South Africa: Western Cape High Court, Cape Town

You are here:
SAFLII >>
Databases >>
South Africa: Western Cape High Court, Cape Town >>
2008 >>
[2008] ZAWCHC 321
| Noteup
| LawCite
Van Rooyen v S (SS55/2007) [2008] ZAWCHC 321 (14 April 2008)
Download original files |
IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA
(OOSTELIKE RONDGAANDE PLAASLIKE AFDELING, GEHOU TE KNYSNA )
SAAKNOMMER: SS.55/2007
DATUM: 14 MEI 2008
In die saak tussen:
DIE STAAT
en
HEINRICH URWYLER VAN ROOYEN
V 0 N N I S
N C ERASMUS. R:
Die vonnis in enige saak is seer sekerlik die moeilikste faset van enige strafverrigtinge en die redes daarvoor is, na my mening, dit wat die volgende insluit: In ons regsproses is daar nie noodwendig voorgeskrewe vonnisse vir spesifieke misdrywe nie, veral vir die misdrywe waaraan u skuldig bevind is, het die strafoplegger, in die geval myself, 'n wye diskresie wat strek van vrylating, selfs op die skuldigbevinding van 'n ernstige aanklag tot die swaarste vonnis wat 'n Hof in hierdie land kan ople, naamlik lewenslange gevangenisstraf op enige van die aanklagtes. Vir die vonnisoplegger is dit moeilik en somtyds pynlik om te besluit waar om dit te peil want uiteindelik is dit ek, as mens met gevoelens, wat die reg het om te besluit oor u en u lewe en die pad vorentoe en ek sal in my taak faal as ek nie deurentyd in die oorweging van 'n gepaste vonnis altyd voor oe hou dat u wat gevonnis staan te word hier staan of sit as 'n strafwaardige mens. Ek gaan poog om in die vonnisuitspraak probeer aan te dui hoe ek die balans skep tussen al die faktore wat ek in ag moet neem. Ek is nie van voornemens om al u persoonlike omstandighede te lys nie. Dit is op die rekord.
U is 'n relatiewe jong persoon wat, so blyk dit op die oog af, goed gevorder het op die lewenspad. U het u skoolloopbaan voltooi. U het 'n produktiewe werk gehad. U was 'n kind vir u ouers, in die huis, wat u kant gebring het. U het uitgeblink op sportgebied. U was 'n pa vir drie minderjarige kinders en 'n broer vir drie ander broers.
Ons het gehoor van u kollegas by u werk, onder andere, James van Rooyen, dat u 'n gemoedelike mens was met wie almal oor die weg kon kom. Ons weet nie hoekom u hierdie misdrywe gepleeg het nie.
Aan die ander kant is daar in die bree, twee slagoffers wat hul lewe verloor het. Altwee in die fleur van hulle lewe. Jessica Wheeler was nog 'n kind, inteendeel ek sien sy was omtrent die ouderdom van - 'n klein bietjie ouer as my eie kind. Sy was ook 'n kind, soos u, vir haar ouers. Victoria Stadler is haar ma se enigste kind, die enigste kleinkind in daardie uitgebreide gesin. Ek wonder net watter effek dit op die grootouers sou he, die ouma met wie sy elke dag sou wees.
Ek dink mev Stadler het daardie gesinsverbande goed opgesom toe sy gese het, by implikasie, dat sy hier staan as die ma wat 'n dogter aan die dood afgestaan het, maar u ma sit vandag hier van 'n seun wat die tronkdeure voor oopstaan. Dit is 'n tragedie. Dit is 'n tragedie waarin drie families se lewens verwoes is en dit is onomkeerbaar. Dit is 'n tragedie wat 'n gemeenskap geruk het. Dit is 'n tragedie wat verhoudings in die gemeenskap verwoes het.
Ek is getaak om verskeie faktore in ag te neem wanneer ek 'n vonnis bepaal en een daarvan is om u as persoon te meet teenoor dit wat gebeur het en watter impak dit op die gemeenskap in die bree het. Ons het tot 'n mate reeds gehandel met u as persoon en ek wil onmiddellik byvoeg dat ek glo nie dat daar 'n persoon is wat nie sy wyse van optrede kan verander nie.
