South Africa: Western Cape High Court, Cape Town Support SAFLII

You are here:  SAFLII >> Databases >> South Africa: Western Cape High Court, Cape Town >> 2008 >> [2008] ZAWCHC 21

| Noteup | LawCite

Vermaak v Addisionele Landdros (Kuilsrivier) (12024/07) [2008] ZAWCHC 21 (30 April 2008)

Download original files

PDF format

RTF format


IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA

(KAAP DIE GOEIE HOOP PROVINSIALE AFDELING)


Saaknommer: 12024/07


In die saak tussen:


SUSAN VERMAAK Applikant


en


DIE ADDISIONELE LANDDROS (KUILSRIVIER) Respondent



UITSPRAAK: 30 APRIL 2008



VAN ZYL R:


INLEIDING


[1] Hierdie is ‘n hersieningsaansoek voortspruitend uit die bevinding wat die respondent op 27 April 2007, as voorsittende beampte in ‘n geregtelike doodsondersoek na die oorlye van wyle Werner Vermaak (“die oorledene”), uitgebring het. Toe die saak op 16 November 2007 op ‘n ongeopponeerde basis voor hierdie hof geargumenteer is, is die aansoek toegestaan onderhewig daaraan dat redes vir die bevel later verstrek sou word. Die redes blyk uit wat hieronder volg. Die hof spreek sy dank uit teenoor Adv F van Zyl SC wat namens die applikant opgetree het en volledige hoofde van betoog voorgelê het. Dank is ook verskuldig aan Adv R J de Kock van die Kantoor van die Direkteur van Openbare Vervolgings: Kaap die Goeie Hoop, wat in ‘n memorandum ‘n regsopinie oor die aangeleentheid verskaf het.

[2] Die kern van die saak is of die oorledene, wat homself om die lewe gebring het, voor middernag op 30 September 2005 dood is of eers daarna. Indien dit eersgenoemde was, sou sekere voordele aan sy vrou, die applikant, en sy twee minderjarige seuns (vyftien en dertien jaar oud onderskeidelik) toeval. Indien dit laasgenoemde was, sou hulle die voordele verbeur.

[3] In die relevante stadium was die oorledene as hoof regsadviseur in diens van die Universiteit van Stellenbosch (“die Universiteit”). As gevolg van sekere beweerde onreëlmatighede, het hy bedank met effek vanaf 30 September 2005, wat dan sy laaste dag van diens sou wees. Indien hy voor middernag op daardie dag tot sterwe sou kom, sou sy vrou en kinders substansiële pensioen- en mediese voordele ontvang, terwyl sy kinders gratis aan die Universiteit sou kon studeer.

[4] Die probleem is dat hy op die vorige dag, naamlik 29 September 2005, ‘n onsuksesvolle poging aangewend het om homself om die lewe te bring deur die neem van ‘n oordosis pille. Hy het eers om 22.16 die aand van 30 September 2005 die tou gekoop waarmee hy hom daarna opgehang het en sy dood veroorsaak het. Sy liggaam is egter eers die volgende dag, naamlik 1 Oktober 2005, gevind. Dit was dan ook die datum van afsterwe wat in sy sterftesertifikaat aangebring is.

[5] Ten tye van die formele geregtelike doodsondersoek het Dr E H Burger, ‘n geregtelike pataloog, en Mev L E Vermaak, die moeder van die oorledene, getuienis aangebied. Daarbenewens is heelwat dokumentasie aan die respondent voorgelê. Na oorweging daarvan het die respondent, ingevolge artikel 16(2)(c) van die Wet op Geregtelike Doodsondersoeke 58 van 1959, tot die slotsom gekom dat dit nie bepaal kon word of die oorledene op 30 September of 1 Oktober 2005 tot sterwe gekom het nie. Dit moes dus bevind word dat hy òf op die een òf op die ander datum gesterf het.

