South Africa: Western Cape High Court, Cape Town

You are here:
SAFLII >>
Databases >>
South Africa: Western Cape High Court, Cape Town >>
2002 >>
[2002] ZAWCHC 28
| Noteup
| LawCite
S v Hammers (SS150/2002) [2002] ZAWCHC 28 (14 May 2002)
Download original files |
IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA
(KAAP DIE GOEIE HOOP PROVINSIALE AFDELING)
Saak Nr.: SS150/2002
In die saak tussen:
DIE STAAT
en
UITSPRAAK: 14 MEI 2002
CLEAVER R:
[1] Die beskuldigde, Christopher John Hammers, staan tereg op ´n aanklag van moord. Dit word hom ten laste gelê dat hy op Saterdag, 2 Desember 2000 wederegtelik en opsetlik sy sewe-jarige seun Cheslyn John Hammers gedood het deur hom te verwurg en/of te versmoor. Hy word verdedig deur mnr Pothier, terwyl me Damon-Zloch namens die Staat verskyn. Ek word bygestaan deur twee assesore, mnr M J Groenewald ´n afgetrede landdros en mev C Olivier, ´n toegelate advokaat.
[2] In sy pleitverduideliking ingevolge artikel 115(3) van die Strafproseswet, pleit die beskuldigde onskuldig op die aanklag van moord, maar erken dat die oorledene doodgegaan het as gevolg van sy handelinge. Hy ontken dat dit sy bedoeling was om die oorledene dood te maak, en sy verklaring lui dan verder soos volg:
“5. Die gebeure rondom die dood van Cheslin is uiteengesit in die verklaring wat ek aan Landdros Kriel gemaak het, en wat aangeheg is tot hierdie pleitverduideliking;
6. Ek sal ook verdere besonderhede verskaf in my getuienis voor hierdie Agbare Hof.”
Die verklaring wat die beskuldigde aan Landdros Kriel gemaak het lees soos volg:
“Vrydag het ek en my vrou rusie gehad. Daarna het ek die kinders by die creche gaan haal. Ek en die kinders het toe Strand toe gery. Daar het hulle hulself in die seewater geniet. Oppad terug Eersterivier toe het my meisiekind gesê ons moet Paarl toe ry. Ons het toe Paarl toe gery na my suster toe. Ek en my swaer is toe weg om my broer te gaan optel en is toe terug na my suster toe waar ons gesit en bier drink het. ´n Tydjie later het my meisiekind gesê sy wil na haar ouma toe gaan. Ons is toe na my ma se huis waar sy uitgeklim het. Ek het verder gery om my broer te gaan aflaai. Ek en my seuntjie het toe rigting huistoe gery. Ek het van besluit verander en besluit om Caledon toe te ry. Ons het na die casino toe gery waar ek ´n paar rand uitgedobbel het. Oppad Eersterivier toe het die kar buite Caledon gebreek. Ek het ´n ‘towtruck’ gebel om ons te kom haal. Die eienaar het my en my seuntjie teruggebring Eersterivier toe.
Ons het in die huis ingegaan. Ek het die seuntjie se slaapklere aangetrek. Hy het gesê hy is honger. Ek het gesê as ons opstaan gaan ek iets maak om te eet. Hy het gekerm hy is honger. Ek het tee gemaak en peanutbutter en brood ge-eet. Na ons klaar ge-eet het, het ek hom in die kooi gesit. ´n Tydjie daarna het hy vir my gesê hy kan nie slaap nie – sy kop is seer. Ek vra hom toe of hy iets wil hê vir sy kopseer. Hy het gesê ja en het aanhoudend gehuil. Ek het hom toe ´n halwe slaappil gegee sodat hy kan slaap. Daarna het ek hom in die bed gesit en ek het voor die tv gaan sit. ´n Tydjie later het hy my weer geroep en gesê hy kan nie slaap nie en dat hy goeters teen die kaste sien. Ek sê toe vir hom hy verbeel hom net, daar is niks, maar hy het net harder en harder geskree en gewys na die kaste. Ek het toe gesê hy moet sy mond hou ek het toe sy mond toegehou sodat hy nie so hard moet skree nie. Hy het net aangehou skree en gewys na die kaste waar hy goeters sien. Ek kon dit later nie meer vat nie. Ek het toe die kussing op sy kop gedruk dat hy kan ophou skree.
Ek het toe die kussing later afgehaal. Hy het aangehou en gesê hy sien goeters. Hy het later so hard geskree dat ek dit nie kon hou nie en ek het my hand op sy nek gesit en hom gewurg. Ek het gesê hy moet ophou skree, daar is niks goeters teen die kaste nie. Toe ek my kom kry, lê hy net stil. Toe ek besef dat ek my enigste kind doodgemaak het. Ek het nie bedoel om my kind seer te maak nie. Toe ek besef dat hy dood is, het ek hom in die koffer gesit onder die bed. Ek het vir niemand vertel daarvan nie. Ek wou my toe self gaan doodmaak. Gister toe my skoonma hulle gekom het, het ek uit die huis geloop en om 2.30 die eerste trein Kaap toe gevat. Ek het vanoggend my vrou gebel om vir haar te sê wat ek gedoen het. My stiefseun het die telefoon opgetel en hy wou haar nie gaan wakker maak nie. Toe ek weer bel het ´n vreemde man geantwoord. Toe weet ek my vrou-hulle het die kind gekry. Ek het toe my vriend gebel en daarna het ek myself aan die polisie oorgegee. My vriend het gereël dat Retreat se polisie my kom haal.”
By die aanvang van die verrigtinge het mnr Pothier namens die beskuldigde aangevoer dat wanneer die beskuldigde in sy verklaring noem dat hy die oorlendene gewurg het, hy die woord ‘wurg’ gebruik in die sin van manuele strangulasie of ‘throttling’ in Engels.
[3] Die Staat het drie getuies geroep om die gebeure voor die gewraakte handeling van die beskuldigde te skets. Hulle was Chané Hammers (‘Chané’), die beskuldigde se aangenome dogter tans 12-jaar oud, Michelle Williams (‘Michelle’), die suster van die oorledene se moeder, en die moeder Charmaine Hammers. Chané het getuig dat die beskuldigde haar en haar broer, die oorledene, in die middag van Vrydag, 1 Desember 2000 by die kleuterskool kom afhaal het in ´n motor wat die familie onlangs bekom het. Die beskuldigde het die kinders na die Strand geneem waar hulle in die see gespeel het. Daarna is hulle na haar antie Charmaine en toe na die oorledene se stiefma in die Paarl waar sy afgelaai is. Sy het vir die beskuldigde gevra of Cheslyn kon saamgaan, maar hy het net geantwoord dat hy haar later sou kom optel. Hy het dit nie gedoen nie en sy het by haar ouma oorgeslaap. Op die rit na die Paarl het sy gehoor dat die beskuldigde op die selfoon met haar ma praat. Hy het vir haar ma gesê dat sy nie weer haar kinders gaan sien nie. Vir haar was dit ´n gereelde ding dat sy en die oorledene by haar ouma oorslaap en alhoewel daar nie ekstra klere vir die kinders was nie, het sy oorgeslaap tot Maandagoggend.
