South Africa: Western Cape High Court, Cape Town

You are here:
SAFLII >>
Databases >>
South Africa: Western Cape High Court, Cape Town >>
2002 >>
[2002] ZAWCHC 50
| Noteup
| LawCite
Anthony v S (a94/02) [2002] ZAWCHC 50 (12 September 2002)
Download original files |
in die hooggeregshof van Suid-afrika
(kaap die goeie hoop provinsiale Afdeling)
In die saak tussen:
MELVYN ANTHONY Appellant
en
Die staat Respondent
uitspraak: gelewer 12 September 2002
Griesel R:
Die appellant is in die streekhof skuldig bevind op ’n aanklag van roof. Alhoewel dit nie spesifiek so in die klagstaat vermeld is nie, het die streeklanddros bevind het dat verswarende omstandighede aanwesig was deurdat ’n vuurwapen tydens die rooftog gebruik is. Dit het die misdaad binne die trefwydte van die Strafregwysigingswet van 1997 (die Wet) gebring, aangesien roof met verswarende omstandighede onder Deel II van die Bylae resorteer. In die lig van die bepalings van art 51(2)(a)(i) van die Wet is die appellant daarop gevonnis tot die verpligte minimum van 15 jaar gevangenisstraf. Hy kom tans in hoër beroep teen die skuldigbevinding sowel as die vonnis.
Adv Seth, wat op appèl voor ons namens die appellant opgetree het, het in haar betoogpunte toegegee dat die getuienis teen die appellant op die meriete oorweldigend was en ek is tevrede dat daardie toegewing korrek deur haar gemaak is. Ek is dus tevrede dat die appellant tereg aan roof skuldig bevind is.
Die meer kardinale vraag is egter of die streeklanddros korrek was deur te bevind dat daar verswarende omstandighede aanwesig was. In hierdie verband blyk dit uit die getuienis dat die appellant ten tyde van die pleging van die betrokke misdaad slegs met ’n speelgoed vuurwapen ‘gewapen’ was, waarmee hy die klaer gedreig het. Die streeklanddros het nietemin bevind dat hierdie feit genoegsaam was om verswarende omstandighede daar te stel. Die vraag is of daardie gevolgtrekking in die omstandighede geregverdig was.
‘Verswarende omstandighede’ word soos volg gedefinieer in art 1 van die Strafproseswet, 51 van 1977:
‘(i) die hanteer van ’n vuurwapen of ’n ander gevaarlike wapen;
die toediening van ’n ernstige liggaamlike besering; of
’n dreigement om ’n ernstige liggaamlike besering toe te dien
deur die oortreder of ’n medepligtige hetsy voor of gedurende of na die pleging van die misdryf.’
Die vraag of verswarende omstandighede aanwesig is, moet objektief beoordeel word.1 Op hierdie basis is dit myns insiens duidelik dat, welke definisie van ‘vuurwapen’ ’n mens ookal gebruik, dit nie ’n speelgoed vuurwapen insluit nie. Dit volg dus dat die huidige saak nie onder die eerste been van die difinisie van ‘verswarende omstandighede’ tuisgebring kan word nie.
Dit is egter nie die einde van die ondersoek nie, want volgens die derde been van die bogenoemde definisie is verswarende omstandighede ook aanwesig indien daar ’n dreigement was om ’n ernstige liggaamlike besering toe te dien. In hierdie verband het die klaer soos volg getuig:
‘By die bushalte het hy [die appellant] my meegedeel dat hy ook na my horlosie verlang en geld en die goedere wat ek dra. Ek het hom meegedeel dat daar is nie ’n manier dat ek vir hom my horlosie sal oorhandig, nog minder die goedere wat ek dra. Hy het toe vir my gedreig en gesê … by hierdie tyd het hy die vuurwapen uitgehaal al, toe is die vuurwapen nou in sy broeksak; en hy het my gedreig en gesê hy sal sommer uit sy broeksak uit skiet. Ek het toe vir hom gesoebat en gesê dat hy moet dit nie doen nie, hy moet nie die ding doen wat hy probeer doen want ek was nie daarvan seker of dit nou ’n regte vuurwapen is of speelgoed nie.’
In S v Zonele2 het die appellant die klaer gedreig met ’n vuurwapen wat buite werking was en nie in staat was om te vuur nie. Die Appèlhof beslis desnieteenstaande dat die appellant sodoende wel gedreig het om die klaer ’n ernstige liggaamlike besering toe te dien.
In S v Mbele3 moes die hof beslis of verswarende omstandighede aanwesig was waar die beskuldigde die klaers met ’n ongelaaide vuurwapen gedreig het. In die loop van die uitspraak het Miller R onder andere die volgende gesê:4
‘The wording of the relevant enactment is clear and it says that aggravating circumstances in relation to robbery mean and include a threat to inflict grievous bodily harm. It is, to my mind, a question of fact whether the accused in any given case actually threatened to inflict grievous bodily harm. If he did, then the requirements of the section are complied with. There is no doubt that threats can be made not only by words but also by conduct; a man who points a fire-arm at another and says – “Hand over your money” does not need to add – “. . . if you don't I shall shoot you”. The pointing of the fire-arm is as eloquent as any words could be. There can clearly be a threat by conduct and by implication for the purposes of the section.’
