South Africa: Western Cape High Court, Cape Town

You are here:
SAFLII >>
Databases >>
South Africa: Western Cape High Court, Cape Town >>
2011 >>
[2011] ZAWCHC 228
| Noteup
| LawCite
G.L v W.G.L (20811/08) [2011] ZAWCHC 228 (17 May 2011)
Download original files |
SAFLII Note: Certain personal/private details of parties or witnesses have been redacted from this document in compliance with the law and SAFLII Policy.
IN DIE HOË HOF VAN SUID-AFRIKA
(WESKAAPSE HOË HOF, KAAPSTAD)
Saaknr. 20811/08
In die saak van:
GL............................................................................................................Eiseres
en
WGL.......................................................................................................Verweerder
Uitspraak gelewer op Dinsdag, 17 Mei 2011
UITSPRAAK
S Olivier, WnR
1. Hierdie is ˊn bestrede egskeidingsaksie waar die partye in ˊn bittere emosionele stryd gewikkel was en waaraan hulle uiting gegee het in die beregtiging van die enigste wesentlike dispuut wat tussen hulle oorgebly het – dié van onderhoud.
2. GL, die eiseres, het die moeilike taak gehad om onverteenwoordigd te verskyn nadat sy onsuksesvol gepoog het om regshulp te bekom GL se totale onderhouds-eis nagenoeg R31 000,00 per maand beloop
3. Mnr de la Rey, wat namens WGL verskyn, het die aanbied van WGL se saak, en in besonder in sy kruisverhoor van GL, heel tereg beperk, met verwysing na die geskille soos vervat in die pleitstukke, tot die finansiële aspekte van die geskil tussen die partye, asook die bewoording van ˊn enkele klousule van die ouerplan[1] wat origens tussen die partye ooreengekom was.
4. GL is huidiglik 45-jaar oud. Sy het ˊn BA Ed-graad met ˊn honneursgraad in Afrikaans. Sy is ˊn kunstenares wat skilderkuns en fotografie beoefen. Sy het al ˊn digbundel gepubliseer en tree ook op as ˊn werwingsagent vir die Registrateur vir Handelsmerke. Sy ly aan fibromyalgia wat chroniese moegheid en spierpyn meebring, veral wanneer sy blootgestel word aan spanning. Sy is eers in 1997 gediagnoseer, maar sy het reeds die simptome van die siekte sedert 1989 getoon. Dr Anne Halland het steroied-vervangings hormone aan haar voorgeskryf. Sy het in 1997 vrugbaarheidsbehandeling ondergaan en WGL teenoor haar gebieg het dat hy ten tye met prostitute omgegaan het.
5. Die verweerder is ˊn mediese dokter wat by die Netcare B[…] Hospitaal te M[…] [werksaam is]. Hy is ook ˊn skrywer. WGL het aan die Universiteit van Pretoria voorgraads gestudeer en het in 1998 gespesialiseer as ˊn oor-, neus- en keelspesialis aan die Universiteit van Stellenbosch.
6. Die partye is op 16 Desember 1989 te Warmbad buite gemeenskap van goedere met toepassing van die aanwasbedeling, ooreenkomstig die bepalinge van ˊn huweliksvoorwaarde-kontrak, met mekaar getroud.
7. Daar is vier kinders gebore uit die huwelik, te wete AL1, gebore op 6 Augustus 1991, meerderjarig, PL, gebore op 23 Desember 1992, ook meerderjarig; KL, gebore op 31 Julie 2000 (10-jaar oud), en AL2, gebore op 25 Junie 2003, tans 7-jaar oud.
8. Sedert 1996 het GL die kinders getuis-skool omdat hulle Midde-Ooste toe wou gaan. Tuis-skoling het baie groot besparings meegebring. Hulle was in Abu Dhabi vir ˊn periode van drie jaar woonagtig.
9. AL1 het so pas sy tweejaar-kursus voltooi en doen huidiglik ˊn internskap vir een jaar by ˊn filmmaatskappy. PL het begin met ˊn drie-jaar studiekursus. Hulle is beide nog finansieel afhanklik van hul ouers.
10. Die huwelik tussen die partye het onherstelbaar verbrokkel. Dit was eers in November 2009, 17 jaar en 11 maande na hul troue, dat GL tot die slotsom gekom het dat hulle moes skei en het sy WGL aldus ingelig. Sy het die verbrokkeling toegedig aan foute wat aan beide kante gemaak is. WGL voer aan dat die rede vir die verbrokkeliing sy wederhelf se owerspelige optrede was, terwyl sy op haar beurt aanvoer dat hy homself emosioneel onttrek uit die gesinslewe en gesins-aktiwiteite.
11. WGL is onwillig om te skei. Hy het haar eise met mening teengestaan – op ˊn webwerfblad “Victims of Divorce” het hy aangevoer dat “we are against a system of no fault divorces” en verder “if you are a perp, we will see you in court. You do not deserve the oxygen you breathe”.
12. WGL glo onwrikbaar dat skuldlose egskeiding verkeerd is. Hy het getuig dat hy hom berus by die beginsel van skuldlose egskeiding (en dat dit nie verander gaan word nie), alhoewel hy daarteen gekant is. Alhoewel ek nie nodig het om die beginsel aan te spreek nie, moet ek vermeld dat skuld in die onderhawige geval alles behalwe voor die hand liggend is. Waar begin die skuld as die man lank gelede reeds besoeke by prostitute afgelê het?
13. WGL het getuig dat die huwelik op die rotse beland het toe hy e-posse van haar op ˊn rekenaar by sy praktyk gevind het waaruit dit geblyk het dat sy in “ˊn Internetseksverhouding” gewikkel was. WGL het getuig dat hy ongelooflik getraumatiseer was deur sy vrou se owerspelige optrede en dat hy aan ˊn post-traumatiese stress sindroom ly as gevolg daarvan en op die punt was om selfmoord te pleeg. Sy hele lewe het in ˊn enkele oomblik in duie gestort. Vir hom is dit ˊn emosionele nagmerrie. Hy is van berading bedien deur mev Jean Verster. Hy het geweier om te aanvaar dat die huwelik ten einde was en glo nog steeds dat die huwelik gered kan word. Hy het in die getuiebank steeds sy liefde teenoor GL betoon. WGL ontken dat hy GL emosioneel geteister het of dat hy nie die onderhoudshofbevel nagekom het nie. Hoe kan dit teistering wees as dit die waarheid is? het hy gevra. Hy wou nie antwoord op die vraag dat hy nie die realiteit van die egskeiding in die gesig kan staar nie. Hy het aangevoer dat dit sy wederhelf was wat verantwoordelikheid moes aanvaar. Sy het ˊn hartverskeurende lewensbesluit geneem wat bestraf moes word. WGL het erken dat hy deel het aan die probleme maar dra geen verantwoordelikheid vir haar beweerde owerspel nie. Hy het ook toegegee dat hy geld van haar weerhou het uit weerwraak.
