South Africa: Western Cape High Court, Cape Town

You are here:
SAFLII >>
Databases >>
South Africa: Western Cape High Court, Cape Town >>
2004 >>
[2004] ZAWCHC 17
| Noteup
| LawCite
Davids and Others v Absa Bank beperk (A15/03) [2004] ZAWCHC 17; [2005] 1 All SA 583 (C); 2005 (3) SA 361 (C) (19 April 2004)
Download original files |
RAPPORTEERBAAR
IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA
[KAAP DIE GOEIE HOOP PROVINSIALE AFDELING]
In die saak tussen:
JOHANN LE MEYER DAVIDS Eerste Appellant
BASIL PETER CUPIDO Tweede Appellant
ANTHONY ABRE JOHAN COERECIUS Derde Appellant
en
ABSA BANK BEPERK Respondent
UITSPRAAK GELEWER: 19 APRIL 2004
FOURIE, R:
INLEIDING
[1] Die respondent het in die Bellville landdroshof aksie ingestel teen die drie appellante en ene Anthony Daniel Klaasen (“Klaasen”),gesamentlik en afsonderlik, vir betaling van die bedrag van R359, 009.69, tesame met rente en koste op die skaal soos tussen prokureur en kliënt. Die appellante en Klaasenhet die aksie bestry, maar by die aanhoor daarvan op 10 September 2002, was Klaasenin verstek en het die landdros vonnis by verstek teen hom toegestaan. Die verhoor van die aksie teen die appellante het voortgegaan en na die aanhoor van mondelinge getuienis, het die landdros vonnis teen appellante gesamentlik en afsonderlik toegestaan, soos aangevra deur respondent. Die appellante kom nou in hoër beroep teen die vonnis van die landdros en die bevel ten aansien van koste.
PLEITSTUKKE
[2] Die respondent se skuldoorsaak word gegrond op onbeperkte skriftelike borgaktes wat die appellante op 26 Maart 1998 by die Bellville tak van respondent onderteken het. Die appellante erken dat hulle die gemelde borgaktes onderteken het, maar voer aan dat dit ‘n uitdruklike beding van ‘n voorafgaande mondelinge ooreenkoms tussen respondent en appellante was dat appellante se totale aanspreeklikheid beperk sou wees tot ‘n bedrag van R50, 000.00. Appellante beweer voorts dat hulle die onderskeie borgaktes onderteken het in die bona fide, maar foutiewe geloof dat dit die ooreenkoms tussen die partye behoorlik weergee, terwyl die borgaktes, strydig met sodanige ooreenkoms, van onbeperkte omvang was. Appellante voer derhalwe aan dat die betrokke borgaktes nietig, alternatiewelik vernietigbaar is.
[3] Die appellante se verweerskrif is geen toonbeeld van duidelikheid nie. Aanvanklik wil dit voorkom of die pleitbesorger steun op ‘n verweer van rektifikasie, maar later blyk dit tog dat daar gesteun word op eensydige dwaling wat tot gevolg het dat die betrokke borgaktes nietig, alternatiewelik vernietigbaar is. Soos Harms WAR (soos hy toe was) dit in Sonap Petroleum (SA) (Pty) Ltd v Pappadogianis, [1992] ZASCA 56; 1992 (3) SA 234 (A) te 238D-E, beklemtoon het, is rektifikasie en eensydige dwaling wedersyds uitsluitende begrippe, aangesien rektifikasie ‘n gemeenskaplike bedoeling veronderstel terwyl eensydige dwaling ‘n gemeenskaplike bedoeling uitsluit.
[4] Dit blyk egter uit die oorkonde van die verrigtinge in die hof a quo, dat die partye en die landdros die saak benader het op die basis dat die appellante se verweer dié van eensydige dwaling is wat ‘n afwesigheid van wilsooreenstemming tot gevolg gehad het. Dit is dus duidelik dat die ware geskilpunt deur die partye uitgepluis en deur die hof a quo is, met gevolg dat daar nie meer soveel nadruk op die pleitstukke gelê hoef te word nie. Sien Sentrachem Bpkv Wenhold, 1995 (4) SA 312 (AA) te 320 A.
