldigde teruggekom met Tokkie en Vuilgesig. Onder kruisverhoor het hy beweer dat hy op geen stadium 'n motorvoertuig hoor aankom het nie, aangesien daar op daardie stadium hard musiek gespeel het.

Gillian was baie seker dat hy slegs een verklaring afgele het en dat dit was by Kuilsrivier se speurderskantore. Hy was daarop 'n verklaring getoon wat op 26 Julie 1991 te Hermanus geneem is. Hy het ontken dat hy op enige stadium 'n verklaring in Hermanus afgele het en het beweer dat die handtekening op die laaste bladsy van hierdie verklaring nie sy handtekening was nie. Hy het egter erken dat dit sy handtekening is wat op die ander bladsye van hierdie verklaring verskyn. Ek moet meld dat al die lede van hierdie Hof opgelet het dat die handtekening op die laaste bladsy ooglopend verskil van die handtekeninge op die ander bladsye van die verklaring en mnr De Kock, wat namens die Staat verskyn, het toegegee dat die handtekening op die laaste bladsy van die verklaring ooglopend dus nie die van Gillian is nie en dus vervals moet wees.

Daarna is daar 'n verdere verklaring aan Gillian getoon wat na bewering geneem is op 2 9 Oktober 1991. Hy het erken dat al die handtekeninge op die dokument syne was, maar het

ontken dat die parafering sy handtekening was. Weereens het die paraaf opmerklik verskil van die handtekening van Gillian. Daar is ook 'n afskrif van hierdie verklaring

ingehandig deur mnr Veldhuizen, waaruit dit duidelik blyk dat die parawe op daardie afskrif verskyn nie.

Met verwysing na bogenoemde verklaring was dit aan Gillian gestel dat hy op 25 Oktober 1991 by die polisiestasie in Hermanus 'n persoon in ' n motorvoertuig gesien het wat hy uitgeken het as Dokter. Hy het dit heftig ontken en ontken dat hy op die dag van die voorval ooit iemand gesien het met die naam van Dokter. Die inhoud van die verklaring kon hy nie verduidelik nie, maar ek keer later na hierdie aspek terug.

Aanvanklik het Gillian gese dat daar by hom geen twyfel was dat dit Tokkie is wat die vuurwapen op hom gehad het nie. In sy verklaring het hy egter gese dat dit Vuilgesig was wat die vuurwapen gehad het. Hy het beweer dat op die stadium toe hy sy verklaring gemaak het bykans agt jaar gelede, sy geheue baie beter was as wat dit vandag is.

Voorts het hy onder kruisverhoor gese dat op die stadium toe hulle op hulle hande gesteek is, Vuilgesig en Tokkie elkeen 'n mes gehad het. Hy kon nie verklaar het waarom hy die vorige keer in sy getuienis gese het dat Tokkie eers gekap het met die mes en dit toe aan Vuilgesig oorhandig het nie. Hy kon ook nie verklaar waarom in sy verklaring daar hoegenaamd geen melding gemaak word van hierdie kappery nie. Insgelyks kon hy nie verklaar waarom in die lykskouingsverslae daar geen melding gemaak is van die feit dat die hande van die oorledenes gesny is nie.

Die getuie het verder getuig dat hy nie die beskuldigde gesien het terwyl hulle op hulle voete gekap is nie. Hy was blykbaar buite die hokkie. Op 'n stadium het hy gese dat die beskuldigde die hele tyd buite die hokkie was. Toe het hy weer omgedraai en gese dat die beskuldigde op 'n stadium in die hokkie ingekom het en opdrag gegee het dat die manne vasgemaak moet word. Sy getuienis of hy ' n voertuig buite hoor stilhou het of Tyron enige opmerking gemaak het toe die beskuldigde en sy trawante by Abrahams se huis aangekom het, weerspreek insgelyks sy verklaring en sy getuienis tydens kruisverhoor weerspreek sy hoofgetuienis. Ek het slegs 'n paar weersprekings uitgestip.

Gillian se getuienis was onbevredigend. Sy getuienis in hoof het, soos ek reeds aangestip het, hemelsbreed verskil van sy getuienis in kruisverhoor. Sy getuienis wat hy in die hof afgele het, verskil insgelyks met die getuienis vervat in die verklarings wat ingehandig is as synde verklarings wat hy afgeneem het. Dit blyk ook dat die verklaring wat Fourie van hierdie getuie geneem het verwyder is uit die dossier. 'n Mens kan nie bespiegel oor wat die inhoud van daardie verklaring is en oor waarom dit verwyder is nie.

Die volgende getuie was Mervin Abrahams. Volgens sy getuienis was hy op die stadium van die voorval woonagtig te 24 Arundelstraat, Belhar. Hy het getuig dat hy op 17 Julie 1991 by die beskuldigde se huis was waar die beskuldigde se motorwerktuigkundige aan die voertuig gewerk het. Hy ken die beskuldigde goed en wel sedert 1974 of 1975 want hy is getroud met die beskuldigde se niggie.

