South Africa: Western Cape High Court, Cape Town

You are here:
SAFLII >>
Databases >>
South Africa: Western Cape High Court, Cape Town >>
2004 >>
[2004] ZAWCHC 6
| Noteup
| LawCite
Joubert v Joubert (A1027/2003) [2004] ZAWCHC 6; [2004] 1 All SA 426 (C) (6 February 2004)
Download original files |
IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA
(KAAP DIE GOEIE HOOP PROVINSIALE AFDELING)
In die saak tussen:
URSULA RUST JOUBERT Appellant
en
HENDRIK LUDOLPH NEETHLING JOUBERT Respondent
UITSPRAAK: 06 FEBRUARIE 2004
VAN ZYL R:
INLEIDING
[1] Hierdie is ‘n appèl teen ‘n gedeelte van die bevel wat op 26 September 2002 deur Waarnemende Regter Newdigate in die hof a quo gegee is. Hoewel die oorkonde lywig is, is die relevante gedeelte daarvan vir doeleindes van die appèl betreklik beperk, vir sover die getuienis van slegs die partye self en van ene J F Wilbers ter sake is. In sowel hierdie hof as die hof a quo is die appellant (verweerder) deur mnr Ferreira verteenwoordig, terwyl mnr de Haan namens die respondent (eiser) opgetree het. Die hof wil graag sy dank teenoor hulle betuig vir die bekwame wyse waarop hulle die partye se sake voorgedra en beredeneer het.
[2] Die partye is op 15 Desember 1979 buite gemeenskap met mekaar getroud. Daar is drie kinders uit die huwelik gebore, naamlik ‘n dogter Sulante, ‘n seun Neethling en ‘n dogter Ninke, wat onderskeidelik vyftien, dertien en tien jaar oud was ten tye van die uitreik van dagvaarding op 12 Desember 2000. In sy besonderhede van vordering het die respondent aan die hand gedoen dat die huwelik tussen die partye onherstelbaar verbrokkel het en dat dit in die beste belang van die kinders sou wees indien beheer en toesig oor hulle aan hom toegeken sou word, onderhewig aan die appellant se redelike toegang tot hulle. Daarteenoor het hy aangebied om sekere bates aan haar oor te dra en rehabiliterende onderhoud in die bedrag van R2 000,00 per maand vir ‘n tydperk van een jaar aan haar te betaal.
[3] Die appellant het in haar verweerskrif erken dat die huwelik onherstelbaar verbrokkel het maar het ontken dat dit in die kinders se beste belang sou wees indien die beheer en toesig oor hulle aan die respondent toegestaan sou word. In haar gewysigde teeneis het sy self beheer en toesig oor die kinders gevorder, onderhewig aan die respondent se redelike toegang tot hulle. Voorts het sy onderhoud vir die kinders gevorder asook onderhoud vir haarself in die bedrag van R2 500,00 per maand en betaling van al haar mediese uitgawes tot haar dood of hertroue. Daarbenewens het sy, ingevolge die bepalings van artikel 7(3) van die Wet op Egskeiding 70 van 1979 (“die Wet”), ‘n derde van die respondent se netto bates geëis.
[4] In sy pleit op die teeneis het die respondent daartoe ingestem om ‘n derde van sy netto bates aan die appellant oor te dra. Hy het egter daarby volstaan dat die beheer en toesig oor die kinders aan hom toegeken moet word en dat hy slegs rehabiliterende onderhoud aan haar betaal.
[5] Ten tye van die verhoor was die partye dit eens dat dit in die beste belang van die twee oudste kinders sou wees indien beheer en toesig oor hulle aan die respondent toegeken sou word. Die bewaring van die jongste kind, Ninke, was egter in geskil. Ook in geskil was ‘n gepaste verdeling van die respondent se netto bates. Waar die appellant aanvanklik ‘n derde daarvan gevorder het, het sy nou haar visier op twee derdes daarvan gestel. Sy het egter haar onderhoudseis tot R1 800,00 per maand, tesame met mediese en verwante uitgawes, verminder. Die respondent het steeds rehabiliterende onderhoud aangebied, maar nou slegs vir ‘n tydperk van ses maande.
[6] Na aanhoor van getuienis en oorweging van die betoog namens die partye, het Newdigate WR beveel dat die beheer en toesig oor al drie kinders aan die respondent toegestaan moet word, onderhewig aan die appellant se reg op redelike toegang. Wat betref die verdeling van die netto waarde van die respondent se bates en die onderhoud aan die appellant betaalbaar, het hy in paragrawe 4 en 5 van sy bevel soos volg beveel:
4. Die Eiser sal ‘n bedrag gelyk aan een-derde van die netto-waarde van sy boedel aan die Verweerderes oorbetaal. Vir hierdie doeleindes sal die versekeringspolisse bestem vir die verdere opleiding van die kinders, Sanlam-polisse Nr. 1593128XO, 9854745X8 en 10974050X6, nie by die bates van die eiser ingereken word nie. Die betaling van die Eiser ingevolge hierdie gedeelte van die bevel sal binne ‘n tydperk van drie maande vanaf die datum van die bevel gemaak word.
