South Africa: Western Cape High Court, Cape Town

You are here:
SAFLII >>
Databases >>
South Africa: Western Cape High Court, Cape Town >>
2008 >>
[2008] ZAWCHC 4
| Noteup
| LawCite
S v Leo (B489/06) [2008] ZAWCHC 4; 2008 (2) SACR 198 (C) (12 February 2008)
Download original files |
Republiek van Suid-Afrika
IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA
(PROVINSIALE AFDELING KAAP VAN DIE GOEIE HOOP)
Hooggeregshofverwnr: 062626
Saaknommer: B 489/06
Landdrosreeksnr: H 32/06
[RAPPORTEERBAAR]
In die saak tussen:
DIE STAAT
en
RIAAN LEO
HERSIENINGSUITSPRAAK GELEWER OP 12 FEBRUARIE 2008
LE GRANGE, R:
[1] Hierdie saak dien voor my by wyse van spesiale hersiening. Die Beskuldigde is, na ‘n pleit van skuldig, in die Landdroshof te Paarl skuldig bevind aan ‘n oortreding van artikel 2(1) van Wet 71 van 1968, naamlik die besit van ‘n gevaarlike wapen, te wete ‘n mes. Hy is dienooreenkomstig gevonnis tot ses (6) maande gevangenisstraf wat in die geheel vir ‘n periode van vyf (5) jaar voorwaardelik opgeskort is.
[2] Na afloop van die verrigtinge het die verhoorlanddros die aangeleentheid heroorweeg en alhoewel hy van oordeel is dat die verrigtinge ooreenkomstig die reg geskied het, bevraagteken hy die grondwetlikheid van die bepaalde oortreding. Hy het ook uitgewys dat die bepalings van die wet nie na beide geslagsvorme verwys nie en mag ‘n eng interpretasie die indruk skep dat die verbode handeling slegs op manlike daders van toepassing is.
[3] Die landdros was derhalwe van mening dat, tenspyte van sy siening dat die verrigtinge ooreenkoms die reg is, reg nie behoorlik geskied het nie en die verrigtinge ingevolge die bepalings van artikel 304 (4) van die Strafproseswet, 51 van 1977 op spesiale hersiening gestuur.
[4] Die landdros se hoof beswaar is dat die bepalings van artikel 2(1) van Wet 71 van 1968 soos tans bewoord is, inbreuk maak op ‘n beskuldigde se Grondwetlike reg om onskuldig geag te word, te swyg en nie verplig te word om tydens verrigtinge te getuig nie.
[5] Ek het dit goedgeag om die kommentaar van die Direkteur van Openbare Vervolging (DOV) in dié verband aan te vra en wil my dank uitspreek vir die deurdagte memorandum van die Direkteur soos saamgestel deur Adv SM Galloway.
[6] Die bepalings van artikel 35(3)(h) van Die Grondwet van Suid-Afrika bepaal asvolg:
“(3) Elke beskuldigde persoon het die reg op ‘n billike verhoor, waarby inbegrepe is die reg-
……
(h) om onskuldig geag te word, te swyg, en nie gedurende die verrigtinge te getuig nie;”
[7] Die beskuldigde het tydens die verrigtinge in die hof a quo regsverteenwoordiging geniet en op die tenlasgelegde aanklag skuldig gepleit. ‘n Skriftelike pleitverduideliking in terme van artikel 112(2) van die Strafproseswet, 51 van 1977 was ingehandig as ‘n bewystuk waarin die beskuldigde sy skuld erken het .
[8] Die somtotaal van die gebeure wat gelei het tot die beskuldigde se arrestasie word as volg beskryf in sy pleitverduideliking:-
“Op die betrokke aand het ek ‘n paar drankies ingehad. Ek was buite op straat toe die polisie langs my stop. Ek het die mes op die grond gegooi, maar is gearresteer.”
[9] Die landdros het op grond van hierdie geringe feite tot die bevinding gekom dat die beskuldigde al die wesenlike elemente van die misdryf erken en hom skuldig bevind.
[10] Na deurlees van die oorkonde kan ek nie met die landdros se siening saamstem dat die skuldigbevinding ooreenkomstig die reg is nie. Die erkende feite soos vervat in die skriftelike pleitverduideliking is, na my mening, onvoldoende om tot ‘n bevinding te kom dat al die wesenlike elemente van die misdryf soos omskryf in Artikel 2(1) van die Wet op Gevaarlike Wapens, 71 van 1968, (“die Wet”) aan voldoen is.