Op die betrokke dag het daar "'n blanke persoon" met ander persone opgedaag. Hierdie persoon blyk Pietertjie Beukes te wees. Ek sal na hom verwys as Pieterjie. Die beskuldigde het op 'n stadium gepraat van mense wat

Pietertjie moes gaan haal in Hawston en gemeld dat wanneer hulle kom na die Kaap, hy sal seker maak dat hulle nie weer teruggaan Hawston toe nie. Die beskuldigde en Pietertjie het op 'n stadium na Abrahams se huis gery sodat die beskuldigde vir hom, Pietertjie, kon wys waarheen hy die persone moes neem wanneer hy hulle deurbring van Hawston.

Hierdie hele storie het blykbaar gegaan oor vis wat die mense moes deur bring. Nadat Abrahams vir Pietertjie en die beskuldigde gewys het waar hy woon, is hy terug na die beskuldigde se huis waar hy die motorwerktuigkundige verder gehelp het om aan sy voertuig te werk. Laat die nag was daar 'n telefoonoproep vir die beskuldigde. Nadat die beskuldigde op die telefoon gepraat het, het hy teruggekom en Abrahams meegedeel dat Pietertjie die persone die volgende dag van Hawston na Abrahams se huis sou bring.

Abrahams het getuig dat hy die hele nag by die beskuldigde se huis gebly het. Die volgende oggend het hy die beskuldigde gevra of hy sy vrou sou gaan haal by die werk aangesien sy voertuig nie klaar herstel was nie. Nadat hulle sy vrou gaan haal het en op pad terug na Abrahams se woning, het die beskuldigde gese "daar steek Pietertjie se voertuig uit,f. Abrahams en sy vrou is toe huis toe en die beskuldigde het aan hom opdrag gegee dat indien die persone in die huis is, hy die geld en die pille by hom moet kom haal. Toe Abrahams in die huis ingegaan het, was die vier persone van Hawston, Pietertjie en ene Barnie in die huis teenwoordig.

Iemand het gese die vis is daar en dat die persone pille soek vir die vis. Abrahams het die vier persone gevra om te wag en hy en Pietertjie is weg na die beskuldigde se woning. Toe hulle daar aankom, is die beskuldigde nie daar

nie en hulle het weer teruggekeer na Abrahams se woning. Kort daarna het Vuilgesig daar aangekom. Vuilgesig het 'n vuurwapen gehad wat hy gerig het op hierdie vier persone. Hy het hierdie vier persone na die kinders se slaapkamer geneem.

Na 'n ruk het 'die beskuldigde en Tokkie by Abrahams se huis aangekom. Hulle het die vier persone op die bed laat sit en iemand het hulle beveel om uit te trek en op die grond te le. Daar is hulle geskop en getrap. Barnie het gewigte gehad en die vier persone is geslaan daarmee. Een van die persone het ringe aangehad, wat die beskuldigde beweer het gerobte ringe is wat hy beveel het om die ringe af te haal.

Abrahams se vrou het hierna geroep na hom en hom gevra wat aangaan. Sy was nie tevrede met die persone se

teenwoordigheid in haar huis nie en Abrahams het hierop vir beskuldigde gese dat hy hulle moes wegneem aangesien sy vrou ontevrede is. Juis op daardie stadium het daar 'n persoon met 'n minibus aangekom by sy huis en hulle het die persone met die minibus vervoer na die beskuldigde se woning.

Volgens Abrahams se getuienis het hy saam met hierdie persone van Hawston in die bussie gery na die beskuldigde se woning. By die beskuldigde se woning het almal uitgeklim en hulle is geneem na 'n hokkie agter die huis. Die

beskuldigde het daarop gese dat Abrahams vir Pietertjie moet neem om te gaan wys waar sy ma bly om die vis daar te gaan aflaai. By sy ma se huis was daar nie plek in die yskas nie en hulle het toe gegaan na 'n neef van die beskuldigde, ene Boere Parker, en daar is die vis afgelaai.

Abrahams is daarna terug na die beskuldigde se woning om hom mee te deel dat die vis by Boere Parker en nie by sy

ma afgelaai is nie. Pietertjie het op 'n stadium gese dat hy Mitchell's Plain toe wil gaan. Abrahams het hom versoek om hom huis toe te neem, want hy wou gaan slaap. Abrahams het toe gaan slaap en die middag laat het Banie hom kom wakker klop om te se dat daar iets gebeur het met die mense van Hawston.

Abrahams het gaan navraag doen by die beskuldigde se huis. Die beskuldigde was nie daar nie maar sy vrou en kinders was daar. Die beskuldigde se vrou het Abrahams meegedeel dat die boere, verwysende na die polisie, vir die beskuldigde en Abrahams soek. Sy het hom ook ingelig dat die beskuldigde by sy suster Mackie, wat in Delft woon, was. Abrahams het darheen gegaan en die beskuldigde daar aangetref. Die beskuldigde het hom meegedeel dat sy mense "kak" aangejaag het en dat slegs twee persone dood is, maar dat twee weggekom het. Abrahams het ontken dat hy op enige stadium geweet het wat met die mense gebeur het nadat hy weg is van die beskuldigde se woning om te gaan slaap.

