South Africa: Western Cape High Court, Cape Town Support SAFLII

You are here:  SAFLII >> Databases >> South Africa: Western Cape High Court, Cape Town >> 2009 >> [2009] ZAWCHC 25

| Noteup | LawCite

Brand v Brand (11674/06) [2009] ZAWCHC 25 (6 March 2009)

Download original files

PDF format

RTF format


IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA (KAAP DIE GOEIE HOOP PROVINSIALE AFDELING)


SAAKNR. 11674/06

In die saak tussen:




MARE BRAND Eiseres




en




JOHANNES ANDREAS BRAND Verweerder




UITSPRAAK GELEWER OP 6 MAART 2009






MITCHELL, WnR



[1] Die partye is op 26 November 1994 buite gemeenskap van goedere en met inlywing van die aanwasbedeling met mekaar getroud. Die huwelik bestaan nog. Twee minderjarige kinders, 'n seun tans 10 jaar oud en 'n dogter van 9 is uit die huwelik gebore.



[2] Die partye woon sedert April 2006 nie meer saam nie en is dit duidelik dat die huweliksverhouding tussen hulle onlierstelbaar verbrokkel is. 'n Egskeidingsbevel moet toegestaan word.



[3] Die partye is dit eens dat die bepalings soos uiteengesit in paragraaf 1 van die notule van erkennings wat op die eerste dag van die verhoor voorberei is rakende hulle onderskeie ouerlike regte en verantwoordelikhede, by die bevel ingelyf moet word. Dit word ook so gedoen, soos blyk uit die bevel aan die einde van hierdie uitspraak.



[4] Die saak is vir verhoor op Donderdag 5 Februarie ter rolle geplaas. Toe die saak geroep is, het die eiseres se advokaat vir my meegedeel dat daar twee geskilpunte in die saak was, naamlik die omvang van die verweerder se bydrae tot die koste van onderhoud van die twee kinders en die bedrag (indien enige) wat aan die eiseres ingevolge die aanwasbedeling moet toekom.



[5] Die notule van 'n voorverhoor konferensie gehou op 1 Desember 2008 het duidelik laat blyk dat geen betekenisvolle aandag aan voorbereiding vir die verhoor op daardie stadium gegee was nie. In antwoord op my vraag, is ek meegedeel dat, alhoewel sekere verdere moontlike erkennings en ooreenkomste bespreek is, geen verdere notule in hierdie verband opgestel is nie. Ook is geen versoeke om verhoorbesonderhede (soos voorsien ten tyde van die konferensie) afgelewer nie. Beide partye het kennisgewings van deskundige getuienis ten opsigte van die waarde van die verweerder se vaste eiendom afgelewer. Ek sal later na die inhoud van hierdie kennisgewings verwys. Ek is meegedeel dat die deskundige getuies nie 'n vergadering gehou het om die verskille tussen die twee waardasies te probeer uitklaar nie.






[6] Op my aandrang het die saak afgestaan terwyl die partye 'n skriftelike notule voorberei het van die aspekte waarop ooreengekom is en wat aandui welke aspekte nog in dispuut was. Sodanige notule is gedurende die middag aan my beskikbaar gestel. Dit behels 14 bladsye, insluitende sekere aanhangsels. Klaarblyklik moes hierdie notule voor die aanvang van die verhoor opgestel gewees het. Daaruit het verder geblyk dat die partye beswaarlik die koste verbonde aan 'n verhoor (wat verwag was om vir drie dae te loop) sou kon dra. Ek het die regsverteenwoordigers van die partye ernstig aangeraai om die orige geskilpunte gedurende die naweek te probeer skik en ook gevra dat die deskundige getuies byeen moet kom om, indien moontlik, 'n gesamentlike waarde van die eiendom te bepaal. Ek was egter meegedeel dat die verweerder se deskundige met vakansie in Namibie was en derhalwe nie beskikbaar was om in bespreking te tree met die eiseres se deskundige nie.