Die Eiser sal aan die Verweerderes onderhoud in die bedrag van R1 800.00 per maand betaal vir ‘n tydperk van 18 maande vanaf die datum van hierdie bevel, betaalbaar op die eerste dag van elke daaropvolgende maand. Gedurende hierdie tydperk sal die Eiser ook verplig wees om al die Verweerderes se mediese en verwante uitgawes te betaal.
Die huidige appèl word slegs teen hierdie twee paragrawe van die hof a quo se bevel gerig.
DIE GETUIENIS
[7] Die relevante gedeelte van die respondent se getuienis was, in 'n neutedop, dat sy huwelik van vroeg af reeds ongelukkig was maar dat sy drie kinders die middelpunt van sy bestaan was. Hulle was juis die rede waarom hy nie in 'n heelwat vroeër stadium stappe geneem het om die huwelik te beëindig nie. Dit was nie sy ambisie om ryk te word nie en hy het geen besondere professionele ideale gekoester nie. Dit was juis een van die probleme in die huwelik. Hoewel sy vrou, die appellant, 'n knap regssekretaresse was, het hy verkies dat sy na die geboorte van hulle eerste kind nie meer werk nie. Sedert hulle uitmekaar is, was sy finansiële posisie benard en was hy grotendeels van sy moeder, by wie hy gewoon het, afhanklik. Indien die gesinswoning egter teen 'n geraamde prys van R750 000,00 verkoop sou word, sou hy daartoe in staat gestel word om homself en die kinders na behore te kan onderhou. Hy het toegegee dat hy ook skuld aan die verbrokkeling van die huwelik gehad het en was heeltemal bereid om 'n derde van die netto waarde van sy boedel aan die appellant af te staan, asook om vir 'n beperkte tydperk rehabiliterende onderhoud aan haar te betaal. Volgens hom sou sy sonder te veel moeite weer werk kon vind by 'n prokureursfirma en aldus 'n goeie inkomste genereer, mits sy bereid sou wees om haar kennis en kundigheid weer op datum to bring en 'n toepaslike rekenaarkursus te voltooi. Hy self het intussen 'n verhouding met ene mev Helen Jurgens, 'n geskeie dame met twee dogters, aangeknoop en was van voorneme om met haar te trou sodra die egskeiding afgehandel is.
[8] In kruisondervraging is die respondent in die fynste besonderhede oor sy finansiële posisie uitgevra ten einde vas te stel wat die waarde van sy bates is en in welke mate hy daartoe in staat sou wees om sy inkomste te vergroot en sy uitgawes te verminder. Voorts is groot gewag gemaak van die bydraes wat deur die appellant en haar ouers gemaak is tot die vergroting van sy boedel. In die uitspraak van die hof a quo word daar volledig met sodanige getuienis gehandel. Ek is dus nie van voorneme om dit te herhaal nie.
[9] Die appellant het getuig oor haar loopbaan in regssekretariële werk, wat sy sewentien jaar laas (1985) gedoen het. Sy en die respondent het hulle huis in Pretoria vir R80 000,00 gekoop met behulp van 'n skenking van R15 000,00 wat sy van haar ouers ontvang het en 'n lening van R65 000,00 wat haar vader aan haar voorgeskiet het. Die huis is in haar naam geregistreer. Met die opbrengs uit die verkoop van hierdie huis was hulle in staat gestel om ‘n huis in Somerset-Wes te koop. Hierdie huis is in die respondent se naam geregistreer en dit is gemene saak dat dit sy grootste bate is. Volgens die appellant kom twee derdes daarvan haar toe aangesien dit deur middel van die voormelde skenking, lening en diverse verdere bydraes deur haar gemaak, aangeskaf is. Hoewel sy bereid was om weer tot die arbeidsmark toe te tree en om ‘n rekenaarkursus met die oog daarop te voltooi, was haar verwagting nie groot dat sy op sewe-en-veertigjarige ouderdom geholpe sou raak nie. Sy het dus aangedring daarop dat die respondent aan haar onderhoud in die bedrag van R2 500,00 per maand betaal tot haar dood of hertroue. Saam met die opbrengs van ‘n familietrust, wat aan haar sowat R20 000,00 per jaar besorg het, en dividende van ongeveer R2 000,00 per jaar uit haar aandelebesit afkomstig, sou sy beswaarlik aan die lewe kon bly. Sy was dus aangewese op ‘n addisionele bron van inkomste.
