South Africa: Western Cape High Court, Cape Town

You are here:
SAFLII >>
Databases >>
South Africa: Western Cape High Court, Cape Town >>
1999 >>
[1999] ZAWCHC 7
| Noteup
| LawCite
S v Hess (SS100/1999) [1999] ZAWCHC 7 (17 November 1999)
Download original files |
IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA
(WES-KAAP HOE HOF, KAAPSTAD)
SAAKNOMMER : SS1 00/1999
DATUM: 17 NOVEMBER 1999
In die saak tussen:
DIE STAAT
en
VAN ZYL. R:
Die beskuldigde is skuldig bevind aan die verkragting van en die moord op ’n 8-jarige dogtertjie, Monique May. Die beginsels ten opsigte van strafoplegging en die oorweging van ’n gepaste straf is bekend en behoef geen herhaling nie. Dit spreek vanself dat sodanige beginsels toegepas word met inagneming van al die relevante feite en omstandighede van toepassing op die betrokke misdade.
Wat betref die beskuldigde se persoonlike omstandighede het hy self getuig. Hy was 20 jaar oud en in St.8 ten tye van die misdade. Hy is ongetroud en het geen kinders nie, hoewel ’n kind wat hy gehad het gedurende 1996 oorlede is. Hoewel hy St.6 gedruip het, het hy gemiddeld op skool presteer met punte wat tussen 50% en 60% gewissel het. Op skool het hy vriende gehad en het rugby gespeel. By voltooiing van St.8 het hy uit eie keuse die skool verlaat en begin werk, eers by ’n brouery en daarna by ’n drankkleinhandelaar. Hy het in ’n vroee stadium in sy lewe reeds met die gereg gebots. Hy was skaars twaalf jaar oud toe hy in 1987 aan verskeie aanklagte van huisbraak aan skuldig bevind is. Op die een aanklag is hy tot drie houe met ’n ligte rottang gevonnis en op die ander is uitgestel ingevolge artikel 297(1) (a) (11) van Wet 51 van 1977. Meer onlangs gedurende 1994 en 1995 is hy twee maal skuldig bevind aan gewone aanranding, op die eerste is hy gevonnis tot ses houe met ’n ligte rottang en op die tweede een tot R50 boete. Op 7 November 1996 is hy skuldig bevind aan die verkoop van drank sonder ’n lisensie en is tot R300 beboet, alternatiewelik drie maande gevangenisstraf gevonnis. Slegs die aanrandingsaanklag is relevant vir doeleindes van vonnisoplegging in die huidige saak.
Soos tereg deur advokaat Nel uitgewys, kan hulle nie as ernstig aangemerk word nie en vir doeleindes van hierdie saak word hulle buite rekening gelaat.
Advokaat Nel het ter versagting aangevoer die relatiewe jeugdigheid van die beskuldigde ten tye van sy misdade asook die feit dat drankinname waarskynlik ’n rol gespeel het, sy optrede was nie vooraf beplan nie, maar het waarskynlik op die ingewing van die oombiik geskied.
Toe die beskuldigde gevra is of hy berou het oor die misdade, was sy antwoord dat hy ongelukkig is oor wat gebeur het en meer spesifiek omdat ’n persoon dood is.
Ek neem in ag die jeugdigheid van die beskuldigde, hoewel dit slegs relatief is en nie besondere gewig dra in die lig daarvan dat hy reeds vanaf 12-jarige ouderdom met die gereg begin bots het. Dit mag wees dat drank ’n rol gespeel het, maar in hierdie verband het die beskuldigde nooit die Hof in sy vertroue geneem deur met die ware feite na vore te kom nie. Hy het tot die einde toe daarin volhard dat hy niks onthou van die verkragting of verwurging nie. As hy nie minstens sy handelinge erken nie, is dit vir hierdie Hof onmoontlik om vas te stel welke mate hy deur drank aangetas was en of hy as gevolg daarvan miskien verminderd toerekeningsvatbaar is. Hy het geen getuienis voorgele van die hoeveelheid drank wat hy sou in geneem het nie. Hy het bloot gese dat hy vroegoggend gedrink het en dat die wyn teen die aand met hom begin werk het, soos hy dit gestel het. As hy so dronk was as wat hy wil voorgee, sou ander persone op die perseel in alle waarskynlikheid dit opgelet het. Slegs Everts was bereid om toe te gee dat hy onder die invloed van drank was, maar nie sodanig dat hy nie geweet het wat hy doen nie.
Op sterkte van Everts se getuienis is ek wel bereid om te aanvaar dat drankinname ’n rol gespeel het ten tye van die beskuldigde se besluit om die oorledene na nommer 7 te neem om haar aldaar te verkrag. Ek aanvaar ook dat dit ’n rol kon gespeel het toe hy besluit het om haar te verwurg in alle waarskynlikheid om te keer dat sy teen hom oor die verkragting sal getuig.
