South Africa: Western Cape High Court, Cape Town

You are here:
SAFLII >>
Databases >>
South Africa: Western Cape High Court, Cape Town >>
2009 >>
[2009] ZAWCHC 99
| Noteup
| LawCite
Regskommissaris van die Christelike Evangelie Sendingkerk van Suid-Afrika v Daniels (5361/2008) [2009] ZAWCHC 99 (19 June 2009)
Download original files |
[Rapporteerbaar]
IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA
(WES KAAP HOER HOF, KAAPSTAD)
Saaknommer: 5361/2008
in die saak tussen:
DIE REGSKOMMISSARIS VAN DIE CHRISTELIKE
EVANGELIE SENDINGKERK VAN SUID-AFRIKA Eerste Applikant
UITVOERENDE RAAD VAN DIE CHRISTELIKE
EVANGELIE SENDINGKERK VAN SUID-AFRIKA Tweede Applikant
en
WAARNEMENDE MODERATOR: CASPER EDWARD DANIELS Respondent
UITSPRAAK: VRYDAG 19 JUNIE 2009
Schippers Wn.R.:
[1] Die applikante is die Regskommissaris en die Uitvoerende Raad van die Christelike Evangelie Sendingkerk van Suid-Afrika (CESSA), onderskeidelik. Op 28 Maart 2008 het hulle 'n dringende aansoek geloods vir 'n interdik wat die respondent verbied om as waarnemende Moderator van die CESSA op te tree; en gelas word om alle eiendom, te wete sleutels, dokumente, boeke en seremoniele drag aan die Visie-Moderator te oorhandig.
[2] Die respondent opponeer die aansoek en het 'n beantwoordende eedverklaring geliasseer. Geen repliserende eedverklaring is geliasseer nie. Die aansoek is deur die respondent ter rolle geplaas vir 18 Mei 2009. Die applikant was bewus van die ter rolle plasing van die aansoek soos blyk uit 'n liasserings-kennisgewing gedateer 12 Mei 2009. Die applikant het egter nie aan die Hofreels voldoen nie. In hierdie verband is geen indeks en paginering gedoen nie. Die applikante het ook nie betoogshoofde geliasseer nie.
[3] Op 18 Mei 2009 was die applikant nie regs verteenwoordig nie en het die hoof deponent, Mnr. L.R. Ruiters ("Ruiters"), namens die applikant verskyn. Mnr. Moller het namens die respondent verskyn. Hy het 'n faks gedateer 13 Mei 2009 wat aan sy opdraggewende prokureurs versend is, ingehandig. Volgens hierdie faks aanvaar die applikante se prokureur, Mnr. C. Van Zijl Laskey, verantwoordelikheid vir die versuim om 'n repliserende eedsverklaring op te stel en te beteken. Hy meld verder dat hy kan nie van die applikante as leke verwag om die gevolge te verstaan as hulle nie repliseer nie. Laastens versoek hy 'n uitstel, die verspilde koste waarvan hy tender. Gevolglik het Ruiters 'n uitstel versoek. Die partye was dit eens dat hierdie aansoek so spoedig moontlik aangehoor en beslis moet word. Die Hof het derhalwe die saak uitgestel na 29 Mei 2009 ten einde die applikante 'n geleentheid te bied om hul repliserende eedsverklaring, indien enige, tesame met hul hoofde van betoog te liasseer. Hulle het onderneem om dit nie later as Dinsdag 26 Mei 2009 te doen nie.
[4] Op 26 Mei 2009 het die applikante se nuwe regsverteenwoordiger, Mnr. B. Lukas, hoofde van betoog geliasseer. Tydens die aanhoor van die aansoek het hy die Hof meegedeel dat die applikante besluit het om nie te repliseer nie. Die Hof is sy dank verskuldig aan Mnr. Lukas wat op kort kennisgewing namens die applikante opgetree het.
