South Africa: Western Cape High Court, Cape Town Support SAFLII

You are here:  SAFLII >> Databases >> South Africa: Western Cape High Court, Cape Town >> 2010 >> [2010] ZAWCHC 138

| Noteup | LawCite

Mostert v Boland Wingerde Internasionaal Bpk (5541/04) [2010] ZAWCHC 138 (14 July 2010)

Download original files

PDF format

RTF format



IN DIE HOE HOF VAN SUID-AFRIKA

(WES KAAP HOE HOF, KAAPSTAD)



SAAKNR.: 5541/04

in die saak tussen:

WILLEM PETRUS MOSTERT Eiser

en

BOLAND WINGERDE INTERNASIONAAL BEPERK Verweerder

en

LAND- EN LANDBOU-ONTWIKKELINGSBANK

VAN SUID-AFRIKA h/a LANDBANK Derde Party





UITSPRAAK: 14 JULIE 2010




Schippers Wn.R.:



[1] Die eiser, 'n boer van Weltevrede Plaas, Paarl ("die plaas"), eis betaling van 'n totale bedrag van R164 742.11 van die verweerder vir lewering van druiwe gedurende die 2001 oes-seisoen ten bedrae van R61 642.00 en R103 100.11, onderskeidelik. Dit is gemene saak dat die verweerder die bedrag van R164 742.11 aan die derde party, die Land- en Landbou-Ontwikkelingsbank ("die Landbank"), oorbetaal net. Volgens die eiser het hierdie betaling geskied op grond van 'n aanspraak deur die Landbank dat wyle Mev. S.J.J van Heerden ("van Heerden"), die eiser se oorlede moeder, sekere volmagte aan die Landbank verleen het waarvolgens die bank geregtig was op die opbrengs van die wyndruif-oeste vanaf die plaas.



[2] Die vernaamste geskilpunt tussen die eiser en die verweerder is: wie was die verkoper van die druiwe en dus geregtig op betaling? Nou voer die verweerder aan dat indien die Hof bevind dat die eiser en nie die Landbank geregtig was op betaling, dan is die Landbank teenoor die verweerder aanspreeklik vir betaling van 'n gelykstaande bedrag deurdat die betaling aan die Landbank gemaak is in die bona fide en redelike maar foutiewe geloof dat dit aan die Landbank verskuldig was.



[3] Die agtergrond tot die geskil tussen die eiser en die verweerder kan kortliks as volg saamgevat word. Die plaas het eers aan die eiser se oupa behoort, toe aan sy pa en daarna aan sy ma. Sy oupa was 'n stigterslid van Boland Wynkelder, Paarl ("Boland Kelder") wat 'n korporasie was en wat later omskep is in 'n maatskappy, Boland Wingerde Internasionaal (Kooperatief) Beperk, die verweerder. Die eiser se pa was ook jare lank op die direksie en vir 12 jaar Voorsitter van Boland Kelder tot en met sy uittrede. Sy pa is in 1988 oorlede en die plaas is toe aan sy ma bemaak ingevolge 'n testament. Saam met die plaas het die eiser se ma ook die aandele in Boland Kelder en 'n parskwota van 500 ton verkry.



[4] Addisioneel tot die parskwota van 500 ton het die eiser self 'n parskwota van 60 ton. Sy pa het dit in 1982 aan horn oorgedra as gevolg waarvan hy 'n sogenaamde deelboer op die plaas geword het. Ingevolge die eiser se parskwota is hy ook 'n lid van die verweerder en lewer hy ook druiwe aan die Kooperatief.



[5] In 1984 het die eiser die bestuurder van die plaas geword. Sy ma het ook op die plaas geboer. In 1995 en as gevolg van finansiele probleme en om die plaas te behou was 'n gedeelte van die plaas, bekend as gedeelte 1 van Weltevrede ("gedeelte 1") en waarop die eiser ook boer, afverkoop. Sy ma het stelselmatig minder geboer en omtrent 1997 van die Plaas weggetrek en op Hermanus gaan woon. Die eiser het toe die boerdery oorgeneem vir sy eie rekening. In 'n brief gedateer 14 Januarie 1997 is die verweerder in kennis gestel dat van Heerden op Hermanus woon en dat die plaasrekening in die toekoms in die eiser se naam bedryf sou word. Ek keer aanstons na hierdie skrywe terug.