Abrahams dien tans tien jaar gevangenisstraf uit vir afsonderlike sake van huisbraak en diefstal. Net voor hierdie gebeure het hy uit die gevangenis uitgekom, nadat hy 'n vonnis van agt jaar gedeeltelik uitgedien het. Hy was ook reeds vantevore in die gevangenis nadat hy skuldig bevind is aan strafbare manslag.

Dit was duidelik uit Abrahams se getuienis dat hy die beskuldigde vyandig gesind is. Dit blyk dat tydens sy gevangenissetting hy op ' n stadium 'n brief gestuur het na die beskuldigde waarin hy die beskuldigde om hulp gevra het. Beskuldigde het egter 'n boodskap teruggestuur dat hy niks met hom te doen wil he nie. Dit is ook gemene saak dat Gwendolene, Abrahams se vrou, om die lewe gebring is - sy is doodgeskiet en dat Abrahams inligting gehad het dat die beskuldigde daarvoor verantwoordelik was. Abrahams het, volgens eie erkenning, 'n boodskap gestuur aan die beskuldigde waarin hy hom gese het dat indien hy enige kennis . dra van sy vrou se dood, hy solank moet begin hardloop. Die kwaaivriendskap tussen die twee kom dus al vir 7n paar jaar aan.

Abrahams het ontken dat hy hoegenaamd geweet het wat die beskuldigde bedoel het toe hy gese het die mense wat van Hawston af teruggebring word, nie sal terugkeer nie. Hierdie ontkenning is klaarblyklik vals. Nadat Abrahams gekonfronteer is met sekere aspekte van sy verklaring wat nie strook met sy getuienis in die hof nie, het hy beweer dat hy sekere dinge in sy verklaring nie genoem het nie omdat hy beskuldigde wou beskerm. Daar is egter toe aan hom uitgewys dat sy verklaring juis die beskuldigde by die misdaad betrek. Dit kon hy nie verduidelik nie.

Hy het getuig dat hy te alle tye net verwag het dat die mense wat van Hawston af kom, 'n pak slae sou kry, niks erger sou met hulle gebeur het nie. Hierdie getuienis is klaarblyklik bog. Sy getuienis dat hy die middag toe die moorde gepleeg is by sy huis gaan slaap het, kan ook nie waar wees nie. Dit is gemene saak dat die polisie sy huis deursoek het en dat hy toe nie daar was nie. Gevolglik kan dit nie korrek wees dat Barnie hom kom wakker maak het om hom in te lig dat die polisie hom soek nie. Abrahams se getuienis is deurspek van inherente 'onwaarskynlikhede en weersprekings. Dit strook ook in wesenlike opsigte nie met Gillian se getuienis nie. So byvoorbeeld is daar 'n totale weerspreking oor wie die vier persone van Hawston in die minibus vergesel het na die beskuldigde se huis. Ons sou nie verwag dat daar op so 'n wesenlike aspek 'n weerspreking is nie.

Die volgende getuie was Pietertjie Beukes. Hy het op 15 Julie 1991 met sy voertuig gery toe hy vir Tyron, Franton en Dean en nog 'n persoon wie se naam hy nie kan onthou nie, langs die pad sien stap het. Hy het gestop en hulle meegedeel dat hy by Nickie wil gaan Mandrax koop. Nickie is Nickie Elbrinck wat na bewering dwelms namens die beskuldigde verkoop het. Hulle het vir hom gese dat hy liewers by Manus Louw moes gaan Mandrax koop. Die vier stuks en Pietertjie is toe na Manus Louw se huis waar hulle vir 7 n paar dae daar saamgesit en rook het. Gedurende hierdie tydperk en wel op die 17 Julie 1991 het Pietertjie op versoek van Nickie se meisie, Irene, vir Nickie by die beskuldigde se huis in Belhar gaan soek. Dit was blykbaar by hierdie geleentheid wat die beskuldigde hom gevra het of hy hierdie vier persone vanaf Hawston sou bring Kaap toe. Die beskuldigde het vir Pietertjie meegedeel dat hy hulle 'n pak wou gee. As beloning dat Pietertjie hierdie vier persone sou uitlewer aan die beskuldigde sou die beskuldigde vir hom R1 000,00 kontant betaal asook 100 Mandrax-pille wat hy dan kon verkoop en die waarde daarvan vergoed aan die beskuldigde.

