South Africa: Western Cape High Court, Cape Town

You are here:
SAFLII >>
Databases >>
South Africa: Western Cape High Court, Cape Town >>
2005 >>
[2005] ZAWCHC 82
| Noteup
| LawCite
Dixon v Dixon (3536/05) [2005] ZAWCHC 82 (31 October 2005)
Download original files |
RAPPORTEERBAAR
IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA
(PROVINSIALE AFDELING KAAP DIE GOEIE HOOP)
SAAKNR: 3536/05
In die saak tussen:
ALEXANDER DIXON Applikant
en
BEATRIX HENDRINA DIXON Respondent
________________________________________________________________
UITSPRAAK GELEWER HIERDIE 31 STE DAG VAN OKTOBER 2005
FORTUIN, WnR:
Applikant en respondent is op 29 November 1989 binne gemeenskap van goedere getroud en die huwelik bestaan steeds. Die partye beskik oor ‘n onroerende eiendom, ter waarde van R320 000 waaroor ‘n verbandlening ten gunste van Standard Bank geregistreer is. Gedurende November 2004 het applikant ‘n egskeidingsgeding teen respondent aanhangig gemaak, welke geding steeds hangend is.
Applikant bring nou hierdie aansoek hangende die finale beregting van die egskeidingsaksie om:
die onroerende eiendom, geleë te President Brandstraat 2, Ruyterwacht, onmiddellik te bemark en te verkoop teen ‘n markverwante prys;
die respondent te gelas om alle dokumentasie te onderteken wat nodig mag wees om haar onverdeelde half-aandeel in die onroerende eiendom aan die koper te bewerkstellig binne sewe dae na datum van aanmaning, by versuim waarvan die Balju van die Hooggeregshof gemagtig word om sodanige dokumentasie namens haar te onderteken;
die opbrengs van die verkoping van die onroerende eiendom in trust te hou, hangende die finale beregting van die egskeidingsaksie; en
die respondent te gelas om die koste van die aansoek te betaal.
Die dispute tussen die partye kan soos volg saamgevat word:
Of die applikant die reg het om die respondent te forseer om haar half-aandeel in die gesamentlike onroerende eiendom te verkoop;
Indien wel, wat sou die omstandighede wees en op welke wyse sou dit moes geskied;
Of die respondent die reg het om te weier dat die onroerende eiendom vekoop word hangende die finale beregting van die egskeidingsaksie aangesien sy nog nie besluit het wat met die onroerende eiendom sal gebeur nie;
Indien wel, wat sou die omstandighede wees en op welke wyse sou dit moes geskied.
Tydens argument, het mnr McLachlan namens applikant aangevoer dat applikant as “beheerder van die gemeenskaplike boedel” die aansoek bring. Geen stawing vir hierdie argument is voorgelê nie. Dit is dus vir die Hof onduidelik waarop die applikant steun om homself as “beheerder van die gemeenskaplike boedel” te beskou.
Die man se maritale mag is reeds in 1984 deur die Wet op Huweliksgoedere 1 in artikel 11 daarvan mee weggedoen en alhoewel artikel 13 van Wet 88 van 1984 2 bepaal het dat die man steeds die hoof van die huishouding is, is hierdie argaïese sienswyse in 1993 deur die Wet op Voogdyskap 3 herroep. Die status van mans en vroue in ‘n huwelik is nou volwaardig gelyk.
Dit is vir my onduidelik waarom hierdie aansoek nie ingevolge Huweliksgoederewet 4 gebring is nie.
Die rol van ‘n regter in ‘n siviele geding is alombekend, naamlik om die bestaande reg toe te pas op die feite. Hierdie rol is oor die jare heen verder uitgebrei en is in ‘n baie vroeë beslissing gesê dat:
“If there is an authoritative rule of law which covers the facts, the judge simply applies the existing law and declares the rigths of the parties in accordance with that rule”. 5
Die rol van ‘n regter in ‘n siviele geding is na die inwerkingtreding van ons Grondwet 6 selfs verder gedefinieer en hierna, in ‘n grondwetlike bedeling soos in Suid-Afrika, is ‘n regter verplig om ‘n grondwetlike interpretasie aan enige geskil te gee nie.