[6] Soos blyk uit die beëdigde verklaring van Mnr J P van Niekerk, die applikant se prokureur, het hy skriftelik kennis van die onderhawige aansoek gegee aan die Universiteit, die oorledene se werknemer, en aan Sanlam, die onderskrywer van die tersaaklike pensioenfonds. Beide instansies het skriftelik aangedui dat hulle nie van voorneme was om die aansoek te betwis nie. Die respondent het eweneens berus by die bevinding van hierdie hof.

AGTERGROND

[7] Die tersaaklike agtergrond blyk uit die funderende beëdigde verklaring van die applikant. Daaruit blyk dit dat die oorledene beskik het oor die LL.B en LL.M grade. Laasgenoemde was ‘n meestersgraad in arbeidsreg. Met hierdie kwalifikasies was hy nie alleen by uitstek geskik en gekwalifiseer om sy funksies as hoof regsadviseur van die Universiteit na behore uit te voer nie, maar het dit hom ook in staat gestel om die inhoud en omvang van sy dienskontrak met die Universiteit in alle opsigte te begryp.

[8] Dat die oorledene daarvan bewus was dat die tyd van sy beplande afsterwe, te wete vóór middernag op 30 September 2005, van kardinale belang was indien sy vrou en kinders ingevolge sy dienskontrak daaruit voordeel sou trek, blyk uit verskeie feite en gebeure wat kort voor sy oorlye plaasgevind het. Ek handel met wat voorkom die belangrikste te wees.

[9] Van groot belang was ‘n brief aan die applikant gedateer 28 September 2005, waarin die oorledene gepoog het om te verduidelik wat presies tot die ongelukkige toedrag van sake aanleiding gegee het. Hy het ten aanvang verskoning gevra indien sy brief “klinies” of “kort-af” sou oorkom; dit was nie sy bedoeling nie, maar hy was “net onder geweldige tydsdruk”. Sy motivering om so gou moontlik sy eie lewe te neem, blyk duidelik uit die volgende uittreksels uit sy brief:

Ek verstaan dat julle dalk hartseer en kwaad sal wees oor wat ek nou moes doen, maar glo my, ek het hierdie slag geen ander keuse nie, absoluut geen … Jy en die klonge sou geen medies hê nie, en as julle ernstig siek raak, sou julle na ‘n staatshospitaal soos Tygerberg moes gaan. Die klonge sou ook nie universiteit toe kon gaan nie, omdat jy nie genoeg geld sal verdien om hulle soontoe te stuur nie …Maar as ek egter te sterwe sou kom terwyl ek nog in die US se diens is, sal jy vanaf volgende maand ‘n maandelikse pensioen kry vir die res van jou lewe …Jy en die klonge sal steeds op Discovery se mediese fonds bly: totdat hulle finansieel selfonderhoudend raak, of tot ouderdom 24, en jy vir die res van jou lewe … Hiermee saam sal beide Ruds en Ferds GRATIS kan gaan studeer by die US vir enige graad van hulle keuse … Deel van my voordele is ook dat ek ’n begrafnispolis het. Julle hoef dus nie vir my begrafnis uit eie fondse te betaal nie … My tyd loop uit Poplap, en ek het nog ongelooflik baie om te doen vanaand. Ek smeek jou om vergiffenis vir al die hartseer, pyn, swaarkry, verdriet, skaamte en ongeluk wat ek jou en die klonge, en jou ouers, veroorsaak het.

[10] Die oorledene het ook op 28 September 2005 briewe geskryf aan sy skoonouers, Mnr P W G en Mev C Rossouw, sy broer, Mnr E W Vermaak, en aan elk van sy seuns, naamlik Ferdie en Rudie Vermaak. In al die briewe het hy verskoning gevra vir die pyn, hartseer en vernedering wat hulle moes deurmaak as gevolg van foute wat hy gemaak het. Dit was ook daaruit duidelik dat hy van plan was om sy eie lewe te neem in ‘n poging om sy vrou en kinders se situasie te verbeter.