[4] Michelle Williams het tydens die gebeure saam met haar suster Charmaine Hammers en die beskuldigde gebly in hulle woning te Starrenbergstraat 99 in Eersterivier. Sy sê dat sy omtrent ses-uur in die namiddag van Vrydag, 1 Desember by die huis gekom het en gevind dat niemand daar was nie. Nadat sy geëet het, het haar suster haar van die werk gebel en meegedeel dat aangesien die beskuldigde en die kinders Paarl toe is, sy by haar moeder moes oornag. Voordat haar moeder haar kom haal het, het die beskuldigde haar geskakel en gevra of iemand by die huis is. Sy noem toe aan hom dat sy by haar ma sou gaan slaap en dat sy die sleutel van die huis wat sy gehad het by die bure oorkant die straat sou los. Die beskuldigde het ook sy eie sleutels vir die huis gehad. Sy het die Saterdag en Sondag by haar ma deurgebring en ongeveer agt-uur of half-nege Sondag aand na die huis teruggekeer in die geselskap van haar moeder, haar suster en ander familie-lede. Dit het ´n rukkie geneem voordat iemand notisie geneem het van haar klop aan die deur, maar na sowat tien minute het die beskuldigde die deur vir hulle oopgemaak. Die beskuldigde was op daardie stadium in ´n kortbroek en ´n “sweater” geklee. Hy het blykbaar sondermeer toe ´n langbroek en ´n ander kledingstuk aangetrek en die huis verlaat.
Toe hulle by die huis aankom was Charmaine Hammers in die badkamer en sy het op Charmaine se versoek nagklere vir haar gebring. Charmaine het toe na haar en die beskuldigde se kamer deurgegaan en kort daarna vir Michelle geskree om na die slaapkamer te kom. Daar het sy gesien dat die meeste van Charmaine se klere, asook die klere van die beskuldigde, in hulle kaste opgeknip/sny is. Michelle het toe gaan slaap. Sy het omtrent vyf-uur Maandagoggend wakker geword en omtrent ses-uur opgestaan. Dit was haar gewoonte om haar klere in ´n tas onder haar bed te hou en sy het toe die tas uitgetrek om klere daarvan uit te haal. Toe sy die tas oopmaak ontdek sy die liggaam van die oorledene wat in die tas gelê het. In kruisondervraging het sy aangedui dat as gevolg van die mededeling van Charmaine dat die beskuldigde en die kinders Paarl toe is, sy nie verwag het dat hulle later daardie aand sou terugkeer nie. Sy het ook bevestig dat die beskuldigde ´n goeie verhouding met beide kinders gehad het. Sy was bewus van die feit dat die beskuldigde en sy vrou wel sommige tye gestry en baklei het, maar wat haar betref was hulle ´n “goeie paartjie”. Toe die beskuldigde haar geskakel het om uit te vind of iemand by die huis was, het sy nie die indruk gekry dat sy besorg was oor haar nie.
[5] Charmaine Hammers vertel dat haar huwelik met die beskuldigde vanaf ongeveer Maart 2000 probleme begin optel het en dat sy op verskeie geleenthede met hom gepraat oor ´n moontlike egskeiding. Hierdie gesprekke het dikwels in rusie ontaard. Die beskuldigde was hewig gekant teen ´n egskeiding en het dikwels tydens hulle rusies gedreig om die kinders dood te maak indien daar ´n egskeiding sou plaasvind. Op Donderdag 30 November was daar weer ´n argument tussen Charmaine en die beskuldigde waartydens ´n moontlike egskeiding genoem is. Dit het plaasgevind nadat die beskuldigde die vorige aand vir ´n lank tyd weggebly het met die egpaar se pas aangekoopte motorkar. Charmaine sou Vrydagaand nagskof werk en het daardie middag gaan lê sodat sy kon rus voor die nag se werk. Terwyl die beskuldigde van die huis af weg was, het Charmaine opgemerk dat die sleutels vir haar kas by die werk nie in haar handsak was nie. Dit het toe geblyk dat die beskuldigde die sleutels geneem het, na haar werk toe gegaan het en daar die sleutels van die kar uit haar kas geneem het. Sy het juis die sleutels vir die kar by die werk gelos omdat sy nie wou hê dat die beskuldigde weer die kar moes gebruik nie. Charmaine was baie kwaad vir die beskuldigde hieroor en het vir hom gesê dat sy van plan was om na die polisie toe te gaan om ´n klagte van diefstal van haar sleutels te lê. Sy het inderdaad vir hom gesê dat sy ´n klagte sou gelê het. Sy is toe ongeveer vyf-uur in die middag werk toe en sê dat die beskuldigde haar kort daarna gebel het en vir haar meegedeel het dat hy nie “lus”’ is vir haar of vir ´n argument met haar nie en dat hy vir die naweek sou weggaan. Op daardie stadium kon sy hoor dat sy telefoonoproep uit ´n motor gemaak is en sy kon ook die kinders in die agtergrond hoor. Na ´n redelike tyd het die beskuldigde haar weer geskakel en haar meegedeel dat hy van plan was om die kinders dood te maak. Sy was bekommerd hieroor, maar het toe haar skoonmoeder in die Paarl gebel. Van haar het sy vasgestel dat Chané by haar skoonmoeder was en sy het toe met Chané gepraat. Sy sê dat die beskuldigde haar aanhoudend daarna gebel het en telkens meegedeel dat hy die kinders gaan doodmaak. Op een geleentheid het hy vir haar gesê dat sy nie die Maandag sou gaan werk nie, maar lyke sou uitken. Daarna het die beskuldigde haar weer gebel en vir haar gesê dat sy “goodbye” vir Cheslyn moet sê. Daarna het sy niks verder gehoor totdat die beskuldigde haar ongeveer 5:45 die volgende oggend gebel het en gevra het of sy lekker geslaap het. Hy het haar meegedeel dat hy glad nie geslaap het nie. Sy kon sien dat al hierdie oproepe van die beskuldigde van sy selfoon gemaak is. Toe sy vroeg die volgende oggend by die huis kom was sy onder die indruk dat daar niemand by die huis was nie, maar nadat sy vir ´n kort rukkie daar was, het sy skielik vir die beskuldigde voor haar sien staan. Sy sê dat sy eerste woorde aan haar was “Wat is jou storie?”, met verwysing na haar verslag aan hom dat sy hom by die polisie aangekla het. Sy sê dat sy toe geweet het dat hy haar gaan slaan. Sy is deur na hulle slaapkamer toe waar die beskuldigde haar fisies aangerand het deur haar aan die keel te gryp. Daar het toe ´n bakleiery tussen hulle ontstaan waartydens sy hom met haar kop gekap het. As gevolg daarvan moes hy badkamer toe gaan om die bloed van sy neus af te kry. Sy is toe deur na Michelle se slaapkamer toe. Die beskuldigde het haar gevolg en op die grond voor haar gesit en weer oor ´n egskeiding met haar gesels. Sy sê dat die beskuldigde toe by haar op die bed gelê het en dat die twee van hulle aan die slaap geraak het. Nadat hulle wakker geword het, het die beskuldigde aangedui dat hy die kar en die kinders sou gaan haal. Volgens hom was die kar op daardie stadium by ´n vriend van hom. Hy is toe weg. Sy het daardie dag nie