[11] Die bepalings van artikel 2(1) van die Wet lui as volg:-
“Iemand wat in besit is van ‘n gevaarlike wapen, of van ‘n voorwerp wat so na ‘n vuurwapen lyk dat, onder omstandighede soos dié waaronder so iemand in besit daarvan is, dit waarskynlik vir ‘n werklike vuurwapen aangesien sou word, is aan ‘n misdryf skuldig, tensy hy kan bewys dat hy te gener tyd die bedoeling gehad het om sodanige wapen of voorwerp vir ‘n onregmatige doel te gebruik nie, en is by skuldigbevinding strafbaar met ‘n boete of met gevangenisstraf vir ‘n tydperk van hoogstens twee jaar.”
[12] Die definisie van ‘n gevaarlike wapen word ingevolge die bepalings van artikel 1 van die Wet as volg omskryf :-
“enige voorwerp, behalwe ‘n vuurwapen, wat waarskynlik ernstige liggaamlike letsel sal veroorsaak indien dit gebruik sou word om ‘n aanranding te pleeg.”
[13] Die omskrywing van ‘n gevaarlike wapen, soos bedoel in die bepaalde subartikel, is al in verskeie beslissings oorweeg. Eerstens is dit noodsaaklik dat ‘n verhoorhof vasstel of die betrokke voorwerp wel die bepaalde gevolg sal hê, naamlik die veroorsaking van ernstige liggaamlike letsels, as dit in ‘n aanranding gebruik word, deur byvoorbeeld na die aard en kwaliteit van die voorwerp te kyk. Hierdie is ‘n objektiewe toets en dit is noodsaaklik dat die voorwerp self aan die Hof getoon word, of dat daar ‘n beskrywing daarvan aan die Hof gegee word. In dié verband sien S v Diedericks en Andere, 1969 (3) SA 270 (C) op 275 G; S v Adams 1986 (4) SA 882 (A) op 896 J- 897 E asook die regspraak soos daarin aangehaal. Tweedens, is die vereiste vir ‘n voorwerp om as gevaarlike wapen te kwalifiseer, dat die bepaalde voorwerp ernstige liggaamlike letsel sal veroorsaak indien dit in ‘n aanranding gebruik sou word. Staat v Diedericks en Andere, supra op 275 B en Staat v Lottering 1976 (1) SA 779 (OK) op 780 A.
[14] Dit is dus duidelik dat die omskrywing van gevaarlike wapens nie net gerig is op wapens in die gewone sin van die woord nie, maar op voorwerpe wat aan twee vereistes voldoen, naamlik dat dit “waarskynlik ernstige liggaamlike letsel sal veroorsaak” en onder sekere omstandighede, “indien dit gebruik sou word om ‘n aanranding te pleeg.” Daar moet dus, benewens die aard en kwaliteit van die voorwerp na die hanteerbaarheid daarvan en die gepaardgaande potensialiteit van die hanteerbaarheid, om ‘n aanranding met die voorwerp te pleeg, gekyk word.
[15] In casu, is die beskuldigde skuldig bevind aan die besit van “’n mes”. Nêrens uit die oorkonde blyk dit dat die aard, kwaliteit of spesifikasies van die voorwerp op rekord geplaas is nie, nog minder is daar enigsins in die pleitverduideliking of deur getuienis deur die Staat aangebied, enigsins uitgebrei rondom die omstandighede waaronder die beskuldigde in besit van die mes gevind is nie.
[16] Na my mening is die feite waarop die landdros gesteun het om die beskuldigde skuldig te bevind wesenlik gebrekkig en moes die verhoorlanddros vrae ter opheldering van voormelde aspekte aan die beskuldige gevra het of die bepalings van artikel 113 van die Strafproseswet toegepas het. Die skuldigbevinding is derhalwe onreëlmatig en nie ooreenkoms die reg nie.
[17] Dit volg dat die skuldigbevinding en vonnis tersyde gestel moet word.
[18] Hierdie saak is onryp en laat dit nie ruimte om die grondwetlike beswaar van die Landdros te oorweeg nie. Die Landdros se siening dat die bepaalde artikel na beide geslagsvorme moet verwys, is sonder meriete. Die bepalings van artikel 6(a) van die Interpretasiewet, Wet 33 van 1957 is duidelik dat in elke wet, tensy ‘n ander bedoeling blyk, die woorde wat die manlike geslag aandui, ook vroue insluit.
[19] In die gevolg word die volgende bevel gemaak:-
Die skuldigbevinding en vonnis word tersyde gestel. Die saak word terug verwys na die verhoorlanddros om dienooreenkoms die reg daarmee te handel.
_____________________
LE GRANGE, R
Ek stem saam. Dit word so gelas.
____________________________
VELDHUIZEN, R