[11] Die feit dat die oorledene die dag voor sy selfmoord onsuksesvol gepoog het om sy eie lewe te neem, was tekenend daarvan dat hy deurentyd die bedoeling gehad het om vóór 30 September 2005 sy lewe te beëindig. Dit is bevestig deur die getuienis van sy moeder, Mev L E Vermaak. Sy het daarop gewys dat hy op 29 September 2005 gepoog het om selfmoord te pleeg deur ‘n oordosis pille in te neem. As gevolg daarvan is hy in die Karl Bremer hospitaal opgeneem. Sy het hom die oggend van 30 September met haar motor gaan haal en na haar huis geneem sodat sy oor hom kon waak. Hy het vir haar duiselig en deurmekaar voorgekom en het gesukkel om te praat.

[12] Nadat hy ‘n tyd lank geslaap het, het hy haar gevra wat die datum en tyd is. Sy het hom meegedeel dat dit namiddag is op 30 September 2005. Hy het toe by haar geld geleen en daarna, tussen 19.00 en 20.00, op sy moeder se selfoon sy vrou (die applikant), sy seuns en sy skoonmoeder gebel. Ongeveer 21.40 het hy sy moeder gevra of hy haar motor mag leen om na sy neef, Mnr D Versfeld, te ry. Sy was huiwerig om dit te doen aangesien sy nie daarvan oortuig was dat hy in staat sou wees om te bestuur nie. Vanweë sy sigbare haas en irritasie het sy egter toegegee en hy het ongeveer 21.50 met haar motor gery. In ‘n beëdigde verklaring het Mnr Versfeld te kenne gegee dat die oorledene nooit die betrokke aand by hom uitgekom het nie.

[13] Die volgende oggend het die polisie Mev Vermaak meegedeel dat die oorledene hom aan ‘n tou by Kuilsrivier se gholfbaan opgehang het. Sy het later opgemerk dat dat daar voetspore op die motor se enjinkajuit en dak was. Binne-in die motor het sy die sakkie, wat waarskynlik die tou bevat het waarmee hy hom opgehang het, gevind tesame met ‘n winkelstrokie wat gewys het dat hy die tou om 22.16 gekoop het. Dit alles het vir haar daarop gedui dat hy hom om die lewe wou bring voordat 30 September sou uitloop.

[14] Dit het voorts geblyk dat die winkel waar die oorledene die tou gekoop het ongeveer ‘n halwe kilometer van Mev Vermaak se huis was terwyl die gholfbaan ongeveer drie kilometer verder was. Volgens haar herinnering aan die kilometerlesing van haar motor het die oorledene in totaal by die drie kilometer daarmee gery. Dit beteken dat hy direk vanaf die winkel na die gholfbaan moes gery het. Dit sou hom nie meer as enkele minute, ná sy aankoop van die tou, geneem het om te kom by die plek waar hy sy lewe geneem het nie. Dié plek het later geblyk ongeveer drie honderd meter vanaf die gholfbaan se ingang te gewees het.

[15] Die getuienis van die geregtelike pataloog, Dr E H Burger, wat op 3 Oktober 2005 ‘n na-doodse ondersoek op die oorledene uitgevoer het, het die saak nie veel verder gevoer nie. Die oorsaak van die dood het volgens haar ingepas by ophang met ‘n blou en wit geweefde nylon koord wat met ‘n skuifknoop verbind was en nog steeds om die nek van die oorledene aanwesig was.