[6] In September 1998 het die eiser se familietrust, naamlik Weltevrede Trust ("die Trust") die plaas van sy ma vir R1.15 miljoen gekoop. Hierdie ooreenkoms was onderhewig onder andere aan 'n spesiale voorwaarde dat die oordrag van die verkoper (van Heerden) se aandele by en in Boland Wynkelder, KWV en WPK aan die Trust oorgaan met alle voordele daarvan.



[7] Soos reeds gemeld was die eiser se moeder 'n lid en aandeelhouer van die verweerder. Sy was verplig om die hele parskwota van 500 ton per oesjaar aan die verweerder te lewer wat geregtig was om die druiwe in geheel of gedeeltelik verwerkte vorm te verkoop en die netto opbrengs van die totale bedrag wat ontvang is uit die verkope van lede se druiwe onder hulle te verdeel en uit te betaal, na aftrekking van sekere uitgawes. Volgens die koopkontrak tussen die eiser se ma en die Trust was laasgenoemde geregtig om die die 500 ton druiwe te lewer en betaling daarvoor te ontvang. Dit kon egter nie onmiddellik of kort na sluiting van die koopkontrak gebeur nie omdat oordrag van die aandele langer geneem het as verwag. Gevolglik het die trustees van die Trust op 12 November 1998 'n skriftelike besluit geneem in terme waarvan die transportbesorgers gemagtig was om voort te gaan met die registrasie van oordrag sonder lewering van die aandele sertifikate. Verder ingevolge hierdie besluit kon fisiese oordrag van die aandele op 'n later stadium voltooi word maar die voile voordeie verbonde aan die aandele sou egter by registrasie op die Trust oorgaan.



[8] Op 18 Januarie 1999 het die eiser 'n skriftelike ooreenkoms met die Trust aangegaan waarvolgens hy die plaas vir 'n termyn van 10 jaar sou huur vanaf die datum waarop dit in die naam van die Trust geregistreer sou word. Registrasie van oordrag het geskied op 5 Februarie 1999 nadat sy ma se uitstaande rekening van R933 000 by die Landbank vereffen is. Die eiser het die afgelope aantal jare op die plaas geboer volgens die huurooreenkoms.


Is die eiser geregtig op betaling?



[9] Ek kom nou by die eintlike geskilpunt, naamlik dat die eiser vir sy eie rekening en in sy eie belang die druiwe vir die 2001 oes-seisoen aan die verweerder gelewer het en dus geregtig is op betaling in die bedrae van R61 642.00 en R103 100.11. Alternatiewelik beweer die eiser dat daar 'n stilswyende ooreenkoms in Desember 1998 tot stand gekom het ingevolge waarvan die verweerder horn sou vergoed vir alle druiwe wat hy daarna sou lewer asof hy oor die totale parskwota van 560 ton beskik.



[10] In hierdie verband steun die eiser op die volgende getuienis wat basies onbetwis is. In 'n skrywe gedateer 14 Januarie 1997, op 'n briefhoof van die plaas en geteken deur die eiser en sy ma, was die verweerder kennis gegee dat die bankrekening vir direkte uitbetalings vanaf Boland Kelder verander het. Die verweerder is verwittig eerstens, dat betaling vir die eiser en sy ma in die verlede gedoen is in die naam van sy ma, S.J.J, van Heerden, in 'n rekening te Trust Bank, Paarl; tweedens, dat in die vervolg betaling aan beide lede in die naam van W.P Mostert (eiser) gedoen moet word, ook te Trust Bank, Paarl, en is 'n rekening nommer verskaf wat aan die eiser behoort; en derdens, dat vervolgens die plaasrekening in die naam van die eiser persoonlik bedryf sou word. Ontvangs van die skrywe is deur Boland Kelder erken en dat hulle dit in plek sou stel wat hulle ook inderdaad gedoen het.



