South Africa: Western Cape High Court, Cape Town

You are here:
SAFLII >>
Databases >>
South Africa: Western Cape High Court, Cape Town >>
2010 >>
[2010] ZAWCHC 192
| Noteup
| LawCite
Dart Motors (Pty) Ltd v Jannecke (A611/2009) [2010] ZAWCHC 192 (20 August 2010)
Download original files |
In die Hooggeregshof van Suid-Afrika
(Wes-Kaap Hoe Hof, Kaapstad)
In die saak tussen: Saaknommer: A611/2009
Dart Motors (Pty) Ltd …..........................................................................Appellant
Versus
Carol Charmaine Jannecke …...................................................................Respondent
Uitspraak gelewer: 20 Augustus 2010
LOUWR
[1] Hierdie is 'n appel teen die uitspraak en bevel wat die landdros in Kaapstad op 7 Julie 2009 gemaak het waarin finale regshulp in mosieverrigtinge aan die respondent toegestaan is ingevolge waarvan die appellant verbied is om die respondent se motorvoertuig te verkoop en gelas is om die besit van die voertuig aan die respondent terug te gee. Die appellant is ook gelas om die koste van die aansoek te betaal. Op versoek van die Appellant, het die landdros op 14 September 2009 skriftelike redes vir die bevel verstrek.
[2] By die aanvang van die aanhoor van die appel op 6 Augustus 2010 het die respondent, wat in persoon opgetree het nadat haar prokureurs van rekord op 3 Augustus 2010 onttrek het, aansoek gedoen vir die uitstel van die verrigtinge ten einde haar in staat te stel om 'n nuwe regsverteenwoordiger deur regshulp te bekom. Die appellant het die aansoek om uitstel teengestaan en argument ten opsigte van beide die aansoek en die meriete van die appel is aangehoor.
[3] Dit is gemene saak dat die respondent op 11 Junie 2008 'n 1995 Nissan Sentra ingevolge 'n huurkoopooreenkoms van die appellant, gekoop het. Die respondent het agterstallig geraak met die betaling van haar maandelikse paaiemente van R1 055.69 en op 5 Februarie 2009 het 'n werknemer van die appellant by die respondent se werkplek opgedaag en gese dat hy opdrag het om die motor te verwyder. Die respondent wou die aangeleendheid per telefoon met verteenwoordigers van die appellant bespreek maar sy is versoek om persoonlik na die appellant se persele te kom. Sy is toe na die appellant se perseel waar sy met 'n werknemer met die voornaam Sonia, gepraat het.
[4] Wat toe verder by die appellant se perseel gebeur het, is in geskil. Die respondent se weergawe is dat sy navraag gedoen het oor haar agterstallige skuld en dat sy betaling van die bedrag getender het. Niemand was egter in staat om vir haar die bedrag te gee nie. Sy het ook gevra of sy die agterstallige bedrag die volgende dag kon betaal. Sy se dat sy meegedeel is dat sy die volgende dag, 6 Februarie 2009 die appellant se regsafdeling moet skakel om die verlangde inligting te verkry. Toe sy egter die motor saam met haar wou neem is sy in kennis gestel dat sy dit nie mag verwyder nie. Haar weergawe lei vervolgens soos volg:
"Hulle het toe vir my 'n vorm gegee getiteld: 'Voluntary Surrender' en vereis dat ek dit teken. Hierdie vorm was behalwe vir die getikte dele nog oningevul in blanko formaat. Hulle het gese dat dit 'n vorm is wat hulle vrywaar van enige skade aan die voertuig terwyl dit in hulle besit is. Ek was nie bewus van die inhoud en gevolge van die vorm nie en dit is ook nie aan my verduidelik nie. Ek het bedreig gevoel en het gedink dat ek nie 'n ander keuse het nie en het toe onder proses geteken".
