South Africa: Western Cape High Court, Cape Town Support SAFLII

You are here:  SAFLII >> Databases >> South Africa: Western Cape High Court, Cape Town >> 2011 >> [2011] ZAWCHC 440

| Noteup | LawCite

Voster v S (A275/2011) [2011] ZAWCHC 440 (25 November 2011)

Download original files

PDF format

RTF format




IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA (WES-KAAP HOE HOF, KAAPSTAD)



SAAKNR: A275/2011

In die saak tussen:

HEINRICH MELVIN VOSTER ….............................................................Appellant

en

DIE STAAT …....................................................................................Respondent


Hof: BAARTMAN, J en VAN STADEN, WnR

Verhoordatum: 25 NOVEMBER 2011




UITSPRAAK: 25 NOVEMBER 2011


VAN STADEN, WnR


1. Die Appellant het in die Landdroshof van Vredendal tereggestaan op 'n aanklag van poging tot moord. Hy is op 1 April 2011 skuldig bevind aan aanranding met die opset op ernstig te beseer en gevonnis tot 5 jaar gevangenisstraf. Verlof tot appel is toegestaan teen beide skuldigbevinding en vonnis.


AGTERGROND FEITE

2. Die aanklag teen die Appellant het voortgespruit uit wat deur die enigste staatsgetuie as 'n "jol" beskryf is, wat op 'n naweeksaand in Mei 2010, in 'n kroeg op Lutzville plaasgevind het. By hierdie skynbaar jolige geleentheid het die drank vryelik gevloei Die jolyt het tot 'n einde gekom in die vroee oggendure en die staatsgetuie, Mnr Cupido, het saam met sy broer die kroeg verlaat. Buite het hy opgemerk dat die Appellant se broer Mnr Adio Voster (Beskuldigde 3 in die hof a quo) teen die Klaer se motorvoertuig leun. Beskuldigde 3 en die Klaer se broer het in 'n argument betrokke geraak en daarna in 'n stoeiery. Die Klaer het probeer om hulle uitmekaar te maak en hy en die Appellant wat toe skynbaar ook ingemeng het, het daarna in 'n worsteling betrokke geraak. Volgens die Klaer het die Appellant horn toe met 'n bottelkop onder sy oog gesteek. Sy getuienis oor hierdie steekwond en die feit dat die met 'n bottelkop toegedien is, kom voor om gebaseer te wees op die feit dat die wond nie 'n reguit sny is nie1.

3. Hoe die bakleiery presies verloop het, is om die minste te se uiters vaag. Die Klaer. wat nie anders as 'n swak getuie beskryf kan word nie, was volgens sy eie weergawe onder die invloed van drank. Wat baie aspekte betref kon hy nie onthou wat gebeur het nie en wat ander betref is sy verduideliking, om die minste daarvan te se, onsamehangend en klaarblyklik gebaseer op afleidings.


4. Die Appellant is saam met twee ander Beskuldigdes aangekla. Die Klaer het getuig dat Mnr Duwayne Owies (Beskuldigde 2) 'n oop mes na die Appellant gegooi het wat die Appellant toe gevang het. Na bewering het die Appellant horn toe met die mes gesteek of probeer steek. In sy uitspraak met betrekking tot skuldigbevinding verwys die landdros nie weer na hierdie insident van die mesgooiery nie. Hierdie getuienis was glad nie oortuigend nie en mens sou dus wou aanvaar dat die landdros dit verwerp het. Soos hieronder aangedui het die landdros egter na die mesgooiery verwys toe dit by vonnisoplegging kom.

5. Dit is ook van belang om daarop te let dat die bakleiery plaasgevind het net na die sluitingstyd van die kroeg en dat daar 'n hele aantal mense, tot soveel as vyftien in die omgewing van die kroeg was. Volgens die Klaer het Beskuldigde 2 en 3, horn in sy gesig geskop en op sy kop getrap. Twee ander persone, ene Duncan en George, wat skynbaar ook potensiele staatsgetuies was2, het toe gekom en vir Beskuldigde 2 en 3 van die Klaer afgeskop. Dit is onbevredigend dat die twee staatsgetuies wat in die hof teenwoordig was nie geroep is om die swak getuienis van die Klaer aan te vul en op te klaar nie. Die Appellant is skynbaar na die voorval na die hospitaal geneem waar sy wonde toegewerk is en hy kort daarna ontslaan is.