Toe Pietertjie teruggekom het in Hawston, het hy vir die eerste keer verneem dat Saymour Moos kan vis kry wat hy wil verkoop in ruil vir Mandrax. Hulle het toe die vis gaan haal by 'n fabriek of pakhuis - dit is nie heeltemal duidelik nie, Pietertjie het toe die vier persone

meegedeel dat hy 100 Mandrax-tablette kan kry in die Kaap. Volgens die instruksies wat hy die vorige aand by die beskuldigde ontvang het, het hy toe die vier persone na Abrahams se huis in die Kaap geneem. Hulle is reeds die oggend sesuur uit Hawston en het ongeveer 07h3 0 by Abrahams se huis in Belhar aangekom. Op daardie stadium was Abrahams nie daar nie. Toe Abrahams egter by die huis aankom, het hy aan Pietertjie gese dat hulle die pille moes gaan haal.

Op pad na die beskuldigde se huis het hy opgemerk dat die beskuldigde se voertuig van voor af kom.Die beskuldigde het gestop en 'n man met tatoeeermerke op sy gesig afgelaai by 'n motorvoertuig. Abrahams het hierop uit Pietertjie se kar geklim en na die beskuldigde s'n gestap.

Daarna het Abrahams net eenvoudig van die toneel verdwyn en Pietertjie vermoed hy het teruggestap huis toe.

Die beskuldigde het aangery en Pietertjie het hom agtervolg. Toe hulle gestop het, het die beskuldigde navraag gedoen oor wie die vier persone is wat Pietertjie na die huis gebring het. Hy het hom meegedeel dat dit die vier persone was wat hy aangevra het. Later die dag het die beskuldigde en die vier persone en ander weer terug by die beskuldigde. se huis opgedaag. Die vier persone van Hawston is toe na 'n houthokkie in die beskuldigde se jaard geneem. Die beskuldigde het daarna aan Pietertjie gese dat hy die vis na sy ma se huis moet neem.

Nadat hy die vis afgelaai het, is Pietertjie terug na beskuldigde se huis waar hy weer gaan rook het. Hy het na bewering nooit sy R1 000,00 of sy pille gekry nie. Die beskuldigde' het toe vir Pietertjie en ene Saan na Khayelitsha gestuur om pille te gaan kry. Saan het egter gery na Mitchell's Plain toe en die pille is nooit gekry nie. Later die aand is Pietertjie weer terug na die beskuldigde se huis toe. Saan het uitgeklim terwyl

Pietertjie by die kar bly wag het. Op 'n stadium het Saan teruggekom en gese dat daar moeilikheid is, twee van die persone van Hawston is dood. Die volgende dag is Pietertjie terug Caledon toe.

Pietertjie het getuig dat alhoewel hy die beskuldigde reeds van 19 8 5 of 1986 ken, hy hom sedert daardie tyd weer vir die eerste keer gesien het die aand voor die voorval, naamlik 17 Julie 1991. Vir Abrahams het hy eers op die aand by die beskuldigde se huis ontmoet toe hulle sy huis gaan uitwys het as die plek waar die vier persone die volgende dag heen geneem moes word.

Pietertjie het gese dat hy weet dat Nickie Elbrinck 'n smokkelaar is en dat die vier persone van Hawston ook dwelms verkoop. Hy het, soos Abrahams, volgehou dat hy deurgaans geglo het dat die beskuldigde hierdie vier persone slegs 'n pak sou gee en dat hy nooit besef het hoe ernstig dit is wanneer dwelmbendes met mekaar baklei nie. Pietertjie het getuig dat tydens die bespreking die aand vantevore daar geen sprake was van vis wat van die Kaap moes gebring word nie. Hy het eers uitgevind van die vis toe hy teruggekom het van Hawston. Sy getuienis oor wanneer hy na bewering die beskuldigde sou meegedeel het van die vis, is ietwat vaag. Dit blyk dat dit op die stadium was toe hy agter die beskuldigde aangery het na sy huis toe. Op daardie stadium het hy die beskuldigde meegedeel dat die vier manne tussen R50 en R70 per boks vir die vis wou he.

Pietertjie het getuig dat hy vir die afgelope twee maande reeds 'n afskrif van sy verklaring wat hy aan die polisie afgele het in hierdie saak by hom het en dat op die stadium toe hy getuig het, al ongeveer ses keer deurgelees het. Hy bevestig dat hy aangese is dat hy by sy verklaring moet hou, want anders sal hy aangekla word van meineed. Hy het getuig dat dit deel van sy opdrag en sy kontrak met die beskuldigde was dat hy hierdie persone moes terugneem na Hawston nadat hulle hulle pak slae gekry het. Om hulle te paai sou hy dan vir elkeen van hierdie persone 'n paar Mandrax-tablette gegee het.

Dit is aan Pietertjie gestel dat die beskuldigde eintlik wou gehad het dat hy vir Manus Louw moes deur bring. Dit het hy erken, maar hy beweer dat hy geweet het dat Manus nooit saam met hom sou deur kom Kaap toe nie. Hy kan glad nie verklaar waarom daar in sy verklaring aan die polisie geen melding hoegenaamd van Pranton Gillian was nie. Pietertjie se weergawe van die gebeure is onsamehangend en dit is onwaarskynlik.