[11] In 1998 het 'n dispuut ontstaan tussen die eiser en die verweerder. Daar is beweer dat die eiser nie al sy druiwe aan die verweerder lewer nie. Daar was 'n briewe wisseling en vergaderings oor die dispuut. Op 1 Desember 1998 is 'n formele vergadering bele tussen die eiser, sy prokureur, en die verweerder met sy hoofbestuurder, prokureur en sekretaris. Die doel van die vergadering was om te bepaal of die eiser binne die statute en regulasies van Boland Kelder opgetree het. Die eiser is daarvan beskuldig dat hy nie al sy druiwe aan Boland Kelder gelewer het nie. Boland Kelder wou sekerheid kry oor of die druiwe wat op die plaas geproduseer was in die toekoms gelewer sou word. Die eiser het verduidelik dat ten opsigte van gedeelte 1 van die plaas wat hy in sy eie naam afgekoop het sonder 'n parsreg is hy 'n onverbonde produsent met geen regte of verpligtinge teenoor Boland Kelder nie. Ten opsigte van die 60 ton plus die 500 ton het die eiser gemeld dat dit aan Boland Kelder gelewer sou word. Hy het die plaas se hele geskiedenis aan die verweerder se verteenwoordigers verduidelik, insluitend die feit dat sy ma nie langer by die boerdery betrokke was nie en die feit dat die Trust haar aandele en parsreg gekoop het. Volgens die eiser kon daar geen twyfel by huile ontstaan het dat hy en nie sy moeder in die toekoms die druiwe sou lewer nie. Bowendien het niemand op die vergadering vir die eiser gese dat hy nie druiwe kon lewer nie, vanwee die feit dat die parsreg nog op sy ma se naam geregistreer was.



[12] In ooreenstemming met sy verduideliking en onderneming tydens die vergadering op 1 Desember 1998 om die druiwe te lewer het die eiser dit wel gedoen in die daaropvolgende seisoene. Hy getuig verder dat ten opsigte van die 2001 oeste wat aan die verweerder afgelewer was het niemand gese hulle wou nie sy druiwe he nie. Verder het niemand gese hy mag nie druiwe lewer nie omdat die parsregte op sy ma se naam was.



[13] In 'n brief gedateer 19 Maart 1999 na die oes-seisoen skryf die eiser 'n brief aan die direksie van Boland Kelder waarin hy bevestig dat die Trust die nuwe geregistreerde eienaar van die plaas is en dat registrasie op 5 Februarie plaasgevind het. Verder is Boland Kelder ingelig dat die aandele en regte wat deur sy ma gehou is, nou die eiendom van die Trust is en dat die dokumentasie wat nodig is vir oordrag van die Kelder aandele so spoedig moontlik na horn gestuur moet word. Boland Kelder het egter nie op hierdie brief gereageer nie.



[14] Later op 14 Desember 1999 skryf die eiser aan Boland Kelder en gee kennis dat die oordrag van die aandele en parsreg uit sy ma se naam soos maande gelede al versoek, nog nie plaasgevind het nie. Hy meld verder dat aangesien die oestyd op hande is en alhoewel dit nie reg is nie, sal hy om ter wille van Boiand Keider se stelsel, voortgaan om op die naam van sy moeder te pars. Geen reaksie is ook op hierdie skrywe ontvang nie. Die druiwe is gelewer en hy is betaal in sy bankrekening.



[15] Na 'n jaar en vir die volgende oes het die verweerder weer die eiser direk in sy bankrekening betaal. Intussen is die eiser se prokureur as kurator aangestel vir sy ma wat nie meer bevoeg was om na haar eie sake om te sien nie. Sy is op 12 Augustus 2000 oorlede en die eiser is aangestel as eksekuteur van haar boedel. Lede van die direksie van Boland Kelder was bewus van haar oorlye - hulle was by die begrafnis.



[16] Op 12 Desember 2000 skryf die wingerdboukundige van Boland Kelder 'n brief aan die eiser se oorlede ma, onbewus van haar oorlye. Hy versoek 'n vooruitskatting van druiwe lewering. Die eiser antwoord met 'n skrywe gedateer 28 Desember 2000. Hy meld dat sy ma oorlede is en verwys na sy brief van 14 Desember 1999 waarin hy Boland Kelder versoek het om die oordrag van die aandele te bespoedig. Hy se ook dat dit onmoontlik is om 'n vyfjaar lewering skatting te doen aangesien die parsreg 'n boedel aangeleentheid was wat eers met goedgekeurde oordrag na 'n nuwe identiteit moet geskied. Op hierdie skrywe ook is geen reaksie van die verweerder ontvang nie.