14. GL, op haar beurt, het getuig dat sy beswadder word deur WGL, wat haar daarvan beskuldig dat sy owerspelig is en ˊn kinderverkragter is. Hy sou ook besonderhede van hul intieme sekslewe aan almal bekend gemaak het. Hy het [haar] voor die kerkgemeenskap in Melkbosstrand gekonfronteer met haar beweerde owerspel. Dit het hy gedoen tot die mate dat die jongste dogter haar ore toegedruk het. Hy het ook nie ontken dat hy die apteker sou uitgetrap het, lank nadat die partye reeds uiteen was, oor die voorbehoedmiddel wat sy sou aangevra het. Hy het dit as ˊn ongelooflike emosionele vernedering ervaar dat sy en die kinders saam met ˊn mansvriend van haar saam sou weggaan. Hy het getuig dat hy die apteker “bedaard” meegedeel het dat sy owerspel pleeg.
15. Alhoewel hy haar nie meer sou beskuldig as ˊn kinderverkragter nie, doen dit nie afbreek aan die waarheid nie, so het hy aangevoer. Die waarheid, so het dit geblyk, was dat GL as ˊn kind gemolesteer was. WGL voer aan dat sulke slagoffers dikwels hulleself aan soortgelyke optrede skuldig maak in hul latere lewe, en derhalwe, as ek dit reg verstaan, noem hy haar by voorbaat ˊn kinderverkragter. Hierdie benadering van WGL doen niks minder as om die slagoffer weereens bloot te stel aan die vorige molestasie en dan boonop die skuld daarvoor aan haar toe te dig nie. Ek vind dit ˊn weersinnige en afkeurenswaardige benadering waarteen ek my nie sterk genoeg kan uitspreek nie. Ek vertrou dat WGL homself nooit weer in die toekoms daaraan sal skuldig maak om so ˊn bewering ten aansien van GL te maak nie.
16. GL het reeds in April 2008 ˊn egskeidingsaksie aanhangig gemaak in die Suidelike Egskeidingshof. Dit is by ooreenkoms teruggetrek en is daar opnuut dagvaarding in hierdie Hof uitgereik.
17. Daar was ook ˊn onsuksesvolle mediasie voor mev Rosa Bredenkamp.
18. GL het in Oktober 2008 ˊn gesinsgeweldinterdik bekom, wat hangende is voor die landdroshof in Atlantis. WGL het aangevoer dat die beweringe van gesinsgeweld wat gemaak was in die interdikaansoek vals was. GL het aangevoer dat die toedrag van sake so plofbaar was, dat sy daartoe genoop was om ˊn aansoek te bring. Hy sou haar meegedeel het dat indien hy gearresteer sou word, hy sou sorg dat hy geen inkomste het nie. WGL het geantwoord dat dit ˊn gruwelike verdraaiing was, en dat hy haar bloot daarop gewys het wat die gevolge sou wees indien hy gearresteer sou word.
19. Op 16 Februarie 2009 het hierdie Hof ˊn bevel ingevolge reël 43 verleen ingevolge waarvan WGL R18 640,00 onherhoud en R8 500 vir verblyf per maand aan GL moes betaal. Hy moes ook ˊn bydrae tot haar regskoste in die bedrag van R20 000 maak. WGL het tydens die verrigtinge self toegestem om R20 000 per maand onderhoud te betaal (bo en behalwe die mediese en opvoedkundige uitgawes van die GL en die kinders)[2]. Hy het erken dat hy geweier het om die bedrag van R20 000, soos gelas in die bevel, te betaal.
20. WGL het getuig dat sy grootste vrees was dat hy die kinders sou verloor. In sy poging om die huwelik te red het hy probeer om aan die finansiële aansprake van sy vrou te voldoen. Hy het getuig dat hy R20 000 in die reël 43-aansoek aangebied het omdat hy niks wou doen wat GL kwaad sou maak nie. Hy het geen idee gehad wat werklik in sy finansies aan die gang was nie. Hy het nie die reël 43-verrigtinge bygewoon nie en het onmiddellik besef dat hy nie sou kon voldoen aan die bevel ingevolge waarvan hy gelas is om R27 000 per maand onderhoud te betaal nie. Hy het vir 7 maande aan die bevel voldoen en toe agtergeraak. Alhoewel hy dit nie kon bekostig nie, het hy haar R20 000 en soms meer per maand betaal. Hy het ter nouer nood self ˊn “hersieningsaansoek” gebring op 1 November 2009[3]. Dit het op niks uitgeloop nie. Die besluit om eensydiglik R15 000 per maand onderhoud te betaal was in oorleg met sy rekenmeester, mnr Pienaar le Roux, geneem. GL het toegegee dat WGL nooit minder as R15 000 per maand onderhoud betaal het, alhoewel dit nie altyd betyds betaal is nie.
21. Die partye het, behoudens vir ˊn enkele bepaling, op die inhoud van ˊn ouerplan ooreengekom. Ten einde die verhouding met hul kinders te beredder het GL ook aangedring op ˊn klousule wat neerlê hoe daar teenoor die kinders opgetree moet word.[4] Die klousule (1.2.7.4) is op aandrang van GL ingevoeg om voorsiening te maak vir daardie geval waar WGL nie die kinders by hom kan neem wanneer hy andersins daartoe geregtig sou wees nie. Die gedeelte onderstreep is op aandrang van WGL ingevoeg. Die klousule lui as volg-
“Should Party B not be able to take leave during the children's school holidays and the children therefore remain with Party A for the entire school holiday, Party B shall be entitled to contact with the children as per the normal contact arrangements as set forth in paragraphs 1.2.6.1 and 1.2.6.2 during only his one half of the school holiday. Should Party A and the children spend their one half of the school holiday at Party A's residence, Party B agrees that he is not entitled to exercise his normal contact arrangements during Party A's one half of the school holiday.
“Should Party B not be able to take leave during the children's school holidays the children shall reside with Party B from 18h00 on weeknights until before work the next morning, during Party B holiday period. Should Party A not be able to look after the children during daytime in these circumstances, then the parties shall appoint a caregiver and share the costs thereof equally.”