Hy was tydens kruisverhoor net eenvoudig bereid om te se wat in sy kop kom.

Beide Pietertjie en Abrahams was medepligtiges in hierdie misdrywe. Die versigtigheid waarmee medepligtiges se getuienis behandel moet word, is wel bekend. Hierdie persone se getuienis is egter in elk geval van so 'n swak gehalte dat dit sonder aarseling deur die voile Hof verwerp word. Die stawing wat daar vir hulle getuienis bestaan, is getuienis wat so onbevredigend is en die beskuldigde op so ' n weersprekende wyse betrek dat dit van geen waarde hoegenaamd is nie. Die enigste objektiewe stawing is die feit dat die beskuldigde se voertuig tydens die voorval gebruik is, maar ek handel hiermee later.

Die volgende getuie was Irene Plaatjies. Sy was na bewering op 'n stadium saam met Pietertjie Beukes deur Kaap toe om vir Nickie te gaan soek. Hulle het by die beskuldigde se huis uitgekom en sy het getuig dat die beskuldigde op daardie stadium daar teenwoordig was. Haar getuienis neem die saak egter nie veel verder nie. Daar was geen getuienis oor presies hoe laat sy by die beskuldigde se huis was nie en al indikasie oor die datum waarop sy by die beskuldigde se huis was, is Pietertjie se getuienis. Oor sy getuienis het ek myself reeds uitgelaat en ek gaan myself nie herhaal nie.

Alvorens ek met die getuienis van die beskuldigde handel, is dit nodig dat ek iets se oor die wyse waarop die ondersoek in hierdie saak gedoen is. Majoor Ellis of Snr. Supr. Ellis, soos wat hy nou bekend staan, is 'n ervare polisiebeampte. Hy het bykans 30 jaar ondervinding. Dit is gemene saak . dat hy reeds vanaf die aand van die voorval by hierdie ondersoek betrokke was. Dit is gemene saak dat hy ten tyde van hierdie voorval gestasioneer was te Kuilsrivier. Daarna is hy verplaas na Bishop Lavis en, volgens sy eie getuienis, het hy die dossier wat betrekking het op hierdie saak saam met hom geneem vanaf Kuilsrivier na Bishop Lavis en in sy kluis toegesluit vir bykans agt jaar omdat, soos hy beweer het, dit sensitiewe inligting bevat het. Dit is gemene saak dat hierdie saak verskeie kere uitgestel is in die laerhof, oenskynlik in afwagting op die Prokureur-generaal se beslissing.

Ellis het of die aanklaer of die Hof meegedeel dat die saak verwys is na die Prokureur-generaal vir beslissing. Die dokumentasie gee ook voor dat Ellis op 14 November 1991 die saak na die Prokureur-generaal verwys het. Dit is egter onder die Hof se aandag gebring deur mnr De Kock dat gedurende die tydperk 1991 tot 1992 die saak nooit na die Prokureur-generaal se kantoor verwys is nie. Insgelyks was die saak ook nooit op die streekhofrol gedurende hierdie tydperk, soos getuig deur Ellis. Aldus die MAS-stelsel was

Vernon Jonkers wat aanvanklik 'n medebeskuldigde van die beskuldigde was, maar ongelukkig om die lewe gebring is, eers as ' n gesoekte persoon gesirkuleer op 5 Desember 1997. Daar is 'n nota in die dossier van 'n oorspronklike lasbrief wat uitgereik is ten opsigte van gemelde Vernon Jonkers. Van hierdie lasbrief is daar geen spoor te vind nie. Die beskuldigde was insgelyks nooit as 'n gesoekte persoon gereflekteer nie en daar was ook insgelyks nooit 'n lasbrief, volgens die dokumentasie, ten opsigte van hom uitgereik nie.

Dit is gemene saak dat daar ten opsigte van die getuienis op die meriete nie 'n enkele oorspronklike verklaring beskikbaar is nie. Soos ek reeds gese het, is dit ooglopend dat Gillian se handtekening op minstens die laaste bladsy van een van sy verklaring vervals is. Aangesien daar slegs afskrifte van die verklarings beskikbaar is en aangesien Gillian volgehou het dat hy slegs een verklaring afgele het by die Kuilsrivier polisiestasie, kan ek nie bevind dat die verklaring wat voor die Hof is inderdaad Gillian s'n is of dat die handtekening wat hy as sy eie herken het, oorspronklike handtekeninge is nie.

Die enigste verduideliking wat Ellis kon gee vir die feit dat hy, volgens sy eie erkenning, die oorspronklike verklarings uit die dossier verwyder is, is dat die oorspronklike verklarings nie volledig genoeg is nie en dat hy hulle derhalwe moes oorgeneem het.

Strydig met alle polisieprosedure waaroor verskeie offisiere getuig het, het hy die oorspronklike verklarings verwyder en dit in die sogenaamde B afdeling van die dossier, wat terloops heeltemal verdwyn het, oorgeplaas.

