South Africa: Western Cape High Court, Cape Town

You are here:
SAFLII >>
Databases >>
South Africa: Western Cape High Court, Cape Town >>
2002 >>
[2002] ZAWCHC 73
| Noteup
| LawCite
S v Martin (20556, 28/02, M1835/01) [2002] ZAWCHC 73 (17 December 2002)
Download original files |
rapporteerbaar
in die hooggeregshof van Suid-Afrika
(kaap die goeie hoop provinsiale Afdeling)
Hooggeregshof Verw. no.: 020556
Landdros se
reeksno.: 28/02
Saakno. M1835/01
In die saak tussen:
die staat
en
andries martin Beskuldigde
uitspraak: 17 Desember 2002
Griesel R:
Feitelike Agtergrond
Die beskuldigde het in die landdroshof te Malmesbury tereggestaan op ’n aanklag van oortreding van art 67(1)(a), gelees met art 1, van die Wet op die Suid-Afrikaanse Polisiediens 68 van 1995. In die klagstaat is die beskuldigde ten laste gelê dat hy
‘’n lid van die Mag [sic],1 nl Sers Alfranco September, by die uitoefening van sy bevoegdhede of die verrigting van sy pligte of werksaamhede weerstaan of opsetlik gehinder of belemmer het, of by die uitoefening van sy bevoegdhede of by die verrigting van sy pligte of werksaamhede deur ’n lid van die Mag [sic], hom opsetlik met so ’n lid of sy uniform of uitrusting of enige deel daarvan bemoei het te wete deur hom aan sy hemp (polisie uniform) te gryp en die hemp te skeur en deur op hom te vloek en te skel en te weier om uit sy woning te kom.’
In die alternatief was hy aangekla van opsetlike saakbeskadiging deurdat hy opsetlik die betrokke polisiebeampte se hemp geskeur het.
Die beskuldigde, wat onverdedig was, het onskuldig gepleit op die hoof- sowel as die alternatiewe aanklagte. Nadat die bepalings van art 115 en 220 van die Strafproseswet sowel as sy swygreg deur die landdros (die eerste landdros) aan die beskuldigde verduidelik is, het hy soos volg verklaar:
‘Ek en my vrou het gestry. Ek het ’n paar drankies ingehad en my vrou het die Polisie laat kom. Ek beveel die Polisie om my perseel te verlaat nadat hy ’n flits in my kamer gelig het. Hierna het hy op ’n blok gestaan en deur die venster na binne gehang. Toe lig hy met die flits in my gesig.
Na die 3de keer het ek opgestaan uit my bed en sers September geruk en sy klere geskeur. Ek erken dat ek die klaer aan sy uniform geruk het en sy klere geskeur het.’
Hierop het die landdros die beskuldigde meegedeel dat indien die pasgemelde erkennings as formele erkenning in terme van art 220 van die Strafproseswet aangeteken word, dit bly staan as bewys. Die beskuldigde het toegestem dat die erkennings aangeteken word as formele erkennings ingevolge die gemelde artikel.
Daarna is die saak uitgestel en het by die volgende geleentheid voor ’n ander landdros (die tweede landdros) gekom, aangesien die eerste landdros oënskynlik nie beskikbaar was nie. By daardie geleentheid het die staatsaanklaer die hof meegedeel dat die staat geen getuienis gaan lei nie en dat die staat sy saak sluit. Die landdros het daarop die beskuldigde se regte in verband met getuienislewering aan hom verduidelik, waarna die beskuldigde verkies het om self onder eed te getuig.
In die loop van sy getuienis het die beskuldigde wesenlik die weergawe wat hy tydens sy pleitverduideliking voor die hof geplaas het, herhaal. Tydens kruisondervraging het hy onder andere soos volg geantwoord op vrae van die staatsaanklaer:
‘V Was dit nodig om die
Polisiebeampte voor die bors te vat en vaste [sic] gryp sodat sy
klere skeur?
