South Africa: Western Cape High Court, Cape Town Support SAFLII

You are here:  SAFLII >> Databases >> South Africa: Western Cape High Court, Cape Town >> 2005 >> [2005] ZAWCHC 93

| Noteup | LawCite

De Villiers v S (A486/05) [2005] ZAWCHC 93; [2006] 1 All SA 613 (C) (8 December 2005)

Download original files

PDF format

RTF format


RAPPORTEERBAAR

IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA

(KAAP DIE GOEIE HOOP PROVINSIALE AFDELING)



SAAKNOMMER : A486/05


In die appèl van:



LEONARD DE VILLIERS Appellant



en



DIE STAAT Respondent


_____________________________________________________________________


UITSPRAAK 8 DESEMBER 2005

_____________________________________________________________________



VAN ROOYEN WR:


[1] Die appellant, ‘n mediese dokter te George, is in die Streekhof, George, skuldig bevind op 6 aanklagte van onsedelike aanranding. Op elke aanklag is hy gevonnis tot ‘n boete van R10 000.00 of 6 maande gevangenisstraf plus ‘n verdere 6 maande gevangenisstraf opgeskort vir 5 jaar op sekere voorwaardes. Die appellant kom nou in hoër beroep slegs teen die skuldigbevinding.


[2] Dit is gemeensaak dat die klaagsters tydens die beweerde voorvalle almal werksaam was by ‘n fabriek genaamd Prime Pine Products (“Prime Pine”) in George en dat ene Dr Dykman normaalweg mediese dienste aan die fabriekswerkers gelewer het. Wanneer sy nie beskikbaar was nie, het die appellant en diegene waarmee hy ‘n praktyk gedeel het, dit gedoen.


[3] Ten opsigte van aanklag 1 het die staat beweer dat die appellant die klaagster (“klaagster 1”) onsedelik aangerand het deur te poog om haar damesbroekie te verwyder. Klaagster 1 het in hoof getuig dat sy en ander die appellant gedurende September – Oktober 1999 gaan spreek het. By sy spreekkamers aangekom, het sy hom meegedeel dat sy daar is vanweë ‘n abses aan die onderkant van haar been. Op ‘n vraag van die appellant het sy gemeld dat daar nie ander letsels op haar liggaam was nie. Die appellant het haar toe versoek om uit te trek. Sy het haar boonste klere uitgetrek. Op die appellant se verdere versoek het sy ook haar T-hemp, fietsrybroek en buustelyfie uitgetrek. Die appellant het gebuk en na haar been gekyk. Hy het toe agter haar gaan staan en kyk terwyl hy haar aan die skouers vashou. Hy het haar toe omgedraai. Hy het haar een arm opgelig en sy een hand op die kant van haar regterbors geplaas. Hierna het die appellant op sy hurke voor haar gaan sit met ‘n “soort van glimlag” op sy gesig. Hy het toe sy hand uitgesteek, haar damesbroekie bo by die rand gevat en dit probeer trek. Die klaagster het hom toe op sy hand geslaan en hom meegedeel dat sy mos gesê het sy het niks op haar lyf nie. Hierna het die klaagster haar aangetrek, by die lessenaar gewag vir haar medikasie en toe uitgegaan. Op ‘n vraag van haar kollega Bettie Barendse (“Barendse”), wat buite die spreekkamer gewag het, waarom sy so ontsteld lyk, het sy gesê “Jy vra nog” en “ek donder nie weer na daai dokter toe nie”. Sy het ook vir Barendse meegedeel dat die appellant na haar been gekyk het, maar dat hy by haar “privaatdele” wou werk. Haar verdere getuienis is dat sy op dieselfde dag vir haar toesighouer by die werk, Audrey Windwaai (“Windwaai”), vertel het wat gebeur het. Dié het weer die voorval aan me Pontes (“Pontes”) rapporteer en sy op haar beurt aan mnr La Grange (“La Grange”). Sy het ook getuig oor ‘n latere besoek aan die appellant saam met Windwaai, Pontes en Sannie Claassens (die klaagster ten opsigte van aanklag 6). Tydens hierdie besoek het die appellant gesê dat hy jammer is vir dit wat gebeur het.


[4] Ten opsigte van aanklag 2 word dit beweer dat die appellant die klaagster (“klaagster 2“) onsedelik aangerand het deur haar bene oop te forseer en haar vagina met sy hand te vryf. Die klaagster het in hoof getuig dat sy op 13 Maart 2000 saam met ‘n paar kollegas na die appellant se spreekkamers is. Sy het die appellant meegedeel dat sy ‘n pyn op die maag het. Hy het haar versoek om haar broek uit te trek en op die bed te lê. Die appellant het haar toe ondersoek. Hy het haar bors, weerskante van haar maag en ook haar blaas bevoel. Hy het haar damesbroekie ‘n klein bietjie afgetrek om onder by haar blaas te voel. Volgens die klaagster het sy haar bene outomaties toegemaak waarop die appellant sy elmboog tussen haar bene gedruk en dit verder oopgemaak het. Hy het toe bo-op haar damesbroekie vir ongeveer 5 minute op en af bewegings oor haar vagina gemaak. Die appellant het nie gepraat voor of tydens dié gebeure nie. Die klaagster het ook niks gesê nie. Nadat sy haar medikasie ontvang het, is sy na buite waar sy gehoor het haar niggie, die klaagster ten opsigte van aanklag 3 (“klaagster 3”), wat voor haar op dieselfde dag deur die appellant ondersoek is) vertel aan ‘n kollega wat met haar gebeur het. Sy het hulle toe vertel wat die appellant aan haar gedoen het, naamlik bewegings bo-op haar damesbroekie. Die klaagster getuig dat sy nie vir iemand anders by die werk vertel het nie. Sy is later deur verteenwoordigers van haar werkgewer gevra vir besonderhede oor die voorval.