[5] Samevattend was die landdros geroepe om die volgende geskilpunte te bereg:
(a) Het die appellante in dwaling verkeer? en, indien wel,
(b) Wat was die gevolg (indien enige) van sodanige dwaling? In besonder, het sodanige dwaling die nietigheid van die betrokke borgaktes tot gevolg gehad?
[6] Wat die bewyslas betref, was die partye in die hof a quoen op appèl dit eens dat appellante geroepe was om op ‘n oorwig van waarskynlikhede te bewys dat hulle in dwaling verkeer het, welke dwaling die nietigheid van die borgaktes tot gevolg gehad het. Ek aanvaar derhalwe, sonder om ‘n bevinding in hierdie verband te maak, dat die bewyslas op die appellante gerus het.
AGTERGROND
[7] Die ondervermelde agtergrondfeite is gemeensaak of onbetwis:
(a) Die eerste en derde appellante, tesame met ene John Edward Bailey (“Bailey”)en Klaasen, het belê in ‘n besigheid wat bedryf is onder die naam Just Foam BK (“Just Foam”). Die tweede appellant was betrokke by Just Foam as ‘n werwer van beleggings. Baileyen Klaasenhet die daaglikse hantering en bestuur van die besigheid van Just Foam behartig. Gedurende 1998 het Just Foam kontantvloei probleme ondervind en het Baileyvir appellante meegedeel dat bedryfskapitaal van R50, 000.00 benodig word ten einde chemikalieë aan te koop. Die appellante het ingestem om hulle te verbind om hierdie bedryfskapitaal te bekom en het Baileyonderneem om die nodige reëlings te tref om ‘n lening vir die bedrag van R50, 000.00 van die respondent te bekom. Appellante, Baileyen Klaasen ooreengekom dat elkeen aanspreeklik sou wees teenoor respondent vir ‘n bedrag van R10, 000.00.
(b) Bailey die onderhandelinge met respondent se Bellville tak gevoer. Op hierdie tydstip was die limiet van die oortrokke fasiliteit wat respondent aan Just Foam toegestaan het, ‘n bedrag van R150, 000-00. Baileyen Klaasenhet op ‘n vroeër stadium, naamlik op 8 Junie 1997, reeds onbeperkte borgaktes ten gunste van respondent verly vir die oortrokke fasiliteit van Just Foam. Na die ondertekening van die onderhawige drie borgaktes deur appellante op 26 Maart 1998, het respondent die oortrokke limiet van Just Foam verhoog na R200, 000-00.
(c) Baileyhet die appellante verwittig dat hy al die reëlings met respondent getref het ter verkryging van die addisionele finansiering en dat appellante op 26 Maart 1998 na respondent se Bellville tak moes gaan vir die ondertekening van die nodige dokumentasie. Appellante het voor ondertekening van die betrokke borgaktes geen persoonlike kontak hoegenaamd met respondent gehad nie. Baileywas op 26 Maart 1998 ook by respondent se Bellville tak, maar nie teenwoordig tydens die ondertekening van die borgaktes nie.
[d] Mnr. J. W. Geldenhuys, die bestuurder van respondent se Bellville tak, was op 26 Maart 1998 teenwoordig toe elk van die appellante sy betrokke borgakte onderteken het. Elke appellant se eggenote was ook teenwoordig en het die betrokke borgakte mede-onderteken, aangesien appellante in gemeenskap van goedere getroud was. Dit dien gemeld te word dat die appellante en hulle eggenotes die betrokke borgaktes by verskillende geleenthede op 26 Maart 1998 onderteken het, d.w.s. die onderskeie egpare het nie die borgaktes in mekaar se teeenwoordigheid onderteken nie, maar wel in die teenwoordigheid van Geldenhuys.
DIE LANDDROS SE BEVINDING
[8] Die landdros het, na my mening tereg, bevind dat appellante in dwaling verkeer het. Hulle ware bedoeling was om saam met Baileyen Klaasenaanspreeklikheid te aanvaar teenoor respondent vir ‘n totale bedrag van R50, 000-00. Hulle het egter die onbeperkte borgaktes onderteken in die bona fide, maar foutiewe geloof dat die borgaktes aldus beperk was. Die landdros het egter bevind dat nieteenstaande sodanige dwaling, die appellante gebonde is teenoor respondent uit hoofde van die onbeperkte borgaktes. Ek handel hierinlater meer volledig met die landdros se redes vir laasgenoemde bevinding.