[7] Na my mening, vir redes hieronder verstrek, was die versuim om die meerderheid, indien nie al, die uitstaande geskilpunte te skik te wyte aan 'n gebrek aan behoorlike voorbereiding van die saak deur die regsverteenwoordigers van beide partye. Die gevolg was dat die verhoor op Maandag 9 Februarie, Dinsdag 10 Februarie en Woensdag 11 Februarie geloop het. Dit is toe uitgestel vir betoog op 20 Februarie 2009.


[8] Aangesien die verdeling van die aanwas in die partye se onderskeie boedels 'n invloed mag he op hulle vermoe om by te dra tot die onderhoud van die kinders, begin ek met daardie geskilpunt



[9] Dit blyk uit die notule vermeld in paragraaf [6] hierbo dat ooreenkoms bereik was ten opsigte van die aanpassing van die beginwaarde van die eiseres se boedel en die huidige waarde van haar bates en laste. Hiervolgens blyk dat die aanwas in die eiseres se boedel 'n bedrag van R37 297,00 beloop.



[10] Wat betref die verweerder se boedel, was die huidige waarde van verskeie van sy bates en laste in dispuut. Die orige syfers is op ooreengekom. Ek behandel vervolgens die items in dispuut.




Die vaste eiendom



[11] Die eiseres het kermis ingevolge Reel 36(9) gegee dat sy Mnr G E Burger, 'n prokureur van Citrusdal sou roep. Hy sou getuig dat volgens sy opinie die voormalige gemeenskaplike woning gelee te Freesialaan 10, Clanwilliam, 'n bedrag van R920 000,00 werd was. Volgens die verweerder se soortgelyke kennisgewing ten opsigte ven Mnr M C de Jongh, cn eiendomsagent van Clanwilliam, sou die waarde R750 000,00 beloop.


[12] Dit is opvallend dat nie een van die kennisgewings aan die bepalings van Reel 36(9)(b) voldoen het nie. Die doel van die reel is om 'n party wat deskundige getuienis wil aanbied te verplig om sodanige inligting ten opsigte van die getuienis te verskaf wat sal verhoed dat die ander party onverwags gevang word. Veral van belang is dat die opsomming die redes vir die opinie van die deskundige moet openbaar. In die konteks, behels hierdie redes die feite waarop die opinie gebaseer is. Behoorlike nakoming van die reel sal meermale 'n sinvolle bespreking tussen die deskundige getuies tot gevolg he, met 'n gepaardgaande besparing van tyd en kostes. Sien Coopers (South Africa) (Pty) Ltd v Deutsche Gesellschaft Fur Schadelimsbekdmyfung MBH 1976(3) SA 352 (A) te 370 D - 372 A.



[13] Beide deskundiges het egter volstaan met 'n beskrywing van die betrokke eiendom en die uitspreek van hulle opinie oor die waarde. Geen verdere feite om die opinie te ondersteun soos bv. pryse behaal vir vergelykbare eiendomme in die omgewing of tendense in die eiendomsmark in die gebied, is geopenbaar nie. Opvallend is verder dat die regsverteenwoorders van die partye niks gedoen het om sodanige onderliggende inligting van die teenkant te probeer bekom nie.



[14] Uit sy getuienis het dit geblyk dat Mnr Burger ag geslaan het op twee verkope van woonhuise in Freesialaan, een in Junie 2008 vir Rl 000 000,00 en een in Augustus 2008 vir R900 000,00 wat volgens horn sy waardasie van R920 000,00 ondersteun het. In die loop van sy kruisondervraging het dit geblyk dat daar twee verdere verkope in Augustus en Oktober 2008 was wat laere pryse opgelewer het. Volgens Mnr de Jongh was daar kort voor die verkoping taamlik aangebou aan die woonhuis wat vir R900 000,00 verkoop is.