[10] Mnr J F Wilbers, ‘n bedryfsielkundige, het getuig oor sekere psigometriese toetse wat op die appellant uitgevoer is ten einde te bepaal wat haar kanse is om na soveel jaar weer tot die arbeidsmark toe te tree. Volgens hom was haar kans uiters skraal om ‘n aanstelling as regssekretaresse te kry, veral vanweë haar rekenaar-ongeletterdheid en die feit dat sy so lank laas gewerk het. In ieder geval sou dit haar by die R10 000,00 kos om die nodige kursusse to voltooi ten einde haar in die betrokke mark kompeterend te maak. Hy het toegegee dat haar vorige ervaring nie nutteloos sou wees nie en aan haar sekere voordele sou besorg teenoor kandidate wat vars uit die kollege kom. In hierdie verband sou haar volwassenheid, betroubaarheid en verantwoordelikheidsbesef sterk in haar guns tel.
UITSPRAAK VAN DIE HOF A QUO
[11] Na 'n uiteensetting van die relevante agtergrondsfeite, het Newdigate WR aanvanklik gehandel met die beheer en toesig oor Ninke. Hy het die tersaaklike getuienis - deskundig en andersins - oorweeg en tot die slotsom gekom dat dit in Ninke se beste belang sou wees om saam met die ander twee kinders onder die beheer en toesig van die respondent te wees. Dit sou natuurlik onderhewig wees aan die appellant se reg van redelike toegang.
[12] Die geleerde regter het voorts 'n volledige bespreking gewy aan die verdeling van die respondent se netto bates ingevolge die bepalings van artikel 7(3) van die Wet. Die appellant se eis van twee derdes van sodanige bates was gegrond, enersyds, op haar bydrae as vrou en moeder tot die groei en instandhouding van die respondent se boedel en, andersyds, op haar substantiewe finansiële bydraes daartoe. In hierdie verband het sy staatgemaak op die voormelde skenking en lening, van haar vader afkomstig, waarmee die partye gedurende 1983 hulle eerste huis in Pretoria aangekoop het. Die lening was teen R500,00 per maand, teen 'n besonder billike rentekoers van 5% per jaar, terugbetaalbaar. Volgens die appellant het sy uit haar eie sak ongeveer R12 000,00 ten opsigte van sodanige terugbetalings betaal. Sy het ook van tyd tot tyd ander bydraes uit haar spaargeld gemaak. Volgens die appellant is die rente op die lening nooit betaal nie en haar ouers het ongeveer R5 000,00 afgeskryf. Die respondent het hierdie bedrag op R300,00 gestel.
[13] Toe die partye gedurende 1988 na Somerset-Wes verhuis het, is die huis in Pretoria teen R105 000,00 verkoop (R101 500,00 netto). Hierdie bedrag het hulle aangewend ter gedeeltelike betaling van 'n huis in Somerset-Wes wat hulle teen R175 000,00 aangekoop het. Die huis is in die respondent se naam geregistreer. Weer eens het die appellant se vader 'n lening vir die balans aangebied teen 'n koers van 10 tot 15% terugbetaalbaar teen R1 000,00 per maand. Die respondent het die lening terugbetaal. Vanweë hierdie betrokkenheid van die appellant en haar ouers by die opbou van die respondent se boedel, het die appellant aangevoer dat dit reg en billik sou wees om twee derdes van die boedel aan haar oor te dra. Tydens betoog het haar advokaat hierdie proporsie na die helfte verminder. Die hof het hierdie betoog verwerp aangesien die appellant se daadwerklik bewese bydrae tot die aankoop van die Pretoria huis slegs R27 000,00 was, terwyl die lenings van haar vader afkomstig deur die respondent terugbetaal is. Op grond van haar direkte bydrae van R27 000,00 en haar indirekte bydrae as tuisteskepper was die hof dus bereid om aan haar slegs ‘n derde van die respondent se netto bates toe te staan. Dit sou reg en billik wees dat sodanige oordrag van bates binne drie maande geskied. Vir doeleindes van die berekening van die bates sou die versekeringspolisse wat die respondent uitgeneem het om voorsiening te maak vir die kinders se universiteitsopleiding egter buite rekening gelaat word.
[14] Wat betref die appellant se onderhoudseis het die hof a quo daarop gewys dat die respondent, wat nie ‘n “status of geldgedrewe persoon” was nie, se gemiddelde inkomste uit sy prokureurspraktyk sowat R10 500,00 per maand beloop het. Hy het verkies om vrye tyd saam met sy kinders deur te bring as om sy inkomste op kantoor te vergroot, ten spyte daarvan dat sy inkomste inderdaad nie sy uitgawes gedek het nie.