As ons na die misdrywe kyk waaraan u skuldig bevind is en die wyse waarop dit gepleeg is, dan het ek probeer dink hoe ek dit kan stel en ek is van mening die wyse en die gevolge van wat u gedoen het, verminder ons almal as mens. Ongelukkig moet ek van die detail van die misdrywe bespreek en ek praat direk met u, mnr Van Rooyen, wanneer ek die vonnis bespreek.
Ek dink aan die laaste oomblikke van Jessica Wheeler. In my ervaring het ek reeds wrede aanvalle gesien en van die wreedste moorde ervaar op verskeie vlakke van die regsproses. Sommige gevalle waar ek vir die Staat verskyn het en in ander gevalle waar ek die verdediging waargeneem het en in vele gevalle waar ek op die regbank gesit het en my ervaring op die regbank strek reeds vanuit die 80's.
Dit is nie soos normaalweg gese sou word een van die wreedste moorde wat ek al teegekom het met soveel bloed en vlees wat rondgeskiet is of uitmekaar geblaas is met bomme nie, maar die dood van 'n mens bly die dood van 'n mens en die wreedaardige neem van 'n lewe bly die wreedaardige neem van die lewe, maar ek probeer myself indink wanneer ek moet peil dit wat u gedoen het, hoe u eers of op 'n stadium haar onsedelik aangerand het. Ons weet nie of sy gelewe het op daardie stadium nie, maar ons weet sy het haar lewe gelaat deurdat sy grond letterlik moes eet. Geen mens, dink ek, sal dit sommer net afmaak as net nog 'n moord nie. Dan word sy, die liggaam, naak gelaat in die elemente, hier reg langs die hoofstraat, in die kerkhof. Die vraag is het u bedoel omdat sy selfs in die dood ook nog verder verontwaardig moet word of het u net absoluut geen gevoel vir u medemens nie, selfs in die dood.
Dit is verder ge'illustreer, natuurlik, in die Stadler geval. Sy word verwurg. Die liggaam word daar in die bos soos 'n ding weggegooi en ek gaan nie weer - ek het genoeg kommentaar gelewer oor die optrede van die polisie op die meriete van die saak. Daar gelaat vir die elemente. Die vraag by my is as vonnisoplegger watter tipe mens doen dit en dit is in daardie konteks wat ek die erns van die misdaad moet meet as een van die faktore wat ek in ag moet neem vir die oplegging van vonnis.
Die gemeenskap wat dit ervaar of aanhoor of daarvan lees in die media, roep uit om wraak en se normaalweg so 'n persoon moet jy of permanent verwyder uit die gemeenskap of sommige mense roep steeds uit dat so 'n persoon met die dood besoek moet word. Dit is wat die gemeenskap verwag die howe moet doen, wanneer iemand sulke misdrywe pleeg. Dit is juis daar waar die rol van die Hof inkom en die doel van 'n hof by vonnisoplegging kan nooit wees om wraak te neem nie, dan sal jy anargie kry en dit is vir my gelaat om in my gemoed, voordat ek 'n vonnis uitspraak, te onderskei tussen dit wat die gemeenskap wens, in daardie wraakgevoel wat hulle uitspreek en dit wat ek sien as die belang van die gemeenskap.
Die belang van die gemeenskap, na my mening, is dat daar harmonie moet wees, dat mense in vrede met mekaar moet saamleef, maar ook waar iemand 'n wandaad gepleeg het teenoor 'n lid van die gemeenskap of die bree gemeenskap, dat daar genoegdoening moet wees. Daar moet 'n mate van wees "betaal vir dit wat jy gedoen het" en ek se geensins daarby dat die vergelding of die genoegdoening moet enigsins die ander faktore oorskadu nie, maar ek kan nie my daarteen blind staar dat die gemeenskap uitroep na vergelding nie. Daar kom 'n tyd - en by spesifieke misdade - wanneer die skaal effens swaarder moet weeg ten gunste van die roep na vergelding. Ek sal daarby terugkom.
