South Africa: Western Cape High Court, Cape Town Support SAFLII

You are here:  SAFLII >> Databases >> South Africa: Western Cape High Court, Cape Town >> 2009 >> [2009] ZAWCHC 47

| Noteup | LawCite

S v Johnson (SS 18/2008) [2009] ZAWCHC 47 (11 March 2009)

Download original files

PDF format

RTF format





IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA

WES-KAAP HOE HOF, KAAPSTAD



Saak no: SS 18/2008

In die saak tussen:

DIE STAAT



teen



KLAAS WILLIE JOHNSON



VONNIS : 11 MAART 2009

BOZALEK, R

[1] Die beskuldigde moet nou gevonnis word vir sy drie skuldigbevindings vir verkragting (aanklagte 1, 2 en 3) en sy oortreding van artikel 17(a) van die Wet op Gesinsgeweld 116 van 1998 (aanklag 5). Hy kwalifiseer vir 'n vonnis van lewenslange gevangenisstraf vir elkeen van die verkragtings ingevolge artikel 51 (1 )(b) gelees met Deel 1 van Bylae 2 van die Strafregwysigingswet 105 van 1997 as gevolg van die feit dat die slagoffer meer as een keer deur die beskuldigde verkrag is.

Nogtans staan dit die hof vry om 'n mindere vonnis op te le indien dit "tevrede is dat daar wesenlike en dwingende omstandighede bestaan wat die oplegging van 'n mindere vonnis ... regverdig".



[2] Wat die beskuldigde se persoonlike omstandighede betref, hy is 'n 51-jarige man wat vir 'n konstruksie maatskappy gewerk het ten tyde van die voorval. Hy was vir 25 jaar getroud, maar is nou geskei. Daar is 5 kinders uit die huwelik gebore, van wie die jongste 19 jaar oud is. Soos in die hof se uitspraak vermeld, was daar 'n verhouding tussen die beskuldigde en die klaagster vir 'n tydperk van 4 jaar wat in laat 2005 tot 'n einde gekom het. Die beskuldigde het tydens vonnisverrigtinge self getuig en het geensins berou getoon vir sy dade nie. Inteendeel ontken hy steeds dat hy die klaagster verkrag het. Die beskuldigde is kort na die verkragtings in hegtenis geneem en tot op datum is hy reeds 3 jaar en 1 maand in aanhouding.



[3] Wat die omstandighede van die misdade betref, is die klaagster ontneem van haar vryheid vir ten minste 6 ure in welke tydperk sy drie keer verkrag is. Die indruk word geskep dat die beskuldigde die klaagster wou verneder en straf omdat sy hom verlaat het. Dit blyk eerstens uit die feit dat sy in 'n toilet verkrag is en, tweedens, haar getuienis dat hy toe gese het: "Jy wil mos 'n teef wees, ek sal vir jou nou wys wat maak 'n mens met 'n teef.


[4] Die beskuldigde het die klaagster beetgekry en weggeneem, desnieteenstaande haar besware en teenkanting. Alhoewel hy die klaagster net een keer deur die gesig geklap het daardie aand, is dit duidelik dat indien sy enige verdere teenstand geopper het hy geweld sou uitoefen. Behalwe 'n knop aan die agterkant van haar kop het die klaagster geen fisiese beserings opgedoen nie. Volgens 'n verslag, opgestel deur 'n proefbeampte in die diens van die Department van Maatskaplike Dienste wie 'n onderhoud met onder andere die klaagster gevoer het, vind sy dit moeilik om die gebeure te verwerk en wil dit eerder vergeet. Volgens die verslag blyk die emosionele impak van die gebeure op die klaagster traumaties te wees deurdat sy gedurig in die nag wakker skrik as gevolg van nagmerries oor die voorval en omdat sy baie hartseer is oor wat met haar gebeur het. Sy het vir behandeling by die plaaslike kliniek gegaan, maar het dit gestaak en ontvang verder geen berading nie.