[15] Ten voordele van die appellant was die feit dat sy, op gelyke voet met haar drie susters en die dogter van ‘n oorlede suster, ‘n begunstigde was van ‘n familietrust deur haar oorlede vader geskep. Die trust was die eienaar van ‘n huis te Stellenbosch ter waarde van R494 515,00 en aandele ter waarde van R2 796 5000,00. Die appellant het, soos reeds vermeld (par 9 hierbo), ‘n bedrag van ongeveer R20 000,00 per jaar as inkomste uit die trust ontvang. Ooreenkomstig die trustakte sou die trust gedurende 2007 verdeel word, tensy die bevoordeeldes, in hulle hoedanigheid as trustees, sou besluit om dit voort te sit. Intussen het hulle die bevoegdheid gehad om kapitaalbedrae aan begunstigdes voor beëindiging van die trust voor te skiet.
[16] Benewens haar aandeel in die gemelde trust, was die appellant ook die eienaar van genoteerde aandele ter waarde van ongeveer R68 000,00 en ‘n motorvoertuig wat volgens haar skatting ongeveer R8 000,00 werd was. Sy het ook meubels, waarvan die waarde onseker was, van haar ouers geërf.
[17] Die hof het kennis geneem van die feit dat die appellant ‘n bekwame regssekretaresse was, maar sedert 1985 nie gewerk het nie. Ten tye van die verhoor was sy reeds ses-en-veertig jaar oud. Ten spyte van die spanning deur die egskeiding veroorsaak, het sy egter in goeie gesondheid verkeer. Van belang was Mnr Wilbers se getuienis dat sy ongeveer ses maande tyd sou benodig om die nodige kursusse te voltooi en daarna nog ses maande nodig sou hê om haar praktiese vaardighede op te knap. Dit sou haar vervolgens ongeveer ses maande neem om ‘n betrekking as regssekretaresse te bekom. Die gemiddelde maandelikse salaris wat sy dan te wagte sou wees, sou ongeveer R5 900,00 wees.
[18] Met inagneming van hierdie feite en omstandighede was die hof die mening toegedaan dat dit nie onredelik sou wees om van die appellant te verwag om weer as regssekretaresse te werk nie. Sy het in die verlede hierdie beroep suksesvol bedryf en, met die nodige verdere opleiding, sou sy dit weer kon doen. Aangesien sy egter ongeveer agtien maande sou benodig om weer tot die arbeidsmark toe te tree, sou sy intussen op rehabiliterende onderhoud geregtig wees.
‘n Onderhoudsbedrag van R1 800,00 per maand, tesame met mediese en verwante koste, sou onder die omstandighede nie onredelik wees nie.
[19] Ten spyte daarvan dat die respondent wesenlik suksesvol was, het die geleerde regter besluit, met verwysing na die bepalings van artikel 10 van die Wet, dat dit billik sou wees om geen kostebevel te maak nie. Hierdie besluit het daarmee saamgehang dat die appellant wesenlik suksesvol was in die voorafgaande sake waarin koste voorbehou is, naamlik ‘n bestrede aansoek om uitstel en ‘n bestrede aansoek om tussentydse bewaring van Ninke. Die hof het hom in hierdie verband laat lei deur die nadelige uitwerking wat ‘n kostebevel sou hê op of die finansiële posisie van veral die appellant. Dit sou noodwendig ‘n wanbalans skep.
BETOOG NAMENS DIE APPELLANT
[20] Met verwysing na die Childs en Bezuidenhout beslissings (par 30 hieronder), het Mnr Ferreira betoog dat die hof a quo gefouteer het deur nie te bevind dat die appellant op minstens ‘n helfte van die respondent se netto bates geregtig was nie. In hierdie verband het hy aan die hand gedoen dat die styging in die huisverband sedert 2002 deur die respondent se toedoen, en sy beweerde regskostes van R200,000,00, buite rekening gelaat moet word vir doeleindes van bepaling van die netto waarde van sy bates. Voorts het hy betoog dat die respondent op geen ander wyse as deur bemiddeling van die appellant se ouers sy vernaamste bate, die huis te Somerset-Wes, sou kon bekom of finansier het nie. Die appellant was self nie daartoe in staat om die respondent se boedel te help vergroot nie aangesien sy, op die respondent se aandrang, sedert die geboorte van hulle eerste kind nie meer gewerk het nie. Sy het egter sedertdien indirek as tuisteskepper bygedra, terwyl haar direkte bydrae van R27 000,00 (kyk par 13 hierbo) volgens teenswoordige geldwaardes op ongeveer R200 000,00 sou neerkom.