Die faktore wat ek nou vir u geskets het, staan tradisioneel bekend in ons reg as die trits in ZINN, 'n verwysing na 'n ou hofbeslissing en ek is nie van voornemens om na hofbeslissings te verwys nie. In 'n gemeenskap soos ons waar ons strewe om 'n gemeenskap te skep wat omgee; 'n gemeenskap wil skep waar ons begrip het selfs vir die wat wandade pleeg teen die gemeenskap; 'n gemeenskap wat streef daarna om oortreders te rehabiliteer om hulle gedragswyse te verander ten goede van die gemeenskap, kan die genade aspek nooit onderskat word nie en daarom, wanneer ek vandag hierdie vonnis oorweeg, sal ek sover dit in my vermoe is, elke feit, faktor en omstandigheid wat ek in ag neem, temper met 'n mate van genade en probeer tot, wat ek van mening is, 'n regverdige vonnis is.
Ek het reeds gepraat oor die hoofdoel van vonnis en dit is die rehabilitasie en uiteindelike herintegrasie, indien moontlik, van 'n oortreder maar daar is ook ander faktore wat daarmee saamgaan en dit is die vergeldingsaspek. Daarmee saam is daar 'n afskrikkingselement en ek verskil in beginsel met diegene wat argumenteer dat afskrikking gelee is in die vonnis wat die Hof ople. Daar is 'n mate van afskrikking, ja, maar dit kan nie die enigste doel of die hoofdoel van vonnis wees nie. Afskrikking in die Strafreg kan nie le in die vonnisse wat die howe ople nie. Dit moet Newer wees dat die oortreder moet seker wees daarvan dat hy vervolg gaan word na die pleging van 'n misdryf; dat hy gevind sal word - en ek kom terug na daardie element - dat hy vreesloos vervolg sal word en dat daar 'n sekerheid is dat hy regverdig skuldig bevind sal word.
Sonder daardie elemente sal die strafregstelsel faal om op enige wyse afskrikking te he. Die afskrikkingswaarde van die vonnis moet die sekerheid by die oortreder wees dat wanneer ek die dag deur die ander proses gegaan het, gaan die howe my vonnis aan die hand van al die omstandighede en as ek ernstige misdrywe pleeg, dan kan ek seker wees dat daar met my ferm opgetree sal word.
So, wanneer ek vandag vir u gaan vonnis, wil ek nie se deur die vonnis dat die wat moord pleeg, onsedelike aanrandings pleeg sal tot sekere termyne gevonnis word nie, maar wat moet seker wees is dat die howe nie sal skroom om swaar vonnisse op te le ter beskerming en in die belang van die bree gemeenskap nie en 'n term soos oorvol tronke en gebrek aan rehabilitasie in die tronke en daardie tipe argumente is bysaak. Dit is vir die Staat om te sien dat hulle daardie dinge regmaak. Die howe se rol is om op te tree in belang van die gemeenskap.
Nou moet ek hierdie doelstellings wat ek vir u probeer skets het en ander faktore probeer bymekaar sit en bepaal wat is 'n gepaste vonnis. Dit is gemene saak dat ek langtermyn gevangenisstraf moet ople. U advokaat het dit toegegee. Die vraag is slegs hoe lank.
Ek wil afskop met die selfoonaanklag en die brand van die motor aanklag, regsverydeling (aanklag 3) en die opsetlike saakbeskadiging (aanklag 6). U het daardie misdrywe
gepleeg om te voorkom dat u uiteindelik suksesvol vervolg word. Met die SMS, regsverydelingsaanklag, was dit 'n poging om die polisie te mislei om werklik agter te kom wat daardie oggend gebeur het en die brand van die motor het ek bevind, die enigste afleiding was dit was om u spore dood te vee. Soos ek netnou vir u gese het, een van die stappe in 'n effektiewe strafregstelsel is juis daardie opsporing en aan die man bring van 'n oortreder en daarom, na my mening, moet dit ontmoet word met direkte gevangenisstraf. Dit is juis een van daardie vooraf elemente wat die effektiewe funksionering van 'n strafregstelsel wat ondermyn is deur hierdie twee insidente Ek gaan egter aan die einde van die dag in ag neem dat beide insidente is gepleeg vir dieselfde misdryf met dieselfde motief en ek gaan probeer die effek van die vonnis wat ek ople temper met die gebruikmaking van sekere artikels in die Wet, waarna ek later sal terugkom.