[16] Op 18 Desember 2005 het Dr Burger ‘n tweede na-doodse ondersoek uitgevoer in ‘n poging om die tyd van die oorledene se dood vas te stel. Sy het kennis geneem van die oorledene se poging om op 29 September sy eie lewe te neem en van Mev L E Vermaak se verklaring oor sy optrede die aand van 30 September. Sy het eweneens kennis geneem van die feit dat sy liggaam eers om 05.30 op 1 Oktober ontdek is, waar dit van ‘n oorhoofse kragpaal by die gholfbaan gehang het, en dat hy om 07.20 dood verklaar is. Aangesien daar geen pataloog op die toneel was toe die liggaam ontdek is nie, was dit nie moontlik om te bepaal wanneer presies die dood ingetree het nie, naamlik vóór middernag op 30 September 2005 of daarna. Dr Burger was egter van mening dat die oorledene in alle waarskynlikheid nie langer as vyf minute sou geleef het nadat hy van die motor gespring het met die tou om sy nek nie.

[17] In die uitspraak van die respondent is dit beklemtoon dat dit die funksie van die voorsittende bampte was om feite te weergee en nie om afleidings te maak nie. Dit was nie nodig om te kyk na bewysmaatstawwe in die bepaling van sodanige feite nie: die voorsittende beampte was bloot “soos ‘n spieël wat reflekteer wat die feite is wat deur die ekspert bevind is”. Wat betref die datum van die oorledene se dood het alles daarop gedui dat hy voor middernag op 30 September wou sterf. Uit die getuienis van die pataloog kon dit egter nie vasgestel word of die oorledene op 30 September of 1 Oktober 2005 dood was nie. Die respondent se bevinding was dus dat dit op die een of die ander van hierdie datums kon gebeur het.

[18] In sy betoog namens die applikant het Mnr Van Zyl aan die hand gedoen dat die respondent gefouteer het deur slegs op die direkte deskundige getuienis van die pataloog, Dr Burger, staat te maak en geensins oorweging te gee aan die omstandigheidsgetuienis wat uit die getuienis van die oorledene se moeder, Mev L E Vermaak, of uit die briewe en beëdigde verklarings geblyk het nie. Daarbenewens het die respondent skynbaar geen bewysmaatstaf in hierdie verband toegepas nie.


DIE TOEPASLIKE REGSBEGINSELS

[19] Dit moet uit die staanspoor besef word dat ‘n geregtelike doodsondersoek nie ‘n verhoor is met strydende partye nie. Die voorsittende beampte mag in sy diskresie sodanige getuienis en ander bewyse toelaat as wat hom in staat sal stel om sy funksies geregtelik uit te oefen. Kyk Raditsela v Senior Magistrate, Johannesburg and Others 1986 (4) SA 559 (W) op 567-568.

[20] Artikel 16(2) van die Wet op Geregtelike Doodsondersoeke 58 van 1959 (“die Wet”) bepaal aldus:

(2) Die landdros wat ‘n geregtelike doodsondersoek waarneem, moet met betrekking tot die ondersoek ‘n bevinding aanteken:

(a) omtrent die identiteit van die oorledene;

(b) omtrent die oorsaak of waarskynlike oorsaak van dood;

(c) omtrent die datum van die sterfgeval;

(d) of die dood veroorsaak is deur ‘n handeling of versuim wat prima facie ‘n misdryf aan die kant van iemand insluit of uitmaak.

[21] Indien die landdros op die feite voor hom nie daartoe in staat is om enige sodanige bevinding te maak nie, moet hy dit ingevolge artikel 16(3) van die Wet boekstaaf. Bevindings wat wel gemaak word, word egter nie beskou as finale vasstellings van regte wat op die betrokke party of partye bindend is nie. Kyk In Re Goniwe and Others (Inquest) 1994 (3) SA 877 (SE) op 879C-D; Ferreira v Die Meester 2001 (3) SA 365 (O) op 371E-H.

