South Africa: Western Cape High Court, Cape Town

You are here:
SAFLII >>
Databases >>
South Africa: Western Cape High Court, Cape Town >>
2009 >>
[2009] ZAWCHC 27
| Noteup
| LawCite
Goliath v S (A125/2005) [2009] ZAWCHC 27 (17 February 2009)
Download original files |
IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA
(PROVINSIALE AFDELING KAAP DIE GOEIE HOOP)
SAAKNR: A. 125/2005
In die saak tussen:
WILLEM GOLIATH Appellant
en
DIE STAAT Respondent
UITSPRAAK GELEWER OP 17 FEBRUARIE 2009
VAN STADEN WnR
1.Die Appellant doen aansoek vir verlof om te appelleer teen 'n uitspraak op appel vanaf die Streekhof gelewer deur Louw R op 10 Februarie 2006 waarmee ek saamgestem het. In die uitspraak op appel is die Streeklanddros se skuldigbevindings en vonnisse gehandhaaf.
2.Die aansoek vir verlof is in die eerste plek gebaseer op die bevinding in die uitspraak dat die getuienis met betrekking tot die identifikasie van die Appellant as die oortreder betroubaar was. Die Appellant voer verder aan dat die Hof op appel misgetas het deur te bevind dat die getuienis van die Appellant nie moontlik waar kan wees nie en dat die botsings in die getuienis van die Appellant oorbeklemtoon is.
3.Wat identifikasie betref, steun die Appellant in die Kennisgewing van Appel, op die saak van S v Kubeka1 waar die korrekte benadering tot 'n beskuldigde se getuienis as volg uiteengesit is.
"Whether I subjectively disbelieve him is, however, not the test. I need not even reject the State's case in order to acquit him. It is not enough that he contradicts other acceptable evidence. I am bound to acquit him if there exist a reasonable possibility that his evidence may be true. Such is the nature of the onus upon the State."
4.Namens die Appellant word in die kennisgewing ook verwys na die saak van S v Muniai1 waarin die gemelde benadering in die Kubeka-saak onderskryf is en as volg uitgebrei is:
"In other words even if the State's case stood as a completely acceptable and unshaken edifice, a court must investigate a defence case with a view to discerning whether it is demonstrably false or inherently so improbable as to be rejected as false."2
5.Namens die Appellant word egter nagelaat om te verwys na die saak van S v Van Aswegen3 waar Cameron AR van die Hoogste van Appel spesifiek bevind dat die benadering in bogemelde sake verkeerd is. Die Hoogste Hof van Appel verwys met goedkeuring na die volgende aanhaling in S v Van der Mevden:4
"It is difficult to see how a defence can possibly be true if at the same time the State's case with which it is irreconcilable is 'completely acceptable and unshaken'. The passage seems to suggest that the evidence is to be separated into compartments, and the 'defence case' examined in isolation, to determine whether it is so internally contradictory or improbable as to be beyond the realm of reasonable possibility, failing which the accused is entitled to be acquitted. If that is what was meant, it is not correct. A court does not base its conclusion, whether it be to convict or to acquit, on only part of the evidence. The conclusion which it arrives at must account for all the evidence."
6. Die getuienis dat die helfte van die tjekboek wat aan een van die klaers behoort het in die voering van die baadjie gevind is wat deur die Appellant gedra is, terwyl die ander gedeelte van dieselfde tjekboek agter in die vangwa, tussen die sitplek en die bakwerk gevind is, is myns insiens, van deurslaggewende belang. Die enigste redelike afleiding wat gemaak kan word in die omstandighede is dat die Appellant, wat agter in die vangwa was, die helfte van die tjekboek daar versteek het.
7.Die Appellant se verduideliking in kruisverhoor dat die polisie dit in die vangwa geplant het is om die minste daarvan te se onoortuigend. Boonop het hy in kruisverhoor, toe hy met hierdie getuienis gekonfronteer is, vir die eerste keer beweer dat hy deur die polisie aangerand is. Hierdie nuwe verskoning is verdag en bevestig myns insiens dat die Appellant geen antwoord het op die verdoemende getuienis in verband met die gedeelte van die tjekboek in die vangwa nie.
8.In die uitspraak van Louw R, is daar in besonderhede gehandel met die getuienis oor die identifikasie en is ook die getuienis van die Appellant ontleed. Die bevinding dat die identifikasie onaanvegbaar is, word na my mening verder bevestig deur bogemelde getuienis oor die tjekboek.
9.Ek bevind dus dat daar geen redelike twyfel oor die identifikasie en die skuld van die Appellant kan wees nie en dat daar geen redelike vooruitsigte is dat 'n ander hof tot 'n ander gevolgtrekking kan kom nie.
10.Wat vonnis betref voer die Appellant aan dat sy ouderdom van 24 jaar, toe die misdaad gepleeg is, 'n faktor is wat 'n ligter vonnis as die voorgeskrewe 15 jaar gevangenisstraf regverdig. In die lig van al die omstandighede, meer spesifiek die feit dat die klaers weerlose, bejaarde dames was, die geweld waarmee die roof gepaardgegaan het, sowel as die vorige veroordelings van die Appellant, is ek weereens van mening dat daar geen vooruitsig is dat 'n ander hof tot 'n ander gevolgtrekking kan kom nie.
11. Ek sou gevolglik die aansoek om verlof om te appelleer van die Appellant van die hand wys.
W H VAN STADEN WnR
Ek stem saam. Die aansoek om verlof om te appelleer van die Appellant word van die hand gewys.
LOUW R
1 1986 (4) SA712(V).
2 Bl. 715G.
4 1999 (1) SASV 447 (W).