Aanklag 1 is 'n onsedelike aanrandingsaanklag. Die Hof sal faal as ek nie gaan kyk na die inhoud van die aanklag en my blind staar aan die benaming wat daaraan gegee is nie. Die enigste rede hoekom dit 'n benaming het wat normaalweg as minder ernstig beskou word as byvoorbeeld verkragting as gevolg van 'n diskriminasiepraktyk waar, as jy een liggaamsopening gebruik met 'n seksuele doel, dan is dit verkragting, as jy 'n ander gebruik is dit 'n minder misdryf. Na my mening is daar geen plek vir so 'n onderskeiding wanneer dit by vonnis kom nie. Die anale penetrasie van Jessica Wheeler, na my mening, moet gesien word in dieselfde lig as wat die howe 'n verkragtingaanklag sou sien. Ek gaan derhalwe 'n vonnis wat, na my mening, gepas is by daardie tipe daad en die enigste gepaste vonnis, met inagneming van al die omstandighede en die doelstellings wat ek aangestip het, is een van langtermyn gevangenisstraf.
Dit bring my by die twee moordaanklagte. Ons het gister die debat gehad oor lewenslange gevangenisstraf. Dit is so dat in die laaste tien jaar is daar lewenslange gevangenisstraf opgele aan mense in hierdie land soos nooit tevore nie. Ons het van 'n paar honderd persone wat lewenslange gevangenisstraf uitdien gegroei tot bykans 8 000 in tien jaar. Elke vonnis, moet ek aanvaar, is opgele op sy eie meriete. Na my mening egter moet lewenslange gevangenisstraf slegs opgele word wanneer die Hof van mening is dat die swaarste vonnis gepas is. Voor die afskaffing van die doodsvonnis, sou u sekerlik vandag hier gestaan het en die regter sou verplig gewees het om die doodsvonnis op te le, want daar is nie versagtende omstandighede aangevoer nie. Dit is die reg soos hy was.
Lewenslange gevangenisstraf, na my mening, is in die plek van die doodsvonnis die swaarste vonnis wat 'n hof kan ople. So, net op grond daarvan sou dit volg dat ek moet lewenslange gevangenisstraf oorweeg. Egter in die oorweging van lewenslange gevangenisstraf, sal ek dit slegs ople as ek van mening is dat die persoon permanent uit die gemeenskap verwyder moet word, as gevolg van die faktore soos wat ek netnou vir u geskets het, byvoorbeeld dat daar vir my aanduidings moet wees dat die beskuldigde se gedragswyse sal verander en binne 'n bepaalde tydperk wat ek kan ople terug kan herintegreer word.
Nou wat het ons hier. Ek kon nie anders nie, mnr Van Rooyen, om op te merk wat u optrede in hierdie hof is nie. U arrogansie het my geensins be'indruk nie. U toon geen berou ten opsigte van die dade wat die Hof bevind het u gepleeg het nie. Ek het somtyds deur die verhoor die indruk gekry asof u trots was op wat u gedoen het. Daarin alleen moet vir my 'n aanduiding wees dat u self nie besef dat u die nodigheid het om te verander nie. Ek het reeds gehandel met die erns van die aanklagte. Ek het reeds gehandel met die wreedheid daarvan en die vraag is gister aan u advokaat gevra - en ek verstaan sy instruksies - wat sou u beweeg die een oomblik is u hierdie liefdevolle, vriendelike man op die feite en die volgende oomblik het u in die monster verander van daardie ernstige misdade. Daar is niks wat vir my 'n aanduiding gee op die feite, wat dit gevolg het nie, behalwe dat u in twee gevalle die geneigdheid getoon het om dit te doen en in die afwesigheid van enigiets, moet ek aanvaar dat daardie moontlikheid bestaan dat u dit weer gaan doen.