[21] Wat betref die kwessie van onderhoud vir die appellant het mnr Ferreira aan die hand gedoen dat dit billik sou wees indien die respondent gelas sou word om aan haar onderhoud in die bedrag van R2 500,00 per maand, asook al haar mediese uitgawes, te betaal tot haar dood of hertroue. In hierdie verband het hy veral staatgemaak op die feit dat haar verdienvermoë ten tye van die verhoor op 'n nul basis gestaan het en dat haar kanse skraal was dat sy 'n lonende betrekking sou kry.
BETOOG NAMENS DIE RESPONDENT
[22] Op sy beurt het mnr de Haan betoog dat die betrokke bevele van die hof a quo diskresionêr was en dat hierdie hof ongeneë sal wees om daarmee in te meng. Dit sou hy doen slegs indien hy oortuig sou wees dat die hof a quo bevooroordeeld, willekeurig of sonder voldoende redes sy diskresie uitgeoefen het, of indien sy beslissing op foutiewe beginsels berus het. Die appellant het in geen stadium enige sodanige bewering gemaak nie en wou bloot hierdie hof probeer oortuig om op die feite 'n ander bevel te gee.
[23] Wat betref die verdeling van die respondent se netto bates, het mnr de Haan daarop gewys dat die feite in die Childs en Bezuidenhout sake (par 20 hierbo) hemelsbreed van dié in die onderhawige saak verskil. Vir sover elke saak op sy eie feite en omstandighede beoordeel moes word, kon dit nie, in die teenswoordige geval, gesê word dat die hof nie al die relevante feite en omstandighede behoorlik in ag geneem het toe hy sy verdelingsbevel gemaak het nie.
[24] Dieselfde het, volgens mnr de Haan, ten opsigte van die onderhoudskwessie gegeld. Die appellant kon klaarblyklik, na 'n tydperk van verdere opleiding, weer tot die arbeidsmark toetree en haarself dus onderhou. Met haar bekwaamheid en betroubaarheid as 'n potensiële werknemer het niks geskeel nie. Daar het geen rede bestaan waarom sy nie, met haar ervaring en kundigheid, gou weer op peil sou kon wees as 'n vaardige en behendige regssekretaresse nie. Dit sou haar 'n goeie salaris in die sak besorg. Tesame met haar inkomste uit die trust en dividende sou sy heeltemal selfversorgend kon wees. Daarbenewens was daar die vooruitsig van 'n aansienlike kontantinspuiting uit die trustopbrengs terwyl die waarde van haar eie aandeel-portefeulje nie te versmaai was nie.
[25] Die respondent se finansiële posisie was, volgens mnr de Haan, nie goed nie. Sy vooruitsigte op verbeterde inkomste uit sy prokureurspraktyk was beperk vanweë die prioriteite wat hy vir himself en sy kinders gestel het. Die hof het dus tereg besluit om bloot rehabiliterende onderhoud vir ’n tydperk van agtien maande toe te staan.
DIE RELEVANTE BEPALINGS VAN DIE WET OP EGSKEIDING 70 VAN 1979
[26] Artikel 7 van die Wet handel met die verdeling van bates en onderhoud van die partye tot ‘n egskeidingsgeding. Die relevante deel daarvan, vir teenswoordige doeleindes, is die volgende:
‘n Hof wat ‘n egskeidingsbevel verleen, kan in ooreenstemming met ‘n skriftelike ooreenkoms tussen die partye ‘n bevel gee met betrekking tot die verdeling van die bates van die partye of die betaling van onderhoud deur die een party aan die ander.
By ontstentenis van ‘n bevel gegee kragtens subartikel (1) met betrekking tot die betaling van onderhoud deur een party aan die ander kan die hof, met inagneming van die bestaande of verwagte vermoëns van elk van die partye, hulle onderskeie verdienvermoëns, finansiële behoeftes en verpligtinge, die ouderdom van elk van die partye, die duur van die huwelik, die lewenspeil van die partye voor die egskeiding, hulle gedrag vir sover dit op die verbrokkeling van die huwelik betrekking het, ‘n bevel ingevolge subartikel (3) en enige ander faktor wat na die oordeel van die hof in aanmerking geneem behoort te word, ‘n bevel gee wat die hof billik ag met betrekking tot die betaling van onderhoud deur die een party aan die ander vir enige tydperk tot die dood of hertroue van die party ten gunste van wie die bevel gegee is, na gelang die een of die ander eerste plaasvind.
‘n Hof wat ‘n egskeidingsbevel verleen ten opsigte van ‘n huwelik buite gemeenskap van goed … kan, behoudens die bepalings van subartikels (4), (5) en (6), op aansoek van een van die partye by die huwelik, by ontstentenis van ‘n ooreenkoms tussen hulle betreffende die verdeling van hul bates, beveel dat dié bates, of dié gedeelte van die bates, van die ander party wat die hof billik ag aan eersgenoemde party oorgedra word.
