South Africa: Western Cape High Court, Cape Town Support SAFLII

You are here:  SAFLII >> Databases >> South Africa: Western Cape High Court, Cape Town >> 2012 >> [2012] ZAWCHC 134

| Noteup | LawCite

Jamneck v S (A265/11) [2012] ZAWCHC 134 (10 February 2012)

Download original files

PDF format

RTF format


Repubiiek van Suid-Afrika



IN DIE HOE HOF VAN SUID-AFRIKA (WES-KAAP HOE HOF, KAAPSTAD)


SAAKNR: A265/11

In die appel van:

JOHANNES JACOBUS JAMNECK …...........................................Appellant

En

DIE STAAT …................................................................................Respondent







UITSPRAAK GELEWER: 10 FEBRUARIE 2012



HENNEY, R: AGTERGROND

[1] Die Appellant is op die 7de Oktober 2010 in die landdroshof Bredasdorp skuldig bevind op 'n aanklag van Dronkbestuur, 'n oortreding van artikel 65(1 )(a) van die Nasionale Padsverkeerswet 93 van 1996.

[2] Op die 25 November 2010 is hy gevonnis tot 'n boete van R7 000,00 of agtien maande gevangenisstraf. Daarbenewens is sy bestuurslisensie ook opgeskort vir 'n tydperk van ses (6) maande. Verder is hy ook onbevoeg verklaar om 'n vuurwapen te besit.


[3] Die appel is slegs gerig teen die skuidigbevinding van die landdros meer spesifiek voer die Appellant aan dat die hof a quo gefouteer het deur die Appellant skuldig te bevind ten spyte van die weersprekings tussen die 2 staatsgetuies, albei polisiebeamptes. Pieter Moolman en Brandell Swart.


Die verdere grond van appel is dat die landdros nie bevind het dat weergawe soos deur die Appellant en sy getuie Jacobus Mostert redelik moontlik waar is nie.



[4] DIE FEITE


Dit is nie in geskil dat die Appellant op die aand in die voorval op 19 Desember 2008 gearresteer was by sy woonhuis op 'n aanklag van dronkbestuur deur Moolman nie. Dit is ook nie in geskil dat die Appellant onder die invloed van drank was ten tye van sy arrestasie nie en dat hy as gevolg hiervan sy bestuurs vermoee dermate so aangetas was dat hy nie 'n motor voertuig kon bestuur het, met die nodige sorg en vaardigheid nie.


[5] Na arrestasie was hy onderwerp aan 'n mediese ondersoek deur die distriksgeneesheer Dr Gillion, wie bevind het dat hy wel onder die invloed van drank was. Dit is verder nie in geskil dat sy bloed getrek was en na analise dit bevind was dat sy bloed alkohol vlak 0,28 gram per 100 milliters was.


[6] Die enigste geskilspunt wat bereg moes word was, of die Appellant terwyl hy onder die invloed van drank was, hy sy voertuig 'n Toyota Conquest met registrasienommer CS 10299, in Viljoenstraat 'n openbare pad in die distrik van Bredasdorp bestuur het.



[7] DIE GETUIENIS


Pieter Moolman is 'n adjudant offisier in die Suid-Afrikaanse gestasioneer te Bredasdorp getuig dat op 19 Desember 2008 omstreeks 23h50 sy polisievoertuig bestuur het en op die hoek van Langstraat en Independencestraat by 'n stopteken tot stilstand gekom het. Hy was vergesel deur sy kollega Konstabel Swart.


[8] Terwyl hulle daar gestaan het, merk hulle op dat 'n voertuig vanaf hulle linkerkant in Independentstraat oor die stopteken ry. Die bestuurder het agter gekom dat hy oor die stopteken gery het en het rem getrap en in die helfte van die kruising tot stilstand gekom. Die bestuurder van die voertuig het na regs gekyk, hulle opgemerk en na links gedraai. Op daardie stadium kon hy sien dat die persoon wie die voertuig bestuur het, was die Appellant.


[9] Hy was die enigste persoon in die voertuig. Die omgewing was goed belig, die straat ligte sowel as die ligte van die winkels in die omgewing het ook gebrand. Hy het duidelik gesien wie die bestuurder van die voertuig was. Die voertuig het verder gery en in die regterbaan vir aankomende verkeer waar dit nie veronderstel was om te ry nie.


[10] Hy het agtergekom daar is groot tout, sy blou ligte sowel as sy sirene aangesit, maar die persoon het aangehou met ry. By die volgende stop het die voertuig in Viljoenstraat links gedraai sonder om te stop. Die voertuig het verder aangery in Viljoenstraat en tot stilstand gekom by nommer 16 Viljoenstraat; Die voertuig het by die oprit in die perseel opgery. Hulle voertuig was reg agter die voertuig en het reg agter die voertuig in die erf ingery en gestop.


