South Africa: Western Cape High Court, Cape Town Support SAFLII

You are here:  SAFLII >> Databases >> South Africa: Western Cape High Court, Cape Town >> 2008 >> [2008] ZAWCHC 201

| Noteup | LawCite

Thiart v S (A514/2007) [2008] ZAWCHC 201 (16 May 2008)

Download original files

PDF format

RTF format


SAFLII Note: Certain personal/private details of parties or witnesses have been redacted from this document in compliance with the law and SAFLII Policy



IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA

(KAAP DIE GOEIE HOOP PROVINSIALE AFDELING)

Saaknommer: A514/2007

Datum: 16 Mei 2008

In die saak tussen:

MARIUS THIART......................................................................................................................................Appellant

en

DIE STAAT............................................................................................................................................. Respondent



UITSPRAAK

Van Reenen, R

Geriefshalwe word daar na die appellant as die beskuldigde verwys.

Die beskuldigde is in die streekhof te Parow aangekla op drie klagtes van onsedelike aanranding. Die hoofinhoud van die eerste en tweede klagtes was dat hy op of omtrent 2004 en te Bellville op twee verskillende geleenthede vir MS, die klaagster, ˊn tienjarige dogter, onsedelik aangerand het deur haar op die eerste geleentheid aan haar vagina te vat en daarmee te speel en dat hy op die tweede geleentheid haar vagina sou gelek het. Die hoofinhoud van die derde klagte was dat die beskuldigde op of omtrent 2005 en te Bellville die klaagster onsedelik aangerand het deur aan haar vagina te vat.

Die beskuldigde, wat deur ˊn prokureur verteenwoordig was, het onskuldig gepleit en het formeel erken dat hy en die klaagster se moeder in 2004 en 2005 ˊn verhouding met mekaar gehad het; dat die klaagster en haar broer beide by tye in sy geselskap was; en dat die klaagster toendertyd tien jaar oud was.

Nadat die Staat getuienis aangebied en die beskuldigde self getuig het, is hy skuldig bevind soos aangekla, en ˊn vonnis van agt jaar gevangenisstraf opgelê. Die beskuldigde se aansoek vir verlof om teen sowel die skuldigbevinding as die vonnis wat hom op gelê was, te appelleer, is geweier, wat betref die eersgenoemde, maar toegestaan wat betref die laasgenoemde.

Beskuldigde het nie binne 21 dae nadat verlof om teen die skuldigbevinding te appelleer – wat op 17 Julie 2007 geweier was – aan hierdie Hof gepetisioneer vir verlof om ook daarteen te appelleer nie, soos wat deur artikel 309C van Wet 51 van 1977 (waama hierna as "die Strafproseswet" verwys sal word) vereis nie.

Hy het op 1 April 2008 ˊn kennisgewing van mosie by hierdie Hof geliasseer waarin hy verlof vra om teen sy skuldigbevinding te appelleer en kondonasie vir die laat liassering daarvan aanvra. Die feit dat die statutêr voorgeskrewe periode van 21 dae verstryk het, staan myns insiens nie in die weg van ˊn oorweging van die aansoek nie, omdat artikel 309C(2)(b)(ii) van die Strafproseswet bepaal dat daardie tydperk verleng kan word vir gegronde redes, uiteraard, onderhewig aan die voldoening aan die gebruiklike bewysdrempels wat deur die howe gestel word, by ˊn aansoek vir kondonasie, naamlik, ˊn aanvaarbare verduideliking vir die versuim asook bewys van ˊn redelike vooruitsig van sukses in die beoogde verrigtinge.

Die beskuldigde het weliswaar nie ˊn afsonderlike versoekskrif geliasseer nie, maar het die aansoek om kondonasie en die aansoek vir verlof om te appelleer in een gerol. Dit sou myns insiens uiters spitsvondig wees om die aangevraagde regshulp te weier slegs vanweë ˊn aandrang op die nakoming van ˊn bloot formele vereiste, naamlik, die beskrywing en vorm van die aansoek.