gewerk nie en was Saterdag aand alleen by die huis. Sy sê dat sy ´n slaappil geneem het en dat sy Sondag oggend wakker gemaak is deur die lui van die telefoon. Dit was toe nog nie sewe-uur in die oggend nie. Die oproep was van die beskuldigde wat gesê het dat hy in die Kaap was en dat die kar stukkend was. Dit het vir haar geklink asof hy half dronk was en toe hy vir haar sê dat hy nie weet hoe hy by die huis sou kom nie, was haar antwoord dat dit sy probleem was. Volgens haar het die beskuldigde tussen nege- en tien-uur die oggend by die huis gekom en toe heel beleefd met haar gesels. Hulle het gepraat oor die kar wat stukkend was. Haar houding was dat hy homself nie daaroor moet bekommer nie en later het sy weer op Michelle se bed gaan lê. Sy het toe gehoor dat die beskuldigde in die kamer sit en huil. Sy is deur na hom. Hy het haar toe meegedeel dat die kar nie in die Kaap is nie, maar dat dit by Botrivier is. Hy sê dat dit gebreek het toe hy van Caledon teruggery het en dat die persoon wat die kar vir hom ingesleep het, hom vroeg Saterdag oggend huistoe gebring het. Hy het toe vir haar gesê dat hy die volgende dag die kinders in die Paarl sou gaan haal. Sy was nie bekommerd oor die kinders nie, want dit was normaal dat hulle by haar skoonmoeder oorgebly het. Sy het toe gaan slaap in Michelle se kamer en die beskuldigde het weer by haar kom lê. Terwyl sy laat die Sondag middag in die badkamer was, het Michelle en haar moeder en ander lede van haar familie by die huis aangekom. Sy het vir Michelle gevra om ´n handdoek en slaapklere vir haar deur te bring na die badkamer toe, maar het die beskuldigde nie weer gesien nie. Hy is weg met die aankoms van Michelle en haar familie by die huis. Toe sy na die slaapkamer deurgaan en haar kas oopmaak, merk sy dat al haar klere opgesny is, en dat dieselfde met die beskuldigde se klere gebeur het. Haar uniforms is geknip en volgens haar was van Chané se klere ook opgesny, maar nie Cheslyn s’n nie. Haar moeder en familie het ´n bietjie gekuier en is toe later weg. Sy het vroeg Maandagoggend wakker geword en ongeveer vyf-uur begin om van die vuil klere in die wasmasjien te sit. Michelle het daarna opgestaan en kort daarna uit haar kamer gehardloop en geskree “my case, my case”. Michelle het vir haar gesê dat sy nie moet omkyk nie, maar sy het ´n mens-been in Michelle se tas op die vloer voor haar bed gesien. Sy was onder die indruk dat dit die beskuldigde se been was, maar sien toe dat dit “baba” se been was. Dit was te veel vir haar. Sy het uit die deur uitgehardloop en haar buurman gevra om vir Cheslyn te gaan wakker maak. Sy het toe daar gesit totdat die polisie haar geroep het. Sy sê dat die oggend toe Cheslyn se liggaam gevind is, die beskuldigde haar gebel het en gesê dat hy jammer is van Cheslyn. Hy het aangedui dat hy homself aan die polisie sou oorgee en het gemeld dat hy toe op Retreat-stasie was.
[6] Mnr Paul Jonkers was met die beskuldigde bevriend en het saam met hom gewerk by Metrorail se sekuriteitsdienste. Hy en sy vrou het die beskuldigde en sy vrou geken en by geleentheid sosiaal met hulle verkeer. Hy sê dat hy op die Maandagoggend ongeveer 8:30 ´n telefoonoproep van die beskuldigde ontvang het. Die beskuldigde het hom meegedeel dat hy met hom wou praat. Hy was op daardie stadium besig met ´n vergadering by die Muizenberg spoorwegstasie. Teen daardie tyd was hy al bewus van die feit dat die polisie op soek na die beskuldigde was want hy is so meegedeel deur sy beheerkamer. Hy het gevolglik vir die beskuldigde gesê dat hy hom by die Retreat spoorwegstasie sou ontmoet. Hy het sy beheerkamer daarvan in kennis gestel en is toe per bakkie deur na Retreat toe. By die Retreat-stasie het hy die beskuldigde gevind. Mnr Jonkers en die beskuldigde het in mnr Jonkers se bakkie gaan sit. Mnr Jonkers het vir die beskuldigde gevra wat plaasgevind het en wat hy met Cheslyn gedoen het. Die beskuldigde het toe vir hom gesê dat sy vrou wil skei en dat hy nie kans sien dat die kind deur iemand anders grootgemaak moet word nie. Die beskuldigde het toe begin huil. Hy het aan die beskuldigde gesê dat hy seker weet dat hy tronk toe sou gaan en het toe vir hom gebid. Die polisie was al reeds op die stasie en hulle het die beskuldigde toe weggeneem. Hy is gevra of hy vir die beskuldigde gevra het wat gebeur het. Volgens hom het die beskuldigde gesê dat hy wou nie vir Cheslyn seergemaak het nie. Hy het ook getuig dat die beskuldigde nooit gesê het dat hy homself wou oorgee nie.
[7] Dr I G Brouwer het op 7 Desember 2000 ´n lykskouing op die oorledene se liggaam uitgevoer. Sy het twee verslae oor die lykskouing uitgebring. Die vernaamste bevindings in die eerste verslag was die volgende:
“1. Die liggaam van ´n manlike kind.
2. Die liggaam is in ´n gevorderde toestand van ontbinding. Liggaam is in ´n tas gevind.
3. Bloeding is teenwoordig in die sagteweefselbedekking van die skedel links temporaal en oksipitaal. Bloeding is gevind by die linker kaakhoek.
4. Geen uitwendige beserings is aan die liggaam waargeneem nie.
Dat as gevolg van my waarneminge wat in die hieropvolgende verslag volg, die oorsaak van dood was: Nie met nadoodse ondersoek alleen bepaal nie.”
Die volgende gedeelte van haar verslag is ook van belang:
“KOP EN NEK
5 SKEDELBEEN EN BEDEKKENDE WEEFSEL
Daar is swelling en bloeding in die sagteweefselbedekking van die skedel links temporaal en oksipitaal. Geen skedelfrakture is teenwoordig nie.
9 NEKSTRUKTURE
Bloedlose disseksie van die nekstrukture toon bloeding en hemolitiese verkleuring onder die linker kaakhoek in die sagteweefsel, asook in ´n limfnode. Geen ander beserings is aan die nek waargeneem nie. Die hioïed been is nie fraktuur nie.”
Nadat sy die polisie dossier ontvang het en insae tot die beskuldigde se verklaring aan die landdros gehad het, het sy ´n tweede verslag opgestel waarin sy wel ´n mening oor die oorsaak van dood uitgespreek het. Die relevante deel van haar verslag lees soos volg:
“1. Beserings gevind aan die nek, sou kon inpas met beserings opgedoen tydens manuele strangulasie. In gevalle van manuele strangulasie, word daar dikwels baie min of selfs geen beserings aan die sagteweefsel-, benige of vaskulêre strukture van die nek waargeneem. Die kneusing soos gevind by die kaakhoek, is waarskynlik veroorsaak deur die greep van die hand om die nek.
2. Die meganisme van die dood in gevalle van strangulasie is drievoudig:
(i) Toedruk van die lugweg.