Toe ek hom gevra het waarom hy dit gedoen het, het hy gese omdat hy gedink het dat hy geregtig was om dit te doen aangesien die beskuldigde en/of sy regsverteenwoordigers nie geregtig was op insae tot hierdie verklaring nie, aangesien die misdaad gepleeg is voor die inwerkingtreding van die Grondwet. Op hierdie belaglike stell'ing hoef ek nie verder kommentaar te lewer nie. Dit blyk uit die getuienis van ander polisie-offisiere, met wie ek elkeen afsonderlik hieronder sal handel, dat nadat hulle begin ondersoek instel het na die onvolledigheid van die dossier, asook al die eienaardighede wat hierdie ondersoek omring het, hulle geen samewerking hoegenaamd van Ellis gekry het nie.

Superintendent Herbert het getuig dat hy ' n polisiebeampte is wat reeds 25 jaar ondervinding het. Toe hy in 1998 agtergekom het dat Ellis na bewering die dossier in sy besit het, het hy hom versoek om die dossier na hom te bring. Ellis het hom meegedeel dat hierdie 'n baie

sensitiewe saak is, maar het steeds onderneem om die dossier na hom te bring. Dit het hy nie gedoen nie. Gevolglik het Herbert op 1 Julie 1998 'n pak dossiere vanaf die argief verkry. Die dossier wat betrekking het op hierdie saak was tussen ander dossiere wat hy ontvang het.

Die dossier was egter 'n duplikaatdossier en was uiters onvolledig. Dit was uit die stukke duidelik dat daar ' n lasbrief uitgereik is maar die afskrif van die lasbrief het verdwyn. Daar was dagboekinskrywings slegs ten opsigte van 1991 in die dossier.

Eers in Augustus 1998 het hy die oorspronklike dossier ontvang, maar hierdie dossier was net so onvolledig.

Herbert was op n stadium deur inspekteur Williams van die Binnelandse Veiligheid gevra om aan hom 'n afskrif van die lasbrief te voorsien. Hy het hom meegedeel dat daar geen lasbrief in die dossier is nie en het die aangeleentheid na die Streekhoof vir 'n ondersoek verwys.

Herbert het getuig dat hy uit hierdie dossier nie kon vasstel wat gebeur het nie. Die dossier was deurmekaar en onvolledig. Gevolglik het Herbert op 28 Augustus 1998 die aangeleentheid aan direkteur Du Toit oorhandig en toe aan die Bende-ondersoekeenheid. Volgens Herbert is daar geen rede waarom 'n ondersoekbeampte wat verplaas word van een polisiestasie na 'n ander polisiestasie die dossier met hom moet saamneem en hou vir die tydperk van agt jaar, soos wat hier die geval was nie. Die gewone beleid is dat dit slegs in uitsonderlike omstandighede gebeur en dan slegs met toestemming van die Areahoof.

Herbert het getuig dat dit ongehoord is dat verklarings uit die dossier verwyder word en vervang word met ander verklarings. Hy het ook gese dat dit ongehoord is dat verklarings genommer word op die wyse waarop dit gedoen was in hierdie saak. Die verklarings word gewoonlik kronologies genommer en stem altyd ooreen met die verwysings in die ondersoekdagboek. Wat hom betref, is die verwydering van 'n verklaring onbehoorlik.

Hierna het kaptein Willis getuig. Hy is van die Spesiale Intelligensie-ondersoekeenheid. Hy het reeds 15 jaar diens. Hy ondersoek onder andere sensitiewe

aangeleenthede veral met betrekking tot polisieverwante sake. Op 23 September verlede jaar het hy 'n navraag ontvang om sekere sake te ondersoek in verband met die ondersoek van hierdie saak deur Ellis. Hy het 'n verklaring ontvang van inspekteur Williams op 5 Oktober 1998 in verband met die onreelmatighede in die ondersoek van hierdie saak.

Ten spyte van verskeie pogings om uit te vind presies wat aangegaan het tydens die ondersoek in hierdie saak, kon hy net eenvoudig nie vasstel nie. Daar was nie eers meer 'n oorspronklike hofleer nie. Daar was slegs 'n

duplikaatleer.

Willis het op 21 Januarie 1999 vir Ellis by sy kantoor gespreek. Hy het hom gevra vir 'n verduideliking oor wat hier aangaan. Ellis kon hom geen aanvaarbare verduideliking gee nie. Hy het hom weer gesien op 28 Januarie 1999 en hom gevra vir sekere dokumente. Hy het hom ook gevra vir 'n verklaring. Hy het egter getuig dat elke keer as hy hom gevra het vir of die dokumentasie of die verklaring, daar 'n verdere verskoning was. Op 7 April van hierdie jaar het hy 'n brief ontvang van Ellis waarin Ellis gese het dat hy nie verplig is om 'n verklaring te maak aan Willis nie.