A Nee dit was nie nodig nie.
V Het u die
Polisieman gevloek?
A Nee net kras met hom gepraat.
V Het u
besef dat u verkeerd optree indien u ’n polisiebeampte hinder in sy
pligte om sy pligte uit te voer?
A Ja.
V U het besef u doen
verkeerd en kan gestraf word?
A Ja.’
Na sluiting van sy saak, is die beskuldigde op die hoofaanklag skuldig bevind soos aangekla. Geen vorige veroordelings is teen hom bewys nie en hy is daarop gevonnis tot ’n boete van R600 of drie maande gevangenisstraf, tesame met ’n verdere drie maande gevangenisstraf, wat voorwaardelik opgeskort is vir drie jaar.
Landdros en DOV se Redes
Toe die aangeleentheid daarna op outomaties hersiening voor my geplaas is, het ek die landdros versoek om sy redes vir skuldigbevinding te verstrek, veral in die lig van die staat se versuim om enige getuienis aan te bied. Die landdros het soos volg hierop gereageer:
‘Hoewel die Staat versuim het om enige getuienis aan te bied, het die beskuldigde ’n erkenning gemaak nl. “Ek erken dat ek die klaer aan sy uniform geruk het en sy klere geskeur het.”
… Alhoewel die staat nie getuies geroep het om te getuig nie was daar ’n prima facie saak uitgemaak deur die staat waarop beskuldigde moet kom getuig op grond van sy erkenning wat hy gemaak het.
Ek het bepalings van die saak Staat vs Lubaxa 2001(2) SACR 703 nie uit die oog verloor nie en was vertroud met die feite van die saak nl. dat na staatsaak die beskuldigde nie die getuiebank moet betree om te getuig in die hoop dat hy hom dalk kan inkrimineer nie.
Beskuldigde erken dan verder onder eed dat hy die misdryf gepleeg het en verkeerd opgetree het en dat hy daarvoor gestraf kan word.’
Na ontvangs van die landdros se redes, het ek die aangeleentheid op 25 Februarie 2002 na die Direkteur van Openbare Vervolgings (DOV) verwys vir sy kommentaar, veral aangesien die bepalings van art 174 van die Strafproseswet oënskynlik nie deur die landdros aan die beskuldigde verduidelik is nie en ook nie mero motu deur hom toegepas is nie.
Meer as nege maande later, op 6 Desember 2002, is ek voorsien van ’n memorandum deur een van die personeellede van die DOV, waarmee die DOV saamstem. (Geen verduideliking of verskoning vir die uitermate lang vertraging is verstrek nie.) In die memorandum word die mening uitgespreek dat die skuldigbevinding nie bekragtig behoort te word nie aangesien
daar aan die einde van die staatsaak ‘geen getuienis van staatsweë was (nie)’. Volgens die DOV, het die erkennings nie prima facie bewys daargestel nie.
daar nie bewys is dat die klaer ’n lid van die ‘mag’ (sic) was, soos bedoel in art 1 van die Wet nie;
die landdros nie die beskuldigde van sy regte ingevolge art 174 van die Strafproseswet ingelig het nie en die landdros ook nie mero motu die bepalings van daardie artikel toegepas het nie;
‘art 118 van die Strafproseswet nie toegepas is nie’.
Art 118
Ek handel eerstens met die laasgenoemde aspek. Art 118 van die Strafproseswet bepaal soos volg:
‘Nie-beskikbaarheid van regterlike amptenaar na pleit van onskuldig.—Indien die regter, streeklanddros of landdros voor wie ’n beskuldigde in ’n summiere verhoor onskuldig gepleit het om enige rede nie beskikbaar is om die verhoor voort te sit nie en geen getuienis reeds aangevoer is nie, kan die verhoor voor enige ander regter, streeklanddros of landdros van dieselfde hof voortgesit word.’ (my beklemtoning)
Alhoewel die verwysing in die memorandum na art 118 nie verder uitgebrei of gemotiveer word nie, wil dit uit die konteks voorkom asof die DOV by implikasie suggereer dat die tweede landdros nie die verrigtinge kon voortsit nie, aangesien daar wel ‘getuienis’ voor die eerste landdros aangevoer is. Dit behels verder dat aanvaar moet word dat die beskuldigde se antwoorde ingevolge art 115 en/of die erkennings wat tydens die pleitverrigtinge ingevolge art 220 genotuleer is vir doeleindes van art 118 wel ‘getuienis’ daarstel.