Na my mening, is daar nie 'n rede vir my om 'n bepaalde vonnis op te le met 'n bepaalde uitkoms waarin ek die tevredenheid sal he dat ek die belang van die gemeenskap kan beskerm nie en ek het netnou vir u verduidelik wat ek bedoel by die belang van die gemeenskap.
Ek is van mening, mnr Van Rooyen, dat op die aanklagte waarop u skuldig bevind is, met inagneming van al die faktore, selfs met inagneming van die genade-aspek dat u permanent uit die gemeenskap verwyder moet word. Ek is seker daarvan dat hierdie vonnisuitspraak sal eendag, indien u oorweeg sal word vir parool, aan die paneel voorgele word. Wanneer ek lewenslange gevangenisstraf ople bedoel ek die res van u natuurlike lewe, behalwe as daar omstandighede ontstaan met verloop van tyd dat 'n ingeligte besluit gemaak kan word dat dit in die belang van die gemeenskap is dat u vrygelaat kan word.
Gevolglik is ek gereed om vir u vonnis op te le, maar voordat ek dit doen, wil ek net 'n aspek onder die aandag bring van die slagoffers en hul naasbestaandes. Daar is ernstige kritiek wat uitgespreek word, met of sonder meriete, teen die vrylating van persone wat lewenslange gevangenisstraf uitdien op 'n stadium op parool. Soos die posisie tans is, moet 'n persoon wat lewenslange gevangenisstraf uitdien, ten minste 25 jaar van daardie vonnis uitdien waarna hy in oorweging kan kom vir parool, tot voor 2004 was dit 20 jaar, of wanneer die persoon die ouderdom van 65 jaar bereik. Die Strafproseswet bepaal dat die slagoffers en hul naasbestaandes in gevalle van moord 'n direkte inset kan lewer by parool en die families se aandag word gevestig op die bepalings van artikel 299A van die Strafproseswet, wat bepaal dat u die reg het om u besonderhede aan die Kommissaris van Korrektiewe Dienste voor te le en wanneer die beskuldigde ook al in die toekoms oorweeg sou word vir enige vorm van vrylating, dat u eers daarin geken word en dat u 'n inset kan lewer. U kan u besonderhede aan die aanklaer beskikbaar stel en die Staat word versoek om die proses aan die gang te sit om die besonderhede van die naastebestaandes aan die Kommissaris deur te stuur.
Mnr Van Rooyen, in die lig van al die aspekte wat ek vroeer genoem het, word u as volg gevonnis:
Op aanklag 1, onsedelike aanrandingaanklag, TWINTIG (20) JAAR GEVANGENISSTRAF.
Op aanklag 2, moord op Jessica Wheeler, LEWENSLANGE GEVANGENISSTRAF.
Op aanklag 3, regsverydeling, DRIE (3) JAAR GEVANGENISSTRAF.
Op aanklag 5, moord op Victoria Stadler, LEWENSLANGE GEVANGENISSTRAF.
Op aanklag 6, opsetlike saakbeskadiging, VYF (5) JAAR GEVANGENISSTRAF.
Kragtens die bepalings van artikel 280(2) van die Strafproseswet word dit gelas dat die vonnisse opgele op aanklagte 3 en 6 samelopend sal wees. Die totale vonnis is een van twee keer lewenslange gevangenisstraf en 'n verdere 28 jaar. Die drie jaar en die vyf jaar is samelopend, met ander woorde, dit word gelyktydig uitgedien, maar in terme van die reg, wanneer 'n persoon lewenslange gevangenisstraf het, al is dit ook hoeveel, dien u slegs een lewenslange gevangenisstraf uit, juis omdat lewenslank beteken lewenslank. Dit sal slegs van toepassing raak wanneer dit by parool of klassifikasie en so meer kom in die gevangenis, maar ek is seker u pa sal u daardie detail verduidelik. Ek noem dit net vir u sodat u weet. Dit is die vonnis van die Hof.