22. GL het aan die hand gedoen dat die klousule moes bly, maar sonder die invoeging van WGL. Sy vind dit belaglik dat sy moet betaal vir (of bydra tot die koste van) ˊn au pair indien sy ook nie by magte sou wees om na die kinders om te sien nie. Sy vermoed dat haar man, om haar te kortwiek om byvoorbeeld kunstefeeste by te woon, nie verlof sal neem nie en haar dan dwing om na die kinders om te sien. Sy het egter toegegee dat daar nie vir alle moontlike gebeurtenisse voorsiening gemaak kan word nie, en dat beide redelik sal moet optree in die beste belang van hul kinders.
23. WGL het getuig dat hy sou berus by die bevinding wat die hof sou maak. Hy was tevrede dat die ouerplan in enige hofbevel vervat word.
24. Ek is derhalwe daartoe geneë om die ouerplan goed te keur, insluitend klousule 1.2.7.4, maar met weglating van die gedeelte wat onderstreep is.
25. Sedert Februarie 2008 het Louw dit baie moeilik gevind om ˊn inkomste te verdien – die spanning van die egskeiding het die fibromyalgia vererger. As gevolg van die fibromyalgia kon sy nie voltyds werk nie. Sy kon nie meer die tuisskoling volhou nie en sy was bevrees dat WGL haar fisies leed sou aandoen indien sy die kinders, en in besonder die jongste, KL, in nasorg sou plaas. Die skool kom 1 uur smiddae uit en KL neem deel aan dans en ballet en doen ook klavier en koor. Sy sou haar werk so inrig dat sy smiddae na die kinders kan omsien. Sy wys daarop dat die kinders haar werklik nodig het by die huis.
26. Die gesin was woonagtig in ˊn vyf-slaapkamer woning met drie leefareas. GL het aanvanklik voorgestel dat sy en die kinders in die woonhuis aanbly, totdat dit verkoop word om die laste te verminder, maar WGL wou dit nie aanvaar nie – hy het haar meegedeel dat hy “bid daaroor, maar is nie so gelei nie”.
27. GL het ˊn duplex in Melkbos[strand] vir R4 700 per maand gevind en sy en die kinders bly daar – die vier kinders deel twee kamers. Die huurkontrak is vir ˊn periode van een jaar, maar sy voorsien dat dit hernu sal kan word. Die huur sluit water in. Die twee seuns het verkies, ten spyte van ˊn uitnodiging van WGL, om by haar aan huis te bly. Sy het waar moontlik uitgawes gesnoei.
28. Sy het ˊn lening[5] van R30 000 ontvang aan die begin van Januarie 2010. Die het sy vereffen en stuksgewys weer geleen. Teen Desember 2010 het die lening R25 000 beloop (sy wou nie openbaar wie die lening aan haar gemaak het nie). Sy was verder R12 910 aan mnr H Lochner verskuldig en R22 822 aan mnre Smit Kruger Ing.[6] Haar ouers het haar bygestaan om die kostes van haar trek te delg.
29. Sy het nie ondervinding om ˊn ander beroep te vind op haar ouderdom nie. Dit is hoogs onwaarskynlik dat sy ˊn betrekking as ˊn onderwyseres sal bekom. Sy sal graag met die handelsmerk werk wil voortgaan asook om haar skliderkuns te bemark. Geeneen bied egter enige vaste inkomste. Haar oogmerk is om kreatiewe werkswinkels aan te bied in skilder, fotografie en skryf. Die dupleks het net een leefvertrek, derhalwe is daar [nie] plek vir ˊn ateljee om haar skilderkuns en fotografie te beoefen nie en kan sy ook nie kursusse aanbied vir voornemende kunstenaars of fotograwe nie.
30. Sy skat haar inkomste op R2 000 per maand.[7] Gedurende die tydperk April tot Desember 2010 het sy nagenoeg R2 760 per maand verdien. Sy het byvoorbeeld ˊn skildery vir R6 900 verkoop en bedrae uit haar handelsmerk werk verdien.[8] Die berekening van haar uitgawes is gebaseer op historiese uitgawes.
31. WGL, op sy beurt, voer aan dat GL weier om te werk. Hy het aangevoer dat sy goed gekwalifiseer is en daarop gewys dat sy [as] ontvangsdame R7 000 per maand verdien. Hy ontken nie dat sy fibromyalgia het nie, maar voer aan dat daar geen kliniese getuienis is oor hoe dit haar werkvermoeë inkort nie. Sy het geweier om ˊn effektiewe middel, Lyrica, wat by sommige pasiente nadelige newe-effekte veroorsaak te neem, sodat ˊn mens nie weet of sy ook gebuk sou gaan aan die newe-effekte.
32. Hy het GL daarvan beskuldig dat sy sou gesê het dat sy net haar ogies flikker dan gee WGL vir haar nog geld. Hy het haar daarvan beskuldig dat sy R7 000 op ˊn rekenaar spandeer het sodat sy mansvriende op die Internet kon ontmoet, terwyl dit geld is wat vir die gesin aangewend moes word. Hy het haar verwyt dat sy haar hele klerekas vervang het, nog voor die bom gebars het, en, ondermeer, dat sy tien pare skoene gekoop het. GL het aangevoer dat sy R900 se oorskot fabriekskoene aangekoop het. Hy het toegegee dat sy 12 kilogram gewig verloor het, maar volhard dat sy slegs “designer labels” aangeskaf het.
33. Dit is na my mening duidelik dat GL nie in die afsienbare toekoms baie meer sal verdien as wat huidiglik die geval is nie.
34. Haar eis om onderhoud is in alle opsigte redelik and kan daar met moeite aangevoer word dat daar nie aan voldoen moet word nie. Die teenstand teen haar aansprake, soos hieronder uiteengesit sal word, was dat WGL dit dood eenvoudig nie kan bekostig nie.
35. GL se eis om onderhoud sluit in ook onderhoud ten aansien van die twee meerderjarige seuns wat nog by haar woonagtig is. WGL verwag, omdat die twee seuns reeds hul skoolopleiding voltooi het, en omdat hulle meerderjarig is, om direkte onderhoudsbetalings aan hulle te maak. Hy maak self ook voorsiening vir betaling van onderhoud ten aansien van die minderjarige kinders, as ˊn afsonderlike berekening, en kom dit derhalwe nie daarop aan, vir berekeningsdoeleindes, of GL regtens op ˊn bevel vir onderhoud ten opsigte van die meerderjarige seuns geregtig sou wees nie.
36. Behoudens om te vermeld dat daar wesenlike probleme bestaan in die verhouding wat WGL met sy kinders het, en dat hy van tyd tot tyd hulle ˊn speelbal gemaak het in die egskeidingstwis, is dit nie gewens of in belang van die kinders om verder daarop uit te brei nie. Die getuienis voor my was reeds dat WGL somtyds moedswillig opgetree het teenoor die kinders en wil ek ˊn herhaling van sodanige optrede voorkom.