[5] Volgens die getuienis van die klaagster wat wel bevestig word deur die beskuldigde se vorige veroordelings, is hy 'n man met geweldadige neigings. Tussen 1971 en 2005 het hy 7 skuldigbevindings vir aanranding en 1 vir aanranding met die opset om ernstig te beseer. Daarby het hy 3 vorige veroordelings vir kwaadwillige beskadiging van eiendom. Die skuldig bevindings vir aanranding is veral relevant. Die aanranding met die opset om ernstig te beseer het gelei tot 'n vonnis van 18 maande gevangenisstraf, maar dit is in 1994 aan hom opgele. Daarna het die beskuldigde 'n skoon blad gehou tot Oktober 2005 toe hy 'n boete opgele is vir 'n skuldigbevinding aan kwaadwillige beskadiging van eiendom. Hy het geen vorige veroordelings vir verkragting nie.



[6] Nieteenstaande die verswarende faktore, bestaan daar na my mening wesenlike en dwingende omstandighede. Eerstens is daar die tydperk van 3 jaar en 1 maand wat die beskuldigde in aanhouding deurgebring het. Tweedens, hoewel die verkragtings ernstig van aard was, het hulle nie gepaard gegaan met ernstige geweld nie en het hulle nie gelei tot besondere ernstige fisiese of sielkundige letsels nie. Daar moet egter beklemtoon word dat, soos verwag word, die klaagster wet die verkragtings en die hele ondervinding as traumaties ondervind het. Daar moet ook nie uit die oog verloor word dat elke verkragting 'n traumatiese ondervinding vir 'n slagoffer is nie. Die derde wesenlike en dwingende faktor het betrekking op die beskuldigde se ouderdom. Indien hy tot lewenslank gevangenisstraf gevonnis word sal hy waarskynlik in aanhouding bly lank verby die stadium dat hy nog 'n gevaar vir die gemeenskap stel. Ingevolge artikel 73 van die Wet op Korrektiewe Dienste 111 van 1998, moet 'n gevonnisde of ten minste 15 jaar van sy lewenslange gevangenisstraf uitdien of die ouderdom van 65 jaar bereik, wat ook al later kom, voordat hy vir parool oorweeg sal word. In die beskuldigde se geval sal hy 66 jaar oud wees voordat hy hierdie stadium sou bereik.



[7] Na my mening dus is 'n mindere vonnis as die voorgeskrewe een van lewenslange gevangenisstraf geregverding ingevolge die toets uitgespreek in S v Malgas 2001 (2) SA 1222 (HHA). Die toets is soos volg beskryf te para 25:

"If the sentencing court on consideration of the circumstances of the particular case is satisfied that they render the prescribed sentence unjust in that it would be disproportionate to the crime, the criminal and the needs of society, so that an injustice would be done by imposing that sentence, it is entitled to impose a lesser sentence".


Sien ook S v Dodo en S v VHakazi [2008] ZASCA 57 (2 September 2008) waar die hof in para 18 homself soos volg uitgespreek het:


"Whether the prescribed sentence is indeed proportionate, and thus capable of being imposed, is a matter to be determined upon a consideration of the circumstances of the particular case.... For the essence of Malgas and of Dodo is that disproportionate sentences are not to be imposed

and that courts are not vehicles for injustice".


[8] In die vraag na wat 'n gepaste vonnis sal wees moet die hof onder andere drie belangrike elemente oorweeg, naamlik, die oortreder se persoonlike omstandighede, die misdaad self en die belange van die gemeenskap.



[9] Die beskuldigde se persoonlike omstandighede is reeds vroeer in hierdie uitspraak bespreek. Soos voorheen vermeld toon sy vorige veroordelings 'n lang geskiedenis van geweldsoortredings, maar niks so ernstig soos die waaraan hy nou skuldig bevind is nie. Wat in die beskuldigde se guns tel is die feit dat hy geen geweldsmisdade gepleeg het vanaf 1994 af nie.