[5] Ten opsigte van aanklag 3 word dit beweer dat die appellant klaagster 3 onsedelik aangerand het deur haar broek en damesbroekie te verwyder, haar vagina te vryf met sy hand en sy vinger in haar vagina te druk. Die klaagster het getuig dat sy die appellant op 13 Maart 2000 in sy spreekkamer besoek het. Klaagster 2 (haar niggie) en Riaan Donson (“Donson”), ‘n kollega, het haar vergesel. Sy het die appellant meegedeel dat sy ‘n brandpyn op haar maag het. Op die appellant se versoek het sy haar T-hemp uitgetrek. Sy het op haar rug op die bed gelê. Die appellant het haar toe ondersoek deur op haar maag en blaas te druk. Hy het ook die knoop van haar broek losgemaak. Hierna het hy die ritsluiter losgemaak en haar broek en damesbroekie afgetrek tot bokant die knieë. Hy het nog steeds gevoel waar sy pyn het. Volgens haar het die appellant toe aan haar vagina gevat en het sy haar bene toegeknyp. Sy het hom nie gevra wat hy doen nie. Hy het toe sy elmboog gebruik om haar bene oop te maak. Hy het toe weer aan haar vagina gevat en sy het weer haar bene toegemaak. Die appellant het haar toe versoek om aan te trek en te wag vir haar medikasie. Buite gekom, het sy vir Donson vertel wat met haar gebeur het. Klaagster 2 het toe daar opgedaag en gesê dat dieselfde met haar gebeur het, behalwe dat die appellant bo-op haar damesbroekie gevat het. Sy meld dat sy toe die voorval aan Windwaai rapporteer het.


[6] Ten opsigte van aanklag 4 word beweer dat die appellant die klaagster (“klaagster 4“) onsedelik aangerand het deur haar vagina te vryf en sy vinger in haar vagina te druk. Die klaagster het getuig dat sy die appellant op 8 Maart 2000 besoek het. Sy het hom meegedeel dat sy probleme het met haar linkersy. Hy het haar toe gestuur vir ‘n urinemonster. Met haar terugkeer het hy haar versoek om na die ondersoek- kamer te gaan en uit te trek. Sy het haar werkoorpak en broek uitgetrek. Die appellant het ingekom en haar op die maag begin druk. Hy het toe met sy wysvinger begin met vryfbewegings oor haar vagina op haar damesbroekie. Dit het ongeveer 5 minute aangehou. Die appellant het haar toe versoek om haar damesbroekie en broek uit te trek, wat sy toe gedoen het. Aangesien sy nie naak wou lê nie, het sy ‘n oorjas, wat agter die deur gehang het, aangetrek. Die appellant het ingekom en handskoene aangetrek. Hy het haar versoek om haar bene op te lig en oop te maak. Hy het toe twee vingers in haar vagina gedruk terwyl hy sy ander hand onder haar gedruk het. Met sy elmboog het hy haar bene wyer oopgemaak. Hy het haar gevra of sy pyn voel. Dit het ongeveer 5 minute geduur. Hierna het die appellant haar skoongemaak. Toe sy haar aangetrek het, het sy hom gevra om na haar vinger te kyk waarin daar “iets” was (dit het later geblyk dat dit ‘n splinter was). Hy het toe ys op haar vinger gesit. Toe sy buite kom, het sy aan haar medewerkers vertel wat gebeur het. Hulle het toe gelag.


[7] Ten opsigte van aanklag 5 word beweer dat die appellant die klaagster (“klaagster 5“) op 20 Maart 2000 onsedelik aangerand het deur sy hand op haar vagina te plaas en dit te vryf. Die klaagster het getuig dat sy op ‘n dag die appellant se spreekkamer besoek het. Die appellant het haar versoek om haar skoene en broek uit te trek, wat sy toe gedoen het. Hy het haar nie uitgevra oor wat haar probleem is nie. Die appellant het haar versoek om op haar rug te lê. Op sy vraag waar sy pyn het, het sy gesê dat haar hele liggaam seer is. Die appellant het toe vanaf haar bors tot op haar maag gedruk. Hy het toe op en af vryfbewegings oor haar vagina gemaak aan die buitekant van haar damesbroekie. Die appellant het haar toe versoek om op haar maag te draai. Hy het toe weer haar vagina betas bo-oor haar damesbroekie. Die klaagster het daarna aangetrek en uitgegaan om pille te kry wat die appellant voorgeskryf het. Buite gekom, het sy haar vriende meegedeel dat dit amper was soos om “PT” te doen.