(ii) Vaskulêre obstruksie (arterieel of veneus).
(iii) Vaso-vagale stimulasie.
In hierdie geval was die dood waarskynlik veroorsaak deur die sg. vaso-vagale stimulasie. Die kneusing soos gevind by die linker kaakhoek, is geleë baie naby aan die karotisliggaampies in die karoties arterie. Die oormatige stimulasie van hierdie struktuur kan onmiddellike bewussynsverlies en dood veroorsaak deur kardiale disritmieë en skielike val in bloeddruk.
3. Geen spoor van die slaappil, wat die vader na bewering vir die kind gegee het voor sy dood, is gevind met die toksikologiese ondersoek van die organe nie.
4. Tekens van stomp trauma is gevind tot die kop, naamlik kneusing en swelling in die sagteweefsel van die kop links temporaal en oksipitaal.”
Sy kom dan tot die gevolgtrekking
“Dat die oorsaak van dood nie teenstrydig is met asfiksie weens verwurging.”
In die hof het Dr Brouwer aangedui dat die beserings aan die oorledene se kop aanduidend van stomp trauma was. Dit kon volgens haar veroorsaak gewees het deur enigiets soos ´n vuishou of ´n kap teen ´n harde oppervlakte. Alhoewel sy nie wou spekuleer oor die meganisme waarop die kneusings ontstaan het nie, het sy gesê dat ´n redelike mate van geweld nodig sou gewees het – dieselfde geweld wat nodig is om kneusing op ´n spier of ander plek van die liggaam te veroorsaak. Volgens haar kon dit nie op ´n sagte bed gebeur het nie. Sy sê dat die graad van ontbinding van die lyk dit moeilik gemaak het om die presiese oorsaak van dood te bepaal. Boonop het sy genoem dat in ´n groot meerderheid van gevalle van dood waar die meganisme van dood verwurging is, hetsy manuele strangulasie of strangulasie met ´n ligatuur, daar in ´n groot meerderheid van gevalle geen beserings aan die nek gevind word nie, asook geen beserings op die vel of onderliggend tot die vel aan die sagte weefsel van die nek of benige of vaskulêre strukture nie. Sy het verduidelik dat vaso-vagale stimulasie verwys na die stimulasie van die liggaampie wat in die nek aanwesig is net voor die karotis arterie vertak in die interne en eksterne karotis arteries waar ´n mens se bloeddruk gereguleer word. Stimulasie van hierdie area deur middel van ´n direkte drukking daarop veroorsaak dat ´n senuwee-impuls gestuur word na die brein en dit opsigself stuur dan weer ´n refleks-stimuli na die hart deur middel van die vagus senuwee. Stimulasie van hierdie senuwee veroorsaak dat daar dan ´n disritmieë in die hart ontstaan. Stimulasie van die hart op hierdie manier veroorsaak dat ´n skielike dood intree. Dit gebeur óf met ´n skielike stop van die kontraksie van die hart óf met ´n disritmieë wat die dood veroorsaak. Dit is nie seker welke van hierdie twee meganismes die dood veroorsaak nie, maar die feit is dat ´n skielike dood volg op so ´n stimulasie. Volgens haar is dit in die meeste gevalle van strangulasie blote spekulasie oor presies watter van die drie meganismes wat sy in haar verslag genoem het, uiteindelik die oorsaak van dood was. Dit kan ´n kombinasie van die drie wees, of net een. Alhoewel ´n mens by veneuse obstruksie dikwels stuwing van die gesig, dit wil sê punt bloedings in die gesig kry, was die liggaam van die oorledene só ontbind dat dit baie moeilik was om te beoordeel of hierdie faktore aanwesig was. Die meganisme van dood by die toedruk van die lugweg is vermindering van die suurstof-toevoer na die brein – dit wil sê serebrale annoksie. Vir hierdie breinskade om plaas te vind duur ´n paar minute. Aangesien die brein heeltemal outolities was tydens die lykskouing, was dit nie moontlik om te bepaal of daar breinskade was nie. Na aanleiding van die beskuldigde se weergawe het sy tot die gevolgtrekking gekom dat die kneusing by die linker kaakhoek waarskynlik deur vingers veroorsaak is.
[8] Die verslag oor die forensiese toetse wat op organe van die oorledene uitgevoer is, is vervat in ´n verslag opgestel deur mnr S R Mhlawuli ´n assistant forensiese analis in die Forensiese Chemie Laboratorium te Kaapstad. Hierdie verslag is deur die verdediging erken en lees soos volg:
“1. Ek besit ´n Nasionale Diploma in Analitiese Chemie van die Kaapstad Technikon en is in diens van die Staat as ´n forensiese analis in die Forensiese Chemie Laboratorium van die Departement van Gesondheid in Kaapstad.
2. Op 7 Desember 2000 is ´n ingewandekas (Tygerberg No. 24), verseël met die S A Polisie seëlnommer 1744 en gemerk ‘TDR 2716/2000’, vanaf die SAPD Regsgeneeskundige Laboratorium, Tygerberg, ontvang. Die ingewandekas het die volgende bevat:
2.1 ´n medium plastiekfles, wat ´n maag en inhoud bevat het;
2.2 ´n groot plastiekfles, wat ´n lewer en twee niere bevat het;
2.3 ´n klein plastiekbotteltjie, wat gestolde bloed bevat het.
3. Ek het die organe tydens die verrigting van my ampspligte en volgens metodes wat bedrewenheid in Skeikunde verg, ontleed, en die volgende resultaat verkry:
Geen verdowingsmiddels kon opgespoor word nie.”
[9] Na sluiting van die Staat se saak en na aanleiding van Dr Brouwer se kruisondervraging omtrent die forensiese toetse het ek besluit om mnr Mhlawuli te roep om meer duidelikheid oor sy verslag te kry. Hy het verduidelik dat die maag en inhoud in ´n plastiekvles ontvang is. Die vles was met ´n vloeistof gevul om die maag en inhoud te behou. Die vloeistof, maag en inhoud is toe saam opgemaal en daarna getoets. Op hierdie wyse word verseker dat enige verdowingsmiddel opgespoor sal word, al het dit in die vloeistof opgelos of deurgedring na die maagwand toe. Hy het ook aangedui dat dit nie moontlik was om die bloed te toets nie aangesien dit gestolde bloed was.
