South Africa: Western Cape High Court, Cape Town Support SAFLII

You are here:  SAFLII >> Databases >> South Africa: Western Cape High Court, Cape Town >> 2010 >> [2010] ZAWCHC 464

| Noteup | LawCite

Arries v S (A419/2010) [2010] ZAWCHC 464 (10 September 2010)

Download original files

PDF format

RTF format


IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA


(WES-KAAP HOE-HOF, KAAPSTAD)



SAAKNOMMER: A419/2010


DATUM: 10 SEPTEMBER 2010



In die saak tussen:


MELVIN ARRIES …...........................................................................Appellant


en


DIE STAAT …................................................................................Respondent



UITSPRAAK




VELDHUIZEN. R:



Die appellant het op 11 Februarie 2010 in die Albertinia landdroshof skuldig gepleit op 'n aanklag van diefstal en is ooreenkomstig sy pleit skuldig bevind. Hy is daarop tot drie jaar gevangenisstraf gevonnis. Hy kom met verlof van die Verhoorhof op appel slegs teen die vonnis.



Uit die erkende feite blyk dit dat die appellant ses staalproppe wat 1,8 meter lank is ter waarde van R7 000,00 van sy werkgewer gesteel het. Hierdie eiendom is later teruggevind en gevolglik het sy werkgewer geen skade gely nie.



Soos gemeld het die appellant skuldig gepleit en voor ons word betoog dat dit toon dat hy berou het vir sy optrede Verder word aangevoer dat hy die enigste broodwinner vir sy gesin is en dat indien hy moet tronk toe gaan, hulle hulle onderhoud ontneem word. Ook word aangevoer dat hy aktief in die arbeidsmark is, relatief jonk en rehabiliteerbaar is.



Met die betoog stem ek nie saam nie, nie net het die appellant vier vorige veroordelings vir diefstal nie, maar sy rekord toon ook dat hy twee vorige veroordelings vir die besit van dwelms het asook twee vir aanranding. Hierdie rekord toon, na my mening, dat die appellant geen respek vir die reg het nie en eenvoudig nie die geleenthede wat die vonnisse wat in daardie sake opgele is, benut het nie. Die diefstal wat die appellant in die onderhawige saak gepleeg het is van 'n ernstige aard. Hy het vir homself eiendom van sy werkgewer toegeeien met die bedoeling om dit aan 'n skrootwerf te verkoop. Die staalproppe was nie van onbenullige waarde nie.



Al die bogenoemde omstandighede in ag genome, meen ek dat die vonnis wat die landdros opgele het, nie net gepas is nie, maar ook welverdiend. In ieder geval kan ons slegs met hierdie vonnis inmeng indien ons van mening is dat die landdros sy diskresie onbehoorlik uitgeoefen het, misgetas het of die vonnis buitensporig is. So 'n gevolgtrekking is, op die feite voor ons, nie geregverdig nie.


Bygevolg word appellant se appel VAN DIE HAND GEWYS EN SY SKULDIGBEVINDING EN VONNIS BEKRAGTIG.



VELDHUIZEN, R


BUIKMAN, WnR: Ek stem saam.



BUIKMAN, WnR