[8] Ten opsigte van aanklag 6 word beweer dat die appellant die klaagster (“klaagster 6“) onsedelik aangerand het deur haar vagina met sy hand te stimuleer. Die klaagster het getuig dat sy die appellant se spreekkamer op 16 Maart 2000 besoek het. Op sy vraag wat makeer, het sy gesê ‘n plank het die vorige dag op haar voet geval. Die appellant het haar versoek om op die bed te gaan lê. Hy het haar meegedeel dat haar voet gekneus is. Terselfdertyd het hy haar rok opgelig, haar damesbroekie afgetrek en gevra of sy “kliere het”. Die appellant het toe met sy een hand haar vagina gevryf en met die ander hand haar binnebeen. Dit het 30 minute geduur. Haar damesbroekie was afgetrek. Hierna het die appellant haar ‘n inspuiting op die regterboud gegee. Volgens haar het die appellant die naald 15 minute ingehou. Hy het toe ‘n pleister opgesit. Hierna het die klaagster haar damesbroekie opgetrek. Die appellant het teruggekeer vanaf die kas waar hy die naald gaan bêre het en haar damesbroekie afgetrek aan die regterkant. Hy het toe haar vagina gevryf asook die plek waar hy haar ingespuit het. Dit het 5 minute geduur. Hierna het die appellant ‘n verband om haar voet gesit. Omdat sy vernederd gevoel het, is sy nie terug werk toe nie, maar het huis toe gestap. Sy is vroegaand na Maria Campher (“Campher”), ‘n kollega. Sy het die doktersbrief (waarvolgens sy vir ‘n paar dae met siekverlof moes gaan) aan laasgenoemde gegee en haar vertel wat gebeur het. Sy is later deur Pontes ingeroep en het haar ook vertel wat gebeur het. Later het Pontes haar en klaagster 1 na die appellant geneem.


[9] Die staat het die deskundige getuienis van Professor Pienaar, ‘n psigiater wat vir ‘n periode van vier jaar as ‘n kliniese assistant gepraktiseer het, aangebied. In wese het hy bevestig dat die omvang van die ondersoeke wat die appellant op die klaagsters uitgevoer het, geregverdig was, maar hy het uiteraard getuig dat, indien die appellant wel die klaagsters se vaginas gevryf het soos beweer, dit onaanvaarbaar sou wees.


[10] Die appellant het getuig dat hy sedert 1990 in George praktiseer en dat hy tydens die beweerde voorvalle saam met twee kollegas gepraktiseer het. Hy het die klaagsters op die betrokke dae ondersoek en hy ontken dat hy enige van hulle vaginas gevryf het of op enige ander wyse enige van hulle onsedelik aangerand het. Hy het ook ontken dat hy enige van hulle bene uitmekaar forseer het. Hy het verduidelik waarom hy die betrokke metodes van ondersoek aangewend het. Klaagster 1 het ‘n chroniese letsel op haar onderbeen gehad wat nie wou genees nie en hy het die res van haar liggaam ondersoek om te kyk of daar nie soortgelyke letsels was nie. Hy wou haar damesbroekie ‘n bietjie afskuif om haar lieskliere te ondersoek, maar sy het sy hand weggedruk en hy het nie voortgegaan daarmee nie. Klaagster 2 het gekla van buikpyn en hy het haar hele buik palpeer met altwee hande en haar versoek om aan te toon waar dit pynlik was. Hy het haar broek ‘n bietjie afgetrek sodat hy haar laer buik kon bereik en hy het ook sy stetoskoop gebruik om te hoor of haar dermklanke verhoog was. Klaagster 3 het gekla van ‘n brandpyn op haar buik en hy het ook haar hele buik palpeer. Aangesien sy aansienlik oorgewig was, moes hy haar broek effens afskuif ten einde haar hele buik te ontbloot vir ondersoek. Klaagster 4 het gekla van laer buikpyn wat bo-oor haar blaas gestrek het en het hom ook meegedeel dat sy ‘n brandpyn ervaar wanneer sy urineer. Hy het ‘n urinemonster geneem en haar buik palpeer. Hy het haar toe versoek om haar damesbroekie uit te trek sodat hy ‘n inwendige ondersoek kon doen om te bepaal wat die oorsprong van die pyn was. Hy het ‘n inwendige vaginale ondersoek gedoen nadat hy ‘n handskoen aangetrek het en het vir daardie doeleindes twee vingers in haar vagina geplaas. Hy het nie haar bene uitmekaar gestoot nie. Sy het dit wel oopgemaak ten einde hom in staat te stel om die inwendige ondersoek te doen. Klaagster 5 het gekla van lae rugpyn. Hy het haar eers op haar rug laat lê en haar bene opgelig om te bepaal of senuweewortels in die rug vasgeknyp is en het ook haar reflekse getoets. Hy het haar toe versoek om op haar maag te draai en het haar rug palpeer vir spierspasma en drukteerheid. Klaagster 6 het hom meegedeel dat planke op haar voet geval het. Sy was duidelik in pyn en het kreupel geloop. Haar voet was geswel, maar daar was geen kneusings of skaafmerke nie. Hy het toe oorweeg dat dit infeksie kon veroorsaak het en hy het haar meegedeel dat hy haar lieskliere wou ondersoek. Hy het haar romp opgestoot en haar kliere ondersoek. Hy het haar toe met ‘n anti-inflammatoriese en pynwerende middel ingespuit. Vir daardie doeleindes het hy haar romp opgestoot ten einde haar heup te ontbloot en hy het ook haar damesbroekie afgetrek todat die inspuitingsarea ontbloot is. Die inspuiting kon nie langer as ‘n minuut geduur het nie.


Nie enige van die klaagsters het ‘n klagte teenoor hom geopper tydens die ondersoeke nie. Hy en sy kollega, dr Kleinhans, het daarna besoek ontvang van twee verteenwoordigers van Prime Pine, Pontes en La Grange, waartydens hy ingelig is dat daar klagtes van ‘n seksuele aard teen hom was. Hy was “stom geslaan” en het Pontes versoek om die klaagsters na sy spreekkamer te bring sodat hulle die bewerings verder kon ondersoek. Pontes en Windwaai het hom toe besoek saam met klaagster 1 en klaagster 6 en hy het daardie klaagsters individueel, in die teenwoordigheid van Pontes en Windwaai, versoek om te verduidelik waaroor hulle ongelukkig was. Hy het toe aan hulle verduidelik wat sy ondersoek behels het en verskoning gemaak vir die feit dat hulle nie die aard van sy ondersoek verstaan het nie.


