South Africa: Western Cape High Court, Cape Town Support SAFLII

You are here:  SAFLII >> Databases >> South Africa: Western Cape High Court, Cape Town >> 2009 >> [2009] ZAWCHC 41

| Noteup | LawCite

S v Depana (SS41/2008) [2009] ZAWCHC 41 (26 February 2009)

Download original files

PDF format

RTF format


IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA

(KAAP DIE GOEIE HOOP PROVINSIALE AFDELING)


SAAKNOMMER SS.41/2008


DATUM: 26 FEBRUARIE 2009


In die saak tussen


DIE STAAT


en


THANDO DEPANA




UITSPRAAK



LE GRANGE, R



Die beskuldigde, luidens die klagstaat, staan tereg op 'n aanklagte van moord. Volgens die Akte van Beskuldiging word dit beweer dat 30 Julie 2006 te of naby Cloetestraat, Laingville, St Helenabaai, wederregtelik en opsetlik ene Christoffel Jacobus le Roux gedood het deur hom met 'n mes te steek. Die bepaling van die Strafregwysigingswet, Wet 105 van 1997 (ook bekend as die Minimum Vonnis Wet) is ook van toepasing.



Die beskuldigde het onskuldig gepleit en geen pleitverduideliking verskaf nie. Adv De Beer het namens die beskuldigde verskyn en adv Vakele namens die staat.


Die staat het nege getuies geroep en by afsluiting van die staatsaak het die beskuldigde by monde van adv De Beer 'n aansoek ingevolge die bepalings van artikel 174 van die Strafproseswet, 51 van 1977, vir sy ontslag geloods. Die 10 staatsaanklaer het hierdie aansoek teengestaan.


Die toets vir ontslag ingevolge die bepalings van hierdie artikel was al in verskeie regsliteratuur en besliste sake bespreek. In hierdie verband sien HIEMSTRA, SUID-AFRIKAANSE STRAFPROSES, 6de Uitgawe op 450 en verder asook die regspraak daarin aangehaal. Artikel 174 bepaal dat, indien by afsluiting van die staatsaak die Hof van oordeel is dat daar geen getuienis is dat die beskuldigde die misdaad, waarvan hy aangekla is of 'n ander misdaad waaraan hy skuldig bevind sou kon word, gepleeg het nie, 'n uitspraak van onskuldig kan lewer. Die begrip "geen getuienis" is in hierdie verband uitgele as synde geen getuienis waarop 'n redelike man die beskuldigde sou kon skuldig bevind nie. In hierdie verband sien SHEIN 1925 AD 6 en veral op 9.


Die geloofwaardigheid van die getuienis by die ontslag stadium is nie 'n wesenlike faktor nie, behalwe as die getuienis so swak of ongeloofbaar is dat geen redelike persoon dit kan aanvaar nie. (Sien S V MTHETWA 1983(4) SA 262 (K).)



Dit is ook beslis in S v LUBAXA 2001(4) SASV 1251 (HHA) op 1256j dat waar daar 'n enkele beskuldigde is en by die afsluiting van die staatsaak geen moontlikheid is van 'n skuldigbevinding tensy die beskuldigde self inkriminerend sou getuig nie, is die versuim om te slaan 'n verbreking van 'n beskuldigde se reg tot 'n billike verhoor.


Dit as rigsnoere, is dit belangrik om die getuienis van die staat te evalueer. Dit is gemeensaak dat die polisie op die aand van die voorval op twee geleenthede by die huis van Xolani Mnxakhwe was. Op die eerste geleentheid het die polisie horn versoek om die geraas van die musiek by sy woning te verminder, aangesien daar 'n klagte gekom het van rusverstoring. 'n Onderonsie het ontstaan waarna die polisie die toneel verlaat het.


Na 'n kort rukkie het die polisie teruggekeer met versterkings. Dit is by hierdie geleentheid waar die beskuldigde die oorledene beweerdelik met 'n mes aangeval en horn noodlottig gewond het.


Die huiseienaar, Xolani, se getuienis rondom hierdie voorval kan kortliks as volg saamgevat word. Met die aankoms van die polisie die tweede keer, het hy op 'n krat in sy woning gesit 5 aan die regterkant van die voordeur. Daar was 'n klop aan sy deur. Hy het opgestaan om dit te gaan oopmaak. 'n Polisielid het aan horn gevra waarom hy nie die polisie se opdragte nakom nie. Die polisieman het horn voor die bors probeer vasgryp om horn uit die woning te trek. Hy het agteruit beweeg en op die stadium het die beskuldigde tussen die deurkosyn en homself gekom en na die polisieman gesteek. Hy het die deur toegemaak waarna verskeie skote na die woning gevuur is. Daarna het persone, wat binne die huis was, drankbottels na die polisie gegooi. 'n Persoon in sy woning was noodlottig gewond. Hy en verskeie ander, insluitende die beskuldigde, was gearresteer vir openbare geweld.