37. AL1 verdien nog nie sy eie inkomste nie – waar hy nog besig is met indiensopleiding. PL is egter nog steeds aan die studeer en is hy derhalwe ook nog onderhoudsbehoeftig. Na my mening sal dit in die beste belang van al die partye, insluitend die kinders, wees, indien alle onderhoudsbetalings direk aan GL gemaak word.
38. WGL bedryf ˊn praktyk te Netcare B[…]. Dit is in die vinnig groeiendste deel van K[…]. Hy doen ook as deel van daardie praktyk konsultasiewerk te A[…] op Vrydae. Hy bedryf die praktyk op sy eie en word bygestaan deur ˊn ontvangsdame en ˊn boekhouer, vreemd genoeg, van Bloemfontein. Dit is skynbaar nie ˊn florerende praktyk nie.
39. Tydens die huwelik het hy nooit behoorlik aggeslaan op finansies nie. WGL het getuig dat, in retrospek, hulle reeds in 2005-6, toe hy nog ˊn praktyk in P[…] gehad het, bo hulle inkomste geleef het. Alhoewel hulle nie spandabelrig was nie, het hy niks oorgehou na verrekening van die praktyk se uitgawes nie. Die uitgawes het hy uit sy oortrokke rekening, verdere verband finansiering en die terughou van belasting gefinansier. Dit was nie volhoudbaar nie.
40. In 2006 het hy begin met sy nuwe praktyk en die verwagting gekoester van groot groei. Die B[…] hospitaal het egter nie gegroei soos verwag was nie. Hy woon nie bestuursvergaderings nie en kon hy gevolglik nie kommentaar lewer op die groei in pasiënte en bedbesetting nie. Nog steeds kon hy die lewensstyl nie finansier nie.
41. Die praktyk het gegroei en toe gestagneer en sy 2009 inkomste was laer as in 2008. WGL het besluit op ˊn nuwe fooistruktuur wat geblyk het ˊn fout te wees. Sy inkomste het onmiddellik gedaal. Hy het in Oktober 2010 teruggekeer na die ou struktuur en dit gaan nou beter.
42. GL het aangevoer dat WGL ˊn hoë verdienste-potensiaal het en dat hy baie beter kan doen uit sy praktyk. Die egskeiding het ooglopend ˊn negatiewe invloed op sy verdienvermoë. Sy voer nie aan dat hy doelbewus minder verdien nie, eerder dat hy nie ˊn emosionele oplossing vir die verbrokkeling van die huwelik wil vind nie, en haar probeer bestraf. Sy het aan die hand gedoen dat WGL ˊn skuldberader moes gaan sien en dat hy sy eie praktyk saboteer deurdat hy homself bemoei met haar en haar e-posse deurgaan. Hy kan beter doen in sy praktyk indien hy daarop konsentreer.
43. GL het aangevoer dat sy en die kinders nie vir WGL se swak bestuur bestraf moet word nie. Sy het aangebied om hom te help om R350 000 agterstallige skulde van sy praktyk in te vorder.
44. Verdermeer doen hy locum-werk vir ˊn dr De Haan, wat huidiglik in Australië is. Dr de Haan is aangestel as die senior ENT-spesialis te Alice Springs Hospitaal. Alhoewel WGL aanvanklik aangevoer [het] dat dit slegs ˊn deeltydse pos is, het hy toegegee, toe hy met dokumentasie gekonfronteer is, dat die aansteiling na ˊn redelike vaste aanstelling lyk. Dr de Haan sal ooglopend vir die afsienbare toekoms in Australië wees. Die waarskynlikhede moet dan wees dat WGL in die toekoms steeds fooie uit die locum-praktyk sal verdien.
45. Die inkomste wat hy uit die locum-werk verdien beloop R18 545 per maand.[9] Hierdie syfer is slegs ˊn kontantvloeisyfer. Die omsetsyfer is heelwat hoër. Die omset van die locum-praktyk het R241 715 beloop, waarvan R154 545 reeds ontvang was, dit wil sê, die omset is bykans 1.5 keer die kontantvloei. Die maandelikse inkomste uit die locum-praktyk beloop derhalwe nagenoeg R27 750 (R18 500 maal 1.5).
46. Hy lewer konsultasiedienste aan te die T[…] Hospitaal aan die Weskaapse Gesondheids Departement teen R11 000 per maand.
47. Laastens verdien hy ook tantième uit sy Afrikaanse boek “Mr Humperdink’s wonderful whatsit” wat vir skole voorgeskryf is. Die tantième beloop 10% van die rakprys van die boeke wat op grootmaat aan spesifieke skole gelewer word. ˊn Verdere boek is op pad. Hy het getuig dat die inkomste nie meer as R1 000,00 per maand beloop nie.
48. Die verweerder verdien ook inkomste uit twee meenthuise waarvan die inkomste R3 000,00 per maand per meenthuis is. Die meenthuis V[…] C[…] (Table View – aangekoop vir R275 000) se waarde is R470 000, terwyl die verband R475 000 beloop. Gedurende Januarie 2008 het die verweerder ook ˊn meenthuis te V[…] F[…] (Parklands) aangekoop vir R510 000,00 kort voor die eiendomsmark in duie gestort het. Dié se waarde is R461 000 en is daar ˊn verband van R560 000,00 daaroor geregistreer.
49. Die waardasies is van Remax bekom. Die meenthuise is identies en meen hy die waardasies is in die kol. Ten aansien van die meenthuis wat leeg gestaan het, het hy verduidelik dat hy ernstige probleme met huurders gehad het en dat die regsproses tyd geneem het. Hulle het huidiglik huurders vir beide die Table View (R4 000) en Parklands (R3 800) meenthuise, terwyl die verbandbetalings R8 800 per maand beloop. Die munsipale waardasie van V[…] C[…] beloop R770 000, en is in geskil geplaas met die munisipaliteit. V[…] F[…] se munisipale waardasie van R403 000 is na bewering ook verkeerd. GL het ook beswaar aangeteken teen die eiendomswaardasies waarop haar man gesteun het; dit verskil nie veel van die munispale waardasies nie. Sy ontken dat daar nie ekwiteit in die woonstelle is nie. Die waardasies waarop haar man steun kan nie korrek wees nie.