Die beskuldigde se verduideliking vir die laat liassering van die aansoek vir verlof om teen sy skuldigbevinding te appelleer is ˊn gebrek aan middele wat hy beweer oorkom is deurdat hy finansiële bystand van sekere familielede ontvang het. Die getuienis by die verhoor was dat hy ongeveer R7 000 netto per maand verdien. Daar is geen besonderhede voor hierdie Hof geplaas wat die koste verbonde aan die transkribering van die oorkonde van die verhoor nie asook wat die koste van die voortsetting van die appel is nie. Daar is ook geen aanduiding van watter bedrag van sy maandelikse salaris vir diskresionêre besteding beskikbaar is nie.

Die feitebewerings in sy eedsverklaring is egter nie deur die Staat in geskil geplaas nie. Alhoewel die verduideliking vir die vertraging nie besonder oortuigend is nie, word dit aanvaar dat die oortuigingskrag van die een element die onvoldoendheid van die ander kan aanvul. Daardie oorweging noodsaak dan dat die beskuldigde se vooruitsigte om suksesvol te wees met die aansoek vir verlof om teen sy skuldigbevinding te appelleer deur hierdie Hof oorweeg sal moet word in die beslissing van die kondonasie-aansoek.

Die klaagster in die onderhawige saak was nie alleen ˊn jeugdige nie (sy was tien jaar oud toe die beweerde misdryf gepleeg was en 12 jaar by die aanvang van die verhoor) maar was boonop ˊn enkelgetuie. Verder het die klaagster se moeder getuig dat sy op ˊn vroeë ouderdom vir haar aanhoudend valslik beskuldig het dat sy en ˊn vriend van haar naak saam sou geslaap het en ook aanhoudend daarop aangedring het dat sy en die beskuldigde mekaar in haar teenwoordigheid moes soen. Op sterkte daarvan het sy vermoed dat die klaagster alreeds op ˊn vroeë stadium van haar lewe blootgestel was aan die een of ander ervaring van ˊn seksuele aard. Die klaagster se eie vader is deur haar verdink. Sy het ook getuig dat sy ˊn oortuigende aktrise was en dit was waarskynlik die rede waarom sy (die moeder) aanvanklik die klaagster se beskuldigings teen die beskuldigde in twyfel getrek het.

Die klaagster self het getuig dat sy nie wou gehad het dat die beskuldigde en haar ma moes saam wees nie. Dit verskyn in die oorkonde op bladsy 28, reëls 21 tot 25, ˊn feit wat sydelings bevestig word deur haar moeder se getuienis dat die klaagster en die beskuldigde se verhouding "katterig" was.

Die bogenoemde faktore, wat nie voorgee om h geslote lys te wees nie, dui daarop dat die onderhawige by uitstek ˊn geval is, soos voorsien word in S v J 1998 (4) SASV 424 (HHA) te 430H waar die feite van die saak vir toepassing van die versigtigheidsreël smeek.

Die Verhoorlanddros het weliswaar die statutêre vereistes vir ˊn skuldigbevinding, op die getuienis van ˊn enkelgetuie aangestip en op sterkte van ˊn – na my mening ietwat verwronge siening van die reg daaromtrent – ˊn mening uitgespreek oor die klaagster se bevoegdheid as getuie, maar het nie uitdruklik enigiets oor die toepaslikheid van die versigheidsreël in so h geval gesê nie. Sy het wel genotuleer dat die klaagster ˊn kind was, maar "dat daar geen sake is wat sê dat ek baie meer versigtig moet wees met ˊn kind se getuienis nie". Sy het verder ook gesê "dat daar ˊn saak is" wat sê dat sy versigtig moet wees as dit aangedui is in die betrokke saak. Dit was waarskynlik ˊn verwysing na S v J (supra).