6. Tydens die kruisverhoor van die Klaer het beide Appellant en Beskuldigde 2 erkennings gemaak. Appellant het erken dat:

6.1. Hy die Klaer een hou met die vuis geslaan het toe dit nie nodig was om dit te doen nie.

6.2. Hy toe 'n bottelkop in die hande gekry het waarmee hy die Klaer wou steek. Hy weet egter nie of hy die Klaer met die bottelkop getref het nie.

6.3. Die Klaer horn daarna herhaaldelik in sy gesig geslaan het, tot so 'n mate dat sy oe was vol bloed.

7. Beskuldigde 2 het erken dat hy die Klaer aangerand het deur op horn te trap. Hy het verder verduidelik dat Klaer bo-op Appellant gesit en horn herhaaldelik in sy gesig geslaan het en dat Appellant se gesig vol bloed was. Hy het toe in noodweer die Klaer van die Appellant afgeskop. Hy het egter daarna op die Klaer se rug getrap sonder dat dit nodig was. Beskuldigde 2 is skuldig bevind en tot ses maande gevangenisstraf gevonnis.

8. Beskuldigde 3, wat nie getuienis aangebied het nie en ook nie enige erkennings gemaak het nie is onskuldig bevind. Die landdros het in die verband bevind dat Beskuldigde 3 nie 'n aggressor was nie en hoewel die Klaer 'n eerlike getuie was, het hy bevraagteken of Beskuldigde 3 die Klaer geskop het terwyl hy op die grond gele het, soos deur die Klaer getuig.

9. Uit die uitspraak kom dit voor asof die landdros die skuldigbevindings van die Appellant en Beskuldigde 2 gebaseer het op die erkennings wat hulle gemaak het. Wat Appellant betref wys die landdros daarop dat hy erken het dat hy die bottelkop gehad en hy aanvaar dus dat hy die eerste hou met die bottelkop, soos deur die Klaer getuig, toegedien het. Ek glo dat die landdros geregverdig was om hierdie bevinding te maak. Daar is dus geen grondslag waarop die Appellant se appel teen skuldigbevinding kan slaag nie. Ingevolge sy erkennings en die geregverdigde gevolgtrekking dat hy die Klaer met die bottelkop onder sy oog gesteek het is hy ten regte skuldig bevind aan aanranding met die opset om ernstig te beseer. Ek sou dus die appel teen skuldigbevinding van die hand wys.


VONNIS


10. In sy uitspraak met betrekking tot vonnis verwys die landdros weereens na die mes wat op 'n stadium deur Beskuldigde 2 gegooi is en deur die Appellant gevang is. Hy meld dan dat daar onsekerheid is oor hoe hierdie mes by die Appellant beland het en bevind gevolglik dat Beskuldigde 2 se aandeel nie so groot is nie. Dit kom my voor asof die landdros dus, minstens vir vonnisdoeleindes, in ag geneem het dat die Appellant tydens die geveg met die Klaer in besit van 'n mes was. Ek doen aan die hand dat so 'n gevolgtrekking nie geregverdig is nie. Vir vonnis-doeleindes moes aanvaar word dat die Appellant niks meer gedoen het as om die Klaer een hou met 'n bottelkop te steek en 'n oppervlakkige wond toe te dien nie. Die Appellant het aanvanklik toe hy in die stoeiery ingemeng het sy broer probeer help en het dus op 'n vroee stadium van die geveg in noodweer opgetree. Hy was nie die aanvanklike aggressor nie.