‘n Bevel kragtens subartikel (3) word nie gegee nie tensy die hof oortuig is dat dit billik en regverdig is op grond daarvan dat die party ten gunste van wie die bevel gegee word tydens die duur van die huwelik direk of indirek bygedra het tot die instandhouding of groei van die boedel van die ander party, hetsy deur die lewering van dienste, of die besparing van uitgawes wat andersins aangegee moes word, of op enige ander wyse.
By die bepaling van die bates of die gedeelte van die bates wat oorgedra moet word soos in subartikel (3) beoog, neem die hof, benewens enige direkte of indirekte bydrae deur die betrokke party tot die instandhouding of groei van die boedel van die ander party gelewer soos in subartikel (4) beoog, ook in aanmerking –
die bestaande vermoëns en verpligtinge van die partye …
enige skenking wat tydens die duur van die huwelik deur die een party aan die ander gemaak is …
enige bevel deur die hof kragtens artikel 9 van hierdie Wet of kragtens enige ander wet gemaak wat die vermoënsposisie van die partye raak; en
enige ander faktor wat na die oordeel van die hof in aanmerking geneem behoort te word.
DIE TOEPASLIKE REGSBEGINSELS
[27] Dit is duidelik uit hierdie bepalings van die Wet dat die hof ‘n diskresie moet uitoefen met betrekking tot enige bevel van verdeling van bates of onderhoud wat hy ingevolge artikels 7(3) en 7(2) onderskeidelik van die Wet sou verleen. Die maatstaf deur die Wetgewer in hierdie verband ingevoer, is billikheid. Botha AR het, in Beaumont v Beaumont 1987 (1) SA 967 (A) op 988I-J, die diskresie in artikel 7(3) vervat juis beskryf as “the exercise of a purely discretionary judgment in equity”. Dit hang ten nouste saam, soos blyk uit artikel 7(4), waarmee artikel 7(3) saamgelees moet word, met geregtigheid in die sin van dit wat reg of regverdig is.
[28] Alvorens ‘n hof van appèl met die uitoefening van ‘n diskresie deur die hof a quo kan inmeng, moet hy tevrede gestel word dat sodanige hof nie op ‘n regterlike wyse sy diskresie uitgeoefen het nie. Dit beteken dat hy oortuig moet word dat die hof a quo se beslissing willekeurig of bevooroordeeld was, of op ‘n foutiewe regsbeginsel gegrondves was of andersins nie behoorlik geregverdig was nie. Indien aangetoon word dat die hof al die relevante feite en omstandighede behoorlik en volledig in ag geneem het vir doeleindes van sy besluit, ongeag of die hof van appèl tot dieselfde gevolgtrekking op die feite sou kom of nie, is daar geen basis vir inmenging nie. Greenberg AR het, met verwysing na die feite in die saak voor hom, dit in Ex Parte Neethling and Others 1951 (4) SA 331 (A) op 335E-G aldus gestel:
Can it be said in the present case that the Court a quo has exercised its discretion capriciously or upon a wrong principle, that it has not brought its unbiassed judgment to bear on the question or has not acted for substantial reasons? I can see no ground for answering this question in the affirmative. The Court fully considered the question and came to a decision on grounds that were relevant and of considerable force. Indeed I am far from satisfied that I would not have come to the same conclusion, which makes it impossible for me to say that the Court did not exercise a judicial discretion, but even if this Court was satisfied that it would have granted the application that in itself would not be ground for interference.
[29] Die bewyslas rus op die appellant om die hof van appèl te oortuig dat die hof a quo sy diskresie nie judisieel of regterlik uitgeoefen het nie (Cronje v Pelser 1967 (2) SA 589 (A) op 593C). Oor die algemeen sal ‘n hof egter ongeneë wees om op appèl met die uitoefening van ‘n ander hof se diskresie in te meng. As die hof hom nie wanvoorgelig het nie, of op ‘n onbehoorlike wyse sy diskresie uitgeoefen het nie, is ‘n hof van appèl se bevoegdheid om daarmee in te meng besonder beperk (Ex Parte Neethling and Others (supra) op 335H; Beaumont v Beaumont (supra) op 1002C; Engelbrecht v Engelbrecht 1989 (1) SA 597 (K) op 603G-I; South African Chemical Workers’ Union and Another v African Commerce Developing Co (Pty) Ltd t/a Buffalo Tapes 2000 (3) SA 732 (SCA) op 738C-E (par 16)). Waar die hof a quo se bevinding egter klaarblyklik verkeerd was en die hof hom op sterkte van sodanige bevinding wanvoorgelig het of andersins sy diskresie nie behoorlik uitgeoefen het nie, sou die hof van appèl van voor af die getuienis beoordeel en die hof a quo se diskresie met sy eie vervang (Kritzinger v Kritzinger 1989 (1) SA 67 (A) op 83H; Archer v Archer 1989 (2) SA 885 (EC) op 893B-C; Katz v Katz 1989 (3) SA 1 (A) op7D-F).