Hierna het inspekteur Reginald Williams getuig. Hy was gedurende Maart 1998 verbonde aan die Binnelandse Veiligheidstak te Kuilsrivier. Op 6 Maart het hulle 'n bedreigingsanalise gedoen te Bellville. Hiertydens het hy vasgestel dat daar steeds 'n uitstaande saak teen die beskuldigde hangende is. Hy het ook gesien dat die

beskuldigde ' n medebeskuldigde ene Vernon Jonkers het en dat daar 'n lasbrief uit is vir Vernon Jonkers.

Op 9 Maart 1998 het Williams na die Kuilsrivier polisiestasie gegaan en die dossier getrek. Dit was 'n duplikaatdossier. Binne die dossier was slegs fotostate. Daar was nie 'n enkele oorspronklike dokument behalwe die foto's wat as bewysstukke voor die Hof gedien het nie. Hy het die dossier nagegaan en gesien dat daar wesenlike besonderhede ontbreek. Op die dossieromslag was daar

byvoorbeeld nie eers 'n hofsaaknommer nie en daar was ook geen lasbrief of 'n afskrif van 'n lasbrief in die leer nie, alhoewel dit duidelik geblyk het dat daar wel een uitgereik is.

Hierna het hy die sirkulasiestelsel nagegaan en vasgestel dat Vernon Jonkers wel op die sirkulasiestelsel gesirkuleer was, maar op die kriminele ID-sisteem was hy nie gesirkuleer nie. Die duplikaatdossier is eers in 1995 op die MAS-identifikasiesisteem gesit. Vernon Jonkers was sedert die lasbrief uitgereik is, reeds vir 7n hele paar sake voor die Hof. Williams het 'n verslag opgestel en na die Provinsiale Kantoor gestuur.

Hy het getuig dat hy op 9 Maart vir Ellis geskakel het en hom gevra het waar die lasbrief is. Hy kon geen antwoord uit Ellis uit kry nie en hy het getuig dat Ellis meer in sy, Williams, se besonderhede belang gestel het as om besonderhede te verskaf oor waar die lasbrief is. Williams het hom toe meegedeel dat Vernon Jonkers op 22 April 1998 in die Strand voorkom vir moord en hom meegedeel dat hy hom derhalwe daar kan arresteer op hierdie klagte. Dit het Ellis klaarblyklik nie opgevolg nie, want Vernon Jonkers is nooit gearresteer nie.

Wat egter van belang is, is dat op dieselfde dag, naamlik 9 Maart 1999, kort nadat Williams die gesprek gehad het met Ellis, hy weereens na die sisteem gekyk het en toe opgelet het dat alle inligting in verband met Vernon Jonkers in die MAS-inligtingsisteem afgevee is. Normaalweg, indien enige persoon opdrag gegee het dat inligting uit hierdie stelsel verwyder moet word, sal daar ' n verwysing wees oor wie hierdie inligting verwyder het. In hierdie geval is daar geen verwysing nie.

Uit voorgaande is dit hierdie Hof se mening dat die enigste redelike afleiding is dat Ellis in hierdie saak handtekeninge van getuies vervals het op verklarings; dat hy vals verklarings opgestel het; dat hy oorspronklike verklarings uit die dossier verwyder het; dat hy inligting van die MAS-stelsel afgevee het en dat hy die verloop van die saak doelbewus in die wiele gery het deur onder andere die Hof mee te deel dat die aangeleentheid na die Prokureur- generaal verwys is vir oorweging terwyl dit nooit gedoen is nie, wat direk tot gevolg gehad het dat die saak uiteindelik van die rol verwyder is omdat die Prokureur-generaal se beslissing dan na bewering so lank sou geneem het.

Wat Ellis se plan was in hierdie saak, sal ons seker nooit weet nie. Sy getuienis in hierdie hof was die swakste wat ek in my loopbaan van bykans 3 0 jaar in die regsberoep nog ooit gesien het. Nie net was sy getuienis

onsamehangend, onlogies, vaag en weersprekend nie, dit het geen sin hoegenaamd gemaak nie. Die indruk wat hy in die getuiebank geskep het, is uiters swak. Hy was ontwykend gewees. Elke keer as hy 'n vraag nie wil beantwoord nie, het hy teruggeval op die sogenaamde sensitiewe inligting wat in die dossier vervat is. Toe die Hof hom uitgevra het oor die sensitiewe inligting, het hy beweer dat hy nie die Hof daaromtrent kan inlig nie, aangesien daardie moontlik ontoelaatbare getuienis sou wees.

Dit het daartoe aanleiding gegee dat die Hof verdaag het dat hy die aangeleentheid kon bespreek met mnr De Kock wie namens die Staat verskyn het, en advokaat Veldhuizen. Geeneen van die advokate het enige beswaar gehad dat hierdie getuienis aan die Hof openbaar moet word nie en daaroor is ons ook nie verbaas nie. Die sogenaamde sensitiewe inligting waarop hy gesteun het, is vry wel algemene kennis. Dit het gegaan oor die bende-oorlog wat daar geheers het in Hawston. Dit is iets wat daagliks in die pers verskyn het wat wel bekend was by almal. Wat inspekteur Ellis te doen gehad het met die dwelmbendes se gevegte in Hawston, weet ek nie. Hy het sonder twyfel geen amptelike belang daarin gehad nie. Hy het egter getuig dat omdat hierdie getuienis so sensitief was en omdat hy gevoel het dat die beskuldigde die belhamel is, het hy die Hof meegedeel dat hy te alle tye gevoel het dat die beskuldigde in die tronk moes beland.