Die voormelde is die somtotaal van aandag wat deur die landdros aan die toepassing van die versigtigheids reël verleen was. Dit skyn voor-die-hand-iiggend te wees dat die versigtigheidsreël nie ˊn regsreël is nie en ook nie die bewyslas in ˊn strafsaak op enige wyse beinvloed nie. Die versigtigheidsreël dank sy ontstaan aan ˊn besef aan die kant van regters en landdroste dat daar in besondere gevahe omstandighede teenwoordig mag wees wat ˊn skuldigbevinding gebaseer op ˊn onkritiese aanvaarding van ˊn getuie se weergawe riskant mag maak byvoorbeeld, die beïnvloedbaarheid en verbeeldingrykheid van jeugdiges en dat dit deurentyd in die bantering en beoordeling van die getuienis voor oë gehou moet word. (Sien in dié verband S v M 1992 (2) SASV 188 (W) te 193c–e.)

In sulke gevalle word daar gesoek vir bevredigende aanduidings wat op die betroubaarheid van die getuienis dui en die risiko van ˊn foutiewe skuldigbevinding verkiein. (Sien byvoorbeeld Hofmann & Zeffert, South African Law of Evidence, 4e uitg. te 580.) Die versigtigheidsreël vereis egter nie dat getuienis kritiekloos moet wees nie, maar slegs dat "it is substantially satisfactory in all material respects … or is corroborated". (Per Leon, R in S v Ganei 1967(4) SA 203 (N) te 206A.)

Die benadering van ons howe is dat daar nie slegs lippediens aan die inhoud van die reël betoon moet word nie, maar dat dit uit die hantering en beoordeling van die getuienis moet blyk dat die Hof inderdaad die getuienis met die nodige versigtigheid benader en beoordeel het. (Sien S v F 1989 (3) SA 845 (A) te 852A–853C.)

Dit blyk uit die klaagster se getuienis dat geen persone ander dan sy en die beskuldigde teenwoordig was toe die misdrywe waarvan die beskuldigde beskuldig word, gepleeg sou gewees het nie. Omdat die situasies waarin die misdrywe gepleeg sou gewees het van so ˊn aard was dat dit sigself onbepland kon voorgedoen het vanweë die klaagster en die beskuldigde se blootstelling aan mekaar in ˊn huislike opset, was daar geleentheid vir die pleging van die misdrywe, waarvan die beskuldigde beskuldig word. Gevolgiik is die enigste vraag of die Staat bo redelike twyfel bewys het dat die beskuldigde inderdaad die dade gepleeg waarvan hy beskuldig word. Wat dit betref is daar twee lynreg botsende weergawes.

Die landdros se poging om steun vir die konsekwentheid van die klaagster se weergawe te vind in "die verslag wat ingegee is" – wat klaarblyklik ˊn verwysing was na die verslag van die sogenaamde forensiese maatskaplike werkster, TE – was ondeugdelik vir die eenvoudige rede dat dit hoegenaamd nie voldoen aan die algemeenbekende vereistes vir die toelaatbaarheid van ˊn eerste klagte by ˊn seksuele misdryf nie (sien in dié verband C W H Schmidt & R Rademeyer, Law of Evidence, paragraaf 14.4 te bladsy 14/11 en verder), sodat wat ook al die klaagster aangaande die beweerde insident sou gesê het, ontoelaatbare hoorsê was. In soverre daar gepoog mag word om op die klaagster se rapport aan haar moeder as eerste klagte te steun, hou dit ook nie water nie. In die eerste plek, omdat dit nie uit die aangebode getuienis duidelik is hoe lank na die plaasvind van die gewraakte gebeure die ontlokte rapport gemaak was nie.

Dit was egter vanuit die getuienis duidelik dat die klaagster se moeder in die nabyheid was tydens die gebeure wat die onderwerp van die eerste klagte vorm, asook kort na die gebeure wat die onderwerp van die tweede en derde klagtes vorm en dat die klaagster geen rapport aan haar gemaak het of enige waarneembare teken van ontsteldheid geopenbaar het nie.

In die tweede plek is daar, heel tereg, nie in die uitspraak enige steun geplaas op die klaagster se klagte aan haar moeder nie. Dit is nie verbasend nie, omdat ook dit nie aan die welbekende vereiste dat ˊn eerste klagte toelaatbaar is slegs indien dit by die eerste redelike geleentheid na die gebeure gemaak word, voldoen nie.

