South Africa: Western Cape High Court, Cape Town

You are here:
SAFLII >>
Databases >>
South Africa: Western Cape High Court, Cape Town >>
2010 >>
[2010] ZAWCHC 15
| Noteup
| LawCite
Dampies v S (A355/09) [2010] ZAWCHC 15 (12 February 2010)
Download original files |
Republiek van Suid-Afrika
IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA
(WES-KAAP HOE HOF, KAAPSTAD)
SAAKNR: A 355/09
In die saak van
ZAMILE DAMPIES Appellant
en
DIE STAAT Respondent
UITSPRAAK GELEWER : 12 FEBRUARIE 2010
MOOSA, R:
[1 ] Appellant het in die Kaapse Streekhof, gehou te Worcester, tereggestaan op een aanklag van brandstigting, twee aanklagtes van moord en een aanklag van poging tot moord. Op 10 April 2008 is hy skuldig bevind op twee aanklagtes van moord en onskuldig op die res van die aanklagtes. Op 16 April 2008 is die appellant gevonnis tot 15 jaar gevangenisstraf op elk van die aanklagte. Die hof het gelas dat die vonnisse samelopend uitgedien word. Die appellant kom in hoer beroep teen slegs die opgelegde vonnis met die verlof van die verhoorhof.
[2] Dit is geykte beginsel van ons reg dat 'n hof van appel net sal inmeng met die vonnis diskresie van die verhoorhof indien daardie hof sy vonnis diskresie op 'n onbehoorlike of 'n onredelike wyse uitgeoefen hetdeur'n mistasting of'n onreelmatigheid of 'n wanvoorligting begaan net of indien die opgelegde vonnis in die omstandighede van die betrokke saak steurend onvanpas is of opvallend verskil van 'n vonnis wat 'n redelike hof sou opgele het.
[3] Adv Kloppers, namens die appellant, het aangevoer dat die verhoorhof, eerstens, misgetas het deurdie belange van die gemeenskap oorte beklemtoon en die persoonlike omstandighede van die appellant onder te beklemtoon; tweedens, dat die verhoorhof se versuim om behoorlik oorweging te skenk aan die versagtende en verswarende omstandighede daartoe gelei het dat die verhoorhof nie sy vonnis diskresie behoorlik uitgeoefen het nie en as gevolg daarvan 'n onbillike vonnis toegepas het wat skokkend onvanpas was en derdens, dat die verhoorhof geen gewig aan die kwessie van rehabilitasie geskenk het nie.
[4] Adv Tarantal, namens die Staat, het eerstens aangevoer dat die verhoorhof geen mistasting begaan het nie; tweedens, dat die opgelegde vonnis nie skokkend onvanpas is nie; derdens dat die verhoorhof alle relevante faktore by die oplegging van vonnis oorweeg het en laastens, dat die effektiewe termyn van gevangenisstraf nie buitensporig swaar is nie.
[5] Die twee aanklagtes van moord waaraan die appellant skuldig bevind is, was gekoppel aan die bepalings van Wet 105 van 1997, wat voorsiening maak vir voorgeskrewe minimum vonnisse tensy die hof kan bevind dat daar wesentlike en dwingende omstandighede aanwesig is wat 'n mindere vonnis regverdig. In hierdie geval was die minimum vonnis, in die afwesigheid van wesentlike en dwingende omstandighede, een van 15 jaar gevangenisstraf. Die verhoorhof het bevind dat daar geen wesentlike en dwingende omstandighede aanwesig is wat die hof noop om af te wyk van die voorgeskrewe minimum vonnis van 15 jaar gevangenisstraf nie. Die verhoorhof het wel gelas dat die vonnisse op die aanklagtes samelopend uitgedien word.
[6] Die omstandighede van die saak kan kortliks soos volg opgesom word: Die oorledenes en ene Frank Goeieman was hierdie betrokke dag tuis en het gedrink. Die beskuldigde het daar aangekom. 'n Stryery het tussen horn en sy houvrou, die oorledene, Maria, ontstaan. Die beskuldigde het die huis aan die brand gesteek. Die deur was toe gegrendel. Die drie persone binne in die huis het probeer deur die vensters spring. Die beskuldigde het hulle bestook met klippe om hulle te verhoed om uit die brandende huis te kom.
[7] Goeieman het daarin geslaag om uit die huis te kom, maar die twee oorledenes het nie daarin geslaag om uit te kom nie. Hulle is oorval deur die vuur en rook en het beswyk. Die buurman, mnr Jones, het daar opgedaag. Die appellant is deur horn gevra: "Watmaakjy?" Die appellant antwoord: "Nee, laat hulle vrek brand". Die appellant het die stryery bevestig, maar se hy was kwaad en dronk. Hy het ook ontken dat hy die deur gesluit het met die grendel.