[5] Die dokument wat deur die respondent onderteken is is 'n gedrukte vorm met die opskrif 'Voluntary Surrender' en met spasies oopgelaat waar die persoon se naam en adres, die naam van die verkoper en 'n beskrywing van die motorvoertuig en registrasienommer ingevul kan word. Die tersaaklike gedeeltes van hierdie dokument lui dat die respondent, synde die ondergetekende
"do hereby give written notice of my intention to terminate, with immediate effect, a certain hire purchase agreement entered into by me and which is ceded to Dart Motors (hereafter referred to as "the company"). Accordingly, I hereby return to the company the motor vehicle, being the subject matter of said agreement, namely 1995 Nissan Sentra (white) motor vehicle bearing registration number CA 911550.
Paragraaf 9 van die dokument lui soos volg: "I know and understand exactly what I am signing".
[6] Die appellant se weergawe word uiteengesit in 'n opponerende eedsverklaring wat deur 'n Mnr Errol Dudley Fall gemaak is. Hy beskryf homself daarin as die besturende direkteur van die appellant en hy beweer dat:
"die feite hierna gemeld is binne my persoonlike kennis en dit is beide waar en korrek".
[7] Fall beweer dat die respondent 'n geskiedenis van wanbetaling gehad het en dat sy en haar eggenoot nie oproepe van die appellant se kantore beantwoord het nie en ook nie op enige van die appellant se aanmanings gereageer het nie. Fall ontken egter nie uitdruklik dat die respondent op 5 Februarie 2009 met die appellant se werknemer Sonia gepraat het nie. Hy ontken bloot dat:
(1) die respondent navraag gedoen het oor die bedrag van haar agterstallige skuld;
(2) dat sy betaling getender het en gevra het of sy die volgende dag kon betaal;
(3) dat sy aangese is om die volgende dag tewete 6 Februarie 2009 die appellant se regsafdeling te skakel.
[8] Die respondent se bewering dat sy die motor op 5 Februarie 2009 saam met haar wou neem en haar bewerings oor die omstandighede waaronder sy die "voluntary surrender" onderteken het word ook deur Fall ontken. Fall se weergawe oor die verdere gebeure op 5 Februarie 2009 lui soos volg:
"Ten tyde van die applikant se besoek aan die respondent het applikant erken dat sy "overindebted" is en dat sy nie in staat is om die agterstallige paaiemente te betaal nie. Applikant het uit vrye wil die vrywillige teruggawe dokument (voluntary surrender) onderteken en die voertuig aan ons oorhandig. Op applikant se eie weergawe erken sy dat sy die woorde "voluntary surrender" op die dokument gesien het, so daar kan geen twyfel bestaan dat die applikant geweet het watter dokument sy onderteken".
[9] Op 16 Februarie 2009 skryf Fall aan die respondent se prokureurs en verwys daarna dat die respondent op 5 Februarie 2009 met die werknemer Sonia gepraat het. Dit blyk ook uit die brief dat die respondent 'n week later met 'n vriend by die appellant se kantore was en dat die vriend aangebied het om die agterstallige bedrae te betaal. Die appellant het egter daarop aangedring dat benewens betaling van die agterstallige bedrae die vriend ook as borg instaan vir die respondent se totale skuld onder die kontrak.
[10] Dit is dus gemene saak dat respondent op 5 Februarie 2009 by die appellant se persele deur die werknemer Sonia te woord gestaan is. Daar is geen beedigde verklaring van Sonia nie. Fall beweer nie dat hy self by die gebeure op 5 Februarie 2009 betrokke was nie en hy ontken ook nie die respondent se bewering uitdruklik dat die applikant se werknemer/s die inhoud en betekenis van die dokument wat sy onderteken het aan haar wanvoorgestel het nie.
[11] Die respondent het aansoek gedoen vir finale regshulp. Die benadering uiteengesit in die Plascon Evans saak [1984] ZASCA 51; 1984 (3) SA 623 (A) by 6341 tot 635B is dus van toepassing. In National Director of Public Prosecutions v Zuma [2009] ZASCA 1; 2009 (2) SA 277 (HHA) op 290D - 291C in paragrawe [26] en [27] handel die Hoogste Hof van Appel weereens met die Plascon Evans reel:
"Where in motion proceedings disputes of fact arise on the affidavits, a final order can be granted only if the facts averred in the applicant's affidavits, which have been admitted by the respondent, together with the facts alleged by the latter justify such order. It may be different if the respondent's version consists of bold or uncreditedworthy denials, raises fictitious disputes of fact, is palpably implausible, far-fetched or so clearly untenable that the court is justified in rejecting them merely on the papers".