Steun vir hierdie benadering is gevind in die bogemelde beslissing in Zonele se saak, supra, wat deur die geleerde Regter beskryf is as ‘decisive of the question which I have mentioned, namely whether a person can be said to threaten grievous bodily harm if he has not the means at his disposal to carry out the threat’.5
Ek stem met eerbied met die bogenoemde benadering saam, wat ook ooreenstem met die benadering gevolg in ’n onlangse uitspraak in hierdie Afdeling in die appèl van Calvin Render teen Die Staat,6 waarna ons namens die staat verwys is. In laasgenoemde saak het Traverso ARP (Fourie Wnde R samestemmend) die minimum vonnisse van 15 jaar gevangenisstraf weens roof met verswarende omstandighede, opgelê ingevolge art 51(2)(a)(i) van die Wet, bekragtig al het die appellant slegs ’n speelgoed vuurwapen gebruik. Alhoewel die vraag na die aanswesigheid van verswarende omstandighede nie pertinent ter sprake was nie, is dit minstens by implikasie duidelik uit die ratio van die beslissing dat die appellant in daardie saak wel deur middel van die speelgoed vuurwapen die klaers met ernstige liggaamlike leed gedreig het en hulle op daardie wyse getraumatiseer het.
Op die basis van die bostaande getuienis van die klaer, en in die lig van die gesag waarna ek hierbo verwys het, is ek tevrede dat die streeklanddros tereg bevind het dat die appellant in die onderhawige saak die klaer wel met ernstige liggaamlike besering gedreig het en dat daar om hierdie rede wel verswarende omstandighede aanwesig was.
’n Verdere aspek wat in hierdie konteks vermelding verdien, is die vraag of die staat nie op ’n aanklag van roof in die klagstaat behoort te beweer dat verswarende omstandighede aanwesig is nie. Volgens my oordeel is dit beslis gewens dat dit spesifiek in die klagstaat vermeld word en nie agterna, na skuldigbevinding, soos in die huidige saak, onder die beskuldigde se aandag gebring word nie. Steun vir hierdie standpunt is te vind, onder andere in die uitspraak van Ramsbottom AR in Zonele se saak, supra7. Aangesien hierdie aspek egter nie voor ons beredeneer is nie, spreek ek geen finale mening hieromtrent uit nie.
Dit is vervolgens nodig om te oorweeg of daar wesenlike en dwingende omstandighede aanwesig was wat die oplegging van ’n mindere vonnis as die voorgeskrewe 15 jaar regverdig. Die streeklanddros het hierdie aspek soos volg benader in haar uitspraak oor vonnis:
‘As die Hof kan bevind dat daar iets in hierdie hele saak wat so belangrik is dat die Hof nie anders kan as om hierdie straf wat in die wet staan, ligter te maak nie, dan kan die Hof dit doen – dis die een ding. Die wet sê ook dat as daar enige ding in hierdie saak was wat hierdie Hof letterlik “force” om daardie straf wat in die wet staan, minder te maak, dan kan die Hof dit ook doen.’
Later sluit sy soos volg af:
‘As daardie wet nie hier was wat vir hierdie Hof kan dwing om vir u 15 jaar te gee nie, dan sou hierdie dinge (wat die Hof nou vir u genoem het) dinge gewees het wat heel warskynlik [sic] in u guns sou getel het; met ander woorde, wat die straf self vir u dalk beter sou kon gemaak het. Maar hierdie dinge is dinge wat hierdie howe, die streekhof elke dag sien; dit is die manier waarop die rowe plaasvind daarbuite. En hierdie Hof kan nie vandag bevind dat daardie dinge só belangrik is dat die Hof hierdie vonnis kan minder maak nie, en die Hof kan ook nie bevind dat dit dinge is wat hierdie Hof “force” om dit te doen nie.’
Met inagneming van die riglyne neergelê deur die Hoogste Hof van Appèl in S v Malgas8 is ek van oordeel dat die streeklanddros die toets vir wesenlike en dwingende omstandighede te hoog gestel het en sodoende ’n mistasting begaan het.
Normaalweg sou dit hierdie hof dus vrystaan om self vonnis op te lê. In die huidige saak word die hof egter gekortwiek deur die feit dat die appellant se persoonlike omstandighede nie uit die oorkonde blyk nie en ook nie in die streeklanddros se uitspraak vermeld word nie. Die appellant se prokureur het die hof wel voor vonnisoplegging ex parte toegespreek, maar daardie gedeelte van die verrigtinge is nie getranskribeer vir doeleindes van die huidige appèl nie. Weens hierdie oorweging is hierdie hof nie in ’n posisie om te beoordeel of wesenlike en dwingende omstandighede aanwesig was al dan nie.
In hierdie omstandighede is dit myns insiens wenslik om die aangeleentheid na die streekhof terug te verwys vir vonnisoplegging de novo nadat beide die staat en die verdediging geleentheid gebied is om sodanige verdere getuienis en/of betoë aan die hof voor te lê as wat nodig mag wees, of die streeklanddros mero motu besluit om verdere getuienis te bekom. Hierdie benadering is ook deur die staat op appèl voor ons ondersteun.
Gevolglik word die appèl teen die skuldigbevinding van die hand gewys, maar die opgelegde vonnis word tersyde gestel en die aangeleentheid word na die verhoorhof terugverwys vir vonnisoplegging de novo.
B M Griesel
Oosthuizen WnR: Ek stem saam.
A C Oosthuizen
1 Vgl R v Jacobs 1961 (1) SA 475 (A) 484H 485A
2 1959 (3) SA 319 (A) 329D
3 1963 (1) SA 257 (N)
4 te 260A C
5 260D
6 Saakno A322/01, 15 Februarie 2002, ongerapporteerd
7 te 323A D
8 2001 (1) SASV 469 para [25]