TOEPASLIKE REGSBEGINSELS
[9] Die vertrekpunt is die landdros se bevinding dat appellante by ondertekening van die borgaktes in dwaling verkeer het oor die inhoud daarvan. Daarteenoor was die respondent se bedoeling dat appellante onbeperkte borgaktes moes verly en het die skriftelike borgaktes gevolglik die respondent se ware bedoeling weergegee. Die vraag wat dan beantwoord moet word, is of appellante se eensydige dwaling die afwesigheid van wilsooreenstemming (dissensus) tot gevolg gehad het. Anders gestel, is die vraag of appellante se dwaling wesenlik was. In Trust Bank of Africa Ltd v Frysch, 1977 (3) SA 562 (AA) te 587 D-E, stel Corbett AR (soos hy toe was) dit as volg:
“It is trite, nevertheless, that not every error in the mind of a
contracting party, even if induced by the other party, results in the vitiation of the contract on the ground of dissensus. To have this effect the error must, at least, have played a material role in the decision of the mistaken party to enter into the contract.”
[10] Indien bevind word dat appellante se dwaling wel wesenlik was en dissensus tot gevolg gehad het, is die volgende vraag of appellante hulle hierop kan beroep ten einde aan te voer dat dit die nietigheid van die borgaktes tot gevolg gehad het. Hierdie vraag beslaan ‘n problematiese gebied van ons reg waar daar nie altyd duidelikheid is oor die korrekte benadering by ‘n beroep op die afwesigheid van wilsooreenstemming weens dwaling nie. In ‘n insiggewende artikel van Hutchison en Van Heerden, getitel “Mistake in Contract: A comedy of (justus) errors”, SA Law Journal, Volume 104, November 1987 te 523, het die skrywers dit as volg gestel:
“Despite the flurry of cases and articles on the topic, the law on mistake remains riddled with apparent contradictions”.
[11] Hutchison en Van Heerden het in hulle gemelde artikel verwys na die twee verskillende benaderings wat ons howe gevolg het by ‘n beroep op dissensus weens dwaling. Hulle stel dit as volg te 523:
“Thus, for example, the Appellate Division has in a series of recent cases expressed the view that, in its approach to the formation of a contract, our law adheres to the subjective will theory, as tempered by the reliance theory in the form of the doctrine of quasi-mutual assent, that is the principle expressed by Blackburn J in the famous English case of Smith v Hughes (1871) LR 6 QB 597 at 607 (See Saambou-Nasionale Bouvereniging v Friedman 1979(3) SA 978 (A); Mondorp Eiendomsagentskap (Edms) Bpk v Kemp en De Beer 1979(4) SA 74 (A); Spes Bona Bank Ltd v Portals Water Treatment South Africa (Pty) Ltd 1983 (1) SA 978 (A)). Nevertheless the courts persist in applying to cases of mistake the doctrine of justus error which, although perhaps also a reflection of the reliance theory, is generally regarded as a corrective to the objective declaration theory.”
Die skrywers het ‘n beroep gedoen dat hierdie onderskeid in benadering in die geval van dwaling uit die weg geruim moet word en die volgende voorgestel te 530:
“..... consistency, clarity and simplicity in this area of the law can best be achieved by asking in all cases of mistake: did the parties reach consensus (that is, was the mistake material)? If not, did the one party induce in the mind of the other the reasonable belief that consensus had been reached? If the concept of justus error is to be retained, it should consistently be defined in terms of reasonable reliance of the other party.”
[12] In Sonap Petroleum (Pty) Ltd v Pappadogianis, supra, het die Appèlhof by monde van Harms WAR die volgende beginsel soos neergelê in South African Railways and Harbours v National Bank of South Africa Limited, 1924 AA 704 te 715-716, bekragtig:
“The law, as a general rule, concerns itself with the external manifestations and not the workings, of the minds of parties to a contract.”