Hierdie aspek het reeds by verskeie geleenthede, in die een of ander vorm, voor ons howe gekom. In S v Hendricks2 het die Appèlhof die probleem indringend bespreek teen die volgende feitelike agtergrond. Die beskuldigde het op drie aanklagte tereggestaan. Hy het op al drie aanklagte skuldig gepleit, maar na ondervraging deur die landdros, is pleite van onskuldig op die tweede en derde aanklagte aangeteken. Ingevolge die voorbehoudsbepaling tot art 113(1) het die bewerings, wat tydens die ondervraging deur die beskuldigde erken is, bly staan as bewys van sodanige bewerings. Na afloop van die ondervraging, het die aanklaer ’n vierde klagte (van verkragting) bygevoeg, waarop die beskuldigde eweneens skuldig gepleit het, welke pleit na ondervraging eweneens in ’n pleit van onskuldig verander is. Die beskuldigde is later op drie van die vier aanklagte (insluitend aanklag 4) skuldig bevind en tot gevangenisstraf gevonnis.
Op appèl is die punt namens die appellant geopper dat dit nie vir die staat moontlik was om ’n verdere aanklag by te voeg nadat hy reeds op die eerste drie aanklagte gepleit het en daaromtrent ondervra is nie in die lig van die bepalings van art 81(1), wat soos volg lees:
‘Enige getal aanklagte kan in dieselfde verrigtinge teen ’n beskuldigde saamgevoeg word te eniger tyd voordat enige getuienis ten opsigte van enige bepaalde aanklag gelei is …’ (my beklemtoning)
Die vraag waaroor die Appèlhof uitsluitsel moes gee, was of die mededelings van die beskuldigde tydens die ondervraging wat tydens die pleitfase ingevolge art 112 genotuleer is, neerkom op ‘getuienis’ wat ‘gelei’ is vir doeleindes van art 81(1).
In die loop van die uitspraak deur Marais AR, namens ’n eenparige Hof, is ’n deeglike ontleding gedoen van die begrip ‘getuienis’ (‘evidence’) in die Strafproseswet. Daar is verwys na die verskillende bepalings in die Strafproseswet waar die woord ‘evidence’ gebruik word, bv arts 81(1), 87(1), 88, 115A, 118, 150, 157(1), 174, 196(2) en (3), 209, 210, 219, 256 tot 270, en 272. 3 Nadat gewys is op sekere absurde resultate wat sou volg indien die woord ‘evidence’ so wyd geïnterpreteer sou word om enigiets in te sluit wat vir doeleindes van die staatsaak bewyswaarde het,4 het Marais AR soos volg voortgegaan:5
‘It is not difficult to see why once the leading of evidence has commenced, no further charge or accused persons may be joined, and no other judicial officer may continue to hear the matter if the judicial officer who commenced during the trial is no longer available. In these instances there is an easily discernible reason for the limitation. One cannot join additional accused persons who have not heard some of the evidence which has already been given viva voce. An accused is entitled to see and hear the witness giving evidence so that he can make appropriate submissions regarding the demeanour of the witness when the stage of argument is reached. Giving such an accused an opportunity of cross-examining a witness who has given his evidence in chief, and may even have been cross-examined in the absence of the accused, does not adequately compensate for the disadvantage arising from not having seen and heard the witness testify. Reading the evidence of such a witness to the accused or providing the accused with a transcript of the evidence given in his absence is, for the same reason, not a sufficient cure. It is basic to the concept of a fair trial in South Africa that, save in exceptional circumstances clearly and unambiguously prescribed by constitutionally competent statute, evidence upon which the State intends to rely in support of the charge against the accused, must be adduced in the presence of the accused.
