South Africa: Western Cape High Court, Cape Town Support SAFLII

You are here:  SAFLII >> Databases >> South Africa: Western Cape High Court, Cape Town >> 2002 >> [2002] ZAWCHC 68

| Noteup | LawCite

Pinro Building & Steel Merchants (edms) bpk v Yawa (459/1998) [2002] ZAWCHC 68; [2003] 1 All SA 318 (C) (29 November 2002)

Download original files

PDF format

RTF format



RAPPORTEERBAAR


IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID AFRIKA

(KAAPSE PROVINSIALE AFDELING)

SAAK NO: 459/1998

In die saak tussen:



PINRO BUILDING & STEEL MERCHANTS (EDMS) BPK


EISER

en


CINGENI PETER YAWA VERWEERDER



UITSPRAAK GELEWER OP 29 NOVEMBER 2002

_____________________________________________________________


HJ ERASMUS, R



Die applikant (eiser) doen aansoek vir die tersydestelling van wat genoem word die verweerder se "Tweede Pleit". Die respondent (verweerder) doen op sy beurt aansoek vir ‘n bevel wat die "Eerste Pleit" ‘n nulliteit verklaar of, in die alternatief, vir verlof om sy pleitstukke te wysig deur deur die vervanging van die "Eerste Pleit" deur die "Tweede Pleit".


Ek verwys voortaan na die partye as "eiser" en "verweerder".


Op 16 Januarie 1998 het die eiser dagvaarding uitgereik teen die verweerder vir die betaling van die bedrag van R111 298.31 ten opsigte van goedere en dienste gelewer deur die eiser aan die verweerder gedurende die tydperk 31 Oktober 1996 tot en met 26 November 1997.


Die eis is vir 'n gelikwideerde bedrag en die partye was dit deurgaans eens dat die dagvaarding wat uitgereik was, 'n eenvoudige dagvaarding was. Die dagvaarding wat die eiser uitgereik het, was egter in der waarheid 'n eienaardige, hibriede dokument. Die dagvaarding is primêr ooreenkomstig Vorm 10 van die Hooggeregshofreëls, die voorgeskrewe vorm vir die Gekombineerde Dagvaarding. Vorm 10 vereis dat die besonderhede van die eiser se eis uiteengesit word in 'n bylae by die dagvaarding. In die onderhawige geval is die eiser se eis, ooreenkomstig die voorskrifte van Vorm 9 wat betrekking het op die eenvoudige dagvaarding, bondig uiteengesit binne die liggaam van die dagvaarding self.


Die verweerder het op 26 Januarie 1998 kennis gegee dat hy van voorneme is om die saak te verdedig. Die eiser het daarop aansoek gedoen vir summiere vonnis. Die aansoek is teengestaan. Op 9 Junie 1998 is die aansoek teruggetrek en is verlof aan die verweerder gegee om die aksie te verdedig. Ingevolge die voorskrifte van Hooggeregshofreëls 20(1) en 32(8A) moes die eiser 'n deklarasie afgelewer het binne 20 dae ná die datum waarop verlof om te verdedig gegee is. Dit is nie gedoen nie. Op 17 Julie 1998 versoek die eiser, onder dreigement van belet, die aflewering van 'n verweerskrif binne vyf dae. Op 19 Maart 1999 word vonnis by verstek teen die verweerder toegestaan. Op aansoek van die verweerder word die verstekvonnis op 9 Junie 1999 tersyde gestel.


Die verweerder lewer op 28 Julie 1999 'n pleit af (die sogenaamde "Eerste Pleit"). Wat inhoud betref is hierdie pleit 'n reaksie op die bondige uiteensetting van die eiser se eis soos vervat in die dagvaarding.


Intussen verander die verweerder van prokureur. Die nuwe prokureur merk dat daar geen deklarasie op die lêer is nie. Hy skryf op 10 Januarie 2001 ‘n brief waarin hy aflewering, of 'n afskrif, van 'n deklarasie aanvra.