Die geleerde Appèlregter wys egter te 238J-239A verder daarop dat in die geval van beweerde dissensus ons reg met ‘n beroep op die vertrouensteorie bepaal of ‘n afdwingbare kontrak tussen die partye tot stand gekom het. In hierdie verband verwys die geleerde regter na twee beslissings van die Appèlhof, naamlik George v Fairmead (Pty) Ltd, 1958 (2) SA 465 en National and Overseas Distributors Corporation (Pty) Ltd v Potato Board, 1958 (2) SA 473, waar, volgens Harms WAR, gesaghebbend gehandel is met die vraagstuk van iustus error in die konteks van sogenaamde eensydige dwaling. Die geleerde regter kom te 239G-H tot die gevolgtrekking dat dit die benadering van die Appèlhof was om vir doeleindes van die laasgenoemde twee beslissings die volgende bekende dictum van Blackburn J in Smith v Hughes, supra te 607, aan te pas:
“If, whatever a man’s real intention may be, he so conducts himself that a reasonable man would believe that he was assenting to the terms proposed by the other party, and that other party upon the belief enters into the contract with him, the man thus conducting himself would be equally bound as if he had intended to agree to the other party’s terms.”
[13] Die Appèlhof het gevolglik in die Sonap Petroleum-saak die vertrouensteorie as grondslag aanvaar vir die beoordeling van die geldigheid van ‘n beroep van ‘n kontrakparty op dissensus weens eensydige dwaling. Harms WAR kom te 239I-240B tot die gevolgtrekking dat die bepalende vraag wat gevra moet word by ‘n beroep op dissensus weens beweerde eensydige dwaling, die volgende is:
“Het die party wie se werklike bedoeling nie ooreenstem met die gemeenskaplik verklaarde bedoeling van die partye nie, die ander party, as’n redelike man, beweeg om te aanvaar dat sy verklaarde bedoeling sy werklike bedoeling verteenwoordig?”(my vertaling).
Die geleerde regter doen verder aan die hand dat die volgende drieledige ondersoek nodig is ten einde hierdie vraag te beantwoord:
“Eerstens, was daar ‘n wanvoorstelling met betrekking tot een party se bedoeling? Tweedens, wie het die wanvoorstelling gemaak? Derdens, was die ander party daardeur mislei? Wat die laaste vraag betref, word twee moontlikhede voorsien: Was hy werklik mislei en sou ‘n redelike man mislei gewees het?” (my vertaling).
[14] ‘n Beslissing waar die ondertekenaar van ‘n borgakte hom suksesvol beroep het op dissensus weens sy eensydige dwaling, nieteenstaande die skyn van ‘n kontrak wat hy verwek het deur die ondertekening van ‘n onbeperkte borgakte, is Prins v Absa Bank Ltd, 1998 (3) SA 904 (K). Davis WR (soos hy toe was), met Friedman RP instemmend, het bevind dat die borg bewys het dat dit onredelik sou wees indien die bank toegelaat sou word om hom te beroep op die onbeperkte borgakte. Davis WR stel te 909B-D, die volgende reeks vrae voor ten einde te bepaal of ‘n verweer van hierdie aard behoort te slaag:
“In other words, the following series of questions can be used to determine whether a reliance on the contract was reasonable in terms of the conduct of the party allegedly creating the impression of consensus and the conduct of the other party in believing this impression:
1. Is there consensus?
2. If not, is the dissensus caused by a mistake?
3. Is the other party aware of the resiler’s mistake?
4. Who induced the mistake and was it done by commission or omission which was either fraudulent, negligent or even innocent?
This set of questions is designed to assist the enquiry into the justification for relying on the form of the contract and hence the appearance of consensus.”
[15] Ek is, met respek aan die geleerde regters, van mening dat dit nie nodig was vir die beslissing van die Prins-saak om opnuut die vrae te 909B-D te formuleer nie. Soos in paragraaf (13) hierbo aangedui, het die Appèlhof reeds in die Sonap Petroleum-saak ‘n drietal vrae voorgestel wat logies en duidelik is en as volg in die Prins-saak aangewend kon word:
(a) Was daar ‘n wanvoorstelling met betrekking tot een party se bedoeling? Antwoord - Ja.
(b) Wie het die wanvoorstelling gemaak? Antwoord - Die borg wie se werklike bedoeling nie ooreengestem het met die gemeenskaplik verklaarde bedoeling van die partye soos vervat in die skriftelike borgakte nie.
(c) Was die bank daardeur mislei? Antwoord - Al was die bank werklik mislei deur die wanvoorstelling, sou ‘n redelike persoon in die posisie van die betrokke bankamptenaar nie daardeur mislei gewees het nie.