One cannot allow a substitute judicial officer who has not heard the evidence given earlier in a trial, to hear the rest of the evidence given in the trial, and then purport to evaluate all the evidence given and return a verdict. The reason is obvious. Some of the witnesses have not been seen or heard by that judicial officer and the accused may be deprived of the potential benefit which may have accrued to him if the demeanour of those witnesses had been unsatisfactory and indicative of unreliability. That being the obvious mischief which the limitation is designed to prevent, there is no good reason to include within the concept of “evidence . . . led in respect of the charge” (s 157(1)) or “evidence . . . adduced” (s 118), what may have emerged during the plea-taking phase of the case. No question of the demeanour of a witness arises and there is no need for either an accused who is joined later, or a substitute judicial officer, to know more than what was said during that phase. What was said then or, if it be documentary, what was placed before the court, was not evidence given under oath; it was not subject to cross-examination; it was not admissible against anybody other than the accused from whom it has emanated. It is true that its evidential value, if any, would have to be evaluated at the end of the trial, but the evaluation would not depend upon the demeanour of the accused when making the statements which he did during the taking of his plea, nor, if a written explanation of plea was tendered, would the question of demeanour arise at all. The potential prejudice to an accused which is present in the case where viva voce evidence on oath has been given in his absence, or where a substitute magistrate takes over the hearing of a case at a stage where viva voce evidence has already been given, is absent where all that has happened in the way of generation of evidential material, is what happened during the taking of the accused's plea.’
Met inagneming van die konteks en doel van die betrokke bepaling (dws art 81(1)), het die Hof tot die gevolgtrekking gekom
‘that even if what happens during the taking of the plea in a criminal trial may be regarded as evidential material in the broad sense, it is not evidence led, or adduced, or tendered within the meaning of those expressions where they occur as limiting expressions in many of the provisions of the Act’. 6
Die Hof tref egter ’n onderskeid tussen erkennings en ander mededelings wat in die loop van die ‘pleitfase’ gemaak en genotuleer word (soos in die huidige saak asook die Hendricks-saak) en ander erkennings ingevolge art 220, wat dehors die pleitfase, onmiddellik voor of gedurende die ‘verhoorfase’, gemaak is. Laasgenoemde aspek is deur die Hof oopgelaat.7
Alhoewel dit in die Hendricks-saak gegaan het oor die bepalings van art 81(1) van die Strafproseswet, is dit myns insiens uit die bostaande aanhalings duidelik dat presies dieselfde oorwegings ook in die huidige konteks geld, waar die bepalings van art 118 ter sprake is. Hier het die beskuldigde sekere erkennings gemaak in die loop van sy pleitverduideliking ingevolge art 115 van die Strafproseswet. Sy erkennings is behoorlik ingevolge die bepalings van art 115(2)(b) aangeteken en word geag erkennings ingevolge art 220 te wees. Uit hoofde van die ratio in Hendricks se saak supra lei dit tot die gevolgtrekking dat die blote notering van hierdie erkennings nie neerkom op ‘getuienis’ wat ‘aangevoer’ is nie.8 Hierdie gevolgtrekking bring verder mee dat die tweede landdros wel ingevolge art 118 die verhoor kon voortsit waar die eerste landdros nie beskikbaar was nie en dat geen onreëlmatigheid geskied het wat hierdie aspek aanbetref nie.