Tydens oorweging van die huidige geskil, was dit dus duidelik dat die Wet op Huweliksgoedere 7 toegepas moet word, en wel om die volgende redes:
Die doel van die wet was om die huweliksgoederereg te wysig en maak dus alle huwelike wat na 1984 tot stand gekom het, onderworpe daaraan. Dit het inderwaarheid die diskriminerende aard van ons Huweliksgoederereg verwyder.
In ‘n Grondwetlike staat is howe verplig om die regte in die Handves van Regte toe te pas.
Die Wet op Huweliksgoedere 8 en veral die Wet op Voogdyskap 9 het inderwaarheid die grondwetlike beginsel van gelykheid , vervat in artikel 9 van die Grondwet 10, voorafgeloop en enige geskil rakende die status van ‘n gade moet nou in terme van die bestaande wetgewing, wat in lyn is met die regte vervat in die Handves van Regte, besleg word.
In hierdie aansoek het ons te doen met twee gelyke individue wie die reg het om te besluit of hulle hul onroerende eiendom wil verkoop al dan nie. Daar is geen bewering dat een van hierdie volwasse persone nie die regsbevoegdheid het om hulle eie sake te hanteer nie. Die Wet op Huweliksgoedere 11 maak voorsiening vir ‘n gade wie redelikerwys bevrees is dat die ander gade sy/haar magte onder die wet sal misbruik, om ‘n aansoek by die Hof te bring waarin gevra word dat die Hof enige van hierdie magte vir ‘n bepaalde of onbepaalde tyd ophef.
Dieselfde Wet maak ook voorsiening vir die geval waar ‘n gade onredelik toestemming weerhou of waar dit onmoontlik is om die nodige toesteming te verkry. 12 Artikel 16 verskaf aan ‘n gade die geleentheid om die Hof te nader op aansoek om die transaksie sonder die toestemming van die ander gade te voltooi, waar die weerhouding onredelik is, of waar daar goeie rede is om met die toestemming weg te doen.
Dit is dus duidelik dat wat hierdie Hof moet beslis is of die applikant ‘n behoorlike saak uitgemaak het dat:
die respondent se weerhouding van haar toestemming onredelik is;
daar goeie rede is om met die vereiste weg te doen; en
of dit op ‘n misbruik van die respondent se mag in terme van Wet 88 van 1984, neerkom.
Dit is slegs in hierdie drie gevalle waar die Hof een van die volgende bevele kan maak:
toestemming verleen dat een gade sonder die toestemming van die ander gade die transaksie kan beklink;
opheffing van die magte van die een gade in terme van Wet 88 van 1984, soos gewysing deur Wet 192 van 1993. 13
Die applikant het nie vir een van hierdie bevele gevra nie, maar het verkies om te vra dat die respondent beveel word om die dokumentasie te onderteken. Die applikant voer egter nêrens aan dat die respondent haar magte in terme van Wet 88 van 1984 14 misbruik nie en dat haar magte daarom opgehef moet word nie.
Dit is vir hierdie Hof dus slegs nodig om te beslis of die toestemming redelikerwys deur die respondent weerhou word, al dan nie. Na oorweging van die stukke, is hierdie Hof oortuig dat daar geen rede is waarom die respondent van haar magte as gesamentlike eienaar van die gemeenskaplike boedel, ontneem moet word nie. Dit is verder duidelik uit die stukke dat die respondent bewus is van die finansiële en ander risikos verbonde aan die moontlike verdeling van die gemeenskaplike boedel by finale beregting van die egskeidingsaksie en bevind hierdie Hof dat sy geregtig is om te wag vir sodanige finale beregting alvorens sy besluit hoe om met die bates in die gemeenskaplike boedel te handel.
Die aansoek van die hand gewys met koste.
________________________
FORTUIN, WnR
1 Wet 88 van 1984
2 supra
3 supra
4 supra
5 Paterson v Umzinto Sugar CO 1879 Buch 147 at 152
6 Grondwet van RSA, Wet 108 van 1996
7 supra
8 supra
9 supra
10 supra
11 supra
12 Artikel 16
13 supra
14 Die Wet op Huweliksgoedere