[5] Die applikante se saak kortliks is as volg. Tydens 'n nood Sinode vergadering op 25 Augustus 2007 te Kraaifontein kerksaal is daar 'n mosie van wantroue teen die respondent eenparig aanvaar. Die volgende besluite is geneem. Eerstens, was die respondent van sy pligte as waarnemende Moderator tydelik onthef en geskors, hangende die uitslag van 'n dissiplinere verhoor teen hom. Tweedens, sou die Regskommissaris die saak ondersoek en aan die Uitvoerende Raad aanbevelings maak, wat dan 'n finale besluit sou maak oor die respondent. Derdens, is Ruiters as Regskommissaris verkies. 'n Dissiplinere verhoor is uiteindelik daarna in die afwesigheid van die respondent voortgesit en hy is aan wangedrag skuldig bevind. Derhalwe versoek die applikante die regshulp soos aangevra.
[6] Die respondent opponeer die aansoek op twee gronde. Eerstens, beweer hy dat die vergaderings waartydens Ruiters as Regskommissaris verkies sou gewees het, nie behoorlik saamgestel is nie. Verder beweer die respondent dat die Uitvoerende Raad van CESSA nie verkies en saamgestel is soos die eerste applikant beweer nie. Gevolglik beskik die applikante nie oor die vereiste locus standi nie en kon daar geen bindende en regsgeldige besluite geneem word om die huidige aansoek van stapel te stuur. Tweedens bestaan daar 'n feitedispuut rondom etlike feite sentraal tot die beregtiging van die aansoek.
Die relevante beginsels
[7] Alvorens daar met die spesifieke bestredingsgronde gehandel word, is dit nodig om weereens die relevante beginsels van toepassing op 'n universitas of vrywillige vereniging kortliks uiteen te sit.
(1) Die hoof eienskappe van 'n universitas is die vermoe om regte onafhanklik van sy lede te verkry en onbepaalde opeenvolging.1
(2) Die vraag of 'n vereniging die eienskappe van 'n universitas besit is 'n feitlike vraag wat bepaal word deur die aard van die vereniging, sy grondwet, oogmerke en aktiwiteite.2 Die bestaan al dan nie van hierdie eienskappe kan afgelei word van die vereniging se grondwet.3
(3) Die oogmerk van 'n universitas of vrywillige vereniging moet wettig wees en nie hoofsaaklik om wins vir homself of sy lede te verkry nie.
(4) Die behoorlike funksionering van 'n vereniging vereis die aanstelling van 'n groep of persone met uitvoerende magte. Die grondwet reel gewoonlik hierdie aangeleentheid deur die sake van 'n vereniging aan 'n uitvoerende komitee toe te vertrou. Die aanstelling of verkiesing van sodanige persone om op die uitvoerende komitee of bestuur van die vereniging te dien geskied in ooreenstemming met die bepalings van die grondwet. Die behoorlike verkose lede wat die reg het om die sake van die vereniging te behartig - 'n persoonlike reg - is bevoegd om verrigtinge in te stel teen persone wat onwettiglik daarop aanspraak maak dat hulle die vereniging verteenwoordig en dus onwettig sy sake behartig.
(5) Wanneer die gedrag van 'n vereniging se bestuursliggaam beoordeel word, is strenge nakoming van die reels van die grondwet nie vereis nie. 'n Hof moet nie 'n standaard van nakoming daarstel wat dit onnodiglik moeilik of onmoontlik maak om aan die grondwet uitvoering te gee nie. Selfs waar 'n uitvoerende komitee wye magte het, sal 'n Hof nie ligtelik inmeng nie solank dit te goeder trou opgetree het.
(6) 'n Saak van 'n fiktiewe persoon soos 'n vereniging verskil van die van 'n natuurlike persoon. 'n Fiktiewe persoon anders as 'n individu kan slegs funksioneer deur sy verteenwoordigers. Dit kan slegs besluite neem deur die uitvaardiging van resolusies op die wyse voorgeskryf deur sy grondwet. Daar bestaan dus minder rede om te aanvaar dat bloot op grond van die feit dat verrigtinge in die naam van 'n vereniging gebring is, dat daardie verrigtinge behoorlik gemagtig is.
[8] Die volle grondwet van CESSA is voor die Hof geplaas. Volgens sy grondwet, wette en bepalings is CESSA 'n kerkgenootskap wat eiendom onafhanklik van sy lede besit en oor onbepaalde opeenvolging beskik.