[17] Die eiser het ook in sy getuienis verwys na 'n kantoor nota van Mnr. J J van Wyk van die Landbank ("Van Wyk") wat slaan op gesprekke wat Van Wyk met die eiser gevoer het. Die nota is ongedateer maar die eiser reken die gesprek het gedurende 2001 plaasgevind. in die nota verwys Van Wyk na 'n besoek aan die eiser na aanieiding van die uitstaande skuld van sy ma. Hy meld dat die boedel reeds afgehandel is en die bank nagelaat het om 'n eis teen die boedel in te stel. Die boedel is intussen afgehandel. In die nota meld Van Wyk verder dat die eiser by verskeie geleenthede met Mnr. Andre Brandt van die Kaapstad tak in verbinding was na sy moeder se dood. Die eiser het versoek dat die bank die normale optrede volg en 'n eis teen die boedel instel. In die nota word voorts gemeld dat Van Wyk aan die eiser verduidelik het dat die uitstaande skuld nie verseker was nie; dat sekuriteit gevestig sal moet word en dat die bank nie die skuld kon afskryf nie; en dat die eiser 'n verantwoordelikheid teenoor die bank het aangesien hy die boerdery in die geheel behartig het toe die lening aangegaan is. Die eiser se teenvraag was hoekom die bank nie 'n eis teen die boedel ingestel het nie. Die eiser het horn ook bereid verklaar om tot 'n vergelyk te kom oor hoe die skuld gedelg kan word. Die eiser het nooit enigiets verder gehoor nie totdat hy verneem het sy geld vir die druiwe is aan die Landbank oorbetaal.


[18] Boland Kelder het nooit met die eiser gepraat voor hulle die uitbetaling gemaak het nie. Die eiser getuig dat hy uiteindelik op 15 Augustus 2001 'n brief aan die bestuurder van die Kelder gerig het waarin hy meld dat hy die aandele wou he.



[19] In Desember 2001 lewer die verweerder nie aan die eiser die vereiste produsente dokumente nie. Die eiser wou egter nog die aandele he en voortgaan met die verhouding met Boland Kelder. Hulle besluit toe egter nou hulle gaan nie druiwe by die eiser vat nie, want se hulle die parsreg is op sy ma se naam. In antwoord op 'n brief ontvang die eiser 'n skrywe van Mnr. Van Zyl van Boland Kelder waarin hy die eiser meedeel dat die verweerder besluit het om nie die oordrag van die aandele gehou in die korporasie en maatskappy goed te keur nie. Dit was toe basies die einde van die eiser en verweerder se verhouding.



[20] Later kom die Landbank en skryf aan Boland Kelder dat hul klient, van Heerden, se gelde aan die Landbank oorbetaal moet word. Boland Kelder het gevolglik die R61 642.00 ten opsigte van die 2001 oes-seisoen se druiwe deur eiser gelewer aan die Landbank oorbetaal. Die eiser skryf toe 'n brief aan die rekenmeester van Boland Kelder en verwys daarin na 'n telefoniese gesprek en 'n faks van 6 Februarie 2000. Hy bevestig dat sy moeder op 12 Augustus 2000 oorlede is; dat haar boedel afgesluit is; dat sy nie enige insette in die boerdery gelewer het nie; en dat hy die 2001 oes-seisoen ten voile as huurder of okkupeerder gefinansier het. Hy meld ook dat hy geen dokumente geteken het wat magtiging aan Boland Kelder verleen het om enige oesopbrengste aan die Landbank oor te betaal nie. Die eiser het getuig dat lewerings ten opsigte van die 2001 oes in die naam van Van Heerden gemaak is omdat die parsreg in Boland Kelder op daardie stadium nog steeds in haar naam was en die direksie self nog nie die parsreg aandele oorgedra het nie. Die eiser het dus gevra dat die bedrag van R61 642.00 synde daardie uitbetaling plus rente vanaf 31 Januarie 2003 aan horn oorbetaal word. Daar was geen reaksie hierop nie nog kontak vanaf Boland Kelder of Landbank nie.



[21] Die eiser se getuienis soos hierbo saamgevat is grootliks onbetwis. Hy het 'n positiewe indruk op my gemaak. Hy was konsekwent en sy relaas van die gebeure is logies en aanvaarbaar. In die lig van di.


[22] e getuienis bevind ek dat die eiser geregtig is op betaling van die verweerder vir aflewerings van druiwe ten bedrae van R61 642.00 en R103 100.11, en wel om die volgende redes:



[21.1] Die onbetwiste getuienis is dat die eiser wel die druiwe waaroor die betalingsgeskil gaan vir die 2001 oes-seisoen gelewer het.

[21.2] Dit is feitelik korrek dat die eiser se moeder die betrokke plaas tesame met haar aandele in Boland Kelder met alle voordele daaraan, aan die Trust verkoop het.