[22] Hoewel die Wet en, wat dit betref, enige ander statutêre bepalings, nie vir die hersiening van bevindings in geregtelike doodsondersoeke voorsiening maak nie, het hierdie hof nog altyd sy inherente gemeenregtelike hersieningsbevoegdheid. Kyk Padi en ‘n Ander v Botha NO en Andere 1996 (3) SA 733 (W) op 743F-744A. Kyk ook Harnaker v Minister of the Interior 1965 (1) SA 372 (C) op 376E-377H; In Re Klein’s Inquest 1992 (2) SA 658 (C) op 662G-I en 663C-D.

[23] Die persoon wat die aansoek bring om hersiening van een of meer bevindings van ‘n geregtelike doodsondersoek, moet natuurlik die bevoegdheid (locus standi) hê om dit te doen. Iemand wat ‘n direkte finansiële belang in sodanige bevinding of bevindings het, sou die nodige bevoegdheid hê vir sover dit aan hom of haar ‘n wesenlike en besondere belang in die uitslag van die ondersoek gee. Kyk die volledige bespreking in Claassens en ‘n Ander v Landdros, Bloemfontein en ‘n Ander 1964 (4) SA 4 (O) op 11H-13D.

[24] Waar kinders of minderjariges se belange op die spel is, sal die bevoegdheid van ‘n applikant om in hulle belang op te tree ‘n sterk oorweging wees by bepaling van die locus standi van sodanige applikant. Nie alleen is dit met die bepalings van artikels 14 en 15, saamgelees met artikels 8(1) en 9, van die Kinderwet 38 van 2005 versoenbaar nie, maar dit strook ook met die bepalings van artikels 28(1)(b) (reg op ouerlike sorg) en 28 (2) van die Grondwet (Wet 108 van 1996). Laasgenoemde maak dit juis duidelik dat ‘n kind se beste belang van deurslaggewende belang is in elke aangeleentheid wat die kind raak. As oppervoog van alle kinders moet hierdie hof sorg dra dat sodanige beginsel ten uitvoer gebring word. Kyk verder die Padi saak (par [22] hierbo) op 742E-743C.

[25] Wat betref die bewysmaatstaf vir bevindings in geregtelike doodsondersoeke het die hof in die Claassens saak (par [23] hierbo) op 11D aan die hand gedoen dat, by oorweging van die vraag of die dood ingevolge artikel 16(2)(d) van die Wet deur ‘n misdryf veroorsaak is, die relevante bevinding op ‘n oorwig van waarskynlikhede gemaak moet word. In die ongerapporteerde saak van Inquest into the Death of Dr David Joseph Webster (gelewer op 22 Januarie 1993 in die Witwatersrandse Plaaslike Afdeling) het die hof egter bevind dat, as gevolg van die invoeging van die woorde prima facie deur artikel 7 van Wet 8 van 1991, die bewysmaatstaf dié van toepassing in strafverhore, naamlik “bo redelike twyfel”, geword het. Hierdie bevinding is in die Goniwe saak (par [21] hierbo) op 879D-880C verwerp op die grondslag dat die gemelde invoeging op ‘n minder streng maatstaf as die kriminele dui. Kyk ook die Padi saak (par [22] hierbo) op 740G waar die kriminele maatstaf ook verwerp word.

[26] Hoewel daar in die Goniwe en Padi sake nie bevind is dat die bewysmaatstaf die siviele maatstaf van “oorwig van waarskynlikhede” is, soos in die Claassens saak bevind nie, wil dit voorkom onnodig te wees om op ‘n bepaalde maatstaf staat te maak wanneer oorweeg word of daar op die oog af (prima facie) genoegsame getuienis bestaan vir ‘n bevinding ingevolge artikel 16(2)(d) van die Wet. Vir sover ‘n geregtelike doodsondersoek inkwisitoriaal is en nie adversatief nie, moet die landdros bloot tevrede gestel te word dat die getuienis ‘n bevinding ingevolge die betrokke artikel regverdig. Waarskynlikhede mag wel ‘n rol speel by bepaling van die waarskynlike oorsaak van die dood ingevolge artikel 16(2)(b), indien daar nie duidelike en direkte getuienis ten dien effekte is nie. Dieselfde geld vir vasstelling van die oorledene se identiteit en datum van oorlye ingevolge artikels 16(2)(a) en (c).