Locus standi en magtiging
[9] 'n Beslissing van die respondent se eerste bestredingsgrond verg 'n ontleding van die bepalings van CESSA se grondwet wat ongelukkig nie 'n model van duidelikheid is nie.
[10] Die administrasie van CESSA word onder andere as volg in klousule 9 van die grondwet uiteengesit.
"9. ADMINISTRASIE
A. GENOOTSKAP/KERK
1. Die Sinode is die Hoogste gesag en bestaan uit alle ampsdraers van die genootskap, waarvan die Moderator die Hoof/Voorsitter sal wees.
2. Die Uitvoerende Raad(U.R.) is belas met die uitvoering van Genootskap sake.
B. UITVOERENDE RAAD(U.R.)
1. Die UITVOERENDE RAAD(U.R.) sal bestaan uit alle Leraars of verantwoordelike persoon (sic), alle raadslede van CESSA.
2. Die verkiesing tot die poste van Moderator en Vise-Moderator sal geskied uit alle Leraars van die genootskap.
3. Verkiesing tot die poste van Regskommissaris, Assessor-Skriba, Saakgelastigde-Tesourier, sal geskied uit alle goedstaande amptenare van die genootskap."
[11] Stemming en vergaderings word as volg in klousule 10 neergele.
"10. STEMMING: VERGADERINGS
A. GENOOTSKAP
. . . . .
2. Spesiale Sinode-sittings mag deur die U.R gereel word om belangrike besluite af te handel, asook om kommissie besluite deur te voer."
[12] Klousule 18 reel die pligte van die Regskommissaris en hoe sy diens beeindig word.
"18. DIE REGSKOMMISSARIS
Die pligte van die Regskommissaris behels:
1. Die Regskommissaris sal aan hoof staan van die regskommissie, en sal n behoorlik erkende Leraar van die genootskap wees, goedgekeur deur die Sinode.
2. In sy amptelike hoedanigheid namens die Genootskap gesiteer sal word as Eiser of Verweerder of as Applikant of Respondent in regsake waarby die Genootskap betrokke mag wees.
3. Met die kiesing van n Regskommissaris of beeindiging van sy dienste, moet die genootskap die vereistes van die grondwet streng nakom.
4. Die Regskommissaris sal gekies word deur nie minder as twee-derdes van die afgevaardigdes teenwoordig by n sinode-sitting. Stemming sal geskied met geslote stembriewe.
5. So sal die dienste van die Regskommissaris beeindig kan word, deur dieselfde getal stemme soos met sy kiesing. Die voorsitter van so n vergadering is die Moderator."
[13] Wet 4 van die Wet en Bepalinge aangeheg tot die grondwet, lees as volg:
" 4. Indien n Sinode verkose amptenaar hom so gedra dat hy die goeie orde en vrede binne kerkverband versteur, kan die Genootskap n Spesiale Sinodesitting bele, waarby sy amp heroorweging sal geniet. Hier sal dan gehandel word ooreenkomstig die Grondwetlike bepalings wat handel oor regspleging. n Nuwe ampsdraer kan dan in sy plek verkies word. Die Uitvoerende Raad kan ook n tussentydse maatreel tref wat sal duur tot die volgende Sinode.
. . . . . . .
6. Die gemeentes moet drie(3) maande vooraf skriftelik kennis gegee word van n aankomende Sinode. Die kennisgewing sal per pos geskied.
7. n Sinode moet voorts minstens twee(2) maande vooraf in die Afrikaanse taal eenmalig in n Afrikaanse dagblad, wat in die gebied van alle gemeentes sirkuleer word, per kennisgewing aangekondig word.
. . . . . .. . . .
By n Sinodevergadering sal die kworum bestaan uit die voorgeskrewe artikel in die grondwet onder volmagting; ARTIKEL 14.1.
[14] Ruiters beweer dat hy die eerste applikant is en dat hy hierdie aansoek in sy hoedanigheid as Regskommissaris bring. Volgens die applikante is hy behoorlik op 'n vergadering op 25 Augustus 2007 as Regskommissaris verkies. Die respondent betwis hierdie bewerings. Daar is geen repliserende eedverklarings waarin hierdie bewerings weerle word. Die vraag is dus of die applikant ten opsigte van hierdie aspek 'n saak in sy funderende eedverklaring uitgemaak het.