[11] By die oorweging van die aangeleentheid behoort die vertrekpunt uiteraard te wees soos uitgedruk in paragraaf [1] van die dusver ongerapporteerde uitspraak van die Hoogste Hof van Appèl op 2 September 2004 onder saaknommer 417/03 in Stevens v The State, naamlik:

Courts in civil or criminal cases faced with the legitimate complaints of persons who are victims of sexually inappropriate behaviour are obliged in terms of the Constitution to respond in a manner that affords the appropriate redress and protection. Vulnerable sections of the community, who often fall prey to such behaviour, are entitled to expect no less from the judiciary. However, in considering whether or not claims are justified, care should be taken to ensure that evidentiary rules and procedural safeguards are properly applied and adhered to.(eie beklemtoning)



[12] Elk van die ses klaagsters was ‘n enkelgetuie ten aansien van die aanklag waarby hulle elkeen betrek is. In Stevens v The State, supra, paragraaf [17], het die Hoogste Hof van Appèl beklemtoon dat dit ‘n gevestigde beginsel is dat “the evidence of a single witness should be approached with caution, his or her merits as a witness being weighed against factors which militate against his or her credibility.” (eie beklemtoning)


In die verhoorhof se uitspraak is daar geen aanduiding dat die klaagsters as enkelgetuies beskou is nie en geen melding is gemaak van die versigtigheidsreël ten aansien van enkelgetuies nie.


[13] Voorts, weens wesenlike weersprekings in die getuienis van die klaagsters waarna later hierin vollediger verwys sal word, sowel as die wyse waarop hulle, as medewerknemers in dieselfde fabriek, die aangeleentheid bespreek het, en die omstandighede waarin die beweerde misdrywe gepleeg is, verg die getuienis in hierdie aangeleentheid dat die klaagsters se getuienis met versigtigheid benader word. Sien S v Jackson 1998 (1) SASV 470 (HHA) op 476e-f, soos toegepas in Gentle v State 2005 (1) SASV 420 (HHA) op 430 paragraaf [17.


In S v Van der Ross 2002 (2) SASV 362 (K) op 365f-I, is verwys na ‘n benadering “wat dubbel versigtig is, eerstens, omdat sy ‘n enkel-getuie is, en ook weens die aard van haar klagte.” Dit moet egter beklemtoon word dat die gebruik van die woorde “die aard van haar klagte” nie ‘n blote verwysing mag wees na die feit dat dit ‘n klagte van ‘n seksuele aard is nie, andersins sal dit teenstrydig wees met die beginsel wat gevestig is in S v Jackson, supra. In die konteks van die geheel van die uitspraak in S v Van der Ross, supra, is dit klaarblyklik ook nie wat bedoel is met die woorde “die aard van haar klagte” nie. Die bedoeling in daardie aangeleentheid was duidelik dat uiterse versigtigheid aan die dag gelê moet word in gevalle van ernstige aanklagte (wat nie noodwendig beperk is tot seksuele misdrywe nie) indien “the content and manner of the witness’s evidence, the circumstances of the case and the issues raised” die nodigheid vir so ‘n versigtige benadering aandui. Sien R v Makanjuola, R v Easton [1995] 3 All ER 730 (CA) op 732f-733a soos goedkeurend aangehaal in S v Jackson, supra, op 1009G-1010E.


[14] Die verhoorhof het die volgende uitlating gemaak:


Ek is wel deeglik bewus van die gevare, veral waar ek, waar seksuele aantygings gemaak word en die bewyslas daarom heen. Die hof moet kyk en soek na waarborge van betroubaarheid.” (eie beklemtoning)



Dit is duidelik foutiewe steun op die vroeëre algemene versigtigheidsreël ten aansien van aanklagte van seksuele misdrywe wat nie meer van krag is nie.

Dit blyk egter ironies genoeg uit die verhoorhof se hantering van die getuienis dat die vereiste versigtigheid, soos hierbo bespreek, hoegenaamd nie toegepas is nie. Sien S v F 1989 (3) SA 847 (A) op 852H-853C waar gewaarsku word dat lippediens nie voldoende is nie. Die uitstaande aspek van die verhoorhof se versuim in hierdie verband is die blote uitlating dat “die Hof aanvaar dat daar afwykings was in die onderskeie klaers se getuienis asook hulle verklarings”, maar dat daar dan versuim word om daardie afwykings te bespreek terwyl dit klaarblyklik wesenlike afwykings is. Die verhoorhof het eenvoudig voortgegaan om te bevind dat hy “oortuig [is] dat die klaers die waarheid getuig” ten spyte van die teenstrydighede. Die verhoorhof het voorts bevind dat “(o)m iedere punt van kritiek vermeld in betoog te behandel is ek van oordeel is nie nodig nie omdat een, die getuienis dui op wat gebeur het en twee, die regsbeginsels is daar om toegepas te word. Om met ‘n vergrootglas deur elke stukkie getuienis te gaan is verregaande en absurd. Die hele saak wentel om die eenvoudige vraag. Is die weergawe van die klaagsters korrek en/of is die Beskuldigde se weergawe redelik moontlik waar? Wat net (sic) elke klaagster gebeur het, indien dit aanvaar word, kom neer op onsedelike aanranding. Soos alreeds vermeld, die Hof aanvaar dat daar afwykings was in die onderskeie klaers se getuienis asook hulle verklarings. Hier wil die Hof aanhaal uit … Mvalidiso en andere 2003 1 SA 583 (AD). Op bladsy 594 paragraaf C … ‘Tweedens moet dit steeds voor oog gehou word dat nie elke fout deur ‘n getuie en nie elke weerspreking of afwyking die getuie se geloofwaardigheid aantas nie … nie wesenlike afwykings is … nie noodwendig relevant nie’” (eie beklemtoning). Die verhoorhof gaan dan eenvoudig voort om te bevind dat daar “duidelike gebrek aan intellek” by die klaagsters is sonder om die weersprekings te analiseer of te oorweeg of dit wesenlik is al dan nie. Dit is wêrelde verwyder van die vereiste analitiese wyse waarop weersprekings oorweeg behoort te word soos byvoorbeeld gedoen is deur die Hoogste Hof van Appèl in Gentle v State, supra. Sien ook S v Mkohle 1990 (1) SASV 95 (A) op 98f-g waar bevind is dat “an evaluation; taking into account such matters as the nature of the contradictions, their number and importance, and their bearing on other parts of the witness’ evidence” vereis word. Dit is verregaande om in beginsel weersprekings te ignoreer bloot omdat getuies ‘n “gebrek aan intellek” het. Die verhoorhof motiveer voorts hoegenaamd nie die gevolgtrekking ten aansien van die klaagsters se intellek nie. Indien hy dit baseer het bloot op die feit dat hulle fabriekswerkers is, is dit ongeregverdig en onvanpas. Dit blyk in ieder geval dat die klaagsters oor voldoende begripsvermoë beskik om verantwoordelik gehou te word vir weersprekings in hulle getuienis.


