South Africa: Western Cape High Court, Cape Town

You are here:
SAFLII >>
Databases >>
South Africa: Western Cape High Court, Cape Town >>
2003 >>
[2003] ZAWCHC 88
| Noteup
| LawCite
S v Henricks and Others (SS153/2002) [2003] ZAWCHC 88 (15 May 2003)
Download original files |
IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA
(KAAP DIE GOEIE HOOP PROVINSIALE AFDELING)
SAAKNOMMER: SS153/2002
DATUM: 15 MEI 2003
In die saak tussen:
DIE STAAT
en
VIRGIL HENDRICKS
2. GARTH MEYER
3. LINDSAY JANSEN
V 0 N N I S
GRIESEL. R:
Die beskuldigdes is almal deur hierdie Hof beskuldig bevind aan twee aanklagte van moord en twee van onwettige besit van vuurwapens en ammunisie. Dit is nou die plig van die Hof om die beskuldigdes vir hierdie misdade te straf.
Wat die aanklagte van moord aanbetref, aanklagte 2 en 3, net ons reeds daarop gewys dat die bepalings van artikel 51 gelees met Deel I van Bylae 2 van die Strafregwysigingswet, 105 van 1997, van toepassing is. Dit bring mee dat die Hof die voorgeskrewe vonnis van lewenslange gevangenisstraf moet opl§, tensy die Hof tevrede is dat wesenlike en dwingende omstandighede bestaan wat die oplegging van 'n mindere vonnis as die voorgeskrewe vonnis regverdig.
Die appelhof het in die saak van S v MALGAS 2001 (1) SASV 469 (HHA) riglyne neergele aangaande die benadering wat 'n vonnisoplegger moet volg by die oorweging van die vraag aangaande wesenlike en dwingende omstandighede. Die Hof het, onder andere, daarop gewys dat daar nie ligtelik en weens "flimsy reasons" van die neergelegde standaarde afgewyk behoort te word nie.
Al die faktore wat tradisioneel in ag geneem is by vonnisoplegging is steeds relevant. Dit behels die opweging van versagtende sowel as verswarende omstandighede. Indien oplegging van die voorgeskrewe vonnis egter tot 'n onregverdige resultaat sou lei, is die Hof geregtig om daarvan af te wyk.
Geeneen van die advokate vir die verdediging het met groot oortuiging geargumenteer dat daar in die huidige saak wel sodanige wesenlike en dwingende omstandighede aanwesig is nie en ek kon ook nie enige sodanige vind nie. Ek stem in ieder geval met advokaat De Lanqe. namens die Staat, saam dat enige moontlike versagtende omstandighede heeltemai oorskadu word deur die verswarende omstandighede.
Wat die persoonlike omstandighede van die beskuldigdes aanbetref, beskuldigde 1 is 26 jaar oud. Hy het twee vorige veroordelings weens aanranding met die opset om ernstig te beseer gepleeg gedurende 1993 en 1994 onderskeidelik, waarvoor hy gevonnis is eerstens tot ses houe met 'n ligte rottang en daarna vir twaalf maande korrektiewe toesig. Hy is reeds sedert 'n jeugdige ouderdom aan die bendesubkultuur blootgestel.
Beskuldigde 2 is 23 jaar oud en het matriek op skool geslaag. Ook hy is van jongs af met bendes deurmekaar. Hy kom uit 'n gebroke huis as gevolg van die feit dat sy ouers geskei is toe hy slegs 1 3 jaar oud was. Tans is hy die vader van een buite-egtelike kind van een jaar en vier maande oud. Hy het een vorige veroordeling weens onsedelike aanranding waarvoor hy in 1999 gevonnis is tot twaalf maande korrektiewe toesig en 100 uur gemeenskapsdiens.