[15] Hierdie vraag moet na my mening ontkennend beantwoord word. Volgens die grondwet kon die nood Sinode vergadering van 25 Augustus 2007 slegs deur die Uitvoerende Raad gereel word. Daar is geen aanduiding hiervan in die funderende eedsverklaring nie. Voorts is daar ook geen aanduiding dat die kennisgewingstydperke soos bedoel in die grondwet nagekom is nie. Inteendeel dit blyk uit die notule van die vergadering van 25 Augustus 2007 dat die geldigheid van die kennisgewings tydperk -ongeveer 'n week - bevraagteken was, vandaar die grondwet twee maande kennisgewing vereis. Dit volg dus dat die besluite wat oenskynlik tydens die vergadering van 25 Augustus 2007 geneem is, nietig is.
[16] Selfs al sou aanvaar word dat die vergadering behoorlik bele is, is daar geen getuienis dat die pos van Regskommissaris vakant was wat die aanstelling van die eerste applikant in ooreenstemming met die grondwet sou magtig nie. Die relevante gedeelte van die notule lees as volg:
"Regskommissaris is geskors. (Evang. W. Sauls verduidelik dat Eerw. J. Louw was weg, het teruggekom, was gekies as Regskomm., en het weer weggebly). Evang. Sauls stel voor Eerw. L. Ruiters as Regskommissaris. Mod. P. Bell noem dat daar n voorstel is vir nominasielys en vra vir nog voorstelle. Daar was geen, en nominasielys het gesluit. Oud E. van Zyl sekondeer die voorstel. Voorstel was eenparig aanvaar deur Sinode".
[17] Dit blyk uit klousule 18(2) van die Grondwet dat slegs die eerste applikant die status het om in regsake waarby CESSA betrokke is, op te tree. Niks in die grondwet magtig die tweede applikant om sodanig op te tree nie. Gevolglik beskik die tweede applikant ook nie ook oor locus standi nie.
[18] In ieder geval, is daar absoluut geen getuienis dat nog die eerste applikant, nog die tweede applikant enigsins gemagtig is om hierdie aansoek van stapel te stuur nie.
Feitedispuut
[19] Die bestaan van feitedispute met betrekking tot kern aspekte van hierdie saak blyk duidelik uit die stukke. In hierdie opsig is drie voorbeelde voldoende. Die eerste dispuut gaan oor die posisie van die Moderator. Die applikante beweer dat die respondent behoorlik van sy pligte en verantwoordelikhede as Waarnemende Moderator van CESSA onthef is. Daarteenoor beweer die respondent dat hy die huidige wettige verkose Moderator van CESSA is. Die tweede feitedispuut gaan oor die posisie van die Regskommissaris. Die applikante se saak is dat die eerste applikant die behoorlike verkose Regskommissaris van die genootskap is. Die respondent ontken dit en voer aan dat vanwee 'n tweespalt binne CESSA wat oor etlike jare strek, is hierdie aansoek weereens 'n poging deur 'n wegbreekfaksie om beheer oor die bates van gemeentes te verkry. Die derde feitedispuut gaan oor die posisie van die tweede applikant. Die eerste applikant beweer dat die tweede applikant behoorlik aangestel is. Die respondent ontken egter dat die tweede applikant die Uitvoerende Raad van CESSA kan wees. Die respondent beweer dat die regmatige Uitvoerende Raad die Raad is wat behoorlik verkies is by die Sinode vergadering op 7 en 8 September 2007.