[27] Die feit dat daar nie direkte getuienis ten aansien van een of meer van hierdie aspekte is nie, beteken nie dat daar nie van omstandigheidsgetuienis kennis geneem mag word nie. Die landdros wat die ondersoek doen moet al die beskikbare getuienis holisties beskou en, waar nodig, die toepaslike afleidings daarvan maak. Al waarteen gewaak moet word is gissings, veronderstellings of spekulasie: die afleidings moet op bewese of objektief vasstelbare feite berus. Die klassieke dictum in hierdie verband is dié van Lord Wright in Casswell v Powell Duffryn Associated Collieries Ltd [1939] 3 All ER 722 (HL) op 733E-F (met goedkeuring aangehaal in S v Essack and Another 1974 (1) SA 1 (A) op 16D):

Inference must be carefully distinguished from conjecture or speculation. There can be no inference unless there are objective facts from which to infer the other facts which it is sought to establish. In some cases the other facts can be inferred with as much practical certainty as if they had actually been observed. In other cases the inference does not go beyond reasonable probability. But if there are no positive proved facts from which the inference can be made, the method of inference fails and what is left is mere speculation or conjecture.


[28] Die afleiding wat in ‘n doodsondersoek soos die onderhawige gemaak word hoef nie, soos in strafregtelike verrigtinge, die enigste redelike afleiding te wees nie (kyk R v Blom 1939 AD 188 op 202-203). Die hof moet bloot oortuig wees dat dit “die mees voor-die-hand-liggende en aanvaarbare afleiding is van ‘n aantal moontlike afleidings” (A A Onderlinge Assuransie-Assosiasie Bpk v De Beer 1982 (2) SA 603 (A) op 614H). Kyk ook Govan v Skidmore 1952 (1) SA 732 (N) op 734C-D, waar Selke R sê:

[I]n finding facts or making inferences in a civil case, it seems to me that one may, as Wigmore conveys in his work on Evidence (3rd ed., para. 32), by balancing probabilities select a conclusion which seems to be the more natural, or plausible, conclusion from amongst several conceivable ones, even though that conclusion be not the only reasonable one.



TOEPASSING VAN DIE REG OP DIE FEITE

[29] Dit is ten aanvang duidelik dat die applikant in haar hoedanigheid as eggenote en bevoordeelde van die oorledene, asook in haar hoedanigheid as moeder van haar en die oorledene se twee seuns, wat ook bevoordeeldes is, die nodige bevoegdheid (locus standi) het om hierdie aansoek te bring. Dit is eweneens duidelik dat hierdie hof nie alleen beskik oor die inherente hersieningsbevoegdheid om die aansoek aan te hoor en te oorweeg nie, maar ook in sy hoedanigheid as oppervoog van die seuns die grondwetlike plig het om na hulle beste belange om te sien.

[30] Met die respondent se siening oor die bewyslas van toepassing op bevindings ingevolge artikels 16(2) van die Wet, hoef daar na my mening nie in geding getree te word nie. Die respondent het egter wel, volgens my eerbiedige mening, gefouteer deur slegs die direkte deskundige getuienis van Dr Burger in aanmerking te neem vir doeleindes van bepaling van die datum van die oorledene se dood ingevolge artikel 16(2)(c) van die Wet. Daar was heelwat indirekte en omstandigheidsgetuienis wat in ag geneem kon, en moes, gewees het om sodanige bepaling te doen.