[15] Mnr de Jongh het na altesaam 5 verkope in die omgewing verwys, een in Augustus 2006. Erfnornmers, erfgrootes en die munisipale waardasies van die eiendomme is verskaf. Dit het egter in die loop van sy getuienis geblyk dat die betrokke inligting namens horn na aanvang van die verhoor verkry was en dat hy nie self die ander eiendomme besigtig het om 'n behoorlike vergelyking met die verweerder se eiendom te kan maak nie. Hy het klaarblyklik probeer om hierdie inligting te gebruik om sy waardasie ex post facto te regverdig. Hy het ook getuig dat as gevolg van gebrekke in die opstel van die onlangse waardasierol, die munisipale waardasies nie as betroubaar beskou kan word nie.



[16] Die betrokke erf is 950m2, kleiner as meeste van die ander eiendomme verkoop. Volgens die getuienis bevat die woonhuis 3 slaapkamers, 'n ruim leefkamer, nuwe kombuis van goeie gehalte en 'n nuut aangeboude woonstel, omskep ten dele van 'n motorhuis. Daar is 4 badkamers en die huis is dus geskik om uitgehuur te word, ten voile of ten dele, as 'n gastehuis. Daar is 'n borrelbad in die turn, maar geen motorhuis nie. Die slaap- en sitkamevs is met lugreeling voorsien.





[17] As gevolg van die feit dat Mnr Burger nie die ander moontlik vergelykbare verkope in ag geneem het nie, is ek van mening dat sy waardasie waarskynlik aan die hoe kant is. Daarteenoor, het ek die indruk van Mnr de Jongh se getuienis gekry dat hy oormatig klem gele het op elke moontlike defek in die gebou, hetsy struktureel, ontwerp of esteties. Ek dink dat hy gevolglik geneig was om die waarde te onderskat. Hy het ook die beboude groote van die huis met 15.64m2 onderskat (die voorheenbestaande motorhuis wat nou in die woonstel omskep is). Dit verhoog sy waardasie met bykans R40 000,00. Verder het dit geblyk dat een van die moontlike vergelykbare verkope 'n verkoping deur die munisipaliteit aan een van sy werknemers was en dus moontlik nie 'n armslengte transaksie nie.



[18] Nie een van die deskundiges is dus van veel hulp nie as gevolg van die gebrekkige wyse waarop hulle voorbereidings gedoen is. Ek moet egter tot die beste van my vermoe en met die beskikbare inligting 'n waarde op die verweerder se eiendom plaas. Na my mening, in aggenome die verkoopprys behaal vir ander huise en in die lig van die getuienis ten opsigte van die woning self, sal 'n waarde van R840 000,00 nie onbillik teenoor die onderskeie partye wees nie. Ek bevind dus dat die waarde van die verweerder se eiendom vir doeleiendes van die bepaling van die aanwas in sy boedel, hierdie bedrag behels.



Die Volkswagen Caravelle voertuig



[19] Die verweerder is die eienaar van 'n Volkswagen Caravelle voertuig wie se enjin onklaar is. Die partye kon nie op die waarde daarvan ooreenkom nie. Die eiseres beweer dat dit R25 000,00 is, die verweerder se dat dit geen markwaarde het nie. 'n Brief van 'n motorhandelaar is voorgele waarin die mening uitgespreek is dat so 'n model in goeie werkende orde R25 000,00 werd mag wees. Die eiseres het gekies om geen deskundige getuienis in hierdie verband te lei nie, selfs nie van die koste om die enjin met 'n herboude enjin te vervang nie. Ek is dus nie in staat om enige waarde op hierdie voertuig te plaas vir doeleindes van aanwasverdeling nie.