11. Die persoonlike omstandighede van die Appellant wat aan die hof voorgele is, was dat hy twee afhanklike minderjarige kinders het wat onderskeidelik 8 en 2 jaar oud is en dat hy voorheen betrokke was in 'n saamleef-verhouding met die ma van die twee kinders. Appellant het van tyd tot tyd semi-geskoolde werk saam met ketelmakers gedoen en sy gemiddelde maandelikse inkomste het sowat R 4 000.00 beloop. Toe die misdaad gepleeg is was die Appellant 26 jaar oud.

12. Die verdediging het tydens betoog ter versagting daarop gewys dat die Appellant beserings opgedoen het waarvoor hy hegsteke moes kry. Op sy elmboog en ook op sy rug was daar verdere steekwonde. Die wyse waarop die beserings wat Appellant opgedoen het tydens die betoog ter versagting van vonnis, in vae terme aan die hof voorgehou is, is uiters onbevredigend. Dit is klaarblyklik wenslik dat dit opgeklaar moes gewees het. Ter versagting van vonnis moet dit na my mening egter aanvaar word dat Appellant ook tydens die geroesemoes wat daardie aand plaasgevind het ernstig beseer is.

13. Wat die Appellant se vorige veroordelings betref is dit so dat hy 'n hele aantal vorige veroordelings het vir aanranding en aanranding met die opset op ernstig te beseer. In 2003 is hy vir aanranding gevonnis tot vyftien maande gevangenisstraf en in 2005 is hy in Maart en April onderskeidelik gevonnis tot agtien maande gevangenisstraf en twee jaar gevangenisstraf ingevolge Artikel 276(1 )(i) van die Strafproseswet, 51 van 1977, vir aanranding met die opset om ernstig te beseer. Daarna, hoewel hy in ander misdade betrokke was het hy horn van geweldsmisdade weerhou Na my mening regverdig die Appellant se lang lys vorige veroordelings klaarblyklik direkte gevangenisstraf. Die Landdros was dus korrek om te bevind dat direkte gevangenisstraf die aangewese vonnis is.

14. Die persoonlike omstandighede van die Appellant, en bepaald die feit dat hy minderjarige kinders onderhou en ook vir amper 'n jaar verhoorafwagtend in die gevangenis was, is versagtend. So ook die feit dat Appellant vir 'n tydperk van vyf jaar voor die voorval nie geweldsmisdade gepleeg het nie. Die Appellant is nog jonk en 'n mens wil die hoop uitspreek dat daar nog 'n kans op sy rehabilitasie is. In al die omstandighede is ek die mening toegedaan dat die landdros fouteer het deur nie 'n gedeelte van die vyf jaar gevangenisstraf wat die Appellant opgele is, op te skort nie.

15. Ek sou die skuldigbevinding bekragtig, maar die vonnis tersyde stel. Ek stel verder voor dat 'n vonnis van vyf jaar gevangenisstraf opgele word, waarvan 'n tydperk van drie jaar en ses maande opgeskort word, op voorwaarde dat Appellant nie gedurende die tydperk van opskorting skuldig bevind word aan 'n misdaad waarvan geweld 'n element is nie. Ek sou ook gelas dat die vonnis ingevolge Artikel 282 teruggedateer word om 'n aanvang te neem op 1 April 2011.


W H VAN STADEN

Waarnemende Regter Van Die Hoe Hof

25 November 2011


Ek stem saam. Die skuldigbevinding van die Appellant aan aanranding met die opset om ernstig te beseer word bekragtig. Die vonnis word tersyde gestel en 'n vonnis van vyf jaar gevangenisstraf waarvan 3 (drie) jaar en 6 (ses) maande opgeskort word vir 'n tydperk van 3 (drie) jaar word opgele. Die opskorting is onderhewig aan die voorwaarde dat Appellant nie weer tydens die tydperk van opskorting skuldig bevind word aan 'n misdaad waarvan geweld 'n element is nie en waarvoor hy tot onopgeskorte gevangenisstraf, sonder die keuse van 'n boete gevonnis word.






E BAARTMAN

Regter Van Die Hoe Hof

25 November 2011


1Rekord bladsy 7 reel 18-20.

2Rekord bladsy 10 reel 14 en 15.