[11] Moolman se hy het uitgeklim en die bestuurder van die voertuig genader. Die Appellant het die deur van die voertuig oopgemaak en het baie swaar uit die voertuig uitgeklim, aan die bestuurderskant van die voertuig. Nadat hy uitgeklim het, het hy dadelik opgemerk sy oe is bloedbelope en dat sy asem sterk na drank ruik. Volgens die getuie was die Appellant sterk onder die invloed van drank. Daar was geen ander persone behalwe die Appellant en sy kollega Konstabel Swart op die toneel.


[12] Daarna het hy die Appellant probeer arresteer vir dronkbestuur, wie horn meegedeel het dat hy nie aan horn moet vat nie, want dit is sy erf. Die Appellant het horn losgeruk waarna Moolman die nodige geweld gebruik het om horn in die patrollie wa te plaas. Die Appellant het weer los geruk. Met behulp van Swart het hulle horn op die grond vasgedruk en horn geboei. Hy is daarna na die aanklag kantoor geneem waar hy aangehou is en later na 'n dokter toe geneem.

[13] Die Appellant het geweier om sy waarskuwingsverklaring sowel as die mediese vorm wat deur die dokter ingevul was te onderteken. Moolman getuig verder dat die Appellant bekend is aan horn en dat hy al vantevore met horn te doen gehad het. Hy getuig verder dat op die stadium toe hy by die Appellant se huis was, voor sy arrestasie, daar niemand anders was nie en dat die huis se ligte ook nie gebrand het nie.


[14] In kruisondervraging se hy dit is onmoontlik dat iemand anders die voertuig kon bestuur het. Hy ontken ook dat hy nie teenwoordig was toe die voertuig gestop het, en sodoende nie die ander persoon wie bestuur het kon gesien het nie. Hy se hy het by die Appellant gestaan toe hy uitklim. Hy getuig verder dat hulle die voertuig se sleutel gesoek het, maar nie kon gekry het nie.


[15] Brandell Swart die kollega wat Moolman vergesel het, se getuienis kom in bree trekke ooreen met die van Moolman. Hy bevestig ook die getuienis van Moolman oor die wyse waarop die voertuig van uit Independentstraat oor die stopstraat, links gedraai het in Langstraat en aan die verkeerde kant van die pad tot in Viljoenstraat gery het. Hy bevestig verder dat die Appellant, nadat die voertuig tot stilstand gekom het, uit die kar geklim het. Verder bevestig hy dat die Appellant onder die invloed van drank was. Verder ontken hy dat daar enige persoon met die Appellant was die betrokke aand en dat hy enige ander persone se naam genoem het.


[16] Sy weergawe verskil met Moolman waar hy se; dat hy nie die gesig van die Appellant gesien het op die stadium toe die Appellant in die kruising op die hoek van Independent en Langstraat ingery het nie; dat die voertuig nie halfpad in die kruising stil gestaan het nie; dat die bestuurder nie by die kruising vir hulle gekyk het nie; dat hulle nie by die stopstraat stilgestaan het nie en nog oppad was na die stropstraat toe; dat hulle nadat die voertuig tot stilstand gekom het in Viljoenstraat, hulle aan die linker kant van die pad gestaan het voor die huis en nie reg agter die voertuig in die erf nie.


[17] Dr Giliion was die ander getuie vir die Staat maar haar getuienis is nie in geskil nie en nodig nie enige verdere melding nie.


[18] Die Appellant het daarna getuig en gemeld dat hy wel die aand van sy arrestasie, op die 19 Desember 2008 by 'n werksfunksie was. Hy wel te veel gedrink en 'n vriend Kobus Mostert, gebel om horn by Victoria Hotel waarheen hy gegaan het na die werksfunksie op te tel.


[19] Mostert het later opgedaag en sy motorvoertuig gery tot by die huis. Hy het in die oprit opgery en gestop, waarna hy uitgeklim het. Appellant self het uit die voertuig geklim omdat sy selfoon uit sy sak uitgeval het. Terwyl hy besig was om dit te soek het die polisie horn daar gestop en horn daarvan beskuldig dat hy die voertuig bestuur het. Hy was gearresteer. Mostert was op daardie stadium binne in die huis. Mostert het die sleutel van die voertuig gehad. Vir Mostert het hy eers die Maandag gesien.

[20] Hy het van hom vemeem waarom hy nie uitgekom het nie, en Mostert het hom meegedeel dat hy nie wou uitkom omdat hy bang was hy word gearresteer omdat hy (Mostert) onder korrektiewe toesig was op daardie stadium. Die Appellant getuig verder dat hy nooit bewus was dat die polisie voertuig agter sy voertuig gery het nie. Hy het ook nie enige blou ligte gesien nie.