Gevolglik kon daar nie enige bevinding gemaak geword het aangaande die konsekwentheid van die klaagster se weergawe nie en kon dit op sy beurt ook nie haar geloofwaardigheid onderskraag het nie. (Sien in dié verband S v Hammond 2004 (2) SASV 303 (HHA) te 313h.) Gevolglik staan die klaagster se getuienis aangaande die beweerde dade van onsedelike aanrandings stoksielalleen en, soos reeds gesê, is daar twee lynreg botsende weergawes daaromtrent.

Die landdros het twee-derdes van haar uitspraak gewei aan die oorweging van die klaagster se betroubaarheid as getuie en ongeveer 1/18de, dit wil sê, tien getikte reëls, aan die beskuldigde se weergawe en het op sterkte daarvan uitdruklik die klaagster se getuienis aanvaar en by noodwendige implikasie die beskuldigde se weergawe verwerp.

In die oorweging van die klaagster se betroubaarheid, het die landdros op verskeie aspekte gefokus waarmee daar kortliks hieronder gehandel sal word. Die werkswyse wat deur die landdros gevolg was, was om norme van onbekende herkoms te skep en dan relevante gedeeltes van die klaagster se getuienis daarteen te toets. Eerstens, is daar gekyk na die detail wat die klaagster gegee het. Die gevolgtrekking is gemaak (sonder om enige voorbeelde te verskaf van dit waarop daar gesteun was) dat indien die klaagster haar storie sou opgemaak het, sy nie soveel detail sou kon verskaf het nie. My eie indruk by die deurlees van die oorkonde was juis die oppervlakkigheid en die karigheid van besonderhede van presies hoe en wat die beskuldigde dit waarvan hy beskuldig word, op die verskillende geleenthede sou gedoen het. Tweedens, het die landdros gekyk na die klaagster se vermoë om die gebeure in samehang te kan plaas en tot die gevolgtrekking kom dat die klaagster se vermoë om elkeen van die drie voorvalle in ˊn behoorlike samehang te plaas aanduidend was van haar betroubaarheid. Soos alreeds vroeër aangestip is, kon die situasies waarin die gewraakte gebeure hulself afgespeel het, hulself van tyd tot tyd spontaan voorgedoen het in die familie-opset en het dit weinig probatiewe waarde.

Dieselfde geld vir die derde faktor wat deur die Hof in oorweging geneem is, naamlik, die afwesigheid van enigiets ongewoond omtrent die voorvalle en die volgende moeilik verklaarbare gevolgtrekking waartoe geraak is:

"… indien daar besondere detail vir ons gewees het wat iets snaaks was, wat sy ook ingebring het, sou dit ook vir ons kon sê sy onthou ˊn spesifieke voorval en dit sou behulpsaam wees, maar in hierdie geval was dit nie. Sy het nie baie van daardie goed gegee nie." (Oorkonde bladsy 92, reëls 19 tot 13.)

Met die beste wil in die wêreld kon ek nie enige sin maak uit daardie aanhaling nie.

Die vierde aspek wat op sterkte van ˊn weereens ongefundeerde stelling oorweeg was:

"Indien ˊn kind iets van hierdie aard sou opmaak, dan sou ons van daardie kind verwag dat sy ook vir ons ˊn prent sou teken van ˊn persoon wat wreed is, van ˊn persoon wat nie lekker is nie, ˊn persoon waarvan ons kan verwag daardie persoon hierdie soort goed doen, is die klaagster se verhouding met die beskuldigde, maar sy dit nie gedoen het nie, maar gesê dat haar verhouding met horn goed was en dat sy eintlik nie baie probieme met horn gehad het nie en daar gevolglik nie ˊn rede was om te glo dat sy gesê het omdat sy nie probeer het om die prentjie erger te maak as wat dit was nie." (Rekord, bladsy 92, reëls 13 tot 19.)