Die verweerder se fietse



[20] Die verweerder besit 'n bergfiets wat hy vir R29 000,00 in Junie 2008 aangekoop het, asook cn resiesfiets wat etlike jare gelede tweedehands aangekoop is. Die eiseres beweer dat hierdie fietse gesamentlik R30 000,00 werd is. Sy het egter eweneens versuim om enige getuienis in hierdie verband voor te le nie. Die verweerder het, in die loop van sy getuienis, gese" dat hy 'n waardasie van die bergfiets in 'n bedrag van R15 000,00 onlangs bekom het. In die afwesigheid van enige ander getuienis, sal ek sodanige waarde op die fiets plaas. Ek kan geen waarde op die resiesfiets plaas nie.


[21] Basiese voorverhoor voorbereiding aan die kant van die regsverteenwoordigers sou, myns insiens, die waardes van laasgenoemde twee bates bepaal het en sou dit onnodig gewees het om hoftyd daaraan te bestee nie.




Die lening van verweerder se vader



[22] Die verweerder beweer dat hy 'n bedrag van R301 592,26 aan sy vader skuld en dat hierdie bedrag teen sy bates verreken moet word voor verdeling van enige aanwas. Die eiseres het gedurende haar getuienis erken dat sodanige bedrag stante matrimonio deur verweerder se vader aan hulle beskikbaar gestel is en dat dit aangewend was om bestaande skuld af te los. Haar getuienis was verder dat die afspraak met verweerder se vader was dat die bedrag terug betaal sou word uit die opbrengs van verweerder se boerdery sodra hy die familieplaas oorgeneem het. Gedurende die verweerder se getuienis het dit geblyk dat sy vader, in sy testament, die kapitaal van die lening spesiaal aan die verweerder se twee susters bemaak het. Ek kan geen rede sien waarom hierdie skuld nie teen die verweerder se bates in verrekening gebring moet word nie. Die verweerder se vader hou nie die eiseres vir die lening verantwoordelik nie en daar is geen getuienis wat die verhaalbaarheid van die lening bevraagteken nie. Die eiseres se advokaat het betoog dat aangesien die verweerder (n polis op sy vader se lewe uitgeneem het wat voldoende sal wees om die lening terug te betaal, die skuld buite rekening gelaat moet word. Hierdie betoog kan nie opgaan nie, aangesien die huidige waarde van die polis as deel van die verweerder se bates ingesluit is.




Die balans uitstaande op die verband oor die verweerder se eiendom



[23] Volgens die staat van verweerder se verbandlening wat aan die Hof voorgele is, was die balans aan die bank verskuldig op 7 Februarie 2009 R306 363,43. Die eiseres het die aftrekbaarheid van hierdie bedrag betwis, blykbaar op grond van die feit dat die debietsaldo op die verbandrekening in Oktober 2008 slegs R164 721,10 beloop het.



[24] Die getuienis van die verweerder ten opsigte hiervan is verdere bewys van die ontoereikende voorbereiding vir die verhoor. Die verweerder het in die loop van 2008 aansoek gedoen om 'n verhoogde verband. Die aansoek is toegestaan. R64 504,42 is van die verbandrekening onttrek om die verweerder se oortrokke lopende rekening en kredietkaart rekening te vereffen. Hierdie transaksie het dus nie tot gevolg gehad dat sy boedel enige vermindering ondergaan het nie. 'n Verdere bedrag van R78 000,00 is op 3 Februarie 2009 van die verbandrekening onttrek. Die verweerder se getuienis is dat dit gebruik was om sy skuld aan Mount Synott te vereffen. 'n Faktuur is as bewys van hierdie skuld voorgele. Dit is gedateer 24 Julie 2008 en hou verband met die omskepping van die motorhuis op sy eiendom in 'n woonstel. Alhoewel hierdie betaling, na etlike maande, deur eiseres se advokaat bevraagteken was, is geen getuienis voor my geplaas wat sou aandui dat hierdie nie 'n regmatige skuld is of dat betaling nie aan die krediteur gemaak is nie. Ook hierdie betaling het derhalwe nie die verweerder se boedel verminder nie.