[10] Slegs die beskuldigde het vir die verdediging getuig. Hy sê dat die huweliksprobleme met sy vrou in ongeveer Januarie 2000 begin het. Hy het ´n buite egtelike verhouding gehad en beweer dat sy vrou ook so ´n verhouding gehad het. Dit is egter nooit deur sy vrou erken nie. Sy het erken dat sy wel bevriend geraak het met ´n man toe sy vroeg in die jaar 2000 op ´n kursus gegaan het, maar het altyd daarin volhard dat die verhouding niks meer as ´n vriendskapsverhouding was nie. As gevolg van sy verhouding met die ander vrou het sy vrou op ´n stadium vir hom gevra om ´n ander blyplek te kry en hy het toe vir ongeveer ´n maand in April of Mei 2000 nie by die huis gebly nie. Daar was van toé af sprake van ´n egskeiding. Hy het later vir sy vrou gevra of hy kon terugkom na die huis toe, aangesien hy die kinders mis en wou probeer die huwelik nog ´n kans te gee. Sy het ingestem. Die probleme tussen hulle het egter nie weggegaan nie en die argumente en rusies het gevolg. Hy ontken dat hy sy vrou ooit fisies aangerand het, alhoewel hy erken dat hy haar op ´n geleentheid voor die bors gegryp het. Hy erken ook dat hy haar op ´n geleentheid gebyt het, maar sê dat hy dit gedoen het slegs om uit haar greep weg te kom. Hy sê dat hy gereeld pyne onder sy hart gekry het en ook probleme ondervind het deurdat sy een hand van tyd tot tyd tekens van verlamming getoon het. Hy beweer dat hy ook onder stres was. Sy vrou het toe per geleentheid aanbeveel dat hy na die Stikland hospitaal moes gaan en hy het dit in Junie 2000 gedoen. Volgens hom is hy slegs vir ´n week afgeboek vir stres. Hy sê dat hy ook by sy werk melding gemaak het dat hy onder stres was. Volgens hom het die senior persoon aan wie hy dit gerapporteer het, aangedui dat hy sou reel dat die beskuldigde sielkundige hulp ontvang, maar niks het daarvan gekom nie. Omdat hy nie gesond gevoel het nie, het hy in November 2000 vir Dr Adam, die familie se algemene praktisyn geraadpleeg. Dr Adam het hom verwys na Dr Sampson, ´n spesialis in Mitchells Plain, wat sekere medikasie vir hom voorgeskryf het. Dit het slaappille en anti-depressiepille wat hy gebruik het ingesluit. Hy erken dat hy telkens aan sy vrou gesê het dat hy die kinders sou doodmaak indien hulle sou skei. Hy sê dat hy by sommige tye ook gesê het dat hy homself en die kinders sou doodmaak. Volgens hom het hy nooit die bedoeling gehad om hierdie dreigemente of stellings deur te voer nie. Hy erken Charmaine se getuienis dat daardie Woensdagaand daar ´n stryery was oor sy gebruik van die nuwe motorkar. Hy het die kar geneem om Michelle na die kerk toe te neem, maar op pad terug het hy by ´n vriend van hom vertoef, ´n hele lang tyd by hom gebly en eers so nege-uur by die huis aangekom. Toe hy daar aankom was sy vrou baie kwaad vir hom omdat hy so lank weggebly het met die kar. Hy het toe weer die kar geneem en vir Michelle gaan haal. Daarna het hy haar afgelaai en toe weer by vriende van hom gaan bier drink. Hy het eers tussen elf- en twaalf-uur die aand weer by die huis aangekom. As gevolg hiervan wou Charmaine nie hê dat hy die volgende dag die kar moes gebruik nie en sy het gevolglik die kar se sleutels weggevat en by haar werk gelos. Hy erken dat hy toe Charmaine se werksleutels uit haar sak geneem het en die kar se sleutels by haar werkplek gaan haal het. Hy erken ook dat sy vrou vir hom gesê het dat sy ´n klagte van diefstal teen hom sou maak.
[11] Nadat Charmaine die Vrydagmiddag werktoe is, het hy die kinders by die kleuterskool gaan haal. Hy erken dat dit nie met sy vrou afgespreek is nie en dat die kinders gewoonlik met die kleuterskool se vervoer huistoe gebring is. Dit was die laaste dag van die skooltermyn en hy het toe die kinders na die Strand toe geneem aangesien Cheslyn na die see toe wou gaan. Nadat die kinders in die water gespeel het, het hy in die rigting van Eersterivier waar hulle woon teruggery. Hy was van plan om huis toe te gaan, maar Chané het toe aangedui dat sy graag haar ouma (sy stiefma) in die Paarl wou sien. Hy is eers na sy stiefsuster (ook Charmaine) in die Paarl waar die kinders met haar kinders gespeel het. Hy en sy swaer is toe na sy stiefbroer se huis waar hulle biere gedrink het en die drie van hulle is daarna terug na sy stiefsuster se huis waar nog bier gedrink is. Hy en die kinders en sy stiefbroer is toe weg op pad om die broer af te laai, maar Chané het toe aangedui dat sy haar ouma wou groet. Chané is toe by sy stiefma afgelaai en hy het toe verder gery en sy broer ook afgelaai. Met slegs Cheslyn in die kar, ry hy nou huistoe, maar toe hy by die Strand se pad kom sien hy ´n bord wat die Caledon casino adverteer. Hy besluit toe om by die casino aan te gaan en bereik dit tussen tien- en elf-uur daardie aand. Teen hierdie tyd was Cheslyn aan die slaap in die agterkant van die kar en hy reel met sekuritietswag om ´n oog oor hom te hou terwyl hy vir ´n uur of ´n uur en ´n half in die casino vir homself geniet deur te dobbel. Daarna ry hy huistoe. Op pad huis toe breek sy motor. Uiteindelik kry hy hulp van ´n insleepdiens in Botrivier. Hulle slaag nie om die kar weer aan die gang te kry nie en die kar word ingesleep na die perseel van die persoon wat die insleepdiens behartig. Hierdie persoon neem hom en Cheslyn dan huistoe. Hulle kom tussen vier- en vyf-uur daardie oggend by die huis. Hy sê dat hy toe Cheslyn uitgetrek het en in die bed gesit sodat hy kan slaap. Cheslyn was egter honger. Hy het toe vir homself en vir Cheslyn brood en tee gemaak wat hulle in die sitkamer geniet het. Hy het Cheslyn teruggesit in die bed, maar binne vyf minute roep Cheslyn en sê vir hom dat sy kop seer is. Hy sê dat aangesien daar geen disprin in die huis was nie, hy vir hom ´n halwe slaappil van sy slaappille gegee het. Hy is seker dat Cheslyn die pil geneem het, aangesien hy by hom in die gang gestaan het en vir hom ´n glas water gegee het om die pil mee te neem. Cheslyn is toe weer in die bed maar na 15 minute skree hy weer vir sy pa. Cheslyn sê vir hom dat sy kop nog steeds seer is Hy moedig die kind aan hom te slaap, maar kon sien dat hy nie lekker voel nie. Cheslyn het daarna begin huil en vir hom gesê dat hy gesiggies en goeters op die kaste en die gordyne sien. Hy het die kind probeer sus, maar Cheslyn het begin om opgewonde en histeries te skree. Hy het gesien dat hy bang was. Hy het weer geskree dat hy goeters teen die kaste en die gordyne sien en toe harder geskree. Hy het hom na Michelle se slaapkamer gevat en hom daar in die bed gesit. Na sowat 15 minute het Cheslyn weer hard geskree. Hy sê dat hy dit nie kon vat nie en het toe sy hand op Cheslyn se mond gesit om die skreëry te stop. Hy sê dat hy sy hand vir seker vyf sekondes daar gehou het. Toe dit nie enige uitwerking het nie, het hy ´n kussing oor Cheslyn se kop gesit