[[20] Wanneer daar by die aanhoor van mosie verrigtinge 'n feitedispuut ontstaan wat nie op die eedverklarings opgelos kan word sonder die aanhoor van mondelingse getuienis nie, mag die Hof in sy diskresie ingevolge die Reels van die Hof, (a) die aansoek van die hand wys; (b) gelas dat mondelingse getuienis aangehoor word op spesifieke aspekte; of (c) die saak na verhoor verwys. Indien 'n applikant by die loods van 'n aansoek rede het om te glo dat feite wesenlik tot die sukses van sy saak waarskynlik in geskil geplaas sal word, kies hy daardie prosedure op eie risiko. Die hof, in die uitoefening van sy diskresie, kan die aansoek van die hand wys sonder om die saak na verhoor te verwys of om te beveel dat mondelingse getuienis voor hom geplaas moet word ten opsigte van feitegeskille.[
[21] Op 'n vraag van die hof aan die eerste applikant op 18 Mei 2009 toe hy in persoon verskyn het, was daar deur die eerste applikant toegegee dat weens die skeuring in die kerk, hy wel feitedispute voorsien het. Dit was ook deur die applikante se advokaat in die daaropvolgende verskyning toegegee.
[22] Onder die omstandighede is ek van mening dat die aansoek van die hand gewys moet word en word daar so gelas.
Koste
[23] Die toekenning van koste is 'n vraagstuk wat binne die diskresie van die hof val. Die algemene reel is dat die suksesvolle party geregtig is op koste en dat 'n hof van hierdie reel kan afwyk slegs indien daar grondige redes daarvoor bestaan. Selfs hierdie reel is onderworpe aan die oorheersende beginsel dat koste 'n aspek vir diskresie van die hof is. Hierdie diskresie moet egter regterlik uitgeoefen word na 'n oorweging van die feite van elke saak. In wese is dit 'n kwessie van billikheid teenoor alle partye.
[24] In die onderhawige saak is ek van mening dat daar grondige redes bestaan vir die afwyking van die algemene reel dat die party wat geslaag het, geregtig is op koste en wel om die volgende redes. Hierdie aansoek is gebore vanwee 'n skeuring in die kerk wat oor etlike jare strek. Sentraal hiertoe is twee faksies wat veg om beheer oor die bestuur en administrasie sowel as oor die bates van die kerk.
[25] Die applikante en respondent bevind hulle in opponerende kampe wat mekaar duidelik probeer uitoorle. So byvoorbeeld was daar twee advertensies wat onderskeidelik deur die applikante en die respondent in verskillende koerante geplaas was aangaande die vergadering van 27 Augustus 2007. Die applikante het 'n kennisgewing in "Die Burger" van 'n nood Sinode vergadering geplaas en die respondent 'n advertensie in "Die Son" van die kansellasie van die applikante se vergadering. Daar is verdere voorbeelde waar die partye hierdie tweespalt beaam.
[26] Nerens in die stukke is daar enige aanduiding dat die partye enige bona fide poging aangewend het om mekaar te vind en hulle geskille uit die weg te probeer ruim nie. Indien 'n kostebevel ten gunste van enige party gegee word, is ek van mening dat dit net die tweespalt sal vererger en die moontlikheid van 'n versoening sal belemmer.
[27] Nieteenstaande die bevinding ten aansien van gebrek aan locus standi, is dit duidelik uit die sitering van die applikante dat hierdie aansoek beoog is gegee word, is ek van mening dat dit net die tweespalt sal vererger en die moontlikheid van 'n versoening sal belemmer.
[27] Nieteenstaande die bevinding ten aansien van gebrek aan locus standi, is dit duidelik uit die sitering van die applikante dat hierdie aansoek beoog is in hulle verteenwoordigende hoedanighede. Noodwendig moet aanvaar word dat die bevondsing hiervan uit die koffers van CESSA kom. 'n Kostebevel teen die applikante sal dus neerkom op 'n bestraffing van die kerk. Dit kan nie in belang van die welsyn van sy lede wees nie.
[28] Onder die omstandighede word die volgende bevel gemaak:
Die aansoek word van die hand gewys.
(2) Elke party sal sy eie koste betaal.
SCHIPPERS Wn.R.
1 Webb & Co. Ltd v Northern Rifles, Hobson & Sons v Northern Rifles 1908 TS 462 op 464-465; Morrison v Standard Building Society 1932 AD 229 op 238; African National Congress and Another v Lombo [1997] ZASCA 1; 1997 (3) SA 187 (A) op 195J-196A.
2 Morrison n 1 op 239.
3 Ex parte Johannesburg Congregation of the Apostolic Church 1968 (3) SA 377 (W) op 377G.