Art 174
Dit bring my dan vervolgens by die vraag of die beskuldigde nie aan die einde van die staatsaak ingevolge die bepalings van art 174 op ontslag geregtig was nie. Ingevolge laasgenoemde artikel kan ’n hof ’n uitspraak van onskuldig lewer indien die hof aan die einde van die staatsaak van oordeel is dat daar ‘geen getuienis’ is dat die beskuldigde die bedoelde misdryf (of ’n misdryf waaraan hy op die aanklag skuldig bevind kan word) gepleeg het nie.
Die geykte toets wat in hierdie konteks toegepas word, is of daar enige getuienis is waarop ’n redelike mens die beskuldigde kan skuldig bevind.9 In die huidige konteks is die ondersoek selfs nog enger: was daar aan die einde van die staatsaak enige getuienis hoegenaamd teen die beskuldigde, gesien in die lig van die feit dat die staat geen getuies geroep het nie en self geen bewysmateriaal voor die hof geplaas het nie?
In die lig van die gevolgtrekking hierbo10 in verband met die interpretasie van die woord ‘getuienis’ vir doeleindes van art 118, sou ’n soortgelyke interpretasie van die woord vir doeleindes van art 174 a fortiori beteken dat die beskuldigde aan die einde van die staatsaak op ontslag geregtig moet wees, aangesien sy erkennings nie ‘getuienis’ is nie. Dit sou egter tot die paradoksale resultaat lei dat ’n beskuldigde ontslaan kon word aangesien daar geen ‘getuienis’ teen hom is nie, terwyl daar wel ‘voldoende bewys’ teen hom mag wees uit hoofde van erkennings genotuleer ingevolge art 220.
Die oplossing vir hierdie potensiële paradoks is, volgens my oordeel, geleë in die Hendricks-saak supra, waar Marais AR daarop gewys het ‘that the meaning to be given to particular words is influenced by the context in which they are used and that the same word may not always have the same meaning in a statute’.11 Soos hierbo aangetoon, het Marais AR spesifiek met verwysing na die woord ‘evidence’ in die Strafproseswet aangetoon dat dit verskillende betekenisse kan dra, afhangende van die konteks.
Ten einde effek te gee aan die bedoeling van die wetgewer in art 174 is ek van oordeel dat die woord ‘getuienis’ in die konteks van daardie artikel geïnterpreteer moet word as ‘bewys’ (‘proof’).12
Hierdie gevolgtrekking bring mee dat die erkennings wat ’n beskuldigde maak ingevolge art 115(2)(b), gelees met art 220, van die Strafproseswet wel deel van die bewysmateriaal vorm wat die hof in ag moet neem by oorweging van die vraag of ’n beskuldigde op sy verdediging geplaas behoort te word al dan nie. Trouens, ’n beskuldigde wat onskuldig gepleit het, kan deur die hof skuldig bevind word uitsluitlik op sterkte van sy erkennings ingevolge art 220.13 Die belangrike voorbehoud in hierdie konteks is egter die volgende:
‘Die landdros behoort egter in 'n geval soos die onderhawige, veral waar die beskuldigde nie deur 'n regsgeleerde bygestaan word nie, pertinent die beskuldigde se aandag op die inherente teenstrydigheid tussen sy pleit en sy erkenning te vestig. Indien die beskuldigde in beide sy pleit en sy erkenning volhard, kan die landdros hom op grond van sy erkenning skuldig bevind mits hy tevrede is dat die beskuldigde inderdaad skuldig is.’14
’n Belangrike faktor wat in Talie se saak afwesig was, is die feit dat die landdros nie aan die einde van die staatsaak die beskuldigde van sy regte om te getuig ingelig het nie, maar hom bloot skuldig bevind het op sterkte van sy erkennings. Daardie gebrek is nie in die huidige saak aanwesig nie.