en dit aan beide kante van sy kop afgedruk het om hom stil te maak. Dit het ook nie gewerk nie. Hy erken dat Cheslyn met sy voete geskop het toe hy die kussing oor sy kop hou. Hy sê dat die gehuilery het baie op sy kop gewerk en was besig om op sy senuwees te werk. Hy het toe sy hand gevat en om Cheslyn se nek gesit en toe hy hom weer kry, sien hy dat die kind stil lê. Hy is gevra om te verduidelik wat hy met sy hand gedoen het. Sy beskrywing daarvan was dat hy ´n “squeeze” gegee het. Op ´n vraag oor hoe lank hy op die kind se nek gedruk het, was sy antwoord dat dit vir een tot vyf sekondes geduur het. Sy enigste bedoeling was dat die kind moet ophou skree. Hy het toe besef dat die kind dood is. Hy het langs die kind gesit en sy lyk aangekyk. Hy het toe Michelle se tas uitgehaal en die kind se liggaam daarin gesit. Hy kan geen verduideliking vir hierdie optrede verskaf nie, maar sê dat hy nie geweet het wat om te doen nie. Hy het toe na die kaste in die slaapkamer gegaan, ´n skêr in Charmaine se kas gesien en die klere begin opknip. Hy het ook sy klere in sy kas opgeknip. Hy kan nie onthou dat hy nie Cheslyn se klere gesny het nie. Hy het nie klere uitgesoek nie, en weet nie waarom hy die klere geknip het nie. Hy het op Cheslyn se bed gesit totdat sy vrou in die vroeg oggendure by die huis aangekom het. Hy erken dat terwyl sy in die badkamer was hy haar gevra het wat haar storie was, bedoelend hoekom het sy na die polisie toe gegaan. Hy ontken dat daar toe enige rusie of aanranding plaasgevind het en sê dat sy toe heel normaal met hom gesels het. Sy het hom gevra waar die kar is en hy het haar meegedeel dat dit by ´n vriend se huis is en dat hy dit later sou gaan haal. Volgens hom het sy vrou wel ´n moontlike egskeiding daardie dag genoem en hy sê dat hulle toe verder in Michelle se kamer oor allerande dinge gepraat het. Charmaine het later ´n slaappil geneem en hy is toe weg. Hy het toe ´n trein Kaap toe gevat waar hy rondgedwaal het. Hy sê dat hy gedrink het by een of meer kroeë in die Kaap waar hy ´n vriend ontmoet het saam met wie hy voorheen gewerk het. Hy bel toe vir sy vrou en deel haar mee dat die kar nog nie loop nie en dat hy nie weet hoe hy by die huis sal kom nie. Hy bevestig dat sy aan hom gesê het dat dit nie haar probleem was nie. Hy sê dat hy toe ongeveer sewe-uur die Sondag oggend by die huis gekom het en ontken dat dit so laat as nege-uur was. Hy erken Charmaine se getuienis dat hy toe in die hoofslaapkamer gesit en huil het en dat hy toe vir haar die ware storie van die kar vertel het. Hy sê dat hulle weer begin stry het oor ´n egskeiding en beweer dat dit die geleentheid was waartydens sy sy neus gestamp het tydens die stryery. Hy ontken egter dat sy neus gebloei het. Volgens hom sou hy toe ingestem het tot ´n egskeiding. Sy vrou het toe ´n slaappil geneem en die twee van hulle het toe aan die slaap geraak. Hy het wakker geword met die gekloppery aan die deur deur Michelle toe sy in die vroegaand huistoe kom. Met dié het hy hom aangetrek en uit die huis uitgeloop. Hy het toe by die sekuriteitskompleks by die Eersterivier spoorwegstatsie gesit en uiteindelik die eerste trein vanaf Eersterivier na die Kaap geneem om 2:30 Maandagoggend. In die vroeë oggendure bel hy na die huis toe want hy wou sê wat hy gedoen het. Die telefoon is egter geantwoord deur Michelle se oudste seun Chelton, wat geweier het om sy ma wakker te maak aangesien dit so vroeg in die oggend was. Toe hy ´n tweede keer bel het ´n vreemde stem geantwoord waarop hy die telefoon neergesit het. Die beskuldigde meld dat hy tydens die oproep mense in die agtergrond gehoor huil het en toe besef het dat Cheslyn se lyk ontdek is. Met die derde probeerslag het hy wel met sy vrou gepraat en vir haar gesê dat hy nie bedoel het om die kind dood te maak nie. Sy vra toe vir hom hoekom hy homself nie doodmaak nie. Hy sê dat hy homself sou oorgee aan die polisie. Daarna het hy vir sy vriend Paul Jonkers gebel en hom by die Retreat-stasie ontmoet. In sy getuienis in hoof sê hy dat hy aan Jonkers gesê het dat hy nie weet wat gebeur het nie, en dat hy nie die kind wou doodgemaak het nie, maar slegs wou stilmaak. Hierdie stellings en bewerings is egter nooit aan Jonkers in kruisverhoor gestel nie. Wat Jonkers se getuienis betref, naamlik dat die beskuldigde gesê het dat hy die kind doodgemaak het omdat hy nie kon sien dat iemand anders sy kind sou grootmaak nie, was die beskuldigde se antwoord dat hy nie kon onthou dat hy dit gesê het nie en as hy dit wel gesê het, hy nie weet hoekom hy dit gesê het nie. Met betrekking tot die kneusings wat agter en langs die oorledene se kop gevind is, sê hy dat hy nie kennis dra dat hy sy seun seergemaak het nie tot so ´n mate dat sulke wonde sou ontstaan het.
[12] Dit beskuldigde se weergawe is dus dat hy nie bedoel het om sy kind dood te maak nie en dat hy die kind se nek gedruk het of gewurg het slegs met die bedoeling om hom stil te maak. Om te bepaal of sy weergawe redelik moontlik waar kan wees, moet sy weergawe nie in isolasie gesien word nie. Al die getuienis, insluitende sy weergawe van wat met die kind gebeur het, moet inaggeneem word om ´n geheelprent te kry. Gevolglik is die getuienis wat die gebeure daardie oggend voorafgegaan het asook dit wat daarna gebeur het belangrik.
[13] Mnr Pothier het aangevoer dat die dreigemente en stellings wat die beskuldigde ten aansien van die kinders gemaak het in dieselfde lig gesien moet word as die dreigemente en stellings wat hy op vorige geleenthede gemaak het. Gevolglik sê hy, dat die afleiding gemaak moet word dat die beskuldigde nie eintlik bedoel het om die dreigemente uit te voer nie. Die dreigemente wat hy in die kar gemaak het, is egter na ons mening, van ´n heel ander aard as dié wat voorheen gemaak is. Laasgenoemde was gemaak nadat ´n stryery oor ´n moontlike egskeiding plaasgevind het en was ten effekte dat die beskuldigde of die kinders of homself en die kinders sou doodmaak indien sy vrou sou oorgaan tot ´n skeisaak. Die dreigemente van daardie Vrydag, as “dreigemente” ´n korrekte beskrywing daarvan is, was gemaak terwyl die kinders alleen by hom in die kar was. Hy het aanhoudend vir Charmaine gebel en vir haar gesê dat hy die kinders gaan doodmaak. Sy dreigemente was ook meer spesifiek as ooit tevore. So, byvoorbeeld het hy aangedui dat Charmaine Maandag nie sou gaan werk nie, maar lyke gaan uitken. Die oorlede seuntjie is pertinent genoem want Charmaine is genooi om “goodbye” te sê vir die kind. Dit wil ook voorkom asof Charmaine hierdie optrede meer ernstig opgeneem het as die vorige dreigemente want sy het haar skoonmoeder daaroor geskakel en haar geraadpleeg. ´n Verdere verskil is natuurlik dat die dreigemente gevolg is deur die dood van ´n kind wat hy gesê het dat hy sal doodmaak.