[21.3] Die eiser het wel vir sy eie rekening op die plaas geboer vanaf die 1999 oes-seisoen op sterkte van 'n huurkontrak aangegaan met die Trust wat insluit leweringsregte.



[21.4] Die druiwe is in die naam van sy moeder gelewer omdat Boland Kelder nie die parsregte aan horn oorgedra het nie. Bowendien het die verweerder self die eiser versoek om die druiwe wat op die plaas geproduseer word, aan horn te lewer, welke versoek alreeds by die vergadering op 1 Desember 1998 gerig was.



[21.5] Op die tersaaklike tye was die eiser se moeder geensins by die boerdery of die lewering van druiwe betrokke nie.



[21.6] Die verweerder was ten alle relevante tye bewus van die ware toedrag van sake.



[22] Derhalwe is die eiser as verkoper en leweraar van die druiwe geregtig op betaling van die bedrae soos geeis.




Is die derde party teenoor die verweerder aanspreeklik?



[23] Die verweerder voer aan dat indien dit bevind word dat die eiser geregtig op betaling van die bedrag van R164 742.11 is, dan is die Landbank teenoor die verweerder vir betaling van daardie bedrag aanspreeklik, op gronde van die condictio indebiti.


[24] Die condictio indebiti, 'n verrykingsaksie, kan aangewend word om 'n onverskuldigde prestasie terug te vorder. Daar is egter basiese vereistes waaraan voldoen moet word voordat die condictio indebiti toepassing kan vind. Dit is as volg:



[24.1] Dit is 'n algemene vereiste dat die eiendomsreg van die eiendom oorgedra moes gewees het deur 'n handeling van die partye. Daar moet 'n datio van geld of ander eiendom wees.



[24.2] Die condictio indebiti kan slegs teen die recipiens van die indebitum aanwending vind.



[24.3] Die oordrag op betaling moet indebiti wees in die wye sin. Daar moes geen regs of natuurlike verpligting wees om dit te maak nie.



[24.4] Oordrag op betaling moes gemaak gewees het in die verkeerde geloof dat die skuld verskuldig was.



[24.5] Alvorens 'n feite- of regsdwaling aanleiding kan gee tot die condictio indebiti, moet die verkeerde geloof verskoonbaar wees.1



[25] By 'n toepassing van hierdie vereistes is daar twee vrae wat beantwoording verg. Die eerste is of die verweerder die betalings gemaak het in die verkeerde geloof dat dit aan die Landbank verskuldig was. Indien die betalings wel in die verkeerde geioof dat dit verskuldig was gemaak is, is die tweede vraag of die verweerder se geioof verskoonbaar is.



[26] Die verweerder voer aan dat die bedrae aan die Landbank oorbetaal is op grond van drie volmagte verleen deur van Heerden aan die Landbank. Volgens hierdie volmagte was die Landbank geregtig om die voile opbrengste van wyndruiwe-oeste of ander produkte wat deur van Heerden aan Boland Kelder gelewer word, van die verweerder en/of ander koper te vorder en te ontvang tot by bereiking van die uitstaande bedrag wat op sekere lenings verskuldig was.



[27] Ten opsigte van die eerste vraag, naamlik of die gewraakte betalings aan die Landbank in die verkeerde geioof gemaak is, bevind ek dat hierdie vraag negatief beantwoord moet word. Die redes hiervoor kortliks is as volg. Ten tyde van die lewering van die druiwe het eiendomsreg van die plaas nie meer in van Heerden gesetel nie. Oordrag van registrasie ten gunste van die nuwe eienaar, die Trust, het op 5 Februarie 1999 geskied. Dit is twee jaar voordat die druiwe geproduseer gedurende die 2001 oes-seisoen, gelewer is. Die eiser het die plaas gehuur van die Trust vanaf 18 Januarie 1999 van welke datum hy vir sy eie rekening geboer het. Die verweerder was van hierdie feite bewus, welke bewustheid gestaaf is deur die brief van die eiser aan die direksie van Boland Kelder gedateer 19 Maart 1999. Voorafgaande registrasie van oordrag was die verweerder ook in 'n vergadering met die eiser op 1 Desember 1998 waar die toedrag van opsigte van die plaas aan horn geopenbaar was.

[28] Die eiser se ma is op 12 Augustus 2000 oorlede. Die verweerder was hiervan bewus aangesien lede van sy direksie by die begrafnis was. Verder het die eiser in 'n brief gedateer 28 Desember 2000 aan die wingerdboukundige van Boland Kelder gemeld dat sy ma oorlede was. Dus moes die verweerder bewus gewees het dat die lewering van druiwe deur die eiser in 2001 deur horn geproduseer en gelewer was.