[30] Dit is heeltemal korrek, soos deur mnr Ferreira in sy betoog uitgewys (par 20 hierbo), dat ‘n vyftig persent verdeling gemaak is in die onlangse beslissings van hierdie hof in Childs v Childs and Others NNO 2003 (3) SA 138 (C) en Bezuidenhout v Bezuidenhout [2003] 3 All SA 82 (C). In beide hierdie sake is klem gelê op die gelykheid van man en vrou in die huweliksverhouding en die noodsaak om te keer teen enige diskriminasie teen die vrou. In die Childs saak het Foxcroft R (op 140F-141A) gesteun op die Engelse beslissing in White v White [2000] 2 WLR 1571; [2000] 2 FLR 981, waarin bevind is dat, indien beide partye gelykwaardig bygedra het tot die gesin, dit eintlik nie saak maak wie die geld verdien het of bates opgebou het nie. In die Bezuidenhout saak het Pincus WR (op 91e-92c – par 23-24) eweneens die White saak met goedkeuring aangehaal. Beide geleerde regters het egter beklemtoon dat elke saak op sy eie meriete en ooreenkomstig sy eie feite beoordeel moet word vir doeleindes van uitoefening van die regterlike diskresie vervat in artikel 7(3) van die Wet. Daar moet dus noukeurig na die getuienis gekyk word met die oog op bepaling van wat ‘n billike en regverdige verdeling onder die omstandighede sal wees.
[31] Dieselfde oorwegings, mutatis mutandis, geld ten opsigte van die uitoefening van ‘n diskresie ten opsigte van onderhoud ingevolge die bepalings van artikel 7(2) van die Wet. Dit hang grotendeels saam met die verdeling van bates kragtens artikel 7(3) bewerkstellig. Die algemene beginsel is dat geen onderhoud betaalbaar is aan ‘n huweliksparty wat selfonderhoudend is nie. Indien, byvoorbeeld, die eggenote ‘n middeljarige vrou is wat kennis, kundigheid en ervaring in die arbeidsmark verwerf het, maar oor ‘n lang termyn ‘n tuisteskepper was en kinders groot gemaak het, sou dit oorweeg kon word om aan haar rehabiliterende onderhoud toe te staan. Dit sou dan betaalbaar wees tot tyd en wyl sy heropgelei en in diens geneem kan word, mits sy natuurlik heropleibaar is (Kroon v Kroon 1986 (4) SA 616 (E) op 632H-J). In Pommerel v Pommerel 1990 (1) SA 998 (E) het die hof egter ter oorweging gegee of dit redelik is dat van die vrou verwag moet word om weer te gaan werk en slegs rehabiliterende onderhoud te ontvang. Kyk ook Grasso v Grasso 1987 (1) SA 48 (C) op 57D-J). Weer eens hang die beantwoording van hierdie vraag en die kwessie van onderhoudspligtigheid in terme van artikel 7(2) van al die relevante feite en omstandighede af.
[32] ‘n Insiggewende analise en bespreking van die regspraak met betrekking tot die onderhoud betaalbaar aan huweliksgenote by egskeiding het onlangs verskyn uit die pen van Madelene de Jong “New trends regarding the maintenance of spouses upon divorce” in 1999 (62) THRHR 75-87. Die geleerde skrywer toon aan dat daar twee verskillende benaderings uit die regspraak blyk. Aan die een kant is daar ‘n neiging om gades so gou moontlik na die egskeiding van die verpligting te bevry om mekaar te onderhou. Aan die ander kant noop billikheidsoorwegings die howe om verlengde onderhoudsaansprake na egskeiding te verleen. Volgens me de Jong kom eersgenoemde benadering neer op onkonstitusionele diskriminasie teen vrouens en, voortspruitend daaruit, teen kinders. Sy stel dus voor dat daar aan permanente onderhoudsbevele voorkeur gegee moet word.