Ek stem saam met advokaat Currie dat die beskuldigde geen berou getoon het vir sy dade nie. Dit wil voorkom asof hy daaroor ongelukkig voel omdat hy gevang is eerder as wat hy berou het oor sy gruweldade wat die lewe van ’n jong dogter kortgeknip het. Ek beskou die uitermatige asosiale gedrag van die beskuldigde as ernstig verswarend omdat hy meegedoen het aan die soektog na Monique en ewe hulpvaardig haar lewelose liggaampie gevind het en die huis ingedra het. Dit, toe hy haar self gedood het en haar lyk geneem het na die plek waar hy dit kwansuis gevind het. Om dinge nog te vererger het hy daarna as staatsgetuie teen ene Sydney Smith getuig wetende dat Smith onskuldig is en dat hy self die geweldenaar was wat vir die verkragting en moord verantwoordelik was. Daardeur het hy horn versoen dat ’n onskuldige persoon moontlik aan die misdade wat hy gepleeg het skuldig bevind sou kon word, ’n Mens kan jou skaars indink dat iemand op ’n meer immorele en lafhartige wyse sou kon optree.
Die erns van die misdade waaraan die beskuldigde skuldig bevind is, kan skaars in woorde uitgedruk word. Die brose liggaampie van ’n pragtige onskuldige dogtertjie, wat slegs agt jaar oud was, is op die gruwelikste wyse aangerand en onteer. Met haar skraal liggaannsbou en klein massa van 25 kilogram, kon sy kennelik nie enige noemenswaardige weerstand bied teen die beskuldigde, ’n uitgegroeide fris jong man wat in alle waarskynlikhede met ’n mes of soortelyke wapen bewapen was. Die angs en vrees wat Monique moes ervaar het toe die beskuldigde, vir haar ’n totaal vreemde persoon, tot oorgawe gedwing het, moes geweldig gewees het. Die prik- of snymerkies aan haar nek en die sny op haar wang dui daarop dat die beskuldigde nie tevrede was om haar met die skerp voorwerp te dreig nie, maar inderdaad nie gehuiwer het om dit fisies teen haar te gebruik nie. Die skaaf- en kneuswonde aan haar hele lyf was aanduidend van onbeheersde geweld terwyl hy haar klere verwyder het en toe seksueel met haar verkeer het. Sy was ’n ongerepte kinderlike maagd wat haas ondraaglike pyn moes verduur het toe die beskuldigde met sy volgroeide orgaan die teerheid van haar privaatdele binnegedring het. Toe hy sy onbeheersde seksuele drang op hierdie wyse bevredig het, het sy miskien vir ’n paar oomblikke gedink dat die ergste darem verby is want hy het haar toe aangetrek, gehelp aantrek of miskien toegelaat het om haarseif te probeer aantrek. Sy kon nie weet wat in sy kop aangegaan het toe hy Ronel Jansen se damesbroekie uit die klein kassie se laai gehaal het nie. Die pyn en angs wat sy reeds ervaar het is binne oomblikke tot die uiterste vermenigvuldig gewees het toe hy die broekie om haar nek draai en begin wurg het totdat sy glad nie meer asem kon haai nie. Genadiglik moes sy kort daarna haar bewussyn verloor het en die dood het nie lank daarna ingetree.
Die openbare belang verg sonder meer dat die pleging van misdade van hierdie aard swaar gevonnis moet word. Daar het in die laaste tyd al hoe meer stemme opgegaan oor die noodsaaklikheid om misdade teen kinders te bekamp, veral die seksuele molestering en verkragting van meisies en vrouens het onder die soeklig gekom en selfs aanleiding gegee tot wetgewing wat swaar minimum vonnisse vir sulke wandade voorskryf. Die betrokke wetgewing is nie in die onderhawige geval van toepassing nie, maar die openbare belang wat aandring op swaar vonnisse in sulke gevalle moet ewewigtig
met die ander toepaslike beginsels vir doeleindes van die oplegging van ’n geskikte en gepaste vonnis oorweeg word.
!n die lig van die feite en omstandighede hierbo uiteengesit en na oorweging van die toepaslike beginsels en faktore wat slaan op vonnisoplegging, is ek die mening toegedaan dat slegs die swaarste vonnis ten opsigte van sowel die verkragting as moord geregverdig kan word as ’n geskikte en gepaste straf vir die barbaarse en gruwelike optrede waaraan die beskuldigde hom skuidig gemaak het.
Die vonnis van die Hof is derhalwe die volgende:
1. Op aanklag 1, die verkragting van Monique May, word die beskuldigde tot LEWENSLANGE GEVANGENISSTRAF gevonnis.
2. Op aanklag 2, die moord op Monique May, word die beskuldigde tot LEWENSLANGE GEVANGENISSTRAF gevonnis.
Dit spreek vanself dat die vonnisse samelopend is.
VAN ZYL, R