South Africa: Western Cape High Court, Cape Town

You are here:
SAFLII >>
Databases >>
South Africa: Western Cape High Court, Cape Town >>
2002 >>
[2002] ZAWCHC 74
| Noteup
| LawCite
S v Roux (2904/02, PSS131/2002, 50/2002) [2002] ZAWCHC 74; 2007 (1) SACR 379 (C) (2 December 2002)
Download original files |
IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA Rapporteerbaar
[PROVINSIALE AFDELING KAAP DIE GOEIE HOOP ]
Hooggeregshof Verw 2904/02 Saaknommer PSS131/2002
In die saak :
DIE STAAT
Versus
ANDRIES PETRUS STEFANUS ROUX Beskuldigde
_____________________________________________________________________________
HERSIENINGSUITSPRAAK : 02 DESEMBER 2002
Williams WnR:
Die beskuldigde staan tereg in die Streekhof Paarl op ‘n aanklag van onsedelike aanranding gepleeg op ‘n 10 jarige seun met Down sindroom. Die jong klaer, so wil dit voorkom vanuit die oorkonde, is soos in meeste van hierdie tipe sake die Staat se enigste wesenlike getuie ten opsigte van die misdryf.
Gedurende ondervraging vanaf die streeklanddros om te bepaal of die klaer die aard en betekenis van die eed begryp alternatiewelik of hy kan onderskei tussen die waarheid en onwaarheid het dit duidelik geword dat die klaer ‘n spraakprobleem het daar hy homself nie kon uitdruk in sinne of woorde wat vir die hof sin gemaak het nie. Alhoewel hy kon praat was sy antwoorde onduidelik en het dit soms nie sin gemaak nie. Die probleem wat die hof hier ondervind het kan slegs geillustreer word deur uittreksels uit die oorkonde.
“HOF: Shank ek moet nou hierdie vir jou vra. Het jy al gehoor van eed wat die beteken om die eed te neem? …. Ja.
Sê jy ja? … Hy sê ja.
Weet jy wat die beteken om die eed te neem? …. Ja.
… (onduidelik)
Okay, sê vir my wat dink jy is hierdie eed waarvan ek praat? … … (onduidelik)
Onder. Waar het jy gehoor van hierdie eed? … (onduidelik)
Gebou. Gaan jy kerk toe? … Ja.
Vertel my weer van die eed wat sê jy wat is dit? … Gebou … (onduidelik)
Ek weet nie wat enige van daardie woorde beteken nie.
MNR MAARTENS: Ek het gebou hoor met diere en dan die woord bye.
HOF: En bye. En ek sukkel om die konteks van die eed daarby te kry. Kan u enige skakeling en dit wat hy gesê het en die eed?
MNR MAARTENS: Met alle eerbied Agbare en breek my kop. Ek weet nie of u in terme van sinne maar wil begin dink nie, soos wat is die om te sweer nie.
HOF: Maar ek gaan dink probeer dink daaraan maar ek … (onduidelik) Het jy gehoor van sweer Shank. Weet jy wat die beteken om te sweer? … Ja, sweer manne kom en ….. (onduidelik) vat jou tronk toe.”
HOF: ‘n Hof. Wat doen ‘n mens hier by hierdie plek? … Praat.
Praat.
Praat. Ja, want dit doen ons baie. Nou as jy hier by die hof en daar gesê word vir jou jy moet sweer, jy moet voor God sweer weet jy wat dit beteken? … Nee, die ding is … (onduidelik) en daar … (onduidelik) om sit hier.
Ek moet eerlik sê ek het nie enige van die aspekte verstaan nie. Okay, ek kan probeer om ‘n ander aspek te – Shank weet jy wat die beteken om die waarheid te praat? … Jok.
Jok. Wat beteken die waarheid? … Pak slae.
Pak slae? … En straf.
En straf? En as – en weet jy wat beteken dit as ‘n mens leuens vertel of jok? … Jok? … (onduidelik) waarheid, sweer.
Ek het straf gehoor. Watter een dink jy is reg en watter een dink jy is verkeerd Shank. Is dit verkeerd om die waarheid te praat? … Waarheid.