[25] Die verweerder het 'n verdere bedrag van R7 284,37 van die verbandrekening op 7 Februarie, na aanvang van die verhoor, onttrek. Uit die getuienis blyk dit dat hierdie bedrag aangewend is ter betaling van die kostes om Mnr de Jongh van Namibie te bring vir die verhoor. Dit is nie 'n uitgawe wat, myns insiens, teen die eiseres se eis om verdeling van die aanwas in verrekening gebring kan word nie. Tydige voorbereiding vir die verhoor sou so 'n onkoste in elk geval onnodig gemaak het.



[26] Gevolglik moet 'n bedrag van R299 079,06 (die balans voor betaling van die laasgenoemde koste) in verrekening gebring word vir doeleindes van die bepaling van die verweerder se boedel aanwas.



[27] Die huidige waarde van die ooreengekome bates van die verweerder is R392 936,55. Daarby moet getel word die waarde van die vaste eiendom, R840 000,00, en die waarde van die fietse, R15 000,00, wat totale bates van Rl 247 936,55 daar stel. Daarvan moet afgetrek word sy ooreengekome laste van R12 982,11, asook die bedrae van R301 592,26 en R299 079,06 voormeld, 'n total van R613 653,43. Sy netto boedel bedra dus R634 283,12.


[28] Na aftrekking van die ooreengekome huidige waarde van die beginwaarde van sy boedel (R231 550,00), is die aanwas in sy boedel 'n bedrag van R402 733,12. Dit beteken dat hy 'n bedrag van R182 718,06 aan die eiseres moet oormaak ten eiende gelyke dele van die gesamentlike aanwas aan beide partye te laat toekom.




Qnderhoud vir die minderjarige kinders



[29] Die gelykmaking van die boedelaanwas stante matrimonio loop nie uit op 'n bedrag wat 'n noemenswaardige uitwerking het op die vermoe van die partye om in die redelike behoeftes van die kinders te voorsien nie. Ek hou in gedagte dat die verweerder waarskynlik gebruik sal moet maak van die verband oor sy huis om die kapitale betaling te doen.



[30] Uit die notule van ooreenkome feite blyk dit dat die eiseres se bruto maandelikse salaris R15 000,00 beloop. Na aftrekking van belasting, werkloosheidsversekering en 'n klein bedrag vir telefoon gebruik is haar netto inkomste R12 437,00. Dit was in dispuut of sy op 'n dertiende tjek geregtig is. Die getuienis in die verband toon dat, terwyl die betaling van 'n dertiende tjek in die diskressie van haar werkgewer berus, sy wel gedurende die tydperk wat sy daar werksaam was, elke jaar so 'n tjek ontvang het. Die waarskylikheid is dat hierdie voordeel sal voortduur, en ek aanvaar dus dat haar maandelikse netto inkomste op 'n bedrag van R13 473,00 geskat moet word.





[31] Volgens die verweerder se salarisstaat is sy bruto salaris R22 958,00 per maand. Bo en behalwe aftrekkings soortgelyke aan die van die eiseres, dra hy by tot 'n pensionfonds (Rl 722,00 per maand) en word 'n bedrag vir brandstof vir private gebruik van sy maatskappy motor afgetrek. In Januarie vanjaar is R2 369,00 onder hierdie hoof afgetrek. Sy netto salaris het dan R14 341,00 beloop. Hy kry ook 'n dertiende tjek en dus moet Rl 560,00 bygetel word, sodat sy netto inkomste R15 901,00 beloop. Boonop ontvang die verweerder verdere voordele van sy werkgewer. Sy mediese fonds bydraes van Rl 463,00 per maand word betaal, asook voorsorgfonds bydraes van R3 730,00 per maand. Hierdie voordele, alhoewel nie direk aan horn beskikbaar nie, bring sy maandelikse pakket op R21 094,00 te staan. Die getuienis was verder dat sy werkgewer 'n diskretionere 14de tjek betaal. Hierdie betaling is oor die laaste aantal jare gemaak. Dit stel waarskynlik 'n verdere Rl 560,00 per maand aan horn beskikbaar.