Beskuldigde 3 is tans 30 jaar oud. Hy het 'n vaste verhouding met sy vriendin en het twee kinders. Hy het heelwat meer vorige veroordelings as sy mede-beskuldigdes waaronder 'n hele paar weens dwelmverwante oortredings. Daarby is hy ook gedurende 1994 sowel as 1999 weens die onwettige besit van 'n vuurwapen en ammunisie skuldig bevind, dieselfde oortreding waaraan hy in hierdie saak op aanklagte 4 en 5 skuldig bevind is. By die laaste geleentheid is hy tot agtien maande gevangenisstraf gevonnis, wat vir vyf jaar opgeskort is. Ek aanvaar dat daardie vonnis nou teen horn in werking gestel kan word as gevolg van sy skuldigbevinding in hierdie saak.
As deel van die getuienis ter strafverswaring het die Staat vir kaptein
Dryden geroep om te getuig aangaande ander sake wat tans nog teen die beskuldigdes hangende is of ondersoek word. Daar is beswaar gemaak vanaf verdedigingskant teen sodanige getuienis, aangesien die beskuldigdes nog nie op enige van daardie aanklagte skuldig bevind is nie. Ek het ten einde tyd te bespaar, die getuienis voorlopig toegelaat en het aangedui dat die bewyswaarde later oorweeg sou word. Advokaat De Lanqe het in hierdie verband, onder andere, gesteun op die appelhofuitspraak in R v ZONELI 1959(3) SA te 330. Volgens my oordeel is daardie saak egter onderskeibaar van die huidige, aangesien die Hof in daardie saak latere skuldigbevindings in aanmerking geneem het by oorweging van 'n gepaste vonnis. In die huidige saak word bloot gesteun op hangende sake teen die beskuldigdes. Die beskuldigdes word tans vermoed onskuldig te wees op daardie aanklagte totdat hulle skuld bo redelike twyfel bewys is. In die omstandighede word geen gewig geheg aan daardie getuienis nie.
Die misdade waaraan die beskuldigdes in die huidige saak skuldig bevind is, is uit die aard van die saak uiters ernstig. Die beskuldigdes het die betrokke aand die huis van die oorledene binnegegaan met die doel om horn te vermoor en het op koelbloedige wyse en eksekusiestyl die twee oorledenes doodgeskiet met onwettige vuurwapens. Die feit dat die oorledene, Pankie Khabela, in sy eie huis doodgeskiet is is beslis verswarend, aangesien dit neerkom op 'n flagrante skending van sy reg op lewe, fisiese integriteit sowel as privaatheid.
'n Verdere faktor wat die Hof nie uit die oog moet verloor by die oplegging van vonnis nie, is die belange van die gemeenskap. In hierdie verband is dit vera! die effek op die onmiddellike lede van die betrokke familie wat aandag verdien. Daar was getuienis voor die Hof dat die oorledene, Pankie, 'n uitgebreide familie gehad het wat hy onderhou het. Sy seun het hier getuig oor die effek van die dood op die familie wat hy beskryf het as "shattering". Die feit dat die oorledene moontlik 'n gedeelte van sy inkomste uit dwelmhandel verdien het, kan geensins as versagting ten gunste van die beskuldigdes dien nie.
Verder vereis die gemeenskap dat ernstige misdaad vasgevat en behoorlik gestraf sal word. Net so belangrik is die oorweging dat geen organisasie of individu in 'n demokratiese samelewing toegelaat kan word om die reg in eie hande te neem of om ander te intimideer nie. Dit is wat hier gebeur het deurdat die beskuldigdes as bendelede hulself die reg aangematig het om die oorledene tereg te stel weens redes waaroor daar slegs gespekuleer kan word. Hierdie Hof het 'n plig om 'n ondubbelsinnige boodskap uit te stuur dat sodanige optrede nie geduld kan word nie.
Die huidige misdade vestig weereens die aandag op die geweldige sosiale ontwrigting en ander probleme wat deur die bendesubkultuur op die Kaapse Vlakte meegebring word. Dit is algemene kennis dat daar feitlik permanent 'n staat van anargie heers waaraan die inwoners magteloos of onwillig is om iets te doen en waarin selfs onskuldige jong kinders dikwels in die kruisvuur van bendes beland en doodgeskiet word.