Getuienis
Dit bring my laastens by die bewysmateriaal voor die landdros aan die einde van die staatsaak. Uit hoofde van die erkennings deur die beskuldigde ingevolge die bepalings van art 115(2)(b), gelees met art 220, was daar aan die einde van die staatsaak ‘voldoende bewys’ van die feite dat die beskuldigde vir ‘sersant September … aan sy uniform geruk het en sy klere geskeur het’. Daardeur het hy hom klaarblyklik met die uniform of uitrusting van September, of enige deel daarvan, bemoei, wat hom prima facie binne die omvang van die misdaadbeskrywing bring. Wat meer is, die beskuldigde het pertinent erken dat sy vrou die ‘Polisie’ ontbied het, waarop ‘sersant September’ opgedaag het en die beskuldigde vir die gemelde sersant aan sy ‘uniform’ geruk en sy klere geskeur het. Wat die alternatiewe aanklag aanbetref, was daar eweneens prima facie bewys van opsetlike saakbeskadiging.
Teen hierdie agtergrond sou dit myns insiens neerkom op pedanterie om te suggereer dat daar aan die einde van die staatsaak geen bewys van die pleging van die misdaad voor die hof was nie. Die enigste element van die misdaad wat in daardie stadium moontlik nog uitstaande was, was die kwessie van opset. Die bewysmateriaal voor die hof was egter van so ’n aard dat die afleiding van opset van die omstandigheidsgetuienis gemaak kon word; met ander woorde, daar was prima facie bewys dat die beskuldigde wel opsetlik gehandel het. Daar het gevolglik ’n weerleggingslas op die beskuldigde gerus om een of ander regverdigings- of skulduitsluitingsgrond voor die hof te plaas waardeur daardie prima facie afleiding ontsenu kon word.
In die omstandighede is ek van oordeel dat daar aan die einde van die saak wel bewysmateriaal op rekord was waarop ’n redelike hof die beskuldigde op die betrokke aanklagte (insluitend die alternatiewe aanklag) kon skuldig bevind.
Dit volg derhalwe dat die bepalings van art 174 van die Strafproseswet op die feite van die huidige saak glad nie ter sprake gekom het nie. Dit volg verder dat die landdros nie geroepe was om die beskuldigde mero motu te ontslaan of om die beskuldigde aangaande die bepalings van art 174 in te lig nie.15
Die huidige saak kan volgens my oordeel op die feite onderskei word van die uitspraak in S v Peta.16 In daardie saak was die beskuldigde aangekla van aanranding met die opset om ernstig te beseer, sowel as oortreding van art 2(1) van Wet 71 van 1968, deurdat hy in besit was van ’n mes. Die beskuldigde het onskuldig gepleit op beide aanklagte. Ingevolge art 115 het hy egter verklaar: ‘Ek het hom [d.i. die klaer] met sy eie mes gesteek.’ Die beskuldigde het toegestem dat die gemelde mededeling as erkenning aangeteken kon word. Die saak is daarop uitgestel en by die volgende verskyning het die staatsaanklaer die hof meegedeel dat geen getuies opgespoor kon word nie en dat hy die staat se saak sluit sonder om enige getuies te roep.
Die landdros het hierna die beskuldigde se regte met betrekking tot getuienislewering aan hom verduidelik, waarop die beskuldigde besluit het om wel onder eed te getuig. In die loop van sy getuienis het hy ’n verontskuldigende verduideliking verskaf, wat daarop neerkom dat die klaer hom uitgetart het, met sy vuiste bygedam het en hom uiteindelik ook met die mes probeer steek het. Die beskuldigde sou toe die mes van die klaer afgeneem en hom daarmee gesteek het. Die beskuldigde is nietemin op die eerste aanklag skuldig bevind soos aangekla en na die streekhof verwys vir vonnis.
Die streeklanddros was egter van mening dat die blote erkenning deur die beskuldigde dat hy die klaer met sy eie mes gesteek het nie ’n prima facie saak teen die beskuldigde daargestel het nie en dat hy by ontstentenis van enige getuienis van die staat die saak nie behoorlik teen hom bewese was nie.
