South Africa: Western Cape High Court, Cape Town Support SAFLII

You are here:  SAFLII >> Databases >> South Africa: Western Cape High Court, Cape Town >> 2010 >> [2010] ZAWCHC 425

| Noteup | LawCite

S v Stoffels en Anders (SS02/2010) [2010] ZAWCHC 425 (15 June 2010)

Download original files

PDF format

RTF format


IN DIE HOE HOF VAN SUID-AFRIKA

(WES-KAAP HOE HOF, KAAPSTAD)


SAAK NO: SS02/2010


DATUM: 15 JUNIE 2010

In die saak tussen:

DIE STAAT

en

1. COLIN STOFFELS

2. CHRISTOPHER STUURMAN




V O N N I S




DESAI, R:



Beskuldigdes, dit is nou my onaangename taak om vonnis in hierdie saak op beide van julle op te le. Ek is terdee bewus van die vele faktore en omstandighede wat ek by die oplegging van vonnis in aanmerking moet neem. Dit sluit, onder andere, die persoonlike omstandighede van elk van u en, beskuldigde 1, ek sal in aanmerking neem hierdie brief wat opgehandig is asook die getuienis wat u onlangs afgele het.



By die oplegging van vonnis moet daar ook rekening gehou word met die erns van die misdade waaraan u skuldig bevind is. Die belange van die gemeenskap moet ook die nodige oorweging geniet. Dit is ook so dat dit belangrik is dat daar 'n beskaafde gemeenskap of samelewing 'n mate van genade aan veroordeelde beskuldigdes getoon word, indien dit in die omstandighede enigsins moontlik is. In hierdie besondere saak moet daar ook in gedagte gehou dat daar in die geval van moord en die onwettige besit van 'n semi-outomatiese vuurwapen sekere minimum vonnisse deur wetgewing voorgeskryf is. U was reeds, voordat die verhoor begin het, daarvan deur u regsverteenwoordiger meegedeel.



Beskuldigde 1, u is skuldig bevind aan twee aanklagte van moord; een van poging tot moord; een van die onwettige besit van 'n semi-outomatiese pistool asook die onwettige besit van ammunisie. Die belangrikste faktor wat by vonnis in u guns tel. is die feit dat u 'n eerste oortreder is. U is ook nog relatief jonk, tewete tans 26 jaar oud. U was tydens die voorval ongeveer 24 jaar oud. U is getroud en het gereeld onderhoud vir u seun, Cameron, betaal. Die feit dat u matriek geslaag het en vaste werk gehad het, maak u optrede net soveel moeiliker om te verstaan. Nogtans aanvaar ek u advokaat se argument dat u rehabiliteerbaar is, nieteenstaande die afkeurenswaardige wyse waarop u opgetree het. Die moontlikheid van rehabilitasie mag wel in u guns tel wanneer u eendag vir parool oorweeg word.



Die aard van die misdade waaraan u skuldig bevind is , veral
die twee aanklagte van moord, dwing my om die voorgeskrewe
minimum vonnisse op te le tensy daar dwingende en wesenlike
omstandighede gevind kan word wat 'n mindere vonnis
regverdig.
Nieteenstaande persoonlike omstandighede,

waarna ek reeds verwys het, is daar, na my mening, geen sodanige wesenlike en/of dwingende omstandighede in hierdie saak nie, maar selfs al sou daar sulke omstandighede bestaan het, regverdig u optrede dat ek die swaarste moontlike straf aan hierdie Hof beskikbaar vir die twee aanklagte van moord moet ople. U het na die huis van u eks-meisie gegaan, gewapen met 'n semi-outomatiese pistool met die doel om persone daar dood te skiet. By die huis het u haar broer koelbloedig in die kop geskiet; haar moeder in die gesig gewond en daarna - wat dit baie moeilik vir my maak - haar sewe maande oue babatjie doodgeskiet - Cassidy in die bors geskiet.



Nieteenstaande die feit dat u vaderskap van Cassidy ontken het, was u wel op daardie stadium daarvan bewus dat die eks-meisie van plan was om aansoek om 'n onderhoudsbevel vir Cassidy teen u te bring. Dit mag wel wees dat Cassidy nie u kind was nie, maar die blote feit dat u 'n sewe maande oue baba gedood het deur haar in die bors te skiet, het 'n gatiewe effek wanneer u menslikheid oorweeg word. Al is u optrede 'n aanwending van die mate van brutaliteit waar daar reeds in hierdie land gewoond geraak is, veroorsaak dit nogtans 'n hoe mate van skok by almal.



Die gemeenskap verwag ten regte van my om 'n gepaste vonnis op te le. U het geen teken van berou getoon gedurende die verhoor nie. Wat vonnis betref, kan dit nie teen u gehou word nie, maar kan ook nie in u guns in aanmerking geneem word nie.



Met betrekking tot die besit van die vuurwapen en ammunisie, moet die Hof die afleiding maak dat u op daardie aand die vuurwapen spesifiek besit het met die doel om persone by u eks-meisie se huis te gaan doodmaak.



Beskuldigde 2, u het wel berou getoon maar die probleem wat ek in u geval het, is dat u nie 'n eerste oortreder is nie. U het vorige veroordelings, soortgelyke oortredings, asook vir moord. Ek sal in aanmerking neem dat u 'n vaste werk as 'n taxibestuurder het asook 'n gereelde inkomste. U is tans 29 jaar oud en was dus ongeveer 27 jaar oud tydens die voorval. Ek aanvaar dat u net 17 jaar oud was toe u die vorige misdade gepleeg het, maar dat u nog op parool was toe hierdie misdade gepleeg is. Ek sal alles wat jou advokaat en moeder hier in die hof gese het, in aanmerking neem, maar kan nogtans geen dwingende of wesenlike omstandighede vind wat my sal regverdig om 'n mindere vonnis as die voorgeskrewe vonnis op te le nie.



Ek neem verder in aanmerking dat beide van u sowat 18 maande in hegtenis verhoorafwagtend was. Verder moet die onwettige besit van vuurwapens, veral in die geweldgeteisterde areas soos Delft, so sterk as moontlik afgekeur word.




Beskuldigde 2, u word soos volg gevonnis:



Aanklag 6 en 7 word saamgeneem vir doeleindes van vonnis, u word gevonnis tot VYFTIEN (15) JAAR GEVANGENISSTRAF.




Beskuldigde 1, u word soos volg gevonnis:



Aanklag 1, moord, word u gevonnis tot LEWENSLANGE GEVANGENISSTRAF.

Aanklag 2, moord, word u gevonnis tot LEWENSLANGE GEVANGENISSTRAF.

Aanklag 4, poging tot moord, word u gevonnis tot VYFTIEN (15) JAAR GEVANGENISSTRAF.


Op aanklag 6 en 7 word saamgeneem vir doeleindes van vonnis en op daardie twee aanklagte saam word u gevonnis tot VYFTIEN (15) JAAR GEVANGENISSTRAF.




DESAI, R