Dit was gevolglik vir hierdie Hof ontstellend om in hierdie saak te sien en te hoor op welke belangelose en onbeholpe wyse die polisie met hierdie probleem handel. Nog erger was die getuienis wat deur sommige van die staatsgetuies bevestig is van die wydverspreide korrupsie in die polisiediens wat lei tot 'n gebrek aan vertroue by lede van die gemeenskap. Ons weet uit daaglikse ondervinding - en ook uit die getuienis in hierdie saak - dat dit heel dikwels vir die polisie onmoontlik is om die skuldiges aan te keer, aangesien potensiele getuies te bang is vanwee intimidasie om na vore te kom om die skuldiges aan die man te bring.
In die huidige saak het 'n ooggetuie van die onderhawige misdade feitlik in die polisie se skoot beland in die persoon van Michelle Armstrong, maar tog het die polisie vir bykans drie maande niks gedoen om die skuldiges aan te keer nie totdat kaptein Dryden die ondersoek gedurende laat Oktober 2001 oorgeneem het. Tot sy krediet, het hy dadelik van die saak werk gemaak en het hy die beskuldigdes aangekeer.
Hierdie Hof kan slegs maar die hoop uitspreek dat die polisie in die toekoms daadwerklike stappe sal neem om hierdie toedrag van sake reg te stel en die Hof rig 'n versoek tot die staatsadvokaat om hierdie opmerkings van die Hof onder die aandag van die Distrikskommissaris van Polisie te bring. Gelukkig vir die vervolging in die huidige saak, was Michelle Armstrong in daardie stadium, toe kaptein Dryden oorgeneem het, steeds beskikbaar en bereid om te getuig, wat vir die gemeenskap 'n voorbeeld is hoedat 'n enkele individu met die nodige wil en ruggraat.
wel 'n verskil kan maak aan die misdaadprobleem.
Om dus saam te vat, op die getuienis as geheel bestaan daar, volgens my oordeel, geen wesenlike en dwingende omstandighede wat die oplegging van 'n mindere vonnis as lewenslange gevangenisstraf vir die moorde regverdig nie.
Ten opsigte van die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie, kan die twee aanklagte myns insiens saamgeneem word vir doeleindes van vonnis. Hiervoor sou 'n vonnis van drie jaar gevangenisstraf, myns insiens, gepas wees.
Vir die redes, soos uiteengesit, word al die beskuldigdes gevonnis soos volg:
Op elk van aanklagte 2 en 3 LEWENSLANGE GEVANGENISSTRAF:
Op aanklagte 4 en 5, saamgeneem vir doeleindes van vonnis DRIE (3) JAAR GEVANGENISSTRAF.
Daar word gelas ingevolge artikel 34(1) en 35{1) van die Strafproseswet dat die volgende bewysstukke aan die volgende persone teruggegee en/of aan die Staat verbeurd verklaar word:
Bewysstuk 1, die wit kussing, aan die Staat.
Bewysstuk 2, die groen kussing aan die Staat.
Bewysstuk 3, die patroondoppie Ballistiekeenheid,
Forensiesewetenskap laboratorium.
Bewysstuk 4, die patroonpunt ook aan die Ballistiekeenheid.
Bewysstuk 5, aan kaptein D Blomerus van die Ballistiekeenheid.
GRIESEL. R
OORSKRYFSTER SE SERTIHKAAT
Ek, die ondertekende, sertifiseer hiermee dat die voorgaande, tot die beste van my vermoe en sover dit hoorbaar is, 'n ware en juiste afskrif is van die oorspronklike getuienis wat deur middel van 'n meganiese opvangtoestel opgeneem is in die saak van:
DIE STAAT v VIRGIL HENDRICKS EN TWEE ANDER
DATUM AFGEHANDEL: 2.1.2004 LIASSEERNOMMER: SS153.VON
OORSKRYFSTER: G W MEINTJES
NAGESIEN DEUR:
GEKORRIGEER DEUR:
SNELLER TRANSKRIPSIES (EDMS) BEPERK. KAAPSTAD