Nie alleenlik is dit moeilik om die logika van die aangehaalde passasie te volg nie, maar volgens die klaagster se moeder was die verhouding van die beskuldigde en die klaagster in werklikheid nie sleg nie. Dit is moeilik om te verstaan hoe die weergee deur die klaagster aan haar moeder haar betroubaarheid op enige wyse kon versterk het.

Die vyfde aspek wat deur die landdros oorweeg is, was dat indien die klaagster ˊn opgemaakte storie sou wou vertel het, slegs een insident voldoende sou gewees het ten einde haar doel te bereik en dat die feit dat sy drie verskillende voorvalle kon beskryf en detail daaromtrent kon verskaf, aanduidend is daarvan dat haar getuienis betroubaar is. Weereens, soos voorheen, word die beoordeling van betroubaarheid van die klaagster aan die hand van ˊn selfgeskepte norm beoordeel en oortuig dit hoegenaamd nie.

Die alleen is die landdros se bevinding dat die klaagster se getuienis betroubaar is, op onoortuigende gronde gebaseer nie, maar daar is aspekte wat, myns insiens, nadelig daarop inwerk wat óf deur haar geïgnoreer was óf uit die oog verloor was. Die volgende is voorbeefde en gee nie voor om ˊn geslote lys te wees nie. Eerstens, die voor-die-hand-liggende onversoenbaarheid van die klaagster se moeder se getuienis oor die positiewe aard van die verhouding tussen die klaagster en die beskuldigde – soos wat dan ook deur die Hof bevind was – en die latere buitensporige vrees wat deur haar geopenbaar is, soos aanvanklik deur die aanklaer en die sosiale werkster geartikuleer was, tesame met die klaagster se aanvanklike halsstarrige houding in die hof aangaande die afle van getuienis.

Tweedens, die klaagster se weergawe ten opsigte van die eerste klagte. Sy het aanvanklik getuig dat "ons elkeen vir ons ˊn kombers" gaan haal het. (Rekord bladsy 22, reëls 3 tot 5), maar sy het in kruisondervraging gesê dat die beskuldigde vir haar sou gesê het om die kombers te gaan haal. (Rekord 33, reëls 25 tot bladsy 34, reël 1.)

Dit is ook moeilik verstaanbaar waarom die klaagster, wat verskeie kere deur haar moeder aangesê was om te gaan slaap en gedagtig aan die beeld wat deur haar ma en ouma geskep is, naamlik, dat sy haarself kan laat geld, sy dit nie as ˊn kans benut het om van die beskuldigde weg te kom nie. Toe die klaagster deur die aanklaer gevra was waarom sy nie vir haar ma vertel het nie, het sy gesê dat die beskuldigde gesê het dat sy dit nie moes doen nie en het net terloops bygevoeg dat hy ook ˊn pistool gehad het, waardeur ˊn versluierde innuendo van vrees van die beskuldigde weergegee was.

Dit is moeilik om daardie getuienis te versoen met haar latere getuienis (Rekord 38, reëls 6 tot 9) dat sy eers na die derde insident vir die beskuldigde bang geraak het. ˊn Verduideliking wat die klaagster gegee het vir haar versuim om vroeër by haar ma te gaan kla het, is dat sy toentertyd nie geweet het wat dit was wat die beskuldigde aan haar sou gedoen het nie. Daardie getuienis rym glad nie met die klaagster se moeder en ouma se getuienis dat dit deur hulle by die klaagster en haar broertjie ingeprent was dat hulle nie moes toelaat dat enigiemand aan hulie privaatdele vat nie en dat dit aan hulle verduidelik was wat om daaromtrent te doen, soos byvoorbeeld Child Life te bel.