[21] Hy het wel vir die polisie gese hy het nie gery nie, maar hy het nie gese dat Mostert gery het nie. Hy se verder dat die polisie nooit vir hom gevra het wie gery het nie.


[22] Jacobus Mostert het daarna kom getuig en het aan die hof meegedeel dat hy wel deur die Appellant die betrokke aand geskakel was, wie hom versoek het om sy motorvoertuig huis toe te bestuur. Hy het daarna geloop na die plek waar die Appellant was. Hy het by Appellant uitgekom, sy sleutel geneem en die voertuig tot by die huis van die Appellant gery. By die huis het hy uitgeklim en by die huis ingegaan. Hy het die huis oopgesluit omdat die huis se sleutels aan dieselfde bossie was as die motor se sleutels.


[23] Hy het die kleedkamer gebruik en vanuit die venster het hy gesien dat die Appellant met twee lede van die polisie gesels. Omdat hy op daardie stadium onder korrektiewe toesig was, het hy gevrees dat Moolman hom sou arresteer. Hy het stilletjies by die voordeur uitbeweeg en huis toe gegaan. Hy het die volgende dag eers uitgevind dat die Appellant gearresteer was. Hy het ook nooit die aand toe hy die voertuig bestuur het vir die polisie opgemerk nie of enige blou iigte gesien nie.


[24] Hy getuig ook verder dat hy die agter deur van die woning nie gesluit het toe hy die huis van die Appellant die aand verlaat het. Hy was wel die Saterdag by die huis en gevind die deur was toegesluit. Hy het verder getuig dat toe hy die Saterdag na die voorval na die korrektiewe beampte gegaan het, het hy hom wel meegedeel dat hy die Vrydag aand die Appellant gaan haal het. Hy het ook met hulle op 'n vorige geleentheid gereel dat as hy die huis verlaat dat hy 'n briefie op die deur los waarin hy hulle in kennis stel waar hy is as hy nie by die huis is nie.



[25] EVALUASIE


Na deurlees van die rekord asook die uitspraak van die landdros is ek tevrede dat die landdros behoorlik in sy uitspraak die getuienis geevalueer het. Die landdros het verder behoorlik aandag gegee aan die weersprekings tussen die getuienis van Moolman en Swart en ek is dit eens met hom dat dit nie van enige wesenlike aard is nie.


[26] Die landdros het verder heeltemal tereg nie oormatige gewig geheg aan die getuienis van Moolman nie, omdat hy gevind het, dat dit ietwat oordrewe voorgekom het. Hy het hom eerder toegespits op die getuienis van Swart wie se getuienis 'n gunstige indruk op die hof gemaak het omdat dit meer objektief voorgekom het.


[27] Die landdros het verder Moolman se getuienis beoordeel aan die hand van Swart se getuienis en slegs toegespits op die gedeeltes daarvan soos dit deur Swart gestaaf word.


[28] Laastens het die landdros na die getuienis as 'n geheel gekyk insluitend die van die Appellant sowel as sy getuie, Mostert en dit ook opgeweeg teen waarskynlikhede. Hy was veral heeltemal tereg krities oor die feit dat die Appellant in gebreke gebly het om op die toneel aan die polisie te verduidelik dat Mostert die voertuig bestuur het. Verder hy ook heeltemal tereg na my mening ook die weergawe van Mostert nie as indrukwekkend beskou nie. Veral waar hy Mostert kritiseer omdat Mostert nie op die aand van die voorval vorendag wou kom nie. Omdat hy (Mostert) bang was dat hy 'n korrektiewe toesig vonnis voorwaarde verbreek het maar volgende dag nadat hy vir sy korrektiewe beampte daarvan verwittig het, nie daarna die Appellant wie nog steeds in aanhouding was gaan help het nie.


[29] Wat verder strook met die weergawe van die staatsgetuie is dat daar nie gestry was met hulle dat die persoon wat bestuur het, nie op 'n normale wyse soos 'n nugter persoon bestuur het nie. Dit is wat die aandag van die polisie op die voertuig laat fokus het.


[30] As Mostert wat 'n nugter persoon was, bestuur het, en normaal bestuur het, sou dit nie die polisie se aandag getrek het nie. Dit dui op die feit dat die polisie korrek was in hulle beskuldiging dat die Appellant die voertuig bestuur het. Dit verleen verder ondersteuning aan die geloofwaardigheid van hulle weergawe.

Ek is derhalwe tevrede dat die Appellant korrek skuidigbevind was op die ten laste gelegde aanklag.

[31] BEVEL

Ek sou dus die volgende bevel maak:

"Dat die appel teen die skuldigbevinding van die hand gewys word".



HENNEY, R

Regter van die Hoe Hof





Ek stem saam en dit word so beveel.

ALLIE, R

Regter van die Hoe Hof