Later het hy Yi verklaring by 'n speurder afgele waar hy die beskuldigde in die aanval op die oorledene impliseer het. 20 Drie messe wat deur die polisie op die toneel gevind was, was aan horn getoon. Die mes, Bewysstuk 1, het hy uitgeken as die moordwapen wat in besit van die beskuldigde was.



Tydens kruisverhoor asook vrae deur hierdie Hof, het hierdie 25 getuie se weergawe verskeie kere in wesenlike opsigte verander oor wat plaasgevind het by die deur waar die oorledene gesteek was, onder andere dat die beskuldigde buite die woning was toe hy na die oorledene gesteek het. Dit is ook gemeensaak dat die mes, Bewysstuk 3, bloedspatsels bevat het. Hierdie bloedspatsels was forensies ontleed en die DNA-profiel van die oorledene kon daarop ingelees word.


Dr Basson, die patoloog, se getuienis rondom die moordwapen is ook insiggewend. Volgens sy waarneminge van die
steekwond en die skade wat dit aangerig het aan die oorledene se liggaam is Bewysstuk
3 die mees waarskynlike moordwapen. Hy het Bewysstuk 1 as die mees onwaarskynlike moordwapen uitgewys, aangesien die lem lank en buigsaam is.



Die twee polisiebeamptes, Perswall Jacobs en Patrick Visser wat saam met die oorledene na die voordeur gestap het, se getuienis is ook nie sonder kritiek nie. Die getuieverklarings wat hulle ure na die voorval onder eed afgele het, stem feitelik woordeliks ooreen. Tog verskil hulle getuienis in hierdie hot hemelsbreed van mekaar. Jacobs het getuig dat die beskuldigde en sy broer uit die woning gekom het terwyl Xolani in die deur van die woning gestaan het. Die oorledene het die beskuldigde uit die pad gestoot om by die voordeur uit te kom waarna die beskuldigde die oorledene twee keer met 'n mes in die bors gesteek het. Die beskuldigde en sy broer het daarna die huis ingehardloop. Hierdie weergawe bots in wesenlike opsigte met die weergawe van Visser.


Visser getuig dat Xolani in die voordeur gestaan het. Die oorledene was op pad na die voordeur. Die beskuldigde het daarna oor die regterkantste skouer van Xolani twee keer met 'n mes na die oorledene gesteek. Volgens Visser was die beskuldigde se broer op daardie stadium nie op die toneel nie.


Jacobs was ook adamant dat Bewysstuk 1 die moordwapen is. Hierdie moordwapen was ook volgens Jacobs deur die ondersoekbeampte, mnr Makwambi, aan horn uitgewys. Visser kon egter nie die moordwapen uitken nie. Die getuienis van 15 die polisiesoekspan wat op die toneel gearriveer het, verskil ook in wesenlike opsigte oor waar die drie messe, Bewysstukke 1 tot 3, op die toneel gevind was.


Volgens die getuienis van mnr William Rooi, het hy op die 20 toneel opgedaag en verneem dat 'n polisielid gesteek was. Hierdie polisielid was reeds na die hospitaal geneem. Hy het beveel dat al die persone in die woning moet uitkom, waarna die persone een-vir-een deursoek en in die vangwa gelaai was. Hy het daarna die woning betree en het in die ingang van die 25 woning 'n persoon gevind wat met 'n skietwond in die kop noodlottig gewond was. Hy het twee messe gesien, een net regs van hierdie persoon en een aan die voetenent, welke messe strook met Bewysstukke 2 en 3. Die huis was daarna verder deursoek vir ander wapens, maar niks kon verder gevind word nie. Tydens sy deursoeking het hy ook nie

Bewysstuk 1 gesien nie. Sy getuienis is verder dat 'n polisiebeampte, naamlik Van Dorp, horn vergesel het met sy deursoeking.


Superintendent Ntadayi se getuienis was kortliks as volg. Met sy aankoms was daar verskeie polisievoertuie op die toneel. Die misdaadtoneel was erg versteur en vertrap en kon hy nie enige bewysstukke of getuienis versamel nie. Hy het egter die persoon met die skietwond in die kop aangetref en het getuig dat daar twee messe naby sy bolyf gele het wat ooreenkom met Bewysstukke 2 en 3. Hy het ook nie Bewysstuk 1 opgemerk nie. Hierdie getuienis stem in wese ooreen met die van Rooi.