[15] Die verhoorhof se benadering tot die botsende weergawes van die klaagsters en die appellant is klaarblyklik foutief. In die dusver ongerapporteerde Hoogste Hof van Appèl uitspraak op 23 Augustus 2005 onder saaknommer 397/04 in die aangeleentheid van Marx v Die Staat, paragraaf [63], is bevind dat ‘n benadering soos diè van die verhoorhof wat hierbo aangehaal is (veral die passasie wat beklemtoon is), verkeerd is en dat die verwerping van die beskuldigde se getuienis nie noodwendig die aanvaarding van die klaagsters se weergawe tot gevolg het nie. Steeds moet bepaal word of bo redelike twyfel bevind kan word dat die klaagster se weergawe … waar is.”


[16] Die verhoorhof het voorts fouteer deur weinige, indien enige, gewig te verleen aan die weersprekings (waarmee later hierin vollediger gehandel sal word) tussen die klaagsters en persone aan wie hulle die voorvalle waarmee die klagstaat handel, rapporteer het. Dit was des te meer noodsaaklik om daardie oefening te doen in die lig van die versigtige benadering wat gevolg moes word in hierdie aangeleentheid. Sien Gentle v State, supra, paragraaf [18].


[17] Dit kom voor asof die verhoorhof, bloot omdat klaagster 1 die dag van die voorval aan een van haar medewerkers vertel het wat gebeur het, gewig verleen het daaraan ten einde te bevind dat die voorval, soos gerapporteer deur klaagster 1, wel plaasgevind het. Dit is uiteraard ‘n verkeerde benadering aangesien dit bloot betrekking kan hê op geloofwaardigheid. Sien Gentle v State, supra, paragraaf [19]. In hierdie aangeleentheid is daar trouens ‘n wesenlike weerspreking tussen die getuienis van klaagster 1 en haar gemelde medewerknemer, Barendse.


[18] Ten aansien van die versuim van die Staat om getuies te roep aan wie die klaagsters na bewering kort na die beweerde voorvalle verslag gedoen het, het die verhoorhof bloot bevind dat dit nie bekend is “of hierdie getuies nog beskikbaar is nie. Daar’s ook nie ‘n aanduiding dat daar verklarings van hulle geneem was of nie. Die Verdediging kon na die Staat se saak ‘n versoek tot die Hof gerig het om self met hierdie getuies te konsulteer ten einde hulle as Verdediging getuies te roep.” Hierdie is ‘n ooglopende mistasting. Eerstens, is die onus op die Staat om getuies te roep wat die geloofwaardigheid van die klaagsters kan aantoon. Dit is absurd om van die verdediging te verwag om dit te doen. Tweedens, kan daar van die Staat verwag word om getuienis voor die hof te plaas ten einde aan te toon dat derglike getuies nie beskikbaar is nie, indien dit wel die geval is. Derdens, het klaagster 4, getuig dat ene mej Pietersen aan wie sy die beweerde voorval gerapporteer het onmiddellik na die plaasvind daarvan, steeds in George is en dat sy kan getuig.


[19] Die volgende kritiek wat uitgespreek is deur die Hoogste Hof van Appèl in Stevens v The State, supra, paragraaf [18] kan in die omstandighede ook van toepassing gemaak word op die verhoorhof in hierdie aangeleentheid:


“…judgment illustrates the dangers of what has been called ‘a compartmentalised approach’ to the assessment of evidence, namely an approach which separates the evidence before the court into compartments by examining the ‘defence’s case’ in isolation from the ‘state’s case’ and vice versa.”


Die Hoogste Hof van Appèl het voortgegaan om met goedkeuring te verwys na die aangeleentheid van S v Van der Meyden 1999 (1) SASV 447 (W) op 449C – 450B en in die besonder die noodsaak daarvoor dat “the conclusion which is reached (whether it be to convict or to acquit) must account for all the evidence.” Soos reeds genoem, het die verhoorhof nie na behore al die getuienis oorweeg nie.