[10] Wat die misdaad self betref is die beskuldigde skuldig bevind aan 'n aantal ernstige verkragtings. Hulle het oor 'n tydperk van ten minste 6 uur geduur, oor welke tydperk hy die klaagster van haar vryheid ontneem het. Soos ook voorheen vermeld, was daar definitief 'n element van straf en vernedering in die beskuldigde se herhaalde verkragtings van die klaagster. Al was daar voorheen 'n verhouding tussen die klaagster en die beskuldigde het dit tot 'n einde gekom voor die voorval. Dit blyk uit die omstandighede dat die beskuldigde hierdie feit nie wou aanvaar nie, nieteenstaande dat die klaagster al 'n interdik teen horn gekry het nie. Hy het volgehou om haar te nader en, toe sy nie daarin beiang stel nie, het hy haar hardhandig weggeneem van haar vriendinne en haar herhaaldelik verkrag. Hierdie houding aan die kant van die beskuldigde is totaal onaanvaarbaar en 'n duideiik boodskap moet uitgestuur word dat mans nie hulle wil kan afdwing op hul voormalige of huidige lewensmaats nie.



[11] Wat die belange van die gemeenskap betref is dit steeds so dat die gemeenskap beskerm moet word teen diegene wat seksuele geweld uitoefen op vroue en kinders. Dit bly 'n baie ernstige probleem in ons samelewing.



[12] Die Staat het aangevoer dat gevangenisstraf vir 'n tydperk van 20 jaar gepas sal wees. Daar kan egter nie uit die oog verloor word dat die beskuldigde meer as drie jaar in aanhouding was nie. Wat ook in ag geneem moet word is dat sedert die inwerkingtreding van die minimum vonnis stelsei, al wyk die howe af in gepaste sake van die minimum vonnis, vereis daardie wetgewing dat vonnisse vir misdade wat geskeduieer is, heelwat swaarder is as wat voorheen die geval was. Laastens, neem ek ook in ag dat enige vonnis getemper moet word met genade.



[13] Alles inaggenome, is ek van mening dat 'n vonnis van 14 jaar gevangenisstraf gepas sal wees op elkeen van die aanklagte van verkragting. Die verkragtings was nou gekoppel aan mekaar en het oor 'n redelik beperkte tydperk plaasgevind. In die omstandighede sal dit ook van pas wees dat hierdie vonnisse samelopend uitgedien sal word ingevolge artikel 280(2) van die Strafproseswet 51 van 1977.



[14] Wat aanklag 5 betref, is 'n oortreding van artikel 17(a) strafbaar met 'n boete of gevangisstraf vir 'n tydperk van nie langer as 5 jaar nie of beide. In die lig van die beskuldigde se geskiedenis van geweld, is ek van mening dat 'n vonnis van 1 jaar gevangenisstraf op hierdie klag van pas sal wees. Dit het ook deel gevorm van die hele aand se gebeure daarom sal ek ook las dat hierdie vonnis gelyktydig uitgedien sal word met die vonnisse opgele op die aanklagte van verkragting.



[15] 'n Effektiewe vonnis van 14 jaar gevangenisstraf word dus aan die beskuldigde opgele soos volg:

1. 'n Vonnis van 14 jaar gevangenisstraf ingevolge artikel 276(1 )(b) van die Strafproseswet 51 van 1977, op onderskeidelik aanklagte 1, 2 en 3.


  1. 'n Vonnis van 1 jaar gevangenisstraf ingevolge artikel 276(1 )(b) van die Strafproseswet 51 van 1977, op aanklag 5.

  2. Ingevolge artikel 280(2) van die Strafproseswet word daar gelas dat die vonnisse op aanklagte 1, 2, 3 en 5 samelopend uitgedien sal word.

L J BOZALEK, J