[12] Die feite in geskil is:
(1) Of die respondent bedoel het om die kontrak te kanselleer en of sy aangebied het om die agterstallige balans te betaal;
(2) Die omstandighede waaronder sy die voluntary surrender onderteken het.
[13] Fall se ontkennings moet teen die agtergrond gesien word dat die werknemer Sonia nie 'n beedigde verklaring afgelewer het nie en Fall nie beweer dat hy persoonlik betrokke was by die gebeure op 5 Februarie 2009 nie.
[14] Die respondent se getuienis is dat sy aangebied het om die agterstallige bedrag te betaal. Dit is nie te rym met 'n bedoeling om te kanselleer nie. Voorts is haar bewering dat die voertuig se registrasie nommer verkeerd aangedui word in die dokument nie betwis nie. Dit is in lyn met haar weergawe dat die dokument nie ingevul was toe sy dit onderteken het nie. Haar weergawe is ook kort na die voorval in haar prokureur se brief van 13 Februarie 2009 uiteengesit.
[15] Mnr Kotze wat op appel namens die appellant opgetree het het daarop gewys dat aangesien dit gemene saak is dat die respondent agterstallig was met haar betalings, sy nie geregtig is op die beskerming van artikel 127 (3) van die Nasionale Kredietwet 34 van 2005, nie. Haar poging om die kansellasie en teruggawe van die motor voertuig in haar prokureur se brief van 13 Februarie 2009, terug te trek het gevolglik geen regskrag nie, het hy betoog.
[16] Die vraag is egter eers of die respondent inderwaarheid die kontrak gekanselleer het en die voertuig vrywilliglik aan die appellant terug besorg het.
[17] Fall se algemene ontkenning van die gebeure op 5 Februarie 2009 toe die respondent die dokument onderteken het is nie 'n werklike ontkenning nie aangesien hy nie beweer dat hy self betrokke was by daardie gebeure nie en dit gemene saak is dat die respondent deur die werknemer Sonia, wat nie self getuig het nie, te woord gestaan is.
[18] Mnr Kotze het aangevoer dat dit duidelik uit die dokument self is dat die respondent die ooreenkoms beeindig en die voertuig vrywilliglik teruggee. Ongeag wat haar subjektiewe bedoeling was, betoog hy moet daar gevolg gegee word aan die bedoeling soos wat dit blyk uit die dokument self.
[19] Ek stem nie saam met Mnr Kotze se betoog nie. Die respondent se weergawe wat vir doeleindes van hierdie saak aanvaar moet word, is dat dit juis die appellant se werknemers was wat die betekenis van die dokument aan haar wanvoorgestel het. Sy is meegedeel, so getuig sy, dat die dokument slegs beteken dat die appellant gevrywaar word van enige skade wat die voertuig mag opdoen terwyl dit in hulle besit was. Daar is nie aan haar verduidelik dat dit ook behels het dat sy die ooreenkoms beindig en dat sy die voertuig vrywilliglik teruggee aan die appellant nie. Onder daardie omstandighede sou 'n redelike persoon in die posisie van die appellant nie tot die gevolgtrekking gekom het dat die respondent se bedoeling met die ondertekening van die dokument ooreenstem met die inhoud daarvan nie.
[20] Dit beteken gevolglik dat die landdros korrek was om te bevind dat hier nie 'n geldelige kansellasie van die ooreenkoms was nie en ook dat die respondent nie die voertuig vrywilliglik aan die appellant terug gegee het nie. Die bepalings van die Nasionale Kredietwet kom gevolglik nie eens tersprake nie.
[21] Die gevolg is dat die appel nie kan slaag nie en dat dit met koste van die hand gewys moet word.
[22] In die lig van die voormelde gevolgtrekking, is dit nie nodig om te handel met die respondent se aansoek om uitstel sodat sy vir regshulp aansoek kan doen nie.
[23] Ek sou dus die volgende bevel maak.
Die appel word met koste van die hand gewys.
W.J. LOUW R
Regter van die Hooggeregshof
Ek stem saam.
C. FORTUIN R
Regter van die Hooggeregshof