[20] Weens die bogenoemde mistastings van die verhoorhof is hierdie Hof derhalwe “at large to disregard the magistrate’s findings of fact, even if based on credibility, and to come to its own conclusion on the record as to whether the guilt of the appellant was proved beyond a reasonable doubt; and the onus accordingly becomes all important” – Gentle v The State, supra, paragraaf [12].


[21] Soos reeds genoem, het al die klaagsters hulself in verskeie opsigte weerspreek. Sommige van hulle het ook mekaar en ander getuies weerspreek. Daardie weersprekings, soos sinvol toegegee deur die respondent se advokaat tydens mondelinge betoog in hierdie Hof, is wesenlik en, soos reeds genoem, het die verhoorhof klaarblyklik versuim om voldoende gewig daaraan te verleen. Die klaagsters kon òf geen òf geen bevredigende verduidelikking verskaf vir al die weersprekings nie. Sien Stevens v The State, supra, paragraaf [20]. Daar sal vervolgens met sommige van daardie weersprekings gehandel word.


[22] Die getuienis van klaagster 1 oorweeg saam met die getuienis van Windwaai, Barendse en klaagster 3 is deurspek met wesenlike weersprekings. Volgens klaagster 1 het sy Barendse en ene Bernice Botha wat in die spreekkamer gewag het, aangesien hulle op dieselfde dag deur die appellant ondersoek moes word, meegedeel wat met haar gebeur het tydens die ondersoek. Volgens haar het sy aan Barendse gesê “ek donder nie weer na daai dokter toe nie”. Volgens Barendse is daardie woorde egter nie deur klaagster 1 geuiter nie. Dit is insiggewend dat klaagster 3 wat op ‘n ander datum as Moos ondersoek is, getuig het dat sy presies dieselfde woorde teenoor haar kollega Donson geuiter het nadat sy deur die appellant ondersoek is. Dit is onwaarskynlik dat altwee daardie klaagsters dieselfde woorde sou geuiter het en dit dui op die waarskynlikheid dat hulle die aangeleentheid bespreek het. Trouens, Windwaai het getuig dat klaagster 1 en klaagster 3 in mekaar se teenwoordigheid was in die teekamer van Prime Pine toe hulle die beweerde voorvalle aan haar gerapporteer het. Barendse het ook getuig dat klaagster 1 haar meegedeel het dat die appellant haar betas het en dat hy haar damesbroekie afgetrek het. Dit strook nie met die getuienis van klaagster 1 nie. Windwaai het ook die getuienis van klaagster 1 weerspreek. Volgens haar het klaagster 1 die aangeleentheid eers aan haar rapporteer maande nadat die beweerde voorval plaasgevind het terwyl klaagster 1 getuig het dat sy dit aan Windwaai rapporteer het op die dag wat sy deur die appellant ondersoek is. Volgens Windwaai is sy deur klaagster 1meegedeel dat die appellant aan haar vagina gevat het. Dit strook ook nie met die getuienis van klaagster 1 nie. Klaagster 1 het in haar getuienis in hoof beweer dat die appellant sy hand op die kant van haar bors geplaas het, maar sy het dit nooit gemeld teenoor Barendse of Windwaai of in enige van die twee skriftelike verklarings wat sy gemaak het nie. Dit is ook nie vervat in die klagstaat nie. Die verhoorhof het foutiewelik artikel 88 van die Strafproseswet, 51 van 1977, aangewend ten einde die appellant op sterkte van hierdie bewering skuldig te bevind. Artikel 86 sou die aangewese bepaling wees om aan te wend, maar soos later sal blyk, is dit nie nodig om verder met hierdie aspek te handel nie.


[23] Wesenlike weersprekings bestaan tussen klaagster 2 se mondelinge getuienis en ‘n skriftelike verklaring wat sy gemaak het. Sy het byvoorbeeld in die verklaring gesê dat die appellant haar damesbroekie afgetrek het, sy hand op haar vagina geplaas het en dit gevryf het. In haar mondelinge getuienis het sy egter beweer dat die appellant haar damesbroekie slegs effens afgetrek het en dat hy bo-op haar damesbroekie oor haar vagina gevryf het. Haar getuienis dat sy die voorval aan haar niggie, klaagster 3, gerapporteer het, is nie deur klaagster 3 bevestig in haar verklaring aan die polisie nie. Sy het in daardie verklaring gesê dat sy nie kon onthou wat klaagster 2 haar vertel het nadat sy deur die appellant ondersoek is nie. Dit is insiggewend dat sy eensklaps in haar mondelinge getuienis kon onthou en dit steun die gevolgtrekking dat die twee klaagsters die aangeleentheid bespreek het nadat klaagster 3 ‘n verklaring aan die polisie gemaak het. Dit is ook insiggewend dat hulle altwee getuig het dat die appellant hulle bene met sy elmboog uitmekaar forseer het.


[24] Buiten die bogenoemde kritiek op die getuienis van klaagster 3, was daar ook verskeie wesenlike weersprekings tussen haar mondelinge getuienis en skriftelike verklarings wat sy gemaak het. In ‘n skriftelike verklaring op die versoek van Pontes het sy byvoorbeeld met verwysing na die appellant gesê “Toe trek hy my pantie af en krap in my vagina met sy kaal hande” en in haar verklaring aan ‘n vakbondprokureur het sy gesê “He placed his hands on my vagina and began rubbing me in a sexual manner. He inserted one finger into my vagina and he continued what he was doing for 3/4 minutes”. Tydens kruisondervraging het sy egter toegegee dat die appellant nooit ‘n vinger in haar vagina geplaas het nie en dat hy ook nie sy hande op haar vagina geplaas het soos hierbo beskryf nie. Sy het in haar verklarings nie beweer dat die appellant haar bene oop forseer het met sy elmboog nie wat, soos reeds hierbo vermeld, insiggewend is inaggenome die feit dat haar mondelinge getuienis tot die teendeel ‘n buitengewone ooreenstemming toon met die getuienis van haar niggie (klaagster 2). Klaagster 2 het getuig dat sy gehoor het hoe klaagster 3 Donson meedeel dat die appellant op en af bewegings “onderkant haar pantie” gemaak het. Dit bots egter met die mondelinge getuienis van klaagster 3 dat die appellant haar damesbroekie afgetrek het tot net bo haar knieë voordat hy haar vagina aangeraak het.