Derdens, die klaagster se weergawe van wat by die tweede geleentheid sou gebeur het. Die klaagster gee slegs minimale feite van die aanloop tot en die plaasvind van daardie insident. Daar word, byvoorbeeld, nie gesê of sy alreeds geslaap het nie; of sy komberse oor haar gehad het of daarop gele het nie; hoe die beskuldigde te werk sou gegaan het om haar te ontklee; wat haar reaksie daartydens of daarna was nie en wat sy daarna sou gedoen het nie, byvoorbeeld, wanneer haar klere weer aangetrek was en deur wie. Wat ons wel weet is dat toe sy in hoofgetuienis gevra was of die beskuldigde enigiets voor of na die voorval gesê het, het sy “Nee” geantwoord (Rekord 27, reëls 12 tot 13) en dat sy, toe sy daaromtrent gekruisvra was, gesê het dat die beskuldigde, voor hy begin het, vir haar sou gesê het dat sy niks moet sê nie anders kom hy in "die skel" by die polisie (Rekord bladsy 42, reël 24 tot bladsy 43 reël 9). Weereens het sy nie vir haar ma vertel van wat sou gebeur het nie. Vierdens, die betroubaarheid van die klaagster se weergawe ten opsigte van die derde gebeurtenis: Die klaagster het getuig dat sy vanweë die twee vorige insidente "ˊn bietjie banger" vir die beskuldigde geraak het. In weerwil daarvan, sê sy, dat sy uit haar eie en sonder bystand vanaf die passasier se sitplek oorgeskuif het om op die beskuldigde se skoot te gaan sit. Dit is moeiik om daardie optrede – indien waar – te rym met haar weergawe dat die beskuldigde haar voorheen op twee geleenthede onsedelik sou aangerand het nie.

In die lig van die voorgaande, is ek van mening, dat daar ten minste twyfel by die landdros moes bestaan het aangaande die vraag of die klaagster se getuienis in alle opsigte substansieel bevredigend was en of die staatsaak aan die vereistes van die reëls van versigtigheid voldoen het.

Indien ek wat dit betref sou fouteer, is daar myns insiens ˊn verdere basis waarop daar met die skuldigbevinding ingemeng kan word. Die landdros het soos volg met die beskuldigde se weergawe in haar uitspraak gehandel:

"Ek moet nie net na haar getuienis kyk nie. Dit is die mees belangrikste getuienis, maar ek moet ook na al die ander getuienis kyk sowel as u getuienis en in verband met u getuienis is dit net algehele ontkenning van die beweerde misdade en daar is nie veel ander getuienis wat die Hof kan behulpsaam wees in u getuienis want u erken meeste van die goed wat die kind gesê het behalwe vir die seksuele dade. U erken die omstandighede, die konteks, die verhoudings. U sê net dat dit nie gebeur het nie. In die lig van wat die kind vir ons gesê het, is daar geen twyfel by die Hof dat dit wel gebeur het nie en dit het wel gebeur soos sy vir die Hof verduidelik het en dit dus is u skuldig bevind aan die klagtes van onsedelike aanranding.”

Dit kom voor uit die wyse waarop die landdros se uitspraak ten opsigte van die skuldigbevinding geformuleer is dat sy die klaagster se getuienis as die mees belangrike beskou en ook behandel het en die indruk word verwek dat sy die beskuldigde se ontkenning as onvoldoende afgemaak het. Dit is opsigtelik dat dit beskryf word as “net ˊn algehele ontkenning" asook "u sê net dat dit nie gebeur het nie". Die gebruik van die woord "net" het In die konteks beteken "alleen" of "slegs" en is vatbaar vir die afleiding dat dit nie voldoende was nie. Dit is algemeen aanvaarde reg dat die skuld van ˊn beskuldigde beoordeel moet word in die lig van die totaliteit van die aangebore getuienis en nie gekompartementaliseerd of fragmentaries nie. (Sien S v Trainor 2003 (1) SASV 35 (HHA) te para. [8].)

Dit is duidelik dat die landdros dit nie gedoen het nie, maar die beskuldigde se weergawe verwerp het slegs op die basies van "die mees belangrike getuienis" van die klaagster wat sy geglo het sonder om te oorweeg het of die beskuldigde se ontkenning nie tog redelik moontlik waar kon wees nie. Om op sy vryspraak geregtig te gewees het, was dit nie vir die beskuldigde nodig gewees om die Hof te oortuig het dat hy ˊn geloofwaardige getuie was nie, maar slegs dat sy weergawe redelik moontlik waar kon wees.