[32] Die getuienis was verder dat die verweerder se huis beskikbaar gestel word vir verhuring as 'n gastehuis, of die hele huis of die aparte woonstel. Hy het getuig dat die inkomste van hierdie bron aan sy moeder toekom want sy sorg vir horn by wyse van akkommodasie as die huis verhuur word en ook die voorsiening van kos en kruideniersware. Dat hierdie wel vir horn 'n fmansieele voordeel is blyk uit die klein bedrag wat onder hierdie opskrif in sy maandelikse begroting verskyn. Dit is nie op die getuienis moontlik om 'n presies geldwaarde op hierdie bron van inkomste plaas nie. Die verweerder het aan die bank ten tyde van sy aansoek om 'n verband gese dat sy inkomste uit die huur van die huis R3 000,00 per maand beloop het. Sy getuienis was dat hy die inkomste erg oordryf het ten eiende die lening te bekom. Dit lyk egter vir my asof sy voordeel etlike honderde rand per maand moet beloop. In hierdie opsig is hy dus ook frnansieel beter daaraan toe as die eiseres.



[33] In die loop van haar getuienis het die eiseres 'n begroting van die maandelikse behoeftes van haarself en die minderjarige kinders voorgele. 'n Poging is gedurende kruisondervraging gemaak om hierdie begroting in verskeie aspekte aan te val met verwysing na die eiseres se werklike uitgawes in die maande voor die verhoor. Klaarblyklik kan so 'n aanval nie opgaan nie. Haar werklike uitgawes was uiteraard beperk deur die bedrag deur die verweerder pendente lite aan haar betaal. Uit die getuienis as geheel blyk dit dat haar begroting nie ernstig bevraagteken kan word nie. Die vraag bly egter staan of die partye se onderskeie inkomste genoegsaam is om die begrote bedrae te betaal. So nie, sal die eiseres haar uitgawes moet beperk.



[34] Die verweerder betaal huidiglik, volgens 'n bevel in terme van Reel 43, Rl 250,00 per maand per kind, asook die helfde van hulle skoolgelde, nasorggelde en die koste van remedierende onderwys. Verder was hy bevel on die kinders as afhanklikes op sy mediese fonds te behou en alle 'voorgeskrewe mediese uitgawes wat nie deur die mediese fonds gedek word nie' te betaal.





[35] Na my mening sal dit billik wees indien ek die gewone bevel maak betreffende die skoolgelde en nasorgkoste van die kinders, naamlik dat hulle vader daarvoor moet betaal. Soos hierbo blyk, is hy beter daaraan toe as die eiseres. Hierdie koste sal ook insluit enige koste vir remedierende onderwys wat redelik benodig word. Volgens die getuienis beloop hierdie kostes huidiglik Rl 370,00 per maand.



[36] Wat betref die mediese kostes vir die kinders, word hulle tans gedek onder die verweerder se mediese skema wat ten voile deur sy werkgewer betaal word. Dit sal billik wees as hy sodanige dekking in stand hou sodat die voordeel daarvan aan die kinders toekom. Wat betref mediese kostes wat nie deur die skema gedek word nie, sal ek beveel dat die partye elkeen die helfde daarvan dra. Dit beteken dat hulle albei 'n belang daarin sal he dat hierdie kostes binne redelike perke bly.



[37] Volgens die begroting deur die eiseres voorberei beloop die maandelikse onkostes R5 850,00 per kind. Dit sluit in R290,00 per kind vir nasorg wat hierna deur die verweerder betaal sal word. Die begroting moet aangepas word by die vermoens van die partye. Hierdie bedrag sluit ook in een derde van die eiseres se huur. Selfs indien sy nie die kinders by haar gehad het nie sou sy nie veel minder vir haar eie akkommodasie betaal het nie.