[25] Klaagster 4 het in hoof getuig dat sy haar kollegas wat buite die spreekkamer gewag het, meegedeel het dat die appellant bo-op haar damesbroekie oor haar vagina gevryf het. Tydens kruisondervraging het sy egter getuig dat sy dit nie vreemd gevind het dat hy dit gedoen het nie. Sy het eers getuig dat sy gesien het met watter vinger die appellant bewegings oor haar vagina maak ten spyte van die feit dat sy op haar rug gelê het. Sy het dit eers probeer motiveer deur te sê dat sy ‘n kussing onder haar kop gehad het, maar het toe uiteindelik toegegee dat sy nie kon sien hoe die appellant sy vinger gebruik nie en dat sy dit slegs gevoel het. Sy het in ‘n skriftelike verklaring gesê dat die vaginale ondersoek wat deur die appellant gedoen is onnodig was, maar tydens kruisondervraging het sy haar nie daaroor bekla nie en het sy slegs beswaar gemaak teen die tydsduur daarvan. Indien die klaagster wel onsedelik aangerand is soos beweer, is dit uiters onwaarskynlik dat sy daarna nog tyd sou neem om die appellant te versoek om aandag te gee aan ‘n splinter in haar vinger soos wat sy wel gedoen het.


[26] Klaagster 5 het in haar getuienis in hoof getuig dat sy na die ondersoek deur die appellant haar kollegas meegedeel het dat die appellant haar betas het. Dit het sy ook in ‘n skriftelike verklaring gesê. Tydens kruisondervraging het sy egter getuig dat sy nie haar kollegas daarvan meegedeel het nie. Daar was ook verskeie wesenlike weersprekings tussen haar mondelinge getuienis en ‘n beëdigde verklaring wat sy gemaak het ongeveer ‘n maand na die beweerde voorval. Sy het byvoorbeeld in die verklaring gesê dat sy haar probleem aan die appellant verduidelik het waarna hy haar versoek het om haar skoene en broek uit te trek en op die bed te lê. In haar mondelinge getuienis het sy egter getuig dat die appellant haar eers aangesê het om uit te trek en te lê voordat hy verneem het wat haar probleem was. In die verklaring het sy beskryf hoe die appellant haar vagina betas het terwyl hy haar been vasgehou het en op en af gelig het. Sy het dit egter nie in haar getuienis in hoof vermeld nie en tydens kruisondervraging het sy hierdie bewering weerspreek. In haar verklaring het sy gesê dat die appellant haar vagina met altwee hande gevryf het terwyl sy in haar mondelinge getuienis beweer het dat dit slegs met een hand was. Volgens haar verklaring het die appellant haar vagina ongeveer 20 tot 25 minute gevryf, maar tydens haar mondelinge getuienis het sy dit ontken en gesê dat sy nie weet hoe lank dit geduur het nie.


[27] Klaagster 6 het in hoof getuig dat die appellant haar damesbroekie afgetrek het, maar sy het haarself weerspreek deur te sê dat hy haar vagina aangeraak het onder haar damesbroekie. Sy het tydens kruisondervraging herhaal dat die appellant haar vagina aangeraak het onder haar damesbroekie, maar het daarna haar weergawe weer verander deur te sê dat dit reeds afgetrek was toe hy haar aanraak. Sy het eers getuig dat die appellant haar vir ‘n uur onsedelik aangerand het, maar het dit toe verander na 30 minute. Dit is uiters onwaarskynlik dat dit vir so lank sou aanhou sonder dat sy sou reageer. Sy het eers getuig dat die appellant haar vir 30 minute ingespuit het en dit toe later verander na 15 minute. In ‘n skriftelike verklaring het sy gesê dat dit meer as 30 minute was. Dit is in ieder geval uiters onwaarskynlik dat ‘n inspuiting so lank sou duur. Sy het botsende weergawes gegee ten opsigte van die tydstip waarop die appellant weer haar damesbroekie opgetrek het. Daar is ook verskeie wesenlike weersprekings tussen die getuienis van die klaagster en haar kollega, Campher, aan wie sy na bewering die voorval gerapporteer het.


[28] Dit blyk dat die verhoorhof die getuienis van die appellant verwerp het omdat die weergawes van die klaagsters aanvaar is. Soos reeds aangetoon, is dit ‘n foutiewe benadering. Die drie weersprekings in die getuienis van die appellant waarna die verhoorhof verwys het, regverdig in ieder geval nie verwerping van die appellant se getuienis nie. Dit het gewentel om die vraag of klaagster 1 tydens die ondersoek ‘n buustelyfie aangehad het al dan nie, die mate waartoe klaagster 1 se liesklier geswel was en of klaagster 6 ‘n skoen aangehad het al dan nie. Daardie weersprekings is òf bevredigend deur die appellant verduidelik òf dit was nie wesenlik nie.