Die speurder in hierdie saak, mnr Mkwambi se weergawe is egter dat hy en mnr Rooi die woning betree het. Naby die persoon met die skietwond in die kop was twee messe gevind. Die een mes wat ooreenstem met Bewysstuk 3 is 'n bierkrat gevind naby die voordeur met bloedspatsels daarop. Bewysstuk 1 is gevind bo-op 'n tafel en dra hy nie kennis van Bewysstuk 2 nie. Hierdie getuie kon ook nie 'n redelike verduideliking verskaf waarom hy Bewysstuk 3 uit die krat moes haal om op die tafel te plaas nie. Mkwambi se weergawe rondom die vonds van die messe bots lynreg met die van Rooi en Ntadayi.



Mnr Barlow, die amptelike polisiefotograaf het getuig dat hy foto's van die toneel geneem het. Mkwambi het vir horn drie messe uitgewys wat langs mekaar op die tafel gele het. Hy 10 het die messe in 'n amptelik sak verseel en vir forensiese analise versend. Hy kan ook geen redelike verduideliking verskaf waarom daar nie foto's geneem was van hierdie bewysstukke nie.


Die beskuldigde se weergawe was aan sekere van die staatsgetuies gestel tydens kruisverhoor. Volgens hierdie weergawe sal beskuldigde erken dat Bewysstuk 1 sy mes is, maar dat hy die wapen met sy baadjie in 'n slaapkamer geplaas het wat vroeer die aand deur Xolani aan horn uitgewys was. Xolani het ook die mes, Bewysstukk 1, waargeneem. Die mes, Bewysstuk 3, was egter in Xolani se besit en het Xolani dit aan horn getoon as synde sy wapen wat hy vir selfverdediging gebruik. Tydens die voorval met die polisiebeampte was dit Xolani wat die oorledene twee keer met Bewysstuk 3 gesteek het.


Daar was ook aan die getuies gestel dat die verdediging in besit is van beedigde verklarings wat die ondersoekbeampte afgeneem het van persone rakende hierdie voorval. Volgens 5 sommige van hierdie verklarings was Xolani die enigste persoon buite die woning toe die polisie die tweede keer daar arriveer en het hy die woning alleen binnegehardloop waarna daar op die woning geskiet was. Die ondersoekbeampte het bevestig dat persone wel sulke verklarings afgele het.


Die vraag is nou is hierdie getuienis genoegsaam waarop 'n redelike hof die beskuldigde kan skuldig bevind. Myns insiens, nie. Die getuienis van Xolani, na my mening, was heeltemal afgekraak in kruisverhoor en is dit onveilig om daarop te steun. Jacobs en Visser se getuienis rondom die gebeure voor die oorledene aangeval was, verskil ook in wesenlike opsigte. Die moordwapen waarna Xolani en Jacobs verwys, is ook nie die mes waarop bloedspatsels van die oorledene
gevind is nie.
Visser se verduideliking van waar die beskuldigde gestaan het voordat hy na die oorledene gesteek het, verskil ook met die getuienis van Xolani.


Die getuienis van Rooi en superintendent Ntadayi verskil ook waar die messe in die woning gevind was met die van Mkwambi. Daar is ook geen foto's geneem van waar die getuies beweer die messe gevind is nie. Die messe gevind op die moordtoneel was deur ervare polisiebeamptes hanteer en daarmee moontlik belangrike forensiese getuienis, soos byvoorbeeld 'n vinger- en/of palmafdruk vernietig. Daar is wel 'n mate van getuienis wat die beskuldigde moontlik impliseer met die misdaad, maar na my mening is die getuienis van die staat van so 'n swak gehalte dat geen redelike hof daarop kan handel om enige persoon moontlik te kon skuldig bevind nie.



Dit dien gemeld te word dat die manier en wyse waarop hierdie saak deur die polisie ondersoek was, kommerwekkend is. Nie net was die moordtoneel deur die polisielede vertrap nie, maar is daar op 'n baie swak en onprofessionele wyse met wesenlike bewysstukke in hierdie saak gepeuter alvorens dit versend was vir forensiese analise.



Die moord op die oorledene, reserviskonstabel Le Roux, was en is laakbaar. Dit het ook in die teenwoordigheid van sy mede-beamptes plaasgevind. Nieteenstaande dit, is daar nie 20 eens voldoen aan eenvoudige en standaard polisie ondersoekprosedure nie. 'n Persoon kan net hoop dat hierdie swak polisiewerk homself nooit weer sal herhaal nie.



Dit volg dat die beskuldigde se aansoek vir ontslag moet slaag. In die gevolg word die volgende bevel gemaak: ingevolge die bepalings van artikel174 van die Strafproseswet, Wet 51 van 1977, worddie beskuldigde ONSKULDIG BEVIND EN ONTSLAAN.



LE GRANGE, R