Hy het gevoel dat indien die beskuldigde in die tronk sou beland, dan sou alle probleme in Hawston opgelos wees. Of sy begeerte om die beskuldigde in die tronk te sien, die rede is waarom die verklarings in hierdie vorm opgestel is, die weet ons nie. Of dit die rede is waarom hy oorspronklike verklarings uit die dossier verwyder, die weet ons nie.

Dit is skreiend dat ' n polisie-offisier en veral iemand met Ellis se jare ondervinding op hierdie wyse optree. Ek kan my en die Hof se weersin in sy optrede nie sterk genoeg uitspreek nie. Terselfdertyd wil ek egter die Direkteur van Openbare Vervolging, die Bende-ondersoekeenheid en veral mnr De Kock wat die Staat verteenwoordig het, gelukwens met hulle lofwaardige optrede om toe daar een onreelmatigheid op die lappe gekom het alles aan die Hof openbaar het. Ook die polisiebeamptes wat bereid was om te kom getuig oor hierdie aangeleentheid en verdoemende getuienis teen 'n senior kollega van hulle te gee, wil ek bedank en gelukwens.

Persone soos inspekteur Ellis hoort nie in die polisiemag nie. Dit is persone soos mnr De Kock, die persone onder

wie hy werk en die polisiebeamptes wat hier kom getuig het wat ons sal help om hierdie tipe korrupsie uit te wis, en om te verhoed dat persone soos Ellis ons hele kriminele regsisteem op die kniee bring.

Nadat ek dit alles gese het, is dit duidelik dat vanwee hierdie onreelmatighede en vanwee die feit dat hierdie Hof weet dat minstens ten opsigte van Gillian, daar 'n verklaring is wat weg is, kan daar op die Staat se getuienis geen peil hoegenaamd getrek word nie.

Dit bring my by die beskuldigde se getuienis, maar in die lig van wat ek hierbo gese het, is dit duidelik dat ek dit nie in detail hoef te bespreek nie. Die beskuldigde was nie 'n goeie getuie nie, maar dit synde gesegd so, het hy homself nie tydens kruisverhoor weerspreek nie en is sy getuienis nie sodanig dat dit sonder meer as vals verwerp kan word nie.

Wat betref die teenwoordigheid van sy motorvoertuig op die toneel, het hy getuig dat die voertuig voor die voorval geparkeer was op 'n perseel oorkant sy huis. Hy het die voertuig se battery uitgehaal omdat dit reeds by 'n vorige geleentheid gesteel was. Toe hy die aand by die huis gekom het, hy opgemerk het dat die voertuig nie langer daar was nie. Hierdie verduideliking is, na die Hof se mening, redelik moontlik waar.

In die omstandighede is dit die eenparige beslissing van hierdie Hof dat die beskuldigde in die omstandighede geregtig is op die voordeel van die twyfel. Ek glo egter dat ek volledigheidshalwe moet meld dat Ellis se optrede in elk geval gevolg sou gehad het dat die beskuldigde nie 'n regverdige verhoor gehad het nie. Ingevolge die Grondwet is 'n beskuldigde geregtig op 'n regverdige verhoor en dit sluit onder andere die reg in om toegang te he tot Staatsgetuies se verklarings. Dit beteken vanselfsprekend dat hy in al die verklarings moet insae he, nie slegs die wat Ellis verkies om beskikbaar te stel nie. Sonder al die verklarings kan die getuies se getuienis nie na behore getoets word deur die verdediging nie. Die ondersoek in hierdie saak was ooglopend gedoen met die oog daarop om die beskuldigde te benadeel en moontlik andere soos Vernon Jonkers te bevoordeel.

Ek kan die moontlikheid van werklike benadeling nie uitsluit nie en derhalwe, self's al sou daar bevredigende getuienis voor ons gewees het, sou ons op die inligting tot ons beskikking in alle waarskynlikheid die verrigtinge tersyde gestel het omdat die polisie-optrede dit onmoontlik gemaak het vir die beskuldigde om 'n regverdige verhoor te he.

Die beskuldigde word dus ONSKULDIG BEVIND EN ONTSLAAN en ek versoek dat 'n afskrif van my uitspraak gestuur word aan die Minister van Justisie en Polisie asook die Direkteurs-generaal van beide departemente. Ek versoek ook dat 'n afskrif van die uitspraak gestuur word aan die Nasionale Direkteur van Openbare Vervolging asook die Plaaslike Direkteur van Openbare Vervolging.





TRAVERSO, R