[29] Op die waarskynlikhede is die appellant se weergawe redelik moontlik waar. Eerstens, was die appellant te alle tye bewus daarvan dat die klaagsters werknemers is by dieselfde fabriek en sou hy tog bedag wees daarop dat, indien hy onbehoorlik sou optree, dit nie geheim sou bly nie. Tweedens, was daar in die meeste gevalle ander pasiënte wat vir hom in sy spreekkamer gewag het terwyl hy die klaagsters ondersoek het en is dit onwaarskynlik dat hy die risiko sou neem dat die klaagsters heftig sou reageer indien hy hulle onsedelik sou aanrand. Derdens, is dit onwaarskynlik dat die appellant binne die bestek van twaalf dae (en in die geval van die twee niggies, op een dag) vyf van die klaagsters (almal kollegas) onsedelik sou aanrand. Vierdens, het die appellant se kollega normaalweg die fabriekswerkers ondersoek en behandel en sou hy tog weet dat hy die risiko loop dat hulle hom by sy kollega kon verkla. Vyfdens, indien hy die beweerde dade gepleeg het, is dit onwaarskynlik dat die appellant so geredelik bereid sou wees om die aangeleentheid later te bespreek met die klaagsters in die teenwoordigheid van verteenwoordigers van hulle werkgewer. Sien in hierdie verband die kritiek teen die versuim om die waarskynlikhede te oorweeg soos uitgespreek in Stevens v The State, supra, paragraaf [26]. Die advokaat vir die respondent het in mondelinge betoog voor hierdie Hof sinvol toegegee dat die verhoorhof hierdie waarskynlikhede in ag moes neem.


[30] Die verhoorhof het bevind “(d)ie Hof moet vervolgens kyk het hierdie klaers ‘n motief om vals, valse aanklagtes teen Beskuldigde te maak” en “as die klaers saamgespan het … teen Dr De Villiers moes daar tog ook ‘n rede voor gewees het.


In sy uitspraak oorweeg die verhoorlanddros egter hoegenaamd nie die kombinasie van die volgende faktore nie. Die klaagsters was medewerknemers by dieselfde fabriek. Die klaagsters ten aansien van aanklagte 2 en 3 is ook familie van mekaar. Klaagster 1 en klaagster 3 het hulle weergawes van die gebeure sodanig bespreek dat hulle na bewering beide aan die persone aan wie hulle eerste verslag gelewer het, sou gesê het “ek donder nie weer na daai dokter toe nie”. Hulle is ook die twee persone wat die beweerde aanrandings onder die aandag van hulle toesighouer, Windwaai, in die teenwoordigheid van klaagster 6 gebring het. Windwaai, Pontes, vakbondverteenwoordigers en hulle prokureur het die aangeleentheid met al die klaagsters bespreek. Dit is ook openlik onder die fabriekswerkers bespreek. Die buitengewone ooreenkoms in die getuienis van die twee niggies (aanklagte 2 en 3) is duidelik meer as net toeval. Die klem wat feitlik al die klaagsters geplaas het op die feit dat die appellant nie handskoene aangehad het terwyl hy hulle ondersoek het nie, is ‘n verdere aanduiding dat hulle in alle waarskynlikheid die aangeleentheid bespreek het.


Dit is moontlik dat ‘n wanopvatting by die klaagsters kon ontstaan het nadat klaagster 1 teenoor haar kollegas kritiek uitgespreek het aangaande die appellant aangesien sy gewoon nie begryp het waarom die appellant haar kliere wou ondersoek terwyl sy ‘n seerplek op haar onderbeen gehad het nie. Toe die ander vyf klaagsters derhalwe maande later deur die appellant ondersoek is en hy hulle byvoorbeeld moes palpeer ten einde die oorsprong van pyn (insluitende buikpyn) vas te stel, was hulle heel moontlik vatbaar vir ‘n verwronge interpretasie van sy ondersoek terwyl dit uit die getuienis van Prof Pienaar blyk dat, in die algemeen, die omvang van die ondersoek nodig was.


Soos in die Stevens-aangeleentheid para [24] “(o)n a conspectus of all the evidence the complainants did in fact have the opportunity to discuss the matter with one another, and must indeed have done so … This being so, the magistrate’s finding… indicates a failure properly to assess the evidence in this regard.”


[31] Die foute begaan deur die verhoorhof wat die onderwerp gevorm het van Stevens v The State, supra, en wat die Hoogste Hof van Appèl beweeg het om die skuldigbevinding in daardie aangeleentheid tersyde te stel, blyk in ‘n groot mate vergelykbaar te wees met die foute wat ook deur die verhoorhof in hierdie aangeleentheid begaan is.

[32] In die vooropstelling blyk dit dat die volgende bevinding in Stevens v The State, supra, paragraaf [29] ook op hierdie aangeleentheid van toepassing gemaak kan word:


The contradictions between the evidence of the … complainants and the inherent contradictions and inconsistencies in the evidence of each of them, are numerous and, in many respects, undeniably material. It is not, however, necessary to analyse these contradictions in any greater detail than set out above. Suffice it to say that, in our view, the magistrate failed to give sufficient weight to these contradictions and, in addition, failed properly to weigh the complainant’s evidence against that of the appellant and against the probabilities… To our minds, it cannot be said that the evidence, taken as a whole, establishes beyond reasonable doubt that the appellant indecently assaulted any of the… complainants.”


[33] Die appèl behoort derhalwe te slaag en die skuldigbevinding en vonnis van die appellant behoort tersyde gestel te word.



_______________________

R F VAN ROOYEN



Ek stem saam en dit word so gelas.



_______________________

E MOOSA