[38] Alles in aggenome, is ek van mening dat dit billik sal wees indien die verweerder bo en behalwe die skool en verwante kostes 'n bedrag van R2 000,00 per kind per maand aan die eiseres betaal.




Regskostes




[39] Soos ek voorheen opgemerk het was die voorbereiding vir hierdie verhoor van die kant van albei die regsspanne ontoereikend. Behoorlike voorbereiding vir enige saak is van kardinale belang. Te meer waar, soos hier, die partye beswaarlik die koste van 'n lang verhoor kan dra. Dit kan, myns insiens, van regspraktisyns verwag word om verantwoordelik in hierdie verband op te tree, veral in huweliksaangeleenthede waar die partye meermale as gevolg van emosionele faktore dit moeilik vind oin redelik te wees.



[40] Behoorlike voorbereiding in hierdie geval sou minstens die volgende behels het:



(a) Vroegtydige konsultasie met die deskundige getuies ten einde behoorlike opsommings voor te berei. Opvolg konsultasies om die teenkant se deskundige getuie kennisgewings te ontleed en vas te stel of die mening van die deskundige aangepas moet word in lig van die feite waarop die teenkant steun vir hulle opinie. Sodanige konsultasies sou in hierdie geval die tekortkominge in die voorbereiding van die deskundiges blootgele en reggestel het. Ek sou verbaas gewees het as hulle nie dan by ooreenstemmende waardasies uitgekom het nie.



(b) Vroegtydige lewering van versoeke om verhoorbesonderhede sou baie van die inligting opgelewer wat stuksgewys gedurende die verhoor uitgekom het.



(c) Gepaardgaande daarmee, sou 'n behoorlike voorverhoorkonferensie (of, indien nodig, konferensies) geskille ten opsigte van die inkomste en uitgawes van die partye grootliks, indien nie heeltemaal nie, bygele het. So ook sou die vroegtydige uitruil van die maandelikse begrotings van die partye.



(d) Sodanige konferensies sou ook die nodigheid van verdere deskundige getuienis ten opsigte van die verweerder se bates laat blyk het. In die lig van die beperkte omvang van die waardes, sou die regsverteenwoordigers heel waarskynlik ooreengekom het dat een waardasie, bindend op albei, bekom sou word.



(e) Ook die geskil ten opsigte van die uitstaande balans op die verweerder se verband sou heel waarskynlik bygele gewees het tydens hierdie konferensies en die uitruil van dokumentasie gedurende die proses. Dit was vir my duidelik dat relevante dokumente gedurende die verhoor uitgeruil was.


[41] Ek het in die loop van die verhoor vir die advokate meegedeel dat ek 'n spesiale kostebevel oorweeg. Hulle is 'n geleentheid gegee om betoe in hierdie verband te maak.



[42] Volgens my opinie, indien behoorlike voorbereiding gedoen was, sou hierdie saak of geskik het of sou die orige geskilpunte nie meer as 'n dag geneem om in 'n verhoor voor die regter geplaas te word. Instede daarvan het die verhoor 4 dae in beslag geneem plus 'n middag vir betoe. Onder die omstandighede het ek besluit om 'n bevel te maak dat die prokureurs vir beide partye geen kostes (fooie of uitgawes) van hulle kliente mag verhaal na die tweede dag van die verhoor nie.


[43] Die verweerder het by die aanvang van die verhoor 'n ope skikkingsaanbod gemaak, (Bewysstuk C). Vir die redes voormeld is die toekenning wat ek maak meer as die bedrae in die aanbod vervat en moet die verweerder derhalwe die kostes van die aksie betaal (onderhewig natuurlik aan die spesiaal bevel hierbo vermeld).