Wat gaan gebeur as ek jok? … … (onduidelik) het … (onduidelik) seermaak.
Seermaak. Is daar ander juffrou Haupt is daar enige – het u enige suggesties oor hoe ek die getuie verder moet benader of wat u indruk is van die situasie. Kon u enigiets verstaan?
AANKLAER: Edelagbare, daar is dele wat ek nie kan verstaan nie. Uit die woorde wat hy gebruik kan ek afleidings maak van wat hy bedoel maar ek dink nie dit is seker goed genoeg vir die Hof se doeleindes nie.
HOF: So met ander woorde elkeen van ons sal moet afleidings maak oor wat hy eintlik bedoel.
AANKLAER: Ja.
HOF: Ons hoor een greep en dan moet ons nou aanvaar hy sê dit is wat hy sê.
AANKLAER: Dit is ongelukkig so Edelagbare.”
Die streeklanddros het op grond van hierdie ondersoek beslis dat hy nie kan bepaal of die klaer kan onderskei tussen die waarheid en leuens nie, en dat hy derhalwe ‘n onbevoegde getuie is.
Vanaf Staatskant is daar aangedui dat die klaer moontlik deur middel van ‘n spraakterapeut getuienis sou kon aflê wat vir die hof meer sin sou maak en wat dit moontlik sou maak om beter met hom te kommunikeer.
Dit is hierdie aspek wat die probleem veroorsaak het. Volgens die landdros maak artikel 161 van die Strafproseswet, wat handel met getuienislewering, nie vorsiening vir ‘n geval soos hierdie waar die getuie wel kan praat, maar homself nie sinvol kan oordra nie.
Na sy beslissing het landdros Klopper gelas dat die saak vir spesiale hersiening aan hierdie Hof voorgelê word, om te beslis oor die toelaatbaarheid al dan nie van ‘n spraakterapeut om die jong klaer se getuienis te interpreteur en oor te dra. Advokaat Geyser van die Kantoor van die Direkteur van Openbare Vervolging het op uitnodiging van die hof waardevolle insette in hierdie verband gelewer. Hy word bedank daarvoor.
Artikel 161 Wet 51/77 bepaal as volg:-
“(1) n Getuie by strafregtelike verrigtinge lê sy getuienis viva voce af, behalwe waar hierdie Wet of ‘n ander wet uitdruklik anders bepaal.
In hierdie artikel word die uitdrukking “viva voce”, in die geval van ‘n doofstom getuie, geag gebaretaal en, in die geval van ‘n getuie onder die ouderdom van agtien jaar, geag demonstrasies, gebare of enige ander vorm van nie-verbale uitdrukkings in te sluit.”
Die landdros maak die volgende opmerking ten opsigte van artikel 161(2):
“maar dit is baie duidelik indien die artikel gelees word dat dit nie voorsiening maak vir ‘n persoon wat wel viva voce getuig en wat wel ‘n vorm van verbale uitdrukking gebruik, maar wat nie verstaan word nie.”
Hier wil ek met respek verskil van die streeklanddros. Tolke word algemeen gebruik in ons howe reeds om getuienis oor te dra in ‘n taal waarmee die beskuldigde en of die hof vertroud is. Artikel 6(2) van die Wet op Landdroshowe 32 van 1944 bepaal:
“Indien getuienis in ‘n strafsaak afgelê word in ‘n taal waarmee na die mening van die hof die beskuldigde nie genoegsaam vertroud is nie, moet die hof ‘n bevoegde tolk inroep om sodanige getuienis oor te sit in ‘n taal waarmee die beskuldigde voorgee of aan die hof blyk genoegsaam vertroud te wees onverskullig of die taal waarin die getuienis afgelê word een van die landstale is en of die beskuldigde se verteenwoordiger met die getuienis gebesigde taal vertroud is al dan nie.”
Die doel en beskrywing van ‘n tolk word in S v Naidoo 1962(2) SA 625 HHA op 632H by monde van Williamson AR as volg opgesom:
“The witness being examined is saying something not perhaps understood by the Court or the Court recorder; a species of expert witness is telling the court in a language understood by the Court (and any recorder) what it is the witness is actually saying.”