TOEPASSING VAN DIE REGSBEGINSELS OP DIE FEITE
[16] Dit is eerstens in hierdie verband nodig om te verwys na twee brokkies getuienis wat deur appellante gelewer is:
(a) Die eerste appellant en sy eggenote het getuig dat Geldenhuys voor die ondertekening van die betrokke borgakte aan hulle gemeld het dat “hulle net teken vir R50 000-00”. Geldenhuys het in sy getuienis ontken dat hy dit gesê het. Na my mening het die landdros tereg bevind dat dit onwaarskynlik is dat Geldenhuys hierdie woorde sou geuiter het, terwyl daar ‘n onbeperkte borgakte voor hom op die lessenaar was wat nog deur eerste appellant en sy eggenote onderteken moes word.
(b) Tweede appellant en sy eggenote het getuig dat hy by die ondertekening van die borgakte teenoor haar opgemerk het dat appellante hulle slegs vir ‘n bedrag van R50 000-00 verbind en dat Geldenhuys waarskynlik hierdie opmerking sou gehoor het. Geldenhuys kan nie onthou dat so ‘n opmerking gemaak was nie, maar is ek dit eens met die landdros se bevinding dat dit onwaarskynlik is dat ‘n hoorbare opmerking van hierdie aard gemaak was.
[17] Die strekking van appellante en hulle eggenotes se getuienis is dat Geldenhuys haastig was tydens die ondertekening van die borgaktes en nie die aard of inhoud daarvan aan hulle verduidelik het nie. Die betrokke borgaktes bestaan uit ‘n enkele dokument, maar bevat drie bladsye. Volgens appellante en hulle eggenotes het Geldenhuys nie die eerste bladsy van die betrokke borgaktes aan hulle voorgelê tydens ondertekening nie, maar slegs die laaste bladsy waarop die handtekeninge aangebring moes word. Die appellante en hulle eggenotes het die onderskeie borgaktes onderteken sonder dat hulle dit gelees het.
[18] Dit is duidelik dat Geldenhuys nie kon onthou wat presies gebeur het op die dag van die ondertekening van die borgaktes deur appellante nie. Daarvoor kan hy sekerlik nie kwalik geneem word nie aangesien ‘n tydperk van meer as vier jaar reeds ten tyde van die verhoor verstryk het. Hy het dus bloot getuig oor die normale praktyk wat hy volg by die ondertekening van bankdokumente deur kliënte. Die landdros het na my mening tereg bevind dat Geldenhuys redelik min tyd met elk van die appellante spandeer het en waarskynlik nie die inhoud van die betrokke borgaktes aan hulle verduidelik het nie. Soos reeds gemeld, het die landdros na my mening tereg bevind dat appellante nie besef het dat hulle onbeperkte borgaktes onderteken nie en derhalwe gedwaal het oor die inhoud van die betrokke borgaktes.
[19] Dit behoef na my mening nie enige betoog dat die appellante se dwaling wesenlik was nie. Hulle getuienis is duidelik dat indien hulle bewus was daarvan dat die betrokke borgaktes onbeperk was, hulle dit nie sou onderteken het nie. Dit is dus duidelik dat hulle dwaling dissensus tot gevolg gehad het.
[20] Die drietal vrae soos voorgestel deur Harms WAR in die Sonap Petroleum-saak, kan vervolgens aangewend word ten einde te bepaal of die appellante se beroep op dissensus weens hulle eensydige dwaling, behoort te slaag. Die eerste vraag of daar ‘n wanvoorstelling met betrekking tot een party se bedoeling was, moet bevestigend beantwoord word aangesien die appellante se verklaarde bedoeling soos vervat in die skriftelike borgaktes, nie ooreengestem het met hulle werklike bedoeling nie. Dit beantwoord terselfdertyd ook die tweede vraag oor wie die wanvoorstelling gemaak het, naamlik die appellante. Die laaste vraag wat dan beantwoord moet word, is of respondent werklik mislei was en, indien wel, of ‘n redelike persoon mislei sou gewees het.