[8] Ek wil uit die staanspoor se dat die misdrywe waaraan die appellant skuldig bevind is van 'n ernstige aard is. Die verhoorhof het horn soos volg uitgelaat: "Seker een van die ernstigste misdrywe, indien nie die ernstigste misdryf wat daar is nie. In hierdie geval is daar twee lewens geneem. Dit is 'n onherstelbare verlies en dit kan nie - die tyd kan nie net omgedraai word om daardie mense se lewens terug te kry nie". Die verhoorhof het ook genoem dat die wetgewer hierdie soort misdrywe in 'n ernstige lig bejeen deur voorgeskrewe vonnisse op te le.
[9] Adv Kloppers het in haar betoog toegegee dat dit duidelik is dat die misdrywe waaraan die appellant skuldig bevind is, inderdaad baie ernstig is en dit op sigself is 'n verswarende faktor. Dit noop die verhoorhof om voorkeur te gee aan die element van vergelding.
[10] Met betrekking tot die belange van die gemeenskap se die verhoorhof: "Daar is seer sekerlik geliefdes wat agter bly, wat hartseer is oor hierdie groot verlies van hulle en dit kan hulle in sommige gevalle hulle lewe bybly - hierdie groot verlies wat hulle gely het in hierdie geval het die eerste staatsgetuie op een slag sy moeder en sy meisie laat verloor".
[11] Die verhoorhof het die persoonlike omstandighede van die appellant in aanmerking geneem by die oorweging of daar wel dwingende en wesenlike omstandighede is. Met betrekking tot sy vorige veroordelings het die verhoorhof gese dat die laaste skuldigbevinding ten opsigte van geweldsmisdaad op 12 Maart 1991 was. Sedertdien het hy'n skoon rekord gehandhaaf en ook nadat hierdie misdaad gepleeg was, het hy'n skoon paadjie geloop.
[12] Die verhoorhof het ook ter versagting in ag geneem dat hy 'n swaar lewe onder die oorledene, Maria, gely het. Wanneer hulle 'n woordewisseling gehad het, het haar seun Goeieman, tussenbeide getree om tot haar hulp te kom. Die hof het ook in ag geneem die swak sosio ekonomiese omstandighede waarin die appellant gewoon het, dat hy feitlik ongeletterd was, dat die saak sedert Oktober 2003 hangende was en dat dit soos 'n swaard oor sy kop moes gehang het.
[13] Met betrekking tot die verswarende omstandighede het die hof nie bevind dat die appellant aanvanklik die huis aan die brand gesteek het om die oorledenes te laat dood brand nie. Hy het hulle wel verhoed om uit die huis te kom en sodoende het hulle dood gebrand. Die verhoorhof het verder bevind dat sy optrede uiters wreedaardig, onverskiliig en gevoelloos was.
[14] Die verhoorhof het ook gese dat hy tyd gehad het om te besin, maar hy het desondanks voortgegaan om die mense te verhoed om uit die brandende huis te kom. Hy het ook geen berou getoon op die toneel nie. Hy het eerder gese: "Dat die mense kan maar vrek brand".
[15] Na oorweging van die versagtende en verswarende omstandighede, het die verhoorhof tot die besluit gekom dat daar geen wesentlike en dwingende omstandighede aanwesig is wat die hof noop om af te wyk van die voorgeskrewe vonnisse nie.
[16] Myns insiens het die verhoorhof al die tersaaklike faktore en oogmerke van vonnis in aanmerking geneem. Die verhoorhof het ook al die tersaaklike feite by die oplegging van vonnis behoorlik oorweeg. By die oplegging van vonnis het die verhoorhof nie misgetas nie wat hierdie hof sou noop om in te meng by die oplegging van vonnis nie. Ek stem ook nie saam met die betoog van adv Kloppers dat die verhoorhof die belange van die gemeenskap oorbeklemtoon het ten koste van die persoonlike omstandighede van die appellant nie of dat die verhoorhof nie behoorlik oorweging geskenk het aan die versagtende en verswarende omstandighede nie of nie gewig geskenk het aan die element van rehabilitasie nie. Die feit dat die verhoorhof die vonnisse samelopend laat uitdien, is genoegsame bewys dat die verhoorhof wel aandag daaraan geskenk het.
[17] In die omstandighede is ek van mening dat die appel ten opsigte van vonnis van die hand gewys moet word en die vonnis op al twee aanklagtes bekragtig word.
E MOOSA
CLOETE, WR: Ekstem saam.
P CLOETE