50. Ten aansien van huisvesting het hy getuig dat hy ˊn klein twee-slaapkamer woning gevind het vir R6 000, maar kon hy ongelukkig nie ˊn kontrak sluit nie. Hy het eerder ˊn vier-slaapkamer huis vir R8 250 per maand gehuur sodat daar ook blyplek vir die twee seuns sou wees. Hulle het egter verkies om by hul moeder tuis te gaan, omdat hulle hom blameer vir die verbrokkeling van die huwelik. Hy voer aan, sonder om redes te verskaf, dat dit “moeilik is om te regverdig om die huis te verander”. Omdat hy reeds ˊn huurder gehad het, het hy gevoel dat die huur nie buitensporig was nie. Hy aanvaar dat die kinders meestal by haar is en dat sy hulle rondry. Die een loseerder het regskennis en het dienste van R20 000 gelewer het, wat teen sy huur van R2 000 per maand verreken word – dit sal slegs nog 4 maande duur voordat hy sal moet begin om huur te betaal. Die ander loseerder is ˊn motorwerktuigkundige wat ook aan sy voertuig werk en hom van tyd tot tyd voorsien van ˊn leenvoertuig wanneer sy voertuig aan gewerk word. Dit het meegebring dat, vir twee maande, [daar] geen huur inkomste was nie.
51. Die duur woning, wat veel meer kamers het as wat WGL benodig, is na my mening oorbodig. Die gedagte om huur van loseerders te vorder het ooglopend misluk. Daar is derhalwe geen regverdiging vir WGL om voort te gaan om R8 250 per maand aan huur te spandeer nie. Hy sal ˊn ander en goedkoper plan moet maak.
52. WGL het ˊn ernstige kontantvloei tekort in die middel van 2008 ondervind. Hy het ˊn persoonlike lening van R150 000 van sy moeder ontvang. R50 000 is aangewend vir die studies van AL1 en R100 000 om sy oortrokke rekening onder beheer te bring. Hy ontken dat hy ooit sou gese het dat die lening nie terugbetaalbaar was nie. Hy het egter ˊn verdere R45 000 by sy moeder geleen. Nog ˊn verdere R40 000 is by haar geleen vir die regskoste in die onderhawige geding. Die totale bedrag geleen beloop R235 000 (Hy maak voorsiening vir terugbetaling aan sy moeder in die bedrag van R3 608 per maand).[10] GL het aangevoer dat die lening van sy moeder was nie ˊn ware lening nie, maar deel van sy erfporsie. WGL het getuig dat dit lenings was en nie geld wat hom sou toekom as ˊn erfporsie nie.
53. Ten aansien van AL1 se lening het hy getuig dat sy moeder R45 000 aan AL1 geleen het, maar voer WGL aan dat daar ˊn verdere ooreenkoms tussen hom en sy moeder is dat WGL die lening sou terugbetaal. Dit is nieteenstaande sy getuienis dat die lening sou dien om AL1 verantwoordelikheid vir sy eie finansiële sake aan te leer. Dit lyk my dat ˊn terugbetaling deur WGL hierdie oogmerk van die lening sal ondergrawe. Hy sal sy moeder vra of sy AL1 se studies vir ˊn verdere jaar sal betaal. Daar kan tog, op sy eie getuienis, geen verpligting op WGL rus om die lening gemaak aan AL1 aan sy moeder terug te betaal nie.
54. Die bedrag van agterstallige onderhoud beloop R83 767,68. GL het getuig dat sy haar teen ˊn muur vasgeloop geloop het. In November 2010 is sy van bakboord na stuurboord gestuur in die onderhoudshof te Atlantis. Intussen het sy ook ˊn kriminele klag vir die agterstallige onderhoud aanhangig gemaak in die Atlantis landdroshof. Sy het ook gevra om dat hy gearresteer word. Mnr Lotz, die aanklaer, het skynbaar besluit (na oorleg met GL se destydse prokureur) om nie te vervolg nie en is die saak omskep in ˊn ondersoek na sy vermoeë om die agterstallige onderhoud te betaal. WGL is geadviseer om die Hooggeregshof te nader indien hy die onderhoud sou wou verlaag. Hierdie ondersoek is nog hangende.
55. Hy het toegegee dat hy vanaf 2009 nie voldoen het aan die onderhoudsbevel nie, en dat self waar hy betalings gemaak het, dit dikwels laat was. Hy het verduidelik dat die Ontvanger ˊn agent aangestel het wat beslag gelê het op die opbrengs van die verkoop van die gemeenskaplike woning en dat dit drie maande geduur het om die probleem op te los. Sy wys daarop dat WGL R35 000 ten aansien van PL se studies kon betaal terwyl die agterstallige onderhoud R80 000 beloop het. Haar onderhoud was so ver agterstallig dat sy lenings moes aangaan. WGL was heeltemal bereid om die lening van R12 000 wat mnr Lochner gemaak het terstond terug te betaal.
56. Hy wou nie toegee dat daar ˊn verptigting op hom gerus het om die agterstallige onderhoud te betaal nie, dit laat hy in die hande van die Hof. Hy voer aan dat hy nie bloot die bevel verontagsaam het nie. Hy sou nie ˊn onderhoudsbevel minag nie, maar as daar nie geld is nie, sal hy bloot nie kan betaal nie.
57. WGL het sy versuim om sy verpligtinge teenoor die Ontvanger na te kom. Die misverstand wat bestaan het tussen hom en die Ontvanger is uit die weg geruim. Alhoewel die Ontvanger op 16 November 2010 ingevolge artikel 91(1) van die Inkomstebelastingwet, 58 van 1962, vonnis teen WGL geneem het in die bedrag van R383 267.45[11], is hy gewikkel in onderhandelinge om die agterstallige belasting te vereffen. Die Ontvanger neem direk besit van sy persoonlike inkomste. Omdat hy sy praktyk geïnkorporeer het op 7 September 2010 kan die Ontvanger nie verder beslag lê op inkomste van die praktyk nie. Hy was steeds nie by magte om sy voorlopige belasting betalings te maak nie. Sy het haar daaroor bekla dat hy nie teenoor haar verduidelik het wat die posisie was nie. Sy het nie insae in sy belasting verpligtinge gehad nie. Sy het aangevoer dat dit nie haar skuld was dat die belastings agterstallig was nie. Hy het aanvaar dat die ontvanger se eise voorkeur geniet bo dié van die onderhoudsbevel.