Op spesiale hersiening het die hof (per Eksteen R, Cloete RP samestemmend) met die streeklanddros se benadering saamgestem en onder andere soos volg verklaar:17
‘Dit wil my voorkom dat reg nie hier geskied het nie, en dat waar die Staat geen getuienis hoegenaamd aangebied het om die aanklag te staaf nie - en te meer waar die beskuldigde onverdedig was - die landdros die beskuldigde nie op sy verdediging moes gestel het nie, maar hom onskuldig moes bevind het en hom ontslaan het.
In elk geval is ek nie tevrede dat op die beskuldigde se eie getuienis daar voldoende redes was vir 'n bevinding dat hy enigsins die nodige mens rea gehad het om enige misdaad te pleeg nie.’
Met groot eerbied teenoor die geleerde Regter, is ek van oordeel dat die eerste gedeelte van die bostaande aanhaling nie die ratio van die beslissing korrek weergee nie. Die beskuldigde in daardie saak moes ontslaan gewees het, aangesien daar aan die einde van die staatsaak geen prima facie saak teen hom was waarop hy moes antwoord nie. Die feite dat die staat geen getuienis aangebied het om die aanklag te staaf nie en dat die beskuldigde onverdedig was, het met daardie gevolgtrekking niks te make nie.18
In die huidige saak, soos wat hierbo aangetoon is, was daar by sluiting van die staatsaak wel prima facie bewys dat die beskuldigde die onderhawige misdaad gepleeg het. Die landdros was derhalwe korrek om die beskuldigde op sy verdediging te plaas. Wat meer is, anders as in Peta se saak supra, is ek tevrede dat die huidige beskuldigde se eie getuienis sy skuld bo twyfel bewys.
Weens die bostaande redes word die skuldigbevinding en vonnis bekragtig.
B M Griesel
Van Heerden R: Ek stem saam.
B J van Heerden
1 Die woordkeuse is anachronisties: die betrokke artikel sowel as die Wet verwys deurgaans na ‘Diens’, terwyl die herroepe Polisiewet 7 van 1958 verwys het na ‘Mag’.
2 1995 (2) SASV 177 (A)
3 te 187i 188c
4 te 188d i
5 te 188j 189h
6 te 190h i
7 te 191b d
8 Vergelyk ook in hierdie verband die uitspraak in S v Mjoli and another 1981 (3) SA 1233 (A) te 1243C, waar die Appèlhof in die konteks van art 209 van die Strafproseswet beslis het dat ‘admissions proffered or elicited in the course of proceedings under s 115 of Act 51 of 1977, whether they are deemed admissions under s 220 or not, do not constitute “evidence”, … and cannot serve to confirm an antecedent extra-judicial confession’.
9 Sien bv S v Khanyapa 1979 (1) SA 824 (A) 838F
10 para [17]
11 te 184a
12 Vergelyk S v Nzuza 1963 (3) SA 631 (A) 634G H, waar die Appèlhof die woord ‘evidence’ in art 284 van die ou Strafproseswet van 1955 (die voorganger van die huidige art 220) geïnterpreteer het om ‘proof’ te beteken. Sien ook S v Thomo & others 1969 (1) SA 385 (A) 387F G, asook S v Veldthuizen 1982 (3) SA 413 (A) 416G H, waar die woorde ‘prima facie evidence’ in art 212(2) van die Strafproseswet geïnterpreteer is om te beteken ‘prima facie proof’.
13 S v Talie 1979 (2) SA 1003 (K) 1004F G
14 ibid 1005A C
15 Vergelyk S v Lubaxa 2001 (4) SA 1251 (HHA) 1258C para [23]
16 1982 (4) SA 863 (OK)
17 te 865C
18 Vergelyk ook die opmerkings van Baker R in S v Becket 1987 (4) SA 8 (K) te 15B 16C, asook Du Toit et al, Commentary on the Criminal Procedure Act (Losbladsy vervangingsdiens) te 18-10.