South Africa: Western Cape High Court, Cape Town

You are here:
SAFLII >>
Databases >>
South Africa: Western Cape High Court, Cape Town >>
2010 >>
[2010] ZAWCHC 468
| Noteup
| LawCite
Johnson v S (A322/2010) [2010] ZAWCHC 468 (10 September 2010)
Download original files |
IN DIE HOE-HOF VAN SUID-AFRIKA
(WES-KAAP HOE-HOF, KAAPSTAD)
SAAKNOMMER: A322/2010
DATUM: 1 0 SEPTEMBER 2010
In die saak tussen:
FUAD JOHNSON
Appellant
en
DIE STAAT Respondent
UITSPRAAK
VELDHUIZEN, R:
Die appellant is in die streekhof skuldig bevind aan die misdaad van huisbraak met die opset om te roof en roof met verswarende omstandighede en is tot tien jaar gevangenisstraf gevonnis. Hy appelleer nou teen sy vonnis.
Alhoewel die appellant onskuldig gepleit het, het hy na sy pleit ingevolge artikel 220 van die Strafproseswet, 51 van 1977, erkennings gemaak waarin hy al die bewerings teen horn erken het. Die Staat en die verdediging het daarna hulle sake gesluit en die appellant is op die feite deur horn erken skuldig bevind.
Wat die misdaad betref, het die appellant erken dat hy op 1 Februarie 2005 by die huis van die klaagster ingebreek het, deur 'n venster wat oop was, verder oop te maak en daar deur toegang tot die huis verkry het. Die klaagster was binne. Sy het die appellant aangeval, maar hy het haar geslaan en gestoot en haar onderwerp deur dreigemente dat hy haar ernstig sou beseer. Hy het daarop 'n bottel wyn van haar gedrink en h broek van haar gevat en is kort daarna vort. Hy is kort daarna in hegtenis geneem.
Wat die misdaad betref, is dit van belang dat die appellant ten tye van die pleging daarvan onder die invloed van dwelms en sterk drank was. Die appellant was nie bewapen nie en die klaagster is nie beseer nie. Die neem van die drank en die broek kom my as ietwat sinneloos voor. Dit kan waarskynlik toegeskryf word aan die gevolge van sy drank- en dwelminname. Daar was sekerlik meer waardevolle items in die huis wat hy kon geneem het.
Ten tyde van vonnisoplegging op 2 Desember 2009 was die appellant 37 jaar oud, getroud en hy het drie kinders wat onderskeidelik 16, 12 en 8 jaar was onderhou. Hy het as arbeider by Yi familielid gewerk vir R700 per week. Ek moet meld dat die lang tydsverloop tussen die pleeg van die misdaad en die appellant se verhoor kan toegeskryf word aan die feit dat hy sy borgvoorwaardes verbreek het deur nie vir sy verhoor op te daag nie.
Hy het homself, wat sy dwelmgebruik betref, gerehabiliteer. Hy het weliswaar een vorige veroordeling vir diefstal waarvoor hy 'n boetestraf, wat in geheel opgeskort is, opgele is.
Nadat die landdros die aanwesigheid van wesenlike en dwingende omstandighede bevind het, soos in artikel 51(3)(a) van die Strafregwysigingsweg, 105 van 1997, bedoel, is die appellant, soos gemeld, tot tien jaar gevangenisstraf gevonnis. Die landdros het aansienlik gewag gemaak van die erns van die misdaad en het na my mening misgetas deurdat hy dit oorbeklemtoon het. Ek is in ieder geval van mening dat die vonnis, al die omstandighede in ag genome, buitensporig swaar is. 'n Vonnis van drie jaar gevangenisstraf waarvan Vi gedeelte opgeskort word, sal meer gepas wees. So 'n vonnis verskil dermate van die een wat opgele is dat dit ons ingryping regverdig.
Bygevolg slaag die appel, die SKULDIGBEVINDING WORD BEKRAGTING MAAR DIE VONNIS TERSYDE GESTEL en met die volgende vonnis vervang:
DRIE (3) JAAR GEVANGENISSTRAF waarvan die helfte opgeskort word vir vyf (5) jaar op voorwaarde dat die beskuldigde nie weer skuldig bevind word aan die misdaad van huisbraak met die opset om te roof of diefstal te pleeg en roof of diefstal gepleeg gedurende die tydperk van opskorting nie.
VELDHUIZEN, R
BUIKMAN. WnR: Ek stem saam.
BUIKMAN, WnR