58. Absa het reeds sy fasiliteite opgeroep. Hy is deur Absa op ˊn swartlys geplaas en kan derhalwe geen finansiering bekom nie. Sy ooreenkoms met Absa is dat hy voortaan sy skuld soos ooreengekom moet terugbetaal. Die uitstaande bedrag van R186 243.75[12] verskuldig aan Absa moet terugbetaal word aangesien dit ˊn krimpende fasiliteit [is]. Die verbandspaaiemente word ook vanuit hierdie rekening gedelg.[13] Behoudens vir die betaling van die verbandspaaiemente is sy rekeninge by Absa andersins dormant. Sy kredietkaart by Absa is gevries en moet hy R3 000 per maand op die verskuldigde bedrag van R75 000 betaal. Absa het aangedring op R5 000 per maand.Die FNB-rekening toon ˊn batige saldo.[14] Hy betaal sy persoonlike uitgawes uit die FNB-rekening van die praktyk in die naam van die maatskappy.
59. Hy het self ˊn begroting opgestel. Daarin word voorsiening gemaak vir R4 000 vir ˊn voertuig. Hy het aangevoer dat sy bestaande motor reeds 350 000 km afgelê het; dat hy nie sonder ˊn motor kan klaar kom nie en dat ˊn motor ˊn invloed op sy praktyk het. Hy spandeer R500 per week aan brandstof. WGL het getuig dat dit onvanpas is vir ˊn mediese spesialis om in ˊn 1995 model voertuig rond te ry wat reeds meer as 350 000 km afgelê het. Hy het toegegee dat hy nooit ˊn luukse motor gehad het nie, en daarop gewys dat hy, omdat hy op ˊn swartlys is, ook nie nou een sal kan aanskaf nie. Ek laat derhalwe die voorsiening in die begroting buite rekening.
60. Dit is uit voorgaande duidelik dat beide partye hulself in ˊn finansiële verknorsing bevind. Dit is onder die omstandighede onaanvaarbaar dat WGL probeer om sy huidige woning – met die huur daaraan verbonde – te regverdig.
61. Die indruk wat die getuienis van WGL op my gemaak het is dat hy onwillig is om sy egskeiding te aanvaar, dat hy die skuld daarvoor op die skouers van GL plaas, en dat hy bereid is om haar en die kinders te laat kort skiet om haar te straf. Die finansiële inligting is karig en slaan nie ag op sy inkomste nie, maar op kontantvloei. Daar is afwykings tussen kontant-ontvangstes en -uitgawe.
Geen ooglopende stappe word gedoen om nagenoeg R350 000 se debiteure in te vorder nie. Hy het eensydiglik besluit, nie net om nie die tussentydse onderhoudsbevel na te kom nie, maar ook om terselfertyd nie sy eie onderneming om R20 000 per maand te betaal, ook na te kom nie. Dit is eweneens onaanvaarbaar.
62. Sy gemiddelde maandelikse praktyksinkomste beloop R106 000. Dit is egter ook ˊn kontanvloeisyfer. Rekeningkundig moet WGL se inkomste bereken word met verwysing na sy omset (en nie kontant-ontvangstes nie). Die syfers moet eweneens aangepas word. Die omset van die Blaauwberg praktyk het R902 747 beloop, waarvan R813 006 reeds ontvang was. Sy omset beloop derhalwe nagenoeg R120 000 per maand.
63. GL het daarop gewys dat R106 000 se ontvangste nie uit die bankstate blyk nie. WGL het verduidelik dat alle geld van die praktyk gaan deur die boeke van die praktyk, maar nie noodwendig deur die bank nie – vele uitgawes word direk in kontant vereffen. Dit onderstreep des te meer waarom dit nie van pas is om bloot op die kontantvloei berekeninge staat te maak nie, en boesem dit ook geen vertroue ten aansien van die betroubaarheid van die syfers nie. Die aanpassing ten aansien van omset beloop alreeds nagenoeg R23 000 (R14 000 in die Blaauwberg praktyk en R9 000 in die praktyk van dr De Haan).
64. GL het self bereken dat die uitgawes van die praktyk R25 000 beloop. Sy was baie nou betrokke by die administrasie van sy praktyk, maar het sy sedert 2007, nadat WGL haar kredietkaart opgeknip het, nie meer insae is sy praktyk gehad nie. Sy het egter aangevoer dat die trekkings uit sy praktyk oordadig was, en dat sy rekenmeester hom nie van goeie advies bedien het nie. WGL het getuig dat navorsing aangetoon het dat die gemiddelde koste om die praktyk van ˊn oor-neus-keel spesialis te bedryf, R55 000 per maand beloop en aangevoer dat sy praktyks uitgawes van R44 500 derhalwe billik was. Ek is bereid om ˊn bedrag van R44 000 as billik aan te merk.
65. WGL maak self aanspraak op R30 000,00 per maand vir onderhoud -hierdie berekening behoef nadere beskouing – veral aangesien dit ook insluit ˊn gedeelte van die onderhoud ten opsigte van die kinders en hulle skoolgelde, en waar dit voorsiening maak vir items wat nie nou tersprake kan wees nie, soos die R4 000 vir die motorvoertuig, en die oordadige huur van R8 250 per maand. Hierdie laasgenoemde twee items alleen behoort ten minste ˊn vermindering van R6 000 op die begroting in te hou.
66. GL het getuig dat sy deurgaans gevra het vir ˊn kontantvloeistaat, maar daar is nooit volledige state verskaf sodat daar ˊn vergelyk getref kon word of ontledings gemaak kon word nie. Sy het in besonder die geloofwaardigheid van die staat verskaf op 1 Februarie 2011[15] aangeval, omdat dit beweerdelik ˊn vervalsing van die stempel van ˊn kommisaris van ede bevat het. Die kritiek op die stempel is nooit opgeklaar nie aangesien die rekenmeester nooit as ln getuie geroep is nie. WGL het nooit sy beloftes nagekom om te reël dat sy met sy rekenmeester ontmoet nie. Sy het getuig dat sy die bestuurstate bevraagteken aangesien sy van geen ondersteunende dokumentasie voorsien is nie, en aangesien sy nooit met die rekenmeesters kon ontmoet nie.
67. WGL het ˊn verdere bundel van finansiële ontledings ingehandig.[16] Dit het die uiteensetting van 3 Februarie 2011[17] verder gekwalifiseer.
68. GL het baie gewag gemaak van die afwykings wat voorgekom het in die berekeninge deur WGL en sy rekenmeester. So byvoorbeeld het sy daarop gewys dat sy begroting van 3 Februarie 2011[18], voorsiening gemaak het vir ˊn bedrag van R30 990 per maand vir WGL, ˊn enkeling, terwyl sy begroting van 28 Januarie 2010 R26 185,30 beloop het.[19]
69. WGL het daarop gewys dat hierdie begroting nie ˊn begroting is slegs vir hom as enkeling nie, maar dat vele van die uitgawes ook uitgawes van die geheel van die gesin is – soos byvoorbeeld kruideniersware, waar hy twee maal per dag kos vir die twee dogters voorsien, en ook R10,00 per dag per kind gee vir kos by die skool.