[44] Ek maak dus die volgende bevel:


  1. 'n Egskeidingsbevel word toegestaan;

  2. Die partye sal gesamentlike ouerlike regte en verantwoordelikhede oor die minderjarige kinders op die volgende wyse uitoefen:



(i) Die partye sal mede-voogdyskap van die minderjarige kinders behou soos bepaal in Artikel 18(2)(c), 18(3), 18(4) en 18(5) van die Kinderwet, Wet 38 van 2005;



(ii) Die minderjarige kinders sal in eiseres se sorg wees onderhewig aan verweerder se reg van redelike kontak, welke kontak sal insluit alternatiewe naweke, alternatiewe verjaarsdae, alternatiewe kort skool vakansies, die helfte van alle lang skoolvakansies en redelike telefoniese kontak met in agneming van die minderjarige kinders se
skolastiese verpligtinge en aktiwiteite;



(iii) Eiseres sal met verweerder konsulteer met betrekking tot die volgende aspekte rakende die minderjarige kinders:




(aa) die minderjarige kinders se skoolopvoeding;


(bb) enige verandering ten opsigte van die minderjarige kinders se kerkverband of godsdiens;



(cc) enige belangrike mediese behandeling wat die minderjarige kinders mag benodig;



(dd) enige ander besluit wat 'n wesenlike verandering sal meebring in die kinders se woonomstandighede, skoolopvoeding en algemene welstand.



(c) Die verweerder word gelas om tot die onderhoud van die minderjarige kinders soos volg by te dra totdat hulle meerderjarig of selfonderhoudend word:




(i) Deur betaling van die bedrag van R2 000,00 per maand per kind direk aan die eiseres voor of op die eerste dag van elke maand, met ingang van 1 April 2009;



(ii) Die onderhoudbedrag soos in paragraaf (i) vermeld sal jaarliks op die herdenkingsdag van hierdie bevel verhoog word, met die eerste verhoging een jaar na datum van die verlening van die bevel, ooreenkomstig die gemiddelde jaarlikse styging in die Verbruikersprysindeks vir die voorafgaande 12 (twaalf) maande soos deur die Hoof: Sentrale Statistiekdiens in die Staatskoerant publiseer word. By ontstentenis van hierdie publikasie word die bedrag aangepas ooreenkomstig 'n ander vergelykbare gesaghebbende bron;



(iii) Deur die betaling van alle redelike skooluitgawes ten opsigte van skoolfooie, nasorgkoste en die koste van remedierende onderwys;



(iv) Die koste van skoolklere, sportklere, skryfbehoeftes, studiemateriaal en handboeke en enige buitemuurse aktiwiteite wat die minderjarige kinders mag beoefen sal in gelyke dele deur die partye gedra word;



(v) Deur die minderjarige kinders gedek te hou op die verweerder se huidige mediese skema of 'n mediese skema met soortgelyke omvattende voordele. Die verweerder sal verantwoordelik wees vir betaling van die maandelikse premies van voormelde skema;



(vi) Die koste van alle redelike mediese onkoste van die minderjarige kinders wat nie deur die verweerder se mediese skema gedek word nie sal deur die partye in gelyke dele betaal word;



(vii) Deur die betaling van enige naskoolse studies van die minderjarige kinders vir solank as wat die minderjarige kinders bevredigende vordering toon;



(d) Die verweerder word gelas om 'n bedrag van R182 718,06 aan die eiseres te betaal, synde die helfte van die verskil tussen die aanwas van hulle onderskeie boedels;



(e) Die verweerder word gelas om die regskoste van die eiseres te betaal, na afrrekking van enige kontribusie tot haar regskoste tot op datum betaal, en verder onderhewig daaraan dat die regsverteenwoordigers van die partye belet word om enige koste van die verhoor na die eiende van die tweede dag daarvan, van hulle kliente te verhaal. Ek maak doelbewus geen bevel ten opsigte van die kwalifiseerende koste van die deskundige getuies nie.







DR MITCHELL, WnR