[21] Die strekking van die landdros se bevinding is dat appellante nie vir respondent, en in besonder vir Geldenhuys, kan blameer vir die dwaling waaronder hulle verkeer het nie en gevolglik teenoor respondent gebonde is uit hoofde van die borgaktes. Na my mening het die landdros met hierdie benadering misgetas aangesien die skuldbeginsel nie toepassing behoort te vind nie. (Sien die Sonap Petroleum-saak te 240C-I). Soos reeds gemeld, is die werklike vraag egter of Geldenhuys deur die apellante se voormelde wanvoorstelling mislei was en of ‘n redelike persoon in die posisie van Geldenhuys daardeur mislei sou gewees het. Geldenhuys kon nie die gebeure tydens die ondertekening van die borgaktes onthou nie en is die vraag dus of ‘n redelike persoon in die posisie van Geldenhuys deur appellante se wanvoorstelling mislei sou gewees het. Anders gestel, sou die redelike persoon aanvaar het dat die appellante se ware bedoeling by die ondertekening van die borgaktes was om hulle onbeperk teenoor respondent te verbind vir die verskuldigheid van Just Foam?
[22] Geldenhuys as die verteenwoordiger van respondent wat betrokke was by die verhoging van Just Foam se oortrokke fasilitiet en die verkryging van verdere borge, was teenwoordig tydens, en bewus van al die tersaaklike feite en omstandighede wat aanleiding gegee het tot, die ondertekening van die betrokke borgaktes deur appellante. Ek is aan die hand van die volgende getuienis van oordeel dat ‘n redelike persoon in die posisie en met die kennis van Geldenhuys in die gegewe omstandighede bewus sou gewees het dat dit waarskynlik nie die ware bedoeling van die appellante was om hulle onbeperk teenoor respondent te verbind vir die skuld van Just Foam nie:
(a) Die appellante, anders as Bailey en Klaasen, het hulle nie voor 26 Maart 1998 teenoor respondent verbind vir die skuld van Just Foam nie. Hulle was gevolglik nie teenoor respondent aanspreeklik vir enige skuld van Just Foam wat opgeloop het voor 26 Maart 1998 nie.
(b) Die onderhandeling tussen Bailey, namens Just Foam, en die respondent, was vir die verhoging van Just Foam se oortrokke limiet met ‘n bedrag van R50, 000-00. Dit was ten aansien van hierdie verhoging wat addisionele borge bekom moes word aangesien respondent van oordeel was dat die bestaande borgskappe van Bailey en Klaasen onvoldoende was om die verhoging te regverdig.
(c) Die oortrokke fasiliteit van Just Foam is onmiddellik na ondertekening van die borgaktes deur appellante op 26 Maart 1998, met ‘n bedrag van R50, 000-00 verhoog.
(d) Geldenhuys getuig as volg oor die rede waarom addisionele borge bekom was:
“As ek nou reg onthou het hulle ekstra kontrakte of iets bekom wat hulle besigheid sou uitbrei daarom het hulle mense gekry om vir hulle sekuriteit te staan vir die ekstra geld.” (my beklemtoning)
Die “ekstra geld” waarna Geldenhuys verwys, is klaarblyklik ‘n verwysing na die bedrag van R50, 000-00 waarmee Just Foam se oortrokke limiet verhoog sou word.
(e) Bailey en Klaasen het met respondent oor die verkryging van verdere borge onderhandel en het appellante dus vir die eerste keer by ondertekening van die betrokke borgaktes insae daarin gehad. Geldenhuys het dus geen sekerheid gehad dat Bailey en Klaasen die bank se vereistes ten aansien van verdere borgskappe korrek aan appellante oorgedra het nie.
(f) Appellante het nie by ondertekening die betrokke borgaktes, en in besonder die eerste bladsy daarvan, gelees nie. Hulle sou dus nie uit hoofde van die inhoud van die borgaktes wat hulle wel gelees het, daarop bedag gewees het dat dit onbeperkte borgaktes was nie.