[29] Die feit dat die druiwe op die naam van die eiser se ma gelewer is was bloot vir administrasie doeleindes vanwee verweerde se interne administrasie stelsel wat nog steeds die parskwota op haar naam gehad het. In sy brief gedateer 14 Desember 1999 meld die eiser onomwonde en ondubbelsinnig:



"Die oordrag van aandele en parsreg uit SJJ van Heerden se naam het nog nie plaasgevind nie. Ek het maande gelede al versoek dat die proses van oordrag moet plaasvind.


Kersfees is om die draai en kort daarna is oestyd ophande. Ons sal voortgaan om ter wille van u stelsel op naam van SJJ van Heerden te pars, maar dit is nie reg nie en die aangeleentheid moet so gou moontlik afgehandel word."


[30] Die verweerder was dus bewus dat lewering in die naam van die eiser om administratiewe redes gedoen is in 2000 en daarna, en dat betaling aan die eiser toekom waarvoor hy sy bankrekening verskaf het. Dit was voor die gewraakte betalings aan die Landbank. Die eiser het dus die druiwe vir die 2001 oes-seisoen gelewer en nie sy moeder nie.

[31] Om hierdie redes is die verweerder se betaling van die gewraakte bedrae nie indebiti gemaak nie, aangesien die verweerder slegs dit kon gedoen het indien die druiwe deur van Heerden gelewer was . Dit was nie.



[32] Die antwoord op die tweede vraag is 'n verdere struikelblok in die verweerder se pad. Dit is dat die verweerder se foutiewe geloof dat die bedrae aan die derde party verskuldig was, nie verskoonbaar is nie.2 Die getuie wat namens die verweerder getuig het, Me. Brand het getuig dat sy kennis gedra het van die gesprek wat in die Desember 1998 vergadering plaasgevind het, alhoewel sy nie teenwoordig was nie. Sy moes dus bewus gewees het van die toedrag van sake, meer spesifiek dat die druiwe deur die eiser in die toekoms geproduseer en gelewer sou word. Sy het ook getuig dat Altus vir haar gese het om die volmagte van die Landbank aan te vra en betalings aan die Landbank te maak. Mnr. Altus Le Roux is die verweerder se hoofbestuurder. Hy was self teenwoordig by die vergadering met die eiser op 1 Desember 1998 en was dus bewus van die stand van sake en in besonder dat die eiser op die plaas boer vir eie rekening en selfs die druiwe sou lewer.




[33] In die lig van voorafgaande kan die verweerder dus nie daaragter skuil dat 'n werknemer, Me. Brand se verkeerde geloof verskoon moet word terwyl die opdrag om die gewraakte betalings te maak vanaf die verweerder se hoofbestuurder gekom het nie.






[34] Ek is dus tevrede dat die verweerder nie die vereistes van die condictio indebiti nagekom het nie en sy eis teenoor die Landbank op hierdie basis moet dus van die hand gewys word.




[35] Die volgende bevel word gemaak:

  1. Die verweerder word gelas om die bedrag van R164 742.11 aan die eiser te betaal met rente teen die koers van 15.5% per jaar a tempore morae.

  2. Die verweerder word gelas om die eiser se gedingskoste te betaal. Sodanige koste sluit in die koste van slegs die eiser se senior advokaat.

  3. Die verweerder se aansoek om 'n vrywaring vir betaling van die bedrag van R164 742.11 en die aansoek vir 'n verklarende bevel dat die derde party teenoor die verweerder aanspreeklik is vir die voormelde bedrag, word van die hand gewys.




(4) Die verweerder word gelas om die koste van die derde party te betaal.





Schippers Wn.R

1 Sien Joubert (ef al) Law of South Africa (2™ ed 2009 vol 9) 116 -118 en die gesag daar aangehaal

2 Willis Faber Enthoven (Pty) Ltd v Receiver of Revenue [1991] ZASCA 163; 1992 (4) SA 202 (A) op 223H-224H; Bowman, De Wet and Du Plessis NNO and Of/jers v Fidelity Bank Ltd 1997 (2) SA 35 (A) op 44D; Affirmative Action Portfolios CC v Transnet Ltd t/a Metrorail [2008] ZASCA 127; 2009 (1) SA 196 (SCA) para 24.