NC ERASMUS, R
IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA
KAAP DIE GOEIE HOOP PROVINSIALE AFDELING)
SAAKNOMMER: SS55/2007
DATUM: 14 MEI 2008
In die saak tussen:
HEINRICK URWYLER VAN ROOYEN Applikant
en
DIE STAAT Respondent
UITSPRAAK
(AANSOEK VIR VERLOF OM TE APPELLEER)
N C ERASMUS, R:
Ek het die voordeel gehad om die volledige aansoek, soos mnr Price dit vanoggend voorgehou het, wat hy net op uitgebrei het vanmore reeds gister te ontvang. Ek het ook die geleentheid gehad om al die punte geopper daarin te oorweeg. Ek het ongelukkig nie enige dokumente van die Staat gister gekry nie, aangesien mnr Price dit gister voorberei het en dit was op my versoek dat hy dit vir my voor die tyd aflewer. Ek het ook gereel dat 'n afskrif van die uitspraak by horn uitkom kort nadat ek dit gelewer het.
Die toestaan van verlof tot appel deur 'n verhoorhof is 'n moeilike beslissing. Die vraag wat beantwoord moet word, is of daar 'n redelike vooruitsig is dat 'n ander hof, synde 'n hof van appel, op die feite tot 'n ander gevolgtrekking kan kom. Dit is moeilik, juis omdat dit die verhoorregter se beslissing was dat hy of sy bo redelike twyfel oortuig is in 'n geval soos hierdie van die skuld van die beskuldigde aan die hand van die getuienis.
Hier is feitevrae en regsvrae geopper in die stukke en ek is gelaat om beide te oorweeg aan die hand van die feitevrae; aspekte soos geloofwaardigheid wat die Staat na verwys het; die feit dat dit bevind is op objektiewe getuienis en/of onbetwiste getuienis en/of ander omstandigheidsgetuienis. Wat die regsvrae aanbetref, moet ek in ag neem die vorige presedente van ons howe op daardie punte met inagneming van die feite.
Dan is daar vanoggend deur mnr Price 'n aspek geopper wat nie noodwendig uit die verlof tot appel dokument spreek nie. Dit is die feit dat die beskuldigde die maksimum vonnis opgele is en dat die beslissing op omstandigheidsgetuienis gebaseer is. Na my mening kan dit op sigself, die feit dat 'n hof slegs omstandigheidsgetuienis bevind het en die maksimum vonnis opgele is, nie 'n grond wees om verlof toe te staan nie, maar dat die toets moet wees op 'n evaluering en in die meeste gevalle, soos in hierdie geval, 'n herevaluering van jou eie uitspraak aan die hand van die getuienis of daar 'n redelike vooruitsig is, anders sal die verhoorhof sy plig versuim. Daar is 'n spesifieke rede of redes waarom, wanneer daar gepoog word om geappelleer te word van 'n hoerhof na 'n hof van appel daar verlof toegestaan word.
Ek sal en ek het verder oorgebuig ten gunste van die toestaan van verlof omdat dit 'n basiese reg is om te appelleer, behalwe as die Hof van mening is dat daar nie gronde is nie. So, ek neig meer in my gemoed om verlof toe te staan, nie omdat die beskuldigde getroos moet word of omdat jy bevind het op omstandigheidsgetuienis nie, maar omdat ek besef dat ek feilbaar is.
Die Appelhof het reeds in 1966 in TSHBALALA op 297 gehandel met die kwessie van omstandigheidsgetuienis en die maksimum vonnis wat in daardie geval die doodsvonnis is en wat ek vroeer uitgespel het, is na mening die sentimente wat deur die Appelhof uitgespreek is.
Soos ek aan die begin gese het, was ek bevoorreg om die dokumente voor die tyd te ontvang. Ek weerhou my daarvan om op enkel en elke bewering te antwoord omdat daar nog 'n proses is wat gevolg moet word of 'n appel of petisie, sou ek weier, en ek wil nie daardie prosesse onnodig be'invloed deur kommentaar wat ek lewer in hierdie verlofaansoek nie.
Ek het egter elk van hierdie aspekte nagegaan in die rekord, na die ontvangs van die aansoek gister, en ek is van mening dat daar geen redelike vooruitsig bestaan dat 'n hof van appel tot 'n ander gevolgtrekking kan kom as waartoe ek gekom het nie. Gevolglik word die AANSOEK OM VERLOF VAN DIE HAND GEWYS.
NC ERASMUS, R