Die eiser lewer op 6 Maart 2002 'n deklarasie af. Die aflewering van die deklarasie word kort daarna, op 3 April 2002, opgevolg deur 'n aanmaning aan die verweerder, onder dreigement van belet, om 'n pleit af te lewer. In reaksie op hierdie versoek en dreigement, lewer die verweerder die "Tweede Pleit" op 10 April 2002 af.


Die eiser vra dus tersydestelling van 'n pleit (die “Tweede Pleit”), aflewering waarvan ontlok is deur die eiser se eie (tweede) aanmaning onder dreigement van belet. Die verweerder vra tersydestelling van 'n pleit (die “Eerste Pleit”) waarvan aflewering ontlok is deur die eiser se (eerste) aanmaning en dreigement van belet wat afgelewer is op ‘n tydstip toe die eiser nog nie, soos vereis deur die Hooggeregshofreëls, 'n deklarasie afgelewer het nie.


Die woorde van Holmes R (soos hy indertyd was) in Dreyer v Naidoo 1958 (2) SA 628 (N), waarin ‘n adjunk-balju ‘n dagvaarding op homself beteken het en daarna aansoek gedoen het vir tersydestelling van die betekening as synde onreëlmatig, is gepas in die omstandighede van hierdie geval. Op 629A sê Homes R:


Well now, what is the court to do about this drollery?”


Ingevolge Hooggeregshofreël 22(1) moet ‘n verweerder ‘n pleit aflewer “binne 20 dae na betekening aan hom van ‘n deklarasie”. Subreël (2) van Hooggeregshofreël 22 omskryf die vereistes waaraan ‘n pleit moet voldoen soos volg:


Die verweerder moet in sy pleit al die wesenlike feite wat in die gekombineerde dagvaarding of in die deklarasie beweer word, erken of ontken of met teenwerping erken, of meld welke van die genoemde feite nie erken word nie en in watter mate, en duidelik en bondig alle wesenlike feite aangee waarop hy steun.”


Subreël (3) bepaal dat versuim om aan die bepalings van, onder andere, subreël (2) te voldoen ‘n onreëlmatigheid daarstel en is die ander party geregtig om kragtens Hooggeregshofreël 30 op te tree.


Die eerste pleit voldoen nie aan die voorskrifte van subreël (2) nie want dit bevat nie ‘n erkenning of ontkenning of erkenning met teenwerping van wesenlike feite wat in ‘n deklarasie beweer word nie.


Die verweerder voer aan (i) dat die eiser se eerste opeising van ‘n pleit, vóór aflewering van ‘n deklarasie, ‘n onreëlmatigheid daarstel en inderdaad ‘n nulliteit is; en (ii) dat die verweerder se eerste pleit ewe-eens ‘n onreëlmatige stap en ‘n nulliteit is want die reëls maak nie voorsiening vir ‘n pleit op ‘n eenvoudige dagvaarding nie.


Is die eerste pleit ‘n nulliteit? In Northern Assurance Co Ltd v Somdaka 1960 (1) SA 588 (A) word die volgende gesê in verband met vraag wanneer ‘n onreëlmatigheid in verrigtinge neerkom op ‘n nulliteit:


Once it is seen that the Court has a discretion [in the matter of an irregular or improper proceeding in an action], it seems to me to follow inescapably that it was not intended that a breach of the Rules relating to actions should necessarily be visited with nullity.”


(Sien ook Republikeinse Publikasies (Edms) Bpk v Afrikaanse Pers Publikasies (Edms) Bpk 1972 (1) SA 773 (A) op 780G—H; Minister of Prisons and Another v Jongilanga 1985 (3) SA 117 (A) op 123A—H).


Die lyn tussen onreëlmatigheid en nullititeit is moeilik te trek en in Sasol Industries (Pty) Ltd t/a Sasol 1 v Electrical Repair Engineering (Pty) Ltd t/a LH Marthinusen 1992 (4) SA 466 (W) op 473D word gesê --

The difference between a nullity and an irregularity is probably one of degree”.


(Sien ook Krugel v Minister of Police 1981 (1) SA 765 (T) op 768D—E).