[14] Sy optredes daardie middag is ook aanduidend dat hy seker wou maak dat niemand daardie nag by die huis sou wees nie. Hy het geweet dat sy vrou nie daar sou wees nie. Sy het nagskof gewerk. Charmaine het geweet dat die beskuldigde en die kinders nie tuis sou wees nie, want die beskuldigde het haar meegedeel dat hy vir die naweek weg sou wees met die kinders in die Paarl. Daarom het sy vir haar suster versoek om die Vrydag- en Saterdag aand by haar moeder deur te bring. Soos ons Michelle se getuienis verstaan was die doel van die beskuldigde se oproep aan haar om vas te stel of iemand daardie nag by die huis sou wees, nieteenstaande mnr Pothier se poging in kruisondervraging om aan te dui dat die beskuldigde gebel het om haar aan te raai om nie alleen in die huis te bly nie.
[15] Die beskuldigde se optrede in verband met die aflaai van Chané by sy stiefma is ook belangrik. Die indruk wat ons gekry het is dat die kinders in die verlede altyd saam by hul ouma oornag het. Op die betrokke dag het dit nie gebeur nie. Die beskuldigde het geweier dat Cheslyn sy ouma kon groet, nieteenstaande Chané se versoek dat hy dit moes doen. Verder blyk dit dat dit Chané se bedoeling was slegs om haar ouma te groet en nie om by haar te oornag nie. Volgens die beskuldigde self het hy nie eers sy stiefma gegroet nie, of met haar gepraat nie. Hy het slegs vir Chané afgelaai en voortgery met Cheslyn. ´n Redelike afleiding van hierdie eienaardige optrede is ons insiens dat hy nie aan sy stiefmoeder wou aandui waarom Cheslyn nie saam met Chané was nie.
[16] Paul Jonkers was ´n belangrike getuie. Hy het geweet dat die polisie op soek was na die beskuldigde en sy eerste vraag aan die beskuldigde was “Wat het jy met Cheslyn gedoen?”. Die beskuldigde se antwoord was dat hy nie kon sien dat die kind deur iemand anders grootgemaak moet word nie. Toe die beskuldigde met hierdie getuienis gekonfronteer is, was sy reaksie insiggewend. Hy kon nie onthou dat hy so iets gesê het nie, maar as hy so iets gesê het, kon hy nie verklaar waarom hy dit sou gesê het. Aangesien hierdie getuienis van Jonkers nie betwis word nie, aanvaar ons dat die beskuldigde dit wel gesê het. Uiteraard is hierdie brokkie getuienis redelik verdoemend teenoor hom. ´n Verdere deel van Jonkers se getuienis is ook van belang. Toe hy vir die beskuldigde vra wat gebeur het, was die antwoord dat hy wou nie vir Cheslyn seergemaak het nie. Die antwoord was nie dat hy nie vir Cheslyn wou doodgemaak het nie.
[17] Wat die mediese getuienis betref het Dr Brouwer bevind dat daar kneusings aan die linker- en agterkant van die kop was wat volgens haar slegs deur redelike geweld veroorsaak kon gewees het. Die beskuldigde kon geen verduideliking vir hierdie beserings gee nie. Dr Brouwer het ook ´n kneusing gevind aan die linker kaakhoek wat volgens haar deur vingers veroorsaak kon gewees het.
[18] Geen teken van die halwe slaappil wat volgens die beskuldigde deur die oorledene ingeneem is, kon in sy maag of organe gevind word nie.
[19] ´n Laaste belangrike aspek is die verklaring wat die beskuldigde aan die Landdros Kriel gemaak het. Daarin het die beskuldigde genoem dat hy die kind verwurg het Hierdie mededeling aan die landdros is nie betwis nie. In die hof het die beskuldigde aangedui dat inteenstelling met die gewone betekenis van die woord ‘wurg’ hy slegs ´n ligte druk op die kind se keel gegee het. Dit was duidelik dat hy die verskil tussen ‘wurg’ en ´n ‘druk’ verstaan het. Tog het hy verkies om aan die landdros te sê dat hy die kind gewurg het.
[20] Die beskuldigde se weergawe moet in hierdie raamwerk ingepas word en ons moet dan besluit word of dit in die lig van al die feite redelik moontlik waar kan wees. Die indruk wat die getuies op die hof gemaak het is natuurlik ook van belang wanneer ´n finale beslissing gemaak moet word. In dié verband het Chané, Michelle en Charmaine Hammers ons beïndruk as goeie getuies wat eerlik en openhartig getuig het. Dieselfde kan egter nie van die beskuldigde gesê word nie. Daar is geen werklik inherente verskil tussen die getuienis van Chané en Michelle en dié van die beskuldigde. Die enigste werklike verskil is tussen Charmaine Hammers se getuienis van wanneer sy en die beskuldigde oor die egskeiding gestry het. Charmaine sê dat dit die Donderdag plaasgevind het, terwyl die beskuldigde beweer dat dit slegs Saterdag geskied het. Charmaine sê dat die fisiese bakleiery op Saterdag plaasgevind het terwyl die beskuldigde beweer dat dit Sondag gebeur het. Of Charmaine die beskuldigde so hard met haar kop gestamp het dat sy neus gebloei het of nie is nie van belang nie. Dat die bakleiery die Saterdag plaasgevind het pas logies in met Charmaine se weergawe en is ook ´n logiese gevolg van beskuldigde se eie weergawe dat sy eerste woorde aan haar dié Saterdag was “Wat is jou storie?” met verwysing na ´n dreigement om na die polisie toe te gaan. Waar beskuldigde se weergawe met dié van Charmaine bots, aanvaar ons haar weergawe.
[21] Die beskuldigde het nie ´n goeie indruk op ons gemaak nie. Alhoewel hy verklaar het dat hy na die insident met sy seun soos ´n “zombie” rondgeloop het, is sy getuienis nie dié van ´n “zombie” nie. Hy kon sy bewegings in besondere detail onthou, asook dit wat hy sou bespreek het met die persoon of mense wat hy die oggend in die Kaap raakgeloop het, asook dit wat hy met die sekuriteitswagte by die Eersterivierstasie bespreek het voordat hy die eerste trein Kaap toe geneem het. Op vrae wat ´n negatiewe uitwerking op sy weergawe kon gehad het was dit egter ´n ander storie. Hier was die antwoord óf dat hy dit nie kan onthou nie, maar as dit so was dan kan hy nie sê waarom dit gebeur het of waarom hy dit gesê het nie. Op verskeie vrae was sy antwoord eenvouding dat hy geen kommentaar het nie. In die eerste plek is dit onlogies dat hy so veel detail kan onthou, maar dat sy geheue hom verlaat wanneer hy by ´n inkriminerende aspek kom. Sy reaksie op Jonkers se getuienis is ´n skreiende voorbeeld. Sy beste vriend getuig dat hy sê dat hy dit met sy kind gedoen het omdat sy vrou wil skei en dat hy nie kan sien dat sy kind deur iemand anders (dit wil sê ´n ander man) grootgemaak word nie. Ewe skielik kan hy nie onthou dat hy so iets gesê het nie. Hy ontken dit egter nie, maar sê dat as hy dit gesê het, hy nie weet waarom hy dit gesê het nie. Só ´n antwoord is ontwykend en onbevredegend om die minste te sê. Ook moet nie uit die oog verloor word nie dat die beskuldigde ´n basiese opleiding in noodhulp ondergaan het. Hy het getuig dat hy opgelei is in hartmassering en mond tot mond asemhaling.