[33] Ek het begrip vir hierdie standpunt, maar moet waarsku teen die gebruikmaking van veralgemenings op 'n gebied waar geen twee sake ooit identies kan wees nie, hoe soortgelyk ook al hulle mag voorkom. Die Wetgewer het in duidelike en uitdruklike terme in die aangehaalde deel van artikel 7 van die Wet (par 26 hierbo) aan die hof 'n diskresie verleen om ooreenkomstig geregtigheid en billikheid 'n verdelings- of onderhoudsbevel, na gelang van die geval, te verleen. 'n Bevel wat aan hierdie eise voldoen sal ook voldoen aan die redelikheidskriterium, wat in sowel ons gemenereg as in ons nuwe Grondwet ten nouste met geregtigheid en billikheid saamhang. Dit is juis die gemeenregtelike redelikheid (ratio recta) van die natuurreg wat gerig word op geregtigheid (iustitia) en billikheid (aequitas). In die Grondwet (108 van 1996) word dit telkens van die Staat verwag om "redelike wetgewende en ander maatreëls" te neem om aan die doel van 'n besondere bepaling te beantwoord (kyk, byvoorbeeld, artikels 25(5), 27(2), 29(2) en 32(2)). Artikel 33(1) gee die versekering dat almal die reg het op administratiewe optrede "wat regmatig, redelik en prosedureel billik is". Die regte vervat in die handves van menseregte (hoofstuk 2 van die Grondwet) is verskans en kan beperk word, volgens artikel 36(1), slegs indien die beperking "redelik en regverdigbaar is in 'n oop en demokratiese samelewing gebaseer op menswaardigheid, gelykheid en vryheid …".
[34] Dit is juis met die oog op die bereiking van geregtigheid, billikheid en redelikheid dat die Wetgewer, in artikel 7 van die Wet, geen numerus clausus van faktore vermeld het waarna in elke geval gekyk moet word nie. Artikels 7(2) en 7(5)(d) gee juis aan die hof die bevoegdheid om kennis te neem van "enige ander faktor wat na die oordeel van die hof in aanmerking geneem behoort te word". Ek sou dus huiwerig wees om enige regulatiewe struktuur op hierdie gebied in te voer. Mits die voormelde bepalings korrek aangewend word, behoort daar geen sprake van enige ongelykheid of diskriminasie teen die een of die ander van die huweliksgenote ingevolge artikel 9 van die Grondwet te wees nie. Nog minder sal daar sprake wees van diskriminasie teen kinders uit die huwelik gebore.
TOEPASSING VAN DIE REG OP DIE RELEVANTE FEITE EN OMSTANDIGHEDE
[35] Wanneer die relevante feite en omstandighede beoordeel word teen die agtergrond van die statutêre bepalings en regsbeginsels hierbo bespreek, is dit duidelik dat die hof a quo volledig en noukeurig al sodanige feite en omstandighede oorweeg en in ag geneem het. Sy bevindings en bevele ten opsigte van verdeling van bates en onderhoud in terme van artikels 7(3) en 7(2) onderskeidelik was, met eerbied, weldeurdag en behoorlik gefundeer op die maatstawwe van geregtigheid, billikheid en redelikheid.
[36] Daar is na my mening geen aanduiding in die uitspraak van die geleerde regter dat hy sy diskresie, ingevolge die gemelde artikels van die Wet, nie regterlik oftewel judisieel uitgeoefen het nie. Daar was geen sprake, in die gronde van appèl of tydens betoog deur die appellant se regsverteenwoordiger, van enige willekeur, vooroordeel of foutiewe begrip of toepassing van die tersaaklike regsbeginsels nie. Inteendeel, sy bevindings was suiwer op die getuienis voor hom gegrondves en was, na my eerbiedige mening, volkome geregverdig en in ooreenstemming met die eise en voorvereistes van die betrokke wetlike bepalings en regsbeginsels. In hierdie verband was daar geen wanvoorligting of foutiewe interpretasie van die reg of die feite waarneembaar nie, sodat hierdie hof desnoods tot die gevolgtrekking moet geraak dat die geleerde regter sy diskresie behoorlik, reëlmatig en regterlik uitgeoefen het.
[37] Dit volg dus dat hierdie hof nie met die bevele van die hof a quo kan inmeng nie. Sodanige bevele was in alle opsigte regverdig, redelik en billik en dit sou na my mening nie geregverdig wees om te suggereer dat die appellant daardeur benadeel is of enigsins ongelykwaardig behandel is nie. Inteendeel, die hof het haar besonder billik behandel deur aan haar agtien maande lank rehabiliterende onderhoud toe te staan en geen kostebevel teen haar te gelas nie, al was sy wesenlik onsuksesvol. Ek het weinig twyfel dat die appellant wel ‘n geskikte werk sal kan bekom en inderdaad ‘n aanwins vir enige prokureursfirma sal wees met haar kennis, kundigheid, ervaring, volwassenheid en betroubaarheid.
GEVOLGTREKKING
[38] Dit volg dus dat die appèl met koste van die hand gewys moet word.
D H VAN ZYL
Regter van die Hooggeregshof
Ek stem saam.
H J ERASMUS
Regter van die Hooggeregshof
Ek stem saam.
J VAN DER WESTHUIZEN
Waarnemende Regter van die Hooggeregshof