Hierdie Hof het ingevolge Hooggeregshofreëls 27(3) en 30 wye bevoegdhede om onreëlmatige verrigtinge óf te kondoneer óf tersyde te stel. Normaalweg sal ‘n party ingevolge reël 27(3) aansoek doen vir kondonasie van sy eie onreëlmatige stap. ‘n Party sal ingevolge reël 30 aansoek doen vir die tersydestelling van onreëlmatige stappe gedoen deur sy of haar opponent. In hierdie geval doen die partye aansoek vir die tersydestelling of skrapping van onreëlmatige stappe in die proses wat hulle óf self ontlok het óf self gedoen het.


Die eerste opeising van pleit en die eerste pleit is onreëlmatighede in die verrigtinge wat vatbaar is vir tersydestelling maar wat denkbaar gekondoneer sou kon word. Kondonasie sou, byvoorbeeld, moontlik wees waar dit duidelik is dat die pleit ‘n korrekte weergawe van die verweerder se verweer bevat, en waar aandrang op formele regstelling van die verrigtinge tot tydverspilling en onnodige koste sal lei.


Die verweerder voer aan dat onreëlmatighede in die verrigtinge rondom die eerste pleit reggestel is deur (i) die eiser se aflewering van ‘n deklarasie; (ii) die eiser se opeising van ‘n (tweede) pleit en, (iii) die verweerder se aflewering van ‘n pleit op die deklarasie. Ek is dit eens met die verweerder dat die enigste redelike afleiding wat gemaak kan word uit die eiser se opeising van ‘n pleit op die deklarasie, is dat die eiser bewus was daarvan dat die eerste pleit ‘n onreëlmatige stap (of ‘n nulliteit) daarstel.


Die eiser voer aan dat die verweerder se aansoek vir skrapping van die eerste pleit neerkom op ‘n poging om ‘n erkenning terug te trek. As die pleit ‘n nulliteit sou wees, sou dit nie ‘n erkenning kan wees van die inhoud van die eiser se eenvoudige dagvaarding nie. Die pleit is in ieder geval ‘n onreëlmatige stap en alvorens die Hof kondonasie verleen, is dit nie ‘n stap wat ‘n erkenning bevat waaraan die verweerder vir doeleindes van die verhoor in die aksie gebonde is nie.


In die lig van voorgaande is dit nie nodig om ‘n bevel te maak ingevolge waarvan verklaar word dat die eerste pleit ‘n nulliteit is en die tweede pleit geldig is. Die orde in die verrigtinge kan herstel word deur bloot die eerste pleit as ‘n onreëlmatige verrigting tersyde te stel. Die eiser word nie deur so ‘n bevel benadeel nie. Die eiser het deel gehad aan die onreëlmatigheid deur sy onreëlmatige opeising van die eerste pleit.

Ek is derhalwe van oordeel dat die applikant se eis van die hand gewys moet word, en dat die verweerder se teenaansoek moet slaag en die eerste pleit tersyde gestel moet word.


Die saak was ter rolle geplaas vir verhoor op 22 Augustus 2002. Op 15 Augustus 2002 het die eiser ‘n aansoek geloods vir die tersydestelling van die verweerder se tweede pleit. Die aansoek is vir verhoor op 22 Augustus 2002 in die Derde Afdeling op die rol geplaas, dws dieselfde dag waarop die verhoor ‘n aanvang sou neem. Op daardie dag is die verweerder se aansoek om uitstel van die verhoor toegestaan en is daar beveel dat die kwessie van verspilde koste oorstaan vir latere beregting deur die verhoorregter. In hierdie verrigtinge is ek dus nie gemoeid met die verspilde koste van 22 Augustus 2002 nie.

Ek maak die volgende bevel:


  1. Die applikant se aansoek word van die hand gewys.

  2. Die eerste verweerskrif wat op 28 Julie 1999 afgelewer is, word tersyde gestel.

  3. Die applikant moet die koste van die verweerder ten opsigte van die aansoek en die teenaansoek betaal.







HJ ERASMUS, R