[23] In die lig van voormelde is ek van oordeel dat ‘n redelike persoon in die posisie van Geldenhuys, welwetende dat appellante nie betrokke was by die onderhandelinge met respondent wat die ondertekening van die borgaktes voorafgegaan het nie, nie mislei sou gewees het om te glo dat appellante deur die ondertekening van die borgaktes bedoel het om hulle onbeperk te verbind vir die verpligtinge van Just Foam nie. Ek is verder van mening dat ‘n redelike persoon in die gegewe omstandighede die aard en inhoud van die betrokke borgaktes aan die appellante sou verduidelik het ten einde te verseker dat hulle ware bedoeling korrek daarin weergegee word. Soos reeds gemeld, het Geldenhuys versuim om dit te doen en is ek dus van mening dat ‘n redelike persoon nie deur appellante se ondertekening van die betrokke borgaktes mislei sou gewees het om te glo dat die inhoud van die betrokke borgaktes die ware bedoeling van die appellante korrek weergegee het nie. Dit moet in hierdie verband in gedagte gehou word dat Geldenhuys getuig het dat respondent tydens die opleiding van sy amptenare dit benadruk dat die inhoud van dokumente voor ondertekening aan kliënte verduidelik moet word en nie bloot aanvaar moet word dat kliënte bewus is van die inhoud daarvan nie. Die klaarblyklike rede vir hierdie opdrag aan respondent se amptenare is om te verseker dat kliënte weet wat hulle teken en daar gevolglik wilsooreenstemming sal wees. Geldenhuys was deeglik bewus van hierdie opdrag, maar het hy in die onderhawige geval, waarskynlik weens ‘n oormaat van haas, verkies om dit nie na te kom nie.
[24] Daar is na my mening ook ‘n verdere rede waarom dit van ‘n redelike persoon verwag sou word om die aard en inhoud van die borgaktes aan die appellante te verduidelik. Ek verwys in hierdie verband na die inhoud van die borgaktes. Ter illustrasie kan verwys word na die eerste bladsy van elk van die borgaktes wat, met uitsluiting van die opskrif, ‘n verstommende 1255 woorde bevat. Dit is verder verstommend dat die 1255 woorde in slegs vyf sinne vervat word. Die eerste sin bevat 370 woorde en die laaste sin 584 woorde. Die appellante het nie die borgaktes gelees nie, maar moet die vraag gevra word hoeveel sin hulle daarvan sou kon gemaak het indien hulle dit wel gelees het. Het die tyd nie aangebreek dat finansiële instellings verplig behoort te word om in die geval van ‘n dokument van hierdie aard, ‘n kort opsomming voor ondertekening aan die kliënt te verskaf nie? In hierdie verband kan verwys word na die verpligting wat aan versekeraars opgelê word kragtens artikel 48 van die Langtermynversekeringswet, No.52 van 1998, om ‘n opsomming van ‘n langtermynpolis aan ‘n versekerde te verskaf. Na my mening verg die openbare belang dat ‘n uiters moeilik verstaanbare dokument van hierdie aard, veral waar die ondertekening daarvan sulke drastiese gevolge kan hê, aan die persoon wat dit moet onderteken, verduidelik word. Sien Eerste Nasionale Bank van Suidelike Afrika Beperk v Saayman NO, [1997] ZASCA 62; 1997 (4) SA 302 (HHA) te 331B-H.
GEVOLGTREKKING
[25] Uit hoofde van die voorafgaande is ek van mening dat die landdros fouteer het deur nie die appellante se verweer te handhaaf en die vordering teen hulle van die hand te wys nie.
[26] Ek sou derhalwe die volgende bevel maak:
(a) Die appèl slaag met koste.
(b) Die landdros se vonnis en bevel ten aansien van koste word tersyde gestel en vervang met die volgende:
“Die eis teen die tweede tot vierde verweerders word met koste van die hand gewys.”
_______________ P.B. Fourie, R
Ek stem saam.
________________
L. Bozalek, R
Ek stem saam en dit word aldus gelas.
______________
J.V. Knoll, R
RAPPORTEERBAAR
IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA
[KAAP DIE GOEIE HOOP PROVINSIALE AFDELING]
Saaknommer: A15/03
In die saak tussen:
JOHANN LE MEYER DAVIDS Eerste Appellant
BASIL PETER CUPIDO Tweede Appellant
ANTHONY ABRE JOHAN COERECIUS Derde Appellant
en
ABSA BANK BEPERK Respondent
Advokaat namens Appellante : Adv. H.E. De La Rey
Advokaat namens Respondent : Adv. T. Le Roux
Prokureur namens Appellante : Mnr. A De La Rey van De La Rey Prokureurs
Prokureur namens Respondent : Bornman & Hayward
Verhoordatum : 6 Februarie 2004
Uitspraak : 19 April 2004