70. GL het daarop gewys dat die tendens wat die syfers openbaar ontleed moes word. In Maart 2008 het hy R58 000,00 verdien het, en ˊn jaar later word ˊn bedrag begroot in Maart 2009 vir R105 000.00[20]. Sy inkomste het gegroei met 24% vanaf Maart 2009 tot September 2009, en is hy nou in ˊn beter finansiële posisie as wat hy was tydens die reël 43-aansoek. GL wys voorts daarop dat die inkomste van diemeenthuise met 53% verhoog het. Rentekoerse op verbande het ook verminder
71. Ten aansien van WGL se begroting[21] vermeld sy dat die skoolgelde ten aansien van PL nou wegval. Sy studies is reeds voor betaal. Die skoolgelde van die kinders moet ook afwaarts aangepas word (die syfer van R1 400 is slegs van toepassing op die vorige jaar).
72. GL het in besonder klem gelê daarop dat terwyl sy geregtig is op onderhoud in die bedrag van nagenoeg R26 000,00, WGL se persoonlike trekkings uit sy praktyk R26 719 beloop (terwyl hy aandui dat haar onderhoud R31 651 beloop).[22]
73. Ten aansien van sy trekkings[23] het WGL getuig dat hy heelwat kontant OTM-onttrekkings maak en dit gebruik om ander items te befonds. Hy het verduidelik dat sy hoë kontanttrekkings daaraan te wyte was dat hy kontant gebruik om ander uitgawe-items te befonds.
74. Sy gemiddelde trekkings beloop R48 000 per maand (wat onderhoud aan GL in die bedrag van R15 000 na R18 000 per maand insluit). Die beskikbare bedrag vir onttrekkings beloop R28 966 per maand Daar moet egter R27 000 per maand bygevoeg word as synde inkomste uit die locum-praktyk.
75. Mnr de la Rey het aan haar gestel dat daar eenvoudig nie genoeg fondse is om aan beide se behoeftes te voldoen nie, en dat hy eenvoudig nie kan voldoen aan ˊn onderhouds-eis van R31 000 per maand nie.
76. Mnr de la Rey wys daarop dat WGL R63 000 per maand sal moet beskikbaar hê om aan beide van hulle se begrotings te kan voldoen. Die beskikbare bedrag beloop egter R47 966 per maand (R28 966 waarby bygevoeg moet word ˊn verdere R18 500 wat ontvang word uit die locum-werk vir dr De Haan asook die tantieme verdien uit sy skryfwerk, R500). Na GL se aanspraak van R31 000, laat dit vir hom met R16 000 (die helfte van sy begroting). Na inagneming van die kinders se skoling (R3 000) hou hy R13 000 oor.
77. Die berekening van mnr de la Rey moet egter met die omset hierbo na verwys aangepas word, en die onnodige uitgawes moet geïgnoreer word. Dan wil dit my voorkom dat die berekening dan as volg lyk: die beskikbare bedrag beloop R61 000 (R28 966 plus R14 000 en R18 500 plus R9 000) asook die tantieme van die boek). Dit laat hom met R30 000 na die aanspraak van GL, en dan hou hy nog steeds R28 000 oor na inagneming van R3 000 op skoolfooie.
78. Op 18 Januarie 2011 het WGL ˊn formele aanbod[24] aan haar gemaak waarin hy R15 000,00 per maand onderhoud aangebied het, indien dit ook die twee seuns, AL1 en PL, insluit. Hy het aangedui dat hy sou verkies om hulle "apart" te onderhou, in welke geval hy GL R11 000,00 per maand aangebied het. Hy het voortgegaan "indien ons nie tot ˊn vergeiyk kan kom nie sal ek die hof vra om jou net R10 000 per maand te gee. Dit is billik omdat jy maklik R7 000 of meer per maand as ontvangsdame of PA kan verdien. Jy kan nog meer verdien as onderwyseres. Die hof sal dit dan waarskynlik toestaan."
79. WGL het aangevoer dat hy nie in staat is om die R30 990 wat sy begroting in die vooruitsig stel te trek nie. WGL het aangevoer dat indien hy gelas sou word om meer as R18 000 per maand onderhoud te betaal hy die bevel noodwendigerwys nie sou kon nakom nie (ˊn situasie wat hy graag sou wou vermy). Hy het aangevoer, met verwysing na ˊn begroting opgestel deur sy rekenmeester, dat hy nie meer as R10 000 per maand kon betaal vir onderhoud en huisvesting nie. Hy het verskeie voorstelle aan die hand gedoen om die tekort aan te spreek – alles daarvan het geslaan op wat GL sou moes doen om uitgawes te verminder.
80. Dit wil my egter voorkom dat die submissies nie korrek is nie. Selfs indien WGL nie die volle voordeel van sy omset ontvang as gevolg van slegte skulde nie, is hy nog steeds heelwat beter daaraan toe as wat die berekening sou wou voorgee. Verdermeer kom dit my voor dat sy begroting in iedere geval oordadig is – die items vir die voertuig en huur moet verminder word met nagenoeg R6 000. Hierdie geringe aanpassings sal beide die begrotings van WGL en GL haalbaar maak. WGL sal in iedere geval stappe moet doen om sy agterstallige skuld van R350 000 spoedig moontlik in te vorder
81. Alhoewel ek bereid is om ˊn voordeel van twyfel aan WGL te gee, meen ek nog steeds dat hy in staat sal wees om R24 000 onderhoud per maand te kan betaal.
82. GL verwyt hom vir die oploop van skuld in die regsproses. Hy het aangevoer dat die regskoste reeds meer as R330 000 beloop en dat die koste van die huweliks berader ook nog uitstaande was. Hierdie was alles onnodige kostes. Hy het by sy moeder geld geleen om die egskeidingsaksie se regskostes te finansier. Ten aansien van die regslui het hy aangevoer dat hulle optrede immoreel was. Hy het getuig dat mnr Kruger ondubbelsinnig bewus van sy omstandighede was en dat hy dan liewer nie die saak namens GL moes neem nie. WGL het aangevoer dat hy nie verantwoordelik gehou kan word vir die koste van ˊn ander party (die prokureur) nie – mnr Kruger het nie het nodig gehad om sy skrywes te beantwoord nie en daardeur die kostes op te loop nie. Hy is daarop gewys dat die baie kostes opgeloop was in die reël 43(6) aansoek om vermindering van onderhoud. Hy het hom bekla oor die verloop wat die aansoek geneem het. GL was grotendeels suksesvol met haar aansprake en is sy geregtig op haar koste. Sy het gevra dat ek drie kwart van haar totale koste moet toestaan. Dit is gelykstaande aan die gebruiklike party en party koste skaal.