[22] Die feit dat verskeie van beskuldigde se optredes laakbaar is beteken nie noodwendig dat hy skuldig is nie, en die hof moet daarteen waak om nie spekulasie omtrent die redes vir sy optredes te verhef tot feite bevindings nie. Die feit is egter dat indien die dood van die kind ´n gevolg van ´n ongeluk, (dit wil sê ´n ligte drukkie op ´n besondere sensitiewe deel van sy liggaam) geskied het, die beskuldigde se optredes daarna nie strook met dié van ´n persoon wat per ongeluk die dood van sy kind veroorsaak nie. Alhoewel hy in sy getuienis in hoof aanvoer dat hy vir Paul Jonkers gesê het dat hy slegs die kind wou stilmaak, kan sy getuienis in hierdie verband nie aanvaar word nie. Jonkers sou dit sekerlik genoem het as hy dit gesê het. Dit was ook nooit aan Jonkers gestel nie.
[23] Mnr Pothier het manmoedig aangevoer dat nie een van die verskeie faktore wat ek genoem het noodwendig die afleiding regverdig dat die beskuldigde beplan het om die kind om die lewe te bring nie en dat daar by elke aspek ´n heel onskuldige verduideliking mag wees. Die beskuldigde het egter geen verduideliking verskaf oor waarom hy vir Chané alleen by haar ouma afgelaai het, sonder om met sy stiefma daaroor te praat, en waarom hy vir Cheslyn alleen saamgeneem het na sy stiefsuster en daarna na die casino.
[24] In die lig van die redelike inkriminerende getuienis van wat voor en na die insident plaasgevind het, was dit verstaanbaar dat mnr Pothier hom toegespits het op die gebeure in die huis in ´n poging om aan te toon dat die dood van die oorledene eintlik per ongeluk ingetree het en die beskuldigde dit nie kon voorsien het nie. Die ipse dixit van die beskuldigde is nie opsigself deurslaggewend nie, al is hy die enigste persoon wat kan getuig van wat daar gebeur het. Sy weergawe moet getoets word teen enige ander getuienis wat relevant mag wees; in hierdie geval die mediese en forensiese getuienis. Volgens Dr Brouwer is dit hoogs onwaarskynlik dat die kneusing by die linker kaakhoek veroorsaak kon gewees het deur so ´n ligte drukkie as wat die beskuldigde gedemonstreer het. Dan is daar Dr Brouwer se getuienis dat die oorledene die geweld wat die kneusing aan die kaakhoek veroorsaak het moes oorleef het voordat hy daarna gesterf het omdat ´n kneusing slegs veroorsaak kan word terwyl ´n persoon lewe en die bloed in sy liggaam nog loop. Haar afleiding was dus dat iets verder daarna moes gebeur het om die dood te veroorsaak. Mnr Pothier het aan haar gestel dat dit moontlik was dat indien ´n druk op die karotis sinus sou lei tot onmiddelike kardiale disritmieë dit teoreties moontlik mag wees dat bloed as gevolg van die laaste klop of kloppe van die hart nadat die hart stilgestaan het nog sou kon vloei. Dus het hy gesuggureer dat dit moontlik is dat ´n kneusing wel kon geskied het deur middel van die druk wat die kardiale disritmieë veroorsaak het en dat daar nie noodwendig iets verder gebeur het nie. Hy het egter nie enige gesag vir hierdie proposisie gehad nie. Dr Brouwer was nie bereid om hieroor te spekuleer nie. Sy het daarop gewys dat daar ´n mate van spekulasie daaroor bestaan of die hart in so ´n geval onmiddelik stop en of daar nog ´n bradikardie is en dat mnr Pothier se vraag die spekulasie ´n paar tree verder vat. Sy het gebly by haar getuienis dat die feit dat daar ´n kneusing was beteken dat daar ten minste ´n tweede greep toegepas moes gewees het. Dr Brouwer het ook aangedui dat indien ´n slaappil omtrent ´n half uur voor die oorledene se dood ingeneem was, ´n mens sou verwag om tekens daarvan te vind, of in die maag of in die organe (dit wil sê die lewer en die niere) of in die bloed. Die analis wat die forensiese toetse uitgevoer het, het getuig dat hy nie die bloed van die oorledene kon toets nie aangesien dit in ´n gestolde toestand was. Hy het egter die organe en die maag en inhoud getoets en geen teken van enige verdowingsmiddel gevind nie. Hy het aangedui dat die maag en die inhoud daarvan getoets is deur die maag en die inhoud asook die vloeistof waarin dit behou is saam op te maal en dit daarna te toets. Mnr Pothier het aan hom gesuggureer dat indien slegs ´n gedeelte van die gemengde mengsel getoets is, dit nie noodwendig volg dat daar nie tekens van die verdowingsmiddel in die oorblywende mengsel mag wees nie. Mnr Mhlawuli het dit nie toegegee nie en het herhaal dat die toetse wat hy uitgevoer het die normale en algemene aanvaarde toetse was. Hy is selfs meegedeel watter tipe slaappil die oorledene na bewering sou geneem het en was dus op die uitkyk vir enige tekens van ´n verdowingsmiddel. Na ons mening is daar geen rede om nie te aanvaar dat in alle waarskynlikheid die oorledene nie ´n slaappil omtrent ´n halfuur voor sy dood ingeneem het nie.
[25] Die beskuldigde was nie openhartig met die hof nie. Ek het alreeds verwys na sy reaksie op Paul Jonkers se getuienis. Dit was nie die enigste keer nie. Op ´n vraag oor hoekom hy nie vir Cheslyn ook by sy ouma afgelaai het nie, was sy enigste antwoord day hy geen verduideliking daarvoor kon gee nie. Toe hy gevra is wat hy dink sou gebeur as hy sy hand op sy kind se nek plaas, was sy antwoord dieselfde. Daar was ook ander voorbeelde. Ons kom dus tot die gevolgtrekking dat die kumulatiewe effek van die getuienis wat deur die Staat aangebied is, gekoppel met die beskuldigde se mededelings aan Paul Jonkers, sodanig is dat die beskuldigde se weergawe dat hy nie bedoel het om die oorledene dood te maak nie en hom slegs wou stilmaak, nie redelik moontlik waar kan wees nie. Mnr Pothier het aangevoer dat dit nie sin sou maak dat die beskuldigde die oorledene na die huis terug sou neem om hom daar dood te maak nie aangesien hy dit by verskeie geleenthede voor dit kon gedoen het. Na ons mening is dit irrelevant waar die daad gepleeg is want die kind was in die beskuldigde se sorg en hy sou altyd ´n verduideliking moes verskaf. Die eenparige besluit van die hof is dus dat die beskuldigde vooraf beplan het om sy seun dood te maak en inderdaad gedood het deur hom te verwurg. Hy word dan skuldig bevind aan moord soos aangekla.
____________________
R B CLEAVER