South Africa: Western Cape High Court, Cape Town Support SAFLII

You are here:  SAFLII >> Databases >> South Africa: Western Cape High Court, Cape Town >> 2002 >> [2002] ZAWCHC 32

| Noteup | LawCite

S v Wildeman (20021592) [2002] ZAWCHC 32 (14 June 2002)

Download original files

PDF format

RTF format


IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA

(KAAP DIE GOEIE HOOP PROVINSIALE AFDELING)


Hooggeregshof-verw.-no.: 20021592

Landdros se saaknommer: 212/2002

Landdros se reeksno.: 46/2002


In die saak tussen:


DIE STAAT


en


MORNEY WILDEMAN


_


HERSIENINGSUITSPRAAK GELEWER OP

___________________________________________________________________

CLEAVER R:

[1] Hierdie saak dien voor my op automatiese hersiening.


[2] Die beskuldigde is in die landdroshof van Knysna op ´n pleit van skuldig aan die diefstal van ´n fiets skuldig bevind. Die waarde van die fiets volgens die Staat was R4000. Die beskuldigde is beboet tot R3000 of 18 maande gevangenisstraf. Hy is 19 jaar oud. Hy is ongetroud met geen kinders en verdien R35 per dag as ´n boswerker. Na afsluiting van die saak het die hof gelas dat die beskuldigde die vonnis afbetaal in paaiemente van R150 per maand.


[3] My bekommernis oor die vonnis blyk uit my navraag aan die landdros wat soos volg lees:

Luidens die beskuldigde se getuienis is die gesteelde fiets in sy besit gevind en dit is vermoedelik aan die klaer terugbesorg.


´n Vonnis van R3000 of 18 maande gevangenisstraf is op die oog af ´n stywe vonnis, veral as in gedagte gehou word dat die beskuldigde ´n eerste oortreder is. Het u miskien die bedrag van die boete gekoppel aan die waarde van die fiets? Indien so is die vraag of dit in orde is.


Verder en miskien meer belangrik is die vraag of die boete binne die beskuldigde se vermoë is. Die enigste informasie voor die hof betreffende die beskuldigde se finansiële posisie was dat hy R35 per dag as ´n boswerker verdien. Dit is glad nie duidelik of hy elke dag van die maand werk of kan werk nie en dit is heel moontlik dat hy nie in staat sal wees om vir die volgende 26 maande R150 per maand te betaal nie. Die vraag is dus of die boete wat opgelê is binne die beskuldigde se vermoëns is, want indien nie, sal die doel van die oplegging daarvan verydel word. Wanneer ´n opsie gegee word om ´n beskuldigde uit die tronk te hou, moet dit ´n ware opsie wees.”


Hierop het die landdros breedvorig geantwoord en my verwys na bekende sake waarin die beginsels wat by vonnisoplegging van toepassing is, uiteengesit word tersake is. Ek dink nie dat dit nodig is om hierop in te gaan nie. Die landdros het ook verwys na die belange van die gemeenskap wat geregtig is om vreedsame en veilige lewenstoestande te handhaaf. Laastens noem hy dat Knysna ´n dorp is waarin die meeste van die inwoners finansiël gegoede mense is (ek neem aan hy verwys na die wit inwoners) en dat as gevolg daarvan die dorp ´n trekpleister vir potensiale diewe is. Hy verwys ook na die feit dat etlike sake van huisbraak, diefstal, ontvangs van gesteelde goed en besit van gesteelde goed daagliks op die hofrol verskyn. Hy gee toe dat die vonnis ´n stywe een is, maar is van mening, na oorweging van al die faktore genoem deur hom dat dit ´n gepaste vonnis is. Hy sê dat hy nie die boete aan die waarde van die fiets gekoppel het nie.


[4] Dit word algemeen aanvaar dat ´n jong eerste oortreder gewoonlik nie direkte gevangenisstraf vir diefstal opgelê word nie. In baie gevalle word die vonnis geheel en al opgeskort. Waar die diefstal van ernstige aard is, is dit nie ongewoon om, soos in die onderhawige geval, die oortreder te beboet met die alternatief van gevangenisstraf. Wanneer dit kom by die bepaling van ´n boete moet aandag geskenk word aan die erns van die oortreding, asook die beskuldigde se vermoë om die boete te betaal. Na my mening was daar nie genoegsame getuienis voor die hof om ´n boete van R3000 te regverdig nie. Al wat die landdros geweet het was dat die beskuldigde R35 per dag ontvang het, maar daar was geen getuienis voor hom om aan te dui of die beskuldigde voltyds gewerk het of nie. Die landdros noem in sy brief dat so vêr sy geheue strek die beskuldigde aangebied het om R150 per maand te betaal. Hy sê dat dit ´n oorsig van sy kant was om dit nie te notileer nie. Na my mening neem dit egter die saak nie verder nie.


[5] Ek is bereid om te aanvaar dat hierdie nie ´n geval is waar die vonnis geheel en al opgekort moet word nie, maar, na my mening, is die vonnis, wat beide die boete en die gevangenisstraf betref, buitensporig swaar vir ´n 19 jarige, eerste oortreder in die beskuldigde se posisie.


[6] Die skuldigbevinding word gevolglik bekragtig, maar die vonnis word tersyde gestel en vervang met die volgende:

Beboet twee duisend rand (R2000) of twaalf (12) maande gevangenisstraf waarvan een duisend rand (R1000) of ses (6) maande gevangenisstraf vir vyf (5) jaar opgeskort word op voorwaarde dat die beskuldigde nie skuldig bevind word aan diefstal, huisbraak of bedrog gepleeg gedurend die periode van opskorting nie.

Die bevel wat die uitstel boete magtig hy van krag.