Anders as in die geval van die klaagster, het die landdros nie enige pogings aangewend om die beskuldigde se getuienis te ontleed nie. Behalwe dat die landdros by noodsaaklike implikasie sy weergawe verwerp het, is daar nie spesifieke geloofwaardigheidsbevindings ten opsigte van enige spesifieke aspek van die beskuldigde se getuienis gemaak nie: nog minder was daar enige nadelige gedragsbevindings.

Die beskuldigde het getuig en is redelik deeglik deur die Staat gekruisvra. ˊn Noukeurige bestudering van sy getuienis toon nie enige interne weersprekings of onversoenbaarhede nie. Dit versterk natuurlik die afleiding dat die landdros sy getuienis verwerp het bloot omdat dit onversoenbaar is met die van die klaagster. Anders as in die geval van die klaagster, is daar nie enige weersprekings of ander twyfelwekkende aspekte in die beskuldigde se getuienis nie.

In die omstandighede is dit moeilik denkbaar dat die landdros op enige rasionele basis die beskuldigde se getuienis kon verwerp het en die van die klaagster kon aanvaar het. In die omstandighede kon die landdros, myns insiens, nie bevind het dat die beskuldigde se weergawe nie redelik moontlik waar kon wees nie. Dit noop my – ten spyte van die feit dat ek deeglik bewus is van hoe moeilik dit is om ˊn ex tempore-uitspraak te gee – my stem toe te voeg tot dié van my kollega Yekiso, R wat in S v K 2008 (1) SASV 84 (K) te 86f–g die volgende gesê het:

"The complainants in matters of this nature unfortunately happen to be the most vulnerable members of our society. But … the vulnerability of this section of our society should not be allowed to be a substitute for proof beyond reasonable doubt or to cloud the threshold requirement of proof beyond reasonable doubt. Judicial officers ought to and are expected to evaluate evidence properly and objectively as a whole and against all probabilities in order to arrive at a just and fair conclusion. Anything short of this test, is nothing other than [a] miscarriage of justice."

Dit volg logies uit die voorgaande dat ek van mening is dat die beskuldigde voldoen het aan die vereistes vir kondonasie vir die laat Itassering van sy aansoek vir verlof om teen sy skuldigbevinding te appelleer. Gevolglik word daardie AANSOEK TOEGESTAAN EN WORD DIE BESKULDIGDE VERLOF VERLEEN OM OOK TEEN SY SKULDIGBEVINDING TE APPELLEER.

Aangesien die meriete van die appèl as deel van die aansoek om kondonasie en die aansoek vir verlof om te appelleer geargumenteer en oorweeg is, is dit nie nodig om weer van meet af aan daaroor te besin nie. Gevolglik word die appèl teen DIE SKULDIGBEVINDING GEHANDHAAF EN WORD DIE SKULDIGBEVINDING VAN DIE BESKULDIGDE OP DIE DRiE KLAGTES VAN ONSEDELIKE AANRANDING ASOQK DIE VONNIS WAT HOM TEN OPSIGTE DAARVAN OPGELÊ IS, TER SYDE GESTEL.

Ten slotte vind ek dit nodig om net die volgende by te voeg vir die voordeel van die landdros. Ek vind dit nodig om die landdros se aandag daarop te bevestig dat die wyse waarop die die toepaslikheid, al dan nie, van die bepalings van die Strafregwysigingswet, 105 van 1997, deur haar hanteer was, ˊn erge onreëlmatigheid was en dat die ondersoek daarna of ˊn getuie tussen die waarheid en ˊn leuen kan onderskei meer deurtastend gedoen moes geword het. So ook die ondersoek daarna of die klaagster die aard en strekking van die eed of bevestiging verstaan het, soos wat uiteengesit word in onder andere die saak van S v N 1962 (2) SA 225 (C).

….............................................................................................................................................................

..........................................................................................................................VAN REENEN, R

STEYN, WnR: Ek stem saam:

….............................................................................................................................................................

............................................................................................................................STEYN, WnR