83. Ek verleen derhalwe die volgende bevele:
(a)......ˊn Egskeidingsbevel ingevolge waarvan die huwelik tussen die partye ontbind word.
(b).....ˊn Bevel ingevolge waarvan die ooreengekome ouerplan (met weglating van die gedeelte in kursief van klousule 1.2.7.4) waarkragtens die partye hul ouerlike regte en verantwoordelikhede soos omskryf in artikel 18 van die Kinderwet, Wet 38 van 2005 ten opsigte van die minderjarige kinders, KL (gebore op 31 Julie 2000) en AL2 (gebore op 25 Junie 2003) sal behou, hierby aangeheg, gemerk "A" ingesluit word by die egskeidings bevel.
(c).....Ten aansien van die twee minderjarige kinders, asook Adriaan Gerrit en Petrus Johannes, ˊn bevel in terme waarvan Verweerder gelas word om onderhoud ten opsigte van die kinders aan Eiseres te betaal tot hul 18de verjaarsdag of totdat elkeen hul Graad 12 skooljaar of hul tersiere studies suksesvol voltooi het (welke ookal laaste mag wees), soos volg:
(i).....Deur betaling van ˊn bedrag van R3 000,00 per maand per kind, voor/op die 1ste dag van elke maand by wyse van debietorder direk in sodanige rekening as wat Eiseres van tyd tot tyd mag nomineer.
(ii).... Verweerder sal alle redelike uitgawes ten opsigte van die kinders se mediese, tandheelkundige, hospitaal, ortodontiese en oftalmotogiese behandeling betaal, insluitend enige bedrag betaalbaar aan ˊn fisioterapeut, arbeidsterapeut, psigiater, sielkundige of chiropraktisyn, medikasie (verkry op skriftelike voorskrif) en die koste verbonde aan die voorsiening waar nodig van ˊn bril of kontaklense en vir hierdie doe! sal Verweerder die kinders geregistreer hou as afhanklikes op sy huidige mediese fonds of sodanige ander fonds met soortgelyke voordele.
(iii)...Verweerder sal die kinders se redelike opvoedkundige uitgawes betaal met insluiting van die volgende (hoewel dit nie beperk sal wees hiertoe nie): Alle skoolgelde en addisionele onderriggelde (waar redelik benodig deur die kinders), die koste van skooluitstappies en kampe, redelike buite-muurse en sportaktiwiteite waaraan die kinders mag deelneem, die koste van klubfooie en sporttoere (sowel as die redelike vervoer en akkommodasiekoste daaraan verbonde), kompetisies, olimpiades en dies meer en die koste van skoolboeke, skryfbehoeftes, skooluniforms, sowel as klere en toerusting benodig vir die buite-muurse en sportaktiwiteite en die koste van rekenaars, die Internet, musiekinstrumente en dies meer.
(iv) Verweerder sal die redelike koste verbonde aan die kinders se tersiere opvoeding, met insluiting van hul klasgelde en enige ander fooie gehef deur ˊn tersiere inrigting, die koste van boeke, skryfbehoeftes, buitemuurse en sportaktiwiteite en die koste van rekenaars, die Internet, musiekinstrumente en dies meer.
(v)....Die onderhoudsbedrag vermeld in (i) hierbo sal jaarliks verhoog op die datum van herdenking van die egskeiding met die persentasie in die Verbruikersprysindeks so os gepubliseer deur die Sentrale Statistiekburo van Suid-Afrika (gebaseer op die twaalf woonareas soos gereflekteer in die middel uitgawe groep) vir die voorafgaande twaalf maande.
(d)......ˊn Bevel in terme waarvan Verweerder gelas word om Eiseres te onderhou tot haar dood of hertroue, welke ookal eerste mag plaasvind, soos volg:
(i)......Deur betaling van ˊn bedrag van R12 000,00 per maand betaalbaar voor/op die 1ste dag van elke maand by wyse van debietorder direk in sodanige rekening as wat Eiseres van tyd tot tyd mag nomineer.
(ii).... Deur Verweerder se redelike uitgawes te betaal ten opsigte van haar mediese, tandheelkundige, chirurgiese, hospital, ortodontiese en oftalmologiese behandeling, insluitend enige bedrag betaalbaar aan ˊn fisioterapeut, arbeidsterapeut, psigiater, sielkundige of chiropraktisyn, die koste van medikasie (verkry op skriftelike voorskrif) en die voorsiening waar nodig van ˊn bril of kontaklense en haar vir hierdie doel as afhanklike op sy huidige mediese fonds te registreer of ˊn fonds met soortgelyke voordele.
(iii)....Die onderhoudsbedrag vermeld in (i) hierbo sal jaarliks verhoog op die datum van herdenking van die egskeiding met die persentasie in die Verbruikersprysindeks soos gepubliseer deur die Sentrale Statistiekburo van Suid-Afrika (gebaseer op die twaalf woonareas soos gereflekteer in die middel uitgawe groep) vir die voorafgaande twaalf maande.
(e)......Geen bevel word verleen ten aansien van die verdeling van die partye se gemeenskaplike boedel nie.
(f)......Verweerder word gelas om die Eiseres se regskostes, insluitend enige verspilde koste, soos ooreengekom of getakseer, te betaal.
….....
Sven Oliver, WnR
[1] Bundel, bladsy 76–85.
[2] Bundel, bladsy 2235, paragraaf 41.
[3] Bundel, bladsy 259.
[4] Bundel, bladsy 82.
[5] Bundel, bladsy 170.
[6] Bundel, bladsy 143.
[7] Bundel, bladsy 280 (33 van die inskrywings stel onderhoud daar).
[8] Bundel, bladsy 280.
[9] Bundel, bladsy 307.
[10] Bundel, bladsy 278.
[11] Bundel, bladsy 253.
[12] Bundcl, bladsy 126.
[13] Bundel, bladsy 104–106.
[14] Bundel, bladsy 93–103.
[15] Bundel, bladsy 6A.
[16] Bundel, bladsy 305–307.
[17] Bundel, bladsy 278.
[18] Bundel, bladsy 304.
[19] Bundel, bladsy 3.
[20] Bundel, bladsy 58.
[21] Bundel, bladsy 304.
[22] Bundel, bladsy 59.
[23] Bundel, bladsy 305.
[24] Bundel, bladsy 286.