[31] In hierdie verband moet aanvaar word dat die oorledene as gekwalifiseerde regsgeleerde oor genoegsame kennis en ervaring beskik het om presies te weet hoe belangrik dit vir hom was om te sterf terwyl hy nog in diens van die Universiteit was, dit wil sê voor middernag op 30 September 2005, synde die laaste dag van sy diens. Dit spreek vanself dat hy in alle waarskynlikheid hoogs emosioneel was vanaf die tyd dat hy die besluit geneem het om selfmoord te pleeg totdat hy tot die daad oorgegaan het. Nogtans dui sy gedrag onteenseglik daarop dat hy vas van plan was om betyds sy voorneme uit te voer, soos uit verskeie gebeure blyk.

[32] Hy het reeds op 28 September 2005, meer as twee dae voor die afsnypunt, briewe aan sy vrou, seuns, broer en skoonouers geskryf om te verduidelik waarom hy van mening was dat selfmoord die enigste uitweg was en hoe spyt hy was dat hy so ‘n drastiese besluit moes neem. Die volgende dag, 29 September 2005, het hy reeds sy plan probeer deurvoer. Toe dit misluk, het hy, sodra hy genoegsaam by sy positiewe was, sy alternatiewe plan, naamlik om homself met ‘n tou op te hang, in werking gestel. Dit blyk uit die navraag by sy moeder, toe hy die laat-middag wakker geword het, oor die datum en tyd. Dit is opgevolg deur die oproepe aan sy vrou, seuns en skoonmoeder voordat hy by sy moeder geld geleen het en onder valse voorwendsels haar oorreed het om haar motor aan hom te leen.

[33] Die daaropvolgende gebeure moes desnoods binne ‘n kort tyd afgespeel het. Die oorledene het waarskynlik direk van sy moeder se woning gery na die winkel ‘n halwe kilometre daarvandaan. Daar het hy om 22.16 met die geleende geld ‘n tou (en niks anders nie) gekoop. Daarvanaf, soos blyk uit die motor se kilometerlesing, het hy direk na die gholfbaan, drie kilometer verder, gery en ongeveer drie honderd meter van die ingang af by ‘n oorhoofse kragpaal stilgehou. Binne oomblikke sou hy die tou uit die sakkie kon haal en op die motor se dak kon klim. Op die meeste sou dit hom enkele minute geneem het om die tou oor die dwarsbalk van die kragpaal te gooi en daarna sekuur om sy nek te bind. Sy daaropvolgende sprong in die niet moes, volgens Dr Burger se getuienis, binne vyf minute sy dood veroorsaak het en sy berekende plan tot finale uitvoering gebring het.

[34] Wanneer hierdie feite en omstandighede in oënskou geneem word, is die waarskynlikhede oorweldigend dat die oorledene met die tweede probeerslag seker wou maak dat hy voor middernag op 30 September 2005 tot sterwe sou kom. Alles dui daarop dat hy so gou moontlik nadat hy telefonies van sy geliefdes afskeid geneem het, sy selfmoordplan wou deurvoer. Elke stap wat hy geneem het was deel van ‘n berekende plan om sy vrou en kinders te bevoordeel deur sy “tydige” dood. [35] Die enigste fout wat die oorledene miskien gemaak het was om nie te sorg dat sy lyk voor die afsnypunt om middernag op die gewraakte dag ontdek sou word nie. Dit doen egter nie afbreuk aan die voor-die-handliggende afleiding wat desnoods uit hierdie feite en omstandighede gemaak moet word nie. Hy wou ten alle koste vóór afloop van sy laaste dag in diens van die Universiteit tot sterwe kom, en dit is heel waarskynlik dat hy hy voor 23.00 op sodanige dag dit reggekry het.


GEVOLGTREKKING

[36] Om hierdie redes is die aansoek toegestaan en is die bevinding van die respondent ingevolge artikel 16(2)(c) van die Wet tersyde gestel en met die volgende vervang:

Die datum van die oorledene, Werner Vermaak, se dood word bepaal as 30 September 2005.




D H VAN ZYL

Regter van die Hooggeregshof



Ek stem saam. Dit word so beveel.




J M HLOPHE

Regter-President van die Hooggeregshof