South Africa: Western Cape High Court, Cape Town

You are here:
SAFLII >>
Databases >>
South Africa: Western Cape High Court, Cape Town >>
2012 >>
[2012] ZAWCHC 214
| Noteup
| LawCite
Oliphant v S (A29/2012) [2012] ZAWCHC 214 (17 August 2012)
Download original files |
IN DIE HOF VAN SUID-AFRIKA
(WESKAAP HOE HOF, KAAPSTAD)
SAAK NOMMER: A29/2012
DATUM: 17 AUGUSTUS 2012
In die saak tussen:
JOHANNES OLIPHANT ................................................................Appellant
en
DIE STAAT ................................................................................Respondent
UITSPRAAK
OLIVIER, WnR:
Die appellant is daarvan aangekla dat hy op 20 September 2010 wederregtelik vir Louisa Kammies aangerand het deur aan Louisa Kammies te se dat hy haar gaan vrek maak en Elize Horn wederregtelik aangerand het deur haar met sy hande te wurg, haar te gryp en op fn koffietafel neer te gooi. Hy is skuldig bevind aan die twee klagtes en tot ses maande opgeskorte gevangenisstraf op elke klagte gevonnis.
Die appellant is ook daarvan aangekla dat hy op 10 Julie 2011 ‘n beskermingsbevel wat op 19 Mei 2011 uitgereik is verbreek het deur om die verbode perseel binne te gaan en aan Louisa Kammies en haar seun Byron Kammies te se dat hy hulle sal vrek steek met ‘n bierbottel kop. ‘n Verdere aanklag van aanranding op Byron Kammies, deurdat appellant hom met die gebalde vuis geslaan het, het uit die dag se gebeure ontstaan.
Appellant is op beide van die klagtes skuldig bevind en op die eerste daarvan op 15 September 2011 tot ses maande direkte gevangenisstraf gevonnis. Op die tweede klagte is hy tot ses maande opgeskorte gevangenisstraf gevonnis.
Alhoewel appellant reeds die ses maand direkte gevangenisstraf uitgedien het, appelleer hy teen al vier voormelde vonnisse. In die Landdros se skriftelike redes vir vonnis meld hy dat appellant twee vorige veroordelings van aanranding teen hom het. Die Hof het volgens hom nie 'n boete oorweeg nie gesien teen die agtergrond dat appellant reeds in 1997 ‘n boetestraf gekry het wat vir vyf jaar opgeskort was waarvan die voorwaardes nou verbreek is.
Die enigste mistasting waaroor appellant homself bekla is dat die Landdros nie korrektiewe toesig oorweeg het nie. Alhoewel die Landdros nie direk na hierdie moontlike vonnis verwys het nie, beteken dit egter nie dat hy dit nie oorweeg het nie. In ieder geval was hy van mening dat gegewe die omstandighede van die misdrywe en al die ander tersaaklike oorwegings, korrektiewe toesig nie ‘n gepaste vonnis sou wees nie. in ag genome die feit dat appellant reeds die tydperk van direkte gevangenisstraf uitgedien het, sou dit na my mening onregverdig en benadelend teenoor appellant wees om sy vonnis op hierdie stadium te vervang met een van korrektiewe toesig.
Die persoonlike omstandighede van die appellant blyk uit die skrywe wat hy gerig het sowel as sy betoog voor die Landdros en hoef nie hierin herhaal te word nie.
Die gebeure waaruit klagtes een en twee spruit het Louisa Kammies genoop om ‘n beskermingsbevel te bekom. Die appellant het widens en wetens die bevel, wat ter voorkoming van geweld uitgereik is, verontagsaam en verbreek. Die optrede kan nie geduld word nie.
Ek stem verder nie saam met die betoog dat die vonnisse skokkend onvanpas is nie, gegewe die voorwaarde van opskorting dat appellant nie weer skuldig bevind word aan aanranding gepleeg in die tydperk van opskorting nie en gevonnis word tot gevangenisstraf sonder die keuse van ‘n boete.
Ek sou derhalwe die appel VAN DIE HAND WYS en die vonnis met die opskortende voorwaarde vervat in die VONNIS
aanhangsel op bladsy 6 van die oorkonde BEKRAGTIG.
OLIVIER, WnR
Ek stem saam en dit word so beveel.
BOZALEK, R