In R v Ramikolo 1954 (3) SA 255(O) waar die landdros ‘n stom getuie bevoegd verklaar het om te getuig by wyse van gebaretaal en toe later die saak op hersiening gestuur het aangesien die strafkode destyds slegs voorsiening gemaak het vir viva voce getuienis merk Horwitz R op te 256D:
“In my view, the magistrate seeks to place too narrow an interpretation on the provisions of sec 220 of the Criminal Code. It is generally accepted that any physically handicapped witness who has the necessary intelligence to understand the nature of an oath and to convey what he wishes to communicate in some intelligible form, whether by writing or by signs or motions, should be regarded as competent to testify, through the cogency of such testimony is a matter for the trial court’s decision and a presiding officer will receive the evidence with caution.”
Die geleerde regter haal verder aan uit ‘n voetnota van Wigmore Evidence (3de uitgawe):
“The mode of communication will usually be in words or other symbols directly intelligible to the tribunal. If the witness cannot employ a mode thus directly intelligible some intermediary may and must be sought who can interpret the witness’ mode into an ordinary one.”
In Pachcourie v Additional Magistrate, Ladysmith 1978(3) SA 986(N), waar ‘n doofstom beskuldigde deur middel van ‘n tolk getuig het wat hom etlike jare geken het en met hom kon kommunikeer deur middel van handgebare en dus op hierdie manier die handgebare vir die hof kon interpreteer, het die hof op hersiening nie fout gevind met die wyse van getuienislewering nie, mits dit deur ‘n bevoegde en behoorlike gekwalifiseerde tolk aangebied word.
In S v T 1973(3) SA 794(A) het die moeder van ‘n 5 jarige klaagster wat te sag gepraat het vir die verhoorhof om te hoor opgetree as tolk sodat die hof haar getuienis kon hoor. Die hof op appél het nie kritiek gehad teen die wyse waarop die getuienis oorgedra is aan die hof nie, maar wel ten opsigte van die feit dat
die getuienis oorgedra is deur ‘n persoon wat nie onpartydig teenoor die saak gestaan het nie as moeder en ook getuie in die saak en
die moeder nie die eed geneem het dat sy die getuienis van die klaagster getrou en korrek aan die hof sou weergee nie.
Daar was dus geen beëidigde getuienis voor die hof oor wat die klaagster sou getuig nie. As gevolg van hierdie redes is die klaagster se getuienis ontoelaatbaar gevind.
Dit is duidelik uit die vooropgestelde dat ons howe oor die jare die aflê van getuienis “viva voce” wyd interpreteer het. Ek glo dus nie dat die wetgewer beoog het dat artikel 161(2) van die strafproseswet ‘n numerous clausus daarstel van gevalle waar die uitdrukking “viva voce” ander vorms van kommunikasie insluit nie. Dit is in elk geval my mening dat strafhowe nie onnodiglik deur nou interpretasies van wetgewing en/of regsbeginsels struikelblokke in die pad plaas by die aanhoor van getuienis van getuies wat nie op die normale wyse hul getuienis kan voorlê nie.
Die oogmerk met hierdie subartikel sou na my mening reeds wees om te verhoed dat getuienis bloot omdat dit nie op gewone wyse verstaanbaar is vir die hof, beskuldigde en hofamptenare nie, uitgesluit word as daar wel ‘n manier is om die getuienis verstaanbaar te maak.
Daar is myns insiens geen beletsel daarteen om die getuienis van die klaer te ontvang deur middel van ‘n spraakterapeut of – deskundige nie, mits die persoon in die omstandighede bevoegd is om die getuienis van die klaer oor te tolk.
Daar sal noodwendig eers ondersoek ingestel moet word om te bepaal of die deskundige bevoegd is om die getuienis te tolk, waarna daar met behulp van die (deskundige) tolk ondersoek ingestel moet word of die klaer self bevoeg is om te getuig.
_____________________
CC WILLIAMS (WNR)
Erasmus R : Ek stem saam.
Dit word gelas dat die Streeklanddros voortgaan met die verhoor en pogings aanwend om deur middel van ‘n wye interpretasie van art 161 Wet 51/77 om die getuies van die klaer aan te hoor.
_____________________
NC ERASMUS R